Derde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Op hierdie Sondag is die fokus van die tekste op die boodskap van die kruis, die gawe van verlossing, en reiniging wat Jesus vandag in lewens kan bring. Die liturgie moet ruimte skep vir eerlike skuldbelydenis, geleentheid vir bekering en ’n nuwe lewe vorentoe.

Ander tekste

Eksodus 20:1-17 (Die tien gebooie)
Die tien gebooie

(Vgl Deut 5:6–21)
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:
2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Psalm 19 (Die gebod van die Heer is helder en gee insig)
Die openbaring van die Here is volmaak
19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis

aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.10Die eise van die
Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.

13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

1 Korintiërs 1:18-25 (Die boodskap van die kruis is die krag van God).
Christus die krag en die wysheid van God
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 19Daar staan tog geskrywe:
“Die wysheid van die wyses
sal Ek vernietig,
en die geleerdheid
van die geleerdes
sal Ek tot niet maak.”

20Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? 21Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

Fokusteks

Johannes 2:13-22
Die bruilof in Kana
2 Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. 2Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi.

3Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.”
4Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.”
5Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.”
6Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou. 7Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.”
Hulle het dit tot bo toe volgemaak.

8Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.”

Hulle het dit gedoen. 9Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom 10en sê vir hom: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”

11Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.

12Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie.

Die reiniging van die tempel
(Matt 21:12–13; Mark 11:15–17; Luk 19:45–46)
13Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. 14Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit. 15Toe het Hy met toutjies ’n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer. 16Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie.”

17Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.”
18Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?”
19Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.”
20Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”

21Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. 22Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.

Jesus ken die mens
23Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen. 24Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. 25Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ’n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is.
Jesus en Nikodemus

Ekstra stof

Die eerste drie hoofstukke van Johannes stel Jesus as die vleesgeworde Woord van God aan ons bekend.  Ook Johannes die Doper en die eerste dissipels word bekendgestel as die eerste getuies daarvan.  Drie tonele uit Jesus se bediening word dan vir ons beskryf:

  1. die 1ste teken: water in wyn;
  2. die reiniging van die tempel;
  3. die gesprek met Nikodemus.

Daarmee word Jesus se heerlikheid as God-mens geïllustreer, sowel as sy passie vir die vestiging van die regte verhouding tussen mense en hulle God: gesamentlik EN individueel.

Johannes 2:13–22 – Die liefde vir U huis verteer my
Hierdie gedeelte kom ook in die ander evangelies voor (Mark 11:15–19; Matt 21:12–17; Luk 19:45–48).  Johannes plaas sy verhaal egter aan die begin van Jesus se bediening, terwyl die ander dit in die laaste week van Jesus se bediening, interessant genoeg ook reg voor ‘n Paasfees, plaas.

Baie is al geskryf om hierdie verskil te verklaar.  Daar is redelike konsensus dat daar net een só ‘n gebeurtenis was, dat dit wel in die laaste week van Jesus se bediening was, en dat Johannes ‘n teologiese punt probeer maak deur die verhaal hier te plaas – Jesus wil die ware aanbidding van God herstel, soos ‘n mens ook in die gesprek met Nikodemus en die Samaritaanse vrou hierna agterkom. Die reiniging van die tempel is dus in daardie konteks vir hom belangrik.

Let op dat Johannes van die Paasfees “van die Jode” praat, wat aandui dat hy as Christen skryf, dws na die dood en opstanding van Christus.  Die Christene het na die opstanding ‘n ander inhoud aan die hele Paasgebeure gegee.

Johannes noem ten minste 3 verskillende Paasfeeste waarvoor Jesus na Jerusalem toe is (2:13; 6:4, 11:55 {13:1] en moontlik selfs 5:1).  Daaruit kan ‘n mens aflei dat Jesus se bediening waarskynlik tussen 2 en 4 jaar duur, terwyl die ander evangelies net van een reis na Jerusalem vertel, waaruit ’n mens kan aflei dat sy bediening nie veel langer as 1 jaar geduur het nie (Mark 10:32; Matt 16:21; Luk 9:51).

