Derde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag staan bekend as Oculi (“oë”) na aanleiding van Psalm 25:15: “My oë is altyd op die Here gerig.” Die teks uit 1 Korintiërs 1 verkondig dat die boodskap van die kruis van Christus wel onsin is vir dié wat verlore gaan, maar dat dit die krag van God is vir dié wat gered word. Deur die lens van Psalm 19 gesien, is dit die volmaakte openbaring van die Here wat ons oproep tot dié soort lewe wat aan ons voorgehou word in die Tien Gebooie (Eks 20). Die vertelling van die reiniging van die tempel in Johannes 2 sluit hierby aan deur te beklemtoon dat almal die geleentheid gegun moet word om hulle oë op die Here te rig en dat hulle nie deur menslike gierigheid en wette daarvan weerhou mag word nie.

Ander tekste

Eksodus 20:1-17
Die tien gebooie
(Vgl Deut 5:6–21)
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:
2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

13“Jy mag nie moord pleeg nie.

14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

15“Jy mag nie steel nie.

16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.

17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”
Die openbaring van die Here is volmaak

19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Johannes 2:13-22
Die reiniging van die tempel
(Matt 21:12–13; Mark 11:15–17; Luk 19:45–46)
13Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. 14Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit. 15Toe het Hy met toutjies ’n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer. 16Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie.”

17Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.” b

18Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?”

19Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.”

20Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”

21Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. 22Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.

Sleutelteks

1 Korintiërs 1:18-25
Christus as krag en wysheid van God 
18 Die boodskap van die kruis is immers dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God.
19 Want daar staan geskryf:
“Ek sal die wysheid van die wyses tot niet maak
en die insig van die verstandiges verwerp.”

20 Waar is die wyse man, waar die skrifkenner, waar die redevoerder van hierdie wêreld? Het God dan nie die wysheid van die wêreld dwaasheid laat word nie? 21 Trouens, deur die wysheid van God het die wêreld Hom nie deur hulle wysheid leer ken nie. God het verkies om hulle wat glo, te verlos deur die dwaasheid van die verkondiging.

22 Die Jode vra tekens en die Grieke soek wysheid. 23 Ons egter, verkondig ‘n gekruisigde Christus . Vir die Jode is dit ‘n struikelblok en vir die nie-Jode ‘n dwaasheid. 24 Maar vir diegene wat geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25 Want die dwaasheid van God is wyser as dié van mense, en die swakheid van God is sterker as dié van mense.
Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3817). Kindle Edition.

Ekstra stof

Agtergrond
Ons lees in Handelinge 18:1-18 van Paulus se bediening in die gemeente van Korinte op sy tweede sendingreis. Uit sy eerste brief aan die Korintiërs blyk dit dat Paulus daar aangekom het: “bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering” (1 Kor. 2:3). Dit was na die teenstand in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene. In Filippi is hy geslaan en in die tronk gegooi (Hand. 16:11-40); in Tessalonika is hy sterk teengestaan deur die Jode (Hand. 17:1-9), sowel as direk daarna in Berea waarheen dieselfde Jode hom agtervolg het en ook daar uitgedryf het (Hand. 17:10-15); en sy bediening in Atene op die Areopagus het maar ‘n flou respons uitgelok (Hand. 17:16-34).

Dat Paulus hom ook hier in Korinte voorgeneem het om nie “met hoë woorde of groot geleerdheid” (1 Kor. 2:3) met hulle te praat nie, verwys waarskynlik ook terug na sy toespraak op die Areopagus in Atene, die stad. Hy wou egter ook fokus op die kern van die boodskap van Jesus Christus, spesifiek die kruis (1 Kor. 2:2), en dit in die krag van die Heilige Gees doen (1 Kor. 2:4), ‘n teologiese perspektief wat broodnodig was in die lig van die afwykende idees van sommige van die gemeentelede wat mettertyd kop uitgesteek het. Dieselfde geld sy lering oor die opstanding in 1 Korintiërs 15.

Die mense van Korinte het hom goed behandel en sy boodskap is met goeie gevolg ontvang. Hy kon ‘n hele jaar en ‘n half daar bly en sake het regtig baie goed verloop.

Dit is nou op sy derde sendingreis, nadat Paulus die gemeentes in Galasië en Frigië besoek het, dat Paulus weer in Efese aangekom het en meer as 2 jaar daar kon bly. Terwyl hy daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou het (Hand. 19:1-20), het hy in die aande waarskynlik sy briewe aan die Korintiërs geskrywe (1 Korintiërs was sy tweede brief aan hulle – vgl. 1 Kor. 5:9 wat na die eerste brief verwys). Dit is ook moontlik dat hy Korinte hierna weer besoek het (Hand. 19:21-20:6), voordat hy in Masedonië 2 Korintiërs geskrywe het, wat waarskynlik eintlik 2 briewe was, sy 4de en 5de brief (hfst. 1-9 en hfst. 10-13), en sy tranebrief, sy 3de brief, opgevolg het (2 Kor. 2:4).

