Derde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die vyandskap tussen Jode en Samaritane word ongedaan gemaak deur geloof in Jesus (Joh 4). Dit is die resultaat van die vyandskap tussen God en mens wat in Christus opgehef word (Rom 5). Mense wat só glo, dien die Here eerder as om hardkoppig voor Hom te wees
(Ps 95 en Eks 17).

Ander tekste

Eksodus 17:1-7
Water uit die rots
17 Nadat die hele volk Israel uit die Sinwoestyn vertrek het, het hulle op bevel van die Here van plek tot plek gegaan totdat hulle by Refidim kamp opgeslaan het. Maar daar was geen water vir die volk om te drink nie. 2Toe het die volk met Moses rusie gemaak en gesê: “Gee jý vir ons water om te drink!”

En Moses antwoord hulle: “Waarom maak julle rusie met my? Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef?”

3Maar die volk was dors en hulle het vir Moses verwyt: “Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat omkom?”

4Daarna het Moses tot die Here geroep: “Wat moet ek met hierdie volk aanvang? Netnou gooi hulle my met klippe dood.”

5Toe sê die Here vir Moses: “Loop voor die volk verby en neem van die leiers van Israel saam. Vat ook die kierie waarmee jy op die Nyl se water geslaan het, en stap vooruit. 6Ek sal daar reg voor jou op die rots by Horeb staan. Dan moet jy teen die rots slaan, en daar sal water uitloop vir die volk om te drink.”

Moses het dit toe gedoen voor die oë van die leiers van Israel. 7Hy het die plek Massa e en Meriba f genoem omdat die Israeliete daar met Moses rusie gemaak het en ook omdat hulle die geduld van die Here op die proef gestel het toe hulle gesê het: “Is die Here by ons of nie?”

Psalm 95
Hy is ons God en ons is sy volk
95 Kom, laat ons jubel
tot eer van die Here,
laat ons juig oor die rots
by wie ons redding vind,
2laat ons na Hom toe gaan met lof,
laat ons Hom toejuig met lofsange,
3want die Here is die magtige God,
die groot koning oor al die gode.
4Die dieptes van die aarde
behoort aan Hom,
die kruine van die berge is Syne.
5Die see is Syne, Hy het dit gemaak;
sy hande het die land gevorm.
6Kom ons val in eerbetoon
voor Hom neer,
kom ons buig,
kom ons kniel voor die Here
ons Skepper!
7Hy is ons God en ons is sy volk,
sy kudde, sy skape,
deur sy hand versorg.
As julle vandag maar
na Hom wou luister:
8“Moenie hardkoppig wees
soos destyds by Meriba,
soos die dag by Massa
in die woestyn nie,
9waar julle voorvaders My uitgetart
en my geduld beproef het,
hoewel hulle gesien het
wat Ek gedoen het.
10Veertig jaar lank het Ek ’n weersin
in daardie geslag gehad,
Ek het gesê:
‘Hulle is ’n moedswillige volk,
hulle wil my paaie nie ken nie.’
11Daarom het Ek in my toorn
’n eed afgelê
dat hulle nooit sou uitkom
by die rusplek
wat Ek hulle wou gee nie.”

Romeine 5:1-11
Die vrug van die vryspraak
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 11Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.

Fokusteks

Johannes 4:5-42
Jesus en die Samaritaanse vrou
4 Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes—2Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels.—3Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. 4Hy moes deur Samaria gaan.

5Hy kom toe by ‘n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag.

7Daar kom toe ‘n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My ‘n bietjie water om te drink.”
8Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop.
9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?”
Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.
10Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My ‘n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”

11Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? 12Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?”

13Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”

15Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”

16Hy sê toe vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”

17Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie ‘n man nie.”

En Jesus sê vir haar: “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ‘n man nie.’18Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.”

19Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, ek sien dat u ‘n profeet is. 20Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.”

21Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. 22Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. 23Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. 24God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”

25Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.”

26Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”

Die Samaritane glo in Jesus
27Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met ‘n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie.

28Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: 29“Kom kyk, hier is ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”

30Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom.
31Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog ‘n stukkie.”
32Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.”
33Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?”

34Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. 35Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. 37Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’38Ek het julle gestuur om ‘n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.”

39Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. 41Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; 42en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

Ekstra stof

Johannes 4:1–42 – Die Samaritaanse vrou aanbid Jesus en bring ‘n hele dorpie na Hom toe
Let op dat Jesus se volgende gesprek ‘n direkte gevolg is van die Fariseërs se kennisname van sy groeiende bediening, ‘n bediening wat groter begin word as dié van Johannes die Doper, soos wat hy net in die vorige perikoop beskrywe het, sal gebeur. Hoewel dit nog onderbeklemtoon is, hoor ‘n mens daarin ook die broeiende konflik met die leidende Joodse godsdienstige partye.

Interessant genoeg is die leidende metafoor steeds dié van water – ons het alreeds kennis geneem van die verandering van water in wyn (Kana), die verwysing na gebore uit water (Nikodemus), die verwysing na die reiniging met water (Johannes die Doper) en nou die doop (Jesus). En dít is presies dié metafoor wat in die verhaal van die Samaritaanse vrou die hoofrol gaan speel – ‘n dors Jesus by die put, die water wat hy van haar vra, en die lewende water wat Jesus vir haar kan gee.

Dat Jesus deur Samaria moes gaan (dei in die Grieks) is betekenisvol, omdat dit beteken het dat Hy met ‘n kortpad (Josephus sê dit was ‘n 3-dag reis) na Galilea sou reis – aan die westekant van die Jordaan, in plaas aan die oostekant daarvan. Dit was nie iets wat die Jode maklik gedoen het nie, hulle het Samaria eerder vermy, omdat Samaritane as onrein beskou is as gevolg van hulle:

  • gemengde afkoms – na die verowering van die noordelike ryk deur die Assiriërs in die 7de vC het dié Samaritane wat agtergebly het, vermengd geraak met die ander volke wat deur die Assiriërs daar gevestig is – 2 Konings 17:24-41, en
  • hulle afwykende godsdiens – die Samaritane het net die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Ou Testament as gesagvol aanvaar, met ‘n paar wysigings, en ook van die afgodsgebruike van die ander volke wat in hulle gebied gevestig is, gevolg.

