Derde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die reis van verlede Sondag word vandag ingekleur deur ‘n insident wat op pad plaasvind, naamlik God wat water uit die rots gee om die ontstelde gemoedere van dors reisigers te kalmeer. Dit herinner ons ook aan die insident in Johannes 4 waar Jesus getuig dat Hy “lewende water” te gee. In Psalm 95 maan die Gees ons om God se grootheid te bly erken sonder om opstandig te raak as dinge nie uitwerk nie. Die “dors” van swaarkry het immers met Christus se sterwe te doen, want dit is presies waar versoening met God ‘n werlikheid word (Rom 5). Die liturgie versterk ons omgang met ongemaklike situasies en met ons diepste dors na God.

Ander tekste

Psalm 95
Hy is ons God en ons is sy volk
95 Kom, laat ons jubel
tot eer van die Here,
laat ons juig oor die rots
by wie ons redding vind,
2laat ons na Hom toe gaan met lof,
laat ons Hom toejuig met lofsange,
3want die Here is die magtige God,
die groot koning oor al die gode.
4Die dieptes van die aarde
behoort aan Hom,
die kruine van die berge is Syne.
5Die see is Syne, Hy het dit gemaak;
sy hande het die land gevorm.
6Kom ons val in eerbetoon
voor Hom neer,
kom ons buig,
kom ons kniel voor die Here
ons Skepper!
7Hy is ons God en ons is sy volk,
sy kudde, sy skape,
deur sy hand versorg.
As julle vandag maar
na Hom wou luister:
8“Moenie hardkoppig wees
soos destyds by Meriba,
soos die dag by Massa
in die woestyn nie,
9waar julle voorvaders My uitgetart
en my geduld beproef het,
hoewel hulle gesien het
wat Ek gedoen het.
10Veertig jaar lank het Ek ’n weersin
in daardie geslag gehad,
Ek het gesê:
‘Hulle is ’n moedswillige volk,
hulle wil my paaie nie ken nie.’
11Daarom het Ek in my toorn
’n eed afgelê
dat hulle nooit sou uitkom
by die rusplek
wat Ek hulle wou gee nie.”

Romeine 5:1-11
Die vrug van die vryspraak
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 11Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.

Johannes 4:5-42
Jesus en die Samaritaanse vrou
4 Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes—2Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels.—3Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. 4Hy moes deur Samaria gaan.

5Hy kom toe by ’n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag.

7Daar kom toe ’n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My ’n bietjie water om te drink.”

8Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop.

9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat ’n Jood is, vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?”

Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.

10Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My ’n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”

11Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens ’n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? 12Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?”

13Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”

15Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”

16Hy sê toe vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”

17Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie ’n man nie.”

En Jesus sê vir haar: “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ’n man nie.’18Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.”

19Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, ek sien dat u ’n profeet is. 20Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ’n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.”

21Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom ’n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. 22Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. 23Maar daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. 24God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”

25Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.”

26Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”

Die Samaritane glo in Jesus
27Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met ’n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie.

28Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: 29“Kom kyk, hier is ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”

30Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom.

31Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog ’n stukkie.”

32Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.”

33Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?”

34Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. 35Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. 37Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’38Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.”

39Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. 41Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; 42en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

Fokusteks

Eksodus 17:1-7
Water uit die rots
17 Nadat die hele volk Israel uit die Sinwoestyn vertrek het, het hulle op bevel van die Here van plek tot plek gegaan totdat hulle by Refidim kamp opgeslaan het. Maar daar was geen water vir die volk om te drink nie. 2Toe het die volk met Moses rusie gemaak en gesê: “Gee jý vir ons water om te drink!”

En Moses antwoord hulle: “Waarom maak julle rusie met my? Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef?”

3Maar die volk was dors en hulle het vir Moses verwyt: “Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat omkom?”

4Daarna het Moses tot die Here geroep: “Wat moet ek met hierdie volk aanvang? Netnou gooi hulle my met klippe dood.”

