Derde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag begin met die teks uit Eksodus as sleutelteks. Die Tien Gebooie is weer op ’n ander manier bevestiging van God se verbond, hierdie keer met Israel in die woestyn.
Psalm 19 bevestig opnuut dat die Wet van God, as verbondsriglyn, volmaak is.
Die teksdeel uit 1 Korintiërs bevestig net weer dat die verlossing deur die prediking, die hoor en luister na die Woord, kom en nie deur menslike wysheid nie.
Deur die tempelreiniging verwys Jesus weer na sy sterwe en opstanding.

Ander tekste

Psalm 19
Die openbaring van die Here is volmaak
19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

1 Korintiërs 1:18-25
Christus die krag en die wysheid van God
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 19Daar staan tog geskrywe:
“Die wysheid van die wyses
sal Ek vernietig,
en die geleerdheid
van die geleerdes
sal Ek tot niet maak.”
20Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? 21Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

26Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 27En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 28en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. 29Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. 30Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. 31Daarom, soos daar geskrywe staan:
“Dié wat wil roem,
moet in die Here roem.”

Johannes 2:13-22
Die reiniging van die tempel
(Matt 21:12–13; Mark 11:15–17; Luk 19:45–46)
13Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. 14Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit. 15Toe het Hy met toutjies ’n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer. 16Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie.”

17Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.”

18Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?”

19Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.”

20Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”

21Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. 22Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.

Fokusteks

Eksodus 20:1-17
Die tien gebooie
(Vgl Deut 5:6–21)
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:
2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.
8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.
12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Liturgie

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord
Seëngroet 

Loflied 209 “Heer met my hele hart 1”

Wet

Skuldbelydenis
(Uit Psalm 19)
of responsories soos uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15

Genadeverkondiging

Lied 244 “Alles, alles is genade 1,2,3,4”

Geloofsbelydenis
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15, Basisliturgie vir Lydenstyd))

Epiklese

Skriflesing: Eksodus 20:1-17

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 250 “God’s wet vra al ons liefde 1,2,3,4,5”

Seën
Antwoord

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Melding word gemaak (in Woord en Fees 2015 van Bybel-Media) dat die verbond vanjaar soos ‘n goue draad deur RCL-tekste loop. Omdat die fokusteks oor Eksodus 20 gebruik ons die responsoriese  weergawe soos in Handleiding vir die erediens, 2010:24.

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord 
Voorganger: Here ontferm U oor ons.
Gemeente: Christus ontferm U.
Voorganger: Here ontferm U oor ons
Gemeente: en gee ons u vrede,
(Lied 248 “Kyrie Eleison”).
“Kyrie Eleison” kan ook as aanvangslied of na die Aanvangswoord gesing word.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15, Basisliturgie vir Lydenstyd))

Seëngroet 
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Fil 1)

Loflied 209″ Heer met my hele hart 1″

Wet
Voorganger: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
Gemeente: Dankie dat ons U kan erken as die enigste ware God.

V: Jy mag nie enige beeld of afbeelding vereer nie, want Ek eis onverdeelde trou aan My.
G: Dankie dat ons U kan leer ken uit u Woord en die sakramente.

V: Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie.
G: Dankie dat ons u heilige Naam mag aanroep.

V: Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.
G: Dankie dat U vir ons sorg en vir tye van rus.

V: Eer jou vader en jou moeder.
G: Dankie vir ons ouers en ander mense wat vir ons omgee.

V: Jy mag nie moord pleeg nie.
G: Dankie dat U vir ons die lewe as ’n waardevolle geskenk gee.

V: Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
G: Dankie dat U dit vir ons moontlik maak om aan mekaar getrou te wees.

V: Jy mag nie steel nie.
G: Dankie dat U vir ons die vermoë gee om te kan werk.

V: Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
G: Dankie dat U ons in die waarheid lei.

V: Jy mag nie iemand anders se besittings begeer nie.
G: Dankie vir wat ons uit u hand ontvang.
(Uit Bybelmedia se Handleiding vir die erediens, 2010)

Skuldbelydenis
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.
(Uit Psalm 19)

of responsories soos uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15
Voorganger: Wie sien sy eie dwalinge raak?
Gemeente: Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie.
Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.

Vryspraak
Voorganger: Jy sal onberispelik wees en vry van hierdie groot sonde.
Gemeente: Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser
(uit Ps 19).