Die Jode het die Samaritane (nasate van die voormalige Noordryk) dus as ‘n onsuiwer groep mense beskou en hulle gehaat omdat hulle, hulle volk (nasate van die voormalige Suidryk) en godsdiens verraai het. Daarom het die Jode uit hulle pad gegaan om Samaria en die Samaritane te vermy, wat gelei het tot die gesegde wat die vrou in vers 9 aanhaal: “Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.” Dit word blykbaar vandag nog gebruik as mense ongelukkig is oor iets wat skeef loop.

Die put van Jakob naby die dorpie Sigar is ‘n put wat Hy gekoop het van Hamor (Gen 33) en aan Josef gegee het op sy sterfbed (Gen 50), hoewel Josef dit nooit in besit geneem het nie. Net sy bene is daar begrawe (Jos 24) nadat die volk die Beloofde Land in besit geneem het. Dit was ongeveer 30 meter diep. ‘n Mens kan vandag nog water daar drink!

Dat dit die sesde uur was, is ook betekenisvol. Dit beteken dat dit 12 uur die middag was (‘n vorige weergawe van die nuwe Afrikaanse vertaling interpreteer dit verkeerdelik met ses uur die aand), omdat die Jode se dag met sonop begin het en die ure dus van 6 uur af (ons tyd) getel is. In daardie tyd het vroue boonop twee keer ‘n dag gaan water haal vir hulle huise, soggens en saans, wanneer dit koeler was. Die Samaritaanse vrou gaan skep dus water op die warmste tyd van die dag. Sy vermy dus die ander vroue van die dorp, miskien omdat sy verwerp gevoel het, of meer waarskynlik inderdaad ‘n verworpene was, sy het immers ook ‘n hele paar mans gehad!

Blykbaar was daar nog boonop ‘n ander put nader aan die dorpie, wat sy sou kon gebruik het. Die water van Jakob se put was egter suiwerder … en verder van die dorp af.

Jesus is alleen, dit is in die middel van die dag, Hy is moeg en dors en hy het nie ‘n skepding om water uit die put te haal nie. In een woord, Hy is kwesbaar in meer as een opsig. Hy het die vrou nodig, en Hy kan in meer as een opsig in die moeilikheid kom, net omdat Hy met haar praat. Volgens Joodse tradisie mag ‘n Rabbi nie eers met sy eie vrou, dogter of suster gepraat het nie, laat staan nog as dit ‘n vreemde vrou was.

Die uitspraak van Jesus oor lewende water (Jesus gebruik dieselfde metafoor ook in 7:38-9 op die huttefees) kan met verskeie Ou-Testamentiese dele in verband gebring word, waar die dors na God vergelyk word met ‘n dors na water (Ps 42:2; Jes 49:10; 55:1; 58:11; Jer 2:13; Sag 13:1). Die Here word self ook dikwels die bron (=fontein) van lewe genoem (Ps 36:10; Jer 2: 13; 17:13). Die Jode het ook van ‘n fontein (put) as lewende water gepraat (Gen 26:19).

Jesus gebruik in vers 14 ‘n besondere vorm van die werkwoord drink wat op ‘n eenmalige handeling dui. Sy bedoeling is dus: wie eenmaal drink van die water wat Ek hom gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. In dié verband skryf Calvyn: “Die woorde van Christus weerspreek nie die feit dat gelowiges tot die einde van hulle lewe oorvloediger genade vurig begeer nie. Hy bedoel immers nie dat ons so drink dat ons van die eerste dag af volkome versadig is nie, maar wel dat die Heilige Gees ‘n altyd vloeiende fontein is. Daar is dus geen gevaar van ‘droogte’ in die lewe van iemand wat van die geestelike water gedrink het nie”.

Die feit dat die vrou saamgebly het met iemand op dié stadium verraai aan die een kant dat sy ‘n behoefte gehad het om ingesluit te word, beide ter wille van gemeenskap en ter wille van ekonomiese oorlewing, al was dit dan nou met ‘n opeenvolging van mans. Maar aan die ander kant was die Joodse reël ook dat ‘n vrou nie meer as drie keer mag getrou het nie, al het die wet van Moses niks daaroor gesê nie. Sy kon dus heel moontlik nie meer trou volgens Joodse gebruik nie. Ons moet ook onthou, dat net mans ‘n skeibrief kon gee vir vroue om van hulle te skei, maar nie vroue aan mans nie. Vroue het dus baie min sê gehad in hulle verbintenisse met mans, wat beteken dat die man wat sy nou gehad het, se wense waarskynlik die deurslag gegee het vir haar “saambly”-status.

Die vete oor aanbiddingsplekke kom van die konflik tussen die Samaritaanse en die Joodse tradisie oor die korrekte aanbiddingsplek. Die rede vir die konflik lê in die Here se opdrag aan Moses dat daar net een aanbiddingsplek moet wees (Deut 12:5) en dat Hy dit sal aanwys, maar, amper soos met Abraham, sonder om die plek uit te spel!

  • Die Samaritane het gereken dat Gerisim die aanbiddingsplek moet wees en die Jode (en Tenak tradisie) weer dat Jerusalem as eksklusiewe aanbiddingsplek moet dien.
  • Die Samaritane het as steun vir hulle standpunt geglo dat Abraham sy eerste altaar daar gebou het (Gen 12:6-7), dat hy vir Isak op die berg Gerisim, naby Sigem, geoffer het (hulle lees in Gen 22:2 die verwysing na die landstreek Moria as ‘n verwysing na die boom More [Afrikaanse vertaling het “waarsêersboom”] wat dit verbind met Gen 12:6-7) en dat Jakob boonop die stuk grond, waar die put geleë was, daar gekoop het (Gen 33:18-20). Daarby moes die seën van die Here van Gerisim af afgekondig word met die Intog (Deut. 11:29; 27:4,12). Dit was gevolglik genoegsame rede dat God daar aanbid moes word.
  • Daarteenoor het die Jode Jerusalem as aanbiddingsplek aanvaar (vroeër bekend beide as Salem [Gen 14:18] en Jebus [Rigters 19:10] en later ook bekend as Sion [2 Sam 5:7]) omdat dit ‘n integrale deel van die koninklike en tempel tradisie was (1 Konings 11:36).