5Toe sê die Here vir Moses: “Loop voor die volk verby en neem van die leiers van Israel saam. Vat ook die kierie waarmee jy op die Nyl se water geslaan het, en stap vooruit. 6Ek sal daar reg voor jou op die rots by Horeb staan. Dan moet jy teen die rots slaan, en daar sal water uitloop vir die volk om te drink.”

Moses het dit toe gedoen voor die oë van die leiers van Israel. 7Hy het die plek Massa  en Meriba  genoem omdat die Israeliete daar met Moses rusie gemaak het en ook omdat hulle die geduld van die Here op die proef gestel het toe hulle gesê het: “Is die Here by ons of nie?”

Vorige stof

Daar is twee vorige preekriglyne:

Liturgie

Oproep tot aanbidding

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord:  Psalm 95

Seëngroet  

Sang: Lied 100 “Juig almal tot Gods lof en eer (2e melodie) vs 1,2,3”

Wet: (ahv die Psalmdigter se verwyt aan die volk van ongehoorsaamheid)

Vryspraak: Romeine 5

Lofprysing: Psalm 95

Die Onse Vader (OAV) as belydenis van afhanklikheid
Matteus 6:9-13 ()

Loflied 577 “Die Heer my herder sorg vir my 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Eksodus 17:1-7

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Seën: (ahv Romeine 5)

Antwoord :Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Oproep tot aanbidding
Ons reis in Lydenstyd bring ons vandag voor Jesus wat verklaar dat Hy die lewende water aan mense gee terwyl Hy uiteindelik self uitroep: “Ek het dors.” Sy goddelike lig val vandag op oomblikke wanneer ons, innerlik ontsteld oor die onvolmaaktheid van die lewe, ’n diep dors na God ervaar. Laat ons Hom aanbid wat self die Water is wat lewe gee.

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord: Psalm 95
6Kom ons val in eerbetoon
voor Hom neer,
kom ons buig,
kom ons kniel voor die Here
ons Skepper!
7Hy is ons God en ons is sy volk,
sy kudde, sy skape,
deur sy hand versorg.

Seëngroet  
God ons Vader en die Here Jesus Christus gee aan julle almal genade en vrede.

Sang: Lied 100 “Juig almal tot Gods lof en eer (2e melodie) vs 1,2,3”

Wet: (ahv die Psalmdigter se verwyt aan die volk van ongehoorsaamheid)
As julle vandag maar
na Hom wou luister:
8“Moenie hardkoppig wees
soos destyds by Meriba,
soos die dag by Massa
in die woestyn nie,
9waar julle voorvaders My uitgetart
en my geduld beproef het,
hoewel hulle gesien het
wat Ek gedoen het.
10Veertig jaar lank het Ek ’n weersin
in daardie geslag gehad,
Ek het gesê:
‘Hulle is ’n moedswillige volk,
hulle wil my paaie nie ken nie.’
11Daarom het Ek in my toorn
’n eed afgelê
dat hulle nooit sou uitkom
by die rusplek
wat Ek hulle wou gee nie.”

Vryspraak: Romeine 5
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan.

8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

11Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.

Lofprysing: Psalm 95
95 Kom, laat ons jubel
tot eer van die Here,
laat ons juig oor die rots
by wie ons redding vind,
2laat ons na Hom toe gaan met lof,
laat ons Hom toejuig met lofsange,
3want die Here is die magtige God,
die groot koning oor al die gode.
4Die dieptes van die aarde
behoort aan Hom,
die kruine van die berge is Syne.
5Die see is Syne, Hy het dit gemaak;
sy hande het die land gevorm.

Die Onse Vader (OAV) as belydenis van afhanklikheid:>Matteus 6:9-13 ()
Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;
10laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;
11gee ons vandag ons daaglikse brood;
12en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
13en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Loflied 577 “Die Heer my herder sorg vir my 1,2,3,4,5”

Liedere

F5. “Daar Is Geen Grens “
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklike titel: The Steadfast Love
Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling 2005  Faani Engelbrecht
© 1974, 1975  Celebration
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Klaagliedere 3:22,23)

1. Daar is geen grens aan U guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is U trou, o Heer, my God;
groot is U trou, o Heer.