Genadeverkondiging
Almal wat in ware berou na Jesus Christus kom vir verlossing, verklaar ek vrygespreek in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
(Calvyn in  Bybelmedia se Handleiding vir die erediens, 2010)

Lied 244 “Alles, alles is genade 1,2,3,4”

Geloofsbelydenis
Gemeente: Ek glo in God – God die Vader.
Voorganger: Ek glo dat Hy alles gemaak het en steeds daarvoor sorg.

Gemeente: Ek glo in God – God die Seun.
Voorganger: Ek glo dat Hy moes ly om die toorn van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy juis onder Pontius Pilatus gely het en onregverdig veroordeel is om die oordeel van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy juis ’n kruisdood moes sterf  om die vloek van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy dit vir my persoonlik gedoen het.
Ek glo dat Hy weer opgestaan het as bewys daarvan dat Hy die kwaad oorwin het.

Gemeente: Ek glo in God — God die Heilige Gees.
Voorganger: Ek glo dat Hy dit wat Jesus vir my verwerf het waar maak in my lewe, my oortuig van die sonde in my lewe en my verseker van die verlossing (uit die “Heidelbergse Kategismus”).
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15, Basisliturgie vir Lydenstyd))

Liedere

F7. “Here, Ek Vergeet So Gou”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Skuldbelydenis)
Oorspronklike titel: Lord, Have Mercy
Teks en musiek: Steve Merkel
Afrikaanse vertaling: 2005  Breda Ludik
© 2000 Integrity’s Hosanna Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Here, ek vergeet so gou
u woorde en beloftes,
en die vuur wat in my hart
gebrand het, is nou flou.
Met ‘n hart vol ongeloof
bedink ek aardse wysheid.
Vergewe tog my louheid,
ontvlam my hart se vuur.

Refrein:
Heer, vergewe, wees genadig.
Jesus, wees genadig.
Heer, vergewe, wees genadig.
Christus, wees genadig.

Ek het soms ook neergekniel
voor mensgemaakte gode
en gegaan op paaie wat
my ver van U wegneem.
Maar ek keer weer terug na U
en pleit om u genade.
Vergewe tog my sonde
en neem my in u huis.

Refrein:
Ek het terug verlang na U,
u liefde en genade;
na die stroom van goedheid
wat vloei van waar U woon.
Nou kom buig ek voor U neer,
want U is nog my Vader.
Ek is nog ‘n kind van U;
ek kan U nie vergeet.

Refrein:

F76. “Die Woord Van God”
(RUBRIEK: Flammikidz – Woord van God)
Teks en Musiek: Soekie Rautenbach
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op God is groot)
(Deut 6)

Refrein: (x2)
(Want) Die Woord van God is ewig
(Ja) Die Woord van God is waar

Die Bybel is die Woord van God
sal dit in my hart bewaar
Die Woord van God is nie te hoog
Die Woord van God is nie te ver
Die Woord van God is naby my
in my mond en in my hart

Refrein: (x2)
As ek sit of as ek staan
as ek lê of waar ek gaan
praat ek daaroor want ek weet
dan sal ek dit nooit vergeet

Refrein: (x2)

Skryf dit as ‘n teken op
op jou hand en op jou kop
in jou huis en op die deur
dat jy dit uit jou kop kan leer

Refrein: (x2)

My oë lees die woorde deur
My ore hoor dit weer en weer
My mond bely dit nog ‘n keer
My hande doen wat dit my leer

Refrein: (x2)

God praat met ons en ons luister

Epiklese
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
Mag U Woord Here,
nou vir ons soos druppels uit ‘n heuningkoek wees.
Amen
(Uit Psalm 19)

Skriflesing: Eksodus 20:1-17

Prediking

Familie-oomblik

Voordat ‘n eenvoudige wet aan die kinders voorgehou word, vertel dalk net iets van die aanloop tot die wetgewing wat deur God self aan die volk deur Moses gegee is.