In verse 21 en 23 dui Jesus aan dat ‘n nuwe tydvak, ‘n nuwe uur aangebreek het (iets wat Hy al met sy reining van die tempel aangedui het, maar wat nou getransendeer word). Die ou vetes en grense gaan deurbreek word met ‘n nuwe tyd met nuwe reëls, nie meer die ou plekke van aanbidding nie – Jerusalem en die berg Sion nie – maar aanbidding deur die Gees.

Dat Jesus ‘n onderskeid maak tussen die onkunde van die Samaritane en die kennis van die Jode (vers 22) het te make met die kleiner basis van die Samaritaanse Godsopenbaring (die Pentateug) en die breër basis van die Joodse Godsopenbaring (die Pentateug, die Profete, die Historiese boeke en die Wysheid- en kultiese literatuur).

Jesus reframe die hele debat oor die regte aanbiddingsplek deur te verklaar dat dit nie meer op Gerisim óf Jerusalem sal wees nie! God wil hê dat Hy deur die Gees en in waarheid, d.w.s. sonder bybedoelings en gebaseer op die Waarheid, Jesus, aanbid sal word. God wil juis hê dat mense Hom só sal aanbid.

Daar is ‘n interessante woordspel tussen die uitsprake van die vrou oor die aanbidding wat haar Samaritaanse voorvaders (vers 20) voorgeskryf het, en Jesus wat die regte aanbidding aan sy Vader (vers 21, 23 – ‘n woord wat min in die OT aan God verbind is: Jes 9:6, 63:16; 64:8; Jer 31:9) koppel.

In ‘n interessante woordspel, wat reeds in vers 17-18 begin, as Jesus vir haar ‘n profetiese insig oor haarself gee, sê sy vir Hom dat sy sien dat Hy ‘n profeet is.

Op Jesus se verdere antwoord dat sy Hom moet glo reageer sy met: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word” (die Samaritane het van die Taheb gepraat, die Hersteller).

Ons hoor nie wat sy direk daarop te sê het nie, maar lei af in hierdie gedeelte, vers 28, dat sy die uitspraak van Jesus: “Dit is Ek” (vers 26) as ‘n moontlik radikale openbaring van God aanvaar, en gaan deel as ‘n getuienis met haar dorpie se mense dat Hy haar alles vertel het wat sy gedoen het.

Sy verwys hier heel moontlik na Deut 18:18 waar die Messias-profeet as volg geskets word: “Ek sal ‘n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel.”

Maar sy doen dit in die vorm van ‘n persoonlike getuienis, en raak so die eerste getuie van Jesus naas Johannes die Doper! In teenstelling met Nikodemus (hfst 3) wat eers later vrug (7:50 in die Joodse Raad waar Hy vir ‘n billike hantering van Jesus vra, en 19:39 in die tuin van Josef van Arimitea waar Jesus begrawe is) dra, toon die Samaritaanse vrou onmiddellik vrug in haar getuienis aan die dorpie.

Ephraem, die Siriese kommentator sê: ” At the beginning of the conversation he did not make himself known to her, but first she caught sight of a thirsty man, then a Jew, then a Rabbi, afterwards a prophet, last of all the Messiah. She tried to get the better of the thirsty man, she showed dislike of the Jew, she heckled the Rabbi, she was swept off her feet by the prophet, and she adored the Christ” (aangehaal deur J.A. Findlay, Comm, 61 in Beasley-Murray, G. R. 2002 Word Biblical Commentary, Vol 36, p. 66).

En teenoor die eerste dissipels wat net enkelinge na Jesus gebring het (hfst 1), bring die Samaritaanse vrou ‘n hele dorpie! Die dissipels kon hier ook net kos uit die dorpie vir Jesus bring, wat Hy toe nie eers geëet het nie, maar die Samaritaanse vrou ‘n hele gemeenskap van mense!

Jesus verbind op kenmerkende Johannese manier sy werk aan God se werk (om sy wil te doen: 4:34; 6:38; om God te eer: 7:18; 8:50; om sy werk te doen: 9:4; 10:37–38; 17:4; om sy opdrag uit te voer: 12:49–50; om te doen wat Hy beveel: 14:31; 15:10). Hy wou God se werk voltooi.

Die opmerking “nog vier maande, dan is die oes daar” (vers 35) was ‘n spreekwoord wat kom uit die feit dat ongeveer vier maande verloop het vandat die laaste lande gesaai is totdat die oestyd begin. Die spreekwoord het eintlik beteken, daar is dus geen haas nie, want niemand kan die rypword van die oes bespoedig nie. Jesus sluit hierby aan, maar beklemtoon daarteenoor die dringendheid van die huidige bedieningstaak, terwyl Hy en die dissipels moontlik almal na die aankomende Samaritane met hulle wit rokke (wat soos ryp koringare lyk) sit en kyk het: “Kyk daar … hulle is ryp vir die oes.” (Die Bybel Verklaar).

In ‘n verdere werking van die woordspel, reageer die dorpie se mense met geloof ( in vers 39, en later ook vers 41 en 42) wat hulle lei tot ‘n dieper wete (vers 42) dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is. Die dorpie se mense verwys na hulle gesprek met Jesus (vers 42) met die woord logos waardeur die meer betekenisvolle inhoud daarvan op die voorgrond gestel word (vgl. by 1:2), terwyl na die vertelling van die vrou met die woord lalia, dit is gepraat, verwys word. Daaruit kan ‘n mens die afleiding maak dat daar ‘n kwalitatiewe onderskeid tussen die woorde van Jesus en die vrou is.

Tog word haar woorde in vers 28 met die woord marturia uitgedruk en was dit dié woorde wat die dorpie tot inkeer begelei het. Dus in vergelyking met die woorde van Jesus was die vrou se getuienis onvolledig, maar nietemin genoeg om hulle tot volle geloof te bring.

