Derde Sondag in Paastyd

Sections

Oorsig

Christus verskyn aan sy dissipels en eet saam met hulle sodat daar geen twyfel kan wees dat Hy uit die dood opgewek is nie (Luk 24). Jesus is die leidsman na die lewe. Hy is opgewek, wat nuwe lewe bring (Hand 3). Die Here help, Hy luister wanneer ons roep in nood (Psalm 4). Uit sy groot liefde noem God ons sy kinders. Dit is waarom ons onsself as sy kinders mag sien. Leef soos sy kinders (1 Joh. 3).

Die derde Sondag ná Opstandingsondag word soms “Jubelsondag” genoem. Psalm 66:1-4 kan as votum gebruik word. Dié psalm besing die groot werk van God en hoe Hy die verhouding met sy volgelinge telkens vernuwe. Ons dink vandag aan die Here se uitnodiging om aan sy missie vir die wêreld deur ons getuienis oor Hom deel te neem.

Ander tekste 

Handelinge 3:12-19
12Toe Petrus dit sien, het hy hulle toegespreek:
“Israeliete, hoekom is julle hieroor verbaas? Wat staar julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of vroomheid gemaak het dat hierdie man loop? 13Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, Goddelike eer gegee—aan Hom vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het toe hy beslis het dat Hy vrygelaat moes word. 14Hy was heilig en opreg, maar júlle het Hom verwerp en gevra dat daar vir julle ’n moordenaar begenadig moet word. 15So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies. 16Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal.

17“Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het. 18Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur. 19Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.

Psalm 4
Vir die koorleier: met snarespel.
’n Psalm van Dawid.
2O God wat aan my reg verskaf,
antwoord my as ek roep.
Toe ek in die nood was,
het U my bevry.
Wees my ook nou genadig
en hoor my gebed!
3Hoe lank gaan julle my eer nog skend,
mense,
gaan julle valsheid liefhê
en voorkeur gee aan leuens?
4Besef tog dat die Here
wonders gedoen het
vir dié wat aan Hom getrou is.
Die Here hoor as ek na Hom roep.
5As jy ontsteld raak, moenie sondig nie;
dink in stilte daaroor na as jy gaan lê,
en laat dit daarby!
6Julle moet die offers bring
wat aan julle voorgeskryf is,
en julle moet op die Here vertrou.
7Daar is baie wat sê:
“Wie sal dit weer met ons
goed laat gaan?”
Wees ons tog weer goedgesind, Here,
help ons!
8U het my reeds groter vreugde
laat belewe
as wat daar is by mense
wat koring en wyn in oorvloed het.
9Nou sal ek onbesorg gaan lê
en dadelik aan die slaap raak,
want, Here, U alleen laat my
veilig woon.

1 Johannes 3:1-7
Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.
2Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 3Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.

4Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God. 5Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie. 6Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie.

7Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is;

Sleutelteks

Lukas 24:36b-48
Jesus se verskyning aan die dissipels 
(Mark 16:14-15 , 19 ; Joh 20:19-23 )
36 Terwyl hulle nog besig was om oor hierdie dinge te praat, staan Hy self tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!”
37 Verskrik en beangs, het hulle gedink dat hulle ‘n gees sien.
38 Maar Hy sê vir hulle: “Waarom is julle ontsteld, en waarom kom daar twyfel in julle harte op?
39 Kyk na my hande en my voete, dit is Ek self! Vat aan my, en kyk – ‘n gees het nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.”
40 Nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en voete.

41 Omdat hulle dit van vreugde steeds nie kon glo nie en verbaas was, sê Hy vir hulle: “Het julle iets te ete hier?” 42 En hulle het Hom ‘n stuk geroosterde vis gegee.
43 Hy het dit geneem en dit voor hulle geëet.
44 Daarna het Hy vir hulle gesê: “Dit was my woorde wat Ek tot julle gerig het toe Ek nog saam met julle was, dat alles wat in die Wet van Moses en die Profete en die Psalms oor My geskryf is, vervul moet word.”
45 Daarop het Hy hulle verstand daarvoor geopen om die Skrifte te verstaan,

46 en vir hulle gesê: “So staan daar geskryf dat die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, l 47 en dat in sy Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies verkondig moet word. Julle moet by Jerusalem begin,
48 en getuies van hierdie dinge wees.
49 En kyk, Ek sal die belofte van my Vader na julle stuur. Maar bly julle in die stad totdat julle met krag uit die hoogte toegerus word.” (2020-vertaling).

