Derde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Liena Hoffman
Ons fokus tydens die eerste paar Lydenssondae op die simbole soos aangeraak op Aswoensdag. Vandag fokus ons op die kruis en verskeie pare skoene. Dit wys daarop dat ons onsself moet indink en in Jesus se skoene probeer plaas vir dit wat Hy vir ons moes deurmaak. Plaas ‘n aantal skoene by die kruis in die  liturgiese ruimte.

Ander tekste

Eksodus 20:1-17
Die tien gebooie
(Vgl Deut 5:6–21)
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:
2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.
3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie.
5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat,
6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.
7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.
8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.
9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet,
10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie.
11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.
12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Psalm 19
Die openbaring van die Here is volmaak
19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

1 Korintiërs 1:18-25
Christus die krag en die wysheid van God
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 19Daar staan tog geskrywe:
“Die wysheid van die wyses
sal Ek vernietig,
en die geleerdheid
van die geleerdes
sal Ek tot niet maak.”
20Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? 21Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

26Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 27En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 28en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. 29Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. 30Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. 31Daarom, soos daar geskrywe staan:
“Dié wat wil roem,
moet in die Here roem.”

Fokusteks

Johannes 2:13-22
Die reiniging van die tempel
(Matt 21:12–13; Mark 11:15–17; Luk 19:45–46)
13Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. 14Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit. 15Toe het Hy met toutjies ‘n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer. 16Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader ‘n besigheidsplek maak nie.”
17Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.”
18Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?”
19Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.”
20Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”
21Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. 22Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.

Ekstra stof

Johannes 2:13–22 – Die liefde vir U huis verteer my
Hierdie gedeelte kom ook in die ander evangelies voor (Mark 11:15–19; Matt 21:12–17; Luk 19:45–48).  Johannes plaas sy verhaal egter aan die begin van Jesus se bediening, terwyl die ander dit in die laaste week van Jesus se bediening, interessant genoeg ook reg voor ‘n Paasfees, plaas.

Baie is al geskryf om hierdie verskil te verklaar.  Daar is redelike konsensus dat daar net een só ‘n gebeurtenis was, dat dit wel in die laaste week van Jesus se bediening was, en dat Johannes ‘n teologiese punt probeer maak deur die verhaal hier te plaas – Jesus wil die ware aanbidding van God herstel, soos ‘n mens ook in die gesprek met Nikodemus en die Samaritaanse vrou hierna agterkom. Die reiniging van die tempel is dus in daardie konteks vir hom belangrik.

Let op dat Johannes van die Paasfees “van die Jode” praat, wat aandui dat hy as Christen skryf, dws na die dood en opstanding van Christus.  Die Christene het na die opstanding ‘n ander inhoud aan die hele Paasgebeure gegee.

Johannes noem ten minste 3 verskillende Paasfeeste waarvoor Jesus na Jerusalem toe is (2:13; 6:4, 11:55 {13:1] en moontlik selfs 5:1).  Daaruit kan ‘n mens aflei dat Jesus se bediening waarskynlik tussen 2 en 4 jaar duur, terwyl die ander evangelies net van een reis na Jerusalem vertel, waaruit ‘n mens kan aflei dat sy bediening nie veel langer as 1 jaar geduur het nie (Mark 10:32; Matt 16:21; Luk 9:51).

Geldwisselaars was nodig omdat die Jode nie hulle eie geldeenheid kon gebruik nie, en die Romeinse geldeenheid vir die Jode se gevoel lasterlik was deur die kop van die keiser te vertoon wat vir die Romeine goddelike eienskappe gehad het.  Die geldeenheid van Tirus kon egter gebruik word, waarvoor jy dan Romeinse geldstukke kon ruil (Beasley-Murray).

Jesus se aksie is duidelik nie gemik teen die aanbidders self nie, maar net teen die verkopers en geldwisselaars wat van God se huis ‘n handelsplek maak.

