Derde Sondag in Lydenstyd

Picture of Woord en Fees

Derde Sondag in Lydenstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Johannes 4:5-42
Ander tekste: Eksodus 17:1-7; Psalm 95; Romeine 5:1-11

Inleiding

Eksodus 17, Psalm 95 en Johannes 4 verwys almal na “water”. Water hou telkens verband met die verlossing wat God bring. In Eksodus 17 sien ons dat klag en protes ’n vorm van geloofsvertroue in die Here is wanneer ongeregtigheid in die gesig gestaar word. Die volk word gered deur die water wat die Here uit die rots gee. Psalm 95 verwys ook na Eksodus 17 en bely dat gehoorsaamheid aan God vrede, vreugde, lof en danksegging bring. In Johannes 4 lees ons dat God se “lewende water” vir alle mense bedoel is, terwyl Romeine 5 eweneens fokus op vryspraak deur geloof alleen asook die belang van gehoorsaamheid en belang van volharding

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Voorganger: Kom laat ons lofsing voor die Heer.
Gemeente: Kom laat ons jubel tot sy eer.

Voorganger: Ons rots is Hy, oor almal heers Hy.
Gemeente: Aan sy gesag en koningskap kan niks en niemand ooit ontsnap nie.

Voorganger: Hy heers oor alles, ver en naby.
Gemeente: Hy sorg vir ons as ons bewaker.

Almal: Amen.

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
U raak die pen aan
En die woorde begin dans.
U raak die fluit
En die note skitter.
U raak aan die verfkwas
En die kleure sing.
So kom daar sin en skoonheid in alles wat bestaan –
Omdat U daar is.
Hoe sou ek dan enigiets van U kon terughou?
(Dag Hammarskjøld, in sy gedig “God die kunstenaar”
uit: PJ Naudé, 2002. Die groot gebedeboek. Wellington: Lux Verbi.)

Diens van die tafel

In die plek van die Nagmaalsformulier kan die volgende woorde gebruik word: Soos die Samaritaanse vrou, kom staan ons as sondaars nou voor die Here Jesus. Soos sy, het ons niks wat ons vir die Here kan wegsteek nie. Die Here sê vir ons: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie.”

Die vrou het gevra, “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry nie.” Kom ons gaan nou met dieselfde gesindheid na die nagmaalstafel en vra almal saam:
Almal: Here Jesus, gee vir ons van hierdie brood sodat ons nooit weer sal honger kry nie.

Voorganger: Neem, eet, dink daaraan en glo dat Jesus se liggaam die brood van die lewe is.
Almal: Here Jesus, gee vir ons van hierdie water sodat ons nooit weer sal dors kry nie.

Voorganger: Neem, drink, dink daaraan en glo dat Jesus se bloed die water van die lewe is.

Uitsending

Seën
God het julle vandag geseën met die brood van die lewe.
Gaan deel julle lewe met almal wat honger na God.
God het julle vandag geseën met die lewende water.
Gaan deel julle lewe met almal wat dors na God.

Musiek en sang

Liedere wat by die aanvang gebruik kan word: Lied 171 “Heilig, heilig, heilig”; NSG 5
Lofsang: Lied 280 “Here, Redder, groot en magtig”; Lied 224 “Kom prys Hom alle nasies”
Geloofsbelydenis: Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader”; NSG 348A
Nagmaal: Lied 303 “Eet die brood”; NSG 371A
Verootmoediging: Lied 163 “Soos ’n wildsbok”
Slotsang: Lied 203 “Loof die Here, al wat lewe”; NSG 33

Preekstudie: Johannes 4:5-42

Inleiding
Hierdie teks het reeds twee keer onder die aandag in die Leesrooster gekom. (Sien by “Bibliografie”.) Die volgende twee boeke uit die pen van eietydse Afrikaanse skrywers kan ook met groot vrug gebruik word: As Jesus in jou lewe instap, deur Jaco Thom; Die vrou by die put, deur Chris van Wyk en ander. In die genoemde preekstudies bied Jan Cloete en Floors Meyer onderskeidelik nuttige eksegetiese aantekeninge van Johannes 4:5-42. Dit kan gerus gelees en oordink word.