Geldwisselaars was nodig omdat die Jode nie hulle eie geldeenheid kon gebruik nie, en die Romeinse geldeenheid vir die Jode se gevoel lasterlik was deur die kop van die keiser te vertoon wat vir die Romeine goddelike eienskappe gehad het.  Die geldeenheid van Tirus kon egter gebruik word, waarvoor jy dan Romeinse geldstukke kon ruil (Beasley-Murray).

Jesus se aksie is duidelik nie gemik teen die aanbidders self nie, maar net teen die verkopers en geldwisselaars wat van God se huis ‘n handelsplek maak.

Die vraag na ‘n teken deur die Jode was waarskynlik as ‘n toets bedoel, om agter te kom of Jesus die gesag het om te doen wat Hy doen.  Jesus antwoord met ‘n raaisel wat eers na sy opstanding reg verstaan sou kon word, soos Johannes dit tereg verwoord.

Johannes verwys waarskynlik in vers 17 na Psalm 69:10.  Dit is interessant dat die Psalm juis ook daar oor die lyding praat van dié een wat lief is vir God se huis – ‘n heel gepaste aanhaling in die lig van Jesus se raaisel-teken wat op sy eie lyding dui.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede Lied 391 “Vervul, o Heer, my hart”
of speel  die beryming van die week se Psalm  op Louis Brittz se CD “Psalms en ander liedere”

Votum: Psalm 19:9-12
Liturg:  Die bevele van die Here dui die regte koers aan:
Gemeente:  dit bring blydskap.

L:  Die gebod van die Here is helder:
G:  dit gee insig.

L:  Die eise van die Here vir sy diens is goed:
G:  dit staan altyd vas.

L:  Die bepalings van die Here is reg:
G:  elkeen van hulle is regverdig.

L:  Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek. U dienaar laat hom daardeur leer. Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.

Lofsang
Lied 400 “Juig, juig in Hom”
Flam 207  “U het u heerlikheid, o Heer”

Wet: Eksodus 20:1-17

Skuldbelydenis
Lied 377 “O Lam van God, onskuldig”of
Flam 208 “U het nie gewag op my”

Genadeverkondiging
1 Kor 1: 18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.

Gebed

Liedere

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lydenstyd / Lof)
Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en Musiek: Noel Richards
Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Thankyou Music
(Fil 2:5-11)

U het U heerlikheid en eer, vir die wêreld prys gegee
U het swaar gely onder sondaarshande
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel

Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring
O, Here, hoor my dankgebede
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

F208. “U Het Nie Gewag Op My”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lydenstyd)
Oorspronklike titel: You did not wait for me
Teks en Musiek: Mark Altrogge
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Sovereign Grace Praise
CCLI Song No. 24047;  CCLI License No. 2048851

U het nie gewag op my om na U te kom
maar Uself geklee met brose menslikheid
U het nie gewag op my, om uit te roep na U
maar U roep my op die naam:  “Kom na My”

Vir ewig is ek dankbaar, O, Heer
Dankbaar vir die kruis, Heer, wat U dra
Vir ewig is ek dankbaar, o Heer
want U soek my voor ek daarvoor vra

VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes”
1 Petrus 2:24
Teks: Jannie Hougaard 2003 ©
Melodie: JOANIE — Francé Ludik 2003 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Skuldbelydenis / Nagmaal / Lydenstyd

Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.
Deur sy wonde is ons genees.

F60. “U Liefdeslied Vir My”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – God se liefde / Paasfees)
Oorspronklike titel: Oh, Danny Boy
Musiek: Tradisionele Ierse Volksmelodie
Teks: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Ons Koning kom!)

