Derde Sondag in Koninkrykstyd (Omgewingsondag)

Sections

Oorsig

In hierdie liturgiese voorstel kom die tema van God se sorg vir die weduwees aan die orde. Dit is in die sleutelteks en in die 1 Konings 17 teks. Ook Psalm 146 verwys na sy beskerming van die weduwees. Die potensiële tema van Jesus se mag oor die dood kry nie hier aandag nie.

Ander tekste

1 Konings 17:8-16 (17-24)
8Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê: 9“Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ’n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.”
10Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar ’n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief ’n bekertjie water om te drink.”
11Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief ’n stukkie brood saam.”
12Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net ’n handvol meel in die kruik en ’n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar ’n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.”
13Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my ’n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg. 14So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”
15Sy gaan maak toe soos Elia gevra het. Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. 16Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.
17In dié tyd het die vrou, die eienares van die huis, se seuntjie siek geword. Hy het al hoe sieker geword totdat hy die laaste asem uitgeblaas het. 18Toe sê sy vir Elia: “Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?”
19Hy sê vir haar: “Gee jou kind hier,” en hy tel hom van haar skoot af op. Toe dra hy hom na die bo-kamer toe waar hy tuis gegaan het en lê hom op die bed neer 20en bid tot die Here: “Here my God, wil U nou oor hierdie weduwee by wie ek bly, ’n ramp bring deur haar kind te laat sterf?”
21Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kind en smeek die Here: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”
22Die Here het Elia se gebed verhoor: die lewe het teruggekom, die kind het gelewe. 23Toe bring Elia die kind van die bo-kamer af ondertoe en gee hom vir sy ma en sê: “Kyk! Jou seuntjie leef!”
24Die vrou sê toe vir Elia: “Nou weet ek dat u ’n man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is.”

Psalm 146
Prys die Here!
146 Prys die Here!
Ek wil die Here prys.
2Ek wil die Here prys so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
3Moenie op magtiges vertrou nie,
nie op ’n mens nie;
hy kan jou nie red nie.
4Sy asem verlaat hom,
hy word weer grond
en sy planne is daarmee heen.
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Galasiërs 1:11-24
Hoe Paulus ’n apostel geword het
11Dit moet julle goed besef, broers: die evangelie wat ek verkondig, is nie deur ’n mens uitgedink nie. 12Ek het dit ook nie van ’n mens ontvang of by ’n mens geleer nie. Inteendeel, Jesus Christus het dit in ’n openbaring aan my gegee.

13Julle het immers gehoor van my optrede toe ek destyds nog ’n aanhanger van die Joodse leer was. Ek het die kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer uitroei. 14En in die Joodse leer het ek onder my volksgenote bo baie van my leeftyd uitgestyg, want ek was ’n fanatieke yweraar vir die oorgelewerde leer van my voorvaders.

15Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep. Toe Hy in sy goedheid besluit het 16om sy Seun aan my te openbaar sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig, het ek nie dadelik daarna mense geraadpleeg 17of Jerusalem toe gegaan na dié wat voor my al apostels was nie. Nee, ek is Arabië toe, en daarvandaan het ek teruggekom Damaskus toe.

18Eers drie jaar later het ek Jerusalem toe gegaan om met Sefas kennis te maak, en ek het twee weke by hom gebly. 19Van die ander apostels het ek niemand ontmoet nie behalwe Jakobus die broer van die Here. 20Wat ek aan julle skrywe, is nie leuens nie—God is my getuie.

21Daarna is ek na Sirië en Silisië toe. 22Die gemeentes van Christus in Judea het my toe nog nie persoonlik geken nie; 23hulle het net gehoor: “Die man deur wie ons vroeër vervolg is, verkondig nou die geloof wat hy destyds probeer uitroei het.” 24En hulle het God verheerlik oor my.

