Derde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

‘n Liggaam bestaan uit verskillende dele. En elke deel het ‘n spesifieke funksie. Maar eers as al die deeltjies saamwerk, funksioneer die liggaam.

So ook in ‘n gemeente. Almal het verskillende gawes. Eers as almal hulle gawes inspan in sy diens, funksioneer die gemeente.

Ons is op ‘n missie – God se gestuurdes – om elk ons eie deeltjie te doen om sy boodskap na almal uit te dra (1 Kor12).

Ander tekste

Nehemia 8:1-10
8 Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede.
2Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die plein voor die Waterpoort en vir Esra die skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring. 3Die priester Esra het toe die wet voor die gemeente gebring, man en vrou, elkeen wat kon verstaan. Dit was op die eerste dag van die sewende maand. 4Hy het daaruit voorgelees op die plein voor die Waterpoort van ligdag af tot die middel van die dag ten aanhore van mans, vrouens en elkeen wat kon verstaan. Die aandag van die hele gemeenskap was by die wetboek.
5Esra die skrifgeleerde het op ’n houtverhoog gestaan wat vir dié doel gemaak was; regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en links van hom Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam.
6Esra het hoër gestaan as die hele gemeente en het die boek voor almal se oë oopgemaak. Toe hy dit oopmaak, het die hele gemeente opgestaan. 7Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.”
Toe kniel hulle en buig diep voor die Here. 8Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die wet aan die gemeente verduidelik terwyl die volk daar staan. 9Die Leviete het uit die boek, uit die wet van God, voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word.
10Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet.

11Nehemia het verder gesê: “Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm.”
12Die Leviete het al die mense gekalmeer met die woorde: “Wees rustig. Dit is ’n gewyde dag, moenie bedroef wees nie.”
13Die hele gemeente het toe gaan eet, lekkernye uitgedeel en groot fees gevier. Hulle het goed begryp wat vir hulle gesê is.

Psalm 19
Die openbaring van die Here is volmaak
19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Lukas 4:14-21
Jesus in Galilea
(Matt 4:12–17; Mark 1:14–15)
14Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees, en berigte oor Hom het deur die hele omgewing versprei. 15Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat.

Jesus word uit Nasaret verdryf
(Matt 13:53–58; Mark 6:1–6)
16Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, 17is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan:
18“Die Gees van die Here is op My
omdat Hy My gesalf het
om die evangelie aan armes
te verkondig.
Hy het My gestuur
om vrylating vir gevangenes
uit te roep
en herstel van gesig vir blindes,
om onderdruktes in vryheid
uit te stuur,
19om die genadejaar van die Here
aan te kondig.”
20Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. 21Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”

22Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. En hulle sê: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?”
23Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou: ‘Geneesheer, genees jouself’ en vir My sê: ‘Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen nou dieselfde dinge ook hier waar jy grootgeword het.’24Maar dit verseker Ek julle,” sê Hy verder, “geen profeet word in die plek waar hy grootgeword het, aanvaar nie. 25Ek sê vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar ’n groot hongersnood in die hele land gekom het. 26Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na ’n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon. 27En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van die profeet Elisa. Tog is nie een van hulle genees nie, maar wel Naäman, die Siriër.”
28Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. 29Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi. 30Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan.

Fokusteks

1 Korintiërs 12:12-31a
Een liggaam met baie lede
12Net soos die liggaam ‘n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. 13Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.

14Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie. 15As die voet sou sê: “Omdat ek nie ‘n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie. 16En as die oor sou sê: “Omdat ek nie ‘n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede eweneens nie op om deel van die liggaam te wees nie. 17As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik? 18Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. 19As almal saam net een lid was, hoe sou daar ‘n liggaam kon wees? 20Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam.

21Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” 22Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik, 23en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak, 24terwyl die aantreklike dele dit nie nodig het nie. God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom, 25sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra. 26As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.

27Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan. 28En in die kerk is daar mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het. Ten eerste is daar apostels, ten tweede profete, ten derde leraars; verder is daar dié wat wonderdade kan doen, dan dié wat genadegawes ontvang het om mense gesond te maak, om hulp te verleen, om leiding te gee of om ongewone tale of klanke te gebruik. 29Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars? Kan almal miskien wonders doen? 30Het almal die genadegawes om mense gesond te maak? Of gebruik almal miskien ongewone tale of klanke en kan almal dit uitlê?

31Lê julle toe op die beste genadegawes.

Ekstra stof

1 Korintiërs 12 – Verskeidenheid dien die eenheid
Hoofstuk 12-14 handel oor die wyse waarop die gawes van die Gees in die gemeente gefunksioneer het.  Die gemeente se siening van die gawe van tale as die taal van die engele (13:1) en iets wat in ‘n toestand van ekstase manifesteer (12:2) het gedreig om so oorbeklemtoon te word, dat die ander gawes oorheers is, en hulle eredienste onverstaanbaar begin word het.

Daarom fokus Paulus in hoofstuk 12 eerstens op die basiese belydenis van elke kind van God, dat Jesus die Here is (12:1-3).

Tweedens gebruik hy die tekening van God as Drie-enig (let op die drie woorde vir God in vers 4-6: Gees, Here, God wat met drie beskrywings van die gawes gekoppel word: genadegawes, bedieninge, kragtige werkinge) om aan die een kant die verskeidenheid van gawes wat van die persoon-ryke God kom, aan te moedig, maar aan die ander kant ook die gawes se inherente eenheid te beklemtoon omdat dié God een wese is.  Die onderskeie gawes van wysheid, kennis, geloof, gesondmaking, wonders, profesie, onderskeiding en tale kom van een Gees, en is daarom bedoel om tot die voordeel van almal in die een liggaam gebruik te word (12:7-11).

Daarmee hoop hy dat hulle met die vergelyk-speletjie sal ophou, en eerder die verskeidenheid van gawes sal gebruik tot stigting en opbou van die een liggaam van Christus in die gemeente.

Derdens brei hy uit oor die samehang van die gelowiges met hulle gawes in die een liggaam van Christus, die gemeente, wat beteken dat daar nie verdeeldheid kan wees nie (12:12-31).  Hy gebruik die beeld van ‘n regte liggaam om die noodsaaklikheid van verskille (voet, hand, oor, oog) binne die groter organiese eenheid van die gemeente te demonstreer, maar ook die noodsaaklike en integrale eenheid te beklemtoon.  ‘n Liggaam kan nie voortbestaan as dit verskeurd is nie.

As daar eenheid is, kan die liggaam se lede met integriteit gelyke sorg dra vir mekaar – onder andere deur mense wat spesifieke take ontvang het: apostels, profete en leraars – gawes wat veral met die Woord te make het; en deur mense wat gawes ontvang het om wonderdade te kan doen, mense gesond te maak, hulp te verleen (bystand), leiding te gee (kubernesis – bestuur of administreer), en ongewone tale of klanke te gebruik.  Die lysie kom ooreen met dié in vers 7-11, met 2 gawes wat bykom, hulp en leiding.  Dit wys dat die gawes nie ‘n vaste aantal was nie, maar slegs as voorbeelde genoem word.

Paulus beklemtoon dat nie almal al die gawes het nie, en dat daar beter gawes is (profesie is bv. beter as die gawe van tale, soos hy in hoofstuk 14 sal wys), maar dat alles ondergeskik is aan die gawe van die liefde wat aan almal in die gemeente gegee is, waaroor hoofstuk 13 handel.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 19

Seëngroet          

Sang: Lied 175 “Majesteit vs 1”

Wet: Nehemia 8:1-10

Verootmoediging
Geloofsbelydenis van Nicea

Loflied: Liied 367 “Ere aan God vs 1”

Epiklese

Skriflesing: 1 Korintiërs 12:12-31

Familie-oomblik
Prediking
Toewyding
Offergawes

Wegsending: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361.” Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 19
Die hemelruim verkondig van die eer van God,
die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend.
Laat die woorde van my mond
en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser

Seëngroet
Wees gegroet in die Naam van die Vader
wat sy geliefde Seun na ons gestuur het
en sy Gees soos ’n duif op ons laat neerdaal het.
Amen.