F22. “Ek Soek U, O God”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994  Brettian Productions
(Reeds opgeneem op: Lentereën  –  Willie Joubert
25 Gunsteling L&A liedere – Louis Brittz
Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)

Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader
om by U te wees,
om by U te wees.

As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe… (Nav Ps 63)

F181. “U Ken My Vredevors (My Fontein)” 
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding / Afhanklikheid en vertroue)
Teks en Musiek: Wian Vos
© 2006 Urial Publishing

1. U ken my Vredevors
My honger en my dors
U hoor my as ek pleit
Vir krag en heiligheid
My hele lewe, Heer
Lê ek nou voor U neer
Loop saam deur die woestyn
Want U is my Fontein

Refrein:
By wie ek water drink, Lewende Water drink
Dit vloei so vry, verniet vir my
Daar waar ek water drink, Lewende Water drink
Les U my dors, my Vredevors
My Fontein

2. As ek dink aan wie U is
Dan raak ek weer bewus
Van U grootheid en my kleinheid
My skuld en my onreinheid

As ek self, alleen probeer
Dan val ek maar net weer
Loop dan saam deur die woestyn
Want U is my Fontein

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here,
dit is vandag ons diepste dors: dat U ons dors met lewende water sal les.
Die water wat U gee, sal in ons ’n fontein word met water wat opborrel
en die ewige lewe gee.
Ons aanbid U in Gees en in waarheid.
Ons hoor U sê: “Dit is Ek. Ek wat met jou praat”
(uit Joh 4:10, 14, 23, 26).

Skriflesing: Eksodus 17:1-7

Familie-oomblik
Prediking
Familie-oomblik

Familie-oomblik

Lees die fokusteks uit ’n kindervriendelike Bybel (indien moontlik)…
Dramatiseer die volgende storie van ’n vorige bydrae…

Ek het ook `n volbloed woestynstorie:
Hoe ons `n jaar lank uitgesien het na ’n gesinsvakansie saam met vriende in Namibië.

Die kar en sleepwa was so gelaai met proviand vir die drie weke lange tog, dat daar `n gat in die petroltenk oopgeskeur is vanweë die wrywing van klippers op die grondpaaie.

Nadat ek dit laat herstel het, wou ek verlore tyd inhaal om weer by my gesin en vriende aan te sluit wat in die woestyn met tente staan. In my haas het my kar gerol. Ek was gelukkig ongedeerd, maar die kar is afgeskryf en ek moes terugreis Wellington toe om `n ander kar te kry, sodat ek my vrou en kinders wat in die woestyn wag, kan terugbring na die beskawing.

Hulle wagtyd is egter verder verleng. Ook hierdie tweede motor het meganiese probleme opgedoen. Hulle verblyf is ook bemoeilik deurdat hulle alleen (want die toergroep moes voortgaan), stofstorms, sprinkaanplae en verveling moes trotseer. In daardie soort omstandighede begin jy ook soos die Israeliete dink: Is die Here by ons of nie? Want in so `n krisis maak mense nie net rusie met mekaar en met die leier van die ekspedisie nie. God se voorsienigheid kom ook onder skoot.

`n Legende (opsioneel) oor hierdie rots wat water verskaf, het by Horeb rondom die einde van die Ou-Testamentiese periode bestaan: Dat dit by sy voetstuk afgebreek en agter Israel aan gerol het, soos die volk getrek het. Dit het gestop waar die volk stop, altyd regoor Moses se tent. En dat daar dan twaalf stroompies uitgevloei het, een vir elke stam. Paulus gebruik ook die legende in 1 Korintiërs 10:3-4.

