Derde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Fokusteks

Psalm 63:1-8

Ander RCL tekste

Jesaja 55:1-9 (Wie na die Here kom en na Hom luister, vind lewe);
1 Korintiërs 10:1-13 (Ons moenie aan versoekings toegee en God eenkant toe stoot in ons  lewe nie);
Lukas 13:1-9 (Die gelykenis van die onvrugbare vyeboom leer ons dat ons vrugte moet dra wat by die bekering pas.)

Ek bly altyd naby U
63 ’n Psalm van Dawid, na aanleiding
van sy verblyf in die Judawoestyn.
2Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U;
ek smag na U
soos in ’n dor en droë land,
’n land sonder water.
3Ek wil by U in die heiligdom wees
om daar u mag en grootheid
te ondervind.
4U troue liefde is meer werd
as die lewe;
daarom sal ek U prys.
5Ek sal U my lewe lank loof,
my hande ophef om u Naam te prys.
6Soos elke keer wanneer ek
u goeie gawes geniet,
sal ek U altyd roem
met jubelende mond.
7As ek aan U dink op my bed,
oor U peins in die nag, dan weet ek:
8U is vir my ’n hulp,
en dan juig ek oor die beskerming
onder u vleuels.
9Ek bly altyd naby U,
u hand ondersteun my.
10Maar hierdie mense
wat my ondergang soek,
mag hulle wegsink
in die dieptes van die aarde!
11Mag hulle aan die swaard
oorgegee word
en aas vir die jakkalse word!
12Laat die koning hom in God verbly,
laat elkeen wat hom op God verlaat,
Hom prys.
Die mond van die vals mens
word toegestop.

Teksnotas

  • Vers 2: Die grondtreks se frases “my siel” en “my liggaam” word met “ek” vertaal, omdat dit die hele menswees insluit.
  • Vers 6: “Goeie gawes” is ‘n vertaling van “murg en vet” wat ‘n verwysing na ryk kossoorte is (vgl. Job 36:16; Ps 36:9).
  • Vers 7 “As” kan ook beteken “elke keer” soos in Ps. 78:34.
  • Vers 9: “Ek bly altyd naby U” het konnotasies met Gen 2:24 (‘n man sal sy vrou aankleef) en Deut 10:20; 11:22; 30:20 (God aanhang)

Woorduitleg
Tema: God is ‘n oase in woestyntye
Dawid is deur die toedoen van vals mense (vers 10) in die woestyn ver van die tempel af. Volgens die opskrif bevind hy hom in die droë, onherbergsame Judawoestyn.  Dit kan wat met sy vlug van Saul (1 Sam. 23:14; 24:2) verbind word.  Sy verwysing na (homself as) die koning (vers 12) kan egter ook beteken dat die situasie met die stryd teen Absalom bedoel word (2 Sam 15 vv.).

Vers 1: Die meeste kommentatore plaas hierdie psalm tydens die gebeure rondom Dawid se vlug vir sy seun Absalom (1 Sam 15:15, 28; 16:2). Daar is natuurlik ook diegene wat hierdie ervaring van Dawid nie letterlik wil opneem nie (Weiser), maar eerder geestelik wil verklaar, naamlik dat Dawid ’n geestelike insinking ervaar het en dit dan vergelyk met ’n tipe eensame, verworpe en depressiewe woestynervaring.

Vers 2: Die teks begin met drie werkwoorde wat toeneem in volgorde van intensiteit: soek – dors – smag. Soos ’n dorstige wat met sy laaste kragte hom voortsleep deur ’n dorre woestyn. Sommige kenners beskryf hierdie volgorde van intensiteit as Dawid se “geestelike oefen-program” vir ’n dieper geestelike gemeenskap met God. Dit versterk die boodskap van die psalm, naamlik dat die antwoord op jou woestynervaring juis lê in die verinniging van jou verhouding met God. Daarom gee die psalmis sommer in vers 2 al die oplossing vir sy eie dilemma en eensaamheid, naamlik: Verander jou eie onafhanklikheid na volle afhanklikheid van God. Verplaas jou eie tekortkominge na die God vir wie alles moontlik is en begin Hom “soek”. Vergelyk die verplasingsformule: “Ek – U” in al die verse van die psalm beginnende by vers 2.