Die vraag na ‘n teken deur die Jode was waarskynlik as ‘n toets bedoel, om agter te kom of Jesus die gesag het om te doen wat Hy doen.  Jesus antwoord met ‘n raaisel wat eers na sy opstanding reg verstaan sou kon word, soos Johannes dit tereg verwoord.

Johannes verwys waarskynlik in vers 17 na Psalm 69:10.  Dit is interessant dat die Psalm juis ook daar oor die lyding praat van dié een wat lief is vir God se huis – ‘n heel gepaste aanhaling in die lig van Jesus se raaisel-teken wat op sy eie lyding dui.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6

Aanvangswoord of uit Psalm 19

Seëngroet: 1 Korintiërs 1

Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Wet: Eksodus 20:1-17

Skuldbelydenis: Lied 241 “Troue Here van my lewe 1”

Vryspraak: 1 Korintiërs 1

Geloofsbelydenis ahv Kol 1

Loflied
Lied 241 “Troue Here van my lewe 3”
Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Epiklese

Skriflesing: Johannes 2:13-22

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 280 “Here redder groot en magtig 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord
Voorganger: Aanskou die Heiland, sien die kruis.
Gemeente: Vir ons het Hy Hom daar laat hang,

Voorganger: die Hemelvors, verag, verguis.
Gemeente: Hy leef, Hy sterf – in ons belang!

Voorganger: Vir al ons skuld het Hy betaal.
Gemeente: Vir ons in helle angs gedaal!

Voorganger: Sy kruis, sy liefde – onbegrens,
Gemeente: ontsluit in ons ’n nuwe mens!

Voorganger: Hom kan ons nou met vreugde dien
Gemeente: in die ruimte deur sy kruis voorsien.

of uit Psalm 19
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.

Seëngroet: 1 Korintiërs 1
2Aan die gemeente van God in …………………………………, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort…
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Wet
Eksodus 20:1-17
Die tien gebooie
(Vgl Deut 5:6–21)
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:
2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

13“Jy mag nie moord pleeg nie.

14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

15“Jy mag nie steel nie.

16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.

17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Skuldbelydenis: Lied 241 “Troue Here van my lewe 1”

Vryspraak: 1 Korintiërs 1
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.

Geloofsbelydenis ahv Kol 1
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.

En ek glo in die Seun wat die beeld van God is,
van God wat self nie gesien
kan word nie.

Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
God het deur Hom alles geskep
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.

Ek glo Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.

Ek glo dat God besluit het
om met sy volle wese in Hom te woon
en om deur Hom alles
met Homself te versoen.

Ek glo dat God deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
die vrede herstel het,
en deur Hom alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen het.

Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied
Lied 241 “Troue Here van my lewe 3”
Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Liedere

VONKK  84 “Loof God In Die Hoogste Hemel”
(Psalm 150)
Psalm 150
Teks: Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo)
Melodie: Les anges dans nos campagnes – Franse Kerslied E18.
© Melodie: Openbare besit
© Orrelbegeleiding: 1978 NG Kerk-Uitgewers (met toestemming gebruik)

1. Loof God in die hoogste hemel,
loof sy grootheid en sy krag.
Oor die wye sterrehemel
straal die omvang van sy mag.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God
in die hoogste hemel.
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God
in die hoogste hemele.

(Opsioneel:
Gloria in excelsis Deo.
Gloria in excelsis Deo.)

2. Loof God met die mooiste klanke –
fluit, viole en kitaar.
Orrelklanke en simbale
loof Hom saam met stem en snaar.

Refrein:

3. Dans en loof met tamboeryne,
jubel met trompetgeskal.
Alle wesens loof die Here
galmend oor die groot heelal.

Refrein:

VONKK 105 “Ek  Wil U Eer Met Duisend Stemme, Heer”
Teks: O for a thousand tongues to sing – Charles Wesley 1707-1788; Jacques Louw 2010 ©
Musiek: LYNGHAM – Thomas Jarman  (1715-1781)
Kantoryverwerking: Onbekend (Psalter Hymnal #404)
© Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit1. Ek wil U eer met duisend stemme, Heer –
aan U my loflied bring,
aan U my loflied bring.
U wonderdade verstom my meer en meer.
U goedheid laat my sing.
U goedheid laat my sing.
U goedheid laat my sing.

