Derde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die tematiese kleur van Koninkrykstyd is groen en simboliseer groei en lewe. In hierdie tyd fokus ons op die koninkryk van God hier op aarde en wat dit vir die mens, die samelewing en die wyer wêreld beteken om in die teenwoordigheid van God te leef.

Deurlopend in al vier tekste is die tema dat God getrou is – Hy is by elke mens betrokke en fokus op elkeen se welwese: Hy is in beheer van ons en ons omstandighede (Matt 10:29); Hy hoor ons noodkrete en reik na ons uit (Gen 21:17; Ps 86:1); en Hy offer sy eie Seun tot ons redding sodat ons kan lewe (Rom 6:1:11).

Ander tekste

Psalm 86:1-10, 16-17
Gee U my tog krag!
86 ’n Gebed van Dawid.
Luister tog na my, Here,
verhoor my gebed,
want ek is hulpeloos en arm.
2Beskerm my, want ek is
u troue dienaar,
red my, want U is my God,
op U vertrou ek.
3Wees my genadig, Here,
ek roep die hele dag deur na U.
4Maak my bly, Here,
ek hunker na U.
5U is goed, Here, U vergewe
altyd weer,
U is getrou teenoor dié
wat na U roep om hulp.
6Luister na my gebed, Here,
gee tog ag op my smeekgebed.
7Op die dag van my nood
roep ek na U,
U sal my gebed verhoor.
8Daar is geen god soos U nie, Here,
niks kan met u werk
vergelyk word nie.
9U het al die nasies gemaak;
hulle sal voor U kom buig, Here,
en aan u Naam die eer gee,
10want U is groot
en doen magtige dade,
U alleen is God.

11Leer my u pad, Here, 
ek wil wandel in u waarheid; 
leer my U met toewyding dien. 
12Met my hele hart sal ek U prys, 
Here my God, 
u Naam altyd eer, 
13want u liefde vir my was groot: 
uit die dieptes van die dood 
het U my gered. 
14Dit is hovaardige mense 
wat my aanval, o God, 
’n bende geweldenaars 
wat my wil doodmaak, 
mense wat met U 
nie rekening hou nie. 
15U, Here, is ’n barmhartige 
en genadige God, 
lankmoedig, vol liefde en trou. 
16Sien my,
u dienaar van my geboorte af,
in genade aan,
gee U my tog krag en red my.
17Maak my ’n voorbeeld
van u goedheid,
sodat dié wat my haat,
verleë sal moet toesien
dat U, Here, my help
en vir my uitkoms gee.

Romeine 6:1-11
Dood vir die sonde, maar lewend vir God
6 Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? 3Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. 5Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. 6Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 7Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 8Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 9Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. 10Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. 11Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.

12Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

Matteus 10:34-39
Jesus bring nie vrede nie maar die swaard
(Luk 12:51–53; 14:26–27)
34“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. 35Ek het gekom om tweedrag te bring
‘tussen ’n man en sy vader
en tussen ’n dogter en haar moeder,
tussen ’n skoondogter en haar
skoonmoeder;
36ja, ’n man se huismense sal sy vyande
wees.’

37“Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. 38Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.
39“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

Fokusteks

Genesis 21:8-21
Die geboorte van Isak
21 Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het. Hy het sy belofte aan haar nagekom. 2Sy het swanger geword en in Abraham se ouderdom vir hom ‘n seun in die wêreld gebring. Dit het gebeur op die tyd wat God vir Abraham beloof het. 3Hy het die seun wat vir hom gebore is, die een wat deur Sara in die wêreld gebring is, Isak genoem. 4Soos God vir Abraham beveel het, het hy vir Isak besny toe hy ag dae oud was. 5Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak gebore is.

6Sara het toe gesê: “God het gemaak dat mense vir my lag: elkeen wat van Isak hoor, sal vir my lag.”

7Sy het verder nog gesê: “Wie sou vir Abraham kon sê dat Sara seuns aan haar bors sal voed? Ek het in sy ouderdom ‘n seun in die wêreld gebring.”

