Derde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Eksodus 17, Psalm 95 en Johannes 4 verwys almal na “water”. Water hou telkens verband met die verlossing wat God bring. In Eksodus 17 sien ons dat klag en protes ’n vorm van geloofsvertroue in die Here is wanneer ongeregtigheid in die gesig gestaar word. Die volk word gered deur die water wat die Here uit die rots gee. Psalm 95 verwys ook na Eksodus 17 en bely dat gehoorsaamheid aan God vrede, vreugde, lof en danksegging bring. In Johannes 4 lees ons dat God se “lewende water” vir alle mense bedoel is, terwyl Romeine 5 eweneens fokus op vryspraak deur geloof alleen asook die belang van gehoorsaamheid en belang van volharding.

Ander tekste

Eksodus 17:1-7
Water uit die rots
17 Nadat die hele volk Israel uit die Sinwoestyn vertrek het, het hulle op bevel van die Here van plek tot plek gegaan totdat hulle by Refidim kamp opgeslaan het. Maar daar was geen water vir die volk om te drink nie. 2Toe het die volk met Moses rusie gemaak en gesê: “Gee jý vir ons water om te drink!”
En Moses antwoord hulle: “Waarom maak julle rusie met my? Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef?”

3Maar die volk was dors en hulle het vir Moses verwyt: “Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat omkom?”

4Daarna het Moses tot die Here geroep: “Wat moet ek met hierdie volk aanvang? Netnou gooi hulle my met klippe dood.”

5Toe sê die Here vir Moses: “Loop voor die volk verby en neem van die leiers van Israel saam. Vat ook die kierie waarmee jy op die Nyl se water geslaan het, en stap vooruit. 6Ek sal daar reg voor jou op die rots by Horeb staan. Dan moet jy teen die rots slaan, en daar sal water uitloop vir die volk om te drink.”

Moses het dit toe gedoen voor die oë van die leiers van Israel. 7Hy het die plek Massa en Meriba genoem omdat die Israeliete daar met Moses rusie gemaak het en ook omdat hulle die geduld van die Here op die proef gestel het toe hulle gesê het: “Is die Here by ons of nie?”

Psalm 95
Hy is ons God en ons is sy volk
95 Kom, laat ons jubel
tot eer van die Here,
laat ons juig oor die rots
by wie ons redding vind,
2laat ons na Hom toe gaan met lof,
laat ons Hom toejuig met lofsange,
3want die Here is die magtige God,
die groot koning oor al die gode.
4Die dieptes van die aarde
behoort aan Hom,
die kruine van die berge is Syne.
5Die see is Syne, Hy het dit gemaak;
sy hande het die land gevorm.
6Kom ons val in eerbetoon
voor Hom neer,
kom ons buig,
kom ons kniel voor die Here
ons Skepper!
7Hy is ons God en ons is sy volk,
sy kudde, sy skape,
deur sy hand versorg.
As julle vandag maar
na Hom wou luister:
8“Moenie hardkoppig wees
soos destyds by Meriba,
soos die dag by Massa
in die woestyn nie,
9waar julle voorvaders My uitgetart
en my geduld beproef het,
hoewel hulle gesien het
wat Ek gedoen het.
10Veertig jaar lank het Ek ’n weersin
in daardie geslag gehad,
Ek het gesê:
‘Hulle is ’n moedswillige volk,
hulle wil my paaie nie ken nie.’
11Daarom het Ek in my toorn
’n eed afgelê
dat hulle nooit sou uitkom
by die rusplek
wat Ek hulle wou gee nie.”

Romeine 5:1-11
Die vrug van die vryspraak
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 11Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.

Fokusteks

Johannes 4:5-42
Jesus en die Samaritaanse vrou
4 Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes—2Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels.—3Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. 4Hy moes deur Samaria gaan.

5Hy kom toe by ’n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag.

7Daar kom toe ’n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My ’n bietjie water om te drink.”

8Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop.

9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat ’n Jood is, vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?”
Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.

10Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My ’n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”

11Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens ’n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? 12Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?”

13Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”

15Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”

16Hy sê toe vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”

17Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie ’n man nie.”
En Jesus sê vir haar: “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ’n man nie.’18Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.”

19Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, ek sien dat u ’n profeet is. 20Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ’n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.”

21Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom ’n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. 22Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. 23Maar daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. 24God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”

25Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.”

26Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”

Die Samaritane glo in Jesus
27Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met ’n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie.

28Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: 29“Kom kyk, hier is ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”

30Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom.

31Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog ’n stukkie.”

32Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.”

33Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?”

34Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. 35Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. 37Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’38Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.”

39Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. 41Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; 42en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

Ekstra stof

Let op dat Jesus se volgende gesprek ’n direkte gevolg is van die Fariseërs se kennisname van sy groeiende bediening, ’n bediening wat groter begin word as dié van Johannes die Doper, soos wat hy net in die vorige perikoop beskrywe het, sal gebeur. Hoewel dit nog onderbeklemtoon is, hoor ’n mens daarin ook die broeiende konflik met die leidende Joodse godsdienstige partye.

Interessant genoeg is die leidende metafoor steeds dié van water – ons het alreeds kennis geneem van die verandering van water in wyn (Kana), die verwysing na gebore uit water (Nikodemus), die verwysing na die reiniging met water (Johannes die Doper) en nou die doop (Jesus). En dít is presies dié metafoor wat in die verhaal van die Samaritaanse vrou die hoofrol gaan speel – ’n dors Jesus by die put, die water wat hy van haar vra, en die lewende water wat Jesus vir haar kan gee.

