Derde Sondag in Paastyd

Sections

Oorsig

Verlossing en die verlosde lewe vanuit die opstanding van Christus is die tema van vandeesweek se tekste. In Psalm 116 bely die psalmskrywer dat die Here die bande van die dood gebreek en hom gered het. Die verhaal van die Emmausgangers in Lukas 24 wys hoedat dit nie vanselfsprekend is dat die opgestane Christus herken word nie. Die gelowige reisigers se oë word eers geopen toe Jesus die nagmaal saam met hulle vier. Die tekste uit Handelinge en 1 Petrus beklemtoon die implikasies van die opstanding van Christus vir die lewe. Petrus se preek in Handelinge 2 oor die Heilige Gees wat uitgestort is, onthul die Gees as die Gees van die gekruisigde en opgestane Christus. Luisteraars word uitgenooi om in sy Naam gedoop te word tot vergifnis van hulle sondes. Die teks uit die eerste Petrusbrief bemoedig gelowiges om gedurende hulle vreemdelingskap in die wêreld vas te hou daaraan dat hulle losgekoop is met die kosbare bloed van Christus. Daarom is hulle geloof en hoop op God gerig en vra dit van hulle om mekaar as broers en susters ongeveins lief te hê. Openbaring 5 is ’n loflied van die ganse kosmos aan die gekruisigde Lam wat nou op die troon sit vanwaar Hy regeer.

Ander tekste

Handelinge 2:14a, 36-41
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe:

36Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

Die eerste bekeerdes
37By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?”

38Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” 40Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: “Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.”

41Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. 42Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

Psalm 116:1-4, 12-19
116 Ek het die Here lief,
want Hy verhoor
my smeekgebede.
2Hy het na my geluister
toe ek Hom aangeroep het.
3Bande van die dood het my omsluit,
doodsangs het my aangegryp,
ek het benoud en bekommerd geword.
4Toe het ek die Naam van die Here
aangeroep:
“Here, red my tog!”

12Hoe sal ek die Here vergoed
vir al sy weldade aan my?
13Met ’n drankoffer
sal ek van sy redding getuig
en die Naam van die Here aanroep.
14My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk.
15Vir die Here is die dood
van sy troue dienaars
geen geringe saak nie.
16Ek is u dienaar, Here,
van my geboorte af is ek al u dienaar:
U het my vry gemaak.
17Ek wil U loof met ’n dankoffer,
ek wil die Naam van die Here aanroep.
18My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk,
19in die voorhowe
van die huis van die Here,
binne-in jou, Jerusalem!
Prys die Here!

Openbaring 5:11-14
11Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge ’n groot menigte engele gesien. Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor 12uitroep:
“Die Lam wat geslag was, is waardig
om die mag en rykdom,
die wysheid en sterkte,
die eer, heerlikheid en lof
te ontvang.”
13Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê:
“Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam,
behoort die lof en die eer,
die heerlikheid en die krag,
tot in alle ewigheid.”
14Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het gekniel en God aanbid.

Lukas 24:13-35
13Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na ’n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. 14Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. 15Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, 16maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. 17Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?”

Met somber gesigte gaan hulle staan, 18en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?”

19Hy vra vir hulle: “Watter dinge?”
Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, ’n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; 20en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. 21Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. 22En nou het ’n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ’n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”

25Toe sê Hy vir hulle: “Wat ’n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? 26Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?”

27Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.

28Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. 29Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.”

Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. 30Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. 31Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. 32Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”

33Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, 34en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”

35Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.

Fokusteks

1 Petrus 1:17-23
Die verlossing reeds deur die profete aangekondig
10In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. 11Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. 12Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry.

Oproep om heilig te lewe
13Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. 14As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. 15Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

Losgekoop met die kosbare bloed van Christus
17Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld. 18Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. 20Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. 21Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.

Weergebore deur die lewende en ewige woord van God
22Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. 23Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God. 24Die Skrif sê:
“Die mens is soos gras,
en al sy prag
soos ’n veldblom;
die gras verdor en die blom val af,
25maar die woord van die Here,
dít bly vir ewig.”
En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.

Ekstra stof

1:13-21 – Wees heilig, want God is heilig
Petrus roep hulle daarom op om verstandelik paraat te wees (“omgord die lendene van julle verstand“) en nugter op te tree en hulle volledig op God se genade te verlaat.  Hulle hele persoonlike lewe moet van God se heiligheid getuig, omdat dit is hoe God is, aangehaal uit Levitikus (11:44-45; 19:2; 20:7).