Fokusteks

lukas 7:11-17
Die opwekking van ’n weduwee se seun by Nain
11Kort daarna het Jesus na ’n dorp met die naam Nain gegaan, 12en sy dissipels en ’n hele menigte mense is saam met Hom. Toe Hy naby die ingang van die dorp kom, word daar juis ’n dooie uitgedra om begrawe te word. Hy was die enigste seun van sy ma, en sy was ’n weduwee. Byna die hele dorp se mense was saam met haar. 13Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!”

14Hy gaan toe nader en vat aan die baar. Die draers gaan staan toe, en Hy sê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!”

15Die dooie het regop gaan sit en begin praat. En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.

16Almal is met ontsag vervul en het God geprys deur te sê: “’n Groot profeet het onder ons opgestaan,” en “God het na sy volk omgesien.” 17Die berig oor wat Hy gedoen het, het deur die hele Joodse land en die omliggende gebied versprei.

Ekstra stof

Lukas 4:15-9:50 fokus op Jesus se bediening in die meer plattelandse streke totdat Hy die reis na Jerusalem vasbeslote aanpak om sy roeping daar te voltooi.

Lukas 7:1-50 – Jesus het gelowiges en twyfelaars lief

Dit is ’n baie belangrike gedeelte hierdie. Aan die een kant laat die groot geloof van die offisier Jesus verwonderd. Aan die ander kant, vermoed ‘n mens, laat die twyfel van Johannes die Doper, die grootste aardse mens tot op daardie stadium (7:28), ons verwonderd. Maar, natuurlik, nie vir Jesus nie. Want Hy toon deernis met Johannes se twyfel, en kom op ’n ongelooflike kragtige manier vir hom op. Soos Johannes vir Jesus ’n Voorloper was, so raak Jesus vir Johannes die Verlosser, die Een wat instaan en help en omgee.

Dít is wat ‘n mens van Jesus so fassineer – Hy laat Hom net deur niks afsit nie, nie eers deur die twyfel van een van die “groot seuns” van Sy tyd nie. En dit laat ‘n mens net weer besef, dít is die Een wat ons aanbid; dít is die Een wat vir ons intree (Hebr 9:24); dít is die Een wat alles ten goede laat meewerk (Rom 8:28); dít is die Een wat die Begin en Voleinder is van ons geloof (Hebr 12:2).

Let ook op hoe die erns van die siektes van die mense wat Jesus gesond maak toeneem – die slaaf lê op sterwe. Met die weduwee van Nain wek Jesus dan ook die eerste keer iemand uit die dood uit op. Wat vir ons sê: Jesus word nie van stryk gebring deur uitdagings nie – Hy is God.

’n Paar kort opmerkings oor die perikope:
7:1-10
Die geloof van die offisier tref ‘n mens. Hy was waarskynlik een van die godvresende heidene wat hulle met die Joodse geloof geassosieer het. Jesus se genesing van ‘n afstand af, wys dat Hy inderdaad God is, wat nie aan plek of tyd gebonde is om sy werk te doen nie, soos trouens die opwekking uit die dood ook wys.

7:11-17
Die opwekking van die weduwee se seun, behalwe dat hy dus as broodwinner vir haar sou kon sorg, sou die ingeligte Jode waarskynlik ook kon laat terugdink het aan Elisa wat daar naby – by Sunem (2 Kon. 4:18) – ’n vrou se kind uit die dood opgewek het.

7:18-35
Die twyfel van Johannes tref ‘n mens besonderlik. Dit is juis ná die opwekking van die jong seun dat hy sy kommer uitspreek of Jesus regtig die Een is wat moes kom. ‘n Mens hoor daarin dat hy eintlik vra of sy eie bediening – as Voorloper van die Verlosser – aan die verwagtinge voldoen het.

7:36-50
Die verhaal van die sondige vrou wat in Simon, die Fariseër, se huis haar liefde vir Jesus demonstreer, wys nie net die kontrasterende reaksies op Jesus nie, maar ook Sy Goddelike vermoë om sondes te vergewe.