1. U liefde kleur die blou-blou helder hemel.
U goedheid rys die dagbreek oor die see.
U almag blink in maanlig oor die berge.
Die skoonheid van U skepping sleur my mee

U glorie sprei in vlerke van ‘n arend.
Genade sweef in wolke hoog en vry.
Die skepping sing vir my gewone sterfling.
Die Skepper God se liefdeslied weerklink in my.

2. Ek sien die kruis, ek volg U spoor na Golgota.
Ek sien die kroon, die dorings wat U dra
Ek kniel hier neer om nederig en dankbaar
vergifnis vir my sondeskuld te vra.

Ek ken die kruis, ek ken die Man van smarte.
Ek voel U pyn. U liefdesbloed bevry.
En van die kruishoutkoppie styg die note.
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my.

3. Wat is die mens dat U oor hom sou glimlag,
En wie is ek dat U vir my sou kom?
Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my

Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my
Van krip tot kruis weerklink U liefdeslied vir my!

VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Het”
Teks : Heil’ge Jesus, mijn ten leven –Jodocus van Lodenstein 1620-1677; Nederland 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK-werkgroep 2009
Melodie: “Wachet auf” ruft uns die Stimme – Phillip Nicolai 1599, in aansluiting by Hans Sachs 1513?; aangepaste vorm 1803-05 Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek –  Toewyding en Aanroeping / Nagmaal / Lydenstyd

1. Jesus, toe U mens geword het,
en vir die mens u bloed gestort het,
het U gekom soos God dit wil.
Here, mag my lewenstrewe
– my denke, dade, hele lewe –
ook so gerig wees op u wil.
Ek wil my hart en hand,
my Heer, aan U verpand.
Hoor my bede:
Kom heilig my, en leer U my
om al my liefde Ú te wy.

2. Elke dag, as mens verbonde
aan ons gebrokenheid en sonde,
het U gely, getroos, gedien.
Ja, o Heer, te alle tye
was U vervul met medelye,
en alle nood het U gesien.
Leer my ook elke dag
wat U van my verwag.
Laat my liefde
opmerksaam bly, wil U my lei
om aan u diens my toe te wy.

3. U, Heer Jesus, het geduldig
die ergste leed verduur, onskuldig,
op vyande U nooit gewreek.
Selfs vir hul met wrede harte
het U gebid in al u smarte.
U het gekom om vry te spreek.
U dra die doringkroon,
betaal ons sondeloon.
Jesus Christus, kom help U my, dat as ék ly,
ek ook soos U vergewend bly.

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Die voorstel vir die familie-oomblik is om gewoon die verhaal te dramatiseer en oor te vertel aan die hand van die teks. Een manier is om die verskillende ruimtes te verduidelik waar verskillende groepe mense by die tempel toegelaat is. Die tempel in ons fokusteks is die tweede tempel wat deur die terugkerende ballinge herbou is na die vernietiging daarvan in 586vC en deur Herodes opgeknap is net voor die tyd van Jesus (ook bekend as Herodes se tempel). Ironies sou ook hierdie tempel verwoes word deur die Romeine in 70nC.

Die area waar Jesus die tempel gereinig het, is die tempelplein, die area waar heidene toegelaat is om te aanbid. Die Bybel Verklaar berig soos volg:

In die voorhof van die heidene (tempelplein) het die besigheidslui diere en duiwe aan pelgrims wat van ver af kom, in Joodse geld (vgl. geldwisselaars) verkoop om te offer. Toe die tempel, ook waar die heidene aanbid het, ’n besigheidsplek gemaak is, ’n “rowersnes” (Mark. 11:17), is die heidene verhinder om te aanbid. So is die bedoeling van die tempel om ’n aanbiddingsplek te wees, verydel. Jesus ontruim toe die tempel en dryf ongewenste mense en diere uit met ’n sweep wat Hy van biesies gevleg het. Die tempel was immers die huis van sy Vader (16 – vgl. 1 Kon. 8:10–11).