Die woord “soek” hou verband met die vroeë oggendure,. met dagbreek. Per implikasie sou dit beteken dat God heel eerste in die dag opgesoek moet word, voordat enigiets anders jou aandag in beslag neem. Hy is immers prioriteit nommer een. Die woorde “ek dors/smag” kan beter verstaan word as: “my flesh longeth for thee”. “Smag” kan ook verklaar word as: my liggaam verlang na U. Smag is ’n intense woord wat ’n innige behoefte vergestalt en versterk word met die res van die vers: “soos in ’n dor en droë land . . . sonder water”.  God is sy enigste uitkoms. Dor (Eng “weary”) en droog verwys na die innerlike moegheid en leegheid van die psalmis in ’n plek waar daar geen hoop en redding  is nie.

Interessant is die dubbele herhaling van God se Naam in hierdie vers. Die eerste naam (Elohim) dui op die God van die skepping (Gen 1:1), dus: die Skeppergod, die Almagtige wat uit niks alles kan skep en daarom is Hy die Sterke op wie jy altyd kan reken, maar terselfdertyd ook die Drie-enige God wat in sy volheid optree en skep. Die God van liefde. Die tweede naam (El) impliseer weer die God van krag en sterkte vir wie alles moontlik is – ook om jou in jou eie woestynsituasie te help. Met die dubbele herhaling wil Dawid ook iets van sy eie vaste geloof in God toon (“ o, God, my God”). God is vir hom ’n werklikheid en selfs in sy woestyntrauma twyfel hy nie aan sy geloof in God nie. God bly die God van sy keuse.

Vers 3: “Ek wil” spreek ’n diep begeerte uit. ’n Begeerte wat alleen in die stilte van sy Heiligdom vervul kan word. Hierdie heiligdom kan letterlik die huis van God wees waar die koning, as verteenwoordiger van God by die volk en andersom, dikwels was. Hier het hy die kragtige teenwoordigheid van God ervaar en daarna verlang hy nou. Ander verklaarders wil die heiligdom egter nie as ’n spesifieke plek sien nie, maar as die woestyn self waar hy God in die stilte ervaar.

Vers 4: “Troue liefde” wys hier op God se verbonds-liefde (Gen 17:1, 2, 7). ’n Liefde ongeag wie en wat ons is of geword het. Die verbond is immers God se beweging na ons toe. Hierdie liefde is belangriker as selfs jou eie lewe (veiligheid, gemaksugtigheid, posisie). Dis ’n liefde wat jou wil laat prys. Prys beteken letterlik om luidrugtig te wees, te erken, te spog. Dit is dus ’n doelbewuste daad om God te erken en al die eer te laat toekom. Sommige noem dit die dankseggingsdeel van die psalm. Nadat hy die stille, berusting en versterking in die heiligdom gekry het, gaan hy oor tot lof en prys. Vreugdesange voed sy siel.

Vers 5: Saam met God se verbondsliefde, maak hy ook ’n belofte wat sy hele lewe sou duur (tydsduur), naamlik om God ewigdurend te loof. Dit bevestig hy weereens met ’n daad: “my hande ophef.” Elke stelling wat hy maak, word opgevolg deur ’n aksie wat op God gefokus is. Hande ophef staan in skrille kontras met die slap hande van iemand wat moedeloos is en by ’n doodloopstraat gekom het. God rig slap hande weer op. Hierdie hande ophef, het die simboliek van erkenning gee aan iemand wat jou meerdere is, soos om te salueer of te aanbid.

Vers 6: Die kwaliteit van sy lof sal elke keer wees soos wanneer hy goeie gawes (lett murg en vet – die beste en smaaklikste) geniet. Hierdie gawes versinnebeeld die lekker van die lewe. Soos met ’n banket (vgl Jes 25:6). Met die uitdrukking “soos elke keer”, breek hy sy lewe in fragmente op. Elke belewenis van nog ’n goeie gawe bring hom tot roem aan God. Dit doen hy openlik met ’n “jubelende mond” wat die uitdrukking is van wat binne die hart aangaan (vgl Ps 45:2; Matt 12:34 en 15:8).

