Derde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Die lig van God se redding word in hierdie Sondag se tekste beklemtoon. In die 1 Korintiërsteks word lig nie beklemtoon nie, maar wel die kruis van Christus waarop ons fokus moet wees.

Die sleutelteks wys ons op die lig wat na ‘n volk in donkerte gekom het en die verandering wat hierdie lig teweegbring in hierdie volk – die vreugde en opbou van die nasie teenoor harde oorlogsbeelde van hulle vroeëre, donker bestaan.

Die metafoor van lig en donker kan met groot vrug gebruik word in die diens, veral ook visueel.

Ander tekste

Psalm 27:1, 4-9
Die Here is my lig en my redder
27 Van Dawid.
Die Here is my lig en my redder,
vir wie sou ek bang wees?
Die Here is my toevlug,
vir wie sou ek vrees?
2As misdadigers op my afstorm
om my dood te maak,
my teëstanders en my vyande,
dan is dit juis húlle wat struikel en val.
3Al sou ’n leër teen my stelling inneem,
sal ek nie bang word nie.
Selfs al sou die aanval op my begin,
sal ek nog steeds vertroue hê.
4Net een ding het ek van die Here gevra
en dit sal ek najaag:
dat ek my hele lewe lank
in sy huis mag woon
om sy goedheid te belewe
en daaroor na te dink in sy tempel.
5Op die dag van gevaar sal die Here
my wegsteek in sy huis,
my veilig laat skuil in sy woonplek,
my hoog op ’n rots laat staan;
6ek sal in sy woonplek
onder trompetgeklank
my offers bring,
ek sal ’n lied sing,
ek sal sing tot die eer van die Here
terwyl ek neerkyk
op die vyande rondom my.
7Luister tog na my, Here, as ek roep;
wees my genadig en verhoor my gebed.
8Ek onthou wat U gesê het:
“Julle moet My kom dien!”
Ek is hier om U te dien, Here.
9Moet U tog nie vir my verberg nie,
moet my tog nie wegstuur
terwyl U toornig is nie,
want U was nog altyd my hulp.
Moet my tog nie verstoot en verlaat nie,
want U alleen is die God wat my red.

10Al sou my vader en my moeder
my verlaat,
die Here sal my onder sy sorg neem.
11Leer my u wil, Here,
en lei my op ’n gelyk pad
sodat my vyande nie hulle sin kry nie.
12Moet my tog nie oorgee aan die venyn
van my teëstanders nie,
want daar staan vals getuies teenoor my en
hulle blaas geweld teen my aan.
13As ek darem nie geglo het dat ek die
goedheid van die Here sal sien in
die land van die lewendes nie…!
14Vertrou op die Here!
Wees sterk en hou goeie moed!
Ja, vertrou op die Here!

Matteus 4:12-23
Die eerste optrede van Jesus
(Mark 1:14–15; Luk 4:14–15)
12Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan. 13Hy het nie in Nasaret gaan bly nie, maar Hom gaan vestig in Kapernaum by die see, in die gebied van Sebulon en Naftali. 14So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is:
15“Jy, gebied van Sebulon en gebied
van Naftali, aan die seekant
en oorkant die Jordaan,
Galilea waar die heidene woon!
16Die volk wat in duisternis woon,
het ’n groot lig gesien;
hulle wat in die skemerland
van die dood lewe,
vir hulle het die lig opgegaan.”
17Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Die roeping van die eerste dissipels
(Mark 1:16–20; Luk 5:1–11)
18Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om ’n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. 19Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

20Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.

21Toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers: Jakobus ’n seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in ’n skuit saam met hulle pa besig om hulle nette reg te maak. Jesus het hulle geroep, 22en hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg.

Weldade aan baie mense
(Luk 6:17–19)
23Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak.

1 Korintiërs 1:10-18
Verdeeldheid in die gemeente
10Ek doen ’n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging. 11Ek sê dit, my broers, omdat van Chloë se mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is. 12Daarmee bedoel ek dat een sê: “Ek is vir Paulus;” een: “Ek is vir Apollos;” een: “Ek is vir Sefas;” en een: “Ek is vir Christus.”

13Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop? 14Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Krispus en Gaius. 15Niemand kan dus sê dat julle in my naam gedoop is nie. 16Nee, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie of ek nog iemand gedoop het nie. 17Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, en dit nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor.

Christus die krag en die wysheid van God
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.

Fokusteks

Jesaja 8:23, 9:1-6
[Vir die doel van die prediking word die tekslesing van 8:23b tot 9:6 geneem, anders as die RCL wat net 9:1-4 as teksindeling neem.]

823Maar in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie.

In die verlede het die Here die gebiede Sebulon en Naftali verneder, maar in die toekoms sal Hy die pad na die see van Galilea toe, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene in ere herstel.

9 Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn.
2U het dié wat nie meer ‘n nasie was nie, baie gemaak,
hulle blydskap groot gemaak.
Hulle het hulle in u teenwoordigheid
verbly
soos mense bly is in die oestyd,
soos hulle juig wanneer hulle
die buit verdeel.
3Soos die dag toe Midian verslaan is,
het U die juk verbreek
wat op die volk gedruk het,
die stok waarmee hulle geslaan is,
waarmee hulle gedryf is.
4Elke soldateskoen wat in die oorlog
gebruik is,
en elke uniform wat met bloed bevlek is, sal verbrand word,
deur die vuur verteer word.
5Vir ons is ‘n Seun gebore,
aan ons is ‘n Seun gegee;
Hy sal heers, en Hy sal genoem word:
Wonderbare Raadsman,
Magtige God,
Ewige Vader,
Vredevors.
6Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.

Ekstra stof

Jesaja 9 – Lig aan die einde van die tonnel?
Lees die teks vanaf 8:23 omdat dit ‘n eenheid met die eerste deel van hoofstuk 9 vorm.

Die uitkoms wat die Here gaan bring in 8:23-9:6 word skerp gekontrasteer met die oordeel wat in die res van die hoofstuk aangekondig word: 9:7-10:4.  Laasgenoemde vorm op sy beurt deel van ‘n oordeelsboodskap teen Assirië (10:5-19, 28-34) waarna weer uitkoms vir ‘n oorblyfsel van die volk aangekondig word (10:20-27).

8:23-9:6: Jesaja gee hier ‘n prentjie van uitkoms in die toekoms.  Dit sal groot verligting bring vir die duisternis waarin gebiede van Sebulon en Naftali, die pad na die see van Galilea, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene net te vore gedompel is (lees hier meer van Jesus se bediening aan die Grieke van Dekapolis wat heel moontlik die gebied van die heidene is wat hier bedoel word).  Hierdie noordelike gebied van Israel het meesal eerste die aanslag – donkerte – van vreemde leërs moes trotseer.  Onder andere is ‘n deel van hul bevolking deur Tiglat-Pileser III weggevoer in 732 v C (2 Kon. 15:29).  Lees meer daaroor in my bydraes oor 2 Konings 15, en 2 Konings 16-17.

Met verwysing na die verlossing wat God deur Gideon vir die volk gegee het in sy oorlog teen Midian (Rigt 6), word voorspel dat die volk weer versamel sal word en hulle in God se teenwoordigheid sal verbly.

Dié uitkoms word dan spesifiek verbind aan ‘n Seun wat vir hulle gebore sal word, waarvan die titels sy uitstaande kenmerke uitspel wat Goddelik van aard sal wees: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, en Vredevors.  Hy sal die Dawidsryk herstel, maar anders as Dawid wat bekend was vir sy militêre optrede, sal Hy vrede en voorspoed bring, en dit vir altyd.

Jesus se vestiging in die dorp Kapernaum, juis in dié gebied, was vir die evangelieskrywers ‘n duidelike vervulling van die eerste deel van die profesie oor Sebulon en Naftali – Mat 4:12–17.  Jesus is dus die lig waarna Jesaja in die profesie uitgesien het.  En die koninkryk wat Jesus kom stig het, is die vervulling van die tweede deel van die profesie oor die Dawidsryk.

9:7-10:4: In skerp kontras met die vorige hoopvolle gedeelte, word die oordeelsboodskap oor die Noordryk – Jakob, Israel genoem – egter onomwonde beklemtoon.  Die hoop op uitkoms sal eers in vervulling gaan ná die voltrekking van die oordeel.