Boodskap: In die middel van hierdie verhaal staan die getroue, magtige God. Hy is die spilpunt van menslike drama wat nood omswaai na geluk – van honger na versadiging, van dors na water, van blindheid na sig, van melaatsheid na heelheid, van armoede na welsyn en uiteindelik van dood na lewe.
Inkleurprent

Preekriglyn

Groot dele van ons land is in ‘n knellende droogte. In die Karoo en omliggende gebiede het baie dorpies en distrikte reeds Dag Zero wat watervoorsiening betref, bereik.

Adelaide, ‘n gemeenskap iewers tussen Port Elizabeth, Cradock en Grahamstad, is ‘n voorbeeld. Die droogte word as die ergste in 100 jaar beskryf. Die dorpsdam is leeg. Kwotawater uit die Visrivier wat vir Bedford bestem is, moet nou met Adelaide gedeel word, wat beteken die dorp kry baie min water, en dit bereik nooit die hoogliggende gedeeltes (meestal die arm woonbuurte) nie. [Kyk gerus na hierdie foto’s van die droogte in die Oos-Kaap, geneem op ‘n manier wat die mense respekteer.  Kopiereg op die webtuiste aangedui.]

Die meeste van Adelaide se woonbuurte is prakties afhanklik van water wat aangery word.

By die skryf hiervan kan Adelaide juig oor 60mm wat in Januarie 2020 geval het, maar die dorpsdam het steeds net ‘n modderpoel in die middel van sy droë vloer. Die dam se grondwal is in 1977 laas verhoog. Intussen het die dorp vier keer meer mense as toe.

Talle van Adelaide se inwoners, veral die armes, moet kilometers per dag loop vir water. Baie publieke instansies, soos kerke, skole, kleuterskole, outehuise is veral lamgelê deur die watertekort.

Op plase is die toestande haglik.

‘n Tekort aan water is geen grap vir mens en dier, plant en veld nie.

Die versugting is ons teks, waar is daar water om te drink, is vir baie maar te bekend.

‘n Rots is ‘n geleentheid

Teoloog Christina Landman sê oor die boodskap van hierdie teks: Wanneer jy saam met die Here loop, is elke rots ‘n geleentheid.

As ons na oud-Israel se geskiedenis kyk, vertel die geleerdes ons is daar veral twee dinge wat hulle ganse geskiedenis kenmerk: eenvoud en eenheid.

Wat eenvoud betref, kan die argeoloë wat opgrawings in Israel doen jou vertel dat al die gebruiksgoedere van oud-Israel eenvoudig was. Hulle vase, die kruike waarin hulle goed geberg het, alles spreek van eenvoud, anders as die Grieke en die Romeine van die outyd wat al hulle vase en kruike en wat hulle ook al gebruik het, oordadig versier het.

En dan die eenheid. Israel moes saamstaan om teen die vyand te oorwin. Maar hulle moes nie net in oorlog saamstaan nie, hulle het ook in groepe huise en dorpe gebly waar hulle moes saamstaan, saam kook en saam glo om aan die lewe te bly.

Onenigheid

Maar hier in Eksodus 17 lees ons van onenigheid. Die Israeliete is in die woestyn. Water is alles. En daar is niks. Mens en dier is besig om dood te gaan van die dors – en hulle verkwalik vir Moses. En wat doen Moses? Hy praat met God daaroor. Hy bid. Hy sê: “Here, help my, want die mense gaan my doodmaak.”

En wat gebeur dan? Die Here gee hom ‘n eenvoudige ding om te doen. Niks ingewikkelds nie. ‘n Rots. Sy staf waarmee hy die Rooisee (hier Nyl genoem) laat oopgaan het. ‘n Hou teen die rots. En water. Sodat die volk hierdie eenvoudige vraag weer kan antwoord: “Is die Here by ons of nie?” (Eks 17:7).

Tot die dood toe dors

En so het hierdie verhaal van Moses en die rots waaruit water kom, vir ons ook ‘n eenvoudige boodskap: Elke rots is ‘n geleentheid – as ons die pad saam met God stap.