Sang: Lied 175 “Majesteit vs 1”

Wet
In Nehemia 8 het die volk ‘n roerende geleentheid van verootmoediging en toewyding beleef met die voorlees van die wet. Ons gebruik die gedeelte vanoggend as wet voorlesing…

Nehemia 8:1-10
8 Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede.
2Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die plein voor die Waterpoort en vir Esra die skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring. 3Die priester Esra het toe die wet voor die gemeente gebring, man en vrou, elkeen wat kon verstaan. Dit was op die eerste dag van die sewende maand. 4Hy het daaruit voorgelees op die plein voor die Waterpoort van ligdag af tot die middel van die dag ten aanhore van mans, vrouens en elkeen wat kon verstaan. Die aandag van die hele gemeenskap was by die wetboek.

5Esra die skrifgeleerde het op ’n houtverhoog gestaan wat vir dié doel gemaak was; regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en links van hom Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam.
6Esra het hoër gestaan as die hele gemeente en het die boek voor almal se oë oopgemaak. Toe hy dit oopmaak, het die hele gemeente opgestaan. 7Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.”
Toe kniel hulle en buig diep voor die Here. 8Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die wet aan die gemeente verduidelik terwyl die volk daar staan. 9Die Leviete het uit die boek, uit die wet van God, voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word.
10Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet.

11Nehemia het verder gesê: “Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm.”
12Die Leviete het al die mense gekalmeer met die woorde: “Wees rustig. Dit is ’n gewyde dag, moenie bedroef wees nie.”
13Die hele gemeente het toe gaan eet, lekkernye uitgedeel en groot fees gevier. Hulle het goed begryp wat vir hulle gesê is.

Verootmoediging
Voorganger: Voor God en saam met die gemeente van God bely ek my gebrokenheid: dat ek op verskillende maniere my eie lewe verwond; die lewe van ander en die lewe van die wêreld.
Gemeente: Mag God jou vergewe, mag Christus jou vernuwe, en mag die Gees jou help om te groei in liefde.

V: Amen.
G: Voor God en saam met die gemeente van God bely ek my gebrokenheid: dat ek op verskillende maniere my eie lewe verwond; die lewe van ander en die lewe van die wêreld.

V: Mag God jou vergewe, mag Christus jou vernuwe en mag die Gees jou help om te groei in liefde.
G: Amen.

Geloofsbelydenis van Nicea
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge; en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het. Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig;

Hy het gely en is begrawe. Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie. Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek. Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes. Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige bedeling. Amen.

Loflied: Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Liedere

F85. “Wondergod”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Verwondering)
Oorspronklik: Awesome God
Teks & Musiek: R Mullins
Afr. vertaling: Soekie Rautenbach
Teks & musiek: © 1988 BMG Music Publishers SA
(Opgeneem op God is Groot)

Refrein:
Ons God is ‘n wonder God
Hy heers uit die hemel hoog
Met wysheid, liefde en met mag
Ons God is ‘n wonder God

1. Hy het die hemel en aarde gemaak
Ons God is ‘n wonder God
Hy het vir jou spesiaal aangeraak
Ons God is ‘n wonder God
Hy’t vir die mens gesterf aan ‘n kruis
Ons God is ‘n wonder God
Sy Heilige Gees sal die pad vir ons wys
Ons God is ‘n wonder God

2. Hy het die mag van die Bose oorwin
Ons God is ‘n wonder God
Hy gee die mens weer ‘n nuwe begin
Ons God is ‘n wonder God
Jesus kom weer om sy kinders te kry
Ons God is ‘n wonder God
Om in die hemel by Hom te gaan bly
Ons God is ‘n wonder God

F104.’ Weet Jy Nie, Jy’s ‘n Tempel?”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lering)
Musiek: Tradisioneel
Teks: Jan de Wet
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?
Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?
Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?
Jy is ‘n tempel van die Heil’ge Gees.

Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
Jy is ‘n tempel van die Heil’ge Gees.

Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ek is ‘n tempel van die Heil’ge Gees

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here,
in ons hande lê die Skrif
deur eeue van hand na hand aangegee;
U Woord, oorvertel
van geslag na geslag,
van ouer na kind,
tot dié een wat hier in ons hande lê.
Here,
Dit is in dié Skrifte, in dié Woord dat ons na U soek,
ons eie woorde is maar yl en skraal,
en die baie woorde daar buite,
raak nie regtig ons hart
en bring nie die vrede en koers
waarna ons verlang nie.
Daarom is ons gebed, Here:
dat U ons nou sal hoor –
as ons bid om u teenwoordigheid,
om u nabyheid,
om u oop Woord,
om ons ontvanklike harte.
Maak ons daarvoor, stil.
Amen.

Skriflesing: 1 Korintiërs 12:12-31

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Laai teks hier af
Ons gaan die fokusteks tussen 3 lesers verdeel. Die liturg en nog twee ouer jongmense in die gemeente. Hulle staan weerskante van die liturg.

Liturg: Die kerk is nes ’n mens se liggaam. Ons liggaam bestaan mos uit ’n klomp dele soos byvoorbeeld ’n kop, arms en bene. Al hierdie dele vorm saam een liggaam. In die kerk is ons ook ’n klomp verskillende mense. Maar toe ons gedoop* is, het die Heilige Gees* ons aan mekaar gebind soos die dele van ’n mens se liggaam. Dit maak nie saak wie ons is en of ons belangrik is of nie. Dit maak ook nie saak waar ons vandaan kom nie. Die Heilige Gees* werk in elkeen van ons se lewe.

Leser 2: Sê nou ’n mens se voet sê: “Ek is nie ’n hand nie. Daarom voel dit vir my of ek nie ’n deel van die liggaam is nie.” Al dink die voet so, bly hy steeds ’n deel van die liggaam.

Leser 3: En sê nou die oor sê: “Ek is nie ’n oog nie, daarom voel dit vir my of ek nie deel van die liggaam is nie.” Al sê die oog so, bly hy steeds deel van die liggaam.

Leser 2: Sê nou ’n mens se liggaam het net uit een groot oog bestaan. Dan sou ’n mens mos nie kon hoor nie.

Leser 3: En sê nou ’n mens se liggaam was net een groot oor. Dan sou mens mos nie kon ruik nie. Nou het God vir elke deel van die liggaam ’n spesiale werk gegee. Maar al hierdie dele saam vorm een liggaam.

Leser 2: ’n Mens se oog kan nie vir die hand sê: “Jy beteken niks nie. Ek kan sonder jou klaar kom.”

Leser 3: Jou kop kan ook nie vir jou voete sê: “Julle beteken niks nie. Ek kan sonder julle klaar kom.”

Liturg: Daar is ook party dele van ons liggaam wat ons nie wil hê ander mense moet sien nie. Daarom trek ons ’n broek of ’n rok aan. Maar dan is daar ander dele van ons liggaam wat mense maar kan sien. God het dit so gemaak dat die dele van ’n mens se liggaam nie met mekaar kan stry nie. Hulle weet hulle het mekaar nodig en moet saamwerk sodat ons kan leef. As een deel van jou liggaam seerkry, dan voel die hele liggaam daardie pyn. As een deel geprys* word, is die hele liggaam bly.

Leser 2: Dit is’n mooi voorbeeld van hoe die kerk is. Ons is ’n klomp mense maar ons is één gemeente*. God het vir elkeen in die kerk ’n werk gegee.

