Derde Sondag in Lydenstyd

Picture of Woord en Fees

Derde Sondag in Lydenstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Jesaja 55:1-9
Ander tekste: Psalm 63:1-8; Lukas 13:1-9; 1 Korintiërs 10:1-13

Inleiding

Die Sondag word Oculi (“Oë”) genoem na aanleiding van Psalm 25:15 “My oë is altyd op die Here gerig . . .”

Die liturgie moet lidmate aanspoor om op die Here te bly vertrou en te leef met hulle lewe gerig op die Here (Jes 55:1-9). Hy bied sy guns en genade in oorvloed aan. As hulle by Hom bly en op Hom gerig lewe, sal hulle sy guns in oorvloed ervaar (Ps 64:1-8). Daar is nou nog genadetyd, nog geleentheid om hulle te bekeer (Luk 13:1-9). Bly op die Here vertrou, want ons kan maklik val (1 Kor 10:1-13).

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Kersritueel
Daar is soveel dinge elke dag wat ons aandag trek.  Vriende, familie, werk, klas, huistakies. En die geraas.  Ons word gebombardeer met klank, vandat ons alarm ons wakker maak, die telefoon, die radio, die televisie, die gesprekke wat ons ons voer of na luister. Is daar nog plek vir die stil, sagte stem van God. Hoor ons Hom nog? Dit lyk soms of God in ʼn stormwind sal moet praat om gehoor te word bo die geroesemoes in ons lewe. Luister nou. Daar is ʼn plek van stilte en rus, daardie plek waar God binne in jou leef. Sluit jou oë, raak bewus van God in jou. In Lydenstyd besoek ons die plekke in ons lewe waarvan net God alleen weet. Laat die storie van Jesus se lyding jou daar raak. Laat ons by Hom wysheid leer in die diepste binneste van ons hart.

Tyd van stilte

Terwyl ons die kers doof, erken ons die sinnelose geraas en stemme in die wêreld wat help dat duisternis oor ons kom.

Kers gedoof

Gebed
Here, laat u liefde ons nader trek, aan U en aan mekaar.  Gee dat ons onstuimige harte U nie sal weerstaan nie, maar voortgaan om te soek totdat hulle rus in U gevind het. Gee ons die krag om die veranderinge in ons lewe te maak wat nodig is en die moed om die taak te aanvaar om die wêreld te verander. Amen.

Diens van die Woord

Gee tyd van stil nadenke waarin die lidmate kan dink aan hulle behoeftes. As hulle honger en dors na iets, gaan nooi die Here hulle om na Hom te kom en versadig te word.

Diens van die tafel

Ons ontvang die brood wat lewe gee, ons ontvang die Here self en Hy gee ons die lewe. Ons ontvang die beker van versoening, daarom volg ons die Here op sy lydenspad. Ons ervaar dat die Here ons baie liefhet.  God het sy liefde aan ons bewys deur sy Seun te stuur om aan die kruis in ons plek te sterf. Hy het egter ook opgestaan en lewe. So bied Hy aan elkeen van ons die geleentheid om sy kind te word en ons lewe as heilige offers vir Hom te gee. (Sien basisliturgie.)

Uitsending

Doen voorbidding vir alle mense wat nog nie die bron van lewende water ontdek het nie.

Musiek en sang

Lof: Lied 239 “Jesus, Rots vir my geslaan”
Verootmoediging: Lied 377 “O Lam van God, onskuldig”
Nagmaal: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer”
Slotlied: Lied 483 “O almal wat dors het”

Preekstudie: Jesaja 55:1-9

Teks

Jesaja 55 val binne die sogenaamde Deutero-Jesaja. Sonder om al die argumente teen en vir hierdie indeling te hanteer, is dit belangrik om te herken dat ons in Jesaja 40-55 met ’n ander stem te make het as in Jesaja 1-39. ’n Nuwe historiese konteks lei na nuwe insigte rondom God en Juda se verhouding. Ou-Testamentiese geleerdes plaas dié korpus binne die laaste jare van die ballingskap waar die Persiese mag besig was om Babilonië hulle heerskappy te ontneem en ’n nuwe toekoms vir Juda gewag het.