Ek is verstom dat hierdie vrou met soveel passie op Jesus reageer dat ‘n hele dorpie hulle in geloof aan Hom verbind. Dit stem my tot ontsag vir haar, maar natuurlik ook vir die impak wat Jesus op haar gehad het. En ek bid dat my lewe ook iets daarvan sal wys – dat my passie vir Jesus baie mense tot geloof sal bring.

Liturgie

RUS

Toetrede (en kers): Vonkk 174 of Flam 182

Votum: Nav Psalm 95

Seëngroet

Lofsang: Flam 398 of Psalm 95

Verootmoediging

Genadeverkondiging: Romeine 5:1-2, 9-11

Toe-eiening: Flam 144 of Lied 334

Toewyding en geloofsbelydenis: Lied 290 of Flam 181

HOOR

Gebed

Skriflesing: Johannes 4:5-42 en video

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 284

Seën

Respons: Flam 182 Refrein of Vonkk 174 Refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
(Terwyl derde kers aangesteek word, as julle tydens lydenstyd kerse aansteek)
Vonkk 174 Strome van seën uit die hemel [bekend: Halleluja-boek]
F182. Herder Heer (Herder Jesus [bekend: Rock of Ages]

Votum 
Nav Psalm 95 (Uit Bybelmedia se Woord en Fees)
Voorganger: Kom, laat ons jubel tot eer van die Here,
laat ons juig oor die rots
by wie ons redding vind,
laat ons na Hom toe gaan met lof,
laat ons Hom toejuig met lofsange,
want die Here is die magtige God,
die groot koning oor al die gode.
Gemeente: Hy is ons God en ons is sy volk,
sy kudde, skape,
deur sy hand versorg.

Voorganger: Die dieptes van die aarde behoort aan Hom,
die kruine van die berge is syne.
Die see is syne, Hy het dit gemaak;
sy hande het die land gevorm.
Gemeente: Hy is ons God en ons is sy volk,
sy kudde, skape,
deur sy hand versorg.

Voorganger: Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer,
kom ons buig,
kom ons kniel voor die Here ons Skepper!
Gemeente: Hy is ons God en ons is sy volk,
sy kudde, skape,
deur sy hand versorg (uit Ps 95).

Seëngroet

Lofsang
Flam 398 Sing Tot Eer Van Die Here of
Psalm 95

Verootmoediging
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)
V: Here, daar is so baie mense rondom ons, maar ons sien die meeste van hulle nie eens raak nie.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, by U is die laastes eerste, maar by ons bly hulle laaste.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons hou meer van belangrike mense as van onbelangrike mense.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is volslae uitverkoop aan ’n samelewing waarin groter altyd beter is.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is te besig om stil te staan en te luister na die sagter stemme rondom ons.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons hou van dinge en van mense en selfs van kerke wat blink.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, help ons om méér mense raak te sien, veral die byna onsigbares.
G: Here, wees ons genadig!

Genadeverkondiging: Romeine 5:1-2, 9-11

Toe-eiening
Flam 144 God Is Liefde of
Lied 334 “God is Liefde!” juig ons harte”

Toewyding en geloofsbelydenis
[Hierdie week fokus ons op die doop, in aansluiting by die sentrale rol wat water in die teks speel. Hierdie uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”]

V: Ons doop is ’n teken en seel dat God ons gered het. Deur die geboorte, dood en opstanding van Jesus Christus is die magte wat ons bind, verbreek en het God se koninkryk ons wêreld ingekom. Deur ons doop is ons burgers van God se koninkryk gemaak en vrygemaak van alles wat ons gevange hou. Kom ons vier vanoggend opnuut hierdie vryheid deur die beloftes wat by ons doop gemaak is te herbevestig.

Ons gaan ons vanoggend opnuut aan God toewy deur ons geloof te bely en die doopwater aan te raak.

V: Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat God ons Vader met jou doop al sy beloftes aan jou toegesê en jou Syne gemaak het.
Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat Jesus Christus vir jou gesterf het en dat jy die redding wat Hy bewerk het, besit.
Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat die Heilige Gees in jou woon en vir jou die krag gee om ’n ware dissipel van Jesus te wees.
Jy behoort aan die Here en niks kan hierdie waarheid ooit verander nie.
G: Amen.

Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is” of
Flam 181 U Ken My Vredevors (My Fontein)

Liedere

F182. “Herder Heer (Herder Jesus)”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Oorspronklik: Rock of Ages Teks: Augustus M Toplady Musiek: Thomas Hastings
Afrikaanse vertaling: Koos van der Merwe © Jack Publishing

1. Herder, Heer, na wie ek soek
ek wil luister as U roep.
Want ek swig ek val en gly
as u stem verdof in my.
Voor U, Heer, kom word ek stil
buig my hart en buig my wil.

Refrein:
Daar is waters in woestyne
by die Herder se fonteine.
As die storms woed in my
sal ek daar my rus kom kry.

2. Wys U my hoe ek moet leef,
leer U my om U te ken.
Ek alleen verbrou en dwaal,
U alleen kan my kom haal.
Op die weg kan U my hou
al is dit styl, al is dit nou.

Refrein:

3. Gee my lig, ontskemer my
as ek wil swig, kom anker my.
Want ek is broos, onvas, onwys,
sal U vir my die pad kom wys.
Waar U spore my heen lei
wil ek wandel wil ek bly.