Liturgie

Aanvangslied: Lied  167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord: (Psalm 146)

Seëngroet: (Galasiërs 1)

Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1” (herhaal 2 of 3 maal)

Wet
Ons hoor God se hart klop in die woorde van Psalm 146…
Ons as gelowiges is die Here se vingerpunte om Sy hartklop te laat realiseer…
Gebruik die teks uit Matteus 25 om bogenoemde te onderstreep.

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1, 2”

Vryspraak: Romeine 8

Geloofsbelydenis: (Maretha Maartens)

Loflied 147 “Dis goed om God se lof te sing 1,2,3,4” (2e Melodie)

Epiklese: (Ahv Jesaja 55)

Skriflesing: Lukas 7:11-17

Familie-oomblik
Prediking

Gebed Moeder Teresa
(Uit Die groot Gebede boek, 2004:273)

Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3″

Seën
Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord (Psalm 146)
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.

Seëngroet: (Galasiërs 1)
Aan die gemeente in ……………………………………..
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. 5Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen.

Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1” (herhaal 2 of 3 maal)

Wet
Ons hoor God se hart klop in die woorde van Psalm 146…
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
Ons as gelowiges is die Here se vingerpunte om Sy hartklop te laat realiseer…

Gebruik die teks uit Matteus 25 om bogenoemde te onderstreep.
31“Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. 32Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei. 33Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan.

34“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, 35want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’

37Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? 39Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’40En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

41“Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, 42want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; 43Ek was ’n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’44Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of ’n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’45En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’46En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1, 2”

Vryspraak: Romeine 8
8 Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. t2Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. 3Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.

9Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. 10Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde.

14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Geloofsbelydenis: (Maretha Maartens)
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
en in U , Jesus Christus, sy eniggebore Seun, my Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees en gebore is uit die jong meisie, Maria. Ek glo dat u, Jesus, gely het onder Pontius Pilatus;
dat U onskuldig gekruisig is en gesterf het
omdat U dit wóú doen, vir sondaars, vir my ook.
God het U op die derde dag tussen die dooies uit laat opstaan.
U het aan meer as 500 mense verskyn en nog baie met hulle gepraat. Daarna het God U, wat sy Seun is, van die Olyfberg af
opgeneem in die hemel en die apostels het dit gesien.
Ek glo U is nou by God, wat alles gemaak het en alles kan doen.
Ek glo U praat elke dag met God oor my. U pleit vir my en vir al my maats.
Ek glo U kom terug as Koning. Die Bybel sê U gaan die Regter wees
voor wie almal wat ooit geleef het, gaan verskyn.
Maar dat ons wat in U glo, niks het om voor bang te wees nie.
U het klaar ons straf gedra.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo ek kan net geestelik groei in ‘n gemeente waar mens hoor
wat in die Bybel staan; waar U, Jesus altyd in die middel is.
Ek glo dat U my gered het toe die Heilige Gees my oortuig het
dat ek moet begin sê U is my enigste Redder.
Ek weet ek sal op die aarde doodgaan, maar nooit dood wees nie.
Ek sal vir altyd en altyd by U wees.
Ek wil vir U iets sê, Jesus van Nasaret, één met die Vader.
Ek wil vir U sê… U is my lewe.

Loflied 147 “Dis goed om God se lof te sing 1,2,3,4” (2e Melodie)

Liedere

F173. “Dis Die Opdrag Van God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Kerk en Koninkryk; Getuienis; Wet)
Teks en Musiek: Willem Gouws
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

1. Dis die opdrag van God
Dis sy groot gebod
om jou naaste lief te hê soos jouself
Hy gebruik vir jou en my
om sy koninkryk uit te brei
en Hy stuur ook sy Gees om ons te help.

Refrein:
Hy maak ons deel vansy liggaam
Hy maak ons deel van sy kerk
Hy leef in ons harte
en in Jesus se Naam staan ons sterk.

