Derde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

In die teks uit 1 Korintiërs word gewys op die tydelikheid van alle dinge, met die implikasie dat ons nie té verknog moet raak aan die dinge van die elke dag nie. Jona 3 vertel die verhaal van die mense van Ninevé wat hulle tot God bekeer het in antwoord op die prediking van Jona en toe deur God van ondergang gered is. In die Markusteks lees ons die verhaal van  Jesus se versoeking in die woestyn. In Psalm 62 word die ewige trou en beskerming van God teenoor die verganklikheid van die mens gestel.

Ander tekste

Jona 3:1-5, 10
God het nie die ramp gestuur nie
3 Die woord van die Here het ’n tweede keer tot Jona gekom:
2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.”
3Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was ’n baie groot stad: ’n mens het drie dae gevat om dit deur te stap. 4Jona het die stad ingegaan en ’n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!”
5Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het ’n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek.

6Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op ’n ashoop gaan sit. 7Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. 8Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het. 9Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.”

10Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.

Psalm 62:5-12
Net by God vind ek rus
62 Vir die koorleier. ’n Belydenis. ’n Psalm
van Dawid.
2Net by God vind ek rus,
van Hom kom my redding.
3Net Hy is my rots en my redding,
my veilige vesting,
sodat ek vas en stewig staan.
4Hoe lank wil julle almal nog
beskuldigings bly slinger
en my probeer doodmaak,
’n man wat reeds is soos ’n muur
wat wil omval,
’n klipmuur wat omgestoot word?

5Hulle probeer my uitwerk;
hulle skep behae in leuens;
met die mond seën hulle,
in die hart vervloek hulle.
6Net by God vind ek rus,
want op Hom vertrou ek.
7Net Hy is my rots en my redding,
my veilige vesting,
sodat ek stewig staan.
8God is my redding en my krag.
Hy is my rots, my sterkte,
God is my toevlug.
9Vertrou altyd op Hom,
my volk,
stort julle hart voor Hom uit!
God is vir ons ’n toevlug.
10Mense is verganklik,
mense is niks:
op ’n skaal wys hulle geen gewig nie,
saam is hulle minder as niks.
11Moenie op geweld vertrou nie;
roof sal jou niks in die sak bring nie.
As jou rykdom toeneem,
moenie dat dit jou
te na aan die hart lê nie.
12Een ding het ek God hoor sê,
nee, twee:
dat net God mag het
13en ’n mens net op U, Here,
kan vertrou,
en dat U met elkeen handel
volgens sy verdienste.

Markus 1:14-20
Jesus begin preek
(Matt 4:12–17; Luk 4:14–15)
14Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Jesus roep sy eerste dissipels
(Matt 4:18–22; Luk 5:1–11)
16Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. 17Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”
18Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg.
19Toe Hy ’n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, 20en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.

Fokusteks

1 Korintiërs 7:29-31
Raad oor die huwelik
7 Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het.
Dit is goed vir ‘n man om sonder ‘n vrou te lewe, 2maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. 3Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. 4Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. 5Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir ‘n bepaalde tyd om julle aan die gebed te wy. Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie.

6Dit sê ek as ‘n tegemoetkoming, nie as ‘n bevel nie. 7Eintlik wens ek dat alle mense kon wees soos ek is. Maar elkeen het van God sy besondere gawe ontvang, die een dít en die ander iets anders.

8Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek: Dit is vir hulle goed om ongetroud te bly soos ek. 9Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word.

10Die getroudes beveel ek—nee, nie ek nie, maar die Here—dat ‘n vrou nie van haar man mag skei nie. 11As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag ‘n man ook nie van sy vrou skei nie.

12Vir die ander sê ek—ek, nie die Here nie: As ‘n gelowige man met ‘n ongelowige vrou getroud is en sy gewillig is om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie. 13En as ‘n vrou met ‘n ongelowige man getroud is en hy gewillig is om by haar te bly, moet sy nie van die man skei nie. 14Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God. 15As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die gelowige man of vrou nie gebind nie. God het julle geroep om in vrede te lewe. 16Jy, vrou, weet immers nie of jy jou man sal red nie. Of jy, man, hoe weet jy of jy jou vrou sal red?