Aangesien hierdie preekstudie vir Lydenstyd bedoel is, wil skrywer die Johannes 4-gebeure in die narratief oordra, om by die dramatiese hoogtepunt uit te kom dat Jesus ook die vrou (en ander randfigure) se Verlosser en Saligmaker is. Vanuit ’n ander invalshoek sou daar ook ’n eksegetiese vergelyking getref kon word tussen die Samaritaanse vrou en Nikodemus.

Teks en Konteks

Jesus reis van Judea in die suide na Galilea in die noorde (Joh 3, 4:1-4). Die rede hiervoor is dat sy verhouding met die Fariseërs versleg het aangesien laasgenoemde jaloers geraak het toe al meer mense Hom begin navolg het. Om die spanningsituasie te ontlont, besluit Jesus om terug te gaan na Galilea en Hy neem die korter, maar minder gewilde pad deur die gebied van die Samaritane.

Op die pad kom Hy by Sigar aan wat in die Ou Testament Sigem genoem is (Gen 33:18-20; Jos 24:32). Hier, op ’n gedeelte van die grond wat Jakob vir sy nageslag nagelaat het, is daar ’n fontein wat met die verloop van tyd al dieper geword het. By hierdie put (drinkplek), soos by baie ander soortgelyke plekke, het die reisigers mekaar ontmoet op soek na water om hulle dors te les. So bevind Jesus Hom by die put om te rus en om sy dors te les (4:8). Dit was ongeveer twaalfuur die middag, die tyd van die Jode se eerste ete wat van tien- tot twaalfuur geduur het. Terwyl Hy daar rus, kom ’n Samaritaanse vrou daar aan om water te skep.

Wie was die Samaritaanse vrou? Die Samaritane was die Jode se vyande en daarom ook Jesus s’n. As gevolg hiervan bevind Jesus Homself in ’n potensieel plofbare situasie (4:9). Om selfs net saam met ’n Samaritaan te eet of drink, was uiters gevaarlik aangesien dit volgens die Jode se reinigingswette hulle onrein kon maak – wat nog te sê ’n Samaritaanse vrou, want as vrou:

  • Was sy binne die Joodse tradisie gereken as ’n “onrein” mens; en
  • Sy was ook alleen toe sy kom water skep terwyl die ander vroue wag totdat dit koeler word voordat hulle kom water skep en met mekaar kuier.

In haar alleen-wees lê ook iets van haar identiteit opgesluit. Ongelukkig dra sy in die omgangstaal van Bybellesers die etiket dat sy ’n prostituut is, maar dit was nie so nie (4:16-18). Niemand wou iets met haar te doen gehad het nie. Nie die vroue of mans nie, allermins die Fariseërs, want sy het ’n sondige verlede. Hoekom?

Die rede: Sy is reeds vyf keer geskei terwyl die Samaritaanse wet hoogstens drie egskeidings toegelaat het. Daar was ook ’n tweede rede. Sy het saam met ’n man gebly. Vanuit ons konteks sou dit onmiddellik die rooi ligte laat flikker het. Maar vroue het in daardie tyd baie min te sê gehad oor hulle verhouding met mans. Dit beteken dat haar “saambly”-verhouding baie maklik bepaal kon wees deur die man se wense en nie deur haar eie keuse nie. Dit versterk haar sosiale posisie en identiteit as ’n “onrein” mens: verwerp en uitgelewer!

Jesus vra hierdie onrein vrou water! Daarmee kondig Jesus aan dat Hy ook gekom het vir die redding van ander mense – nie net die Jode nie. Ook vir die Samaritane. Hy het gekom vir mense ongeag hulle taal, kleur, kultuur, geslag of geestelike, sosiale of kulturele posisie in die samelewing. Hy het juis gekom vir mense op die rand van die samelewing. Of dit deur hulle eie toedoen was en of dit deur die toedoen van ander mense was. Jesus wil by dié mens water drink!