Abraham stuur vir Hagar weg
8Die kind het grootgeword en die dag toe hy gespeen is, het Abraham ‘n groot fees gehou. 9Toe Sara die seun wat Hagar die Egiptiese slavin vir Abraham in die wêreld gebring het, sien lag, 10sê sy vir Abraham: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg. Die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erf nie.”

11Abraham het ter wille van sy seun Ismael baie sleg gevoel oor wat sy gesê het, 12maar God het vir Abraham gesê: “Moenie sleg voel oor die kind en oor jou slavin nie. Luister na alles wat Sara vir jou sê, want uit Isak sal jou nageslag gebore word. 13Tog sal Ek die seun van die slavin ‘n nasie laat word, want hy is jou kind.”

14Vroeg die volgende môre het Abraham kos gevat en ‘n velsak water en dit vir Hagar gegee. Hy het dit saam met die kind op haar rug gesit en haar weggestuur. Sy is toe weg en het in die Bersebawoestyn rondgeswerf. 15Toe die water in die velsak opraak, het sy die kind onder ‘n doringbos neergesit 16en ‘n entjie daarvandaan gaan sit, omtrent so ver as ‘n mens met ‘n pyl en boog kan skiet, want sy het gedink: ek wil nie sien as die kind doodgaan nie. Terwyl sy so daar sit, het sy begin huil. 17God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor. 18Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom ‘n groot nasie laat word.”

19Toe het God haar oë oopgemaak en sy het ‘n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir die kind water gegee. 20God was by die kind en hy het groot geword. Hy het in die woestyn gewoon en het handig geword met die pyl en boog. 21Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy ma het hom met ‘n vrou uit Egipte laat trou.

Ekstra stof

Genesis 21 – Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het
Genesis 21 bring die kwarteeu van konflik rondom die belofte van ‘n nageslag tot ‘n vreugdevolle einde.  Isak word vir Abraham en Sara gebore – Gen. 21:1-7.  Die vervulling bederf egter ook die verhouding met Hagar en Ismael wat tot ‘n tragiese skeiding van die weë lei – Gen. 21:8-21.  Dit alles gebeur steeds teen die agtergrond van die konflik wat Abraham regdeur sy lewe met die mense van Kanaän sou hê, hoewel hy dit hier probeer besweer met ‘n ooreenkoms met Abimelek rondom die diefstal van ‘n waterput by Berseba – Gen. 21:22-34.

Isak word vir Abram en Sara gebore – 21:1-7
Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het.”  Watter wonderlike woord!  God kom sy belofte aan haar na, en begin daarmee met die vervulling van sy belofte aan Abraham dat hy ‘n groot nasie sal word, trouens dat daar talle nasies uit hom sal voortspruit.

Sara weet nie of sy moet lag vir haarself – soos ander na ander na haar sal kyk nie – of moet lag van blydskap dat die onmoontlike moontlik geword het: “Wie sou vir Abraham kon sê dat Sara seuns aan haar bors sal voed?  Ek het in sy ouderdom ‘n seun in die wêreld gebring.

God sien vir Hagar en Ismael raak en seën en beskerm hulle – 21:8-21
Die vreugde is egter van korte duur, want Isak se geboorte bring konflik tussen Sara en Hagar.  Soos Hagar vroeër vir Sara geminag het (Gen. 16:4) spotlag/terg – soos die Hebreeuse woord meǎ·ēq eerder vertaal moet word – Ismael vir Isak by die fees van sy spening, op ongeveer driejarige ouderdom (Gen. 21:9).  Sara kon dit net nie verdra nie en tree onmiddellik en skerp op.

Haar woorde is aan die een kant onverbiddelik tragies, maar aan die ander kant ook profeties: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg.  Die seun van die slavin mag nie saam met my seun Isak erf nie.” Ek sê dit omdat dit tragies is op ‘n menslike vlak, maar profeties is in die weerklank wat dit in Paulus se teologie vind waar hy hieroor teologiseer in sy brief aan die Galasiërs.  Ek het daaroor vroeër die volgende kwyt geraak:

“Paulus gebruik (moontlik gebaseer op ‘n soortgelyke allegorie van die Jode) Hagar en Sara as figuurlike simbole van twee verbonde wat teenoor mekaar staan:

  • Hagar, die slavin, staan vir die verbond van die wet; Sara, die vrygeborene, staan vir die verbond van die belofte.
  • Hagar het ‘n kind gehad volgens hulle eie besluit.  Sara het ‘n kind gehad volgens God se belofte.
  • Hagar staan (volgens Paulus se allegoriese verstaan) vir Sinaiberg wat ‘n beeld is van die huidige Jerusalem (as geestelike sentrum); Sara, by implikasie, staan vir die hemelse Jerusalem.