Hy spel dit nie meer presies hier uit nie – hy sal later meer prakties skryf oor arbeidsverhoudinge en die huwelik wat hierby aanhaak – maar stel dit in die algemeen dat hulle dus nie meer leef soos hulle natuurlike neigings van vroeër (vers 14) en die oorlewerings van hulle voorvaders (vers 18) aan hulle voorskryf nie, want dit is sonder kennis van God en lei tot ’n sinlose lewe.

Hulle moet leef soos God dit aan hulle geopenbaar het in Christus Jesus.  Hy is die voorbeeld en die inhoud van die geloof.  God se heiligheid moet hulle tot ontsag vir God beweeg, nie om vir Hom bang te wees nie, maar om Hom te gehoorsaam.  Hulle verlossing het Hom duur gekos, omdat hulle: “losgekoop is met die kosbare bloed van Christus, Hy wat soos ’n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek.” Die offer van Christus het hulle dus in die regte verhouding met God gebring.  Hulle hele lewe moet nou vir God geleef word.

1:22-25 – Hê mekaar met rein harte innig lief
Maar die oproep is nie net om persoonlik hulleself aan God te verbind nie.  Dit is iets wat ook in die geloofsgemeenskap uitgeleef moet word.  Die hele idee van ’n innerlike verbintenis aan God kom tot sy reg wanneer daar op ongeveinsde manier ware liefde teenoor mekaar betuig word.  Hulle moet mekaar “innig met rein harte liefhê.” Die Griekse woord wat hier met “innig” vertaal is, kan ook met “onophoudelik” vertaal word. Ons moet mekaar onophoudelik lief hê. Dit is immers die tipe liefde wat pas by mense wat deur ’n ewige God liefgehê word!

Die rede hiervoor spruit voort uit die hartsverandering wat hulle beleef het: “Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God.” Petrus verwys hier na gedagtes wat meer volledig in die evangelie van Johannes en in sy eerste brief uitgewerk is (Joh. 1:13; 3:3,7; 1 Joh. 3:9; 5:18).

Hierdie versekering van God se werk in ons is eintlik ongelooflik.  God se ewige werk in ons kan nie uitgewis word nie, sê Petrus, en hy kontrasteer God se werk met die bestaan van die mens wat net tydelik soos veldblomme en gras is!  Ons onverganklikheid en daarom ons hoop op die toekoms lê dus nie in onsself nie, maar in die ewige God se besluit.
Hy het vooraf reeds goed geweet wat Hy met ons wil doen hierna!

Boodskap
Ja, God het reeds vooraf goed geweet wat Hy met ons wil doen hierna!  Daarin lê die diep evangelie van hierdie teks vir my opgesluit.  Dit maak die volharding in beproewings die moeite werd.  Dit moedig my aan om onverskrokke heiligheid in alles in my persoonlike lewe na te jaag en as geskenk van God te ontvang.  Dit inspireer my om onophoudelik en van harte lief te hê.  Want, God die Vader het my van alle ewigheid af lief. God die Seun neem verantwoordelikheid vir my hede en hou my rein. En God die Heilige Gees neem verantwoordelikheid vir my toekoms. Hy sal sorg dat ek die erfenis in besit sal neem.  Daarom het ek dit eintlik nou alreeds!

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 163 [bekend] of Flam 125 of Enige van Lied 170 – 174

Votum: (n.a.v. Openb. 5)

Seëngroet: (Responsoriese Paasgroet)

Lofsang: VONKK 94 of Flam 143 of Lied 202

Verootmoediging: 1 Petrus 1:22-23

Toewyding: Flam 260 of Lied 509

Bemoediging: 1 Petrus 1:13

Doopherinnering as Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: 1 Petrus 1:17-23a

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: VONKK 215 of Flam 228 ∫Lied 167

Seën

Respons: Vonkk 215 refrein of Flam 228 Refrein of Enige van die kort “Heilig” liedere:  170 – 174

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 163 Jesus Christus, Ek Aanbid U (kanon) [bekend] of
Flam 125 Wat ’n Liefde of
Enige van die “Heilig” liedere wat in die gemeente bekend is:  170 – 174

Votum: (n.a.v. Openb. 5)
Liturg:  “Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.”
“Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.”
Gemeente:  Amen

Seëngroet
V: Genade en vrede van God ons Vader,
G: die Heerser oor lewe en dood.

V: Genade en vrede van Christus wat uit die dood opgewek is,
G: Eersteling van dié van wat gesterf het.