In die konteks is water die simbool van lewe. Dit les die fisieke, en ook geestelike dors van mense. En alhoewel sy net Jesus se fisieke dors kan les, bied Hy haar in ruil veel meer aan. Hy kan haar geestelike dors les met “lewegewende” water – die vergifnis van haar sondes.

Die Samaritaanse vrou se antwoord is ietwat sarkasties (4:9). Hoe kan ’n Jood van haar wat ’n Samaritaan is, so iets vra? Die Jode dink dan dat hulle beter is as ander. Nou het ’n Jood haar hulp nodig. Dit maak nie sin nie. Dit gee Jesus die geleentheid om aan haar (en aan ons) te sê dat Hy baie meer as maar net ’n Jood is. Hy is God se “gratis geskenk” (genadegawe) aan verloregaande mense, waarvan die vrou van Samaria ’n voorbeeld is.

Haar reaksie hierop kan soos volg saamgevat word:

  • Johannes 4:11 – Aanvanklik verstaan sy nie Jesus se antwoord nie, want sy hande is leeg;
  • Johannes 4:12 – Om dit te illustreer vergelyk sy Hom met Jakob soos wat Hy ook met Moses (1:17-18) en Abraham (8:52-58) vergelyk is;
  • Johannes 4:13-14 – Jesus verduidelik nou aan haar dat Jakob net ’n mens se fisieke dors kan les terwyl Hy wat Jesus is, meer as dit kan doen. Hy kan mense se dors na ’n beter lewe – redding – so volledig les dat hulle (Samaritaanse vrou) nooit weer dors sal kry nie. Al die vergelykings het daarom ten doel om Jesus voor te stel as ’n Jood, maar ook meer as dit;
  • Johannes 4:15 – Hierop vra die vrou vir Jesus van die water, waaraan sy heel waarskynlik dink as gewone water met ’n bonatuurlike mag daarin opgesluit.

Om sy antwoord aan haar tuis te bring, vertel Jesus haar in kort haar lewensverhaal (waarna reeds hierbo verwys is en wat in 4:18 sy hoogtepunt bereik). By die aanhoor hiervan, besef sy dat Jesus ’n profeet is. Sy wil egter seker maak, daarom trek sy nou ’n oeroue twispunt nader: Waar moet daar aanbid word? Is dit Jerusalem of die berg Gerisim? (Oor die stryd tussen Gerisim en Jerusalem kan die prediker verskeie kommentare en/of naslaanwerke raadpleeg). Wat vir ons van belang is, is dat Gerisim deur God self as uitverkore plek van aanbidding aangewys is (Deut 12:5). Jesus ontlont egter hierdie strydpunt deur te sê dat God deur die Gees en in waarheid aanbid moet word (4:23).

Met die woord “Gees” sê Jesus dat God nie ’n stoflike wese is wat aan ’n bepaalde plek gebonde is nie. Hy is geestelik en word deur die Heilige Gees geopenbaar dat Hy oral teenwoordig is. Hy kan dus altyd, deur almal, onder leiding van die Heilige Gees aanbid word, ongeag Jerusalem of Gerisim, geboue soos die tempel (2:19 ev), deur middel van bepaalde gebruike en tradisies (4:12-13) of net deur ’n bepaalde geslag (4:9), kultuur en/of ras (4:8), of deur geleerde mense soos Nikodemus (2:1). Dit is die waarheid wat God tevrede sal stel!

Die antwoord van die vrou slaan jou asem weg. Alhoewel ons geen bewys het dat sy regtig verstaan het wat Jesus gesê het nie, laat sy haar eie verwysings-raamwerk van tradisie en godsdiensbeskouinge eenkant. In plek daarvan omarm sy die Joodse verwagtinge dat ’n Messias (die Grieke noem Hom: Christus) sal kom om haar en al die ander se vrae te beantwoord.

Hierop openbaar Jesus Homself as die antwoord op al haar vrae as Hy sê: Dit is Ek, die Een wat met jou praat. Die Verlosser en Saligmaker, die Een wat na hierdie wêreld gekom het sodat elkeen wat in My glo nie weer dors sal hê nie, maar die lewende water, die ewige lewe sal ontvang (sien Joh 3:16; 4:26). En wat antwoord sy? Vir haar antwoord moet die leser wag!