Vers 7: Na ’n dag se ervaringe met God en sy vele goeie gawes, word sy nagte ook gevul met God se teenwoordigheid. “Op my bed” dui op daardie moment voor jy aan die slaap raak. Ook dan is sy gedagtes by God. In sy woestynervaring sal hy hom besig hou deur oor God te mediteer. Die donkerte word dan sy tyd van retrospeksie en nadenke. “Nag” beteken letterlik: nagwaak. Dit word dus ’n aksie wat hy uitvoer in sy soeke na God se teenwoordigheid in sy stryd. Deel van sy genesing lê daarin dat hy God se gawes en nabyheid in herinnering roep. In die antieke tyd is geglo dat wanneer jy slaap, die siel bevry word van die liggaam en dan kan dit in ’n swerftog met God kommunikeer. Dis dan die tyd wanneer God die siel beïnvloed en deur middel van drome die mens op sy weg plaas.  “Dan weet ek”, is die bevestiging van sy geloof en vertroue in God. Dan vlug alle twyfel en eie “plannetjies”.

Vers 8: Die woord “is”, bevestig sy ervaring van God se nabyheid in sy lewe. Ander in sy lewe het hom gefaal (Absalom), maar God nooit. Hy bly die onwankelbare en altyd teenwoordige God. Hy ervaar steeds God se praktiese hulp in sy lewe. Die beeld van “vleuels” of vlerke kan moontlik verwys na die vlerke van ’n hen wat haar kuikens beskerm of na die uitgestrekte vlerke van die gerubs op die Ark waar hulle waak oor die inhoud en bewyse van God se gawes aan die trekkende volk Israel (vgl die beeld van ’n arend se vlerke in Deut 32:10-12 en Eks 19:4).

Vers 9: As gevolg van God se bystand tydens sy woestynervaring, maak hy ’n belofte om altyd naby aan God te bly. Dit is immers God se Hand wat hom regop hou in hierdie situasie.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus
Die Psalm fokus op die woestynervaring van Dawid en sy dors na God. Hy smag na beskerming van en nabyheid aan God.

Preekstudies met liturgiese voorstelle verwoord dit so:
Hierdie woestynpsalm word deur sommige as “the Psalm of loneliness” beskryf en vertel iets van Dawid se gemoedstoestand tydens sy woestynervaring en veral hoe hy dit oorkom het. Elke moment in hierdie psalm kan sowel letterlik as figuurlik gelees word. Baie mense beleef elke dag so ’n  “woestynervaring” soos Dawid en worstel deur hul eie “woestyntrauma” van eensaamheid, verlatenheid, depressie, onvervulde drome, onstabiliteit, vrees en spanning. Die psalmis deel sy persoonlike ervaring met God en vertel hoe hy ’n antwoord op sy dilemma gevind het. Met die oog op Lydenstyd kan hierdie psalm gebruik word om die lig te laat val op Jesus se “woestynervaring” van pyn, vernedering, lyding en sterwe.

Rus

Die eerste beweging van die Seisoen van Luister se luistersiklus is om tot rus te kom.  Hier is ‘n paar voorstelle vir hierdie Sondag waaruit jy kan kies:

  • ’n Vaste lied wat baie geskik is om as toetredelied gedurende Lydenstyd te gebruik, is Lied 397 – “Ontsluit, o Heer, ontvlam ons hart”. Die verse kan afwisselend of al drie saam op ’n Sondag gesing word.
  • Ander wat ook gebruik kan word: 519 – “Wees stil en weet: Ek is die Heer”; 518 – “Voel jy soms of die Here te ver is”; 516 – “As sou dan ook die vyeboom nie bot nie”
  • Gebruik die bekende Stop, Look, Listen gebed van John Ackerman:
    • Stop – Laat ‘n minuut van stilte toe sodat almal net tot rus kom.
    • Look – laat gemeentelede in stil gebed die afgelope week onthou met die vrae: wat het jou geruk en wat het jou getroos?
    • Listen – laat gemeentelede nadink oor hoe God teenwoordig was in hulle ervarings en Hom smeek vir dít wat hulle geruk het, en dank vir dít wat hulle getroos het.
  • Laat families/vriende met mekaar deel wat die Here die afgelope week vir hulle beteken het.  Hulle kan ook vir mekaar bid.