Liturg: Daar is mense wat preek, ander is ouderlinge, of diakens, of speel op die orrel, of doen wonderwerke*, of maak siek mense gesond met God se hulp, of hulle help mense wat baie sukkel, of hulle praat in spesiale tale. Almal is mos nie leraars nie. Almal is ook nie ouderlinge of diakens nie. Almal kan ook nie siek mense gesond maak nie. Almal praat ook nie in ’n spesiale taal nie.

Leser 3: Daarom moet ons nie met mekaar baklei oor wie doen die beste werk in die gemeente* nie. Ons het almal mekaar nodig.

Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Gebruik dalk die kort illustrasie voorgestel deur Carolyn Brown.

* Tell a mini story about a grandfather asking a grandchild to bring him a book, then thanking the child by saying, “Thank you for being my feet.” Invite the children to say in their own words what the grandfather was saying. Then read the phrase “You are the body of Christ” from an open Bible and together try to put that phrase into words that make sense. If you have this conversation before reading the text, encourage children to listen to the reading for what Paul is telling us about being the body of Christ.

Preekriglyn

Ons is tans in die kerklike jaar in die tyd van Epifanie. Die woord epifanie beteken letterlik “verskyning”. Ons dink in hierdie tyd (wat volg op Advent en Kerstyd) na oor die verskyning van God se lig en goedheid in die wêreld. Die Lig skyn in die duisternis van ons wêreld. Ons dink na oor Jesus se bediening en hoe ons as sy dissipels Hom moet navolg.

Vandag se teks praat oor ons gemeente, oor die geloofsgemeenskap wat die Here hier op aarde kom skep het. Hoe is ons deel van die verskyning van de Lig in die wêreld? Wat vra ons teks van Christusvolgelinge met betrekking tot ons funksionering as liggaam van Christus in die wêreld? Hoe lyk dit wanneer God se gemeente prakties lewe in die lig wat van God uitstraal?

Agtergrond

Ons teks ken die stryd wat gemeentes het om lig te wees, en om Christus prakties na te volg. Hier is nie sprake van die wegsteek van probleme of stryd nie. Ons teks pleister nie maar oor die uitdagings wat gemeentes het nie.

Teoloog Mark Powell begin sy inleiding tot die bespreking van 1 Korintiërs met ‘n vraag: “Denominational politics, doctrinal disputes, liturgical preferences – why can’t Christians just learn to get along?” Volgens hom toon die brief wat ons tans in die Nuwe Testament as 1 Korintiërs het dat kerkkonflik nie iets nuuts is nie. Ten spyte van sommige individuele gedeeltes (vgl hfst 13 oor die liefde; hfst 12 en 14 oor sake soos spreek in tale) waarvoor 1 Korintiërs bekend is, meen Powell die brief kan in sy geheel beskryf word as Paulus se brief aan “that church with problems”.

Tweedens sê Powell dat 1 Korintiërs eksplisiet gerig is aan geestelike babatjies. Volgens 3:1-2 is hulle nie gereed vir vaste voedsel nie en kan Paulus aan hulle slegs melk voorsit. Belangrik is wel dat hulle babas was wat deur Christus afgesonder en geroep is om aan Hom te behoort. Paulus het daarom hoë verwagtinge van hulle gehad. Hy wil hulle met geestelike wysheid bedien wat vir mense wat nie die Gees het nie onverstaanbaar is (2:13-14). Hierdie babatjies in die geloof aan wie Paulus sy eerste brief skryf het groot potensiaal. Hulle het immers die Gees van Christus (2:16).

Wanneer ons praat oor ons lewe in die lig, help dit om eerlik te wees oor ons eie gebreke en tekortkominge. Ons hoef dit nie te grimeer en ons uitdagings onder die mat in te vee nie. Ons het die Gees ontvang wat ons in die waarheid lei en ons bemagtig om in die lig te lewe.