Gelowiges is volgens dié beeld kinders van Sara, kinders van die belofte, kinders wat vrygeborenes is, en wat hulle nie weer onder ‘n slawejuk moet begeef nie.  Anders sou hulle slawekinders van Hagar wees.”  Jy kan meer daaroor lees in my vroeëre skrywes in Galasiërs 3:1-4:20 – Dié wat glo, is kinders van Abraham en Galasiërs 4:21-5:12 – geloof wat deur dade tot liefde oorgaan.

Dit is waarskynlik dan ook hoe ons die verhaal moet lees en waarom selfs die Here vir Abraham aanmoedig om na Sara te luister.  God se verbond is met die geloofsgemeenskap wat uit Isak sou kom, en nie met die nageslag van Ismael nie, hoewel die Messias wat uit die nageslag van Israk gebore sou word, ook die Verlosser van die nageslag van Ismael, trouens van al die nasies van die wêreld sou word.

Dat die Here Hagar en Ismael nie aan hulle lot oorlaat nie is egter ook duidelik uit die verhaal.  Soos God aan Sara gedink het, hoor God die kind juis en troos hulle nie net met water nie, maar met die belofte van ‘n eie identiteit as nasie.

Dat Hagar Ismael laat trou met ‘n vrou uit Egipte gee ‘n mens die idee dat sy haar weer met haar eie mense assossieer wat die kort maar konflikterende kontak met die geloofsgemeenskap binne die verbond waarskynlik mettertyd sou uitdoof.  ‘n Mens sou dit so anders wou hê, dat Abraham ook ‘n seën vir hulle op dié stadium sou wees.  Maar die realiteit was anders.

Abraham sluit ‘n ooreenkoms met Abimelek oor ‘n waterput – 21:22-34
Ná die onverkwiklike gebeure rondom Hagar en Ismael, tref dit jou net weer hoe alles in die verhaal van Abram steeds teen die agtergrond van konflik met die mense van Kanaän gebeur.  Dit sou Abraham regdeur sy lewe beleef, hoewel hy dit hier probeer besweer met ‘n ooreenkoms met Abimelek rondom die diefstal van ‘n waterput by Berseba.

Die positiewe van die verhaal is dat Abraham steeds tot ‘n seën vir die nasies bly, al kon hy dit nie regkry met sy eie seun Ismael nie. Dit wil ook lyk asof Abimelek nie net in ontsag bly lewe het vir die Here wat aan hom in twee drome verskyn het nie, maar inderdaad selfs waar sy mense oortree in diefstal, dinge regmaak.  Waar Hagar en Ismael negatief teenoor beide Sara (Gen. 16:4 – Hagar het Sara geminag) en Isak (Gen. 21 – Ismael het Isak gespot) opgetree het, tree Abimelek met baie respek teenoor beide Abraham en sy God op.

Boodskap
Ek wil vandag meer aandag gee aan twee betekenisse wat hierdie gedeelte in terme van die Bybelse boodskap self het.  Jy kan in jou oorweging hiervan gevolgtrekkings vir jou eie lewe trek in terme van jou eie ervaring van “vreemdelingskap” en “aanbidding” van die Here wat bó alles moet wees.