Lied

‘n Lied wat uitstekend hierna sal pas:

Lied 22. “Ek Soek U, O God”
(RUBRIEK: Kontemporêr – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en Musiek: Rhe Janse © 1994
Brettian Productions (Reeds opgeneem op: Lentereën – Willie Joubert
25 Gunsteling L&A liedere – Louis Brittz Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)

1.  Ek soek U, o God,
my God, ek dors na U,
God. Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader om by U te wees,
om by U te wees.

2. As ek saans aan U dink,
my God, oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my, U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe… (Nav Ps 63)

Familie-oomblik

Ons gebruik die beeld van die beskerming wat Dawid onder die vlerke van die Almagtige geniet (vers 7).  Vra die kinders of hulle al ‘n hoender met kuikens gesien het.  Brei uit oor hoe sy kloek-kloek na hulle soek en saam met hulle beweeg.  En in die aande sprei sy haar vlerke wyd uit sodat hulle styf onder haar kan inkruip waar hulle veilig kan wees.  Jy kan ook dramatiseer wat gebeur as daar gevaar dreig.  Sy sprei haar vlerke uit om haar groter en dreigender te laat lyk, met die kuikens agter haar.  Só sorg God vir ons en beskerm Hy ons in gevaar.

Laat die families met mekaar deel van ‘n keer wat die Here hulle só beskerm het.

Carolyn Brown stel ook voor dat hierdie Psalm vir die kinders oorvertel word met die agtergrond van Dawid wat in die woestyn die probleem van sy seun Absalom se verraad moet hanteer.  Die vertroue van Dawid in sulke slegte omstandighede moet beklemtoon word eerder as om die teks te verklaar.  Dit sal vir groter kinders in hulle families werk en nie eintlik vir voorskoolse kinders.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Erediens integrasie

Inleiding: Vertel ‘n storie van ‘n man wat verdwaal in die woestyn en baie dors raak en dan in die verte iets sien wat uiteindelik blyk ‘n oase te wees.  Dramatiseer dit in jou eie woorde en beklemtoon die afwagting op pad sowel as die groot blydskap as hy sy dors kan les en in die koelte van die bome tot rus kan kom.

Sluit dan by die Psalm se historiese plasing aan (Absalom of Saul).  Beskryf Dawid se gemoedstoestand uit die Psalm.

‘n Mens kan jou indink hoe dit moet wees as jy werklik woestyntoestande moet trotseer, wat dit is om dors te hê en na water te smag. Selfs al worstel jy net met ‘n oorheersende gevoel van eensaamheid en verlatenheid, verstaan jy ook hierdie soeke na verligting van Dawid.

Dit is verbasend dat in sulke omstandighede Dawid na die erediens verlang! Hoekom?  Want dit was in die heiligdom waar God veral sy teenwoordigheid, mag en heerlikheid geopenbaar het. Veral daar het Hy sy getroue liefde vir sy verbondsvolk gewys. Dawid wil dus sommer lewenslank in die erediens bly.

Dit sê iets spesiaal vir ons, waar kerk toe gaan só vanselfsprekend is. In die erediens gee God jou weer nuwe krag.

Of Dawid werklik in die woestyn was en of hy bloot ’n soortgelyke woestynervaring gehad het, is nie van soveel belang nie. Die feit van die saak is dat hy in ’n gemoeds-toestand verkeer waaruit hy nie self kon kom nie en waarin vriende, familie, rykdom status en gewildheid hom nie kon help nie. Dis ook ’n situasie wat hy nie so kan laat of aanvaar nie, want dit vreet sy siel op en maak dat hy binne voel soos in “’n dor en droë land”. Hy moet hulp soek daarvoor en waar anders as by God.