Let op hoe die hele volk aangespreek word oor hulle selfversekerdheid.  Hulle wys die hand van God weg wat hulle kan red en vra nie na sy wil nie, wat sy straf op totale vernietiging laat uitloop: Hy sal kop en stert, palmtak en biesie, afsny (9:13).

‘n Donker prentjie word van van die politieke leiers (9:14), die geestelike leiers (9:15) sowel as die korrupte leierskap in die regstelsel (10:1-4) geteken. En die bevolking se omgee-loosheid maak dat hulle letterlik hulle eie krag verteer (9:19) – mensig!  Dit is wat gebeur as die bron van lewe verlaat word en jy net sit met die donkerte van jou eie goddeloosheid.  Dit brand soos ‘n vuur wat alles in ‘n rookwolk laat verdwyn.

Nog donkerder is egter die reaksie van die Here wat sulke dinge nie ongestraf laat bly nie.  Hoe afgryslik om te moet leef met die uitgestrekte hand van die Here teen jou …  ‘n God wat nie meer vreugde vind in ‘n volk se jongmense nie (9:16).

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 345 of VONKK 283 [bekende melodie]

Votum: Jesaja 9:1

Seëngroet

Lofsang: VONKK 142 [“bekende melodie] of Psalm 27

Wet: 1 Korintiërs 1:10-18

Skuldbelydenis: VONKK 23

Genadeverkondiging: (uit Ps 27:1 en Jes 9:1) en Lied 362

Geloofsbelydenis van Nisea

HOOR

Gebed

Skriflesing: Jesaja 9:1-4

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: F323 of Lied 330

Seën

Respons: Lied 272

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 345 “Kom, alle getroues “[vers 2:  Wonderbaar, Raadsman, God en Vors van vrede…] of
VONKK 283 Kom buig in die stal voor die hemelse Kind [vers 3:  O Vredevors, Raadsman, Verlosser en Heer, … melodie:  Away in a Manger]

Votum: Jesaja 9:1
Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.

Seëngroet
Genade en vrede van God die Vader wat op die eerste dag gesê het:  “Laat daar lig wees.”
Genade en vrede van Jesus die Seun wat as Lig mens op aarde geword het.
En genade en vrede van die Heilige Gees wat ook ons hart en verstand verlig.
Amen.
[Uit Cas Wepener se “Soos ’n blom na die son draai”]

Lofsang
VONKK 142 Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer [“Wonderbare Raadsman”… bekende melodie – “Zion’s Daughter”] of
Psalm 27

Wet: 1 Korintiërs 1:10-18

Skuldbelydenis
VONKK 23 Jesus, U is die lig in ons lewe of
Stil nadenke

Genadeverkondiging
[Uit Bybelmedia se Woord en Fees]
Voorganger: Die Here is my lig en my redder.
Gemeente: Vir wie sou ek bang wees?

Voorganger: Die Here is my toevlug.
Gemeente: Vir wie sou ek vrees?

Voorganger: Ons het in donker geleef.
Gemeente: Maar God se lig het oor ons kom skyn
(uit Ps 27:1 en Jes 9:1).

Lied 362 “Vol vreugde sing die eng’leskaar” [vers 2:  Raadsman, wonderbaar…]

Geloofsbelydenis

Geloofsbelydenis van Nisea
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge; en in een Here, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye; (God uit God) Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader; deur wie alle dinge ontstaan het; wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely en

begrawe is; en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte; wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader; wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel dié wat nog lewe en die wat reeds gesterf het, wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie; en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete. Ons glo aan een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels. ons bely een doop tot vergifnis van sondes; ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu. Amen.