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 40 of Flam 52 of Lied 178

Votum: 1 Johannes 3:1a

Seëngroet 

Lofsang: Vonkk 299 of Flam 232 of Psalm 4 of Lied 168

Verootmoediging: 1 Johannes 3:1-7

Toewyding: VONKK 14 of Lied 378

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Lukas 24:36b-48a

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: VONKK 111 of Flam 100

Seën

Respons: Flam 100 vers 1 of Lied 178

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 40 Kom En Vul Ons Met Vrede of
Flam 52 Laat Almal Weet of
Lied 178 “Dona nobis pacem”

Votum: 1 Johannes 3:1a
Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.

Seëngroet 

Lofsang
Vonkk 299 Sing van sy vrede of
Flam 232 Jesus Alleen of
Psalm 4 of
Lied 168 “Heilige Jesus”

Verootmoediging: 1 Johannes 3:1-7
Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.

2Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 3Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.

4Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God. 5Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie. 6Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie.

7Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is;

Toewyding
VONKK 14 Hy Het Self Ons Sondes of
Lied 378 “O Heer, uit bloed en wonde”

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 40 “Kom En Vul Ons Met Vrede”
Come and fill us, Lord, with your peace. You alone are holy. Come and fill us, Lord, with your peace. Alleluia.
Teks: Confitemini Domino – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Michiel van der Merwe 1994 Musiek: Jacques Berthier 1923-1994
Teks en musiek met toestemming van Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.  © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

Kom en vul ons met vrede.
U alleen, o Heer, is heilig.
Kom en vul ons met vrede.
Halleluja.

VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes”
1 Petrus 2:24 Teks: Jannie Hougaard 2003 © Melodie: JOANIE – Francé Ludik 2003 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging / Nagmaal / Lydenstyd

Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.
Deur sy wonde is ons genees.

VONKK 111 “Die Here stuur ons uit / Enviado soy de Dios”
Teks: Enviado soy de Dios – onbekend, Sentraal-Amerika;  Afrikaanse weergawe: Breda Ludik 2016 ©
Melodie: ENVIADO – Sentraal-Amerika Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2016 © Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2016 ©
© Spaanse teks en melodie: Openbare besit © Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: 2016 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)\ RUBRIEK:  Multikultureel – Liefde, Dankbaarheid en Diens / Getuienis

Die Here stuur ons uit.
Hy stuur ons wêreldwyd
om wonde te genees,
getuies te kan wees.
Die Here stuur ons uit.
Hy stuur ons wêreldwyd
om wonde te genees,
getuies te kan wees.
’n Engel stuur Hy nie –
Hy stuur vir jou en my
om vrede uit te dra,
wat mense kan bevry.
Hy stuur ons na die pyn.
Hy vorm ons deur sy Gees
om elke dag al meer
soos Jesus te kan wees.

Spaans
Enviado soy de Dios,
mi mano lista¬_está
para construir con El
un mundo fraternal.
Los ángeles no son enviados a cambiar
un mundo de dolor por un mundo de paz.
Me ha tocado_a mí hacerlo realidad;
ayúdame, Señor, a hacer tu voluntad.

F52. “Laat Almal Weet”
(RUBRIEK: Flam – Diens / Getuienis) Teks en musiek: Deon Roberts © 2000 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

Refrein:
Laat almal weet dat Jesus waarlik liefde is.
Laat almal weet dat Jesus die Koning is.

Ons kan so gou vergeet dat daar ’n God is wat van alles weet,
wat almal elke dag van liefde leer, sy vrede gee,
die wêreld in sy hande hou.
En soms vergeet ons weer
dat ons ’n ander van ons God moet leer,
sy wonderliefde wat geen grense ken en harte vir Hom wen.