1.  Abraham sou altyd ‘n vreemdeling bly in die land wat die Here aan hom belowe het, totdat sy nageslag dit onder Josua in besit sou neem.  Die enigste fisiese aanspraak wat hy op die land in sy lewe sou hê, sou:

  • hierdie waterput wees,
  • die stuk grond van Efron in Makpela wat Abraham gekoop het, waarop die grot was waarin Sara uiteindelik begrawe is en wat oos van Mamre geleë was, sowel as
  • die boom wat hy self geplant het (‘n tamarisk by Berseba in die suide – Gen. 21:33), en
  • die vier altare wat hy opgerig het regdeur die land:
    • by Sigem se aanbiddingsplek by die groot waarsêerboom – Gen. 12:6;
    • tussen Bet-El en Ai waar hy verskeie kere die Naam van die Here aangeroep het – Gen. 12:8; 13:4;
    • by Mamre by Hebron, die plek wat later aan Kaleb sou behoort (Jos. 14:14), en waar Dawid sou bly met die eerste sewe jaar van sy koningskap oor Juda en hy uiteindelik gesalf is oor die hele Israel (2 Sam. 2:11; 2 Sam. 5:3) – Gen. 13:18;
    • op die berg in die landstreek Moria – Gen. 22:9.

2.  Die betekenis van dié altare waar hy die Here aangeroep het, is uiters belangrik vir die ontvouing van die geskiedenis van die volk van God.  Daarmee word nie net ‘n band met die aanbiddende nageslag van Set, seun van Adam, en Set se seun Enos gesluit nie: “In daardie tyd het die mense begin om die Naam van die Here aan te roep” (Gen. 4:26).  Maar, op ‘n manier het Abraham se aanbidding van die Here op dié plekke die vervulling van God se belofte dat dié land aan Abraham se nageslag sou behoort, voorafgegaan:

  • Die slawerny in Egipte sou begin met Josef se besoek aan sy broers in die landstreek van Sigem – waar Abraham ‘n altaar gebou het – en uiteindelike ontvoering vanaf nabygeleë Dotan (Gen. 37:12-36).
  • Die Intog uit Egipte sou plaasvind vanaf Gilgal (Jos. 4:19) uit die noord-ooste naby Bet-El en Ai – waar Abraham ‘n altaar gebou het.
  • Dawid sou koning word in Hebron, suid van Jerusalem – waar Abraham ‘n altaar gebou het – en
  • die tempel van Salomo sou op die berg Moria in Jerusalem gebou word – waar Abraham ‘n altaar gebou het: “Salomo het begin bou aan die huis van die Here in Jerusalem. Dit was op Moriaberg waar die Here aan Dawid, sy pa, verskyn het, op die plek wat Dawid laat regmaak het, waar die dorsvloer van Arauna die Jebusiet was.” (2 Kron. 3:1).

TOEPASSING: Daar is dus besondere uitkomste regdeur die Bybel gekoppel aan ons omhelsing van nie net ons vreemdelingskap nie, maar ook om die Here bó alles te aanbid en vir Hom te leef.  So kom ons dit in die lewe van Abraham agter.  So sal ons dit ook in ons eie lewe agterkom.  Die gevolge van jou gehoorsaamheid ten spyte van jou vreemdelingskap sal ‘n impak hê tot in die verre toekoms.

Lees maar net Hebreërs 11:8-19 se refleksie oor Abraham om ‘n idee te kry van hoe fundamenteel die impak van ons getrouheid is.  Daarom moet ons Petrus se raad volg, wat sê:
Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe.  Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” (1 Pet. 2:11-12).

Liturgie

RUS

Toetrede: F318 of L164

Votum: Psalm 86:15

Seëngroet: Nav Psalm 86:16

Lofsang: Lied  190

Die Wil van God: V57 of F173 of L250

Skuldbelydenis: Lees of sing Psalm 86

Genadeverkondiging: Romeine 6

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Genesis 21:8-21

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: F92 of F548  of L284

Seën

Respons: Lied 533 of VONKK 83

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
F318. Nader Tot Die Here
L164 “Ons is almal hier tesaam”

Votum 
Psalm 86:15
U, Here, is ’n barmhartige
en genadige God,
lankmoedig, vol liefde en trou.

Seëngroet
Nav Psalm 86:16
Die Drie-enige God sien ons, sy dienaars, van ons geboorte af, in genade aan.  Hy gee ons krag en red ons.