Refrein: (x2)

VONKK 174 “Strome Van Seën Uit Die Hemel”
Teks: There shall be showers of blessing – Daniel W Wittle 1882; Strome van seën van bowe – Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2011 © Musiek: SHOWERS OF BLESSING – James McGranaham 1883 Kantoryverwerking: James McGranaham 1883
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Tradisioneel – Pinkster / Geloof en Vertroue

1. Strome van seën uit die hemel
gee God aan ons deur sy Gees.
Hy skenk die wedergeboorte,
maak van ons lewe ‘n fees!

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

2. Strome van seën uit die hemel
kom van die Heilige Gees.
Hy wek geloof en bekering
dat ons sy kinders kan wees.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

3. Strome van seën uit die hemel
kom deur die werk van die Gees.
Hy kom vernuwe ons denke
om meer gehoorsaam te wees.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

4. Strome van seën uit die hemel –
dis wat die Gees ons beloof.
Hy leer ons bid met verwagting,
om te volhard in geloof.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

F398. “Sing Tot Eer Van Die Here T176”
(RUBRIEK: Flam – Lof) Teks en musiek: Hannes Bosman © Hannes Bosman geadministreer deur Flam Musiek-Uitgewers
(Ps 92:9, 95:1, 96:2,13)

Sing tot eer van die Here,
die Koning wat lewe,
so hoog en verhewe
tot in ewigheid!
Ons juig, ons jubel voor Hom!
Die Rots van ons heil,
die Koning wat kom.
(Die Koning wat kom!)
Sing tot eer van die Here,
die Koning wat lewe,
so hoog en verhewe
tot in ewigheid!

F144. “God Is Liefde”
(RUBRIEK: Flam – Kersfees / Epifanie, lof) Musiek: Retief Burger Teks: Attie van der Colf © NG Kerk Uitgewers
© 2005 Urial Publishing (1 Joh 4:7-21, Rom 5:1-11, Joh 3:16)

God is liefde,
juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef,
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef.

F181. “U Ken My Vredevors (My Fontein)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Afhanklikheid en vertroue) Teks en musiek: Wian Vos © 2006 Urial Publishing

1. U ken my Vredevors,
my honger en my dors.
U hoor my as ek pleit
vir krag en heiligheid.
My hele lewe, Heer
lê ek nou voor U neer.
Loop saam deur die woestyn
want U is my Fontein ..

Refrein:
by wie ek water drink, Lewende Water drink.
Dit vloei so vry, verniet vir my.
Daar waar ek water drink, Lewende Water drink,
les U my dors, my Vredevors,
my Fontein.

2. As ek dink aan wie U is
dan raak ek weer bewus
van U grootheid en my kleinheid
my skuld en my onreinheid.
As ek self, alleen probeer
dan val ek maar net weer.
Loop dan saam deur die woestyn
want U is my Fontein …

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Johannes 4:5-42

Daar is wonderlike uitbeeldings van vandag se skrifgedeelte beskikbaar, wat jy gerus kan gebruik – en so veral ook die kinders en jongmense insluit:

Hierdie is ‘n uiters treffende gedig, vanuit die oogpunt van die vrou.
Sand-kuns, wat die verhaal in sand uitbeeld, is altyd roerend. Jy kan die teks lees terwyl hierdie sand-kuns video wys: (Oefen vooraf vir tydsberekening. Jy kan ook die video effens verkort.)

Vir ‘n kindervriendelike weergawe kan jy hierdie een gebruik. Lees maar die teks self – hierdie karakters klink almal aan die slaap), of die Holy Tales weergawe vanaf 1:15 tot 2:50.

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Net soos wat Jesus ‘n kans waag om uit te reik na die Samaritaanse vrou – ‘n buitestander – so waag die Rainbow Fish dit (in Rainbow Fish to the Rescue) om uit te reik na ‘n gestreepte vis, nadat almal die gestreepte vis geïgnoreer het en daar ‘n haai verbykom. Hier is ‘n video voorlesing.

As jy gratis by twinkl registreer, kan jy allerhande hulpmiddels aflaai. Daar is bv maskers vir karakters om die storie te vertel, inkleurprente, ens

Verduidelik eers hoe ander die Samaritaanse vrou gesien het: as ‘n buitestander, verwerp, ongewild (dink aan woorde wat die kinders sal gebruik, soos “loser”). Vertel dan die storie.

Preekriglyn

Een van die ergste droogtes in menseheugenis. Só het Suider-Afrika die afgelope paar jaar beleef. Dalk was dit die ergste droogte ooit. Wie kan onthou dat die Oranjerivier al ooit ophou vloei het? Dat die Caledonrivier, een van die mees standhoudende riviere in Suid-Afrika, sou gaan staan?

Intussen het dit op baie gebiede in die land begin reën. Op verskeie plekke dreig vloede.

Maar ander dele van die land is steeds kurkdroog. By die skryf hiervan is Kaapstad se water byna op. Port Elizabeth gaan ook onder ernstige waterbeperkings gebuk. Op verskeie klein dorpe is die krane steeds leeg. Water word aangery.

Die droogte het op fisieke, emosionele en finansiële gebied, op alle terreine van die samelewing lyding vir mens, plant en dier meegebring. Die kettinggevolge van die droogte is enorm, veral ten opsigte van voedselsekuriteit en hemelhoë kospryse. Dit word ook nie in enkele maande of na ‘n paar goeie reënbuie opgelos nie.

Vele verhale is vertel van gelowiges wat biddae vir reën van stapel gestuur het. Foto’s van dooie gewasse, leë damme en sterwende vee is op sosiale media gedeel. Water en voer is oor die land heen aangery na boere en gemeenskappe wat weens tekorte eenvoudig nie meer op hulle eie kon oorleef nie. Die noodsaaklikheid van water as lewensbron en die kosbaarheid daarvan het onder die vergrootglas gekom.

Ons verstaan vandag nog net so goed soos die mense van Jesus se tyd dat water lewe gee, en dat ‘n gebrek daaraan wat lewe ontneem.

Beeld van water

In die verhaal van Jesus se ontmoeting met die Samaritaanse vrou by die put gebruik Jesus die beeld van water om die vraag te beantwoord wat herhaaldelik in die Johannesevangelie voorkom: Hoe ken mens God?

Die antwoord is deur Jesus self, maar dit was vir Jesus se tydgenote nie so voor die handliggend soos ons wat op die Jesus-gebeure terugkyk nie. Daarom gebruik Jesus hier die bekende en alledaagse van water (tipies gebruik vir drink en was) om dit was mense sukkel om te verstaan (dat Jesus die Bron van lewe is) op ‘n verstaanbare manier duidelik te maak.