F69. “Was My Skoon”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed / Skuldbelydenis)
Teks en Musiek: Hannes Grabe
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Kom en reinig my, o Heer
Week my sonde en skuld in die bloed van u Seun
Ek staan skuldig voor U, Heer
Die verlore kind kom vra ‘n tweede kans

Was my skoon, maak my rein,
Laat U lig weer deur my skyn
Neem my hart, maak dit nuut,
Laat my lig na ander skyn

Was my skoon, maak my rein
Laat u lig weer deur my skyn
Laat u Gees my hart deurspoel
Bring u vrede en rus, u genade oor my

Maak my wit net soos die sneeu
Ek wil heilig leef, gewy aan U, my Heer

God praat met ons en ons luister

Epiklese: (Ahv Jesaja 55)
Ek wil vra na die wil van die Here
terwyl Hy nog te vinde is,
Ek wil Hom aanroep terwyl Hy nog naby is.
Ek draai na God
wat altyd weer vergewe…
U gedagtes is nie my gedagtes nie,
en U optrede nie soos Myne nie,
soos die hemel hoër is as die aarde,
so is U optrede
verhewe bo my optrede
en U gedagtes bo my gedagtes.
Amen

Skriflesing: Lukas 7:11-17

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Die Familie-oomblik sluit aan by Omgewingsondag
[Foto deur Rethie van Niekerk – kan ook deurlopend as powerpoint agtergrond gebruik word]

In 1972 het die Verenigde Nasies 5 Junie van elke jaar tot Wêreld-omgewingsdag verklaar. Dit het tot die gebruik gelei dat die meeste kerke jaarliks, op die eerste Sondag in Junie, Omgewingsondag vier, waartydens hulle fokus op die bewaring (regte) van die skepping.

Die Bybel is helder en duidelik dat Jesus nie net gekom het om mense se verhouding met God te herstel nie. Hy het ook gekom om sy verhouding met die aarde te herstel. Dit daag gelowiges uit om in ooreenstemming met God se Woord na maniere te soek om die aarde in sy totaliteit te bewaar vir die nageslag. Daarom is Omgewingsondag ook die herstel van die aarde se “skeppings-waardigheid”.

Een van die maniere waarop gemeentes by’n projek kan inskakel, is om hulle kerk/gemeente se “carbon footprint” te bepaal. Daarna kan hulle op ’n praktiese manier hierdie voetspoor herstel deur byvoorbeeld spekbome te plant aangesien een hektaar bome ongeveer 4 ton koolsuurgas per jaar opvang.

Die Spekboom (Portulacaria afra) is ‘n vetplant met kleinerige blare. Dit kom algemeen in die ooste van Suid-Afrika voor. Dit word ook in die Karoo van die Oos- en Wes-Kaap aangetref.

Die spekboom is immergroen en word ongeveer 2.5 meter hoog. Die stam, wat tot 20 cm dik word, het ‘n kurkagtige voorkoms. Die blare is helder groen, vleserig en eiervormig. Soos die boom ouer word, word die blare gelerig.

Olifante eet graag die boonste blare van die boom, wat veroorsaak dat dit horisontaal uitsit. Vir die rede staan die boom ook as Olifantskos bekend. Die olifante in die Oos-Kaap, insluitende die in die Addo-Olifant Nasionale Park, kan tot 200 kg spekboomblare per dag vreet.

Spekboom het ‘n besonderse vermoë om groot hoeveelhede koolstofdioksied uit die lug te neem en na suurstof om te skakel. Een hektaar spekboom kan gemiddeld 4.2 ton koolstofdioksied per jaar na suurstof omskakel. In die opsig is spekboom tot 10 keer meer effektief per hektaar as ‘n tropiese reënwoud.

Die blare van die spekboom kan deur mense geëet word. Dit kan in tye van nood as ‘n voedselbron aangewend word en is ook geskik vir gebruik in slaaie. Die blaartjies het ‘n effens suur suurlemoenagte smaak.