Dat Jesus deur Samaria moes gaan (dei in die Grieks) is betekenisvol, omdat dit beteken het dat Hy met ‘n kortpad (Josephus sê dit was ‘n 3-dag reis) na Galilea sou reis – aan die westekant van die Jordaan, in plaas aan die oostekant daarvan. Dit was nie iets wat die Jode maklik gedoen het nie, hulle het Samaria eerder vermy, omdat Samaritane as onrein beskou is as gevolg van hulle:

  • gemengde afkoms – na die verowering van die noordelike ryk deur die Assiriërs in die 7de vC het dié Samaritane wat agtergebly het, vermengd geraak met die ander volke wat deur die Assiriërs daar gevestig is – 2 Konings 17:24-41, en
  • hulle afwykende godsdiens – die Samaritane het net die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Ou Testament as gesagvol aanvaar, met ’n paar wysigings, en ook van die afgodsgebruike van die ander volke wat in hulle gebied gevestig is, gevolg.

Die Jode het die Samaritane (nasate van die voormalige Noordryk) dus as ‘n onsuiwer groep mense beskou en hulle gehaat omdat hulle, hulle volk (nasate van die voormalige Suidryk) en godsdiens verraai het. Daarom het die Jode uit hulle pad gegaan om Samaria en die Samaritane te vermy, wat gelei het tot die gesegde wat die vrou in vers 9 aanhaal: “Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.” Dit word blykbaar vandag nog gebruik as mense ongelukkig is oor iets wat skeef loop.

Die put van Jakob naby die dorpie Sigar is ‘n put wat Hy gekoop het van Hamor (Gen 33) en aan Josef gegee het op sy sterfbed (Gen 50), hoewel Josef dit nooit in besit geneem het nie. Net sy bene is daar begrawe (Jos 24) nadat die volk die Beloofde Land in besit geneem het. Dit was ongeveer 30 meter diep. ‘n Mens kan vandag nog water daar drink!

Dat dit die sesde uur was, is ook betekenisvol. Dit beteken dat dit 12 uur die middag was (‘n vorige weergawe van die nuwe Afrikaanse vertaling interpreteer dit verkeerdelik met ses uur die aand), omdat die Jode se dag met sonop begin het en die ure dus van 6 uur af (ons tyd) getel is. In daardie tyd het vroue boonop twee keer ‘n dag gaan water haal vir hulle huise, soggens en saans, wanneer dit koeler was. Die Samaritaanse vrou gaan skep dus water op die warmste tyd van die dag. Sy vermy dus die ander vroue van die dorp, miskien omdat sy verwerp gevoel het, of meer waarskynlik inderdaad ‘n verworpene was, sy het immers ook ‘n hele paar mans gehad!

Blykbaar was daar nog boonop ‘n ander put nader aan die dorpie, wat sy sou kon gebruik het. Die water van Jakob se put was egter suiwerder … en verder van die dorp af.

Jesus is alleen, dit is in die middel van die dag, Hy is moeg en dors en hy het nie ‘n skepding om water uit die put te haal nie. In een woord, Hy is kwesbaar in meer as een opsig. Hy het die vrou nodig, en Hy kan in meer as een opsig in die moeilikheid kom, net omdat Hy met haar praat. Volgens Joodse tradisie mag ‘n Rabbi nie eers met sy eie vrou, dogter of suster gepraat het nie, laat staan nog as dit ‘n vreemde vrou was.

Die uitspraak van Jesus oor lewende water (Jesus gebruik dieselfde metafoor ook in 7:38-9 op die huttefees) kan met verskeie Ou-Testamentiese dele in verband gebring word, waar die dors na God vergelyk word met ‘n dors na water (Ps 42:2; Jes 49:10; 55:1; 58:11; Jer 2:13; Sag 13:1). Die Here word self ook dikwels die bron (=fontein) van lewe genoem (Ps 36:10; Jer 2: 13; 17:13). Die Jode het ook van ‘n fontein (put) as lewende water gepraat (Gen 26:19).

Jesus gebruik in vers 14 ‘n besondere vorm van die werkwoord drink wat op ‘n eenmalige handeling dui. Sy bedoeling is dus: wie eenmaal drink van die water wat Ek hom gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. In dié verband skryf Calvyn: “Die woorde van Christus weerspreek nie die feit dat gelowiges tot die einde van hulle lewe oorvloediger genade vurig begeer nie. Hy bedoel immers nie dat ons so drink dat ons van die eerste dag af volkome versadig is nie, maar wel dat die Heilige Gees ’n altyd vloeiende fontein is. Daar is dus geen gevaar van ‘droogte’ in die lewe van iemand wat van die geestelike water gedrink het nie”.

Die feit dat die vrou saamgebly het met iemand op dié stadium verraai aan die een kant dat sy ‘n behoefte gehad het om ingesluit te word, beide ter wille van gemeenskap en ter wille van ekonomiese oorlewing, al was dit dan nou met ‘n opeenvolging van mans. Maar aan die ander kant was die Joodse reël ook dat ‘n vrou nie meer as drie keer mag getrou het nie, al het die wet van Moses niks daaroor gesê nie. Sy kon dus heel moontlik nie meer trou volgens Joodse gebruik nie. Ons moet ook onthou, dat net mans ‘n skeibrief kon gee vir vroue om van hulle te skei, maar nie vroue aan mans nie. Vroue het dus baie min sê gehad in hulle verbintenisse met mans, wat beteken dat die man wat sy nou gehad het, se wense waarskynlik die deurslag gegee het vir haar “saambly”-status.

Die vete oor aanbiddingsplekke kom van die konflik tussen die Samaritaanse en die Joodse tradisie oor die korrekte aanbiddingsplek. Die rede vir die konflik lê in die Here se opdrag aan Moses dat daar net een aanbiddingsplek moet wees (Deut 12:5) en dat Hy dit sal aanwys, maar, amper soos met Abraham, sonder om die plek uit te spel!

