Derde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Die sleutelteks (1 Kor 1:10-18) volg op laas week se teksgedeelte (1 Kor 1:1-9) en skets die agtergrond vir die brief, naamlik die verdeeldheid in die gemeente. In Christus, in wie se kruisdood daar krag opgesluit lê, is ons egter almal een. Ook die metafoor van lig wat laas week in die Jesaja-teks gebruik is, word hierdie week deur Jesaja 9 en Psalm 27 gebruik. Jesaja vertel van die Lig wat sal kom en die psalmis besing God as Lig en Redder. Matteus 4:12-23 vertel die verhaal van Jesus wat sy openbare optrede begin en sy eerste dissipels roep. Jesus leer die mense, verkondig dat God se koninkyk naby gekom het en doen verskeie genesings. In Jesus Christus sien ons die nuwe dag wat breek, die Lig wat na die wêreld kom.

Ander tekste

Jesaja 9:1-4
Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.
2U het dié wat nie meer ’n nasie was nie, baie gemaak,
hulle blydskap groot gemaak.
Hulle het hulle in u teenwoordigheid
verbly
soos mense bly is in die oestyd,
soos hulle juig wanneer hulle
die buit verdeel.
3Soos die dag toe Midian verslaan is,
het U die juk verbreek
wat op die volk gedruk het,
die stok waarmee hulle geslaan is,
waarmee hulle gedryf is.
4Elke soldateskoen wat in die oorlog
gebruik is,
en elke uniform wat met bloed bevlek is, sal verbrand word,
deur die vuur verteer word.

Psalm 27:1, 4-9
Van Dawid.
Die Here is my lig en my redder,
vir wie sou ek bang wees?
Die Here is my toevlug,
vir wie sou ek vrees?
4Net een ding het ek van die Here gevra
en dit sal ek najaag:
dat ek my hele lewe lank
in sy huis mag woon
om sy goedheid te belewe
en daaroor na te dink in sy tempel.
5Op die dag van gevaar sal die Here
my wegsteek in sy huis,
my veilig laat skuil in sy woonplek,
my hoog op ’n rots laat staan;
6ek sal in sy woonplek
onder trompetgeklank
my offers bring,
ek sal ’n lied sing,
ek sal sing tot die eer van die Here
terwyl ek neerkyk
op die vyande rondom my.
7Luister tog na my, Here, as ek roep;
wees my genadig en verhoor my gebed.
8Ek onthou wat U gesê het:
“Julle moet My kom dien!”
Ek is hier om U te dien, Here.
9Moet U tog nie vir my verberg nie,
moet my tog nie wegstuur
terwyl U toornig is nie,
want U was nog altyd my hulp.
Moet my tog nie verstoot en verlaat nie,
want U alleen is die God wat my red.

Matteus 4:12-23
12Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan. 13Hy het nie in Nasaret gaan bly nie, maar Hom gaan vestig in Kapernaum by die see, in die gebied van Sebulon en Naftali. 14So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is:
15“Jy, gebied van Sebulon en gebied
van Naftali, aan die seekant
en oorkant die Jordaan,
Galilea waar die heidene woon!
16Die volk wat in duisternis woon,
het ’n groot lig gesien;
hulle wat in die skemerland
van die dood lewe,
vir hulle het die lig opgegaan.”
17Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Die roeping van die eerste dissipels
(Mark 1:16–20; Luk 5:1–11)
18Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om ’n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. 19Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

20Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.
21Toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers: Jakobus ’n seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in ’n skuit saam met hulle pa besig om hulle nette reg te maak. Jesus het hulle geroep, 22en hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg.

Weldade aan baie mense
(Luk 6:17–19)
23Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak

Fokusteks

1 Korintiërs 1:10-18
1 Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om ‘n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes.
2Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Danksegging
4Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig 7dat dit julle nie aan ‘n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. 8Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. 9God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Verdeeldheid in die gemeente
10Ek doen ‘n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging. 11Ek sê dit, my broers, omdat van Chloë se mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is. 12Daarmee bedoel ek dat een sê: “Ek is vir Paulus;” een: “Ek is vir Apollos;” een: “Ek is vir Sefas;” en een: “Ek is vir Christus.”

13Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop? 14Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Krispus en Gaius. 15Niemand kan dus sê dat julle in my naam gedoop is nie. 16Nee, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie of ek nog iemand gedoop het nie. 17Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, en dit nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor.

Christus die krag en die wysheid van God
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.
19Daar staan tog geskrywe:
“Die wysheid van die wyses
sal Ek vernietig,
en die geleerdheid
van die geleerdes
sal Ek tot niet maak.”
20Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? 21Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

26Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 27En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 28en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. 29Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. 30Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. 31Daarom, soos daar geskrywe staan:
“Dié wat wil roem, moet in die Here roem.”

Liturgie

RUS 

Toetrede: Lied 154 of VONKK 254

Votum: Psalm 27: 1 en 4

Seëngroet

Lofsang: Lied 330

Wet: Romeine 13:8-10

Verootmoediging: (uit die Liturgie van die Franse Gereformeerde Kerk)

Genadeverkondiging: (uit Ps 27 en Jes 9).

Geloofsbelydenis: (Belydenis van Belhar) Lied 264 of Flam 206

HOOR

Gebed

Skriflesing: 1 Korintiërs 1:10-18

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 132 of Lied 520 of Lied 523

Seën

Respons: VONKK 204

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 154 Kom nou tesaam, laat ons vergader of
VONKK 254 God is hier [bekende melodie]

Votum
Psalm 27: 1 en 4
Die Here is my lig en my redder,
vir wie sou ek bang wees?
Die Here is my toevlug,
vir wie sou ek vrees?
4Net een ding het ek van die Here gevra
en dit sal ek najaag:
dat ek my hele lewe lank
in sy huis mag woon
om sy goedheid te belewe
en daaroor na te dink in sy tempel.

Seëngroet

Lofsang
Lied 330 “Die volk wat in die donker wandel”

Wet: Romeine 13:8-10
8Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. 9Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 10Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

Verootmoediging
Here God,
wie se wil dit is dat al u kinders een in Christus moet wees;
ons bid vir die eenheid van u kerk.

Vergewe ons trots en ons gebrek aan geloof,
aan begrip en aan liefdadigheid,
wat die oorsake van ons verdeeldheid is.

Verlos ons van ons engheid,
van ons bitterheid,
uit ons vooroordele.

Leer ons om die genadegawes te erken
onder almal wat u aanroep
en die geloof van Jesus Christus, onse Here, bely.
(uit die Liturgie van die Franse Gereformeerde Kerk)

Genadeverkondiging
Voorganger: Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.
Gemeente: Die Here is my lig en my redder,
vir wie sou ek bang wees?
Die Here is my toevlug,
vir wie sou ek vrees?
(uit Ps 27 en Jes 9).

Geloofsbelydenis
Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.

Ons glo aan een heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag.

Ons glo dat hierdie eenheid van die volk van God op ‘n verskeidenheid van maniere sigbare gestalte moet kry en werksaam moet wees, daarin dat ons mekaar liefhet, gemeenskap met mekaar beleef, najaag en beoefen; daarin dat ons skuldig is om onsself tot nut en saligheid van mekaar gewillig en met vreugde te gee;

Ons glo dat hierdie eenheid slegs in vryheid gestalte kan vind en nie onder dwang nie; dat die verskeidenheid van geestelike gawes, geleenthede, agtergronde, oortuigings, soos ook die verskeidenheid van taal en kultuur, vanweë die versoening in Christus geleenthede is tot wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God;

dat die ware geloof in Jesus Christus die enigste voorwaarde is vir lidmaatskap van hierdie kerk.

Ons glo dat die kerk geroep word om dit alles te bely en te doen, in gehoorsaamheid aan Jesus Christus, sy enigste Hoof, al sou ook die owerhede en verordeninge van mense daarteen wees en al sou straf en lyding daaraan verbonde wees.
Jesus is die Heer!
Aan dié enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe die eer en heerlikheid in ewigheid.