Anthony Mills, kundige op die gebied van spekbome, beantwoord die volgende vraag soos volg:

What makes this plant so unique?

In many areas of the Eastern Cape the Spekboom completely dominates the landscape. Yet, for an indigenous plant it’s quite unusual to dominate at the high extent it does in Africa. In most ecosystems you have numerous different plants that are common in a landscape, whereas in the Eastern Cape you just have the Spekboom blanketing the landscape. If you look up a slope there’ll be a light green colour and 90% of that green colour will be from the Spekboom. So that’s one of the aspects that make it unique: its dominance.

Secondly, the Spekboom forms a very dense forest, so dense that it’s difficult to walk through. The only animals that can really get through it are large herbivores like: elephants, rhinos and buffalos, as they can smash their way through it. For a human to walk through the landscape is quite difficult.

Finally, the third interesting thing is that it occurs in very dry areas. One of the reasons it can grow in a desert-like climate is that it is a succulent (just like a cactus). We think that the main reason it can grow so rapidly in dry regions is because it is able to ‘shift gears’. When it’s really dry, it grows like a cactus using a certain physiological path way. This means that it absorbs carbon dioxide at night. The plant’s stomata open at night and close during the day in order to save water. This slows down evaporation and in the end the Spekboom grows faster during the day, as it also uses the carbon dioxide it needed at night. It’s able to change gears depending on its wet or dry state. There aren’t many plants around the world that can do this. The magnificent plant can grow into a tall tree – up to 5m high. On top of it all, it hosts the most amazing vegetation.

Doen ‘n gebed waarin die Here gevra word om te onderneem dat die mens die skepping sal bewaar.
of die voorstel uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16:
Die kinders kan genooi word om te vertel wie vir hulle sorg en hoe. Vra ook vir wie sorg hulle en hoe doen hulle dit? – Jesus sorg vir ons, veral wanneer ons nie self kan nie. Jesus stuur mense om vir mense te sorg.

Preekriglyn

Die Bybel kweek by ons ‘n besef van hoe klein en nietig ons as mense is. Dink aan Jesaja wat sê:
Alle mense is soos gras,
alles waarop hulle staatmaak is soos ‘n veldblom:
gras verdor en blomme verwelk… (Jesaja 40:6-7)

Tog is die Bybel ook vol van die geweldige waarde wat God aan mense heg. God het ons na God se beeld gemaak, vertel Genesis 1. Die Psalmdigter roep met verwondering uit:
As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het,
wat is die mens dan dat U aan hom dink?
U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak,
en hom met aansien en eer gekroon. (Psalm 8)

Ja, die Bybel plaas hoë waarde op die mens, in die lig van God. Wanneer mens die Bybelse skeppingsverhaal vergelyk met ‘n ander skeppingsverhaal uit die antieke tyd, die Babiloniese skeppingsverhaal uit die Enuma Elish, sien mens hoe hoog God mense ag.

Die Babiloniese skeppingsmite is in 1849 deur Henry Layard in die biblioteek van Nineve ontdek (vandag Mosul in Irak). Net soos in die Bybel, word die mens ook hier uit klei geskep, maar dan slaan die verhaal ‘n radikale ander koers in. Die mensklei word gemeng met die bloed van ‘n bose, vroulike godheid wat pas deur ‘n manlike god doodgemaak is weens verraad teen die gode. Mense word uit duistere doodsheid en moord geskep. Konflik en geweld tussen die geslagte is in die mens ingeskape. Naas klei en bloed word die speeksel van die gode ook in die mens ingemeng. Geweld is van die begin af deel van die mens se bestaan.

Die Enuma Elish-mite het ‘n lae mensbeskouing. Dit verduidelik waarom die mens vasgevang is in moord en doodslag, en nie daaruit bevry kan word nie. Dit regverdig die gebruik van geweld van die koning as verteenwoordiger van die hoër gode. Volgens die Nuwe Testament-kenner, Walter Wink, beeld elke Hollywood-geweldsfliek vandag nog die plot van die Enuma Elish-mite uit.