17Verder moet elkeen in die omstandighede bly wat die Here vir hom gegee het. Hy moet bly wat hy was toe God hom geroep het. So skryf ek dit ook aan al die gemeentes voor. 18As iemand reeds besny was toe God hom geroep het, moet hy die teken van sy besnydenis nie ongedaan probeer maak nie. As iemand ‘n onbesnedene was toe hy geroep is, moet hy hom nie laat besny nie. 19Dit kom nie daarop aan of iemand besny is of nie, maar wel of hy die gebooie van God onderhou. 20In die samelewing moet elkeen bly in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het. 21As jy ‘n slaaf was toe God jou geroep het, moet jy jou nie daaroor kwel nie. Maar as jy die kans kry om vry te word, maak gerus daarvan gebruik. 22‘n Slaaf wat deur die Here geroep is, is immers ‘n vrygemaakte van die Here. Net so ook is ‘n vry man wat deur die Here geroep is, nou ‘n slaaf van Christus. 23Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie. 24Broers, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het.

Die ongetroudes en weduwees
25Wat die ongetroudes betref, het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my eie mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is.

26Ek meen dat, met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dit vir ‘n mens goed is om te bly soos hy is: 27as jy getroud is, moenie skei nie; as jy ongetroud is, moenie ‘n vrou soek nie. 28Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie. En as ‘n jongmeisie trou, doen sy nie verkeerd nie. Maar sulke mense sal swaar kry in hierdie lewe, en ek wil julle dit bespaar.

29Ek bedoel dít, broers: die tyd is min. Van nou af moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie; 30en dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie; dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie. 31Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan.

32Ek wil hê julle moet vry wees van sorge. Die ongetroude man gee aandag aan die dinge van die Here, aan hoe hy die Here kan behaag. 33Die getroude man gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe hy sy vrou kan behaag, 34en sy aandag is verdeel. Ook die ongetroude vrou en die jongmeisie gee aandag aan die dinge van die Here, om na liggaam en gees aan Hom toegewy te wees. Maar die getroude vrou gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe sy haar man kan behaag.

35Dit alles sê ek vir julle eie beswil. Ek wil julle nie aan bande lê nie, maar ek wil hê julle moet in eerbaarheid lewe en in onverdeelde toewyding aan die Here.

36As iemand meen dat hy teenoor sy verloofde onbehoorlik handel deur nie te trou nie, en sy begeertes te sterk word en hy voel dat hulle behoort te trou, laat hom doen wat hy graag wil: laat hulle gerus trou. Dit is nie verkeerd nie. 37Maar as iemand in sy eie gemoed oortuig is dat hy nie moet trou nie, en hy nie onder enige dwang verkeer nie, maar volle beheer oor sy eie wil het, en hy by homself besluit het om nie te trou nie, doen hy ‘n goeie ding. 38Dus, hy wat met sy verloofde trou, doen goed. Wie egter nie trou nie, doen beter.

39‘n Vrou is aan haar man gebind so lank as hy lewe. As hy sterwe, is sy vry om te trou met wie sy wil, mits dit met ‘n gelowige is. 40Tog is sy na my mening gelukkiger as sy ongetroud bly; en ek dink dat ek ook die Gees van God het.

Ekstra stof

1 Korintiërs 7:1-24 – Dis beter om nie te trou nie
Paulus begin in hoofstuk 7 reageer op sake wat in ‘n brief van die Korintiërs aan hom gerig is.  In vers 1-24 hanteer hy die vraag oor die huwelik.

Let op dat hy aansluit by ‘n gedagterigting wat blykbaar by die Korintiërs ontstaan het, dat dit goed is vir ‘n man om sonder ‘n vrou te lewe, dit wil sê sonder seks.  Sommige het blykbaar selfs besluit dat die huwelik nie strook met hulle opvatting van Christenwees nie en wou sonder seks in die huwelik lewe of dan skei om beter die Here te kan dien.