Indien hierdie psalm wel in die woestyn van Juda afspeel, bring dit ’n ander dimensie na vore, naamlik sy verbrokkelde menswees. Hy is ’n koning sonder ’n troon. Hy wil regeer, maar hy sit in die woestyn. As skakel en verteenwoordiger van God by die volk word hy van sy verantwoordelikhede ontneem en kan hy nie uitvoering gee aan dit waarvoor hy geroep en gesalf is nie. Sy potensiaal word onderdruk soos die van mense wat gefrustreerd is in verhoudings wat nie meer werk nie, deur omstandighede van armoede, werkloosheid, pondoklewe, regstellende aksie en politieke magteloos-heid.

Dawid se oplossing
Dawid het ’n baie elementêre en uiters eenvoudige antwoord: Neem jou toevlug tot God. Vertrou Hom, soek Hom en juig in Hom!! Hierdie woestynsituasie met sy stilte en afsondering kan ook heilsaam wees. Iets waarna Dawid by geleentheid (Ps 55:7-9) selfs smag. Dit bring hom (en alle mense) by die belangrikste behoefte, om met God in ’n geestelike verhouding te kom. Terwyl daar sekerlik baie ander behoeftes by Dawid was, is sy grootste behoefte nou “just a closer walk with God” (vgl sy dors in Ps 42:1-3).

Vir die vervulling van hierdie behoefte het Dawid 4 benaderings
1. “Kerk” toe: Hy het ’n innige behoefte (v 2: soek, dors, smag) om God te ontmoet in die stilte en heiligheid van die heiligdom (v 3). Nie uit gewoonte of ter wille van ander nie, maar om God werklik te ontmoet. Vergelyk: “U” in al die verse. Die volgende ware verhaal word vertel uit die lewe van koning Louis XIV van Frankryk. Toe hy een Sondag met sy gevolg by die kerk opdaag was daar nie ’n enkele ander mens nie, net die aarts-biskop. By navraag waarom die kerk so leeg is, antwoord die biskop: Ek het afgekondig dat u nie vandag hier sal wees nie sodat u self kan sien wie kom net kerk toe om deur u gesien te word.

Daar is die storie van die dogtertjie wat elke aand voor sy gaan slaap eers op haar pa se skoot geklim het sodat hy vir haar ’n storie kan vertel. Maar aand vir aand raak sy aan die slaap voordat die storie klaar is en die volgende aand moes hy dan maar weer van voor af begin. So kom die storie nooit tot ’n einde nie en slim soos ’n pa maar kan wees, besluit hy toe om die storie op ’n bandmasjien op te neem en dan die volgende aand vir haar voor te speel terwyl sy in haar bedjie lê. So gedoen, maar nie lank nie of sy kom weer uit die kamer gehardloop en spring op sy skoot. Half moedeloos wil hy toe weet hoekom sy nie na die bandmasjien luister nie! “Maar, Pappa, die masjien het nie ’n skoot nie!” Sy nabyheid was vir haar meer belangrik as die storie. Dis wat Dawid ook soek in sy woestynervaring en hy is nie deur God teleurgestel nie.

2. Prys God: Vyf maal kom die lofwoorde voor: prys, loof, juig (v 4-5). Deur verbaal en luidrugtig aan God die eer te gee, is vir Dawid deel van sy ontvlugting uit sy woestynsituasie. In die verlede het ons, met ons gereformeerde tradisie, doelbewus baie vinnig by hierdie gedeelte verby geblaai. Om hande op hef en meer hoorbaar lof te betuig, het egter die afgelope paar jaar begin verander. Daar is die morbiede grappie van die jongman uit ’n ander kerk wat die oggend die kerk bywoon en regtig deur die Woord getref is. Telkens beaam hy dus met handgeklap: Halleluja! Prys die Here! Agter hom het ’n omie gesit vir wie dit nou nie snaaks was nie en op een stadium vlieg die omie op, gryp die jongman se hande vas en sê: Jongman, in hierdie kerk prys ons nie die Here nie!

Hier kan die ware verhaal van Celia vertel word.

Celia en haar man het in ‘n kusdorp gebly.  Hulle harte was oop vir arm mense van die plaaslike plakkerskamp.  Om regtig met die nood van hierdie arm mense te identifiseer en hulle te help, het hulle ‘n huis langs die plakkerskamp gebou.  Vandaar het hulle verskillende projekte geloods om mense se waardigheid weer te herstel, werkskeppingsprojekte te bedryf en ook kos te voorsien.