Alle Jode (mans en vroue) is toegelaat by die ruimte wat vir die vrouens gereserveer is- daar was selfs ‘n ruimte vir melaatses. Die Joodse mans kon vanuit hulle bevoorregte ruimte sien hoe die offers gebring is. Die Allerheiligste is slegs 1 maal per jaar deur die Hoëpriester betree op die Groot Versoendag. Die aksent dat die ruimte vir die heidene deur die besigheidslui en geldwisselaars oorgeneem is, kan dan gebruik word saam met die vertel van die verhaal.

Preekriglyn

Thomas Linacre was die persoonlike geneesheer van beide Henry VII en Henry VIII in Brittanje, stigter van die Royal College of Physicians, en vriend van Desiderius Erasmus en Sir Thomas More, die invloedryke denkers van die Renaissance.

Laat in sy lewe begin Linacre met studies om ‘n priester te word.  Vir die eerste keer in sy lewe ontvang hy ‘n kopie van die Evangelies om te bestudeer.

Onthou dat Linacre deur van die donkerste tye in die kerk se geskiedenis geleef het.  Pous Alexander VI se bedrog, korrupsie, omkopery, bloedskande, en moordpraktyke het die kerk in die skande gedompel.  Wat skade en skande betref het die Tudor-konings ook hul kant gebring.

Terwyl hy die Evangelies vir die eerste keer lees, word Linacre telkens verras en met kommer gevul.  “Óf hierdie is nie werklik die Evangelies nie,” het hy gesê, “of ons is nie werklik Christene nie.”

Die Evangelies, die getuies van die bediening van Jesus Christus, help ons om ons geloof en ons georganiseerde aanbidding in die regte lig te sien.  Dit is die maatstaf waaraan ons gemeet word.  Jesus verras mens, en vul jou met kommer.

Die tempel

Die tempel was die hart en sentrum van die Joodse geloof.  Die tempel was die plek waar die Here God self woon, die plek van offerande waar sonde vergewe is en die band (verbond) tussen Israel en God telkens – offer vir offer – hernuwe is.

Daarom was die tempel ook die hart en sentrum van die Joodse nasionale en politieke lewe.  Die priesters wat die tempel beheer het, was ook – in vennootskap met die koningshuis, wat dienstig aan die Romeine was, in beheer van die nasie.

Die tempel het net soveel God se teenwoordigheid as die koninklike tradisie in Israel beliggaam.  Dit is beplan deur Dawid, gebou deur Salomo, herstel deur Hiskia en Josia, en dus ten nouste verweef met Israel se monargie.  Die feit dat Herodes dit na die ballingskap herbou, was bedoel om sy eie wankelrige aansprake op egte koningskap in Israel te versterk.

Kritiek op die tempel

Daar was ook sterk kritiek teen die tempel vanuit die Joodse geledere.  Die Esseners, wat teen die Dooie See in afsondering gebly het, en vir ons die Dooiesee-rolle nagelaat het (wat in 1948 ontdek is), was heftig teen die tempelheersers gekant.  Die Esseners het uitgesien na die tyd wat die tempel weer gereinig sou word (en hulle dit self kon bestuur).  Vir hulle was die geloof van die Sadduseërs nie radikaal en toegewyd genoeg nie.

Die Fariseërs het ook ‘n alternatief vir die tempel ontwikkel.  Hulle was krities teenoor die Sadduseërs, die party wat die tempel-elite was en in beheer was daarvan.  Vir die Fariseërs kon mens dieselfde seën wat jy deur ‘n besoek aan die tempel kry, bekom deur die Wet (Tora) te bestudeer.  Die bekende Rabbiniese spreuk was: “Waar twee mense die Tora saam sit en bestudeer, daar is God se teenwoordigheid by hulle.”