Eksodus begin om die toneel van slawerny te skets in Egipte voordat Moses op die toneel verskyn met ‘n vertelling van sy geboorte en opvoeding. Wanneer Moses ‘n Egiptenaar doodslaan moet hy vlug na Midian. Wanneer God die noodkrete van Sy verdrukte volk in Egipte hoor, roep Hy Moses om sy volk te bevry uit die mag van slawerny. Die Egiptenare laat toe dat die volk wegtrek na die ervaring van die 10 plae maar sterf in die wonderwerk by die see waar al die agtervolgers verdrink. Onder leiding van Moses swerf die volk in die wildernis totdat God by berg Sinai vir Moses die wet (10 gebooie) gee.

Eksodus 31:18
18Nadat die Here op Sinaiberg met Moses gepraat het, het Hy die twee plat klippe met die getuienis daarop aan Moses gegee. Dit is die plat klippe waarop God met sy vinger geskryf het.

Carolyn Brown se wet vir die kinders is vry vertaal uit die Engels:
Ek is die Here, God. Ek het jou bevry uit slawerny in Egipte. Ek het die see laat oopgaan sodat julle kan deurtrek. Ek is die enigste ware God. Moenie enigiets of iemand anders aanbid nie.
Ek is groter en magtiger as enigiets waaraan jy kan dink. So moenie vir jou beelde of voorwerpe maak wat jou aan my laat dink en dit aanbid nie.

Gebruik my Naam altyd met respek.
Werk ses dae ‘n week, maar hou een dag eenkant om te rus en daaraan te dink dat jy My kind is.
Behandel altyd jou pa en ma (ouers) met respek.

Moenie doodmaak nie.
Wees lojaal aan jou gesin en familie.
Moenie iets vat wat nie aan jou behoort nie.
Moenie leuens oor ander mense versprei nie.
Weerhou jou daarvan om iets te begeer wat aan andere behoort.
Hier gee Carolyn Brown ook praktiese riglyne om kleitablette te maak en die wet in eenvoudige vorm op kleitablette te skryf.
In die NG Kerk se kategesemateriaal – “Handboek vir die Kategeet Graad 3” – is oulike uitbeeldings van die verskillende gebooie wat kinders sal help om die gebooie te onthou.

Preekriglyn

Wayne Lo, ‘n tweedejaarstudent van Simon’s Rock Kollege in Massachusetts, VSA, het twee mense in 1992 met ‘n semi-outomatiese geweer doodgeskiet en vier ander beseer. Hy het volgehou, selfs tydens die eerste jare van sy tronkstraf, dat God hom gekies het om die verwoesting aan te rig. Later het hy dit ‘n periode van ontkenning genoem.

“Destyds het ek gedink ek doen die regte ding,” het hy onlangs gesê, “maar as ek vandag terugkyk, maak dit nie vir my sin nie. Ek vra myself waarom ek dit gedoen het?”

In Desember 1992 het God, volgens Lo se vroeëre weergawe, vir hom gesê om na ‘n vuurwapenhandelaar te gaan, ‘n wapen met sy ma se kredietkaart te koop, en dan mense te skiet. Hy was briesend vir sy regspan wat tydens sy verhoor aangevoer het hy was van sy verstand af. Sy argument was dat sy advokate liewers ordentlik ondersoek na sy slagoffers moet doen. Hulle moes bepaal waarom ‘n goddelike mag besluit het sy slagoffers moet doodgemaak word.

Nadat Wayne Lo met verloop van tyd besef het God kon hom onmoontlik kies om soveel pyn te veroorsaak, het hy geworstel om te verstaan wat hom ‘n moordenaar gemaak het. Hy bly tot vandag oortuig dit was iets buite homself. Miskien was dit ‘n bonatuurlike of sataniese mag. Hoe ook al, hy weier steeds om persoonlike verantwoordelikheid vir die moorde te aanvaar.

Lewe in oorvloed

Die tien gebooie demonstreer God se passie vir lewe in volheid. God beveel niemand om lewe tot niet te maak nie. Sy gebooie is God se instrumente om ‘n betroubare, liefdevolle samelewing te skep waarin lewe in oorvloed kan gedy.

Die gee van die wet in Eksodus 20 is deel van die geskiedenis van God se bevryding van Israel. Hy verlos die volk wat swaar gebuk gaan onder die juk van slawerny in Egipte. Hy dra hulle, soos op arendsvlerke deur die woestyn (Eksodus 19). En nou leer hy hierdie vertrapte, wantrouige, gedisoriënteerde, pas vrygelate slawe hoe hulle moet lewe.