F232. “Jesus Alleen”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Oorspronklike titel: In Christ Alone Teks en musiek: Keith Getty en Stuart Townend
Afrikaans vertaling: Faani Engelbrecht © 2001 Thankyou Music

1. Jesus alleen kan ons vertrou.
Hy is ons hoop, ons lied, ons krag
deur storms heen, deur winterkou’
dwarsdeur die duister van die nag.
En deur sy liefde, deur sy hand
vind ons weer rus, bind Hy die band,
ons Vaste Grond, ons Fondament
hier in sy liefde leef ons nou.

2. Jesus alleen word mens soos ons
volheid van God vol kwesbaarheid.
Oneindig meer doen Hy vir ons
ly vir ons ongeregtigheid.
En deur sy offer word ons vry
hy dra ons skuld, Hy sterf, Hy ly
ontneem die dood sy heerskappy.
Hier deur sy sterwe leef ons nou.

3. Daar in die graf deur dood omring
Wie kon dit weet, wie het verstaan?
Daar breek die dag, die nuwe dag
Jesus, ons hoop, het opgestaan,
Hy’t opgestaan in heerlikheid.
Hy’t ons van vloek en skuld bevry.
Ek leef in Hom en Hy in my
Jesus se bloed maak waarlik vry.

4. Geen lewensangs, geen sterwensnood
dit is die krag waarop ons staan.
Van die eerste tree tot by die dood
wys Hy die weg wat ons moet gaan.
Geen duiwelsplan of aardsbestaan
kan ons ooit ruk vanuit sy hand.
Hy sal weer kom, sy bruid kom haal
tot Hy weer kom, sal ons bly staan.

F100. “Gaan Dan Heen”
(RUBRIEK: Flammikidz – Diens en Getuienis) Teks en musiek: Soekie Rautenbach © 1997 Brettian Productions
(Opgeneem op Issie Waarheid)

1. Gaan dan heen en maak dissipels.
Gaan dan heen – Ek stuur jou nou.
Gaan dan heen en maak dissipels
van die nasies van die aarde
sodat elkeen in Jesus kan glo.

2. Alle mag – in die hemel
alle mag – behoort aan my.
Gaan dan heen en maak dissipels
van die nasies van die aarde
sodat elkeen in Jesus kan glo.

3. Nooit sal ek – jou verlaat nie.
Ek is nou – saam met jou.
Gaan dan heen en maak dissipels
van die nasies van die aarde
sodat elkeen in Jesus kan glo.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Lukas 24:36b-48a

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Bybelmedia se Woord en Fees stel voor:
Jesus is hier: Vra vir die jongste kinders wat hulle doen wanneer hulle bang is in die nag. (Hulle roep hulle ouers, of hulle loop na hulle ouers toe.)

Wat doen jy wanneer jy by jou ouers kom? Gaan sit jy net op ‘n stoel en vertel vir hulle hoekom jy so bang is? Nee, jy wil vasgehou wees. Jy wil in jou ouers se arms wees. Dit is wat jou troos!

Die dissipels was ook bang en Jesus het dit geweet. Dit is waarom Hy wou hê hulle moes aan Hom raak.

Toe Jesus opgevaar het na die hemel, het Hy die Heilige Gees gestuur om deel van ons te word sodat Hy ons deur die gelowige mense rondom ons kan troos en vashou.

Druk vir elke kind hierdie woorde groot uit – dwars op ‘n A4-papier – en laat hulle dit versier en in hulle kamers opplak sodat hulle kan onthou:

Jesus is altyd by ons, daarom hoef ons nie bang te wees nie.

Preekriglyn

Ons teks vertel van die laaste van Jesus se drie opstandingsverskynings in Lukas:

  • 24:1-12 – aan die vroue;
  • 24:13-35 – aan die Emmausgangers;
  • 24:36-49 – aan die dissipels.

Al drie episodes, soos vroeër in Lukas, stel die noodsaaklikheid van Jesus se lyding en sterwe duidelik. Jesus se lyding en sterwe word telkens met “dit moet” verduidelik. Dit is ‘n Goddelike “moet”. Die opstanding volg op Jesus se lyding en sterwe. Dít is God se reddingsplan, nie iets anders nie. Jesus red ons omdat Jesus moes ly, sterf en opstaan uit die dood – ter wille van ons.

Ons teks

Kom ons stap vir ‘n paar oomblikke deur ons teks. Die oorhoofse tema is ons deelname aan God se werk op aarde deur ons getuienis.