Lied 264 “Hoe heerlik is die Jesus-naam!” of
F206. Ons glo (Jesus Is Die Heer)

Liedere

VONKK 254 “God is hier”
Teks: Hannes van der Merwe 2012 © Musiek: BLAENWERN – William Rowlands 1905
© Teks: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Toetrede en Aanroeping / Doop / Nagmaal / Die Kerk

1. God is hier en ons, sy kinders,
bring voor Hom ons lof, gebed.
Mag ons hier ontdek die rykdom
wat ons reeds in Christus het.
Hier kom ons met ons verskille,
al ons gawes en vermoë,
en U bind ons tot ‘n eenheid
omdat ons in Jesus glo!

2. God is hier ook in simbole
van sy liefde en sy trou.
Hier’s die tafel, hier’s die doopvont,
hier’s die Woord waarop ons bou.
Mag die boodskap klink in waarheid;
mag ons hart ontvanklik wees.
Mag ons hier weer nuutgemaak word,
aangeraak deur God se Gees.

3. God is hier en in sy kudde
leer ons dat die Heer voorsien.
Hier kan ons ook daarop antwoord
soos ons leer om God te dien.
Hier is dienaars van die Dienskneg
in aanbidding bymekaar.
Hier leer ons wat dit beteken
om die boodskap uit te dra.

4. Here God, u kerk aanbid U
ook te midde van ons stryd,
in ‘n tyd van haat en twyfel,
as getuies wêreldwyd.
Hier, vandag, ontvang ons loflied,
ons berou en ons gebed,
ons geloof in Jesus Christus,
U, die Here wat ons red.

F206. “Ons glo (Jesus Is Die Heer)”
(RUBRIEK: Flam – Geloofsbelydenis) Teks: Nico Simpson Musiek: Riaan Steyn, Jandré Viljoen, Neil Büchner
© 2011 Flam Musiek-Uitgewers (Geskep tydens die NG Kerk Sinode Wes- en Suid-Kaap, Mei 2011)

1. Ons glo … in U alleen.
Saamgebring deur u Woord,
versamel deur u Gees,
beskerm en versorg.

Refrein:
Jesus is die Heer.
Aan U kom toe die eer
heerlikheid in ewigheid,
Jesus Christus, U’s die Heer.

2. Ons glo … versoen deur U –
tot een beker en brood –
deur een doop gedoop
en ons bely een Naam.

Refrein:

3. Ons glo … gedring deur U
tussen haat en dood
breek U skeidings af
laat ons vredemakers word.

Refrein:

4. Ons glo… bevry deur U,
in ’n wêreld vol nood
is U by dié wat ly
en ons sal U daarin volg.

Refrein:

5. Ons glo … geroep deur U
selfs in weerstand en straf
om U alleen as Hoof
te leef en te bely.

Refrein: (x2)

F132. “Uit Een Hart”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Geloofsbelydenis / Ekumene / die kerk) Oorspronklike titel: One Song of Praise
Teks en musiek: Bob Fitts Afrikaanse vertaling: Piet Smit  © Scripture in Song

1. Vader van liefde, bron van ons krag
ons bring in aanbidding ons loflied aan U.
Here U het belowe om hier by ons te wees
as ons saam is in u Naam, in waarheid en gees.

2. Jesus, ons Redder, Immanuel
ons kom ons lewens as lof-offer gee.
Ons wil uit een mond u ryk en krag besing
en aan U, o Skepper, Heer, ons loflied bring.

3. Gees van die waarheid, Helper uit God
leer ons om in liefde soos Jesus te dien.
En bind ons dan saam, Heer soos ons hier voor U staan
om met liefde in ons hart na die wêreld te gaan.

Sodat ons uit een hart in eenheid kan bely
dat U Erekoning is en dit altyd sal bly.

Help ons om uit een hart in eenheid te bely
dat U Erekoning is en dit altyd sal bly.

VONKK 204 “Mag Die Vrede Van Ons Hemelvader”
Teks: Hannes van der Merwe 2010/2012 © Musiek: CHRISTINE – Cecilia van Tonder 2010 (Pro Deo)
Kantoryverwerking: Cecilia van Tonder 2012 (Pro Deo) © 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Klassiek – Toetrede en Aanroeping / Gebede / Uitsending

1. Mag die vrede van ons Hemelvader,
die genade van sy Seun, ons Heer,
die gemeenskap met die Gees van Waarheid
oor ons harte en verstand regeer.