  • Die Samaritane het gereken dat Gerisim die aanbiddingsplek moet wees en die Jode (en Tenak tradisie) weer dat Jerusalem as eksklusiewe aanbiddingsplek moet dien.
  • Die Samaritane het as steun vir hulle standpunt geglo dat Abraham sy eerste altaar daar gebou het (Gen 12:6-7), dat hy vir Isak op die berg Gerisim, naby Sigem, geoffer het (hulle lees in Gen 22:2 die verwysing na die landstreek Moria as ‘n verwysing na die boom More [Afrikaanse vertaling het “waarsêersboom”] wat dit verbind met Gen 12:6-7) en dat Jakob boonop die stuk grond, waar die put geleë was, daar gekoop het (Gen 33:18-20). Daarby moes die seën van die Here van Gerisim af afgekondig word met die Intog (Deut. 11:29; 27:4,12). Dit was gevolglik genoegsame rede dat God daar aanbid moes word.
  • Daarteenoor het die Jode Jerusalem as aanbiddingsplek aanvaar (vroeër bekend beide as Salem [Gen 14:18] en Jebus [Rigters 19:10] en later ook bekend as Sion [2 Sam 5:7]) omdat dit ‘n integrale deel van die koninklike en tempel tradisie was (1 Konings 11:36).

In verse 21 en 23 dui Jesus aan dat ‘n nuwe tydvak, ‘n nuwe uur aangebreek het (iets wat Hy al met sy reining van die tempel aangedui het, maar wat nou getransendeer word). Die ou vetes en grense gaan deurbreek word met ‘n nuwe tyd met nuwe reëls, nie meer die ou plekke van aanbidding nie – Jerusalem en die berg Sion nie – maar aanbidding deur die Gees.

Dat Jesus ‘n onderskeid maak tussen die onkunde van die Samaritane en die kennis van die Jode (vers 22) het te make met die kleiner basis van die Samaritaanse Godsopenbaring (die Pentateug) en die breër basis van die Joodse Godsopenbaring (die Pentateug, die Profete, die Historiese boeke en die Wysheid- en kultiese literatuur).

Jesus reframe die hele debat oor die regte aanbiddingsplek deur te verklaar dat dit nie meer op Gerisim óf Jerusalem sal wees nie! God wil hê dat Hy deur die Gees en in waarheid, d.w.s. sonder bybedoelings en gebaseer op die Waarheid, Jesus, aanbid sal word. God wil juis hê dat mense Hom só sal aanbid.

Daar is ‘n interessante woordspel tussen die uitsprake van die vrou oor die aanbidding wat haar Samaritaanse voorvaders (vers 20) voorgeskryf het, en Jesus wat die regte aanbidding aan sy Vader (vers 21, 23 – ‘n woord wat min in die OT aan God verbind is: Jes 9:6, 63:16; 64:8; Jer 31:9) koppel.

In ‘n interessante woordspel, wat reeds in vers 17-18 begin, as Jesus vir haar ‘n profetiese insig oor haarself gee, sê sy vir Hom dat sy sien dat Hy ‘n profeet is.

Op Jesus se verdere antwoord dat sy Hom moet glo reageer sy met: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word” (die Samaritane het van die Taheb gepraat, die Hersteller).

Ons hoor nie wat sy direk daarop te sê het nie, maar lei af in hierdie gedeelte, vers 28, dat sy die uitspraak van Jesus: “Dit is Ek” (vers 26) as ‘n moontlik radikale openbaring van God aanvaar, en gaan deel as ‘n getuienis met haar dorpie se mense dat Hy haar alles vertel het wat sy gedoen het.

Sy verwys hier heel moontlik na Deut 18:18 waar die Messias-profeet as volg geskets word: “Ek sal ‘n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel.”

Maar sy doen dit in die vorm van ‘n persoonlike getuienis, en raak so die eerste getuie van Jesus naas Johannes die Doper! In teenstelling met Nikodemus (hfst 3) wat eers later vrug (7:50 in die Joodse Raad waar Hy vir ‘n billike hantering van Jesus vra, en 19:39 in die tuin van Josef van Arimitea waar Jesus begrawe is) dra, toon die Samaritaanse vrou onmiddellik vrug in haar getuienis aan die dorpie.

Ephraem, die Siriese kommentator sê: “ At the beginning of the conversation he did not make himself known to her, but first she caught sight of a thirsty man, then a Jew, then a Rabbi, afterwards a prophet, last of all the Messiah. She tried to get the better of the thirsty man, she showed dislike of the Jew, she heckled the Rabbi, she was swept off her feet by the prophet, and she adored the Christ” (aangehaal deur J.A. Findlay, Comm, 61 in Beasley-Murray, G. R. 2002 Word Biblical Commentary, Vol 36, p. 66).

En teenoor die eerste dissipels wat net enkelinge na Jesus gebring het (hfst 1), bring die Samaritaanse vrou ‘n hele dorpie! Die dissipels kon hier ook net kos uit die dorpie vir Jesus bring, wat Hy toe nie eers geëet het nie, maar die Samaritaanse vrou ‘n hele gemeenskap van mense!

Jesus verbind op kenmerkende Johannese manier sy werk aan God se werk (om sy wil te doen: 4:34; 6:38; om God te eer: 7:18; 8:50; om sy werk te doen: 9:4; 10:37–38; 17:4; om sy opdrag uit te voer: 12:49–50; om te doen wat Hy beveel: 14:31; 15:10). Hy wou God se werk voltooi.

Die opmerking “nog vier maande, dan is die oes daar” (vers 35) was ‘n spreekwoord wat kom uit die feit dat ongeveer vier maande verloop het vandat die laaste lande gesaai is totdat die oestyd begin. Die spreekwoord het eintlik beteken, daar is dus geen haas nie, want niemand kan die rypword van die oes bespoedig nie. Jesus sluit hierby aan, maar beklemtoon daarteenoor die dringendheid van die huidige bedieningstaak, terwyl Hy en die dissipels moontlik almal na die aankomende Samaritane met hulle wit rokke (wat soos ryp koringare lyk) sit en kyk het: “Kyk daar … hulle is ryp vir die oes.“ (Die Bybel Verklaar).