Vers 36-37. “Terwyl hulle hierdie dinge aan die praat was, staan Hyself in hulle midde en sê vir hulle: ‘Vrede vir julle.’ Hulle was verskrik en beangs en het gemeen dat hulle ‘n gees (spook) sien.”
“Hierdie dinge” verwys na al Jesus se voorafgaande verskynings, maar is ook ‘n duidelike sinspeling op die nagmaal. Die Emmausgangers vertel hoe Jesus tydens die “breking van die brood” aan hulle bekend geword het. Die nagmaal is by uitstek die ruimte waar ons die opgestane Jesus ontmoet.

Hulle ontmoeting met die opgestane Jesus is vir die volgelinge wat bymekaar was ‘n vreeswekkende ervaring. Die ontmoeting met die lewende Jesus konfronteer elke mens met sy eie identiteit.

Enersyds word jy noodwendig bewus van jou eie onwaardigheid. Méér nog: Die gemeente kom onder die indruk dat hulle in gebreke bly om Jesus werklik met volle oorgawe na te volg. Ons word pynlik bewus van ons foute, ons sonde en ons mislukkings.

Andersyds word ‘n mens van die oorweldigende genade van die lewende Here bewus. Ten spyte van alles, kom die Here weer na ons toe. Die ontmoeting met die lewende Here verander ons hele lewe – die erediens, ‘n ontmoeting met God, word die een uur wat alles verander.

Op watter manier word doen Jesus iets aan hierdie vrees (dit bring afstand en verwydering, maar ook passiwiteit)? Die volgende verse vertel vir ons.

Vers 38-40. “En Hy het vir hulle gesê: ‘Wat is julle (so) verskrik en waarom kom daar twyfelvrae in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, omdat dit Ek is (letterlik: ‘omdat Ek is wat Ek is’). Raak aan My en kyk dat ‘n gees nie vlees en bene het soos julle sien Ek het nie.’ En terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.”
Watter brug is daar na die opgestane Here toe? Ons teks raai ons die volgende aan: “Kyk na sy wonde, na sy hande en sy voete (en sy – Joh. 20:27) en raak daaraan.”

Vers 41-42. “Maar omdat hulle steeds nie geglo het van blydskap en omdat hulle verbaas was, sê Hy vir hulle: ‘Het julle iets te eet hier?’ En hulle het vir Hom ‘n stuk van ‘n gebakte vis gegee. En nadat Hy dit geneem het, het Hy dit voor hulle geëet.”

Jesus gebruik realiteitsterapie om te bevestig dat Hy werklik is en dat hulle nie ‘n spook sien nie. Hy vra iets om te eet. Hulle soek en kry ‘n stuk vis in die hande en gee dit vir Hom, en Hy eet dit net daar voor hulle. So word die slottoneel voorberei.

Vers 44-49. “En Hy het vir hulle gesê: ‘Hierdie is my woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, dat alles wat in die Wet van Moses en in die profete en in die psalms oor My geskryf is, vervul moet word.’ Toe het Hy hulle verstand oopgemaak om die Skrifte te verstaan.

“En Hy het vir hulle gesê dat so geskryf is: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam bekering en vergifnis van sondes verkondig moet word aan al die nasies – beginnende by Jerusalem. Julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ék stuur die Belofte van my Vader na julle toe, maar julle moet in die stad bly totdat met krag uit die hoogte oorklee sal word.'”

Wat gebeur het, is nie nuut nie. Dit was van altyd af so bepaal. Die hele Ou Testament het dit so opgeteken. Soos by Jesus se verskyning aan die Emmausgangers in die vorige episode, moet God mense in staat stel om die ware betekenis van die Skrifte te kan verstaan (Luk 24:25-27, gevolg daardeur dat hulle volgens vs 31 hulle oë “oopgemaak is” – die passief verwys na ‘n handeling aan God se kant).

“Toe het Hy hulle verstand oopgemaak om die Skrifte te verstaan”, is dus ‘n belangrike tussenwerpsel wat die dialoog onderbreek. Dit dui op die voorvereiste om die Skrifboodskap te verstaan.