Mense wat tot die dood toe dors is en vir wie God dan water voorsien om sy sorg en teenwoordigheid te bevestig, is ‘n bekende tema in die Ou Testament wat deurgaans voorkom. Wat so wonderlik aan hierdie verhale is, is dat God nie net water voorsien nie, maar dat die dors en water telkens ‘n geleentheid word vir die persone betrokke om te groei en sterker te word. Die rots van dors wees, word telkens ‘n geleentheid.

Kom ons kyk na drie sulke verhale.

Hagar

Die eerste is die verhaal van Hagar. Hagar is ‘n Egiptiese slavin wat die farao vir Abraham gegee het toe die farao vir Sara begeer het en Abraham gesê het sy is sy suster. Toe die farao uitvind Sara is Abraham se vrou, gee hy haar terug aan Abraham, sowel as die slavin Hagar. Toe Sara nie kon kinders hê nie, gee sy Hagar vir Abraham om vir hulle ‘n kind in die wêreld te bring. Hagar bring ‘n kind in die wêreld en begin haar wat te verbeel. Sara vererg haar en behandel Hagar só sleg dat sy wegloop. Maar die Here vir wie Hagar nie ken nie, beveel haar om terug te gaan.

Hagar leer die ware God nou ken. Omdat Hy haar in haar ellende – en veral haar dors in die woestyn –raaksien, noem sy hom “Die Een wat my sien”. Sara kry intussen haar eie seun en dring by Abraham aan om Hagar en haar kind weg te jaag omdat dit haar kind bedreig. En so kry ons vir Hagar in die woestyn, mét haar kind. En hulle is besig om van die dors om te kom. En dan lees ons in Genesis 21:19-20: “Toe het God Hagar se oë oopgemaak en sy het ‘n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir die kind water gegee. God was by die kind en hy het groot geword. Hy het in die woestyn gewoon en het handig geword met die pyl en boog.”

So, wat sien ons nou hier? Nie net bevestig God sy teenwoordigheid aan die een wat dors het nie. Die dors self word ‘n geleentheid. Die woestyn self word ‘n ruimte vir oorlewing en groei. Hulle woon nou in die woestyn, en die seun word handig met die pyl en boog.

Simson

Tweedens is daar die verhaal van Simson wat tot die dood toe dors geword het nadat hy ‘n 1 000 Filistyne met ‘n kakebeen doodgeslaan het. So lees ons in Rigters 15:18-19: “Simson was baie dors en toe roep hy tot die Here: ‘U het hierdie groot oorwinning deur my moontlik gemaak. Moet ek nou van dors sterf en in die hande van die heidene val?’ Toe het God die holte by Legi oopgebreek en daar het water uitgekom en Simson het gedrink en weer nuwe krag gekry. Daarom word die fontein in Legi nou nog Roepersfontein genoem.”

Hier gebeur weereens iets wonderliks met iemand wat tot die dood toe dors is: God breek vir hom ‘n rots oop sodat daar water uitkom. God bevestig dat Hy teenwoordig is. God sorg. Maar God gaan verder. Hy gebruik die geleentheid dat Simson nuwe krag kry en die plek ‘n naam wat ons vir altyd aan die verhouding tussen ons en God herinner: “Ons roep, en God voorsien.” As ons God se teenwoordigheid erken, is Hy daar om te sorg. En ons selfs nog verder te neem, met nuwe krag die toekoms binne.

Uit die koningstyd

Die derde verhaal is minder bekend. Ons lees daarvan in 2 Konings 3:4-27. Die koninkryk van Dawid en Salomo het in die Noordryk en Suidryk uiteengeval. En dat diegene wat voorheen aan Salomo belasting betaal het, dit nie meer hoef te doen nie, soos die Moabiete. So trek die koning van die Noordryk en die koning van die Suidryk saam met die koning van Edom op teen die Moabiete wat nie hulle belasting wil betaal nie. Op pad kom hulle byna van dors om.