Soveel anders as die Bybel waar die mens, man en vrou, na die beeld van God geskape word, en die asem van God ontvang. Soveel anders as Jesus se mensbeskouing, wat mense eer, hulle met respek en waardigheid behandel, en aan mense ‘n nuwe toekoms skenk. Hoewel die mens broos is, word die mens deur God geëer en met heerlikheid beklee. En waar mense val, word hulle deur Jesus opgetel en deur geloof ingebind in ‘n nuwe verhouding met God.

Twee optogte

Ons teks vertel van Jesus se aankoms, saam met sy dissipels en ’n groot menigte mense, in Nain, ’n dorpie ongeveer 10 km suidoos van Nasaret en tien uur te voet van Kapernaum. Van Nain is daar bitter min bekend behalwe dat dit geleë was in die Jisreël-vlakte tussen die berge van Gilboa en Tabor. Hier in Nain ontmoet twee wêrelde wat eintlik teenpole is, naamlik die dood en die lewe, mekaar in die vorm van twee optogte.

Die eerste optog gelei deur Jesus, kom Nain binne vanuit Kapernaum se rigting. Daar, in die stadspoorte, ontmoet hulle ’n tweede optog wat op pad is na die begraafplaas wat buite die stadsgrense geleë was. In hiérdie optog was daar ’n weduwee wat op pad was om haar enigste seun wat in die fleur van lewe gesterf het, te begrawe. Sy was omring deur byna al die mense van die stad (Luk 7:12).

Die rituele wat met ’n begrafnis gepaard gegaan het, was vir die Jode van groot belang. Volgens Joodse gebruik is die dooies altyd buite die dorp of stad begrawe omdat die grafte, soos die lyk en die kis, as onrein beskou is. Almal wat met die lyk in aanraking gekom het, is ook as onrein geag. Na versorging van die oorskot, is dit op ’n draagbaar geplaas en het die familie, vriende en gehuurde rouklaers in ’n stoet na die begraafplaas gegaan vir die teraardebestelling.

Benarde posisie

Hierdie ontmoeting plaas die menswaardigheid van mense in die kollig.

In Jesus se tyd was weduwees uitgelewer aan ’n wêreld waarin die vrou eintlik niks meer as ’n besitting was nie. Sonder ’n man het sy geen regte gehad nie en kon sy geen aanspraak op versorging, beskerming en ondersteuning maak nie. Wat hierdie weduwee se situasie vererger het, was die dood van haar seun – die enigste persoon wat nog enigsins vir sy ma as weduwee kon sorg.

Nou moet sy ter wille van oorlewing, haar huis verlaat en ’n manlik gedomineerde samelewing, wat mank gaan aan menswaardige optredes teenoor vroue, aandurf. Alternatiewelik sou sy in armoede verval terwyl sy uitgelewer was aan die gunste en gawes van ander. Dit kon van haar ’n armlastige maak wat uiteindelik tot haar dood kon lei.

Die dryfveer agter Jesus se optrede wat nou volg, was waarskynlik nie in die eerste plek simpatie met haar seun se dood nie. Dit gaan oor veel meer. Geregtigheid, die lewensruimte en lewensvermoë van hierdie vrou, is op die spel. Jesus se passie is dat sy ‘n lewe van volheid en vervulling kan geniet.

Innig jammer gekry

Nadat Jesus die weduwee-ma gesien het (Luk 7:13), het Hy haar innig jammer gekry en haar getroos. Met sy optrede deurbreek Jesus die grense wat deur die politieke en godsdienstige leiers van die tyd vir ’n weduwee vasgestel is.

In sy optrede laat Jesus:

  • Eksodus 22:23 waar word, wat God as die Versorger en Beskermer van die weduwee (en wese) eer;
  • Psalm 146:9b in vervulling gaan (“Hy … help weeskinders en weduwees”), en
  • sy optrede ‘n direkte voortsetting word van die profete, Elia en Elisa, se bediening wat weduwees bygestaan en vir hulle nuwe lewensmoontlikhede gegee het.