Daarom praat Paulus eers oor getroudes, en beveel aan dat hulle steeds in die huwelik sal bly, en steeds seksueel met mekaar sal verkeer in die huwelik, veral weens die gevaar van onsedelikheid.  Ons liggame behoort wel aan God (6:19), maar in die huwelik ook aan ons huweliksmaat.  Daarom moet huweliksmaats mekaar nie seksueel weier nie, behalwe om ‘n (kort) tyd lank te bid.  Die duiwel moet nie kans kry om hulle te verlei weens hulle gebrek aan selfbeheersing nie, veral nie in ‘n stad wat so berug vir sy prostitusie was nie.

Dan spits hy hom toe op die wat voorheen getroud was, die wewenaars en weduwees en werk basies met twee beginsels:

1. Paulus dink dit is beter om nie te trou nie (vers 1,8), maar relativeer dit deur homself as voorbeeld te gebruik, en te erken, soos hy self sê in vers 7, dit hang van ons gawes af, dinge wat die Here vir ons gee (vgl Matt 19:11 “Wie dit kan doen, laat hom dit doen”!);

2. As jy jouself nie kan beheer nie, dink Paulus dit is dan beter om te trou as om deur hartstog verteer te word (vers 9).  Daarom dat ook huweliksmaats mekaar in ag moet neem (vers 2-5), sodat ‘n gebrek aan seks nie hulle blootstel aan verleiding deur die duiwel nie.

Let egter op dat albei beginsels uit sy eie ervaring kom, en nie as ‘n bevel van die Here aan hulle gegee word nie. Dit bly daarom net sy eie mening … hoewel daar baie geleerdes is wat steeds die gesag van hierdie woorde handhaaf, op grond van wat Paulus in vers 40 sê: “Ek dink dat ek ook die Gees van God het.”

Die enigste perspektief wat hy verseker van God af vir die Korintiërs gee, is, dat as jy getroud is, jy nie mag skei nie.  Daarmee erken hy wat regdeur die Bybel as beginsel aangegee is, dat God nie wil hê huweliksmaats moet die band tussen hulle verbreek nie (vgl Jesus in Matt 19 bv. – dit sluit uiteraard dinge soos geweld en mishandeling uit).  Let ook op dat hy werk met die beginsel van een man en een vrou (“elke man sy eie vrou en elke vrou haar eie man”), dws die monogame huwelik.

Dan spreek hy die probleem van ‘n ongelowige maat in die huweliksverhouding aan, en sê basies dat die ongelowige, nie die gelowige nie!, die keuse het om te bly of te ry.  Daar is ‘n voordeel vir die ongelowige om te bly, maar die gelowige huweliksmaat is nie gebind aan die huwelik, as die ongelowige huweliksmaat wil skei nie.  Daar is ook ‘n voordeel vir die kinders, deurdat hulle in die sfeer van die Christelike gemeenskap groot word, en daardeur beïnvloed kan word.  Anders sou hulle in ‘n heidense omgewing grootword, wat eweneens ‘n groot invloed op hulle sal hê.

Die oproep wat hy gee dat elkeen in sy of haar sosiale of kulturele status moet bly, kom vreemd oor, veral omdat hyself dié reël oortree het met Timoteus, wat nie besny was nie, en ter wille van die Jode toe wel besny is (Hand 16:3).  Hy gee wel toe dat slawe wat kan vryraak dit mag doen, maar daarmee ontkrag hy eintlik sy standpunt.

Alles in ag genome, is dit duidelik dat sy basiese vrees is dat die huwelik die toewyding aan die Here kan verswak, waaroor hy in die volgende perikoop verder sal skrywe – en daarmee is mens dit tog met hom eens. Paulus is baie bewus van die uitdagings wat wag vir die kerk, en hy wil eintlik mense die bekommernisse spaar wat baie keer met die huwelik saamgaan.

1 Korintiërs 7:25-40 – Die koninkryk verdien onverdeelde aandag
Weereens gee Paulus sy eie mening, hoewel hy dit as betroubaar (vers 25) – deur die genade van die Here – beskrywe en hom beroep op die feit dat hy ook die Gees het (vers 40).  Maar hy relativeer dit deur sy mening te onderskei van ‘n direkte bevel van die Here.