In ‘n verdere werking van die woordspel, reageer die dorpie se mense met geloof ( in vers 39, en later ook vers 41 en 42) wat hulle lei tot ‘n dieper wete (vers 42) dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is. Die dorpie se mense verwys na hulle gesprek met Jesus (vers 42) met die woord logos waardeur die meer betekenisvolle inhoud daarvan op die voorgrond gestel word (vgl. by 1:2), terwyl na die vertelling van die vrou met die woord lalia, dit is gepraat, verwys word. Daaruit kan ‘n mens die afleiding maak dat daar ‘n kwalitatiewe onderskeid tussen die woorde van Jesus en die vrou is.

Tog word haar woorde in vers 28 met die woord marturia uitgedruk en was dit dié woorde wat die dorpie tot inkeer begelei het. Dus in vergelyking met die woorde van Jesus was die vrou se getuienis onvolledig, maar nietemin genoeg om hulle tot volle geloof te bring.

Liturgie

Aanvangslied: Lied  171 Heilig (3X) is die Heer, engle in die hemel buig voor Hom neer vs 1,2

Aanvangswoord: (Psalm 95)

Seëngroet: (Romeine 1:7)

Lied 175 “Majesteit vs 1″

Verootmoediging

Wet “(Romeine 12)

Skuldbelydenis

Vryspraak” (Uit Romeine 5)

Lofliedere
Lied 209 “Heer met my hele hart 1″
Lied 280 “Here redder groot en magtig 1,2,3″

Epiklese

Skriflesing: Johannes 4:5-42

Prediking
Gebed

Geloofsbelydenis: Sestiende Verklaring van Geloofsverklaring 2000 as geloofbelydenis:

Offergawes

Wegsending:Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5″

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied:Lied 171 Heilig (3X) is die Heer, engle in die hemel buig voor Hom neer vs 1,2

Aanvangswoord
6Kom ons val in eerbetoon
voor Hom neer,
kom ons buig,
kom ons kniel voor die Here
ons Skepper!
7Hy is ons God en ons is sy volk,
sy kudde, sy skape,
deur sy hand versorg. (Psalm 95)

Seëngroet 
7Aan almal in ………………………………………………. vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Romeine 1:7)

Lied 175 Majesteit vs 1

Verootmoediging

Wet
Riglyne vir die Christelike lewe
9Die liefde moet opreg wees.
Verafsku wat sleg is
en hou vas aan wat goed is.
10Betoon hartlike broederliefde
teenoor mekaar;
bewys eerbied teenoor mekaar
en wees mekaar daarin tot voorbeeld.
11Moenie in julle toewyding
verslap nie,
bly altyd geesdriftig,
dien die Here.
12Verbly julle in die hoop;
staan vas in verdrukking;
volhard in gebed.
13Help die medegelowiges
in hulle nood
en lê julle toe op gasvryheid.
14Seën julle vervolgers,
ja, seën hulle,
moet hulle nie vervloek nie.
15Wees bly saam met dié wat bly is
en treur saam met dié wat treur.
16Wees eensgesind onder mekaar.
Moenie hooghartig wees nie,
maar skaar julle by die nederiges.
Moenie eiewys wees nie.
17Moenie kwaad met kwaad
vergeld nie.
Wees goedgesind teenoor alle mense.
18As dit moontlik is,
sover dit van julle afhang,
leef in vrede met alle mense.
19Moenie self wraak neem nie,
geliefdes,
maar laat dit oor aan die oordeel
van God.
Daar staan immers geskrywe:
“Dit is mý reg om te straf;
Ék sal vergeld,”
sê die Here.
20“As jou vyand honger is,
gee hom iets om te eet;
as hy dors is,
gee hom iets om te drink;
want deur dit te doen,
maak jy hom vuurrooi
van skaamte.”
21Moet jou nie deur die kwaad
laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad
deur die goeie.
(Romeine 12)

Skuldbelydenis
Ag, Here, my God – ek het nooit besef daar is in my hart so ’n afkeer van U nie! Noudat ek begin agterkom dat U daarna verlang dat ek meer in u teenwoordigheid sal leef, in gemeenskap met U, en noudat ek daarna begin verlang het, is ek verbaas hoe min daarvan gebeur! Iets in my wil U nie toelaat nie, wil sélf regkom met die lewe. Iets in my wil beheer hou teenoor U en self slaag met die wandel-in-u-lig. Iets in my wil nie hê dat ek my in U moet verloor nie; wil nie te veel van U hê nie. Here, ek is skuldig, my hart is skuldig! Vergewe my! Laat die heilige vuur van u liefde in my brand, verteer die afkeer, maak my ’n brandoffer vir U, waarin ek self liefde word. Oorwin die weerstand in my, oorwin my eie ek al meer, sodat ek kan leer dat ek niks, niks self kan vermag om ’n verhouding met U te bou nie sodat ek alles net van U wil ontvang, sodat die lewe in u teenwoordigheid nie meer iets sal wees wat ek probeer regkry nie, maar U wat my oorrompel.
Nicol, W 2002. Gebed van die hart: Word stil en beleef God. Wellington: Lux Verbi.

Vryspraak
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo.
Daarom is daar nou vrede tussen ons en God
deur ons Here Jesus Christus.
2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan.
6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe.
7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe.
8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word.
10Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word.
11Maar dit is nie al nie.
Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.
(Uit Romeine 5)

Lofliedere
Lied 209 “Heer met my hele hart 1”
Lied 280 “Here redder groot en magtig 1,2,3”

Liedere

F14. “Jesus Is Die Heer”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Keer op keer,
val ek neer,
deur my eie sondigheid.
Telkens weer,
wil ek self probeer,
opstaan uit my hulpeloosheid.
Hy laat my verstaan,
daar is net een Naam.
Elke knie sal voor Hom buig.

Refrein:
Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer.
Dit is wat ek glo.
Ek sing dit weer en weer.
Jesus is die Heer.
Voor Hóm sal ek buig.
Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer.
Hy’s my Heer.