Daarom moet ons versigtig wees om Eksodus 20 nie wetties te lees nie. Hierdie teks is nie ‘n lysie absolute regulasies wat bedoel is om – los van enige konteks – te veroordeel nie. Hierdie is eerder God se opvoeding vir lewenskwaliteit en lewensrigting wat pas by begenadigde, bevryde mense.

Die wet, en die wyse waarop God daardeur gedien moet word, is nie ‘n nuwe vorm van dwingelandy vir voormalige slawe nie. “Die wet,” skryf teoloog Fretheim, “is ‘n gawe van ‘n verlossende God. God se bevryding uit Egipte onderlê en begelei die wet – en nie andersom nie.”

Die liefdevolle God, wat mense vry maak om mense te wees, en lewe in oorvloed te hê (Joh. 10:10), skenk die wet om egte mens-wees in vryheid te begelei en te stuur.

Verhaal van die wet

Die verhaal waarin Eksodus 20 inpas, is die verhaal van God wat die noodkrete van die volk hoor en hulle van onderdrukking bevry. Die volk leer op hulle reis in die woestyn dat God verhoudinge vooropstel. Gehoorsaamheid, leer die volk in die woestyn, is gewortel in die verhouding met God. Die wet moet binne die konteks van hierdie verhaal verstaan en uitgelê word.

Vanuit hierdie verhouding met God, leer die volk hoe hulle as geloofsgemeenskap moet lewe. Die tien gebooie begelei hulle om in die regte verhouding met God en met mekaar te lewe. Daarom is die gebooie nie wette en regulasies nie. Die gebooie is ‘n staf om mee te wandel, op so ‘n manier dat almal se lewe en lewenskwaliteit beskerm word. Die wet is bakens op die pad van groei om die soort gemeenskap te wees wat reg in verhouding tot God en medemens lewe.

Hierdie verhaal met sy fokus op verhoudings dien as basiese beginsel vir die interpretasie van die Tien Gebooie en die toepassing daarvan in die geloofsgemeenskap.

Twee dele

Die Tien Gebooie word algemeen verdeel in twee dele. Die eerste deel bestaan uit die inleiding en opdragte wat verband hou met die volk se verhouding tot God. Die tweede deel hou verband met die verhouding tot die naaste. Die twee dele is onlosmaaklik met mekaar verbind en is van sleutelbelang vir ’n lewe in geloof. Hoewel die tweede deel gerig is op die verhoudings tussen mense, is die oorsprong van hierdie opdragte geleë in die karakter van God; God wat red, bevry en die lewe voorop stel.

Inleiding van die gebooie

Die inleiding wat ons in die eerste twee verse vind, dien as basis vir die interpretasie van die res van die gebooie:

Toe het God al hierdie gebooie aangekondig: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.” (20:1-2).

Alles wat gesê word en elke verwagting wat die gebooie veronderstel, berus op die verhouding wat die volk het met dié God wat bevry. Die gehoorsaamheid wat die gebooie vra, ontwikkel vanuit ’n verhouding. Vers 2 kan byna voor elke gebod gelees word om die konteks duidelik te maak.

God verwag van die volk ’n bepaalde lewe van gehoorsaamheid wat ontspring vanuit dankbaarheid vir God se handelinge van bevryding. Hierdie bevryding is nie bloot ’n historiese daad wat afgehandel is wanneer God die volk uit slawerny verlos nie. Dit is eerder die karakter van God. God is die een wat bevry. God die Bevryder, is ook die Een wat die geloofsgemeenskap uitdaag met dieselfde roeping.

Christus

Die verband tussen hierdie tekskeuse en lydenstyd is nie met die eerste oogopslag duidelik nie. Ons weet natuurlik dat die genade van God in Christus soveel helderder sigbaar is as die verlossing van die Jode uit Egipte.

Die posisie van die wet bly egter in die Nuwe Testament dieselfde: ons gehoorsaam God uit dankbaarheid. Ons sien ook in Christus hoe duur die genade is wat God aan ons bewys.

Nogmaals: Lewe moontlik gemaak

Die Tien Gebooie word verstaan vanuit die bevryding uit Egipte, wat vir die volk lewe in gemeenskap moontlik maak. Die doel van die Tien Gebooie is dus nie eerstens om te bind of te straf nie, maar om ruimte te skep. Dit daag die gemeenskap uit tot die vorming van konstruktiewe verhoudings, wat die lewe moontlik maak.