Hiermee het die Fariseërs die Jode wat in Jesus se tyd regoor die destydse Romeinse Ryk versprei was, gehelp om deur bestudering van die wet ‘n tempel-ervaring te hê.  Vir baie van hierdie Jode was dit onmoontlik om ooit die tempel te besoek.  Waarskynlik het die Fariseërs Jesus ook om hierdie rede so noukeurig dopgehou.  Nes hulle, was Jesus ook besig om ‘n alternatief vir die tempel te ontwikkel.

Sommige Jode was nie soseer om teologiese redes krities teenoor die tempel nie, maar weens sosio-ekonomiese redes.  Vir hulle was die tempel deur die ryk, korrupte aristokrasie beheer wat ander uitgebuit het.  Tydens die verskeie opstande in die eeue voor en na Jesus, het die radikale Joodse hervormers wat die tempel oorgeneem en gereinig het, elke keer die rekords van skuld, lenings en rente in die tempel verbrand.  Dis soos om vandag ‘n groot, sentrale bankgebou oor te neem en die sentrale rekenaar te verwoes.  Die tempel het ‘n winsgewende finansiële onderneming geword, die reserwebank van die nasie (NT Wright).

Jesus en die tempel

Jesus se houding teenoor die tempel was anders as dié van sy tydgenote.  Sy houding teenoor die tempel was nié:

  • Hierdie instelling moet hervorm word nie (Esseners)
  • Die verkeerd mense bedryf hierdie instelling nie (sosio-ekonomiese kritici), of
  • Vroomheid kan ook elders funksioneer nie (Fariseërs).

Nee, Jesus het die tempel vanuit God se handelinge en die betekenis van God se tyd beskou.  Teologies sal ons sê Jesus se kritiek teen die tempel was eskatologies: die tyd het aangebreek waarop God die hele instelling oordeel.  Die tempel verteenwoordig die onreg en ongehoorsaamheid wat soos ‘n kanker deur die samelewing versprei het.  Die tempel verteenwoordig die verwerping van God se roeping dat Israel ‘n lig vir die wêreld moet wees, die stad op die berg wat al die nasies na God toe trek.

Jesus self was die alternatief vir die tempel.  Jesus sou die nuwe “plek van ontmoeting” tussen God en mense word.

Daarom doen Jesus in sy eie bediening dinge wat normaalweg met die tempel verbind is.  Jesus kondig bv. vergifnis aan vir mense.  Dit was ongehoord, want vergifnis was verbind aan die bring van ‘n offerande in die tempel.  ‘n Offer was ‘n voorwaarde vir vergifnis.  Deur vrye vergifnis aan te bied, trek Jesus ‘n streep deur die tempel.

Jesus in die plek van die tempel

In sy persoon, deur sy lewe en werk, bring Jesus dus vir mense wat tradisioneel van die tempel verwag is.  Jesus herstel die ware aanbidding van God.  In Jesus ontmoet ons God, en beleef ons die geskenk van God se teenwoordigheid en vergifnis.

Hierdie is die rede waarom Johannes in sy evangelie die “reiniging” van die tempel aan die begin van Jesus se bediening plaas.  Hoewel die gebeure chronologies aan die einde van Jesus se optrede, gedurende die laaste week voor sy kruisiging, plaasvind, vertel Johannes dit reg aan die begin van sy evangelie.  Hy maak die punt dat hierdie Jesus se bediening die tempel vervang, en die ware gemeenskap met en aanbidding van God moontlik maak.

Hierdie tema word verder uitgewerk in die ontmoeting met Nikodemus en die vrou by die put.

Oordeel oor die tempel

NT Wright, Nuwe Testamentikus, skryf dat Jesus se tempel-aksie ‘n handeling van oordeel oor die tempel is.  God is besig om sy volk te oordeel, maar ook te red.  Die oordeel sou uiteindelik die vorm aanneem van die verwoesting van die tempel deur Rome (70 n.C.), maar die tempel word vervang deur die kerk as Jesus-gemeenskap wat die plek van die tempel inneem.