2. Keer op keer,
buig Hy neer
en lig my uit my hulp’loosheid.
Weer en weer
wys Hy Hom as Heer,
oorweldig my met heiligheid.
Dis dan dat ek verstaan
daar is net een Naam.
Elke knie sal voor Hom buig.

Refrein:

F164. “Elke Knie Sal Voor Hom Buig”  
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Rick Moser
© MAR Gospel Music Publishers
(Fil 2:10,11)

Elke knie sal voor Hom buig.
Jesus is die Heer.
En elke tong sal moet bely
Jesus is die Heer.
God het Hom ‘n Naam gegee
verhoog bo elke naam.
In sy Naam sal ons elke werk
van die bose kan weerstaan.
Elke bloedgewaste sing
Jesus is die Heer.
Aan Hom alleen die hulde bring
Jesus is die Heer.
Hy alleen is waardig
om die ere te ontvang.
Deur sy bloed is ons losgekoop
uit elke volk en stam.
Elke man en vrou en kind sing
Jesus is die Heer.
Laat jou loflied dag en nag weerklink
Jesus is die Heer.
Hemel, aarde dal en kruin sing
Jesus is die Heer.
Laat elke wese uitbasuin
Jesus is die Heer. [x3]
Jesus Christus. [x2]
Jesus is die Heer.

F167. “Wees Bly” 
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Diens en Getuienis / Wegsending)
Oorspronklike titel: Rejoice!
Teks en Musiek: Graham Kendrick
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© 1983 Kingsway’s Thankyou Music

Refrein:
Wees bly, want Hy, Koning Jesus,
die Hoop, die Vrede, woon in ons!
Hy leef! Hy leef! Sy Gees is in ons!
Staan op! Staan op! Gemeente, juig: Hy regeer !

1. Die tyd het aangebreek, bou aan Sy Koninkryk.
Die oes is groot, maar die arbeiders is min.
Hy kom in majesteit, bring die oorwinning in die stryd
Almal moet sien dat Hy regeer!

2. Jesus werk in ons, Hy volvoer deur ons sy plan.
Hy bou sy ryk, nie van woorde maar van krag!
Selfs die onmoontlike, dit doen Hy met sy wondermag
Almal moet sien Hy is die Heer

3. Al is ons swak, deur sy genade is ons sterk
Ons is soos klei, en Hy vorm ons na sy beeld
Juis as ons swak is, weet ons sy Naam word deur ons geëer
Dan sien die wêreld Hy is Heer!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Maak my nou stil, Heer.
Ek wil na U luister;
my hart vir U oopmaak
dat U my kan aanraak.
Open my oë,
my hart en my ore,
dat ek U leer ken, Heer,
en voor U kan lewe.
(Flam 87 Die woorde kan gesing of gelees word).

Skriflesing:  Johannes 4:5-42

Prediking

Familie-oomblik

In 2011 was die Familie-oomblik voorstel heel kort: “Verduidelik vir die kinders dat ’n mens nie sonder water kan leef nie. Verduidelik dan hoe Jesus die beeld van water gebruik om die ware lewe wat Hy vir ons gee, te beskryf.”

Brenda Nelson submitted these ideas:
Fill a punch bowl with water and set on a large cardboard block or TV table to elevate it. Set a couple empty cups beside it and a small rubber tube (approx. a foot long/costing a dime from the hardware store). Tell the kids that the water in the bowl is the “living water” and the cups are the thirsty souls. Jesus said, “whoever drinks the water I give him will never thirst. Indeed, the water I give him will become in him a spring of water welling up to eternal life.” John 4:14. Ask the kids to see if they can get the water from the bowl into the cups without moving them. They use the tube to try to transfer the water. After they try several times, they can usually get a few drips of water transferred. But a spring is water that bursts out of the ground and flows constantly (if it were enclosed within a wall, like a man-made well, it would eventually overflow). Show the kids that if you submerge the tube in the water and turn up the end of the tube under the water to release the air pockets in it, then, while the whole tube remains submerged, if you plug one end of the tube with your finger and then keep the other end submerged, when you move the plugged end out of the water, position it below water level and remove your finger from it, it begins to suck the water from the bowl, so it flows consistently into the cups, as it should. Then let the kids try it again. Tell them, when Jesus gives us living water, he is not referring to this kind of water (the H2O we are playing with), but to the Holy Spirit. Like the spring that flows consistently and doesn’t just drip, we should be thinking about and telling others about our Savior all the time, sharing the life-giving Holy Spirit with them.

Inkleurprente.

Preekriglyn

Die Universiteit van Kalifornië te Berkley het ‘n internasionale projek om lewe in die buitenste ruim te vind op ‘n besondere manier bestuur.

Om hierdie allemintige taak te kon uitvoer, wat enorme hoeveelhede rekenaarverwerkings vereis het, moes innoverende planne gemaak word. Berkley het mense met tuisrekenaars reg oor die wêreld gevra om hulle oor die internet te kontak en ‘n program met die naam [email protected] af te laai. Die SETI-sagteware konnekteer met ‘n rekenaar in Kalifornië en laai dan ‘n “werkeenheid” af. Dit is ‘n stel opmetings wat in ‘n sekere deel van die ruimte gemaak is, en wiskundig verwerk moet word. ‘n “Werkeenheid” is nie groot nie, maar dit neem die tuisrekenaar ‘n hele tydjie om die verwerkings te doen.

Sodra die taak afgehandel is, kontak die tuisrekenaar Berkley in Kalifornië, stuur die resultate terug, en laai ‘n nuwe “werkeenheid” af. Wat selfs ‘n moderne superrekenaar nie kan doen nie, kan ‘n paar miljoen tuisrekenaars met gemak verrig.

Soms word wonderwerke en buitengewone take ten beste afgehandel deur op die gewone, alledaagse staat te maak. Dit werk beslis so met ons diens aan God. Deur die gewone, alledaagse dinge wat ons doen, kan wonderwerke plaasvind. Deur die klein besonderhede van ons lewens, en die alledaagse in diens van God te stel, kom daar groot deurbrake.