1 Korintiërs
In sy eerste brief aan die Korintiërs raak Paulus ‘n hele aantal groot vraagstukke aan, meesal sake wat oor die Christelike lewenswandel gaan, waaroor Paulus hulle wil onderrig.

Dat dit nodig was, spruit onder andere uit voortslepende impak van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte op die nuwe bekeerlinge. Julius Caesar het in 44 v.C. die stad weer opgebou, nadat dit vir meer as ‘n eeu dormant gelê het (Rome het dit in 146 v.C. verwoes). Die strategiese posisie van die stad, op die 5 km breë landengte tussen Ooste en Weste, het beteken dat dit gou in ‘n groot handelstad ontwikkel het, met ‘n groot kosmopolitaanse samestelling van mense reg oor die Romeinse ryk.

Nie net was daar dus groot rykdom nie, maar ook baie gode en godsdienste, waarvan sommige moreel dekadent was, die vernaamste waarvan die Afrodiete – godin van die liefde – godsdiens was, met die groot altaar op die Akrokorinte berg. Sommige historici bereken dat daar in haar hoogbloei meer as ‘n duisend prostitute in tempeldiens was. Die term “meisies van Korinte” het ‘n idiomatiese uitdrukking in ander stede geraak wanneer mense na prostitute verwys het. Geen wonder dat een van die roerendste gedeeltes in die Korintiërbrief juis die verheerliking van die liefde was, wat van God kom, in direkte opposisie met die leerstellings van die heersende godin van die liefde van Korinte.

Sport was ook ‘n geliefde tydverdryf met die tweejaarlikse Istmiese spele wat as teenvoeter vir die Olimpiese Spele in Olimpia gehou is. Paulus sinspeel heel moontlik op hierdie spele in 1 Kor. 9:24-27.

Wat veral opmerklik is, anders as wat die geval was in Tessalonika, is dat hierdie kulture en godsdienste se idees nie net van buite af op die gemeente ‘n impak gehad het nie, maar van binne af, omdat dit deur sommige lidmate van die gemeente aangehang is. En hierdie mense het Paulus direk aangevat omdat hulle nie met hom saamgestem het nie, onder andere ook as gevolg van (doelbewuste?) misverstande wat uit sy eerste brief gespruit het (1 Kor. 5:9-11).

Paulus kon dus nie hierdie alternatiewe leringe en perspektiewe ongebreideld laat aangaan nie. Vandaar die berispende emosionele toon van sy brief. Let bv. op na die taal van konfrontasie (1 Kor. 4:18-21), appèl (1 Kor. 10:31 vv.), sarkasme (1 Kor. 6:5) en ironie (1 Kor. 1:26-27) wat hy gebruik. En 2 Korintiërs wys dat dit eers slegter met hulle verhouding gegaan het, voor dit uiteindelik herstel is!

Dit is ook duidelik dat sommige van hierdie lewenswandel sake deur die huisgesin van Chloë (1 Kor. 1:11) aan Paulus gerapporteer is, moontlik met die besoek van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus (1 Kor. 16:17). Dit is sake soos: verdeeldheid en wysheid (1 Kor. 1:10-4:21), bloedskande (1 Kor. 5:1-13), hofsake (1 Kor. 6:1-11) en prostitusie (1 Kor. 6:12-20), waarskynlik ook die vraag na die hoofbedekking van vroue, wat saamhang met die vraag na die algemene rol van vroue in die gemeente (1 Kor. 11:2-16) en die nagmaalviering (1 Kor. 11:17-34).

Maar daar is ‘n hele klomp ander sake wat Paulus verder aan in sy brief aanraak, wat heel waarskynlik in antwoord is op ‘n vroeëre brief van die Korintiërs aan hom (1 Kor. 7:1). Telkens lei hy dié sake in met die frase: “En nou …” en dan hanteer hy die sake waaroor hulle vrae gehad het. Dit gaan oor sake soos seks en die huwelik (1 Kor. 7:1), ongetroudes (maagde – 1 Kor. 7:25), offers aan afgode (1 Kor. 8:1), geestelike gawes en die erediens (1 Kor. 12:1), offergawes (1 Kor. 16:1) en oor Apollos (1 Kor. 16:12).