“Die Christus moet ly”. Lukas beskryf regdeur die verhaal die werklikheid van Jesus se lyding. Dit behels meer as net sy uiteindelike gevangeneming, verhoor, kruisiging en dood. Lukas beklemtoon hoe Jesus se identifisering met uitgeworpenes Hom in konflik met die leiersfigure in die samelewing bring. Hy word verwerp en beswadder en met agterdog bejeën, misverstaan, verlaat en in die steek gelaat. Hy is die lydende Kneg van Jesaja 53.

“En Hy moet op die derde dag opstaan.” In Lukas word hierdie “moet” dikwels pertinent as aanduiding van God se verlossingsmetode deur Jesus gebruik. In Handelinge word die dood en opstanding dikwels in die toesprake as ‘n formule vir die inhoud van die geloof gebruik.

“… en in sy Naam moet bekering (metanoia) en vergifnis van sonde verkondig word.” In die Naam van Christus impliseer twee dinge. Eerstens is Hy die oorsprong van bekering en van die vergifnis van sonde. Tweedens word die verkondiging namens en in opdrag van Hom gedoen.

Deur Jesus Christus is bekering en vergifnis moontlik.

“Bekering” as vertaling vir metanoia dui gewoonlik op ‘n hartsverandering, ommekeer in die gesindheid en denkpatrone en verandering van waardes. Die innerlike vernuwing lei onvermydelik ook tot veranderde optrede, tot vermyding en erkenning van sonde en ‘n toegewyde lewe van navolging van Christus.

Getuies

Die dissipels is die getuies van hierdie goeie nuus. Die taak geld allereers vir die dissipels, maar word van hulle af na die kerk as Jesus se nuwe geloofsgemeenskap uitgebrei. Die verkondiging van die nuwe lewensmoontlikheid moet na al die nasies gaan. Dit is nie beperk tot Israel van die Ou Testament nie, maar universeel. Die verkondigingsdaad begin histories gesproke by Jerusalem, maar sal verder na almal en oral gaan.

Die belofte word in Handelinge met die uitstorting van die Heilige Gees (Hand. 2) vervul. Die Heilige Gees word dikwels in die Nuwe Testament met “krag” verbind. Opvallend sluit die einde van Lukas en die begin van Handelinge dig bymekaar aan. Die Heilige Gees verskaf die dryfkrag (impetus) en die rigting vir die getuienis van Jesus se volgelinge.

Bekend deur sy wonde

Let op die manier waarop Jesus Homself bekend stel. Dit sal die manier waarop die kerk oor die opgestande Here moet getuig, ook duidelik maak. Bekering en vergifnis van sonde het alles te doen met die wonde van Jesus en met sy opstanding. Dat dit werklik Hy is, word aan sy wonde gesien, aan die letsels daarvan.

Dit word veral duidelik by die nagmaal. Die Gees gebruik juis die kerk se wonde, in navolging van die Here van die kerk, om mense te oortuig dat Jesus werklik is wie Hy voorgee om te wees!

Sy wonde maak dat mense die opgestane Jesus herken.

Verlossing omvattend verstaan

God se verlossing bring redding van sonde, maar ook veel meer. Dit maak ook die wêreld nou reeds heel. Hoe is dit dan om in God se Naam die wêreld heel te maak?

Hierdie herstel of verlossing omvat alles, die geestelike lewe (herstel van ons verhouding met God) sowel as onderlinge verhoudings met ander mense en die res van die skepping.

Verlossing behels meer as iets persoonliks. Dit gaan ook oor die herstel van sosiale groepe (gesinne, families, vriendekringe, werkkringe, geloofsgemeenskappe en die breër gemeenskap) sowel as sosiale strukture (om iets aan onregverdige ekonomiese en politieke strukture te doen). God se verlossing neem Jesus se dood en opstanding as die sleutel tot die nuwe lewe volgens die model van Jesus se lewe op aarde (wat Hy gesê en gedoen het).

Op al hierdie terreine bring Jesus genesing.

“Onthou” kan wonders verrig …

“Onthou my wonde,” sê Jesus, “en raak daaraan …” Uit hierdie wonde kom daar vir ons genesing.