2. Here, U leef! U’t waarlik opgestaan!
U heers oor graf en dood.
U heers oor graf en dood.
Elkeen wat glo, sal nooit verlore gaan.
U is ons krag en hoop.
U is ons krag en hoop.
U is ons krag en hoop.

3. Hoor, dowes, hoor; kom, stommes, bring Hom eer –
laat almal voor Hom buig.
laat almal voor Hom buig.
Hy kom in glorie op wolke eenmaal weer.
Laat ons van vreugde juig.
Laat ons van vreugde juig.
Laat ons van vreugde juig.

4. Vader ons loof, ons eer u Wondernaam
vir goedheid lewenslank,
vir goedheid lewenslank!
Ons eer u grootheid, ons prys U almal saam.
Aan U ons lof en dank!
Aan U ons lof en dank!
Aan U ons lof en dank!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
 O Here, onuitputlike bron van alle goeie dinge,
ons eer U vir die gawes van u liefde.
Gee dat ons u Woord hoor
met die opregte begeerte om te ontvang wat dit belowe
en te gaan doen wat dit van ons vra.
Grafeer u Woord nie net in ons verstand nie,
maar ook in ons harte.
Verander ons deur die Heilige Gees
om al hoe meer aan die beeld van u Seun gelyk te word.
Ons wil ons verwonder aan u heerlikheid
terwyl ons in die helder spieël van u evangelie kyk. Amen.
(Liturgie van die Gereformeerde Kerk in Frankryk)

Skriflesing: Johannes 2:13-22

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Vestig die aandag op die skoene by die kruis.  Nooi kinders om van die skoene aan hulle voete te trek en te dink hoe dit voel om in iemand anders se skoene te moet staan. Lei die gemeente om daaraan te dink hoe ons elke jaar Lydenstyd uit gewoonte vier. Dink daaraan hoe dit sou voel om in Jesus se skoene te moes staan.
of
Die voorstel vir die familie-oomblik is om gewoon die verhaal te dramatiseer en oor te vertel aan die hand van die teks. Een manier is om die verskillende ruimtes te verduidelik waar verskillende groepe mense by die tempel toegelaat is. Die tempel in ons fokusteks is die tweede tempel wat deur die terugkerende ballinge herbou is na die vernietiging daarvan in 586vC en deur Herodes opgeknap is net voor die tyd van Jesus (ook bekend as Herodes se tempel). Ironies sou ook hierdie tempel verwoes word deur die Romeine in 70nC.
Die area waar Jesus die tempel gereinig het, is die tempelplein, die area waar heidene toegelaat is om te aanbid. Die Bybel Verklaar berig soos volg:

In die voorhof van die heidene (tempelplein) het die besigheidslui diere en duiwe aan pelgrims wat van ver af kom, in Joodse geld (vgl. geldwisselaars) verkoop om te offer. Toe die tempel, ook waar die heidene aanbid het, ’n besigheidsplek gemaak is, ’n “rowersnes” (Mark. 11:17), is die heidene verhinder om te aanbid. So is die bedoeling van die tempel om ’n aanbiddingsplek te wees, verydel. Jesus ontruim toe die tempel en dryf ongewenste mense en diere uit met ’n sweep wat Hy van biesies gevleg het. Die tempel was immers die huis van sy Vader (16 – vgl. 1 Kon. 8:10–11).

Alle Jode (mans en vroue) is toegelaat by die ruimte wat vir die vrouens gereserveer is- daar was selfs ‘n ruimte vir melaatses. Die Joodse mans kon vanuit hulle bevoorregte ruimte sien hoe die offers gebring is. Die Allerheiligste is slegs 1 maal per jaar deur die Hoëpriester betree op die Groot Versoendag. Die aksent dat die ruimte vir die heidene deur die besigheidslui en geldwisselaars oorgeneem is, kan dan gebruik word saam met die vertel van die verhaal.