Elkeen van die gebooie is ‘n sleutel. Dit maak groter vryheid in gemeenskap moontlik. Elkeen van die gebooie skep die moontlikheid van ‘n nuwe wêreld, ‘n wêreld wat moontlik word wanneer dankbare mense-in-gemeenskap die gebod gehoorsaam.

Kom ons kyk hoe elkeen van die gebooie bevryding en lewenskwaliteit moontlik maak:

Gebod 1: Geen ander gode nie
God vra absolute lojaliteit en afhanklikheid van God. God verwag in die lig van die Eksodus gebeure absolute, enkelvoudige afhanklikheid. Die bevrydende moment wat ook vandag vir gelowiges in die gebod opgesluit lê, is die eenvoudige enkelvoudigheid daarvan. Ons hoef dus nie ons lojaliteite te verdeel nie. Ons hoef nie na ons heil te soek op ander plekke nie. Ons kan rus vind in die God wat die lewe vir ons wil.

Gebod 2: Geen beelde word gedien of vereer nie
Die gebod bestaan uit drie onderafdelings: . . . jy sal geen afbeelding maak nie; . . . jy sal nie daarvoor buig nie; . . . en jy sal dit nie vereer of dien nie.

Ons mag dus geen fisieke afgodsbeelde maak nie. Maar dit gaan oor veel meer as ‘n afgod naas God. Wat veral bedoel word, is dat die Here self nie vasgevang word  in ‘n sigbare, hanteerbare objek wat ons kan beheer nie. Die Here se vryheid om God te wees kan deur mense ingeperk word wanneer die Here met ‘n objek of plek verbind word.

Ons hoef natuurlik nie net aan fisiese dinge te dink nie. Ons kan ook beperkende beelde en idees oor God koester. Ons kan dink ons weet presies wie God is, wat God wil, hoe God optree, en hoe God wil hê ons almal moet lewe. So kan ons God maklik in ‘n boks plaas. Ons weet wie God haat, en wie God liefhet. Ons kan dink ons weet wat God verkies, en ons kan God se gebooie vir almal te alle tye akkuraat probeer uitlê. Gelowiges se konsepte van God is dikwels die afbeeldings wat ’n ware verhouding met God onmoontlik maak. Ons Godsbeelde kan ‘n afgod word.

Gebod 3: My Naam sal nie misbuik word nie
Verby kru taal roep die gebod ons op om God se naam só te gebruik dat dit in lyn is met God se wil. Deur God se naam te gebruik maak ons aanspraak op God se teenwoordigheid. As ons dus taal of idees oor God inspan om mense te beperk of om die lewe te verskraal, mis ons God se bevrydende karakter.

Gebod 4: Hou die Sabbat heilig
Hierdie positiewe oproep daag gelowiges uit tot ’n dag van herinnering en heroriëntasie. Op die Sabbat/rusdag moet gelowiges onthou dat hulle juis vanuit God se handelinge van bevryding bestaan en leef. Op dié dag word hulle genooi om in die wete van God se bevrydende handeling te rus en nie normaalweg voort te gaan met die werksaamhede van elke dag nie.

Vir gelowiges, veral in ’n werk – sukses – gedrewe kultuur, is hierdie ’n herinnering dat God nie ’n werk-holis is nie en dat daar in die skepping tye van rus en herstel is. Hierdie gebod bevry gelowiges verder van die idee dat hulle volkome verantwoordelik is vir hulle eie heil deur harde werk en inspanning. God nooi die gelowige in tot die bevryding van sy rus.

Uit hierdie primêre beginsels van ’n verhouding met die God van bevryding vloei die gebooie wat gemeenskap moontlik maak.

Gebod 5: Eer jou vader en jou moeder
Die respek waarom dit hier gaan is nie blinde navolging van tradisie of verwagting nie, maar eerder ontsag vir diegene wat die verhaal van God se bevryding onthou, oorvertel en leef. Israel word opgeroep om te onthou wie hulle is, naamlik die volk van God wat uit slawerny bevry is. Opvolgende geslagte moet mekaar hieraan herinner.