V: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: ons Here en Lewendmaker.
A: Amen.
(Uit:  “Soos ‘n blom na die son draai” deur Cas Wepener)

Lofsang
VONKK 94 Ek Het Die Here Lief (Psalm 116) of
Flam 143 Leeu Van Juda of
Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors”

Verootmoediging: 1 Petrus 1:22-23
22Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. 23Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God. 24Die Skrif sê:
“Die mens is soos gras,
en al sy prag
soos ’n veldblom;
die gras verdor en die blom val af,
25maar die woord van die Here,
dít bly vir ewig.”
En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.

Toewyding
Flam 260 Ek Bring ’n Offerlied (As Ek Sing) of
Lied 509 “Op berge en in dale”

Bemoediging: 1 Petrus 1:13
13Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.

Doopherinnering as Geloofsbelydenis
V: Ons doop is ’n teken en seel dat God ons gered het. Deur die geboorte, dood en opstanding van Jesus Christus is die magte wat ons bind, verbreek en het God se koninkryk ons wêreld ingekom. Deur ons doop is ons burgers van God se koninkryk gemaak en vrygemaak van alles wat ons gevange hou. Kom ons vier vanoggend opnuut hierdie vryheid deur die beloftes wat by ons doop gemaak is te herbevestig.

Ons gaan ons vanoggend opnuut aan God toewy deur ons geloof te bely en die doopwater aan te raak.
V: Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat God ons Vader met jou doop al sy beloftes aan jou toegesê en jou Syne gemaak het.
Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?

G: Ja, ek glo.
V: Weet dan dat Jesus Christus vir jou gesterf het en dat jy die redding wat Hy bewerk het, besit.

Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat die Heilige Gees in jou woon en vir jou die krag gee om ’n ware dissipel van Jesus te wees.
Jy behoort aan die Here en niks kan hierdie waarheid ooit verander nie.
G: Amen.
(uit:  “Soos ‘n blom na die Son Draai” deur Cas Wepener)

Liedere

F125. “Wat ’n Liefde”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Oorspronklike titel:Wat Een Liefde Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2006 Faani Engelbrecht © 2004 Celmar Music

By U is ek tuis, by U is ek veilig.
In U is my huis, in U is ek heilig, in U …
By U vind ek troos, by U kan ek huil.
In U vind ek rus, in U kan ek skuil, in U …
U neem my in u arms en droog my trane af.

Refrein:
Wat ’n liefde! (x6)

By U is dit goed, U gee my u seën.
In U is my hoop, in U is my weë, in U.

U het uself vir my gegee,
in U kan ek wees, in U kan ek lewe, in U.

Ek hoef niks weg te steek nie
want U wys my nooit weg nie.

Refrein:

Brug:
En dat ek steeds terug mag kom
selfs al het ek ver afgedwaal.
En U my altyd wil vergewe
al het ek ook gefaal.

Refrein:
Dit is liefde! (x6)
U is liefde! (x8)

F143. “Leeu Van Juda”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof) Teks en musiek: Retief Burger © 2005 Urial Publishing
(Op 5:3-7, Rom 8:31-39, Kol 2:14-15, 1 Kor 15:54-58, Ps 115:1)

Jesus, die sterke leeu van Juda,
Jesus, die vlekkelose lam,
Jesus, Oorwinnaar oor die dood,
Jesus, U is oneindig groot.

U’s vir ewig, U’s vir altyd
en ek weet U’s ook vir my.
Word verheerlik, word verhoog
deur al die lof wat juig in my.
Kom verander, kom vernuwe
weer die passie binne my.
Jesus, dit gaan alles net oor U.

F260. “Ek Bring ’n Offerlied (As Ek Sing)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toenadering / Skuldbelydenis) Teks en musiek: Johan Steenkamp © 2008 Urial Publishing

1. Ek bring ’n offerlied
in harmonie gegiet
om vir U te sê
hoe diep my liefde lê.

2. My woorde uitgespel
probeer vir U vertel:
by Jesus hoort ek tuis;
my lewe is ’n kruis.

Refrein:
Sal U luister as ek sing,
sal U hoor as ek my offer bring
uit ’n hart wat U begeer
al maak ek U soms seer?