Die enigste saak wat nie oor die Christelike lewenswandel gaan nie, is die lering wat Paulus oor die opstandingsliggaam gee in hoofstuk 15, hoewel dit ook duidelik iets is waaroor die Korintiërs afwykende idees gehad het, en Paulus hulle daaroor wou onderrig.

Die teologiese perspektief op die opstanding verteenwoordig waarskynlik ook ‘n korrektief nie net op hulle idees oor die geestelike gawes en wat dit beteken om geestelik te wees nie, maar ook op hulle idees oor die Christelike lewenswandel.

‘n Mens se gedrag hier en nou word immers onder andere bepaal deur hoe jy dink oor die toekoms. As jy nie in die opstanding glo nie, kan jy eintlik hier mos maak wat jy wil. Dit maak dan nie saak, volgens sommige Korintiër gelowiges, of jy asketies lewe (1 Kor. 7) of immoreel (1 Kor. 5-6) nie, solank jy net geestelik is, en bv. in tale praat (1 Kor. 14).

In tandem met sy aanvanklike beklemtoning van die kruisteologie (1 Kor. 1:17-2:16) begrond hierdie twee teologiese perspektiewe – die kruis en die opstanding – die Christelike lewenswandel, en spel dit die raamwerk uit waarbinne hulle dissipelskap uitgelewe moet word. Dit is ook die basis van die eenheid wat hy bepleit onder almal wat deel is van die gemeenskap van Christus.

Hoofstuk 16 sluit die brief af met ‘n paar praktiese sake.

1 Korintiërs 1 – Partyskappe skend die Eenheid in Christus
Paulus begin sy brief met ‘n verantwoording van sy roeping as apostel van Jesus Christus, die eerste keer dat hy die benaming eksplisiet in sy briewe begin gebruik. Hy begrond sy apostelskap in God se wil, waarvandaan ook sy gesag kom om met “God se gemeente” in Korinte in gesprek te tree.

Sostenes, waarskynlik die voormalige hoof van die sinagoge in Korinte (Hand. 18:17), maar nou ‘n gelowige en medebedienaar van die Woord, word nie net saam met Paulus as outeurs van die brief aangedui nie, maar dit kan wees dat Paulus dit moontlik aan hom as sekretaris gedikteer het (1 Kor. 16:21).

Paulus dank God vir die wyse waarop Sy genade onder hulle posgevat het, veral in die gawes van woord en kennis. Hy is ook opgewonde dat hulle vol verwagting uitsien na die wederkoms (al gaan hy in hfst. 15 tog weer hieroor gesels). Geloof en hoop is goed gevestig in hulle gemeente.

Maar hy kan hulle nie loof vir hulle gebrek aan eenheid nie. Die onderlinge liefde ontbreek dus. Vergelyk dit met sy dankwoord aan die Tessalonisense waar hy hulle geprys het vir hulle geloof, liefde en hoop (1 Tes. 1:3; 2 Tes. 1:3-4). Geen wonder dat hy ‘n hele hoofstuk later sou afstaan aan die onderwerp van die liefde nie, want dít is wat hulle kort gekom het (1 Kor. 13).

Hy spreek hulle daarom skerp aan oor die verdeeldheid wat veral in groepvorming en partyskappe onder hulle na vore kom, soos Chloë se mense aan hom kom oordra het. Dit is immers hulle roeping, om met mekaar “verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.”

Die gemeente het hulle identiteit in vier groepe gesoek, dié vir Paulus (die stigter van die gemeente), dié vir Apollos (‘n uitstekende redenaar uit Aleksandrië), dié vir Sefas (Petrus, die leier van die apostels) en dié vir Christus (die werklik vromes?!). Let op dat die verskille nie leerstellig was nie, maar groepvorming of partyskappe rondom leiers. Paulus gril by dié gedagte en gaan direk oor tot ‘n diepsinnige Christologiese verantwoording van hulle identiteit: Ons is Een in Christus, die krag en die wysheid van God. Hy is die enigste leier wat in die middelpunt van ‘n gemeente mag staan.

1 Korintiërs 1:18-25 – God pas nie aan by die heersende wysheid van mense nie
Met verwysing na Jesaja 29:14 bevestig Paulus in vers 19 en verder die OT gedagte dat God Hom nie aanpas by die heersende wysheid van mense nie, maar ontferm oor dié wat glo. Dit is nie wat jy weet wat God se aandag trek nie, maar dat jy glo. Hiermee rig Paulus hom teen beide die Joodse en Griekse weersin in die boodskap van die kruis. Die Jode neem aanstoot in die kruis omdat hulle eerder ‘n wonderteken sou wou sien (ironies dat hulle die wonder van die opstanding geïgnoreer het en net op die kruis gefokus het); die Grieke dink die kruis is onsin omdat dit menslike denke uitgesluit het, en net afhanklik was van geloof in God.