Refrein:
Heer, ons loof U as die grote Koning
wat regeer oor alles wat bestaan.
Ons erken U as ons Heer en Meester,
Jesus Christus, ons prys u Naam

2. Mag die vrede wat bo ons verstand is,
en genade wat ons nuut laat wees,
en die eenheid van geloofsgemeenskap
ons verbind in hart en ook in gees.

Refrein:
Heer, ons loof U as die grote Koning
wat regeer oor alles wat bestaan.
Ons erken U as ons Heer en Meester,
Jesus Christus, ons prys u Naam.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: 1 Korintiërs 1:10-18

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Gesels oor die konsep van “verdeeldheid” deur te praat oor dinge wat saam hoort.  Deesdae kan TV’s nie werk sonder ‘n afstandbeheer nie.  Tandeborsel en tandepasta.  Ketel en deksel.  Kragdraad en kragprop.  Hier kan jy ‘n volledige hulpmiddel aflaai (wat eintlik fokus op 1 Konings).  Bladsy 16 is ‘n klomp alledaagse goed wat verdeel is.  (Hier is die hulpmiddel van dieselfde produk, wat focus op 1 Korintiërs 10 – dis ‘n volledig uitgewerkte byeenkoms.)  Laat almal saamwerk om uit te werk wat pas by wat en gesels oor verdeeldheid en ons eenheid in Christus.  Verduidelik dat Paulus vir die mense in Korinte ‘n brief skryf, omdat hulle verdeeld was.

Of wat van ‘n kul-toertjie?!  Hier kan jy sien hoe om twee stukkies tou een te maak terwyl jy gesels oor Korinte, verdeeldheid en eenheid.

As jy ‘n storie wil vertel, kan jy gerus kyk na “When Pencil Met Eraser”, beskikbaar op Kindle.  Potlood teken prente, maar Uitveër vee oral uit en maak in die proses ‘n heel ander prent.  Wanneer Potlood blomme teken, maak Uitveër ‘n paadjie in die blomme.  Hulle hou aan stry, totdat Uitveër Potlood help verstaan dat hulle saam beter is.

How to lose all your friends” kan ook goed werk.

BybelMedia se “Woord en Fees” stel voor:  “Sun bread” deur Elisa Kleven is ‘n gepaste boek om vir die kinders voor te lees.   Vir nog voorstelle.

Preekriglyn

Die gemeente van Korinte was ‘n kopseer. Hulle is deur struweling en verdeeldheid gekenmerk.

Die stad self was ‘n sieraad. Korinte was destyds ‘n redelik nuwe Romeinse stad, gebou op die oorblyfsels van die ou Griekse stad wat in 146 vC verwoes is. Dit was Julius Caesar wat in 44 vC die “nuwe” Korinte as Romeinse vesting herbou het.

Ongeveer ‘n 100 jaar vóór die skryf van 1 Korintiërs het die inwoners van Korinte met trots aan hulleself as ‘n Romeinse stad op Griekse bodem gedink. Deur die Romeinse boustyl en Romeinse kultuur was dié stad verbind met die hoofstad van die wêreld, Rome.

Werf eie volgelinge

In Paulus se tyd was dit nie ongewoon nie om in Korinte sprekers te vind wat hulle intellektuele vermoëns in dié besondere stad kom vertoon het. Die inwoners was daarom gewoond om die een ná die ander spreker aan te hoor wat probeer het om mekaar met hulle welsprekendheid te oortref. In dié stryd van slimmighede sou hierdie sprekers mekaar met kwinkslae en woordkunsies probeer troef, terwyl die toehoorders oor die uiteindelike wenner besluit.