En hier praat hy nou oor die ongetroudes (parthenos – maagde).  Met die oog op die swaarkry van die eindtyd dink hy dit is beter om nie te trou nie.  Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie, jy maak dit net vir jou swaar.  ‘n Mens hoor hier van die soortgelyke gedagtes eggo wat Jesus geopper het oor swanger vroue in die eindtyd (Mark 13:17).  Jesus sowel as Paulus het waarskynlik in die eerste plek die vervolging onder die Romeine in gedagte gehad.

Hy relativeer daarmee eintlik die hele gemeenskapslewe en maak dit ondergeskik aan ‘n lewe vir die koninkryk.  Selfs om iets vir jouself te koop, word gerelativeer, omdat hierdie wêreld soos ons ken aan die verbygaan is, en ons vry van sorge moet wees om aandag aan die koms van die koninkryk te gee.  Die dinge van die Here moet voorop in ‘n mens se gedagtes wees, nie die dinge van die wêreld, soos die huwelik en dergelike dinge nie. Ons aandag moenie verdeel wees nie.

Hoewel baie met Paulus sou kon verskil, sê hy hierdie dinge na sy mening tot ons beswil, nie om ons aan bande te lê nie, maar ons toewyding aan die Here te  beskerm.  Wie trou doen dus goed, maar wie nie trou nie, doen beter – aldus Paulus.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 161 ” Halleluja Heer U is ons lewe vs 1″

Aanvangswoord: Psalm 62

Seëngroet

Lied 372 “Hoe glansryk blink die morester vs 1,2,3”

Wet: Romeine 13:8-10

Skuldbelydenis 

Vryspraak: Efesiërs 2:8-10

Loflied: Lied 578 “Jesus wat my liefhet Heer 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: 1 Korintiërs 7:29-31

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Geloofsbelydenis
Offergawes

Wegsending: Lied 367 ” Ere aan God vs 1″

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361″ Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord: Psalm 62
6Net by God vind ek rus,
want op Hom vertrou ek.
7Net Hy is my rots en my redding,
my veilige vesting,
sodat ek stewig staan.
8God is my redding en my krag.
Hy is my rots, my sterkte,
God is my toevlug.

Seëngroet
Wees gegroet in die Naam van die Vader
wat sy geliefde na ons toe gestuur het
en sy Gees soos ’n duif op ons laat neerdaal het.
Amen.

Lied 372 “Hoe glansryk blink die morester vs 1,2,3”

Wet: Romeine 13:8-10
Liefde is die volle uitvoering van die wet
8Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. 9Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 10Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

Skuldbelydenis
Voorganger: Voor God en saam met die gemeente van God bely ek my gebrokenheid: dat ek op verskillende maniere my eie lewe verwond; die lewe van ander en die lewe van die wêreld.
Gemeente: Mag God jou vergewe, mag Christus jou vernuwe, en mag die Gees jou help om te groei in liefde.

V: Amen.
G: Voor God en saam met die gemeente van God bely ek my gebrokenheid: dat ek op verskillende maniere my eie lewe verwond; die lewe van ander en die lewe van die wêreld.

V: Mag God jou vergewe, mag Christus jou vernuwe en mag die Gees jou help om te groei in liefde.
G: Amen.

Vryspraak: Efesiërs 2:8-10
8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Loflied: 578 “Jesus wat my liefhet Heer 1,2,3”

Liedere

F41. “Beeld Van God”
(RUBRIEK:  Jeuglied/Flammikidz – Lof)
Teks en Musiek: Braam Hanekom
© 1998  MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Jou lewe is ‘n lofgedig, geskryf tot Sy eer.
Sorgvuldig elke woord gekies, soos die reënboog se kleur.
Jy’s beplan in die hemel, verteenwoordiger van God.
Sorgvuldig aan mekaar geweef om te leef met een gebod.

Refrein:
Mag jy omgee en liefhê en so sy beeld uitdra
in ‘n wêreld wat verward is en na ware liefde vra.
Mag jy omgee en liefhê en so sy Naam vereer
by almal wat op soek is na die antwoord op hul seer.

2. Jy’s gebore in die wêreld, maar gemaak vir ‘n paradys,
om te lag en te lewe, soos ‘n prins in ‘n paleis.
So waarom dan die sonde waaraan jy so bly klou,
wat steeds Sy beeld vernietig en jou vreugde stukkend kou?