Brug:
Hoor my, sien my,
hier voor u troon.
Ek’s sondig, U’s heilig.
Vergewe my.
Ek buig voor U. (x4)

F228. “Waarom Is Ek Hier? (Nuwe Mens)’
(RUBRIEK: Kruisfuur – Diens en Getuienis)  Teks en musiek: Neil Büchner© 2007 Urial Publishing

Waarom is ek hier?
Waarvoor het U my geskep?
Wat sal ek doen, op aarde, met my dae?
Waarom is ek hier?
Waarvoor het U my geskep?
Wat sal ek doen, op aarde, met my dae?

Pre-refrein:
Is ek vir u behae beplan?
’n Kind van u familie?
Gemaak om soos u Seun te leef?
’n Dienaar wat wil dien?
Brandend vir sending?
Of om te sien dat ek kan:

Refrein:
Lewe
as ’n nuwe mens.
Lewe
as ’n nuwe mens.
Wys my, lei my, leer my altyd om te
lewe
as ’n nuwe mens.

Brug:
Aanbidding, familie, mense wat soos U leef,
bediening, sending
hier om te kan sien. (x3)

Refrein:

VONKK 163 “Jesus Christus, Ek Aanbid U (kanon)”
Teks: Jezuz Christus, ik aanbid U –  Elly en Rikkert Zuiderveld 1983. Afrikaanse weergawe: Jacques Louw 2011©
Musiek: Elly en Rikkert Zuiderveld 1983 Ostinaat: Albert Troskie 2011 (Pro Deo)
© Musiek: 1983 Universal Songs. Met toestemming gebruik. © Teks en ostinaat:  2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Verwondering / Pinkster

1. Jesus Christus, ek aanbid U,
heilig is u Naam.
Jesus Christus, ek aanbid U,
heilig is u Naam.
Heilig is u Naam, heilig is u Naam.
Heilig, heilig, heilig is u Naam.

2. Jesus Christus, ek verwag U,
vul my met u Gees.
Jesus Christus, ek verwag U,
vul my met u Gees.
Vul my met u Gees, vul my met u Gees.
Vul my, vul my, vul my met u Gees.

3. Halleluja (x 10)

VONKK 94 “Ek Het Die Here Lief (Psalm 116)”
Teks: Jacques Louw 2009 © Melodie: INGRID – Jacques Louw 2009 © © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Kontemporêr – Geloof en Vertroue

1. Ek het die Here lief.
Dis Hy wat my verhoor.
Hy het na my geluister
toe ek bang was en benoud.

2. Ek het Hom aangeroep:
”Ag, Here, red my tog!”
Die Here is genadig.
Hy het Hom oor my ontferm.

3. My hart kan nou maar rus.
Die Heer is goed vir my.
Ek het in Hom bly glo
toe ek dog dis klaar met my.

4. Hoe sal ek Hom vergoed
vir weldade aan my?
Ek sal dan met my offers
van sy redding bly getuig.

Einde:
Ek wil met al my gawes
voor die hele volk getuig:
Die Here is my Redder.
Halleluja! Prys die Heer!

VONKK 215 “U Oorlaai Ons Met U Liefde”
Teks: Wat ‘n grenslose liefde – Hannes van der Merwe 2012 © Melodie: NATASHA – Thinus van Staden 2012 ©
Orrel- en klavierbegeleiding: Cecilia van Tonder 2012 © Musikale verryking: Cecilia van Tonder 2012 ©
© 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Kontemporêr – Gebede / Geloof en Vertroue

1. U oorlaai ons met u liefde
Omdat U, ons Hemelheer,
al die mense hier kom roep het
om na God toe terug te keer.
U roep skape sonder herder
uit die nood waarin hul is
na die strome van vergifnis
en die skadu van u rus.

Refrein:
Wat ’n grenslose liefde,
’n onpeilbare deernis
het U aan ons gewys,
o God van genade.
Elke dag hier op aarde
is ons smeking, ons bede
dat ons in liefde leef,
o God van genade.

2. U sien trane in die oë,
word geraak deur al die seer,
hoor die sug van hul wat moeg is,
bied ‘n tuiste by U, Heer.
En met deernis vir die sondaar
het U in ons plek getree,
vir die siekes en die dooies
kom U hoop en lewe gee.

Refrein:
Wat ’n grenslose liefde,
’n onpeilbare deernis
het U aan ons gewys,
o God van genade.
Elke dag hier op aarde
is ons smeking, ons bede
dat ons in liefde leef,
o God van genade.

3. Hierdie boodskap van genade
moet weerklink ook in ons tyd
soos profete lank gelede
wat die wil van God ontsluit.
Wees ’n stem van hoop en heling
in die honger en die seer
met die antwoord op die noodroep:
Hier’s genade by die Heer!