Haar omstandighede het Jesus “tot ontferming beweeg”. Toe Hy haar diepste nood ervaar het, was dit asof sy ingewande in beroering gekom het. Daar was by Hom geen oppervlakkige simpatie en ook geen bestraffing in die woorde nie: “Moenie treur nie.” Dit was eerder ’n uitdrukking om haar te verseker dat Hy haar lewensomstandighede gaan verander. Hy vertroos haar met die versekering dat dit nie net sy hart is wat uitgaan na haar nie. Ook sy hande en voete gaan in beweging kom.

Hy gaan staan toe by die draagbaar, vat aan dit en sê vir die dooie jong man: Ek sê vir jou, staan op. Onmiddellik het hy regop gesit en begin praat as bewys dat hy weer lewe. Deur aan die draagbaar te vat, word Jesus self onrein – iets wat Jode ten alle koste sou vermy. Jesus se omgee laat Hom die gebruiklike konvensies oortree. Hy identifiseer liewer volledig met die nood.

Drie dinge

Jesus doen hiermee drie dinge:

Eerstens herstel Jesus met sy ontferming die weduwee se menswaardigheid as mens. Sy word ’n mens deur God geskape wat ook aanspraak kan en mag maak op die versorging en vertroosting in en deur ’n samelewing wat regeer word deur vooroordele.

Tweedens doen Jesus dit sonder dat die weduwee Hom daarvoor gevra het. Anders as in Lukas 7:1-7 waar Hy verwys na die Romeinse offisier se geloof, word daar niks oor die weduwee se geloof gesê nie. En die rede? Met sy verwysing na die offisier se “groot” geloof, wou Jesus die verband trek tussen geloof (Luk 7:9) en die gesond maak van die slaaf.

Hier wil Jesus iets anders tuisbring. Hy wil daarop fokus dat God nie aan plek of tyd gebonde is om sy werk (wonderwerk) te doen nie. Vir Hom gaan dit oor die redding van mense, ongeag wie hulle is. Daarom sal geen sosiale, kulturele, ekonomiese, politieke of godsdienstig/kultiese beweegredes Hom daarvan weerhou om wonderwerke te doen nie. In hierdie konteks is geloof ook geen voorwaarde tot opwekking van die dooie jong man nie.

Derdens sê sy gesprek met die weduwee en met haar seun, iets van wie Hy is. Hy is die Here wat optree met die volmag van God. Aan Hom is die mag gegee om te beskik oor die lewe van mense – lewend en dood. Daarom het almal wat vasgevang is in hierdie hartseer omstandighede, die versekering dat Hy dit radikaal gaan verander. So word die opwekking van die jong man die bewys dat God in beheer is.

Dood verander in lewe

In hierdie wonderwerk ontmoet dood en lewe mekaar in Jesus Christus, die Here. Die seun se aardse lewe word aan hom teruggegee. Die ma kry haar vermoë om met haar daaglikse lewe voort te gaan, terug. In die proses word haar menswaardigheid herstel en sekere taboes afgebreek. Op hulle beurt word die omstanders met “vrees” vervul. Dit kan ook as “ontsag” of “verwondering” vertaal word. In hulle oë het ’n Groot Profeet sy volk besoek om hulle te red (Hand 3:22).

Die resultaat was dat hulle God geprys en die gebeure wyd en syd versprei het in die hele Galilea, maar ook verder.

Wat dit vir ons beteken

Ons moet besef dat Jesus nie net oor mense se waardigheid gepraat het nie. Hy het daadwerklik iets daaraan gedoen. Jesus doen dit vandag nog en leer ons om mekaar te dien en by te staan – ook die noodlydende vreemdelinge wat oor ons pad kom.