Gebod 6: Jy sal nie moord pleeg nie
Dis spesifiek hierdie gebod wat Wayne Lo misverstaan het. ‘n Goddelike wese wat opdragte gee om dood te maak, is nie die God van Christus en die Bybel nie.

Hierdie gebod spreek tot die hart van God se intensie van skepping en bevryding. Die basis van die gebod is dat alle lewe aan God behoort. God se bedoeling is dat lewe vermenigvuldig word, en nie geneem word nie. Lewe is dus nie iets waarmee mense kan doen wat hulle wil nie. Ons is nie God nie. God bepaal wat met lewe gedoen word.

Die lewe van ’n mens is kosbaar en heilig. God tree in die geskiedenis in om die lewe moontlik te maak. Nou word Israel opgeroep om daardie selfde lewe te beskerm en te bewaar. Die dood is natuurlik nie bloot beperk tot die fisieke liggaam nie. Ons is bewus van die lewende-dooies in ons samelewing wat weens geweld, substansmisbruik, armoede en stigma nie waarlik die lewe kan smaak nie. Hierdie gebod roep ons op om die lewe te bewaar, te beskerm en te streef na die bevestiging van menswaardigheid vir almal.

Gebod 7: Jy sal nie owerspel pleeg nie
Intieme verhoudings is die ruimte waarin mense op hul mees weerlose is. Dit is die plek waar ons blootgestel (uitgelewer) word aan ’n ander persoon. Die gebod roep gelowiges op om mekaar te bevry deur in verhoudings te leef waar ontsag vir mekaar bestaan. Owerspel impliseer verraad en misbruik van ’n heilige spasie. Soos God in getrouheid die lewe moontlik maak, word gelowiges opgeroep om dieselfde vir mekaar te doen.

Die verbod op owerspel neem die feit ernstig dat seksualiteit tegelyk ongelooflik wonderlik en ongelooflik gevaarlik is. Seksualiteit dien die gemeenskap slegs as dit met respek en dissipline beoefen word.

Gebod 8: Moenie steel nie
Die gebod roep gelowiges op om respek te hê vir mekaar se eiendom en besittings. Die gebod hou egter ook bepaalde uitdagings in vir diegene wat het en besit, teenoor hulle wat leef in armoede en verwaarlosing. Die gebod dring ons ook om diepsinnig na te dink oor ons sosiaal-ekonomiese beleid. Dié wat in weelde leef kan hulle nie beroep op die gebod as hulle nie ook aktief en kreatief meewerk aan ’n sosiale bestel waarin die lewe vir almal moontlik is nie.

Gebod 9: Moenie leuens vertel nie
Die gebod bevestig die feit dat die waarheid sal vry maak. Gelowiges word opgeroep om na die waarheid te soek wat vry maak en wat die lewe moontlik maak.

Gebod 10: Moenie begeer nie
Die oproep dring ons terug na die dankbaarheidsbeginsel. As ons begeer verloor ons fokus op al die wonders waarmee God ons seën. Die laaste gebod bring ons weer terug by die genadige en bevrydende God wat ons seën met die wonder van genoeg; die fees van genoeg.

Lewe in volheid

Jesus noem die vervulling van die wet liefde teenoor God en die naaste. Dit skep ongemak by mens, want ons wil dikwels self ‘n god wees en ons wil die naaste beperk tot diegene wat net soos ons en ons groep is. Jesus het ‘n ander definisie: die naaste is mense wat ons hulp nodig het.

Ook in die Tien Gebooie leer ons God ken as ‘n God met drif vir lewe en liefde. God se gebooie is onderwysing wat die wêreld ‘n veiliger, betroubaarder en ontsettend meer vreugdevolle plek maak.

Teen hierdie agtergrond moet ons ook sê: mens kan nie regtig God se gebooie breek nie, want die geregtigheid en liefde agter God se gebooie sal seëvier. Mens breek eintlik net jouself teen God se gebooie.

Daarom is dit net wys om God se onderrig ernstig te neem en self met passie te soek na die bevordering van lewe.

God stuur ons om te leef

Gebed
Here
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.
(Psalm 19)

Offergawes

Wegsending: Lied 250 “God’s wet vra al ons liefde 1,2,3,4,5”

Seën
2 Korinthiërs 1313Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.