Refrein:
Wat ’n grenslose liefde,
’n onpeilbare deernis
het U aan ons gewys,
o God van genade.
Elke dag hier op aarde
is ons smeking, ons bede
dat ons in liefde leef,
o God van genade.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: 1 Petrus 1:17-23a

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Opsie 1:
Sluit aan by die preek se gedagte gedagte van ‘n familiefoto – dat ons deel is van God se gesin.  Kry vooraf familiefoto’s by verskillende lidmate.  Wys die foto’s en gesels oor identiteit – waar kom die mense se familie vandaan, ens.  Vra vir kinders of hul grootouers foto’s van hulle in hul huise het.  Baie families het ook deesdae die gewoonte om ‘n spesiale familie “photo shoot” te doen.  Almal trek soorgelyke klere/kleure aan en neem foto’s van hulle almal saam – ‘n lekker groot familie.  Hulle kies plekke waarvan hulle hou en doen goed waarvan hulle hê.

Sê dan dat ons almal deel is van nog ‘n groter familie – God se familie.  Ons is deel van God se foto-versameling.  As julle lus is, kan die kinders kinders jou sommer net daar help om ‘n selfoon-foto van die hele gemeente te neem.

Opsie 2:
Sluit aan by die gedagte van ons vreemdelingskap in die wêreld.  Kinders is deesdae bekend met die idee van iemand wat ‘n vreemdeling is.  In meeste dorpies is daar iemand wie se kultuur verskil van die meeste mense in die dorp s’n – bv iemand van China af.  Baie kinders het ook neefs en niggies wat oorsee grootword.  Hulle kom kuier in SA, maar hul kultuur is vir ons vreemd – hulle is Australiërs of Kanadese.  Op dieselfde manier is ons “vreemdelinge in die wêreld”.  Soos wat vreemdelinge deel is van die dorpie, maar steeds hul eie kultuur behou.  So is ons deel van die wêreld, maar ons leef met ‘n ander kultuur as die wêreld.  Ons leef volgens God se reëls.

Hier is ‘n inkleurprent van kinders van verskillende kulture.

Preekriglyn

[Nota: Hierdie preek veronderstel dat 1 Petrus 1 vers 13 tot 23a as teksgedeelte gebruik word.]

In ‘n era waar sosiale afstand en grendeltye ter wille van ons gesondheid op ons afgedwing word, raak mens weer bewus hoe belangrik sosiale kontak, saam leef en verhoudinge is. Dit is swaar om afgesonder te wees.

Meer as net mense rondom jou is nodig. Ons leef danksy die nabyheid van betekenisvolle persone. Daarom is baie mense eensaam in ‘n groot skare. As jy nie behoort nie, ingetrek is by gemeenskap nie, nie nabye geliefdes het nie, is dit swaar en eensaam.

So vertel die Nederlandse teoloog Okke Jager van ‘n klein seuntjie in spitstyd. Die straat is oorvol. Mense. Motors. Êrens daar tussenin ‘n seuntjie van ses jaar oud met trane op sy wange. Hy stap na ‘n polisieman toe en trek aan sy arm: “Meneer polisieman, het jy nie ‘n pappa gesien sonder ‘n klein seuntjie nie?” Terwyl hy opnuut in trane uitbars, voeg hy met horte en stote by: “Die klein seuntjie – dit is ek!”

Okke Jager gebruik dié verhaaltjie om God en mens se status ná die sondeval te beskryf: God het ‘n Vader sonder kinders geword; die mensdom het kinders sonder ‘n Vader geword.

Dit is sulke mense – ons – wat Petrus in hierdie brief bemoedig. Hy beklemtoon ‘n kernwaarheid van die evangelie: Die status van vervreemding tussen die Vader en sy kinders is deur Jesus Christus se opstanding uit die dood (na sy kruisiging) omgekeer, waardeur ons “opnuut verwek [is] sodat ons ‘n lewende hoop mag hê op ‘n erfenis” (1 Pet 1:3-4).

Familiefoto

Ons is ten diepste nie meer alleen nie. In Christus verskyn ons op God se familiefoto.