Eers lees ons van die dissipels wat terugkom en vind dat Jesus met die Samaritaanse vrou van twyfelagtige karakter praat. Hulle is stomgeslaan (4:27) en verstaan dit nie. Maar die teenpool van hulle reaksie, is die Samaritaanse vrou se reaksie (4:28). Sy los alles net so en gaan dorp toe met ’n boodskap wat beslis nie gewild sal wees nie. Daarom plaas sy die vraag in hulle gedagtes: Is Hy nie miskien die Christus nie? (4:29). Wat daarna gebeur het, weet ons nie. Wat ons wel weet is dat die dorpenaars positief reageer het!

Hierin lê haar antwoord: Die oomblik toe sy besef wie Jesus is, volg sy Jesus se voorbeeld en steek grense van verwerping en veroordeling oor. Sy word ’n getuie van Jesus se verlossingsboodskap wat uiteindelik daartoe lei dat die dorpie se mense tot geloof in Jesus kom. Nog baie ander het ook tot geloof gekom (4:41), aanvanklik omdat die Samaritaanse vrou geglo en getuig het. Maar later, nadat sy Jesus aan hulle voorgestel het, het hulle tot geloof gekom op grond van Jesus se persoonlike getuienis rakende Homself as die Messias (4:42).

Johannes 4:35-42 laat dan die fokus val op die uitvoering van Jesus se opdrag aan diegene, ook ’n Samaritaanse vrou, wat tot geloof in Hom gekom het (Matt 28:19 ev). Dit moet eers in Jerusalem  plaasvind (Hand 1:4), maar dan, met die krag van die Heilige Gees, tot aan die uithoeke van die wêreld – waaronder ook in die dorpies van Samaria (Hand 1:8). Dan kan daar afgesluit word met die woorde van Jesus: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh 20:21).

Hierdie skrifgedeelte kan vanuit baie invalshoeke gepreek word. Ongeag die invalshoek, dit begin en eindig by ’n keuse wat gemaak moet word oor wie Jesus werklik is en wat Hy hier op aarde kom doen het. Daarom is dit gepas om hierdie gedeelte in Lydenstyd en in aanloop tot Paasfees te preek.

Jesus leer ons om God aan die werk raak te sien in en deur sy koms as die Messias. Ons moet nie soos die dissipels teen die Samaritane se onreinheid vaskyk nie maar mense, God se mense, raaksien aan wie die evangelie van verlossing verkondig moet word. Dit vra dat ons anders sal kyk, deur God se oë, uit ’n persoonlike keuse wat elkeen moet maak – soos die Samaritaanse vrou en later ook die Samaritane gemaak het!

Preekvoorstel

Daar is verskeie invalshoeke om ’n boodskap oor te dra.

Sien onderstaande preekstudies:

  • Jan Cloete se preekstudie in Preekstudies – Advent 2001 tot Koninkrykstyd 2002;
  • Floors Meyer se preekstudie in Preekstudies – Advent 2010 tot Koninkrykstyd 2011;
  • Die “Seisoen van Luister” se preekstudie wat fokus op die oorsteek van mensgemaakte grense;
  • Verskeie preekstudies wat op die getuienis-aspek van hierdie gedeelte fokus;
  • Pierre Goosen se artikel van 22 Maart 2011, “Verder geluister” –Jan Cloete en Floors Meyer se preekstudies. Elke prediker van Johannes 4:5-42 kan dit gerus lees en oordink en saam met Goosen die drie toepassingsmoontlikhede ondersoek.

Skrywer sluit aan by Goosen: “Al hierdie gebruike en verwagtinge (voorveronderstellings wat grense tussen mense tot gevolg het)  kom keer Jesus om. Een vir een word al die aspekte uit ’n onkonvensionele hoek belig met die hoogtepunt in vers 26, waar Jesus sê dat Hy die Messias is. Lydenstyd herinner ons dat ook óns gebruike, godsdienstigheid, oorleweringe, kultuurgoedere – alles wat op die oog af betekenis aan ons lewe gee – getoets en op die kop gedraai (kan) word”.