Liedere

VONKK 283 “Kom buig in die stal voor die hemelse Kind”
Teks: Away in a manger – John Thomas McFarland 1851-1913;  Afrikaanse teks: Breda Ludik 2014
Melodie: AWAY IN A MANGER – James Ramsey Murray 1841-1905
Orrelbegeleiding 1:  James Ramsey Murray 1841-1905 Orrelbegeleiding 2:  Gerrit Jordaan 2014 ©
Musikale verryking:  Gerrit Jordaan 2014 © © Teks en musikale verryking: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK:  Klassiek – Kersfees en Epifanie

Kom buig in die stal voor die hemelse Kind.
Kom, almal wat smag om die lewe te vind.
Kom buig voor die Kindjie deur eeue verwag –
die gawe van God vir ‘n wêreld wat wag.
Vir ons is gebore, vir ons is gegee
die ewige Koning, met luister beklee.
Die hemel en aarde smelt saam in die Kind –
die hoop vir ‘n wêreld wat soek en nooit vind.
O Vredevors, Raadsman, Verlosser en Heer,
die grootste genade kom daal in U neer:
geregtigheid, vrede, die lewe in God –
vir altyd en altyd ons heerlike lot!
Jesaja 9 : 5-6

VONKK 142 “Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer”
Teks: Ernst Kotzé 2010 Musiek: JUDAS MACCABEUS – GF Handel 1746;  harmonisasie effens gewysig 2001
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Advent  / Kersfees en Epifanie

1. Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!
Ons kom in aanbidding, buig tot in die stof.
Heer, ontvang ons loflied, aan U al die lof!
Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!

2. Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!
In ons donker harte, stuur Hy weer sy lig.
Hy kom na die aarde, om ons op te rig!
Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!

VONKK 23 “Jesus, U is die lig in ons lewe”
Jesus, U is die lig in ons lewe;
laat tog nie toe dat die donker oor ons kom.
Jesus, U is die lig in ons lewe;
Maak ons ontvanklik vir u liefde, o Heer.
Jésus le Christ, lumière intérieure,
ne laisse pas mes ténèbre me parler.
Jésus le Christ, lumière intèrieure,
donne moi d’accuellir ton amour.

Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let not my doubts nor my darkness speak to me.
Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let my heart always welcome your love.

F323. “Goeie Nuus”
(RUBRIEK: Flammikidz / Flam – Kersfees) Teks en musiek: Marcel en Lydia Zimmer Oorspronklike titel: Goed Nieuws
Afrikaanse vertaling: JP Bruwer, Marcel en Lydia Zimmer © 1999 Celmar Music (Nav Jes 9:5)

Refrein:
Goeie nuus, goeie nuus
sing saam met eng’le kore!
Goeie nuus, goeie nuus
Jesus is gebore, Jesus is gebore.
“Wonderbare Raadsman”

1. Hy wil jou altyd bystaan
in alles, dag en nag.
Ja, in jou hele lewe
gee Hy jou raad en krag.
“Sterke God”
Hy is die allerbeste,
geen ander is soos Hy.
Die magtigste en sterkste
sal Hy vir altyd bly.

Refrein:
“Ewige Vader”

2. En Hy is soos ’n Vader
so baie lief vir jou.
Hy dra jou in Sy arms
jy kan op Hom vertrou.
“Vredevors”
Hy gee jou ware vrede
vir nou en vir altyd.
En dié wat in Hom glo
sal leef in ewigheid.

Refrein:
“Immanuel”

3. Hy is ook altyd by jou
en altyd om jou heen.
En waar jy ook al rondgaan
laat Hy jou nooit alleen.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Skriflesing: Jesaja 9:1-4

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Vertel die storie van die Son-brood. Carolyn Brown sê oor hierdie storie:  “[This story] could be read as a meditation on the light in Isaiah or it could be read to the bickering Corinthians encouraging them to become more like light.  In either case, take time to look into the windows around town on the second page.  Name all the unhappiness/darkness you see in each window.  Read the Daily Sunless Times sign at the bottom of the page.  With that as background, you can read the remainder of the book rather quickly, perhaps stopping to look in each of the windows noting the changes from what was in them earlier and read the Sun Times sign on the town picture near the end of the book.  After reading the last page about who bakes the sunbread, ponder God’s gift of light and the ways we share light too.”
Of gesels oor lig en donker.  Gebruik ’n flits wat nie batterye in het nie. ’n Flits sonder batterye kan nie lig skyn nie!  Ons kan ook ligte wees vir die wêreld, maar nét omdat ons self die Lig ontvang het.  Ons is soos flitse – en die batterye is die Goeie Nuus!  Of gesels oor hoe een lig donker kan verdryf – bv. ’n LED-liggie aan jou sleutelring, of ’n naglig – iets wat kinders goed verstaan!  Dan kan jy ’n naglig wys en gesels oor hoe dit kinders help om nie bang te wees nie.