Petrus gebruik regdeur sy brief uitdrukkings wat ons terugbring by die gedagte van ‘n intieme gesin waarvan gelowiges nou deel is:

  • God as Vader (1:2, 3, 17);
  • gelowiges as kinders (1:14; 3:6);
  • broers en susters (2:17; 5:19);
  • broederlike liefde (1:22); verwek (1:3, 23);
  • erfenis (1:4);
  • huis en tuiste (2:5; 4:17);
  • familie (lede) van die huishouding, insluitend dienaars (slawe) (2:18; 4:10);
  • julle lewe saam (3:7).
Positiewe identiteit

Ons identiteit is dat ons ‘n Vader het vir wie ons leef.

Identitiet beskryf wie ons is (positief), maar ook wie ons nie is nie (negatief).

Een van die temas in 1 Petrus is dat ons vreemdelinge in hierdie wêreld is of behoort te wees – nie heeltemal tuis in ‘n wêreldse omgewing en sekulêre samelewing nie, ánders eerder as eenders.

As ons aan onsself net in terme van hierdie negatiewe identiteit dink, val ons maklik in ‘n vyandige denkwyse vas wat die wêreld óm ons bloot as sleg en boos beoordeel. Sommer uit die staanspoor is “húlle” verkeerd en word van “ons” (as blote vreemdelinge en bywoners) vereis om ánders te kies en te leef as almal anders.

Natuurlik is ons anders as die wêreld. Maar hierdie negatiewe identiteit (wat ons nie is nie) moet gebalanseer word met ‘n positiewe teenpool, ‘n positiewe identiteit. Vir 1 Petrus is ons positiewe identiteit dat ons  kinders is van God ons Vader, in Jesus Christus.

Die prominente tema van die brief is kindskap: diegeborgenheid, die tuiste wat gelowiges vind in die familie waarvan God ons Vader is!

Vier opdragte

Teen die agtergrond van ons positiewe identiteit gee ons teks vir ons vier opdragte. Hierdie opdragte bou op ons identiteit, dit is die praktiese uitleef van wie ons is. Ons identiteit is dat ons nou kinders van God is wat op grond van Christus se sterwe en opstanding weer op God se familiefoto verskyn.

Die opdragte gee hande en voete aan ons opstandingsgeloof.

Die vier opdragte is (ontleen aan die Griekse grondteks waarin dit baie duidelik voorkom):

  • Gelowiges moet volkome hoop op die genade (v 13)
  • Gelowiges moet heilig leef (v 15)
  • Gelowiges moet in eerbied teenoor God leef (v 17)
  • Gelowiges moet mekaar innig en opreg liefhê (v 22).

Een: Gelowiges moet volkome hoop op die genade (v 13)
Wat beteken hierdie opdrag in vers 13? Die briefskrywer het slegs enkele verse vantevore ‘n loflied gesing op God se “groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood” (1 Pet 1:3a). Hiérdie gebeure word die Godsdaad waardeur gelowiges “opnuut verwek [is] sodat ons ‘n lewende hoop mag hê op ‘n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word” (Direkte Vertaling van 1 Pet 1:3b-4).

Hierdie vers beskryf dit wat God reeds gedoen het. Dit beskryf ‘n feit, ‘n fondament, ‘n werklikheid wat God vir ons gedoen het. God se daad is geskiedenis.

Hierdie fondament is van bitter belangrik. Christelike hoop kyk altyd eers terug op wat God rééds in sy groot ontferming gedoen het. Dit is ons anker.

Om volkome te hoop, is om te onthou wat ons identiteit hier en nou ís: ons isopnuut verwek deur Jesus Christus se opwekking om kinders van God te wees! Om volkome te hoop, is om op hierdie wesensfeit te staan – die gegewe dat ek nou ánders is as wat ek vroeër was – danksy die groot ontferming van God.

Natuurlik moet ons hierdie geskenk van God toeeïen en prakties begin om dit uit te leef. Ons het die volle genade ontvang, maar ons moet daarin groei. Petrus sê ons is dikwels nog soos pasgebore kindertjies. Vandaar sy opmerking: “… julle moet grootword soos kindertjies grootword.”

Dit is ‘n langsame en taai proses. Die gelowiges individueel en die gemeente as geheel moet … opgevoed en opgebou word om te word wat God ons bedoel het om te wees.

Ons moet leer leef vanuit ons hoop.

Om volkome te hoop, is om op grond van God se genade in die verlede, oortuig van ons identiteit as Godskinders in die hede, ook vooruit te kyk: Ons sien met gelowige verwagting uit dat God se goedheid nog méér volkome, vanuit God se voorkeurtoekoms met Christus se koms (1:13), na ons gebring sal word. Ons stel onsself beskikbaar daarvoor en streef dit doelgerig na.