Jesus steek grense oor. En jy?
In ’n misdaadgeteisterde Suid-Afrika is my fisieke grense diefwering en hoë mure. Maar op ’n persoonlike vlak is die haat, verwerping, wantroue, beskuldigings en twyfel. En so vorm alledaagse gebeure grense tussen my en ander mense en tussen my en die Here.

Watter ander grense is daar? Daar is die . . . 

  • Ekonomie wat ’n onoorbrugbare kloof skep tussen ryk en arm;
  • Verskeidenheid van taal en kultuur wat veroorsaak dat ons steeds vreemdelinge vir mekaar is;
  • Siening dat mans die sterkere geslag is en dit veroorsaak dat vroue as besittings behandel word;
  • Politici wat die verlede en die hede teen mekaar afspeel en so aan die een kant wanhoop veroorsaak en aan die kant, euforie;
  • Godsdienstige uitgangspunt dat sekere gelowiges vanweë bepaalde gawes meer “geestelik” is as ander en dit veroorsaak geestelike onverdraagsaamheid.

Hierdie en ander grense beperk my, aldus Suzaan Steyn in Sarie.com. Hoekom?  Want al die grense het hulle onstaan vanweë my siening van myself, van ander en van die wêreld waarbinne ek leef. My siening is meermale nie op feite gebaseer nie, maar op my persepsies. Dit veroorsaak dat ek grense oprig om my te beskerm want ek is bang. Bang vir my myself, vir ander en vir die wêreld. En dan is daar maar een refrein in my kop: Los my uit!

Hiervoor moet ons ’n oplossing kry. Dit doen Johannes Kerkorrel as hy sing: “Gee, gee jou hart vir Hillbrow.” En TV1 met die slagspreuk: “Simunye! We are one.” Daarom verander die Afrikaanse Radio sy naam na “RSG – Radio sonder Grense.” En die Afrika-kultuur van ubuntu word voorgehou as ’n navolgenswaardige lewenswyse, terwyl dr Desmond Tutu praat van die “reënboognasie”. Dit alles terwyl openbare bewus-makingsprogramme soos die “16 dae van aktivisme” teen geweld op vroue en kinders fokus. Aksies teen homofobie en xenofobie word geloods en menige kerke raak betrokke by gasvryheidsprogramme om grense tussen mense af te breek.

Die hartseer is dat hoe meer ek daarna streef om grense af te breek, hoe groter word die gevaar van nuwe  grense wat opgerig word. Die Belhar Belydenis se bedoeling was om grense af te breek tussen lidmate binne die NG Kerkfamilie wat dieselfde belydenisgrondslag deel. Maar ongelukkig vind die omgekeerde plaas. Nuwe grense tussen die voor- en teenstanders van die belydenis word gebou. Grense wat tot gevolg het dat buitelandse kerkleiers moet kom help om geloofsmense bymekaar te bring. Al hierdie pogings is maar net wat die Woord sê – pogings van mense om grense af te breek.

Die enigste blywende oplossing wat die toets van die tyd sal deurstaan, is om saam met Jesus by die put te Sigar te gaan sit waar Hy vir die Samaritaanse vrou sê: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat!” (4:26)

Hier by die put stel Jesus Homself aan die Samaritaanse vrou as die Messias bekend. Hy wat ook die Christus genoem word (4:25). En dit ten spyte daarvan dat sy ’n vrou met ’n twyfelagtige karakter was. Jesus steek hierdie mensgemaakte grens oor. Meer nog, Hy steek ook die grens oor van waar God aanbid mag word, Gerisim of Jerusalem. So ontmoet Hy haar in haar eie leefwêreld. En sy, ten spyte van al haar vooropgestelde idees, steek ook haar grense oor en gee vir Hom water.

So, voetjie vir voetjie begin sy in Hom glo. Miskien nie soos wat ons sou wou hê sy moes glo nie. Nietemin, sy draai om en gaan vertel vir die dorpenaars dat Hy die Messias is – die Christus, die Een wat verlossing van sondes bring. So gebeur dit dan dat hulle ook grense oorsteek en bely: “Ons glo nie meer op grond van wat jy (die Samaritaanse vrou) vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die verlosser van die wêreld is” (4:42).