Hoewel Paulus in hoofstuk 2 eers verder gaan uitbrei oor hoekom God die weg van die prediking en die openbaring van die Gees kies om sy boodskap aan mense oor te dra, gaan hy in hoofstuk 3 terugkom na die betekenis van hierdie gedagte – dat God se wysheid en menslike wysheid teenoor mekaar staan – en dit van toepassing maak op die “wyse” idee van groepvorming, en uitwys hoe dwaas dit in die oë van God is. Groepvorming kom na vore uit jaloesie en twis en skaad die gemeente, wat die gebou van God is.

Eenheid in die waarheid is ononderhandelbaar in die kerk wat God tot stand bring in ‘n gebied. Dit is doodgewoon onaanvaarbaar dat daar groepvorming en partyskappe in ‘n gemeente rondom leiers ontstaan, hetsy uit jaloesie of uit ‘n getwis.

Elkeen van ons moet ons eie lojaliteite in die gemeente ondersoek of ons nie ook hieraan skuldig is nie, hoe onskuldig dit op die oog af ook al vir ons kan voorkom. En dan praat ek nie eers van die breër Christelike prentjie in ons stede en dorpe nie …

Liturgie

Pers is die liturgiese kleur van Lydenstyd. Daar is ook dae waarop ander kleure gebruik kan word. Tydens die Groot Lydensweek word donkerrooi gebruik, maar op Donderdagaand vir die viering van die instelling van die nagmaal word wit gebruik. Op Aswoensdag is die kleur grys en op Goeie Vrydag swart saam met grys.

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord: Psalm 19
of die suggestie uit die Basisliturgie…

Seëngroet  

Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Wet: Eksodus 20 is een van die ander tekste. Ons gebruik die Boodskap se weergawe.

Skuldbelydenis: Lied 235 “Voor U wet Heer staan ons skuldig 1,2”

Vryspraak: (Uit die fokusteks, 1 Korintiërs 1) of
Doop of doopherinnering as vryspraak

Geloofsbelydenis: ahv 1 Korintiërs 1

Loflied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Epiklese – uit Psalm 25:1-10

Skriflesing: 1 Korintiërs 1:18-25

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 387 “O Heer uit bloed en wonde 1,2,3,4”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord: Psalm 19
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend…
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
Die gebod van die Here is helder:
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig…
of die suggestie uit die Basisliturgie…
V: Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou
G: as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,

V: maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.
G: En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder.

V: Hy was gehoorsaam tot in die dood,
G: ja, die dood aan die kruis.

V: Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef
G: en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,

V: sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is,
G: die knie sou buig,

V: en elke tong sou erken:
G: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.
Almal: Amen.
– uit Filippense 2:5-11

Seëngroet  
Gemeente van God in (dorp/stad),
wat die Here in Christus Jesus afgesonder
en geroep het om aan Hom te behoort,
en aan almal, waar hulle ook mag wees,
wat die Naam aanroep van Jesus Christus,
hulle Here en ons Here.
Genade en vrede van God, ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Wet: Eksodus 20is een van die ander tekste. Ons gebruik die Boodskap se weergawe.
“Jy mag nie vir jou ’n beeld maak of iets in die skepping probeer naboots om dit te aanbid of daarvoor te offer nie. Jy mag nie beelde maak wat lyk soos enigiets wat in die lug daar bo is of soos iets hier op die aarde waarop jy bly of soos iets in die plekke in die water onder die aarde, om dit te vereer soos God nie. Ek verdra dit nie dat jy in ander gode glo nie. Ek reken met almal af wat die rug vir My draai, selfs met hulle kleinkinders en agterkleinkinders. Die Here het die volgende reëls vir sy ooreenkoms met die volk gegee: “Ek is die Here. Ek is jou God. Ek het jou uit Egipte bevry waar jy slawewerk gedoen het. Net Ek mag jou God wees. Jy mag nie ander gode hê nie.