‘n Reisiger word dors

Dit is twaalfuur die middag, die warmste deel van die dag. ‘n Reisiger tussen Jerusalem en Galilea word moeg van die reis. Hy en sy volgelinge is honger en dors. Terwyl Hy by ‘n put gaan sit, kom ‘n vrou water skep. Die reisiger, Jesus, vra vir haar water om te drink.

Moegheid, dors en water, gewone alledaagse verskynsels, word die aanknopingspunt vir ‘n lewensveranderende gesprek deur Jesus – eers met die vrou en later met die hele dorp. Niemand bly onaangeraak nie.

Mens leer in hierdie teks om die gewone en alledaagse nooit te onderskat nie. Selfs nie eers die gewone en gevestigde praktyke, vooroordele en vyandskappe nie. Die bekende struikelblokke, twispunte en debatte kan die materiaal van deurbrake word. Gewone behoeftes, soos na water – gebore uit fisiese dors van die reis, of geestelike dors na vervulling en tuiskoms, kan lewens en gemeenskappe verander.

Kom ons volg Jesus deur die gebeure van hierdie hoofstuk deur op te let wat ons by Hom kan leer. Dit maak ons sensitief vir die geleenthede wat God vandag nog in die sleurgang van die alledaagse oor ons pad bring.

‘n Lewe gewy aan God se werk

Johannes 4 begin waar Jesus Jerusalem verlaat en reis na Galilea. Volgens vers 4 “moes” Hy deur Samaria gaan. Hierdie “moes” is ‘n sterk woord in die oorspronklike Griekse teks. Dit dui op ‘n goddelike noodwendigheid. God die Vader, aan wie se werk Jesus volledig toegewy was, wou hê Jesus moes deur Samaria gaan.

Samaria is die provinsie wat tussen Judea in die suide en Galilea in die noord gelê het. Dit was die tuiste van die Samaritane, die produk van ondertrouery tussen Jode en heidene. Gevolglik was Samaria as onrein beskou, en het Jode dit verkieslik vermy. Reisigers tussen Judea en Galilea het gewoonlik die Jordaan oorgesteek en langs Samaria verby gereis om dit te vermy.

Jesus “moes” deur Samaria gaan. God wou Hom daar gaan gebruik. Jesus gehoorsaam sy Vader. Op hierdie manier word ‘n gewone reis ‘n avontuur.

‘n Openbare plek

Jesus gaan sit op ‘n openbare plek, by die put van Jakob, naby die dorpie Sigar, om bietjie te rus. Jakob het die put gekoop van Hamor (Gen. 33) en aan Josef gegee op sy sterfbed (Gen. 50), hoewel Josef dit nooit in besit geneem het nie. Net sy bene is daar begrawe (Jos 24) nadat die volk die Beloofde Land in besit geneem het. Dit was ongeveer 30 meter diep. ‘n Mens kan vandag nog daar water drink!

Dit is helder oordrag, twaalfuur. In daardie tyd het vroue twee keer ‘n dag gaan water haal vir hulle huise, soggens en saans, wanneer dit koeler was. Die Samaritaanse vrou gaan skep water op die warmste tyd van die dag. Sy vermy dus die ander vroue van die dorp, miskien omdat sy verwerp gevoel het, of meer waarskynlik inderdaad ‘n verworpene was. Sy het immers ook ‘n hele paar mans gehad.

Blykbaar was daar nog boonop ‘n ander put nader aan die dorpie, wat sy sou kon gebruik het. Die water van Jakob se put was egter suiwerder … en verder van die dorp af.

By so ‘n openbare plek moet mens op en wakker wees. Dit is plekke soos hierdie waar grense makliker oorgesteek word as in private ruimtes wat nie toeganklik is nie. Presies dit gebeur hier. Wanneer die vrou die alledaagse doen, om water te skep, praat Jesus met haar: “Gee My ‘n bietjie water om te drink.”

Dit is ‘n eg menslike vraag, gebore uit die dors van die reis. Dit is die appèl van een mens wat hulp nodig het aan ‘n medemens wat in staat is om te help. Hierdie soort versoek is alledaags en klink miljoene keer elke dag regoor die wêreld op. “Ek het hulp nodig – kan jy my help?”

Min gepla oor sosiale afkeur

Natuurlik was Jesus se vraag ook meer as ‘n alledaagse vraag. Tussen Hom, as Joodse man, en haar as Samaritaanse vrou, lê daar enorme sosiale grense wat soos reuse bergreekse skeiding bring:

  • Die Jode en die Samaritane, weet ons, leef in vyandskap en gaan nie met mekaar om nie – waarna die vrou tereg in vers 9 verwys.
  • Hy is ‘n man en sy ‘n vrou. Die kontak tussen mans en vroue is deur sterk sosiale grense beskryf en gereguleer.
  • Jesus is ‘n rabbi, wat beteken sy sosiale kontak met vroue was godsdienstig uiters beperk. Daarom is die dissipels – toe hulle uiteindelik terugkom (27) uiters verbaas dat Jesus met ‘n vrou praat.

Opvallend genoeg oortree Jesus die willens en wetens sosiale norme om by te vrou uit te kom. Hy kyk dieper en verder as die sosiale afkeur aan sogenaamde onvanpaste gedrag. Hy sien ‘n mens en ‘n hart. Hy sien iemand wat op ‘n vreemde tyd kom waterskep. Hy sien ‘n pynlike persoonlike geskiedenis. Hy sien ‘n randfiguur. Hy sien ‘n gemeenskap agter die vrou wat ook, net soos sy, behoefte aan God en God se genesende teenwoordigheid het.

In ‘n oogwink snap Jesus dat die alledaagse oomblik die geleentheid is om ‘n dramatiese verskil te maak.