Refrein:

3. Onthou, jy’s ‘n beeld van God wat kan skitter soos kristal
om die wêreld te herinner daar’s ‘n God in die heelal.
Kom dan nou en vat Sy hand en leef soos sy kind
wat Hy self gemaak het, en jy sal vreugde vind.

Refrein:

F65. “Jesus, U Naam Is Ons Vryheidslied”
(RUBRIEK: Kruisfuur (JEUG-/TIENERLIED) – Geloofsbelydenis / Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

1. Jesus, u Naam is ons vryheidslied
Ons jubelsang van verlossing
Die sonde se krag word daardeur verbied
Jesus, u Naam is ons lied

2. Jesus, u Naam is ons vreugdefees
Ons blye dans van vervulling
Ons leef in die lig van die Christusgees
Jesus, u Naam is ons fees

3. U Naam is ons vlag en ons banier
Dit spel vir ons vrede
Dit bring ons die lewe wat ons vier
Daar is geen ander naam bo elke naam gegee

4. Jesus, u Naam is ons sterwenswins
Ons greep op die ewige lewe
Die Leeu wat oorwin is die Vredeprins
Jesus, u Naam is ons wins

5. Jesus, u Naam is ons oorlogskreet
Ons vaandel, ons evangelie
Ons vier die oorwinning, ons almal weet:
Jesus, u Naam is ons kreet

God praat met ons en ons luister

Epiklese
God, Gewer van lewe
U alleen weet hoe ons lewens waarlik kan geluk.
Leer ons in die stilte van u teenwoordigheid:
dié misterie met bewondering bedink:
hoe ons in ontmoeting met U
hoe ons onder die blik van u oë
en in u Woord
onsself erken
as u beeld en gelykenis.
Wys ons hoe om die dinge te laat gaan,
wat `n ontmoeting met U verhinder
en wat verhoed dat u Woord ons aanraak.
Wek deur u Woord
die beeld in ons op
wat U van ons droom
vandag en elke dag,
vir altyd en ewig. Amen
(Uit Preekstudies met liturgiese voorstelle 2003, p70-75)

Skriflesing: 1 Korintiërs 7:29-31

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Lees die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.
29–32 Laat ek verduidelik wat ek bedoel. Dit gaan nie meer lank wees nie, dan kom Jesus ons haal. Daarom moet ’n mens nie die hele dag lank net dink aan die dinge hier op die aarde nie. Dis nie al wat belangrik is nie. Party mense loop die hele dag en dink aan die goed wat hulle bly maak, soos wanneer ’n baba gebore word. Ander mense dink weer net aan dinge wat hulle hartseer maak, soos wanneer iemand doodgaan. Nog ander mense dink weer aan al die mooi dinge wat hulle gekoop het. Ons moet onthou dat alles op die aarde eendag gaan ophou om te bestaan. Daarom moet ons nie ons tyd mors deur net aan die goed op die aarde te dink nie. Dink ook aan Jesus. Iemand wat nie getroud is nie, het baie tyd om vir Jesus te werk en sy hart bly te maak.

Dit is dieselfde taal wat Paulus ook elders gebruik…

Kolossense 3
Dink Altyd aan Jesus
3     1–4 Julle is mos Christene. Daarom moet julle altyd probeer om so te lewe dat julle Jesus se hart bly maak. Jesus sit mos nou aan die regterkant van God. Dit is ’n baie spesiale plek in die hemel. Dit wys vir ons hoe belangrik Jesus is. Daarom moet ons nie gedurig dink aan dinge wat hier op die aarde belangrik is nie. Ons moet meer begin dink aan wat God in die hemel wil hê ons moet doen. Ons moet daaroor praat en dit ook doen. Julle moet onthou dat julle nie meer kan lewe soos voor julle Christene geword het nie. Daardie tyd van julle lewe is dood en verby. Jesus het nou vir julle ’n nuwe lewe gegee. Daarom moet julle nou leef soos wat Hy wil hê. Wanneer Jesus weer kom, sal Hy julle almal saam met Hom hemel toe neem.