Preekriglyn

In die vroeë 1500’s het Michelangelo vir vyf jaar op sy rug gelê om Bybelse tonele teen die plafon van die Sistynse kapel in Rome te verf.

Die besondere kunswerk het egter feitlik onmiddellik begin verdof, veral weens die gebruik van rokerige olielampe om die gebou te verlig. Binne ‘eeu nadat die kunswerke geskep is, kon niemand meer die oorspronklike helder kleure onthou nie. Teen 1936 het die skilder Biagio Biagetti gesê: “Ons sien die kleure van die Sistynse kapel asof deur gerookte glas.”

In 1981 het Fabrizio Mancinelli en Gianluigi Colalucci ‘n klein hoekie van die skilderwerk versigtig met ‘n spesiale vloeistof gewas. Toe het hulle kunskenners uitgenooi om die werk te kom ondersoek. Almal was verstom. Niemand het kon dink dat sulke manjifieke kuns en kleure agter eeue se vuil verskuil was nie.

In sy volle glorie herstel, moes kunskenners anders oor Michelangelo skilderwerk begin dink. Tot nou toe het sy skilderye soos beeldhouwerk gelyk, met uitstekende vorm maar dowwe kleur. Skielik was dit duidelik dat Michelangelo ook meesterlik met kleur kon werk.

Mancinelli en Colalucci se sukses het tot die skoonmaak van die hele plafon gelei. Die taak is teen Desember 1989 voltooi. Dit het twee keer solank geneem om die plafon skoon te maak as wat dit die kunstenaar oorspronklik geneem het om dit te skilder. Die resultate was asemrowend. Vir die eerste keer in byna 500 jaar kon mense die plafon sien soos die kunstenaar dit oorspronklik bedoel het. Al die kleur en skoonheid het uit die plafon gestraal.

Goeie skoonmaak het wonderlike effek. Dit herstel die oorspronklike bedoeling met die kunswerk.

Jesus en die tempel

Die verhaal hoe Jesus die tempel in Jerusalem skoongemaak het, kom in al vier evangelies voor. Johannes plaas die gebeure reg aan die begin van Jesus se bediening.

Matteus, Markus en Lukas plaas die gebeure reg aan die einde van Jesus se bediening, toe hy Jerusalem teen die einde van sy laaste week op aarde betree. Die feit dat Jesus die tempel skoonmaak lei tot die finale besluit van die priesters en Skrifgeleerdes om Hom dood te maak. Jesus mag nie leef nadat hy die tempel se ekonomie aangeval het en die tempel as instelling bedreig het nie. Matteus en Markus vertel hoe “getuies” Jesus se woorde by die tempelreiniging verkeerd aanhaal tydens Jesus se verhoor, juis om sy dood te motiveer.

Skrifkenners is dit eens dat Johannes die tempelreiniging aan die begin van Jesus se bediening plaas om ‘n boodskap oor te dra. Vir Johannes moet Jesus se hele bediening vanuit die gebeure by die tempel verstaan word. Dit blyk uit die aanhaling van Psalm 69:10: “Die liefde vir u huis verteer my”.

Jesus maak skoon, want Hy wil die ware aanbidding van God herstel.

Agtergrond

Ons teks begin deur te vertel dat die “Paasfees van die Jode” naby was en dat Jesus daarvoor na Jerusalem gegaan het. Dit was algemene gebruik dat Jode die Paasfees gaan bywoon het en dan die tempel besoek het om hulself te reinig vir deelname aan die fees.

Op pad om aan hierdie reinigingsrituele deel te neem, stap Jesus deur die tempelplein. Dit is die buitenste gedeelte van die tempel, waar ook nie-Jode toegelaat is om te kom. Hier loop Jesus die handelaars raak. Hulle verkoop diere wat as offerandes gebruik gaan word, en ruil ook geld om.