Bied lewende water aan

Die gesprek begin by Jesus wat water vra, maar neem vinnig ‘n wending. Jesus stuur die gesprek in ‘n belangrike rigting. As die vrou maar geweet het wat God gee, en Wie dit is wat vir haar water vra, sou sy die kans aangegryp het om self water te vra. Sou sy weet wie Jesus is, sou sy lewende water vra.

Natuurlik verstaan sy nie heeltemal nie. Hier is iemand sonder ‘n skepding, wat water vra, en skielik self water wil uitdeel. Wanneer Jesus die belofte van lewende water herhaal, raak sy oop en vra vir dié water. Sy wil nou ook van die water hê wat soos ‘n fontein opborrel en vir haar die ewige lewe gee.

Vir Jesus was dit ‘n risiko om die sosiale grens na die Samaritaans vrou oor te steek. Sy is egter ontvanklik die gesprek, en reageer op Jesus se aanbod. Vinnig ontvou ‘n gesprek waar nie regtig Jesus se behoefte aan water nie, maar hierdie vrou se diepe behoefte aan lewende water wat die ewige lewe gee, op die tafel kom.

Dit word vinnig duidelik dat Jesus deur Samaria “moes” reis omdat God hierdie vrou wou aanraak. Dit is duidelik dat God dieper kyk, ook verby menslike afkeer aan sosiale randfigure kyk, en hierdie vrou wil aanraak.

Hierdie gebeure laat mens dink aan Filippus wat Natanael in Johannes 1 bring om na Jesus te kom kyk. Wanneer Natanael Jesus sien, hoor hy dat Jesus hom reeds ken. Die teks (Joh. 1:48) sê:

Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?” “Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.”

Net soos Jesus Natanael vooraf al gesien het, het Hy hierdie vrou ook al vooraf gesien. Hy weet wie sy is en ken haar nood. Hy reik na haar uit. Wanneer sy uiteindelik die Here vind, ontdek sy Hy het haar eerste gevind.

Daarom bied Jesus vir haar lewende water aan. En begelei Jesus haar tot sy vra vir die lewende water. Op die manier word ‘n hele dorp se dors aanstons geles.

Eindelose geduld

Hierdie is geen eenvoudige gesprek nie. Wanneer die vrou vra vir die lewende water, wil Jesus eers hê sy moet haar man gaan haal. Op hierdie manier word haar pyn ontbloot. Sy het nie ‘n man nie. Sy het alreeds vyf mans gehad, en die een wat sy nou het, is nie haar man nie.

Volgens Joodse gebruik kon ‘n man sy vrou skei deur ‘n skeibrief te gee. ‘n Vrou kon egter nie haar man skei nie. Hierdie vrou was dus reeds minstens vyf keer deur mans weggestuur, geweeg en te lig bevind. Volgens Joodse gebruike mag ‘n vrou nie meer as drie keer trou nie. Vroue kon dit ook nie alleen deur die lewe maak nie – hulle was afhanklik van ‘n verbintenis met ‘n man. Hierdie vrou eet waarskynlik genadebrood by ‘n man wat haar nie wil trou nie. Om hierdie rede kan sy nie ‘n man gaan haal nie. Sy het nie een nie.

Sy sien nou dat Jesus meer as ‘n gewone mens is. Nou noem sy Hom ‘n profeet, en stuur die gesprek in die rigting van die regte plek om God te aanbid. Met eindelose geduld bly Jesus met haar in gesprek en stuur die gesprek in die rigting van die ware aanbidding van God. Nou herinner Jesus se woorde die vrou aan die Messias. Sy weet die Messias, wanneer Hy kom, die hele waarheid bekend sal maak.

Dit gee Jesus die geleentheid om vir haar te sê Hy is die Messias. Waarop sy haar waterkan net daar laat staan en dorp toe laat spaander.

Jesus het haar inderdaad geduldig langs ‘n moeisame pad begelei. Iemand skryf:

At the beginning of the conversation he did not make himself known to her, but first she caught sight of a thirsty man, then a Jew, then a Rabbi, afterwards a prophet, last of all the Messiah. She tried to get the better of the thirsty man, she showed dislike of the Jew, she heckled the Rabbi, she was swept off her feet by the prophet, and she adored the Christ.

Offer eie gerief op

Die dryfkrag van sy roeping as gestuurde van God, en sy passie om die wil van sy Vader te doen, maak dit vir Jesus maklik om sy persoonlike gerief en sy behoefte aan rus op die agtergrond te skuif. Sy voedsel is inderdaad om die wil van God te doen (34).

Die vrug op Jesus se onbaatsugtige diens is groot. Hierdie vrou word, naas Johannes die Doper, die tweede getuie van Jesus volgens die Johannes-evangelie. Sy haas haar terug na haar dorpie, en bring die hele dorp na Jesus toe.

Op ‘n aangrypende wyse sê ons teks:

Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.”

Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly.

Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het;

en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.” (39-42)

Dit is die verstommende vrug van gebeure wat by die alledaagse vraag na ‘n bietjie water begin het!

Offer tyd op

Dit is opvallend dat Jesus ook bereid is om sy tyd en beplanning op die spel te plaas om God se werk te doen. Normaalweg het ‘n reis na Galilea deur Samaria drie dae geneem. Jesus moes ongetwyfeld ‘n bepaalde beplanning en tydraamwerk vir hierdie reis gehad het. Tog skort Hy sy eie planne op ter wil van die Samaritane. Hulle dring by Hom aan om langer te bly, en Jesus verleng sy reis met twee dae om tyd saam met hulle deur te bring.

Dit is ‘n besondere kenmerk van Jesus dat Hy – op grond van mense se nood – sy planne kon opskort om ruimte vir mense te maak. Nog ‘n voorbeeld daarvan is dat Hy – op pad om Jaïrus se dogtertjie te gaan genees – eers tyd inruim om aandag te gee aan die vrou wat twaalf jaar aan bloedvloeiing gelei het (Markus 5:30).