Preekriglyn

[Vir die doel van die prediking word die tekslesing van 8:23b tot 9:6 geneem, anders as die RCL wat net 9:1-4 as teksindeling neem.]

Alison Oates (59) is verlede jaar in haar plaashuis buite Harrismith aangeval en verkrag. Meer as ‘n jaar later, in November 2016, midde-in die veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, het Oates besluit om haar verhaal te vertel.

Twee mans het haar op 4 Oktober 2015 omstreeks 16:00 ingewag toe sy by die huis aankom. Alison het alleen gewoon. Die mans het haar aangeval, in die huis rondgesleep en haar gemartel. Sy is ook verkrag. Hulle het gedreig om haar dood te maak. Sy het R160 in haar beursie gehad, en ‘n paar elektroniese goedere. Uiteindelik het hulle met die paar goedere gevlug weens die klank van noodvoertuie op die nabygeleë N3.

Nadat hulle gevlug het, het Alison haarself bevry en by een van haar werkers gaan hulp soek. Die het haar gehelp. As lid van ‘n mediese fonds is na sy per ambulans na ‘n privaathospitaal gebring.

Alison het op daardie stadium nie geweet haar nag van hel is lank nie verby nie. Sy vertel verder:

“Twee verpleegsters het traak-my-nie-agtig teen die muur van die ongevalle-eenheid gestaan. Hulle het aan my gesê dit is sinneloos om meer as drie uur ná ‘n verkragting DNS-monsters te neem.

“Hulle het ook gesê ‘n mens kan net in kantoorure by die provinsiale hospitaal DNS-monsters laat neem. Ek het gevra dat hulle net na my ander wonde kyk voordat ek na die provinsiale hospitaal gaan.

“‘n Dokter het geweier om my te behandel en gesê dit sal beteken hy peuter met bewysstukke. Hy wou ook nie na die steekwonde of my oor kyk nie.

“Die krisissentrum by die plaaslike provinsiale hospitaal is oopgesluit en ‘n gawe verpleegsuster het my versorg.

“Ek het gehoor hoe sy in Zoeloe van die personeel smeek om aan my pynstillers te gee. Ná ure het ek iets vir die pyn gekry.

“Ek kon nie toilet toe gaan nie, want die DNS sou deur die urine uitgespoel word. Hulle het vir my ‘n kateter ingesit, maar dit het gelek.

“Ek het my klere opgebondel en as kussing gebruik terwyl ek halfnaak in my eie urine op ‘n klipharde bed gelê het.

“‘n Intern het opgedaag en met toewyding steke in die wonde gesit, die brandwonde versorg en bevestig dat my oordrom gebars het.

“Omstreeks 06:30 het die distriksgeneesheer opgedaag. Die kras manier waarop hy my toestand bespreek het, was ontstellend.

“Ek sal vir altyd dankbaar wees teenoor die vrou wat my by die krisissentrum bygestaan het. Die manier waarop die private hospitaal my behandel het, was vir my baie ontstellend.

“Daar is aan my gesê hulle het volgens hospitaalbeleid opgetree en dat ek die eerste verkragtingslagoffer was met wie hulle in ‘n lang tyd te doen gehad het. Ek vind dit moeilik om te glo.

“Anders as wat die verpleegsters by die private hospitaal gesê het, is DNS-bewyse wel gevind. Die polisie kon ook die man opspoor wat my selfoon in sy besit gehad het. Twee verdagtes is in hegtenis geneem, maar voordat die uitslae van die DNS-toetse beskikbaar was, is die saak teen hulle laat vaar.

“Ek het in Augustus vanjaar op Vrystaat Landbou se jaarkongres die saak met polisielede van die Vrystaat opgeneem. Die polisie het beloof om iets aan die saak te doen. Hulle ondersoek dit tans.

“Ek kon spesialiste bekostig om my te help om geestelik en liggaamlik te herstel, maar wat van al die ander vroue wat nie so gelukkig is nie?

“Ek het goeie en slegte dae, maar ek het nie daardie dag so hard baklei om te bly leef net om nou ‘n lewende dooie te wees nie.