Beide die wissel van geld en die verkoop van offerdiere was nodig om die tempel te laat funksioneer. Die geldwisselaars het mense toegelaat om hulle alledaagse geld vir Joodse geld om te ruil, sodat hulle die halwe sikkel tempelbelasting kon betaal. Vir alledaagse gebruik het mense Romeinse en Griekse munte gebruik met godslasterlike beelde en woorde op. Van die Romeinse munte het die keiser as goddelik voorgestel, en was nie in die tempel toegelaat nie. Die diereverkopers se beeste, skape en duiwe was nodig om die offerkultus in stand te hou.

Was Jesus gekant teen hierdie handelaars en die produkte wat hulle verkoop het? Nie soseer nie. Die probleem was hulle ligging binne-in die tempel. Wanneer Jesus hulle uitdryf, sê Hy: “Vat hierdie goed hier weg!”(16). Die probleem is dat die tempel, die “huis van my Vader” ‘n besigheidsplek word.

Ligging is alles

Die verskillende stalletjies wat diere verkoop en geld uitgeruil het, was tradisioneel naby die tempel in die Kedronvallei of teen die Olyfberg geleë. Volgens ander bronne was dit Kajafas self (hoëpriester in Jesus se tyd) wat die handelaars toegelaat het om hul winkels binne die tempel te open. Dit is dus moontlik dat die handeldryf in die tempel ‘n onlangse ontwikkeling was.

Daar was egter tye in die verlede waar dit ook gebeur het. Die profeet Sagaria droom van ‘n dag waar “daar in die Huis van die Here die Almagtige geen handelaar meer sal wees nie” (14:21).

In lyn met hierdie droom maak Jesus ‘n sweep met toutjies en jaag almal uit die tempel uit, ook die skape en die beeste. Hy gooi die geld op die grond uit en keer die wisselaars se tafels om. Sy motief is: “Moenie die huis van my Vader ‘n besigheidsplek maak nie” (16).

Liefde vir u huis

Terwyl Jesus die handelaars uit die tempel jaag, roep sy dissipels ‘n sinnetjie uit Psalm 69:10 in herinnering: “Die liefde vir u huis verteer my.” Dit word as volg in die 1983 Afrikaanse vertaling weergegee:

Omdat ek u huis liefhet,
moet ek ly;
die beledigings teen U
het ook vir my getref.

Psalm 69 is ‘n klagpsalm van iemand wat met passie vir God leef, maar daarom vervreemd geraak het van gesinslede, familie en die gemeenskap. Die psalmdigter is getrou aan God, maar word daaroor beledig, beskaam en verkleineer. Sommige Skrifkenners sê die Johannesevangelie gebruik beelding uit Psalm 69 om die laaste oomblikke van Jesus aan die kruis te beskryf (Johannes 19:28-29).

Deur hierdie Psalm aan te haal, gee Johannes vir ons ‘n sleutel om die boodskap van die gedeelte te verstaan. Waaroor gaan dit in die tempelreiniging, en waarom plaas Johannes dit aan die begin van Jesus se bediening? Hy wil sê: die bediening van Jesus word gebore uit passie vir sy Vader se huis, ‘n huis van gebed waar gemeenskap met God beoefen word, en hierdie passie gaan lei tot ernstige konflik met die godsdienstige leiers.

Konflik

Natuurlik is daar dadelik konflik. “Die Jode” wil by Jesus weet met watter wonderteken Hy kan bewys Hy mag hierdie dinge doen. Terwyl Matteus, Markus en Lukas praat van “Skrifgeleerdes en priesterhoofde” praat Johannes van die “Jode” wat krities is. Hy demonstreer dat die vyandskap teen Jesus ‘n hele etniese groep gaan insluit, die verwerping gaan groter wees as maar net deur ‘n paar leiers. Dit is presies wat dikwels in die Ou Testament gebeur het. Profete was dikwels deur feitlik die hele volk geteiken vanweë hulle profetiese kritiek. (Met verskriklike gevolge sou sekere Westerse Christene later “die Jode” teiken as vyande van die Christelike geloof, ‘n jammerlike fout.)