Jesus self gee lewende water wat meer is as net om fisiese dors te les of oorlewing moontlik te maak. Die lewende water wat Jesus gee, kom van God af en gee lewe aan die mens tot in ewigheid. Dit kan nooit opraak nie en hoef nie herhaaldelik geskep te word nie. As die gewer van lewende water, is Jesus die ontmoetingspunt tussen die aardse en die hemelse, die tydelike en die ewige, die mens en God – terwyl Hy self ook ten volle God is. Jesus is die langverwagte Messias (die Verlosser, vgl. 4:42) wat die nuwe era van volle lewe inlei.

‘n Agtergrond van konflik

Die agtergrond van hierdie verhaal is die lang en swaar geskiedenis van konflik tussen die Jode en die Samaritane. Dit was ‘n kulturele en polities-godsdienstige skeiding. Volgens die Jode was die Samaritane onrein. Dit kom van die Assiriese ballingskap van die Noordelike tien stamme. Sommige oorblywende persone het met nie-Israeliete getrou wat deur die Assiriërs na hulle omgewing verplaas is.

Volgens die Joodse wet was dit ‘n baie ernstige oortreding – een wat in ons tyd as “gemengde godsdienstige en rasseverhoudings” beskryf sou word.

Na die Babiloniese ballingskap kon die herbou van die tempel onder leiding van Esra en Nehemia plaasvind. Die Samaritane is egter nie toegelaat om aan die bouwerk deel te neem nie, weens hulle sogenaamde onreinheid. In reaksie daarop het hulle hul bes gedoen om die bouwerk aan die tempel te probeer verhinder (Esra 4:3; Neh 2:20). Aangesien hulle nie by die tempel in Jerusalem toegelaat is nie, het hulle hul eie tempel en priesterskap op Gerasimberg gevestig.

Sedertdien het die kloof onherstelbaar groot geword. Hulle het selfs mekaar se geografiese gebiede tydens reistogte vermy. Reinheidswette was duidelik: Vermy enige onrein persoon of groep en alles wat met hulle geassosieer word.

Bloot die oorvertel en neerskryf van ‘n verhaal soos hierdie waar ‘n intieme ontmoeting tussen Jesus, ‘n Jood, en ‘n Samaritaan uit Samaritaanse gebied afspeel, sou sterk reaksie en ontsteltenis ontlok het in Joodse kringe. Des te meer omdat dié interaksie plaasvind tussen ‘n Joodse man en ‘n Samaritaanse vrou. Die Samaritaanse vrou se eie ongemak met die ontmoeting is ook duidelik (4:9), maar Jesus steur Hom blykbaar nie daaraan nie. Inteendeel, Hy ontlok ‘n gesprek wat uiteindelik daartoe lei dat hierdie einste Samaritaanse vrou, in haar “onrein” dorp, ‘n getuie van Jesus word en dat die “onrein” inwoners self tot Jesus nader en tot bekering kom! Des te meer is dit ‘n vrou wat haar getuienis met ‘n gemeenskap deel en daardeur die rol van ‘n dissipel vervul.

Drie dele

Die verhaal kan breedweg in drie dele verdeel word:

  • die gesprek tussen Jesus en die Samaritaanse vrou (4:5-30);
  • die gesprek tussen Jesus en sy dissipels (4:31-38), en;
  • die besoek van die inwoners van die dorp aan Jesus (4:39-42).
Jesus en die Samaritaanse vrou

In vers 5 en 6 word vertel Jesus en sy dissipels is op reis. Omdat Hy moeg is, gaan sit Jesus by ‘n fontein, bekend as die fontein van Jakob. Dit is in die Samaritaanse dorp, Sigar. Hierdie omgewing het vele Joodse herinneringe bevat. Daar was ‘n stuk grond wat deur Jakob gekoop is (Gen 33:18, 19). Jakob het op sy sterfbed die grond aan sy seun Josef bemaak (Gen 48:22). Na Josef se afsterwe in Egipte, is sy liggaam teruggeneem na Palestina en daar begrawe (Jos 24:32).

Die tyd is ongeveer die middel van die dag (OAB “die sesde uur”, NAB “twaalfuur die middag”). ‘n Mens kan jou indink dat die kombinasie van die warm Midde-Oosterse terrein en ‘n reis te voet daartoe gelei het dat Jesus ‘n ruskans nodig gehad het. Daar is egter ook ‘n besliste doelgerigtheid aan Jesus se blaaskans by hierdie spesifieke put.

Om in die middel van die dag alleen as vrou water te gaan haal, was ongewoon (4:7). Vrouens het tipies soggens en weer smiddae na die naaste waterput gegaan om water vir tuisgebruik te kry. Ter wille van veiligheid het vroue in groepe, eerder as alleen na ‘n waterput gegaan aangesien dit dikwels ‘n entjie buite die dorp geleë was. Hier kry mens dus reeds ‘n eerste leidraad dat hierdie vrou, om een of ander rede, moontlik ‘n randfiguur in haar gemeenskap was.

Die spanning van die ontmoeting word verder op die spits gedryf deurdat Jesus, Joodse man, ook alleen is. Sy dissipels het gaan kos koop in die dorp (4:8). Wanneer die vrou op Jesus se versoek vir drinkwater reageer, sê sy hardop wat enige hoorder van hierdie verhaal sou dink: Waarom vra ‘n Joodse man vir haar, ‘n Samaritaanse vrou, om drinkwater? Ingeval iemand toe steeds sou wonder, spel Johannes dit verder uit: “Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie” (4:9).

Die reëls van godsdienstige sowel as geslag-interaksie word hier oorskry. Buiten die feit dat ‘n Jood met ‘n “onrein” persoon praat en homself in die posisie van ‘n behoeftige plaas, was dit ongehoord vir ‘n Joodse man om in die publiek met ‘n vrou te praat – wat nog te sê met ‘n Samaritaanse vrou, met ‘n skynbaar twyfelagtige reputasie, soos uitgebeeld deur haar alleenreis na die put.