Kwessies

Ons Skrifdeel vir hierdie Preekstudie vorm deel van Paulus se brief waarin hy handel met ‘n aantal kwessies oor Christelike aanbidding. In hierdie verband gee hy aandag aan:

• die dra van hoofbedekkings vir vroue (11:2-6),
• toepaslike optrede by die maaltyd van die Here (11:17-34) en
• die rol van geestelike gawes soos profesie en spreek in tale (12:1-14:40).
Ons Skrifdeel is deel van hierdie eenheid. Paulus se lied oor die liefde val ook in dié onderdeel (13:1-13).

Divers en verdeeld

Volgens Handelinge 18:1-17 het Paulus tydens sy tweede sendingreis agtien maande lank in Korinte vertoef. Die gemeente wat daar ontstaan het, was etnies en sosiaal divers. Die meerderheid bekeerlinge was vanuit die heidene (1 Kor 12:2), terwyl die meerderheid Christene in Korinte moontlik uit die laer ekonomiese klasse gekom het (1 Kor 1:26). Die sosiale integrasie van mense uit verskillende etniese groepe en ekonomiese klasse kon ‘n betekenisvolle invloed gehad het op die konflik in die kerk.

Een van die hooftemas in 1 Korintiërs wat ook in ons Skrifdeel ter sprake is, was die kwessie van verdeeldheid in die kerk (1:10-11; 11:18-19). In reaksie op die verdeeldheid in die kerk bied Paulus twee beelde om die eenheid van die gelowiges in Christus te beklemtoon:

• Eerstens is die gemeente die “tempel van God” (3:16-17). God se Heilige Gees woon in die gemeenskap as geheel en daar is net een Gees aan almal gegee (12:11).
• Tweedens voer Paulus in ons teks aan dat die kerk die “liggaam van Christus” is en dat die individuele lede soos die verskillende dele van die liggaam is (12:12-17). Vir Paulus is die eenheid van die kerk ‘n gegewe werklikheid wat erken moet word (12:27). Die kerk moet leer om as verenigde entiteit, wat dit in werklikheid is, te funksioneer.

Geestelike gawes

‘n Tweede kerntema wat Paulus aanraak en deel vorm van ons Skrifdeel, is dié van “geestelike gawes”. Paulus wy drie hoofstukke (12-14) aan dié tema, met pertinente klem op gawes wat tipies beoefen word wanneer die kerk/geloofsgemeenskap vergader (14:26), asook dat God op merkwaardige wyse handel en spreek deur ‘n verskeidenheid individue om die geloofsgemeenskap te versterk (7:7; 14:12, 26-27, 29-30).

Paulus lys nege gawes waarvan spreek in tale die meeste aandag kry. Paulus onderbreek sy bespreking van die geestelike gawes twee keer, waarvan ons Skrifdeel die eerste is. In 12:22-27 bied Paulus sy analogie van die kerk as die diverse maar verenigde liggaam van Christus. Die tweede onderbreking is in 12:31, waar Paulus die liefde aankondig as die “beste genadegawe”.

Dink vanuit Christus

In ons teks word die gesprek oor verdeeldheid en verskeidenheid aangevoer vanuit ons eenheid in Christus. Ons is deel van die liggaam van Christus deurdat ons in die Gees gedoop is (13).

Wat beteken dit om “in Christus”, deel van Christus te wees? Die gebruik in die plantewêreld, inenting, is ‘n toepaslike beeld. Wanneer ‘n mens “in Christus” is, word jy as ‘t ware afgesny van die geestelike plant waarvan ons deel was, om ingeënt te word op ‘n nuwe plant, op Christus. Dit gebeur volgens Paulus deur die doop (12:13).