‘n Wonderteken is iets wat die profete van die Ou Testament se gesag demonstreer, of aandui dat Jesus die komende Messias is.

Jesus antwoord nie met ‘n wonderteken nie, maar met ‘n uitdaging: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig” (19).

Breek die tempel af, sê Jesus. Is Hy besig om te sê die leiers is met hulle gedrag reeds besig om die eintlike doel van die tempel met handeldryf te bemors en die gebou af te breek? Die profeet Jeremia het reeds gesê die volk van die Here verwoes die tempel met hulle ongehoorsaamheid en korrupsie van God se wil.

Om die tempel in drie dae op te rig, klink belaglik vir die Jode. Die konstruksie is reeds 46 jaar aan die gang en Jesus wil dit in drie dae regkry. Tog is verwag dat die Messias die tempel weer sou herstel. Deur te sê Hy sal dit opbou, maak Jesus daarop aanspraak dat Hy die Messias is.

Sy liggaam

Johannes maak dit duidelik dat Jesus met die opbou van die tempel nie van stene en messelwerk praat nie, maar verwys na sy die tempel van sy eie liggaam (21). Johannes vertel ons ook nou reeds dat die dissipels later – na Jesus se opwekking uit die dood – sou terugdink aan Jesus se woorde by die tempel. En hulle sou verstaan dat Jesus die weg na gemeenskap met God deur sy eie opgestane liggaam moontlik gemaak het.

Jesus se sterwe en opstanding is die teken wat die Jode verlang het. Jesus het gesag in die tempel, want Hy is die Een wat van God kom en wat die weg vir mense oopmaak na God.

Teoloog Scott Johnston skryf:

In effect, to the many other “I am” statements that populate John’s Gospel (e.g., “I am the … light, way, truth, bread of life, living water, resurrection …”), readers can add, “I am the destroyed and rebuilt temple.”

Lydenstyd

Ons moet onsself daaraan herinner dat dit Lydenstyd is. Ons praat nie oor tegnikaliteite – bou- en messelwerk – as ons oor Jesus se heropbou van die tempel praat nie.

Ons praat oor ‘n Man wie se liggaam verbrysel is, wie in sy diepste mens-wees verkrag is aan die kruis. Dit is wat dit gekos het om ‘n pad oop te breek na God toe.

Mense – Jode of nie-Jode – is nie in staat om ‘n konneksiepunt met God oop te hou, sonder om afgeode (Calvyn) of distorsie daarby in te dra nie.

Die menslike geslag kon nie getroue priesters poduseer nie. Dit het God geverg om in Jesus vir ons ‘n getroue Hoëpriester te voorsien. Een wat deur sy bloed en sy gebreekte liggaam heen vir ons die pad na God toe oopgebreek het.

Toepassing

Ons het reeds verwys na “hierdie tempel” wat Jesus se liggaam is (21) en die betekenis daarvan vir Lydenstyd. Ons kan ook op ander vlakke oor die teks nadink.

Wat sê hierdie teks vandag verder vir ons?

In die eerste plek help die teks ons om Jesus se identiteit en roeping te ontvang. Veral die plasing van die gebeurtenis reg aan die begin van Jesus se bediening onderstreep die belangrike betekenis hiervan. Jesus kom van die Vader, en die gemeenskap met die Vader waarby God se mense ingetrek word, is die sentrale motief van sy bediening. Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Hy is die Een deur Wie ons tot die Vader kom.

Tweedens is dit duidelik dat Jesus passievol oor die ware aanbidding van God is. Die tempel is konneksie met God. Net in die volgende gesprekke wat Jesus volgens Johannes voer, met Nikodemus en die vrou by die put, is die ware aanbidding van God sentrale temas.