Vir Deutero-Jesaja is Juda se wel en wee deel van die groter wêreldgeskiedenis van die dag en is hy daarvan oortuig dat God in beheer is van hierdie groter prentjie. Die eerste hoofstuk van hierdie korpus (hfst 40) begin met die woorde van hoop en herstel: “Troos, troos my volk . . .”

Die profeet het ’n sterk historiese bewussyn en is oortuig dat wêreldgebeure die konteks vorm van Goddelike aktiwiteit en dat dit nie bloot arbitrêre gebeure is nie: “In fact divine purpose is to be discerned on a cosmic scale, since humanity and creation in their entirety unfold within one drama, a drama ultimately redemptive but on the way toward that goal entailing judgment and the persistent threat of chaos” (Hanson). Die uitgangspunt van Deutero-Jesaja moet in ag geneem word in die interpretasie van die spesifieke leesroosterperikoop van dié week. Sy verstaan van God se besig wees in die groter geskiedenis help ons om die boodskap van die teks te bepaal. Die God van Juda handel nie koud en klinies met sy volk nie, maar vol passie en ontferming.

Die profeet se gehoor ervaar heel moontlik hulle situasie op daardie moment as chaoties. Hy wil hulle egter terugbring na die kern, na die Een wat met hulle oppad is: “The majestic centre of all creation is moved simultaneously by justice that cannot ignore evil and by love that cannot abandon the lost, even those lost in their own sin” (Hanson). Deutero-Jesaja se stem vorm volgens Brueggemann die kontrapunt teenoor die eerste hoofstukke van Jesaja. Oordeel en redding is beide deel van die verhaal. Die profeet se interpretasie is die “herbeskrywing” van die geskiedenis.

Westermann herken verskillende elemente wat Deutero-Jesaja gebruik om verlossing te verkondig, naamlik: ’n belofte of orakel van verlossing. Hy verkondig gebeure asof dit reeds gebeur het. Hy sien, te midde van ballingskap, dat die oorgang van oordeel na verlossing reeds gebeur het. Daarom het sy werk die element van vreugde ingeweef. Hierdie verlossing word in hoofstuk 55 gesien as ’n nuwe verbond. Die inhoud van die profeet se woorde wil die gehoor herinner aan wie en hoe God is.

Volgens Hanson vorm hoofstuk 55 ’n passende einde vir die boodskap van Deutero-Jesaja, deurdat die hoofelemente van die profeet se boodskap ingeweef word in die aanbieding. Hy beskryf dit as ’n teks “that bursts with excitement”. Dit is juis die opeenhoping van imperatiewe in die eerste verse wat hierdie gevoel onderstreep. Die imperatiewe lei na die verkondiging van redding.

Die lesing in die leesrooster is slegs die eerste 9 verse van Jesaja 55, wat tog afbreuk doen aan die groter geheel. Die preekstudie sal die afbakening van vers 1-9 volg, alhoewel dit goed sal wees as die prediker die hele hoofstuk lees en bestudeer.

Vers 1-3. Die verse is gelaai met imperatiewe, nie minder as 12 tussen vers 1 en 3a nie: “Kom”, “koop”, “eet”, “luister”, “gee aandag”. In vers 1 kom die oproep “kom!” drie maal voor. Die imperatiewe behels ’n ongewone uitnodiging. Die uitnodiging is vir almal, die enigste voorwaarde is hongerte en dors. Die beloftetaal en uitnodiging is ’n verlenging van die beloftetaal in hoofstuk 54. Westermann sien die uitnodiging as die saamkom van verlossing en seëning: “The thing to which men are here called is not primarily the saving event, but the new condition of salvation.”