Van hierdie sprekers is met die etiket “Sofis” gemerk. Dit was ‘n neerhalende titel wat dui op aanstellerigheid en ‘n opgeblase selfbeeld. Paulus gebruik hierdie beeld om die verdeeldheid in Korinte aan die orde te stel. Terwyl dit tipies van die Sofiste was om volgelinge te werf en vir dié volgelinge om met mekaar slaags te raak oor wie die beste orator was, was hierdie styl in die kerk van Jesus Christus taboe.

Iets in die woorde van die mense van Chloë, moes hierdie beeld by Paulus losgemaak het. In sy geestesoog kon hy sien hoe gemeentelede hom, Paulus, Apollos, Petrus en selfs Christus, soos Sofiste aangehang het. Deur hulle onderskeie leermeesters as ideaal voor te hou, het groepe volgelinge met mekaar slaags geraak en het die gemeente gedreig om uitmekaar te spat. Dit alles getuig daarvan hoe jammerlik hulle die bal van die evangelie en kerkwees misgeslaan het, ‘n vergissing wat ongelukkig steeds sy kop in die kerk van Jesus Christus uitsteek.

Partyskappe

Oor die presiese aard van die Korintiese partyskappe is al baie geskryf. Ons weet egter steeds nie alles oor die destydse situasie nie. Miskien is dit ‘n bedekte seën. Op ‘n manier word ons deel van die destydse storie wanneer ons in ons tyd ook spanning in die kerk en gemeente beleef. Daar is immers altyd ‘n voorlopigheid in ons kerkwees. Ons is kerk in die tyd tussen die eerste en tweede koms van Koning Jesus.

Die verskynsel van partyskappe is baie bekend aan ons.

Ons ken almal die groot internasionale figure wat op TV optree en in hul persoonlike stralers regoor die wêreld vlieg om nog volgelinge (en geld) te maak. Baie van hulle tree soos Messiasse op. Hulle beloof ook genesings en ander wonderwerke – gewaarborg – terwyl die kollektebord ook omgestuur word.

Selfs in ons eie land is daar mense wat byna tot nasionale verlossers verhef word. Hulle byeenkomste en gebede word soms gesien asof dit van groter belang is as plaaslike eredienste en aanbidding van die naamlose en gesiglose kinders van die Here.

Dit is alles goed en wel, maar die belewenisse wat mense by hierdie intense byeenkomste het, word dan die platform vanwaar die plaaslike gemeente aangeval en veroordeel word. Die arme plaaslike gemeente kan nie kers vashou by die waarhede wat van die podium uitgeblaker word nie.

Menseverering wat ongetwyfeld tot Christus se vernedering lei, is ‘n versoeking wat ten alle koste weerstaan moet word. Ons ken ten dele. Daarom moet ons altyddeur bereid wees om na mekaar en bo alles God se stem te luister. In dié proses moet ons die eenheid nastreef en altyddeur ‘n oog op die kruis van die Verlosser hou.

Fokus

Die fokus van Paulus se beredenering moet egter in die oog bly, naamlik dat daar net een Christus is wat gekruisig is. Geen ander geestelike leiers in die verlede, hede of toekoms kan by Jesus Christus kersvashou nie. Ons eenheid le in Hom.

Twee gronde

Paulus spreek die verdeeldheid in Korinte op twee gronde aan.

  • Eerstens noem hy die gemeente “broers”.  Deur hulle vereniging met Christus het die lidmate van die gemeente in ‘n nuwe verhouding tot mekaar beland.  Hulle is nou broers en susters, lede van die familie van God.  In ‘n huishouding, onder die leierskap van ‘n liefdevolle Vader, kan daar nie sprake wees van verdeeldheid nie.  Die kwaliteit van die verhoudinge moet die van liefdevolle onderlinge bande wees, soos dié van broers en susters.

Hierdie gesins- en familieterme wat op die vroë kerk van toepassing gemaak is, beskryf die nuwe gehalte van verhoudinge in Christus. Dit was totaal ongewoon aan die destydse samelewing. Familiebande het in bloedfamilies gegeld, maar buitestander was eintlik konkurrente. In Christu word almal egter ingesluit in ‘n nuwe familie – bloedfamilie  wat alle aardse verdeelheid te bowe gaan. Hier word voormalige vyande broers en susters en geniet onderlinge ondersteuning.