Die tempel was bedoel vir persoonlike gemeenskap met God en vir die versoening van die volk se sonde. Vanuit die konneksie met God, uitgedruk deur gebed, is die volk van God se identiteit gevorm en het hulle God se wil uitgeleef.

Jesus maak die tempel skoon sodat dit aan hierdie doel kan beantwoord.

In die derde plek lê Jesus in hierdie teks beslag op die tempel. Iemand sê tereg Jesus kolonialiseer die tempel. Dit is sy Vader se huis, dit is sý tempel, Hy wórd die tempel deur sy lyding, dood en opstanding. As fisiese gebou het die tempel sy einde wanneer Jesus aan die kruis die tempel word. Daarom skeur die voorhangsel middeldeur. Hy is die ware Hoëpriester.

Vierdens help die tempelgebeure ons om oor ons eie geboue na te dink. Die gevaar is dat die tempel – of in moderne taal – die kerk ‘n industrie kan word. Die kerk se belange, gerief, fondse en gladde funksionering kan God begin verdring. Ook ons taal kan dit doen.

Mens moenie die teks wetties lees, asof bv. die verkoop van geestelike boeke in die kerk teen die Bybel is nie. Mens hoef nie artikels in die gebou te verkoop om ‘n kompromie met die doel van die aanbiddingsplek te maak nie. Daarvan is die Bybel vol. Jeremia noem die tempel ‘n rowerspelonk omdat mense hul onreg wil verdoesel met hul godsdienstige praktyke.

In die vyfde plek word mense – deur geloof – deel van die liggaam van Christus. Paulus veral beklemtoon dat die kerk Jesus se liggaam is, en dat gelowiges die tempel van die Heilige Gees is. Ons verwar dus nie kerkgeboue met die tempel van God nie – ons weet dat onsself dit is. Ons is saam die tempel wanneer ons in die kerkgebou versamel rondom die aanbidding van die Here, en ons is die liggaam van Christus versprei deur die samelewing waar ons God verteenwoordig en aanbid sover ons gaan.

Elkeen van ons is ‘n konneksiepunt, ‘n klein tempeltjie, van God. En met God. Dit is ‘n radikale skuif in ons eie identiteit.

Toets jou aan Jesus

Thomas Linacre was die persoonlike geneesheer van beide Henry VII en Henry VIII in Brittanje, stigter van die Royal College of Physicians, en vriend van Desiderius Erasmus en Sir Thomas More, die invloedryke denkers van die Renaissance.

Laat in sy lewe begin Linacre met studies om ‘n priester te word.  Vir die eerste keer in sy lewe ontvang hy ‘n kopie van die Evangelies om te bestudeer.

Onthou dat Linacre deur van die donkerste tye in die kerk se geskiedenis geleef het.  Pous Alexander VI se bedrog, korrupsie, omkopery, bloedskande, en moordpraktyke het die kerk in die skande gedompel.  Wat skade en skande betref het die Tudor-konings ook hul kant gebring.

Terwyl hy die Evangelies vir die eerste keer lees, word Linacre telkens verras en met kommer gevul.  “Óf hierdie is nie werklik die Evangelies nie,” het hy gesê, “of ons is nie werklik navolgers van Jesus nie.”

Dit is die punt van ons teks.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 280 “Here redder groot en magtig 1,2,3”

Seën
Die Here het ons geseën en tot ons redding verskyn. Die Here het sy aangesig oor ons laat skyn en was ons genadig. Hy het ons gebede verhoor en aan ons sy vrede kom gee!
Hy het ons lyding op Hom geneem. Ons siekte het Hy gedra . . . Hy was van God verlaat, sodat ons vir ewig in sy teenwoordigheid kan wees. Hy het die dood oorwin sodat ons die ewige lewe kan hê.
Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader; van die Here Jesus Christus, ons Here en die Helige Gees, ons Trooster en Leidsman.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.