Die imperatiewe wek die assosiasie van handelaars op die strate op. In die Ooste sal daar ook waterverkopers op straat wees wat mense oproep om hulle ware te koop. Westermann praat van “imitation of the cry of the vendors”. Hy vra: “What is the meaning of this loud ‘market-place’ invitation?” Hy verstaan dat Deutero-Jesaja in voorafgaande gedeeltes die terugkeer/redding uit Babilonië verkondig het, maar nou fokus op lewe wat wag, naamlik ’n lewe in volheid. Dus: God red julle nie net nie, Hy seën julle ook. Daarom is nie net brood en water beskikbaar nie, maar ook die luukse van wyn en melk. Goldingay skryf: “Verse 1 as a whole has developed a series of images of increasing wonder . . . Yhwh goes beyond the quenching of human thirst to the provision of other delights for the human palate.”

Hierdie imperatiewe maak ’n wêreld oop van versorging, seëning, voeding en fees. Daar is ’n sterk kontras tussen die ou manier van lewe onder Babiloniese mag en die nuwe aanbod van lewe onder Jahwe. Dit dien geen doel om die uitnodiging te probeer uitklaar as letterlik of figuurlik nie. Die implikasie is dat Jahwe wel sy volk geestelik en liggaamlik wil seën.

Vers 3b-5. Vers 3b en verder bevat die inhoud van die aankondiging. God nooi hulle om te “luister” (2) en “neig julle oor” (3, 1953-vertaling). Die inhoud is die sluit van ’n verbond. Dieselfde God wat ’n verbond van getrouheid met Dawid gesluit het, sluit nou die verbond met die hele volk. Die belofte aan Dawid word nou gemaak aan die hele volk. Een kommentaar skryf van die “demokratisering” van die verbond. Hierdie is nie ’n verbond soseer vir die toekoms nie: “. . . he is daring enough to proclaim that, with the imminent divine act of the release, the tokens of grace vouchsafed to David are transferred to Israel” (Westermann). Brueggemann praat van ’n “offer of fidelity”, ’n aanbod van getrouheid en lojaliteit. Die Hebreeus praat van berith ‘olam – die ewigdurende verbond.

God se plan is nie vernietig met die val van die huis van Dawid nie, maar die ewigdurende verbond sluit nou die volle gemeenskap, van gehoorsaamheid aan God se Woord, in. Dit is heel moontlik dat die volk in ballingskap die kontinuïteit van Jahwe se verbondstrou betwyfel het.

Vers 4-5. Vers 4 en 5 begin beide met “Kyk” of “Behold”. Westermann voel dat die aankondiging van die nuwe verbond eintlik in die volgende verse min aandag kry. In vers 4 word gefokus op ’n getuie. NRSV: “See, I made him a witness to the peoples, a leader and commander for the peoples.” Wie is die hy? Wie is die getuie? Van die ouer kommentare soos Watts beskou dit as Darius. Childs sien dit as Dawid se rol, en dus nou ook die van Juda: “David’s true role as God’s chosen is presented as witness to God’s wonders.” Nou moet ook die volk leef as getuies.

Childs skryf: “. . . the covenant of David, which has been sustained by the eternal loyalty of God, was seen as continuing in the new people of Israel, but in a form that fulfilled the original purpose of David’s rule in the glorifying of God by all the nations of the world.” Die fokus is nie nou die oorwinning van ander volke nie, maar hoe Juda getuie word van God om daarmee nasies nader te trek. “What is promised to the nation once it is delivered from Babylon are not new victories or the subjugation of foreign nations, but increase in numbers because of the distant and foreign people who come to Israel and want to belong to her because of the God of Israel” (Westermann).

Die verbond is “ter wille” van God. Die Heilige Een van Israel verheerlik Homself deur die mense. Brueggemann skryf dat die “well being” van die volk ook Jahwe se Naam sal verstewig in die oë van ander.