Die afgelope jaar het ons met Covid-19 soveel wonde gesien. Mense het hulle lewens verloor. Ander het hulle werk verloor. Baie het ernstig siek geword en swaar gely. Talle het ernstige mediese nagevolge en sukkel om van die effekte van Covid-19 ontslae te raak.

Jesus se wonde bring genesing. As ons ons identifiseer met Jesus se wonde en oor sy offer ter wille van die wêreld getuig, kom daar genesing. Hierdie getuienis kom deur woord en dade.

Dink aan die pragtige getuienis oor ‘n bejaarde Italiaanse priester wat sy respirator afgestaan het aan ‘n jong Covid-19-pasiënt en later self gesterf het – moderne voorbeelde van die lyding van gelowiges wat saad vir die evangelie geword het.

Eusebius (biskop van Sesarea ongeveer 314 nC) beskryf die pessiekte in die destydse wêreld en vertel hoe almal uit dorpies gevlug het en die siekes aan hulle eie lot oorlaat, maar hoe die Christene omgedraai het om die siekes te versorg en die dooies te begrawe, net om dan met hulle eie lewe daarvoor boet. Hy vertel hoe hierdie optrede in skrille kontras was met dié van die heidene. Hierdie daadgetuienis was die saad van die evangelie.

Wondere sedert Covid-19

Teen hierdie agtergrond kan mens sien hoeveel sedert Covid-19 gebeur het. Ons kan gerus vra:

  • Wat het ons in 2020 reg gedoen en hoe is ons getuienis ontvang?
  • Watter vrug het ons kerk se optrede sedert Covid-19 gelewer?

Gelowiges, wat leef uit die vrug van Jesus se verlossende wonde, het in Covid-tyd self soveel wondere verrig. Daar is die mooiste verhale oor familielede wat ander familie ingeneem en versorg het. Gesinne en families het leer saamstaan om te oorleef. Mense het met mekaar gedeel. Voedsel is uitgedeel, so ook klere en lewensmiddele. Talle werkgewers het uit hulle pad gegaan om die lot van werknemers te versag.

Die kerk word uitgenooi om op tienduisende, beskeie maniere die wêreld heel te maak, die wonde te salf en versorg, sodat daar genesing kan kom. Dit is God se missie, God se sending, God se werk op aarde waaraan ons deelneem.

Ons  eie wonde word verander

Ons word met ons eie “wonde” die enigste geloofwaardige getuies van die verlossing. Die uitnodiging vra nie ‘n kragtoer nie, maar dit vra om Jesus se wonde in jou eie en ander mense se lewe raak te sien. Dan verstaan jy om na almal, oral, met hierdie boodskap te gaan. Só word ook die kerk se wonde en joune soos die saad van die evangelie.

Tomas Halik vertel van ‘n gesprek met sy peetdogter in ‘n restaurant: “As jy alles eet, sal jy die taal van die voëls kan verstaan,” probeer hy haar aanmoedig. “Maar ek kan dit al ‘n bietjie verstaan,” sê sy. “Nou maar wat sê hulle?” vra hy. “‘n Mens kan dit mos nie in mensetaal vertaal nie,” sê sy meewarig.

Halik sluit sy boek af:

Ek is al te oud om die taal van voëls te verstaan en ek is te onsuiwer om die taal van engele te hoor. Tog hoor ek God in die wonde van hierdie wêreld praat. Ek hoor daarin hoe sy hart roep en klop. Ek kan dít nie nié verstaan nie. Keer op keer (maar nooit genoeg nie) leer ek hoe die aanraking van hierdie wonde ‘n antwoord op God se roepstem is, en ek leer die kuns om sag te raak en verligting op hierdie plekke te bring.

Raak die wonde van Christus aan, van jouself, van mense óm jou en van mense wat jy nie gesien het nie (Joh. 20:29) – oraloor op die wêreld, op enige plek, by enige mens – “sien” skielik, glo en word heel gemaak. Dit is wat dit beteken om ‘n getuie te wees.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
VONKK 111 Die Here stuur ons uit / Enviado soy de Dios  of
Flam 100 Gaan Dan Heen

Seën

Respons
Flam 100 “Gaan Dan Heen” vers 1 of
Lied 178 “Dona nobis pacem”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.