Ek bly getrou en my liefde bly altyd staan vir duisende geslagte lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam is. “Jy mag nie die Here jou God se Naam sommerso gebruik nie. Die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik sonder dat hy respek vir die Here het. “Onthou dat die sewende dag die Here se dag is. Jy moet ses dae lank met jou werk aangaan en jou met jou alledaagse dinge besig hou. Die sewende dag is die Here jou God se dag. Jy, jou kinders, die man en vrou wat vir jou werk, jou vee en die buitelander wat by jou bly, nie een van hulle mag op die sewende dag met elke dag se werk aangaan nie. Die Here het die lug, die grond en die see met alles wat daarin bly, binne ses dae gemaak. Op die sewende dag het die Here gerus. Die Here het daarom van die sewende dag iets besonders gemaak en dit vir Hom eenkant gesit. “Jy moet respek hê vir jou pa en jou ma. Jy sal dan lank en gelukkig leef waar die Here jou laat bly. “Jy mag nie iemand anders doodmaak nie. “Jy moenie ontrou wees aan jou man of jou vrou en by iemand anders slaap nie. “Jy moenie iets steel nie. “Moenie vir ander mense lieg en hulle bedrieg nie. “Moenie afgunstig raak op iemand anders se besittings nie. Jy moenie wens dat sy vrou of sy werkers, sy bees of sy donkie, eerder aan jou behoort het nie. Jy moenie jaloers wees op die dinge wat iemand anders het en dink dat jy dit eerder moes besit het nie.””

Skuldbelydenis: Lied 235 “Voor U wet Heer staan ons skuldig 1,2”

Vryspraak:  (Uit die fokusteks, 1 Korintiërs 1)
18 Die boodskap van die kruis is immers dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God.
of
Doop of doopherinnering as vryspraak
V: Ook Christus het een maal vir die sondes gely,
G: die onskuldige vir die skuldiges,

V: om julle na God te bring,
G: Christus, wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.

V: Gemeente, hoe weet ons dat ons deel in die lewe van Christus Jesus?
G: Deur ons doop in die Naam van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

V: Die doop dui op ons verlossing in Christus Jesus: Dit is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie,
G: maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete.

V: Gemeente, waarvan verseker die doop ons?
G: Dat God ons gered het op grond van die opstanding van Jesus Christus.

V: Gemeente, hoe laat die doop ons deel in die lewe van Jesus Christus?
G: Die doop is ’n teken en ’n seël daarvan dat ons saam met Christus gesterf het en deur die Gees lewend gemaak is.
– uit 1 Petrus 3:18-22

Geloofsbelydenis: ahv 1 Korintiërs 1
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.

En ek glo in die boodskap van die kruis:
Die boodskap van die geloof is dat jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, en so word ons gered.

Ek glo in die kruis van Christus:
Christus wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Ek glo dat die kruis van Christus die verlossing en krag van God is.
Deur Christus se dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap- Hy het die goeie boodskap van vrede gebring. Meer nog, Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.

Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Liedere

F12 “Meer As Ooit”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Verwondering)
Oorspronklike titel: Above all
Teks en Musiek: Lenny LeBlanc & Paul Baloche
Afrikaanse vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1999 Integrity’s Hosanna Music / LenSongs Publishing
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Meer as rykdom, meer as mag,
as die skoonheid van sterre in die nag,
meer as wat ons ooit op aarde wen,
is dit werd, o Heer, om U te ken.
Meer as silwer, meer as geld,
al die blomme, die diere in die veld,
meer as dit, so eindeloos veel meer,
was die prys wat U betaal het, Heer.

Refrein:
Aan ‘n kruis en in ‘n graf van steen,
U leef en sterf, verworpe en alleen.
Immanuel, U die God met ons
U dra die straf en dink aan ons –
meer as ooit.

F175. “Vry”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Vergifnis / Lof / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Elsche van Wyk 
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

Refrein:
Vry ons is vry
Deur sy bloed en sy genade is ons vry
Ons is vry. Van die pyn
En smart het Jesus ons bevry

Heer, elke dag is ‘n belofte
Elke oomblik net geleen
Die ganse heelal bring U ere
Deur U Seun is ons vergeef
Verlos van sonde en die dood
Aan die kruis het U gely
En Here, ons sê dankie
Dankie Here ons is vry

Heer, U verlos ons deur genade
U vergewe en vergeet
Die kruis van Golgota bring lewe
En reddingskrag is hier vir my
Deur Jesus Christus is daar lewe
Elke knie sal voor Hom buig
U’t ons vrygemaak van sonde
En die vyand is oorwin.

God praat met ons en ons luister

Epiklese – uit Psalm 25:1-10
V: Tot U, Here, rig ek my,
G: my God, op U vertrou ek.

V: Laat my vertroue tog nie vergeefs wees nie.
G: Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie.

V: Maak my u wil bekend, Here,
G: leer my u paaie.

V: Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin,
G: want U is God, my redder.

V: Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is.
G: In U stel ek elke dag my verwagting.

V: Tot U, Here, rig ek my,
G: Maak my u wil bekend, Here.