Ekstreme vernedering

Alle mense beleef op een of ander manier vernedering. Maar sommige mense word aan soveel vernedering, minagting en verontmensliking blootgestel, dit laat jou sidder. Dink aan wat Jode in die Nazi-strafkampe moes verduur, politieke gevangenis in die Kremlin se strafkampe in Siberië, die mans en vroue wat vandag die slagoffers van die Islamitiese Staat in die Midde-Ooste is. En soveel vroue in ons land wat verkrag word, van ons mees welgestelde  woonbuurte tot in die armste dele van die platteland. Kinders wat seksueel misbruik word.

Ons teks verwys ook na mense wat hierdie soort ekstreme vernedering beleef het. Die teksgebeure speel af in die tyd na Salomo toe die Ryk van Israel in twee dele geskeur het. Aan die een kant was die magtige Noordryk, bestaande uit die tien noordelike stamme van Israel, met Samaria as hoofstad. In die Suide was die veel kleiner Juda, die Tweestammeryk, met Jerusalem as hoofstad.

In 8:23b word gepraat van die gebiede van Sebulon en Naftali wat verneder is, in 9:1 van die land wat donker was, die volk wat in donkerte geleef het, en dié wat nie meer ‘n nasie was nie (9:2). Daar het ‘n juk op die volk gerus, hulle was deur ‘n stok geslaan (9:3).

Ons teks verwys na gebeure rondom die Assiriërs se invalle in die Noordryk. Vanaf 734 v.C. moes die Noordryk op vernederende manier verskeie gebiede aan die Assiriërs afstaan (beskryf in 2 Kon 15:29), en in 723 v.C. val die hoofstad Samaria (beskryf in 2 Kon 17).

Die Assiriërs was berug vir hulle wreedheid. Die hele bevolking van die Noordryk is met iets soos ‘n massiewe plaasaanval en plaasverwoesting getref. Die mense van die Noordryk se hele leefwêreld het in duie gestort en baie is deur Assirië in ballingskap weggevoer.

Dit herinner mens aan die moderne voorbeeld waarna ons reeds verwys het. Dink ook aan die menseslagting in Rwanda, die twee vernietigende wêreldoorloë in Europa toe Europese Christene mekaar soos vlieë doodgemaak het, of die etniese suiwering in Bosnië.

Geen onskuldige lammetjies nie

Ons moet natuurlik nie dink die mense van die Noordryk was onskuldige lammetjies nie. Vóór die val van die Noordryk leer ons hulle ken as arrogante, godsdienstig sorgelose mense met ‘n skyngodsdiens, soos Amos en Hosea dit noem.

Hulle was destyds nie die armes, verdruktes en nederiges, soos ons hulle in ons teks ontmoet nie. Hulle was nie maar die onskuldige slagoffers van omstandighede nie. Die vernietigde Noordryk was eers magtiger en welvarender as sy klein buurman Juda. In Amos en Hosea leer ons hierdie Israeliete ken as arrogante sondaars, welvarend, sorgeloos – en self verdrukkers:

So sê die Here:
Selfs as Israel net drie keer sonde gedoen het,
sou Ek sy straf nie herroep het nie.
Maar nou het hy nog sondes daarby gevoeg:
hulle verkoop onskuldige mense vir geld,
arm mense oor ‘n paar sandale;
hulle trap swakkes se koppe plat in die grond
en verontreg dié wat hulleself nie kan verweer nie;
pa en seun kuier by dieselfde meisie
en doen my heilige Naam oneer aan;
langs elke altaar strek die Israeliete hulle uit
op klere wat as pand gevat is;
in die huis van hulle God
drink hulle die wyn van dié wat uitgebuit is.
(Amos 2:6-9)

Hulle vernedering, ‘n eerste lotsverandering, het ook van God gekom – as straf. Mens wil sê: “Julle duisternis is julle verdiende loon! Julle het bekering nodig!”

Verdiende loon?

Die Here bly betrokke by sy volk, ten spyte van hulle groot sonde. Hulle beland in ‘n geweldige krisis weens die aanvalle, invalle en strooptogte van die Assiriërs. Dit word egter ‘n opvoedingsproses van God, wanneer God – al is dit deur swaarkry heen – betrokke bly by God se volk.