Wanneer die Koronavirus kom, wanneer die aandelemark val, wanneer my salaris in die grendeltyd in gedrang kom, leef ek in die eerste plek uit my toekoms in Christus.

Twee: Gelowiges moet heilig leef (v 15)
Vermaning 2 staan in vers 15: Op grond van die feit dat gelowiges ‘n heilige God se kinders is (1:14-16), moet ons heilig wees (v 15).

Dit is opvallend Petrus se volgende opdrag in hoofstuk 1. Ons heiligheid word direk in verband gebring met wie God is. Sodoende is ons kindskap steeds ter sprake: Aardjie na sy Vaartjie! Ons aard en afkoms kom in ons doen en late tot uiting. Gelowiges word gemaan om hiér, in hierdie wêreld, heilig te lééf en te dóén. God se heiligheid is dus die logiese motivering.

Dieselfde vermaning geld vir Christengelowiges as vir die volk Israel van ouds: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1:16).

Ons heiligheid, ons lewe van andersheid in die wêreld, wys van onsself af weg na dié God van wie ons ons heiligheid as identiteit en leefwyse erf. Ons toewyding aan die Vader getuig dat ons aan Hom behoort. Dit is soos Liedboek 308 sê: “Neem my lewe, laat dit Heer, U gewy wees meer en meer … niks noem ek my eie meer”.

In vers 14 kontrasteer Paulus ons heilige leefwyse met hoe ons self vroeër gelewe het. Vroeër het ons uit selfsugtige begeertes gelewe. Dit was vroeër. Nou is ons as gelowiges egter losgekoop uit daardie sinlose leefwyse, uit die bankrotboedel van hulle heidense voorvaders (1:18-19). Ons is nou kinders van God. Hierdie goeie nuus het die Heilige Gees aan ons geopenbaar (1:12).

Dit is die positiewe bevestiging van ons identiteit in Christus. Vir Christene beteken ‘n oproep tot heiligheid om te word en te wees wie ons in Christus reeds is, naamlik “gehoorsame kinders” (1:14).

Botsing

Ja, hierdie doelbewuste strewe van kinders van God om heilig te leef, toegewyd aan God, mag ons moontlik laat bots met die heersende kultuur, die tydsgees, die denk- en leefwêreld waarin ons onsself bevind. Nietemin, 1 Petrus noop my om in die spieël te kyk, dalk veel eerder as om by my ongelowige bure se vensters in te loer. Laat ons eerder die vraag vra: “Is ek self vandag ‘n meer volwasse kind van God, meer toegewyd, ánders as wat ek gister was?” Die vraag is nie: “Is ek beter, heiliger en anders as my wêreldse bure?”

Teoloog Miroslav Volf beskryf ‘n kerk wat “saggies verskil” van die wêreld op grond van ‘n ware positiewe identiteit, eerder as om gedurig in op grond van ‘n misplaaste negatiewe identiteit in ‘n harde konfrontasie te wees :

… [the church] did not forge her identity through rejection of her social environment, but through the acceptance of God’s gift of salvation and its values. She refused to operate within the alternative ‘affirmation of the world’ versus ‘denial of the world,’ but surprised people with strange combinations of difference and acculturation. She was sure of her mission to proclaim the mighty deeds of God for the salvation of the world, but refused to use either pressure or manipulation. Rather, she lived fearlessly her soft difference.

Drie: Gelowiges moet in eerbied teenoor God leef (v 17)
Die derde vermaning wil prakties gestalte gee aan die opdrag tot hoop (vermaning een) en heiligheid (vermaning twee).

Eerbied en ontsag vir God beteken dat ons prakties in die wêreld leef soos God wil hê ons moet leef. Ons moet leef soos Jesus ons ‘n voorbeeld gegee het. Jesus se diens, Jesus se selfopoffering, Jesus se lyding ter wille van ander, Jesus se soeke na die wil van God en nie sy eie wil nie, is ons rigsnoer.

Hierdie praktiese uitdrukking het alles met ons verhouding met die mense rondom ons te doen. Hoe ons in verhouding tot ander lewe, weerspieël die heilige goedheid van Vader, Seun en Heilige Gees. Wanneer ons in goeie verhoudings met ander/Ander leef, sien die wêreld iets van die Drie-Enige God en God se diens raak..