Om “in Christus” te wees, het ‘n individuele dimensie. Elke mens word daardeur persoonlik aan Christus gebind. Wanneer jy “in Christus” is, kry jy egter deel aan al die ander mense wat – soos jy – ook “in Christus” is. Paulus gebruik hiervoor die woord “gemeenskap”. Dit beteken dat almal wat “in Christus” is, deur liefdesbande aan mekaar gebind word.

Liggaam van Christus

Ons Skrifdeel beskryf die “in Christus” wees dus op nog ‘n manier, naamlik om deel te wees van die “liggaam van Christus”. Paulus dink allereers aan Christus se liggaam wat aan die kruis gehang en gesterf het, waaraan ons deel gekry het (vgl Rom 7:4b). Paulus neem dié gedagte verder wanneer hy in ons teks sê die kerk is op ‘n geestelike manier Christus se liggaam. Met hierdie beeld beklemtoon Paulus die gedagte van “eenheid in verskeidenheid”. In 1 Korintiërs gebruik Paulus dié beeld om die gemeentelede aan te moedig om saam te werk. Hulle moet besef dat elke individuele lidmaat noodsaaklik is en ‘n spesifieke funksie binne die gemeente moet vervul (12:27-30).

Vir Paulus deurbreek die liggaam van Christus alle individualisme. Christus het mense vanuit alle etniese en sosiale agtergronde in ‘n nuwe organiese eenheid (die kerk) saamgevoeg. Stephan Joubert skryf:

Verskeidenheid en andersoortigheid staan altyd in diens van die oorkoepelende en saambindende eenheid van die kerk. Elke gelowige is ‘n unieke, maar onmisbare en lewensnoodsaaklike deel van hierdie een liggaam van Christus. Daarom moet alle individue met hulle eiesoortige gawes, wat deur die Gees aan elkeen uitgedeel word soos wat Hy wil, altyd die voordeel van die groter liggaam soek. Dan word Christus geëer en die liggaam reg opgebou.

Eenheid is die hoofopskrif bo-oor die kerk. Kerkeenheid word nie bepaal deur geografie (waar groepe gereeld plaaslike byeenkom), geslag, etnisiteit, denominasionele identiteit of sosiale status (groepe wat presies dieselfde lyk) nie. Die kerk is ‘n universele verskeidenheid mense wat ook plaaslik sigbaar is en op talle punte verskille vertoon (praat, lyk, doen, aanbid en optree). Hulle enigste bestaansgrond is die verheerliking van Christus, asook die dien, opbou en uitbou van sy liggaam op aarde.

Verskeie gawes, een liggaam

In ons teks dien die verskeidenheid in die liggaam van Christus ons eenheid in Christus. Ons het verskeie gawes ontvang, maar dit dien ons funksionering as eenheid. Ons het ook verskillende take en rolle (ons teks praat van apostels, profete en leraars), maar dit dien die eenheid en die gesonde lewe in die liggaam van Christus.

Stephan Joubert vat ons teks saam onder die opskrif: “Prioritiseer die gawes op die regte maniere.” Hy sê 1 Korintiërs 12:8-10 lê klem op die hemelse geskenke aan individue, sonder klem op rangorde.

In vers 28-30 noem Paulus wel drie rolle, naamlik dié van apostels, profete en leraars:

• Apostels (ingesluit die twaalf as aardse stigters van die kerk in Christus se Naam, asook ‘n wyer kring individue soos Paulus self) is deur Christus geroep en aangestel as kerkplanters en sendelinge.
• Profete is die gesagvolle bekendmakers van God se wil.
• Leraars onderrig ander rakende die praktiese implikasies van God se woord vir hulle lewe.

Alle gelowiges het nie sulke gawes ontvang nie, net soos met die gawes van genesing, spreek in tale en die uitlê van tale. Joubert beklemtoon: “Sonder twyfel is profesie vir Paulus die belangrikste van alle gawes, want dit bou die kerk se geloof die meeste op en maak God se openbarings gesaghebbend bekend.” Profesie verskuif die aandag vanaf ‘n selfsugtige lewenshouding na opbou, bemoediging en vertroosting van medegelowiges.