Soek die gemerkte sleutelwoorde wat in die diagram weggesteek is. Dit kan van links na regs, regs na links, onder na bo en bo na onder, en ook skuins na alle kante loop.

 

Oplossing

Preekriglyn

Simeon die Stiliet (390 – 459 n.C.) was ‘n heilige wat vir meer as 30 jaar op ‘n klein platform op ‘n groot pilaar naby Aleppo Sirië gewoon het. Simeon het homself sedert sy 13de jaar aan die Christelike geloof toegewy, en besluit om sy hele lewe aan God te gee. Dit wou hy doen deur van die wêreld te vlug. Eers het hy in ‘n klooster gaan woon, daarna in ‘n grot en later op ‘n klein platform bo-op ‘n groot pilaar (of stiliet). Sy doel was om afgesonder te wees vir God en te vlug van die wêreld.

Simeon het groot beroemdheid verwerf. Ironies het duisende mense, waaronder biskoppe en konings, hom kom besoek en sy advies oor toewyding aan God gevolg. Simon het ook briewe aan gelowiges geskryf en advies gegee.

Simon het daaglikse gebedspraktyke gevolg om sy liggaam aan God te wy. Sy sentrale doel was om die wêreld te ontvlug en toegewy aan God te leef. Vir Simeon was dissipelskap om uit die wêreld weg te vlug. ‘n Moderne Simeon sal dalk solank ‘n kaartjie Mars toe wil bespreek.

Is dit wat die Here van ons vra? Sommige Christene in Tessalonika (1 Tess 5:14; 2 Tess 3:6) het ook so gedink. Hulle het die wederkoms verwag en besluit daar is geen sin om enigsins te werk nie. Met hierdie eensydige wederkomsverwagting het hulle die gewone lewe as minderwaardig beskou.

Moet ons liewer nie?

Paulus se woorde in ons Skrifdeel klink amper asof hy ons aanmoedig om so te begin lewe. Hy skryf: “Ek meen dat, met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dit vir ‘n mens goed is om te bly soos hy is” (7:26).

Dit klink asof Paulus sê: Moenie te veel in hierdie lewe belê nie. Dit gaan verby. Moenie hartseer of te opgewonde raak nie. Dit waaroor jy hartseer of opgewonde raak gaan verby. Dis asof Paulus wil sê: In die lig daarvan dat alles in hierdie wêreld sal verbygaan, dink twee maal voor jy trou, voor jy die lewe te ernstig neem. As jy nie besny is nie, moenie moeite doen om besny te word nie, want dit maak nie te veel saak nie. Die tyd is min. As jy ‘n slaaf is, moenie te veel moeite doen om jou situasie te verander nie, behalwe as daar ‘n geleentheid is.

Is Shakespeare reg as Macbeth sê:
Life’s but a walking shadow, a poor player, that struts and frets his hour upon the stage, And then is heard no more. It is a tale told by an idiot, full of sound and fury, signifying nothing.

Moet ons liewer nie trou nie? Moet ons liewer nie beleggings hê nie? Moet ons liewer nie te hard werk nie? Immers, dis alles futiel. Dit kom tot niks.

Die Prediker was dalk reg:
Ek het alles wat in hierdie wêreld gebeur, bekyk: alles kom tot niks, dit is ‘n gejaag na wind. Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, ‘n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie (Pred 1:14; 2:11).

Is dit beter om jouself aan die wêreld te onttrek?

Ons en die wêreld

Is dit wat Paulus sy lesers leer? As ons dit so verstaan, mis ons die basiese boodskap van wat dit beteken om ‘n Christen in God se wêreld te wees. Paulus maak een van die eenvoudigste en tog van die belangrikste punte vir ons Christelike lewe: Ons bestaan in hierdie wêreld moenie gekenmerk word deur verknogtheid aan en beheptheid met die wêreld nie, nie aan die vreugdes en hartseer wat die wêreld ons bied nie, maar deur ons algehele toewyding aan God.

Daar is baie voorbeelde in die Skrif:

Voorbeeld 1
In die onmiddellike konteks benadruk Paulus dat huweliksmaats wat aan mekaar behoort (7:4, 33, 34), moet besef dat hulle soms tweede moet kom omdat hulle allereers aan God toegewyd moet wees (7:5). Hulle aandag moenie verdeeld wees as dit by die Here se dinge kom nie. Dan kom Hy eerste.