Lofsang
L190 “Grote God, aan U die eer”

Die Wil van God
V57 Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod of
F173. Dis Die Opdrag Van God of
L250 “Gods wet vra al ons liefde”

Skuldbelydenis
Lees of sing Psalm 86
Luister tog na my, Here,
verhoor my gebed,
want ek is hulpeloos en arm.
2Beskerm my, want ek is
u troue dienaar,
red my, want U is my God,
op U vertrou ek.
3Wees my genadig, Here,
ek roep die hele dag deur na U.
4Maak my bly, Here,
ek hunker na U.
5U is goed, Here, U vergewe
altyd weer,
U is getrou teenoor dié
wat na U roep om hulp.
6Luister na my gebed, Here,
gee tog ag op my smeekgebed.
7Op die dag van my nood
roep ek na U,
U sal my gebed verhoor.
8Daar is geen god soos U nie, Here,
niks kan met u werk
vergelyk word nie.
9U het al die nasies gemaak;
hulle sal voor U kom buig, Here,
en aan u Naam die eer gee,
10want U is groot
en doen magtige dade,
U alleen is God.

17Maak my ’n voorbeeld
van u goedheid,
sodat dié wat my haat,
verleë sal moet toesien
dat U, Here, my help
en vir my uitkoms gee.

Genadeverkondiging
Romeine 6
Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? 3Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. 5Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. 6Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 7Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 8Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 9Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. 10Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. 11Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.

Geloofsbelydenis

Liedere

F318. “Nader Tot Die Here”
(RUBRIEK: Kersflam – Toetrede) Teks en musiek: Neil Büchner © Urial Publishing

1. Nader tot die Here,
nader tot die Here.
Hy sal getrou, ook nader tot jou
nader tot die Here.

2. Naby aan ons Here,
naby aan ons Here.
Waar twee of meer in u Naam verkeer,
is U naby aan ons Here.

3. Ek nader tot U, Here,
ek nader tot U, Here.
Hier, deur u Gees, wil U by my wees,
ek nader tot U, Here.

U is naby aan ons Here.
Ons nader tot die Here.

VONKK 57 “Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod”

Ek gee aan julle ‘n nuwe gebod
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê,
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.

Johannes 13:34-35
Teks: A new commandment I give unto you  – Roy Crabtree; Afrikaanse teks:  Daleen Kruger 2008 (Pro Deo)
Melodie: NEW COMMANDMENT – Roy Crabtree  Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Andy Silver Kantoryverwerking: Albert Troskie 2011 (Pro Deo)
© Melodie en klavierbegeleiding: Roy Crabtree
© Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking:  2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Die Wil van God / Liefde, Dankbaarheid en Diens

F173. “Dis Die Opdrag Van God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Kerk en Koninkryk; Getuienis; Wet) Teks en musiek: Willem Gouws © 2006 MAR Gospel Music Publishers

1. Dis die opdrag van God,
dis sy groot gebod
om jou naaste lief te hê soos jouself.
Hy gebruik vir jou en my
om sy koninkryk uit te brei
en Hy stuur ook sy Gees om ons te help.

Refrein:
Hy maak ons deel van sy liggaam,
Hy maak ons deel van sy kerk.
Hy leef in ons harte
en in Jesus se Naam staan ons sterk.

F92. “Seën ons Here God, Seën Afrika (Seëngebed)”
(RUBRIEK: Flam – Gebed Oorspronlike titel: Nkosi Sikelel’i Afrika Teks en musiek: Enoch Sontonga; verwerk deur Jan Hoogendyk
Afrikaanse vertaling: Onbekend © Publieke Domein

Seën ons, Here God, seën Afrika.
Laat haar klag tot in die hemel reik.
Hoor ons as ons in gebede vra,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.

Hou u hand, o Heer, oor Afrika.
Lei ons tot by eenheid en begrip.
Hoor ons as ons U om vrede vra,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.

Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Kom woon in ons,
lei ons, O Heilige Gees.

Seën ons, Here God, seën Afrika.
Neem dan nou die boosheid van ons weg.
Maak ons van ons sonde ewig vry,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.

Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Kom woon in ons,
lei ons, O Heilige Gees.