Die afbreek van grense lê by Jesus. Hiervoor het Jesus gely, gesterf en op die derde dag opgestaan, sodat elkeen wat in Hom glo – ook die Samaritaanse vrou en haar medelandsburgers saam met ons – nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16).

Die vraag is: Is ek bereid om soos die Samaritaanse vrou te glo dat Jesus die Messias is? Dat Hy gekom het om die grense tussen my en Hom en my en ander mense af te breek? Dat Hy dit gedoen het omdat Hy Homself gegee het sonder om iets in ruil daarvoor te verwag? Dat Hy met hierdie aanbod van genade vandag voor my kom staan ongeag wie ek is, waar ek bly, hoe ek lyk?

Sê ek ja, dan moet ek ongeag my gawes (2 Tim 2:20) omdraai en die grense tussen my en ander mense gaan afbreek. Nou vra ek so maklik: Wie is hulle? Wie is die ander? Is hulle dié wat anders lyk as ek? Anders glo as ek? Met ’n ander taal, kultuur, inkomste? Van ’n ander ras, geslag of kerk as ek?

Die Here help my ook hiermee as Hy vertel van ’n onbekende, naamlose man wat deur rowers beroof is en vir dood langs die pad gelos is. En hoe die kerkmense wat hom daar sien lê het, anderpad gekyk het. Maar dan sien ’n Samaritaanse reisiger hom (miskien het hy die Samaritaanse vrou se getuienis gehoor – wie weet!), en nadat hy van sy donkie afgeklim het, help hy eers persoonlik die man voordat hy reëlings tref vir sy verdere versorging. So help ’n vreemdeling iemand wat anders is wat in die nood is, en dit sonder om vrae te vra. Nadat Hy die storie vertel het, vra Jesus vir sy dissipels: “Wie het reg opgetree volgens die wil van God?”  Hierop antwoord hulle: “Die Samaritaan”, waarna Jesus sê: “Gaan maak jy ook so” (lees Luk 10:25 ev).

So moet ek ook maak! Die “ander” wat ek moet help, is nie noodwendig die mens wat ek ken nie. Hy of sy ook, maar dit is ook die onbekende, die naamlose, die een wat my pad toevallig kruis. Sonder dat ek daarom gevra het, die straatkind, die bedelaar. Moet ek nie hierdie een help deur eerste my hand in my sak te steek nie. Ek moet self betrokke raak, kniel, praat en so die mensgemaakte grense wat my en ander isoleer, oorsteek!

Wanneer ek dit doen, word ek ’n naaste vir “ander” soos wat Jesus my Naaste geword het. En sing ek met oortuiging saam met Johannes Kerkorrel: “Gee, gee jou hart vir Hillbrow, Khayelitsha, die bergie onder die brug, die straatkind by die verkeerslig, die mede-gelowige wat anders as ek lyk, want Jesus is die Messias!” Dan is ek, plus minus besig om die wil van my hemelse Vader te doen (4:35)!

Bibliografie

Preekstudies met Liturgiese Voorstelle, Jaar A, Advent 2001 tot Koninkrykstyd 2002, Johannes 4:5-42 deur Ian Nell, Ockert Meyer en Johan Botha; Preekstudies en Liturgiese Voorstelle, Jaar A, Advent 2010 tot Koninkrykstyd 2011, Johannes 4:5-42 deur Eddie Orsmond en Johan Botha; Internetartikels van oa BUVTON, Die Bybelgenootskap, Bybel-Media; Coenie Burger en Ian Nell (redakteurs): Draers van die waarheid: Nuwe Testamentiese visies vir die gemeente, Johannes (Ian Nell), p. 55 ev, 2002; Verskeie kommentare (o.a. Groenewald, EP; Brown, RE; Hendriksen, W); Die Bybellenium – Eenvoudige kommentaar, Lukas, bl 1329 ev.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.