Mag die woorde van my mond en die oordenking van my hart
welbehaaglik wees voor U aangesig:
o Here, my rots en my verlosser. (Psalm 19)

Skriflesing: 1 Korintiërs 1:18-25

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Die fokusteks bied ‘n goeie geleentheid om ‘n doopherinnering te doen, wat ook tydens die Familie-oomblik kan plaasvind. Dit kan ingelei word deur ‘n besprekingsvraag waartydens gemeentelede vir mekaar kan vertel wat hulle weet van hulle eie doop of onthou van hulle kinders se doop.

Roep dan die kinders vorentoe en vra hulle uit oor wat hulle van die doop weet. Wys vir hulle die doopvont en die water. Vra wat ons alles elke dag met water doen. Wanneer hulle sê ons bad of stort, verduidelik: Net soos die water al die vuil van ons afwas wanneer ons bad, is die water van ons doop ‘n teken dat alle sonde van ons afgewas is. Noem ook dat ons die meeste van die tyd babas doop wat nog nie verstaan of gesondig het nie, juis omdat ons niks kan doen om God se liefde en vergifnis te verdien nie, soos vandag se fokusteks beklemtoon.

Roer/ sprinkel/ illustreer die water sodat kerkgangers dit sien…

Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is vs 1,2,3,4”

Preekriglyn

1 Korintiërs 1:18-25 beskryf die kontras tussen menslike wysheid en die wysheid van God. Goddelike wysheid mag en kan nie deur menslike insig en intelligensie gemeet word nie.
Kennis wat mense vanuit menslike bronne ontwikkel, kan nie die finale en grootste vrae antwoord nie. Ons het openbaring, kennis wat God gee, nodig.

Christus, die Gekruisigde

Wysheid, goddelike kennis en openbaring is: Christus wat gekruisig is, is die Messias, die Verlosser, die Een wat versoening tussen mens en God bewerk het. Daar is geen ander wysheid nie. Daar is geen ander manier waarop Jood of Griek wie ook al by God kan uitkom nie – nóg Joodse wette, nóg die Grieke se wysheid kan dit bewerkstellig. Paulus sê aan die Korintiërs hy het hom voorgeneem om met hulle oor niks anders as daaroor te praat nie (2:2-3).

Die “woord van die kruis” bring verandering in die bestaanswyse van die hoorders. Hulle gaan óf verlore óf word gered. Terwyl die hoorders die kruisboodskap opweeg en dit óf as dwaasheid óf as wysheid beoordeel, is dit dieselfde woord van die kruis wat hulle as verlorenes of gereddes bestempel.

Waar Paulus die boodskap van die kruis verkondig het, het hy dit nie met menslike welsprekendheid gedoen nie. Hy het dit ook nie met sjarmante retoriek probeer opsmuk nie. Hy wou nie die aandag op homself vestig nie. Veel eerder moes die reaksie op sy prediking wees: “Hoe groot is ons sonde en skuld! Hoe oorweldigend is die liefde van die God. Hy wat sy Seun gestuur het om die skande van die kruis ter wille van ons verlossing te dra!”

Voorbeeld uit die geskiedenis

Paulus haal Jesaja 29:14 aan wat aankondig dat God teen alle menslike berekening en verwagting in Jerusalem uit die hande van die Assiriërs sou verlos. Juda het egter geweier om na die wysheid van God se profete te luister. Hulle beplan toe hulle eie ontsnapping deur ‘n alliansie met Egipte te sluit.

In dié teks vind Paulus die voorspelling dat Jesus Christus, as deel van sy goddelike sending na die wêreld, deur die kruis die wysheid van die mense tot niet sou maak. Die Korintiërs wat die Ou Testament geken het, moes nou ook begryp het dat almal wat hulle op grond van menslike wysheid of verstand verhef, deur God beskaam en kragteloos gemaak sal word.

In sy wysheid het God dinge so gestruktureer dat ons Hom nie deur ons wysheid kan ken nie. Slegs wanneer God Homself aan openbaar, kan ons Hom ken. Selfs bose mense kan Hom duidelik sien (Rom. 1:22-23). Baie mense kies egter om hierdie openbaring te ignoreer.

‘n Plek vir menslike kennis

Menslike wysheid en onderskeidingsvermoë het sy wortels in dissiplines soos die geskiedenis en wetenskap wat beloof om ons lewe op so ‘n manier te verlig dat ons toekoms helderder as ons verlede sal wees. Hierdie soort wysheid hou inderdaad belofte in. Dit gee lewensgehalte met behuising, voedsel, vervoer, vermaak en tegnologie wat vantevore selfs nie eers by gesiene mense sou bestaan nie.