Wie Jesus is

In die gesprek gebruik Jesus ‘n beeld wat sy eie identiteit kommunikeer (4:10). Jesus is die Een wat lewende water kan bied – ‘n gawe van God af. Hierdie lewende water les veel meer as net fisieke dors (wat inderdaad menslike lewe onderhou). Die water wat Hy aanbied, skenk ware lewe. As sy dit maar net begryp het, sê Hy, sou sy die een wees wat vir Hom water gevra het.

Die vrou sukkel om te verstaan. Jesus is gereed om te verduidelik. Die water van hierdie put – hoe noemenswaardig die plek histories ook al is – les net vir ‘n oomblik ‘n mens se dors. Die dors sal egter terugkeer (4:13). Jesus kan iets bied wat ewige dors les. Dit is water wat ewige lewe gee. Hierdie water is ‘n persoon en is vergelykbaar met ‘n borrelende fontein – dinamies, en ‘n konstante bron van lewe wat nooit opraak nie (4:14).

Persoonlike geskiedenis

Skielik verander die rigting van die gesprek en word die vrou se persoonlike verhaal die fokus. Op Jesus se vraag, sê die vrou sy het nie ‘n man nie. Jesus weet sy het al vyf mans gehad, en die een wat sy nou het is nie haar man nie.

Ons moenie die fout maak om te dink dis ‘n losbandige vrou nie. Nêrens in die teks is ‘n aanduiding of beskrywing van die vrou as ‘n prostituut of ‘n losbandige persoon nie. Inteendeel, gegewe die wette oor huwelik en egskeiding, vroue se afhanklikheid van mans (en hul fisieke, sosiale en ekonomiese weerloosheid sonder die beskerming van ‘n man), sowel as hulle baie beperkte insette met die beëindiging van ‘n huwelik (wat slegs in uitsonderlike gevalle toegelaat sou word), is dit waarskynliker dat daar van haar geskei is, dat sy die afsterwe van ‘n huweliksmaat ervaar het, dat sy deur haar man verlaat is, en/of dat sy haarself in ‘n leviraat huwelik bevind het (waar ‘n broer of ander manlike familielid die plek inneem van ‘n afgestorwe huweliksmaat).

Die besonderhede oor haar verhaal word nie uitgespel nie en ons weet nie presies hoe dit gebeur het dat sy reeds aan soveel mans verbind was nie. Wat wel afgelei kan word, is dat hierdie vrou se verhaal tragies is. Sy het al meermale seergekry en is goed vertroud met ervarings van weerloosheid en verwerping (4:16-18).

Lees mens die gesprek tussen Jesus en die vrou teen hierdie agtergrond, is dit ‘n ongelooflike sensitiewe gesprek wat Jesus hier aanroer. Met sy vraag na haar man, open Hy die deur vir die vrou om haarself aan Hom – ‘n man – bloot te stel. Haar verwagting was heel moontlik dat sy (weer?) verwerp sou word. Dan verras Jesus haar. Hy sien haar as persoon raak. Daarom kon sy Hom as profeet sien (4:19). Om te “sien” het in Johannes se skrywe ‘n doelbewuste dubbele betekenis, naamlik om tot insig te kom of te begryp. Die vrou verstaan dus in hierdie intieme oomblik dat Jesus, die man wat nou by haar is, nie ‘n gewone man is nie.

Die vrou ken dié belofte van die Messias, wat Christus genoem word. Dit is ook die Een waarop sy wag omdat Hy die Een sal wees wat alles aan hulle sal bekend maak (4:25). Die gesprek bereik ‘n hoogtepunt: Uiteindelik verklaar Jesus in geen onduidelike terme nie: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat” (4:26).

Die dissipels

Verse 27-38 is die tweede bedryf van hierdie gedeelte.. Die dissipels, goed vertroud met die reëls van interaksie tussen mans en vroue, is verbaas (waarskynlik eerder geskok) oor Jesus se gesprek met ‘n vrou. Teen hierdie tyd het hulle wel al agtergekom dat dit beter is om nie altyd Jesus se optrede te bevraagteken nie. Daarom ondervra hulle nie die vrou of Jesus oor wat hier gebeur nie (4:27).

Die vrou is oorstelp met wat sopas gebeur het en haas haar na die dorp. Sy laat haar waterkruik agter, moontlik omdat sy binnekort sou terugkeer (4:28). Haar woorde aan die dorpsmense is ‘n uitnodiging. Hulle moet vir hulleself besluit oor dit waarvan sy, deur ‘n persoonlike ontmoeting, redelike sekerheid het: die Christus is in hulle midde (4:29). Die mense reageer positief hierop en vind hulle weg na Jesus (4:30).

Die dissipels is besorgd oor Jesus en dring by Hom aan om tog iets te eet. Hulle het immers pas teruggekeer van die dorp af om kos te gaan koop (4:31). Jesus wys dit nie soseer van die hand nie as wat Hy die geleentheid benut om die groep volgelinge te leer: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie” (4:32).

Die dissipels kyk vas in die letterlike betekenis van hierdie woorde en verstaan Jesus verkeerd. Het iemand anders hulle oor Hom ontferm en reeds vir Hom kos gegee? (4:33) Jesus moet noodgedwonge verduidelik. Hy word gevoed deur die wil van God te doen en om die Een wat Hom stuur se werk te voltooi (4:34).

Kragtige getuienis

Verse 39-42 is die derde bedryf. Die vrou se “getuienis” (die handeling van ‘n dissipel) oor wat met haar gebeur het, is kragtig. Hierdie man, Jesus, was vertroud met haar storie sonder dat Hy haar van ‘n kant af geken het. En waar sy elders op grond van dié verhaal verwerp is, het Jesus aan haar die lewende water aangebied! Haar getuienis is kort maar kragtig. Dit is ‘n getuienis oor Iemand wat totaal anders is. Haar getuienis gryp die harte van ‘n groot getal Samaritane aan en hulle kom op grond van “hoorsê” tot geloof in Jesus (4:39).