Ons moet versigtig wees om te seker te wil weet dat swaarkry die verdiende loon op mense se sonde is. Want as ander God se straf verdien, wat van onsself? Mens kan so blind wees vir die balk in jou eie oog terwyl jy die splinter in ander se oë raaksien.

Is dit nie moontlik dat ons eie sonde dalk ook God se straf verdien nie? Veral omdat ons ander se lyding en swaarkry miskyk, en so op onsself en ons eie klagtes en bekommernisse fokus, dat ons eie lewens eintlik hol en leeg word nie?

Waaroor sou God ons kon straf, as ons sommetjies en uitsprake oor verdiende loon en swaarkry wou maak:

  • Daar is baie weduwees en wese in ons eie midde wat swaarkry, terwyl hulle eintlik onsigbaar vir ons oë is;
  • Daar is baie mense rondom ons in bestaansnood, kinders wat ‘n goeie opvoeding ontbeer, sonder dat ons dit behoorlik raaksien.

Eerder as om te weet waarom ander swaarkry, wil die goedheid van God – wat ons in hierdie gedeelte leer ken – ons beweeg na gehoorsaamheid uit dankbaarheid.

God tel hulle op

Die bordjies is verhang vir die Noordryk, wat eens so voorspoedig en arrogant was. Nou sit hulle in die duisternis (vgl Am 5:18).

Tog tel God hulle weer op. Die sentrale boodskap van ons teks is die groot wending wat God bring:

  • In die verlede is Sebulon en Naftali verneder, maar in die toekoms sal God hulle in eer herstel (8:23b)
  • Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien (9:1)
  • Dié wat nie meer ‘n nasie was nie, beleef nou groot blydskap – hulle is nou weer baie (9:1)
  • Die juk wat op die volk gedruk het, is verbreek (9:3)
  • Die tekens van oorlog (uniforms en stewels) word vernietig (9:4).

God is steeds passievol betrokke by mense wat ly, ongeag hulle geskiedenis. Dit word nie in die gedeelte verklaar nie en kan ook nie verklaar word nie. Waar God teenwoordig is, is daar eenvoudig lig en vreugde; dit kan nie anders nie. Straf, selfs as dit ruim geregverdig is, is altyd God se “vreemde werk”, vreemd aan God se aard. Genade en barmhartigheid lê in God se aard. Dit is mos goeie nuus, die goeie nuus.

Die God wat trotses neerslaan en nederiges verhef, handel telkens weer op dieselfde manier. Daar is geen balansstaat van verdrukker of verdrukte in die bank waarop mense permanent rente moet betaal of kan trek nie. Vernederdes word nie aan hulle verlede gemeet nie. God maak altyd weer ‘n nuwe begin met sy volk.

Verdruktes word maklik verdrukkers

God se nuwe begin is goeie nuus. Of hoe? Die verskriklike ironie is dat ons as mense God se genade so maklik misbruik.

Ons aanvaar graag die lig, die vreugde en die eer, die feestyd, die oestyd en die buitverdeling. Maar die jukke wil ons dalk eerder verskuif, die swepe “herontplooi” en die soldatestewels buitmaak vir ons eie kruistogte. Teen booswigte natuurlik!

Sodra die juk van ons nek gelig word, wil ons die juk op iemand anders – verkieslik ons voormalige verdrukkers – se nekke sit. Ons kan aan baie voorbeelde dink, en nie een van hulle gaan sonder kontroversie wees nie:

  • Die Duitsers is aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog onder swaar druk geplaas, net om polities onder Hitler te mobileer, ander lande in te val en oor te neem, ‘n ongekende oorlog te veroorsaak en miljoene Jode om die lewe te bring
  • Die Jode is in Europa verdruk, veral deur die Nazi-volksmoord. Vandag ontgeld die Palestyne dit onder die Jode
  • Afrikaners is in die twee Voortrekkerrepublieke deur die Engelse Empire verdruk en feitlik vernietig – net om op te staan en self onderdrukkers te word

Wanneer verdruktes opgetel word en lig sien, eien hulle hulself die morele hoë grond toe om ander weer by te kom. Dit is teen God se bedoeling, soos ons teks dit uitspel. God soek nie geweld nie. Die Here is nie-gewelddadig, en wil die instrumente van onderdrukking wegneem.