Geweld en vyandskap is nie die norm vir die lewe nie. Polarisasie en die afspeel van mense teenoor mekaar is verkeerd. Die Babiloniese skeppingsmite wat sê mense is uit geweld en boosheid gebore, en moet daarom gevrees word, is doodgewoon verkeerd.

Jesus reik uit na mense, gee hulle nuwe lewensmoontlikhede en bring mense bymekaar. Dit moet ons met ontsag vervul as ons besef dit is Hy wat grense tussen “ons” en “hulle” afbreek. Dit is Hy wat ’n nuwe gemeenskap skep waar mense na mekaar as begenadigdes kan kyk.

Daarom is ons waarde nie geleë in ’n familienaam, beroep, woongebied, velkleur of kerklike denominasie nie. Ons waarde word ook nie aan ons gegee deur menslike instellings nie. Ons vermoëns waarborg ook nie ons waarde nie. Net so min as wat dit afhanklik is van wat ander mense van ons dink of sê. Ons waarde, en ook ander mense se waarde, word deur God in Christus aan ons gegee ongeag wie ons!

Hoe is ek ‘n naaste?

So daag Jesus ons uit met die vraag: Hoe is ek ’n naaste, vir ander?

Ek moet vir ander Jesus wees, deurdat ek by hulle stilstaan, omgee, verskil maak. As ek God liefhet, moet ek die grense tussen my en my naaste oopbreek (1 Joh 3:16). Ek moet ook onthou: My naaste is nie net my eie mense wat dieselfde glo of dink of stem as ek nie. Dit is ook die vreemdeling, die een wat anders is, die een wat seer en stukkend is. Die randfigure soos vroue en kinders, haweloses en misdadigers, armes en die een wat aan ’n ander kerk behoort of my politieke opponent is. Maar menswaardigheid vra ook respek vir dit wat kosbaar is. As daar verkeerd opgetree word, moet daar ook restitusie wees. Dan op so ’n manier dat die “oortreder” se menswaardigheid bevestig word.

Tot so ‘n lewenswyse is ons geroep.

Jesus kan lewend maak

Ten slotte is ons teks ‘n lofbetuiging teenoor Jesus wat anderkant die dood vir ons nuwe lewe bring. Jesus demonstreer in ons teks helder dat die dood nie vir Hom ‘n onoorbrugbare grens is nie. Al gaan alles oënskynlik tot niet, al is ons in die laaste loopgraaf van die dood, bring Jesus onkeerbaar nuwe lewe.

Die evangelie is: Jesus kan lewend maak , het lewend gemaak, en sal weer lewend maak. Hiervan is die lewendmaking van die weduwee van Nain se seun soos ‘n eerste sonstraaltjie wat uit die toekoms op ons afskyn en ons hoop lewend hou.

Hy doen dit omdat Hy liefhet en besorg is. Hy doen dit omdat Hy ons hoog ag en aan ons waarde gee. Vir so ‘n Verlosser, moet ons die goedheid van God prys.

God stuur ons om te leef

Gebed

O God, as ek vandag kos het-
help my om die hongeres te onthou.
As ek werk het,
help my om die werkloses nie te vergeet nie.
As ek ‘n warm huis het,
herinner my aan die tuisteloses.
As ek sonder pyn kan lewe,
gee my deernis met die wat ly…
En as ek hulle onthou wat nie het wat ek het nie-
verlos my van selfvoldaanheid,
sodat ek uit my gemaksone sal kom
en met woorde en dade hulp sal bied
aan hulle wat met hul oë roep om diè dinge
wat ek as vanselfsprekend aanvaar.

Moeder Teresa
(Uit Die groot Gebede boek, 2004:273)

Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën
Voor die seën
Gaan nou terug na die lewe van elke dag
en leef met die verwagting dat God se goedheid altyd weer in jou lewe en omstandighede sal verskyn.
Gaan lewe met die seën van die Here.

Die seën
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (2 Korintiërs 13 NAV)
Bybelmedia se Woord en Fees, 2014/15)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.