‘n Groep Samaritane (waarskynlik dié waarna v 30 verwys) het self na Jesus toe gegaan en gesmeek Hy moet by hulle bly. Hy het ook – vir twee dae lank (4:40). Die radikale, inklusiewe aard van Jesus se bediening kring vinnig uit van ‘n individuele na ‘n gemeenskaplike vlak.

Hierdie beweging sou ‘n belangrike boodskap vir ‘n Joodse hoorder inhou: Jesus kies om tyd te spandeer saam met sogenaamde “onreines”; die ontmoeting met die Samaritaanse vrou was nie ‘n fout nie. Dit is die begin van ‘n groter verhaal. Die “oestyd” waaroor Jesus met sy dissipels gepraat het, kry gestalte in die bekering van hierdie Samaritane. Die inklusiwiteit van Jesus het tot gevolg dat nog veel meer Samaritane tot geloof gekom het – hierdie keer op grond van wat Jesus self vir hulle gesê het (4:41). Hulle woorde aan die vrou in 4:42 bevestig dat hulle nou hul eie getuienis het om te vertel; hulle kan nou in ek-taal getuig oor Jesus, die ware Verlosser. Hulle hoef nie bloot op hoorsê staat te maak nie. Hulle het self die lewende water ontvang en kan ook nou getuies daarvan wees.

Grensverskuiwende ontmoetings met Jesus.

Een van die opvallendste kenmerke van hierdie verhaal is die wyse waarop grense oorgesteek word. In hierdie geval die grens van geslag, maar ook godsdiens, kultuur en ras. Jesus huiwer nie om dit te doen nie – hy “moet” deur Samaria gaan.

Deurdat Jesus – die Joodse man wat Hom nie steur aan geslagsvoorskrifte nie – hierdie vrou raakgesien het, in ‘n konteks waar dit onvanpas was, het dié anonieme Samaritaanse vrou ‘n nuwe lewe ontvang. Deur Jesus se vrymoedigheid om grense oor te steek, in sy kapasiteit as die Messias, ontvang sy vrymoedigheid en selfvertroue om te gaan getuig.

Haar verhaal van seer op grond van haar vrouwees in ‘n samelewing waarbinne vroue nie raakgesien is nie en wat tot op hierdie punt veroorsaak het dat sy uitgeskuif is, word die instrument waardeur sy getuig en baie na Jesus lok. Jesus beoefen ‘n lewegewende gebruik van mag – die tipe mag wat weier om lewe (verder) te ontneem.

Stilgemaakte vroue

Ons leef vandag steeds in ‘n tyd dat vroue dikwels stilgemaak word. In méér en minder gegoede woonbuurte gaan dit dikwels sleg met vroue. Mans stel hulle aan as hoof van die vrou, heers oor vroue, en in baie gevalle het vroue nie sê oor hulle eie liggame nie.

Ons praat te min, indien ooit, oor huishoudelike en seksuele geweld, of verkragting (ten spyte van die feit dat dit onomwonde deel is van elke gemeenskap van ons land). Seksistiese opmerkings en grappe in vergaderings word dalk ondersteun of met stilswye begroet, eerder as om dit uit te daag – deur beide mans en vroue.

In hierdie gedeelte gee Jesus lewe aan hierdie vrou. Hy bevry haar van haar isolasie van die gemeenskap en herstel haar menswaardigheid.

Stilgemaakte buitestanders

In Jesus se tyd is die Samaritane eenkant toe geskuif. Vir diegene in beheer van die tempel in Jerusalem het hulle nie getel vir insluiting in die genade nie. Jesus verander dit, Hy steek die grens oor na die Samaritane, Hy bring deur die vrou die water wat lewe gee.

Ook in ons tyd is so baie mense uitgesluit van water, brood, werk, vervoer, lewensmiddele, die hoorbare en tasbare dade van diens deur gelowiges.

Die droogte het wel die beste in ons na vore gebring. Terwyl so baie plekke sonder water was, het mense ruimskoots water gegee en aangery. Terwyl baie boere nie voer gehad het nie, het ander voer gesny en nog ander die bale vervoer. Mens, dier en omgewing is versorg, omdat mense uit hulle pad gegaan het om te gee.

Waarom het ons dit gedoen? Waarom was veld, dier en mens vir ons so belangrik dat ons gegee het? Die antwoord is eenvoudig: Omdat Jesus ons geleer het om dit te doen. Omdat Johannes 4 in die Bybel staan.

In Jesus se tyd was die Romeinse Ryk nie besorg oor mense wat swaar kry nie. As jy swak was, het jy dit nie gemaak nie. Oor die algemeen is daar nie veel omgegee vir die swakke en die een wat aan die kortste end trek nie. Nêrens in die wêreld nie.

Die direkte impak van Jesus se voorbeeld en die verspreiding van die Christelike geloof is dat mense begin omgee het. Ons het geleer God verwag van ons om te dien, om nederig op te offer ter wille van dié wat swaar kry.

Ons teks sit vir ons ‘n bril op: wie is daar wat God wil hê ons moet raaksien en ondersteun? Watter vrou of vroue? Watter armes? Watter brose kind of jongmens? Watter groep?

Hierdie lewegewende optrede, ten opsigte van respek, gelykheid en deernis vir alle mense kan onmoontlik uit onsself uit kom. Dit vra goddelike ingrype. Ongelukkig is ons eie verstaan van mag dikwels nog té selfsugtig, eie gerig en onbeholpe. Hierdie verhaal herinner ons aan wat moontlik is indien ons ernstig is daaroor om Jesus se voorbeeld te volg; om sy lewende water te ontvang en daardeur deurdrenk te word – na binne, en borrelend ook na buite.

Mag ons leer by Jesus en met wysheid reageer op die nood van ander. Mag ons lewe bring!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”

Seën

Respons
Flam 182 Refrein: Daar is waters in woestyne / by die Herder se fonteine. / As die storms woed in my / sal ek daar my rus kom kry. of
Vonkk 174 Refrein: Strome van seën, / gee dit in oorvloed, o Heer, / dat ons kan groei en kan vrugdra, / daagliks kan leef tot u eer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.