Hanson skryf ook dat Deutero-Jesaja besef het wat op die spel is: “What was at stake? Nothing less than the witness to the world of God’s righteousness for which Israel had been called since the time of Abraham.” Die profeet herinner hulle aan die rol wat Israel ook speel in God se groter plan vir die skepping.

Vers 6. Vers 6-7 kan beskryf word as ’n profetiese orakel, wat die goddelike belofte wat daarop volg inlei. Weer imperatiewe: “Soek die Here” (1953-vertaling); “Roep Hom aan”. Die tempel is vernietig. Hierdie woorde het nie kultiese implikasies nie. Die fokus is ’n draai na God – ’n ommekeer. Hulle keuse is dus: ’n nuwe toekoms aangebied deur Jahwe of verdere afhanklikheid van ander volke.

Vers 7. Nog imperatiewe: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes” (1953-vertaling). Bekering sal gevolg word deur barmhartigheid en vergiffenis. Wie is die goddelose en die kwaaddoener? Brueggemann stel voor dat hierdie “goddelose” hulle is wat in Babilonië wil agterbly en ’n beter toekoms vir hulle kinders sien – wat nie God se groter plan raaksien nie. Binne so ’n verstaan, is die goddelose hier nie ’n morele uitspraak nie, maar het dit te make met nie-vertroue op Jahwe se planne wat anders is as die mens se planne. Tog, as dit ’n morele uitspraak is, staan God se vergiffenis net so vas.

Vers 8-9. Kontras in vorm van chiastiese struktuur. God se gedagtes en weë (gedagtes en optredes) word gekontrasteer met die mens s’n. “Gedagtes” het te make met planne of “design”, dus wat God ten doel het en hoe Hy dit uitvoer. God wil hulle red, maar moontlik was hulle binne die omstandighede apaties en kon hulle nie verder sien nie. Miskien was dit ’n gemeenskap vol “resignation” oor situasie en “weariness”.

Brueggemann vermoed dat die ballinge se planne dié van “despair” was. Hy beskou dit dan as: “a decision to knuckle under and submit to Babylonian power, thus to abandon Israelite-covenantal-Yahwistic identity”. Hulle moes dus Jahwe se soewereine doel raaksien vir wat dit is en daaraan gehoorsaam wees. Dit kan moeilik wees om die ballinge jare lank in ballingskap daarvan te oortuig, as hulle persepsies iets anders vir hulle wysmaak. Watter “verniet kos” praatjies is hierdie?

Goldingay praat van die “insoluble tension between the reality of God’s permanent commitment and the necessity of human response.” Goldingay sien dat die profeet goddeloosheid (wickedness and evil) beskryf as: “resisting Yhwh’s way and insisting on one’s own understanding of Yhwh’s way.” Die hoorders moet hulle eie planne laat vaar. Jahwe en die volk kyk verskillend na hulle realiteite. Die profeet nooi hulle om te begin kyk soos God kyk. Die profeet wil hê die volk moet God se plan raaksien, in lig van ander tekste, hoe Hy ook konings van ander lande (soos Kores) kan gebruik om weer redding en lewe vir die volk te bring.

Westermann skryf: “By pointing to the boundless horizons of God’s designs and ways, immeasurably greater than man can think them to be, he gives his hearers confidence. Though they are no longer able to believe it, all things are possible with God.” Dit is moontlik om in die posisie te wees dat jy nie eens opgewonde is oor verlossing nie.

’n Menslike verstaan van ’n situasie is nie altyd volledig nie. Hanson skryf: “all is free for those who confess the inadequacy of their own solutions and therefore desire God’s thoughts and God’s ways.. Te midde van die ballingskap kon die volk miskien die afleiding maak dat God magteloos is. Die profeet wou hulle laat besef dat die ballingskap eerder ’n produk van hulle keuses was, as “weakness or inattention on God’s part.” Hanson praat ook van “self-imposed bondage of futility”, dat die volk miskien verval het in die status quo en hulle niks nuuts meer kon indink of verbeel nie.