Vrug van die alledaagse

Die wyse waarop ons Jesus hier sien optree, laat mens besef dat daar min alledaags aan die alledaagse is – spesifiek wanneer jy Jesus navolg.

Ons weet dat Jesus nie weg is nie. Jesus het gely, gesterf, is opgewek en het opgevaar na die hemel. Dit beteken nie dat Jesus afwesig is nie. Die Nuwe Testament getuig op talle plekke dat Jesus, vanwaar Hy regeer aan die regterhand van die Vader – steeds sy bediening op aarde voortsit. Jesus is teenwoordig en Jesus raak steeds mense aan.

Jesus doen dit ook deur ons by die werk van God in te skakel. Daarom is die verrassende, wonderbaarlike momente in Johannes 4 nie afgehandel nie. Hierdie soort wonders speel elke dag af waar mense Jesus navolg en sensitief is vir die verrassende wyse waarop God ons elke dag gebruik.

‘n Praktiese manier om beskikbaar en sensitief vir God se leiding te wees, is om op te let na mense se dors. Waarna het mense rondom ons ‘n versugting? Versugtinge wat dikwels op baie disfunksionele maniere na vore kom?

Op hierdie pad moet ons doen wat Jesus gedoen het. Hy was sensitief vir die mense wie sy pad kruis. Hy het sosiale norme nie bo mense se nood geplaas nie, was geduldig, het sy tyd en eie gerief opgeoffer, en het sy eie program ondergeskik gestel aan die verrassende werk wat God deur Hom doen. As dit is wat ons Leermeester gedoen het, moet ons dit navolg.

Die dieper dors

William Langewiesche vertel van ene Lag Lag (Engelse uitspraak van die naam!) en sy vriend wat deur die Sahara gereis het toe hulle vragmotor breek. Soos hulle in die warmte gedehidreer het, het hulle bereid geraak om enigiets te drink om hulle verskriklike dors te les. Die son het hulle onder die voertuig ingedwing, waar hulle ‘n vlak sloot gegrawe het. Daar het hulle dag na dag gelê. Hoewel hulle kos gehad het, wou hulle nie eet nie uit vrees dat dit die dors erger sou maak.

Dehidrasie is wat in die woestyn doodmaak, dalk die verskriklikste van alle menslike lyding. Lag Lag het gevorder van eudipsia, gewone dors, na hyperdipsia, oftewel episodes van intense dors, en daarna na polydipsia, aanhoudende, intense dors. Hierdie soort dors dryf mens om enigiets te drink, selfs urine en bloed.

Tydens hulle fase van polydipsia het Lag Lag en sy vriend begin om die vragmotor se verkoelerwater te drink. Om te oorleef was hulle bereid om effektief gif te drink. Gelukkig is hulle betyds gered.

Baie mense se lewens getuig van so ‘n dieper, groter dors. Polydipsia. Hulle is bereid om dinge soos geld, seks, verslawende middels en mag aan te gryp en te misbruik om die dieper dors te les. Hierdie dinge les egter nie mens se dors nie. Dit is in werklikheid gif.

As navolgers van Jesus kan ons gerus oplet na die dors van die mense rondom ons. En vir hulle water aanbied. Die water is nie veroordeling nie – ook dit is gif. Die water is medemenslikheid wat hulp vra en Jesus aanbied. Hy gee die soort water wat alles dors wegneem, wat soos ‘n fontein opborrel en die ewige lewe gee.

Ja, mens leer in hierdie teks om die gewone en alledaagse nooit te onderskat nie. Selfs nie eers die gewone en gevestigde praktyke, vooroordele en vyandskappe nie. Die bekende struikelblokke, twispunte en debatte kan die materiaal van deurbrake word. Gewone behoeftes, soos na water – gebore uit fisiese dors van die reis, of geestelike dors na vervulling en tuiskoms, kan lewens en gemeenskappe verander.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankie Here Jesus dat u liefde en omgee
verby die Joodse volk gestrek het
selfs tot in die Samaritaanse gemeenskap
en uiteindelik tot by my (ons) wat hier saam is
Dankie Here Jesus dat die water wat U voorsien
inderdaad lewende water is
sodat ek (ons) in ewigheid nooit weer geestelik hoef dors te wees nie
Dankie Here Jesus dat U die Christus is
die Seun van God
die Een wat lank tevore belowe is
die ware lig wat na die wêreld toe gekom het
wat na U eiendom toe gekom het
Amen

Geloofsbelydenis
Gebruik die Sestiende Verklaring van Geloofsverklaring 2000 as geloofbelydenis:
Ons glo
· dat Jesus Christus die enigste Een is wat vir ons die pad na God toe oopgemaak het – Hy is die weg, die waarheid en die lewe
· dat ook mense wat ander godsdienste aanhang, goeie eienskappe soos goedheid, liefde, trou en eerlikheid kan vertoon
· dat ‘n mens die volheid van God slegs deur Jesus Christus leer ken en bekom
· dat die lot van mense wat nie vir Christus ken nie, in God se hande is
· dat ons vir alle mense wil vertel dat Jesus Christus hulle met God kan versoen
· dat ons graag ook met mense van ander godsdienste in die daaglikse lewe wil saamwerk en met hulle in gesprek wil tree. Ons woorde en dade moet hulle iets laat sien van die liefde van Jesus

Offergawes

Wegsending: Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Seën
Mag die Here Jesus Christus by jou wees om jou te
beskerm;
Binne-in jou wees om jou te verfris;
Rondom jou wees om jou te bewaar;
Voor jou wees om jou te lei;
Agter jou wees om jou te regverdig;
Bo jou wees om jou te seën.
Hy wat saam met die Vader en die Heilige Gees
leef en regeer – God vir ewig en altyd.
William Temple (1881-1994)
(uit: Van der Merwe, J (Red) 2001. Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Wellington: Lux Verbi)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.