In die fliek, War Room, sê een van die karakters aan haar man: “Ek besef nou dat ek eers aan die Here behoort en dan aan jou.” Dieselfde geld ongetroudes, sê Paulus. Nadat hy met die getroudes en ongetroudes gepraat het, skryf Paulus: “Ek wil julle nie aan bande lê nie, maar ek wil hê julle moet in eerbaarheid lewe en in onverdeelde toewyding aan die Here” (7:35). Dis beter om nie getroud te wees nie – as jy selfbeheersing aan die dag kan lê – om jou aandag volledig op die Here te fokus (7:37-40).

Die verbygaande wêreld is nie rede om onsself aan die wêreld te onttrek of asketies te raak nie. Ons mag leef, mag die wêreld gebruik, maar moenie toelaat dat dit ons lojaliteit en toewyding aan die Here verdring nie. Selfs as jy met ‘n ongelowige getroud is, bly by hom of haar, want dalk red jy hom of haar deur getroud te bly, behalwe as hy of sy nie meer met jou geloof kan uithou nie en jou los (7:16).

Voorbeeld 2
Genesis 22 bied ‘n klassieke voorbeeld van hierdie onverdeelde toewyding. Abraham is op ‘n punt waar hy weer van voor af moes leer dat God alleen aan hom sekuriteit gee. Dit is net soos die keer in Genesis 12 toe hy die eerste maal sy sekuriteite prysgegee het. Vandat Hy die eerste maal ja gesê het, moes hy leer om altyd ja te sê vir God se visie.

Abraham het iets verstaan wat Jesus later sou sê: “Hy wat sy pa of ma liewer het as vir My, is nie werd om aan my te behoort nie. Hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie” (Matt 10:37-39).

Wat in Lukas 14:25-35 voorkom, is die beskrywing van die lewe van God se mense in hierdie wêreld. Kortweg kan dit saamgevat word met die woorde: “Jesus Christus moet eerste in ons lewe kom.” Ons mag niks anders meer liefhê as vir Hom nie. ‘n Christen is iemand wat Jesus bo sy geliefdes liefhet (14:26). Selfs ons natuurlike verbande mag nie swaarder weeg, meer lojaliteit van ons eis as ons lojaliteit aan God se saak nie. ‘n Christen is ook iemand wat Jesus bo homself liefhet (14:26b, 27).

Voorbeeld 3
Vir Jode was dit ‘n bekende gesig as iemand met ‘n paal op sy rug by die hofsaal uitstrompel. Almal het dan geweet dat hy die doodvonnis gekry het. Wie Jesus volg, volg Hom tot by Golgota – sy eie dood. Bonhoeffer se woorde is oorbekend: “When God calls a man, He bids Him, come and die.”

‘n Christen is ook iemand wat Jesus bo sy besittings liefhet (14:33) – in 1 Korintiërs 7 se taal, bo die dinge wat ons aankoop. Die probleem kom wanneer dinge ons begin besit, wanneer ons dinge maak dat ons geleef word, in plaas van om te leef. Die probleem in ons samelewing begin wanneer ons ideale, ons tyd, ons planne, ons beursies nie meer gawes van God is nie, maar ons s’n word. Dan stel ons alles en almal tweede – selfs die Heer van dié dinge.

Jesus benadruk ons algehele toewyding aan sy koninkryk deur die rein hart van die Saligsprekinge later in die Bergrede in meer detail te verduidelik (Matt 6:19-33). ‘n Hart wat tussen God en die wêreld verdeeld is, raak ‘n bekommerde hart. As ‘n mens jou hart op geld en skatte hier op aarde verloor het, bekommer jy jou oor kos en klere, in plaas van die koninkryk van God.

Nie van hierdie wêreld

Ons lewe in hierdie wêreld wat verbygaan, is nie asketies of onttrekking nie, maar ‘n lewe van toewyding aan God. In hierdie lewe kom Hy eerste. Dis al wat uiteindelik sal tel. In hierdie toewyding aan God in die wêreld moet ons verstaan dat ons nie van hierdie wêreld is nie.