Jesus veroordeel die Jode wat van die tempel ‘n besigheidsplek gemaak het.  Die belangrikste wat Jesus doen, is egter om die tempel se funksionering te ontwrig.  Hy dryf die handelaars uit, en bring daarmee die tempelbedryf tot stilstand.  Vir NT Wright is dit die punt:  “The brief disruption that Jesus effected in the Temple’s normal business symbolized the destruction that would overtake the whole institution within a generation.” (The Challenge of Jesus, p 67).

Dit is duidelik: daar is nie in Jerusalem plek vir beide Jesus en die tempel nie.  Jesus word die weg na die Vader.  God woon in die Jesus-gemeenskap.  Ons is die tempel van God.

Die redding wat Jesus bring

Die vyandiggesinde Jode en skrifgeleerdes het ’n probleem met Jesus se optrede gehad. Wie dink Jesus is Hy eintlik?  Daarom vra hulle ’n “wonderteken” as bewys dat Hy waarlik deur God gestuur is om die tempel te kom skoonmaak van dit wat verkeerd is.  Nadat Hy die “wonderteken” gedoen het, sal hulle besluit of Hy regtig met die gesag van God optree.

In plaas daarvan dat Jesus ’n “wonderteken” gee, vertel Hy vir hulle die verhaal van hulle verlossing. Nie deur diere of duiwe-offers nie. Nie deur geld wat geruil word nie. Nie deur mense wat die regte offers op die regte tyd bring nie. Maar slegs deur die offer van Hom wat voor hulle staan. Van die Paaslam wat geoffer moes word aan die kruis. Van sy liggaam wat letterlik stukkie vir stukkie (af) gebreek moes word tot in die graf waar Hy so alleen was dat dit vir Hom gevoel het asof Hy selfs van God verlate is. Maar om dan weer op te staan en lewe, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16). Hierdie boodskap het die dissipels vergeet. Totdat hulle later, na die kruisiging en opstanding, teruggedink het en onthou het wat Hy vir hulle geleer het.

Ons kan nou in Lydenstyd terugdink en onthou dat Jesus die hoogste offer vir ons elkeen betaal het toe Hy aan die kruis gesterf en na drie dae weer opgestaan het. Dit is die waarheid! Want soos die dissipels, kan ons ook terugdink en onthou dat Hy dit nie net gesê het nie, maar dit ook op Goeie Vrydag gedoen het!

Wat ’n vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan!

Kritiek op ons eie instellings

Dit is goed om ook na te dink oor die sentrale rol wat die kerkgebou in baie gemeentes begin inneem.  Dit kan maklik gebeur dat die geloofsgemeenskap se lewe om die gebou, die instandhouding, bekostiging en bewaring van die gebou begin handel.

Die belange van die kerk as instelling kan die teenwoordigheid van God in die lewende Jesus deur sy Woord en Gees begin verdring:

  • Dan word Linacre se woorde waar: “Óf hierdie is nie werklik die Evangelies nie, of ons is nie werklik Christene nie.”
  • Dan is hierdie gedeelte ook God se kommentaar op die rol van die kerk in ons lewens.  Die kerk as instelling kan met Jesus kompeteer.  Dan raak die kerk disfunksioneel.

Ons kan dus verwag dat die Here Jesus altyd ons eie kerk / gemeente beide bevestig en ontwrig.  ‘n Oop, leerbare en ontvanklike gemoed is nodig om Jesus toe te laat om ons kerk op koers te hou na God se bedoeling daarmee.

Laat ons hier in lydenstyd fokus op die Lam van God.  Op die Een deur Wie ons God in waarheid ontmoet.  Die Een wat ‘n greep op ons lewens het, wie ons dien, en in Wie ons in ‘n lewende verhouding met Vader, Seun en Heilige Gees lewe.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotlied
Lied 216 “Sing met vreugde, sing” of
Vonkk 55  “Jesus, toe U mens geword het” of
Flam 60 “U liefdeslied vir my”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.