Die derde vermaning van hoofstuk 1 eis dat ons in die regte verhouding met God as die Ander sal leef deurdat ons respek vir Hom sal hê. Kinders leef eerbiedig teenoor hulle Vader.

[Nota: Met of sonder verwysing na die Grieks, kan predikers dalk die betekenis van die woorde fobos, anastrefō en paroika ontgin en binne hulle eie konteks verduidelik.]

Die respek vir God wat hier ter sprake is, slaan nie bloot op ‘n “innerlike” houding of gesindheid nie. Dit is ‘n “heilige vrees” waarvan mense notisie kan neem. In die wêreld waar ons as vreemdelinge vertoef, sal ons eerbiedige leefwyse van ‘n liefdesverhouding met God as ons Vader en Christus as ons Here getuig (1 Pet 3:15-16).

Vier: Gelowiges moet mekaar innig en opreg liefhê (v 22)
Vermaning vier en drie is karperde. Eerbied vir God en liefde vir mekaar kan nie geskei word nie. Naas eerbied vir God, moet gelowigesmekaar van harte en sonder ophou liefhê (v 22). Hierdie laaste opdrag van 1 Petrus 1 wys, net soos die vorige vermaning, hoe Christelike hoop en heiligheid tot uiting kom en hande en in die wêreld voete kry.

Dit gaan nou oor die verhouding met ander gelowiges. Die wedergeboorte (waardeur ons juis kinders van God geword het), word baie spesifiek as motivering vir dié opdrag aangedui (1:23). God se Vaderskap, ons kindstatus, stel ons in ‘n onmiddellike verhouding met ons broers en susters.

As ons oor die afgelope tyd terugkyk, sien mens soveel voorbeelde waar ons die toets kan dop:

  • Paniekaankope beteken dat winkelrakke gestroop word van items wat ander baie nodig het, maar nie kan kry nie;
  • Deur my onverskillige gedrag, stel ek ander bloot;
  • Nadat ek inderhaas van my oorsese reis teruggekeer het, weier ek om my werkers te betaal wanneer hulle nie kan kom werk nie;
  • Ek verloor alle hoop omdat ek bang is en ‘n finansiële terugslag beleef.

Tog sien ons soveel voorbeelde van gelowiges wat juis hierdie identiteit uitgeleef het. Duisende werkers het wel salarisse ontvang, selfs al kon hulle nie kom werk nie. Mense het kos en middele aan minderbevoorregtes uitgedeel. Mense het sosiale media op grootskaal begin gebruik om eensames en bejaardes in groepe te betrek sodat daar met hulle kontak behou kon word.

Hoe bemoedigend is dit nie om naasteliefde raak te sien nie!

Paastyd

Dit is treffend om hierdie gedeelte in Paastyd te lees. Dit bou op God se fondament en ons oproep tot praktiese uitlewing van ons geloof.

In Paastyd oordink ons nie net die feit dat Christus uit die dood opgewek is en dat ons in Jesus glo as lewende Here nie. Daar word daar ook vergesigte van nuwe lewe vir ons sélf ontsluit, soos frases uit Liedboek 415 dit uitjubel:
Jesus leef, en ons met Hom!
Jesus lewe en daarom
wek Hy ons tot nuwe lewe.
Jesus leef – verheerlik Hom!
Kyk, geen graf hou Hom gevange.
Jesus leef – en ek met Hom …
Nuut sluit Hy die toekoms oop.
Hy gee my ‘n vaste hoop …
Die hartseerwaarheid oor ‘n lewe sonder Christus is: “Die klein seuntjie sonder ‘n Pappa – dit is ek …” Maar gelowiges kan vasstaan in die ware verlossing wat God alleen kon bewerk — en Hy hét! Deur Jesus se opstanding uit die dood (1:3), is ons sy kinders. Hy is ons Vader.

Nou word ons aangemoedig en vermaan: Lééf as kind wie se Vader hom gevind het! Hóé? Deur volkome te hoop! Leef heilig! Eer die Vader! Wees lief vir mekaar!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
VONKK 215 U Oorlaai Ons Met U Liefde of
Flam 228 Waarom Is Ek Hier? (Nuwe Mens) of
Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde”

Seën
Mag die God van vrede,
wat  Jesus uit die dood teruggebring het,
ons toerus met alles wat ons benodig om sy wil te doen.
Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.

Respons
Vonkk 215 refrein of
Flam 228 Refrein of
Enige van die kort “Heilig” liedere wat in die gemeente bekend is:  170 – 174

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.