Moderne tegnologie maak dit moontlik om gevare raak te sien lank voordat dit ons tref. Met moderne medikasie leef ons langer en minder pyn as ooit tevore. Die internet maak ondenkbare moontlikhede oop. Tog kan al die lesse uit die geskiedenis en wetenskap ons nie ewige sekuriteit bied nie. Ons is klaarblyklik nie nader aan die oplossing van die probleem van die bose nie!

Nog twee voorbeelde

Paulus kan met reg vra waar die geleerde en die wyses bly.

Luister na Jesaja 33:18. Nadat God Jerusalem uit die hand van die Assiriërs verlos het, vra die profeet: “Waar is hy wat getel het? En hy wat geweeg het? En wat die torings opgeskryf het?” Met ander woorde, waar is die opskrywers wat vooruit alles wat in Jerusalem was opgeskryf het met die doel om dit as buit te verdeel? God self het hulle verdryf.

Met ‘n verdere verwysing na die Ou Testament (Jes. 44:25) vra Paulus: “Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?” Die optrede van Kores het die terugkeer uit die ballingskap bewerkstellig. Daardeur is “die tekens van die leuenprofete vernietig en die waarsêers tot dwase gemaak, en die wyse agteruit laat wyk en hulle kennis domheid gemaak”.

Wat in die Ou Testament gebeur het, geskied ook by die kruis. Die teken van vernietiging het God as teken van redding aangewend.

Nie van onder tot by God nie

Die beperktheid van die menslike wysheid blyk daaruit dat die wêreld met al sy wysheid, insig, filosofieë en geleerdheid God nie geken het nie. Dit het die Here behaag om ‘n ander weg vir die mens oop te maak – die enigste weg: dié van die dwaasheid van die kruisprediking.

Die twee belangrikste groot etniese groepe van die Korintiërs se leefwêreld het die Christendom as dwaas beskou.

In die Joodse tradisie het God Homself telkens in hulle geskiedenis deur tekens kenbaar gemaak (vgl. Gideon, Moses en Elia). Baie Jode het daarom na dramatiese en wonderbaarlike tekens gesoek wat Jesus se aansprake sou bevestig. Dit het Hy geweier het om te gee (Matt 12:38-42). So verlang hulle ook van Paulus uiterlike, sigbare en tasbare tekens.

Om ‘n teken te eis, is eintlik om daarop aan te dring dat God Homself moet bewys. Dit is om aan te dring dat God deur óns hoepels moet spring en dinge op óns manier doen. Jesus het wonderwerke gedoen, maar dit het geen nut gehad vir diegene wat tekens geëis het nie (Matt 16:1-4; Joh. 2:23-25; 4:48).

Baie Grieke daarenteen, beskou spekulatiewe filosofieë as die hoogste menslike ideaal, met gepaardgaande klem op retoriek, estetika en elitisme. Vir sulke mense was die kruis inderdaad ‘n struikelblok en dwaasheid.

‘n Gekruisigde?

Dit is ‘n geweldige grot aanspraak om te maak: dat die gekruisigde Christus die openbaring van God se wysheid is.

Kruisiging was ‘n wrede manier om te sterf, en ‘n skande. Die Romeine het kruisiging vir die grootste oortreders gereserveer. Openbare kruisiging moes verbygangers afskrik teen misdrywe teenoor Rome. Kruisiging moes vrees en afsku opwek.

Vir sommige Jode was die kruisiging beskou as ‘n bewys dat Jesus as gevolg van sy eie sonde deur God vervloek is (Deut. 21:23). Die Grieke het talle aspekte van die verhaal van Christus se dood dwaas gevind. ‘n Lydende God, ‘n messias wat deur die owerhede as ‘n krimineel gesien is, en ‘n weg na God wat nie op menslike intelligensie en wysheid gebaseer was nie, het nie in hulle denkraamwerk ingepas nie.

Krag en wysheid van God

Teenoor diegene wat aanstoot neem, was daar ‘n besondere groep Jode en Grieke vir wie Christus die krag van God en die wysheid van God is. Hy noem hulle “diegene wat geroepe is”.

Die konsep van God wat mense roep, kom in die Ou en Nuwe Testament voor. In die Ou Testament het God vir Abram, Moses en andere tot besondere opdragte geroep. In die Nuwe Testament het Jesus vir Paulus geroep om ‘n apostel te word. God roep ons almal om in verhouding met Hom te wees. Die Nuwe Testament gebruik ekloge vir “verkiesing”. God roep die geloofsgemeenskap, die kerk, om sy volk te wees. Daarvoor verkies Hy hulle uit.

Die verkondiging van die eenvoudige verhaal van Christus se kruisdood laat mense tot hulle verbasing ontdek dat dinge verander. Lewens verander. Menslike harte verander. Situasies verander. Nuwe gemeenskappe bestaande uit mense wat deur die boodskap aangegryp en vernuwe is, ontstaan.