Die booswig leef ook in die hart van die onderdrukte. Die wat in die donker land lewe, het net soveel kapasiteit – sodra dit lig word – om dit vir ander donker te maak. Daarom is hierdie heilsboodskap gerig aan – booswigte. God verander booswigte en neem hulle “speelgoed” weg. God wil al hierdie onheilsinstrumente heeltemal vernietig.

God is ons hoop

Dit is opvallend dat God vir ons teks die bron van hoop is – nie menslike pogings om self lig te vervaardig nie.

Natuurlik kan ons nie ons eie heil bewerk nie, maar ewe belangrik is dat selfs ons pogings dikwels tot nuwe euwels lei. Ons het reeds hierbo daaroor gepraat. Die Israeliete wat uit Egiptiese verdrukking bevry is, het gou self verdrukkers geword. Moderne voorbeelde hiervan is legio. Politieke ideologie is altyd gevaarlik, want dit stel ‘n vyand op

Ons moet wel inspring ten behoewe van ander, mits dit wel vir ander (verdruktes) is en nie, soos dit dikwels lyk, primêr teen ander (verdrukkers) nie. Ons taal van bevryding is nog gans te vol kettings en swepe; God se taal van bevryding moet ons nog leer. Dit kan daarby begin dat ons ons lotswending aan God toevertrou.

Jesus Christus

In Jesaja se tyd word die positiewe uitkoms verbind aan ‘n seun wat vir hulle gebore sal word. Waarskynlik is daar in daardie tyd ‘n seun gebore wat ‘n teken van hoop was. Maar geen menslike koning kan die volle vervulling van hierdie teken van Goddelike hoop wees nie.

‘n Hele aantal titels spel die Seun se uitstaande kenmerke uit, wat Goddelik van aard sal wees: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, en Vredevors.  Hy sal die Dawidsryk herstel, maar anders as Dawid wat bekend was vir sy militêre optrede, sal Hy vrede en voorspoed bring, en dit vir altyd.

Jesus se vestiging in die dorp Kapernaum, juis in dié gebied, was vir die evangelieskrywers ‘n duidelike vervulling van die eerste deel van die profesie oor Sebulon en Naftali – Mat 4:12–17.  Jesus is dus die lig waarna Jesaja in die profesie uitgesien het.  En die koninkryk wat Jesus kom stig het, is die vervulling van die tweede deel van die profesie oor die Dawidsryk.

Jesus word uit eie keuse mens, ter wille van ons. In hierdie koning verander God die gang van die wêreld. God se werkswyse lyk totaal onrealisties. Watter Koning kom om soos ‘n slaaf en ‘n rebel gekruisig te word? Watter koning veg nie terug as ander Hom wil teregstel nie. Jesus is geweldloos. Maar teen Jesus loop geweld, donker en vernietig sigself te pletter.

In Jesus weet ons dat God by ons is, en dat God vir ons nuwe lewe bring: in hierdie lewe, maar ook in die lewe wat kom. Terwyl ons hoop op Jesus, bly die tydskedule van God se verlossing vir ons verborge. Eers in Jesus se eerste koms is die belofte van Jesaja 9 deels verwerklik. Tog hunker ons steeds na die vervulling – die “volmaking” en vervolmaking. Die profeet skets die heil asof dit reeds aangebreek het; ons is (reeds) “gered in hoop”.

Daarom leef ons met die vaste vertroue: IN Jesus het ons die lig, al moet die lig nog volkome vir ons deurbreek.

Verhale van smart

Wat sê al hierdie dinge vir mense wat so verskriklik ly? Dink aan die verhaal van Alison Oates waarmee ons begin het. Daar is so min om vir iemand soos sy te sê. Vir duisende soos sy te sê.

Dalk kan ons net stamelend bid: “Kom, Here Jesus! Kom, Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors!”

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang: F323. Goeie Nuus of
Lied 330 “Die volk wat in donker wandel”

Seën

Respons: Lied 272 “Stuur nou u lig”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.