  • Tweedens roep Paulus die Korintiërs in die Naam van Christus op om eensgesind te wees.  Hy doen dit dus namens Christus, op gesag van Christus.  Uit eerbied vir Christus, moet hulle eensgesind wees.
Eenheid

Waaruit bestaan die eenheid? Paulus beklemtoon:

  • Eenheid van gesindheid: Eensgesindheid is ‘n keuse dat mense met mekaar sal bly praat, en sal bly luister, totdat daar wedersydse begrip en konsensus groei.  Eensgesindheid is ‘n keuse om verskille nie tot verdeeldheid te verhef nie, om leerbaar te bly en aan te hou soek na dit wat saambind en na die waarheid, eerder as dit wat verdeel.
  • Eenheid van oortuiging:  ‘n Gedeelde oortuiging is ‘n konsensus oor die weg waarop die Here die gemeente stuur.  Eenheid word gebou op grond  van die oortuiging dat God die gemeente roep en heilig, en dat die pad wat die gemeente loop gekenmerk word deur die liefde, self-prysgawe en naastediens wat die evangelie kenmerk.  ‘n Eenheid van oortuiging groei uit die onderrig oor die inhoud van die evangelie, en wat dit beteken om as ‘n dissipel van die Here te lewe.
Christus die eenheid

Christus is nie in stukke verdeel nie (1:13).  Christus is die fokus van die gemeente.  Christus skep deur sy persoon en werk die eenheid waarin die gemeente moet lewe en waaruit hulle God moet dien.

Paulus gebruik die doop as ‘n voorbeeld om sy punt te illustreer.  Verdeeldheid ontstaan wanneer die dopeling beleef dat die doop hom of haar in die klub inlyf waarvan die een wat die doop bedien die hoof is.  Nee, niemand word in die naam van die doopbediener gedoop nie.  Die doop, wie dit ook al bedien, lyf jou in by die een liggaam van Christus.

Ons inlywing in die een liggaam van Christus geskied deur die krag van die kruis waarin daar vir ons redding is.  Hierop wil Paulus fokus, nie op dit wat verdeeldheid skep nie.

Die hele Korintiërbrief word ‘n intense kragtoer waarin Paulus hulle onderrig oor die inhoud van Christus, die Gekruisigde en lewende Here, se verlossingswerk en die implikasies daarvan vir die Korintiërs.  Hy doen dit om eensgesindheid en ‘n eenheid van oortuiging by die gemeente te vestig.

Gewoond aan verdeelheid

Ons kan so gewoond raak aan verdeeldheid, dat ons ons vergeet dit pas nie in die Here se kerk nie.  Ons kan vergeet dat verdeelheid Christus in stukke skeur en die krag van die saambindende, verlossende kruis ondermyn.

Daarom skerp ons teksgedeelte ons vandag op. Ons moet ons eie ingesteldheid en optrede ondersoek. Hoe ernstig neem ons medegelowiges? Hoeveel gewig dra broers en susters in Christus se belange in my lewe?

Hoeveel gewig dra die nood van die wêreld waarheen Christus ons stuur in ons lewens? Sodra ons op mekaar en die wêreld fokus in liefde en diens, kan ons ons eenheid ernstiger neem en vier.

Jesus Christus is die Koning van die kerk. Ons eenheid is in Hom en deur Hom. Onderlinge stryd en onenigheid, pas eenvoudig nie by ondersteuners van Jesus nie. Ons identiteit en eenheid in Jesus Christus bepaal hoe ons lewe.

God stuur ons om te leef

 

Gebed
Doen vandag moeite om vir al die kerke in jul omgewing te bid.  Kry dalk vooraf spesifieke gebedsbehoeftes.  Bid vir die predikante en pastore op die naam.

Dankoffer

Slotsang
Flam 132 Uit Een Hart of
Lied 520 “Saam buig ons neer om God te eer” of
Lied 523 “Goddelike liefdebande”

Seën

Respons
VONKK 204 Mag Die Vrede Van Ons Hemelvader

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.