Gelyke sorg

Wat elkeen se gawe, taak en rol ook al is, elke deel van die liggaam is afhanklik van die res van die liggaam. Die oog het die hand en die voet nodig. Selfs die swakker en minder aansoenlike dele van die liggaam is broodnodig in die liggaam van Christus. Selfs die onbelangrikste dele van die liggaam noodsaaklik en doelgerig deur God in die liggaam ingevoeg. Almal is nodig.

Gemeente-wees is belangrik

Dit is duidelik dat Paulus hoë waarde aan die lewe van die gemeente toeken. Om gemeente te wees is om deel te hê aan Christus – ons “is”die liggaam van Christus. Christus kom op die spel in die wyse waarop ons as gemeente saamleef.

Gemeente-wees word gekenmerk deur gelowiges wat hul gawes in liefde tot voordeel van mekaar en die omgewing aanwend. Om saam “in Christus” te wees, beteken ook om op ‘n baie diep vlak vir mekaar te wees. Om aan Christus en mekaar verbonde te wees oorstyg alle sosiale grense, soos ras, geslag, klas,ouderdom, taal, afkloms, voorkeur.

Die soort gemeente waarvan ons teks praat, ‘n gemeente binne die wil en plan van God, het plek vir greoot verskeidenheid. Nie almal is brein of voet nie, nie almal hand of knieg nie, nie almal ribbekas of skeen, oog of oor, neus of mond nie.

Konflik is gewaarborg wanneer ek wil hê almal moet dink soos ek dink, die lewe sien soos ek, alles ervaar soos ek, op alles reageer soos ek. Daar is gemeentes waar lidmate en leiers wil hê almal moet eers word soos hulle is, dink soos hulle dink, voel soos hulle voel, voordat hulle welkom is in die gemeente. So gou dit blyk iemand pas nie lekker in nie, kry hulle subtiel die boodskap hulle is onwelkom.

Dit is ironies dat die verskillendes geestelike gawes van God ‘n bron kan word van konflik en wantroue tussen gelowiges. Dit is deels die bron van die konflik in Korinte. Dit is vandag steeds so.

Die eenheid in Christus, waarvan ons teks getuig, is ‘n eenheid wat alles te bowe gaan. Ons is almal saam in Christus. Dit beteken nie dat ons almal dieselfde is of hoef te wees nie. Dit beteken ook dat die verskeidenheid van gawes die eenheid nie bedreig nie, maar dien. Ons moet net insig daarin hê.

Die volgende hoofstuk in 1 Korinte gaan oor die liefde as gawe van God. God se liefde is iets wat ons almal ontvang. Die Gees gee ook aan ons die vermoë om in liefde te handel. Dit is die liefde, wat God gee en waaruit ons geroep word om te leef, wat die gawes in die regte rigting fokus – die liefdevolle dien van mekaar en die gemeenskap.

Kom ons leef só.

God stuur ons om te leef

Toewyding
Jesus Christus, ons weet wat u opdragte is.
Laat dit dan ons lewenswyse bepaal:
laat ons die wat honger is iets te ete gee,
laat ons die wat dors het, iets te drinke gee,
laat ons klere gee vir hulle wat sonder klere is,
laat ons vreemdelinge verwelkom,
laat ons siekes en gevangenes besoek.
Dan sal U wat regverdig oordeel vir ons sê:
Kom, julle wat deur my Vader geseën is!
Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei.
Neem dit as erfenis in besit. Amen.
(Bisantynse vespers/gebede)

Offergawes

Wegsending: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Seën
Die vrede van Christus
op alles wat inkom deur jou oë.
Die vrede van Christus
op alles wat inkom deur jou ore.
Die vrede van Christus
op jou liggaam wat van die aarde is,
en op jou gees wat van God is. Amen
(Ou Ierse tafelgebed aangepas)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.