Konteks

Die ander RCL-tekste vir hierdie derde Sondag in Lydenstyd is Psalm 63:1-8; Lukas 13:1-9 en 1 Korintiërs 10:1-13. Die Lukasteks is ’n moeilike teks oor hoe ons maklik ander se sonde groter maak as ons eie. Ook Korintiërs verwys na gebeure in die woestyn waar die verbondsvolk in opstand gekom het en daarvoor gestraf is. Die volk het eng gekyk en God se groter prentjie gemis. Hulle het gefokus op hulle gemak en hulle dankbaarheid verloor.

Met die prediking van Ou Testament-tekste is dit belangrik om te sien wat die boodskap vir die oorspronklike gehoor was. Wat moes hulle hoor? Ons is geneig om, veral in Lydenstyd, Jesus se verhaal dadelik in die teks in te lees. Daarom is dit belangrik om miskien te begin by die trant van die verse. Wat is die gevoel van die teks? Met die eerste oogopslag word die leser getref deur die imperatiewe, die uitnodiging, die goeie nuus. Vir ’n gehoor wat gewoond was aan swaarkry en ballingskap word hier meer as die basiese aangebied, nie net brood en water nie, ook melk en wyn. Die woorde is woorde van verlossing en seën, asook as bevestiging van God se trou (verbond) en herinnering dat God se weë altyd groter is as wat hulle in ’n spesifieke situasie raaksien. Die prediker sal in ’n sekere sin moet aanhaak by die trant van die teks. Dit is ’n teks wat met die verbeelding werk. ’n Situasie van aanbod en uitnodiging word geskep, met woorde wat geassosieer word met ’n smous of straatverkoper.

Die ballinge het moontlik die ballingskap ervaar as teken van God se onvermoë. Jesaja herinner hulle dat dit ook produk kon wees van hulle ongehoorsaamheid. In lig hiervan skryf Hanson: “In spiritual life as in personal, it is humbling to admit that the fault lies on our side of the relationship. It is comfortable to blame the other.” Die profeet herinner sy hoorders dat hulle logika en maklike antwoorde nie altyd werk nie. Daarom die klem dat God se gedagtes nie hulle gedagtes is nie. Dat hulle situasie kan verander al lyk dit nie vir hulle so nie. Die interpretasielyn wat die prediker hier kan volg, is dat God se besigwees baie keer groter is as ons persepsies en sintuiglike waarnemings. Martin Luther se Deus Absconditus haak hierby aan, naamlik dat God openbarend werk en ons nie altyd vanuit ons denke Hom kan bepaal, raaksien of verstaan nie.

Brueggemann skryf juis: “For the exiles, as for ancient Abraham, ‘faith’ is acceptance of a radical promise and summons to alternative life.” Die uitnodiging vra vertroue. In ons tyd waar daar nie iets is soos ’n “a free lunch” nie, waar alles iets kos, jy alles se koste moet bereken, glo mens nie uitsprake oor die waarde daarvan om niks te versamel en te besit nie. Word ons nog verras deur die genade, deur die absolute “oophand” van God ? Of is ons traag en dink daar is ’n “catch”?

Julie Claassens sien in haar boek The God who Provides. Biblical Images of Divine Nourishment, ook die metafoor raak van God wat voorsien. Soos ander kommentare maak sy die verbintenis met die uitnodiging van Vrou Wysheid in Spreuke, wat ook soos ’n handelaar op die strate staan en die hoorders uitnooi: “Kom eet by my, kom drink van die wyn wat ek reggesit het!” (Spr 9:5). Sy beskryf die uitnodiging in die eerste verse van Jesaja 55 soos volg: “This appealing invitation encourages the audience to make the good news of the return from exile their own.” Soos ons kos en drank inneem en dit opgeneem word in ons liggame, so moet die goeie boodskap aan die ballinge omhels en opgeneem word. God is die een wat voorsien: “Good food, rich food, is to be found with God alone. And what’s more, to dine on God’s gifts of food, to listen, and to make the message their own is to receive the gift of life.” Die uitnodiging pas binne die vreugdetrant van Deutero-Jesaja se boodskap. Soos in Spreuke, lei die aanneem van die gawes tot lewe.