In sy boek oor 1 Petrus, skryf Dirkie Smit:
Die kerk mag nóóit, nóóit volledig van hierdie wêreld wees nie, nóóit soos ‘n handskoen pas op wat in die samelewing aan die gebeur is nie; nóóit maar net onkrities, harmonies en spanningloos die status quo, die openbare orde, die burgerlike lewe, die politiek van die dag, die strewes van mense, begelei – en selfs seën – nie. Nooit! Die kerk moet altyd iets van hierdie vreemdelingskap bly vertoon, iets van hierdie andersheid, iets van hierdie ‘haaksheid’ op wat aan ‘t gebeur is, op wat vanselfsprekend is, op wat deur almal aanvaar en gedoen word.

Smaak verloor

Ek ken ‘n baie bejaarde persoon wat ‘n paar jaar gelede haar smaak verloor het. Alles, sê sy, proe soos karton. Dit smaak na niks. Dis verskriklik. Sy eet omdat sy weet sy het kos nodig om te oorleef, maar dit smaak na niks. Sy is in ‘n sekere sin daarvan bevry om agter haar smaak aan te eet. Sy het die dissipline aangeleer om te eet omdat sy dit nodig het.

Dit is in ‘n sin ‘n weerspieëling van die vryheid van ‘n Christenmens in ‘n wêreld wat aan die verbygaan is. Immers, so sê Paulus: “Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie” (7:23). Ons het ons smaak verloor vir die dinge wat verbygaan, maar ons het die dissipline aangeleer om te doen wat nodig en noodsaaklik is.

Laat ons nie opgeslurp word deur die suigkrag van ‘n wêreld wat verbygaan nie. Laat ons in toewyding aan Hom lewe! Johannes skryf: “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe” (1 Joh 2:15-17).

Swaar maar nie lastig

Paulus sê dat hierdie wêreld nie ons finale woonplek is nie. Dis eerder die plek waar ons in toewyding aan God sal lewe. Soms is dit swaar, maar nie lastig nie.

Die bekende teoloog Overduin vertel die verhaal van die motorbestuurder wat ‘n meisie met iemand op die rug sien stap het. Toe hy aan haar ‘n geleentheid aanbied, soos ‘n hoflike mens behoort te doen, sê sy dat sy liewer stap. Op die vraag of sy nie swaar dra nie, sê sy: “Nee, dit is nie swaar nie, want ek dra my broertjie. Daarom stap sy liewer, want dit is haar broertjie wat sy dra.”

Is dit swaar om Jesus bo alles lief te hê? Nee, ek dra my broertjie. Is dit swaar om soos ‘n Christen in die samelewing op te tree? Ja, maar dis nie lastig nie, want ek dra my broertjie.

God stuur ons om te leef

Gebed 

Geloofsbelydenis
Geloofsbelydenis: Outeur onbekend
Ek glo dat God my Vader is
en dat my Vader
die almagtige Skepper van hemel en aarde is.

Ek glo dat Jesus Christus my enigste Koning is,
dat Hy gesterf het sodat my sonde vergewe kan word;
dat Hy uit die dood opgestaan het sodat ek ‘n nuwe lewe kan leef;
dat Hy opgevaar het na die hemel om vir my by die Vader in te tree;
en dat Hy weer terugkom om alles volkome nuut te maak.

Ek glo dat die Heilige Gees aan my gegee is om my in die volle waarheid te lei
en my aan God gehoorsaam te maak.
Ek glo dat ek in Christus deel is van die kerk
en dat alle gelowiges my broers en susters is
saam met wie ek in liefde moet leef as die huisgesin van God.

Ek glo dat ek in Christus
‘n kind van God geword het,
die ewige lewe ontvang het
en eendag uit die dood sal opstaan
om vir ewig in God se teenwoordigheid te lewe.
(Uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle, saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, p34 (Datum onbekend))

Offergawes

Wegsending: Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Seën
Gaan nou terug na die lewe van elke dag,
gaan dien God en jou medemens met opregte liefde.
Gaan lewe met die seën van die Here.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.