Hulle roep die profeet Elisa om namens hulle met die Here te praat. Elisa vertel vir hulle die Here sê: “Môre sal daar damme en damme water in hierdie vallei staan. Ja, dit is wat die Here sê: Julle sal nie wind of reën sien nie, en tog sal hierdie vallei vol water word, sodat julle en julle slagvee en julle pakdiere kan drink. Vir die Here is dit maar iets gerings om te doen. Hy sal ook vir Moab in julle hand gee” (OAV).

En inderdaad, die volgende môre het daar onverwags water uit die rigting van Edom gekom en die hele gebied het vol water geloop. Die water was rooi (miskien was daar baie rooigrond in die gebied) en Moab dog dit is die bloed van Israeliete wat onder mekaar baklei, en hy sit af soontoe – en word verslaan.

Nou ja, wat het hier gebeur?! Dors word ‘n geleentheid om die vyand te verslaan. Ons hou nie vandag daarvan om van soveel oorloë en doodmaak te lees nie. Maar kom ons wees tog bly oor die boodskap van hierdie geleentheid. Mense is dors. Deur die profeet roep hulle tot God. God wys Hy is teenwoordig. God les nie net hulle dors nie, maar gee aan hulle die oorwinning.

Boodskap

Wat sê hierdie teks vandag vir ons?

In die droogte

Miskien is u vandag in die woestyn. Miskien dors u na uitkoms. In Eksodus lees ons van ‘n rots wat water gee. God sê: Glo net dat Ek by julle is, en dan sal die rots die geleentheid vir water word.

Van die Karooboere en die mense in droë dorpe sê hulle het geleer om vrede in God se teenwoordigheid te vind. Terwyl hulle bid vir reën, dank hulle God wat by hulle is in die droogte. En dank hulle die Here vir weldoeners wat water skenk, tenke installeer en kospakkies stuur.

Rotse

Ons sit almal met rotse in ons lewe. Dit lê voor ons in die pad, dit lê bo-op ons. Ons moet onsself herposisioneer ten opsigte van die rotse. Meer nog, met God kan ons dit in ‘n geleentheid omskep om nuwe krag te kry.

God is in die dors

Wanneer Jesus aan die kruis sê: “Ek is dors!”, roep dit al hierdie beelde uit die Ou Testament op waarna ons hier bo verwys het. Dit is ‘n belydenis van God se teenwoordigheid, van God se sorg. Soos Hagar, Simson en die manne van die drie konings, is Jesus sterwend van die dors. Maar God is teenwoordig. Vir Jesus wag die opstanding soos daar nuwe lewe was vir Hagar, Simson en die soldate. Vir Jesus was daar die ewige opstanding. Ook ons kan hoop, nie net op die ewige opstanding na die dood nie, maar op die daaglikse opstanding, uit ons fisiese behoeftes sowel as uit ons spirituele dors.

Lydenstyd

Toe die mense by Jesus se graf kom, vind hulle dat die klip weggerol is. Die rots was weggerol. En daar was nuwe lewe.

En dit is waarom ons in Lydenstyd weer die verhaal van Moses en die rots lees. Die mense in die woestyn toets God. Hulle is dors. God wys ‘n rots aan waaruit daar water sal kom. God is teenwoordig. Moses neem die mense kwalik dat hulle ooit getwyfel het dat God teenwoordig is.

Aan die kruis, terwyl Hy verskriklike pyn ly, sê Jesus: “Ek is dors!” Daarmee bely Hy God se teenwoordigheid in jou diepste pyn.

Dit alles het gebeur sodat ons nie hoef te twyfel waar God is nie. In ons diepste pyn, voor die grootste rots wat in ons pad lê, is God nie net teenwoordig nie – Hy maak van elke rots, elke kruis, ‘n geleentheid.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Seën: (ahv Romeine 5)
Verheug jou dan in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God…
verheug jou ook in swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en
volharding kweek egtheid van geloof, en
egtheid van geloof kweek hoop; 5en
dié hoop beskaam nie,
want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.
Die genade, en die liefde en die teenwoordigheid van die drie-enige God
sal met jou wees.
Amen

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.