Die konsep van uitnodiging en fees word deur baie kommentare opgetel. Saleska praat van ’n “feast of victory, is not exclusive but inclusive”, en “Your money is no good here anyway”. Die ete is in elk geval nie beskikbaar vir geld nie. Hanson assosieer die uitnodiging met die uitnodigings in die evangelies, waar Jesus sy uitnodiging al hoe ruimer maak na mate die eerstes verskonings uitdink. Hanson skryf oor die vreemdheid dat ons wel sulke uitnodigings van die hand wys: “All that can exclude you is your insisting that there are places you would rather be. Why would anyone decide thus? Because you want to determine the menu.” Die eerste deel van die perikoop is die uitnodiging, maar die kontras met God se weë in vers 9 onderstreep die moontlikheid dat die volk nie regtig die uitnodiging geglo het nie.

Die wanhoop en die apatie wat Brueggemann optel kan ook ’n preektema word. Redding word aangekondig, maar het die hoorders altyd die krag of energie om dit aan te gryp? Is hulle nie al verby glo nie? Redding is hier, maar het ons altyd krag vir redding? Watter rol speel verbeelding om weer die gehoor te laat verlang na die nuwe?

Watts tel die tema op van die universalisme van Deutero-Jesaja, dat die volk nou ’n getuie word. Deur die eeue was geloofsgemeenskappe geneig om laer te trek. Die beloftes in Jesaja 55 is groter as die klein groep. Watts maak die opmerking: “The spiritual and social dangers inherent in a closed society are far greater than those of an open society, particularly in a community of faith.” Hy skryf verder: “Openness is vulnerable, but God prefer vulnerable openness.”

Ek dink dit is ook goed om net weer bewus te word van wie die God is wat Homself deur die woorde aan sy volk bekendmaak en openbaar. Die God van oorvloed, van getrouheid, van ’n nuwe toekoms en hoop, die God wat ons verras juis omdat sy planne groter is as ons s’n. Die God wat voed en lewe gee, wat ’n hart het vir ons fisiese en geestelike “well being”. Die God in wie die profeet vreugde vind.

Preekvoorstel

Ons is geleer om goeie nuus eerder nie te vertrou nie. Ons spot nie sonder rede nie: “There is nothing like a free lunch.” Ervaring het ons geleer om seker te maak van die kleinskrif. Die volk van God is in ballingskap en al vir ’n hele paar jaar het hulle seker op hulle manier die situasie vir hulleself uitgeklaar. Heel moontlik het hulle te midde van hierdie geloofskrisis aangeneem dat God hulle nie wil red nie, of miskien eerder nie eers kan red nie. Dat al die beloftes van getrouheid maar net woorde in die wind was.

In Jesaja 40-55 het die profeet die taak om sy gehoor anders te laat kyk na hulle situasie en hulle sodoende te oortuig dat God nie alleen kan en wil nie, maar dat Hy besig is om te red. Hulle moet net die gebeure raaksien vir wat dit is, altyd deel van God se groter plan van redding en geregtigheid.

Die profeet het ’n sterk historiese bewussyn en sien die groter politieke terrein van sy dag as God se speelveld. Dit is God wat deur die opkomende Persiese Ryk sy volk gaan red en terugbring. Sy hoorders moet net bewus word van die groter prentjie.

Hoofstuk 55 begin met woorde van oorvloed en uitnodiging. Imperatiewe word op mekaar gehoop in die taal van ’n straatverkoper. Vers1 bevat reeds drie maal die woord “Kom!” Kom haal dit wat werklik lewe gee. ’n Mens kan dink mense wat die omwenteling van oorlog, ballingskap en verplasing deurgemaak het, definitief weet van hongerte en skaarsheid. Dit is juis beelde van kos en drank wat metafories gebruik word om te wys op God se versorging, ingrype en redding. Dit wat aangebied word is ook meer as die basiese. Dit sluit die luukse in, die seën van God wat ommekeer gaan bewerk.