Nie welsprekend nie

1 Korintiërs 1:18-25 staan in ‘n mate teenoor die merkwaardige suksesse van die prediking van die kruis op Pinksterdag (Hand 2:1-41) of in Tessalonika 20 jaar later (1 Tess 1:4-10). Paulus herinner ons hier daaraan dat ons nie altyd groot of opspraakwekkendste reaksies op die verkondiging van die kruisboodskap moet verwag nie. ‘n Christendom wat té gewild raak, loop die gevaar dat dit besig is om die kruisboodskap te verwater.

Ons leef in ‘n era van gebruikersvriendelike en soekersensitiewe tegnieke vir kerklike groei. Sommige tegnieke beïnvloed slegs die vorm en nie die inhoud van die evangelie nie, maar ander is meer verdag. Soms word menslike sonde en persoonlike aanspreeklikheid vir bose dade verswyg ter wille daarvan dat die blaam op korrupte sosiale invloede geplaas kan word.

Vandag sukkel kerke ook om ‘n gebalanseerde teologie van tekens en wonders te formuleer. Ons mag nie God in ‘n kissie probeer plaas en eis dat Hy wonderwerke moet doen nie – of selfs beweer dat as Hy dit nie doen nie, is dit die gevolg van onvoldoende geloof.

Gehoorsaamheid

Ons is geroep om anders te leef, te redeneer en oor ons wêreld te dink. Ons ou lewe moet gekruisig word. Ons moet sterf en opstaan en uitroep: “Vir ons is Christus die krag van God en die wysheid van God!”

Die kerk is nog altyd geroep om anders te leef. Paulus sê aan God se gemeente in Korinte, mense wat anders is as al die ander mense in Korinte, Grieke en Jode met al hulle wysheid en voorkeure: “Julle is geroep. Julle is aangespreek, opgeëis, ‘n nuwe lewe gegee, ‘n nuwe opdrag gegee.”

God roep ons om in sy krag en wysheid te lewe en nie meer soos ons self wil nie.

Gewone mense met gewone omstandighede en gewone talente word geroep om gehoorsaam aan Jesus in die wêreld gesien te word.

Paulus beklemtoon dat ons nie soveel aan onsself en ons kwalifikasies moet dink nie. Hy spoor ons aan om eerder aan Jesus, die Gekruisigde te dink. Hy is vandag nog die verpersoonliking van dwaasheid vir baie mense en ‘n struikeling vir die wat hulle eie pad wil loop.

As ons as kerk vandag Christus se leefwyse navolg, sal ons die beginsels waarvolgens die wêreld georganiseer is, ontmasker. Dan sal ons as Christus se volgelinge dit sigbaar maak dat die mag van die wêreld nie ons veiligheid waarborg nie en die rykdom van die wêreld nie ons angs verlig of ons gelukkig maak nie.

Paulus sê dat ons tog mag roem, maar dan oor die regte dinge. Roem daarin (spog daarmee) dat God die bron van jou lewe is. Roem daarin (spog daarmee) dat God ons deur Jesus geheel en al veilig en gelukkig maak. Roem in (spog oor) die krag en die wysheid van God.

God stuur ons om te leef

Gebed
Byna te laat, Here, het ek U leer liefkry … Byna te laat het ek U begin liefhê. U was die hele tyd in my, maar ek het U so lank buite my gesoek. So lelik in my sonde, het ek in die prag van die skepping na U gaan soek – al was U die hele tyd by my, in my. Die dinge waarin ek U gesoek het, het my juis van U weggehou en ek moes vind: in hulleself het hulle geen waarde nie, net in U. Ek was doof en blind, my sintuie afgestomp … Maar U het na my geroep, al harder en dringender totdat U my dowe ore met u stem oopgeblaas het. U het rondom my geskyn en geskitter totdat my blinde oë se skille afgeval het. U het wondergeure rondom my in die lug geplaas totdat ek my asem bedwelmd moes intrek … en nou is ek gek na U. U het my aangeraak en nou kan ek sonder u vrede en teenwoordigheid nie leef nie. Amen.
– Gebed van Augustinus, uit Ewald van Rensburg, God seën Afrika: Stories, gebede en wyshede

Offergawes

Wegsending: Lied 387 “O Heer uit bloed en wonde 1,2,3,4”

Seën
Ek bid dat die God van ons Here Jesus Christus,
die Vader
aan wie die heerlikheid behoort,
deur sy Gees aan julle wysheid gee
en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder
dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou,
en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het,
19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.
Amen (Efes 1)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.