Hulle was afhanklik van die voorsiening van die Here vir hulle eie lewensonderhoud.  Een dag was daar weer niks in die huis nie.  Alle kos is uitgedeel of opgeëet.  Daar was nie geld in die bank nie, en die nood was groot.

Na Celia gebid het oor dié nood het sy, tot konsternasie van haar man, begin om alle leë bakke uit die kombuiskaste te haal en op die tafel en toonbanke van die kombuis neer te sit.  Toe begin sy om met die Here te praat en Hom te loof vir al die kere wat Hy in die verlede vir hulle gesorg het.

Haar gebed het al hoe dringender geword totdat sy later begin dans het om die leë bakke op die tafel en toonbanke, terwyl sy die Here loof en prys.  Haar man en kinders het hulle uit die voet gemaak.

Die volgende oomblik is daar ‘n klop aan die deur.  ‘n Man van ‘n groot kettingwinkel op die dorp vra haar of sy nie kos nodig het, vir hulle gesin en vir die diens wat hulle in die plakkerskamp lewer.  In sy bakkie was daar ‘n groot vrag kos wat hulle vervaldatum bereik het .

Nodeloos om te sê, hulle het dit met groot blydskap aanvaar.  En die geloof van hulle familie is grootliks daaddeur versterk.  Die uiteinde van die storie was dat hulle op ‘n meer gereelde basis kos van winkels begin ontvang het, waar in hulle ook kon deel en mense in die plakkerskamp kon bedien.

3. Mediteer/dink aan God: Deur in die nag op sy bed te mediteer, dink Dawid retrospektief terug in sy verlede en besef watter wonderlike steun en bystand hy alreeds van die Here gekry het (v 7). Watter wonderlike pad het die Here nie alreeds met hom geloop nie, van skaapwagter tot koning, van jong seun tot oorwinnaar oor die reuse Filistyn, Goliat! God se lang pad met ons is seker een van die duidelikste tekens van sy voortdurende nabyheid en sorg. Maar watter rol speel gedagtes – veral verkeerde gedagtes – nie in ons lewe nie. Daarom dat Paulus in Kolossense 3:2 skryf: “Rig julle gedagtes op die dinge daarbo”. Dis vir Dawid ’n oplossing – en vir ons ook.

4. Dankbaarheid: Deur te juig en sing, betoon hy sy dankbaarheid vir al God se dade wat aan hom bewys is. Dawid stel hom positief in deur te let op God en deur sy geloof in God te herbevestig (v 8, 9).

Ps 63 en Lydenstyd
Jesus se hele lewe op aarde kan as ’n tipe woestynervaring gesien word. Van sy geboorte in ’n stal tot die uitblaas van sy laaste asem, het gestaan in die teken van vernedering, eensaamheid, verraad, vervolging en verwerping. Ook Hy probeer telkens in sy menslike gestalte die verplasingsformule: Ek – U, maar dit werk nie vir Hom nie (vgl Getsemane – As dit U wil is, laat hierdie beker by My verbygaan, maar die beker moes Hy drink). Ook aan die kruis het niemand Hom gehelp met sy dors nie en het selfs sy Vader Hom in sy donkerste oomblik verlaat.

Tog was Jesus se woestynervaring absoluut noodsaaklik ter wille van elke sondaar (Mark 2:17). Ons persoonlike woestynervaringe is somtyds juis nodig om ons weer by God uit te bring. Daar is dus heil in swaarkry en beproewinge (Jes 61:3, 6; Jak 1:3).

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

  • Skep ‘n moment van stilgebed dat lidmate hulleself aan God as hulle oase te verbind.
  • Gebruik Liedboek 494 “Gelukkig is die mens wat op die Here bou” as geloofsbelydenis.
  • Gebruik ‘n getuienis van iemand wat in ‘n woestyn tyd was en die Here as ‘n oase beleef het, om mense se vertroue te bou om die Here vir hulle eie lewe te vertrou.

Lied

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.