Dit is asof die profeet al die “buts” en “maars” optel. Ja, julle het gedink God het sy beloftes aan Dawid vergeet. Nee, Hy maak dit nou net ruimer. Dit word met julle almal gesluit en julle gaan word wat Dawid ook moes wees, ’n teken van My mag en heerlikheid.

Die realiteit kon egter wees, dat die jare van ballingskap iets van ’n apatie en oorgee laat wortelskiet het by die volk. Dat hulle gevestig geraak het in die nuwe lewe. Babilonië aanvaar het. Vrede gemaak het met die status quo en daarom nou met ongeloof na die profeet luister. Watse wilde praatjies is dit? Vanuit hulle perspektief kan daar nie iets nuuts op pad wees nie. Van die kommentare sien die “goddelose” waarvan die profeet praat as diegene wat nie in vertroue God se groter verhaal met hulle kan begryp en insien nie. Mens kan hulle eintlik nie kwalik neem nie. Soms te midde van ’n krisis het jy nie genoeg energie om moontlikhede van verandering aan te gryp nie.

Die profeet wil hulle herinner dat hulle nie moet vaskyk teen hulle verstaan van die geskiedenis nie. God se weë is soveel hoër. Die kontras bring ons kortsigtigheid na vore, die feit dat ons persepsies vir ons die volle waarheid word.

Wie is God in Jesaja 55? Hy is die gasheer. Hy is die bron van oorvloed. Hy is die getroue Een, Hy is die Een wat nog kans gee. Hy is die een wat lewe gee, Hy is die Een wat hulle wil help onderskei tussen goed van waarde en nie.

Lydenstyd is ’n tyd van aflegging, wanneer ons weer bewus word hoe vasgevang ons is, nie net in ons behoeftes en begeertes nie, maar ook ons planne, agendas en opinies. Lydenstyd is ’n tyd van eerlikheid, waar mens soms erken dat jy nie God se uitnodiging altyd aanvaar nie, dat jy nie altyd groter wil kyk nie, dat jy tevrede is met die manier waarop jy jou lewe inrig. Die profeet kom loop in ons straat op en roep ons: Kom! Word versadig! Ontvang lewe en wees bereid om verras te word, want God se paaie is altyd groter as wat ons ons kan indink.

Ons is elke dag ook omring deur verkopers en smouse, wat gedurig ons aandag aflei, ons laat wonder wat ons nodig het. Ons laat dink dat ons goed wel nodig het, wat waardeloos is. Mag die God van getrouheid en oorvloed, maar ook van geregtigheid ons help om te onderskei wat sy planne en weë is en hoe ons verhale daar inpas.

Bibliografie

Brueggemann,W 1997. Theology of the Old Testament. Minneapolis: Fortress Press; Brueggemann, W 1998. Isaiah 40-66. Louisville; Westminster John Knox Press; Childs, B S 2001. Isaiah. Louisville: Westminster John Knox Press; Claassens, L J M 2004. The God who Provides. Nashville: Abingdon Press; Goldingay, J. The Message of Isaiah 40-55. A Literary-Theological Commentary. T&T Clark; Hanson, P D Isaiah 40-66. Interpretation. A Bible Commentary for Teaching and Preaching. Louisville: John Knox Press; Saleska, T E. In The Lectionary Commentary. Theological exegesis for Sunday’s texts” (ed RE van Harn). Grand Rapids Michigan: William B Eerdmans Publishing Company; Sawyer, J F A. The Fifth Gospel. Isaiah in the history of Christianity. Cambridge University Press; Watts, J D W 1987. Isaiah 34-66. Word Biblical Commentary. Waco Texas: Word Books Publisher; Westermann, C 1969. Isaiah 40-66. London: SCM Press Ltd.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.