F548. “Redder en Vriend”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en vertroue)  Teks en musiek: Retief Burger Kopiereg: © 2014 Urial Publishing (Opgeneem op Nou en Vir Altyd)

Intro:
1. U hou die antwoord, U ken die pad
Wysheid vir soekers, met lig in u hand
Raad in die twyfel, geloof vir ‘n kind
Jesus my Rede, Redder en Vriend
U is my Rede, Redder en Vriend

2. Rus vir vermoeides, Vreugde in smart
Hoop vir bedruktes, Troos vir die hart
Tuiste vir vreemdes, Krag onverdiend
Jesus, my toevlug, Redder en Vriend
U is my toevlug, Redder en Vriend

Refrein:
Ek roem U Naam
Heilige Koning en Redder
En as ek val
Wees net die lig in die donker
Want U ken my deur en deur
Jesus, Redder en Vriend
My Here Jesus, Redder en Vriend

3. Op U vertrou ek, Hulp in my nood
Vrede in sterwe, Lewe in dood
Dwaal ek in duister, sal U my vind
Jesus, my alles, Redder en Vriend
U is my alles, Redder en Vriend

Refrein

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Genesis 21:8-21

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Kinders het gewoon nodig om die Bybelverhale te hoor.  Jy kan dus net fokus op die verhaal.  As jy kreatiewe lidmate het, kan julle die verhaal opvoer!  Kindergroepe sal dalk van hierdie speletjies geniet. Hier is ‘n fantastiese print-out wat die verhaal vertel nav God se keuses en Abraham se keuses – ‘n lekker legkaart-vertelling!  Om kinders tydens die diens besig te hou, probeer die colour-by-numbers inkleurprent.

Preekriglyn

Skilder Rina Badenhorst se vierde uitstalling (en haar vyftiende solo-uitstalling sedert 1975) in Port Elizabeth in Mei 2017 vertel die verhaal van die verskriklike verwoesting in die Siriese stad, Aleppo. Die stad was die slagoffer van gevegte tussen faksies in die Siriese burgeroorlog. Daar word van die Slag van Aleppo gepraat, ‘n stryd wat van 2012 tot 2016 geduur het.

Aleppo was die grootste stad in Sirië voor die Siriese Burgeroorlog, met meer as twee miljoen inwoners. Dit is ‘n antieke stad en een van die oudste deurlopend bewoonde stede in die wêreld. Die stad bestaan al sedert ongeveer ses millennia v.C., 8 000 jaar! Aleppo is geleë ongeveer 120 km van die Middellandse See op die grens tussen Sirië en Turkye. Dit was voorheen bekend as die finale bestemming op die Syroete uit Sentraal-Asië en Mesopotamië. Dit het selfs die titel van die “Islamitiese hoofstad van Kultuur 2006” gewen.

Die oorlog sedert 2012 in Aleppo tussen die regering van president Bashar al-Assad, gevestig in Damaskus, en verskeie rebellemagte, insluitende ISIS, het dit egter alles verander. Tydens die oorlog van Aleppo het die stad vir die eerste keer in sy geskiedenis regtig ‘n grootskaalse vernietiging beleef. Die rebelle is uiteindelik deur die regeringsmagte van president Bashar al-Assad verdryf, maar die vernietiging is ontsettend.

Die oorlog het ook ‘n enorme impak gehad op die Christelike bevolking van Aleppo. Voorheen was daar in Aleppo een van die grootste groepe Christene in die Midde-Ooste. Hul sterftes in die oorlog sowel as die vlug van duisende as vlugtelinge het hul getalle egter van sowat ‘n kwart miljoen tot onder ‘n honderdduisend verminder, met slegs sowat 45 kerke wat vandag nog oor is.

En dit is hierdie oorlog wat die agtergrond vorm vir Rina se uitstalling: Aleppo: Life in the Rubble of Destruction.

Rina is bekend vir haar voorliefde om voëls in haar kuns te gebruik. Soms vanweë hulle skoonheid en vryheid. In hierdie uitstalling gebruik sy die reier as ‘n metafoor om die verhaal te vertel van gewone mense vasgevang in die pyn en lyding van die stryd in Aleppo. In verskillende fases word die ontwrigting en vernietiging van ‘n Christengesin se lewe uitgebeeld. Sy beeld ook die wyse uit waarop ‘n boer lewe in die rommel probeer terugdra met sy groentetuin. Dit is gebaseer op die ware verhaal van tuinier Abu Wad en sy seun jong Ibrahim wat op hulle manier ‘n klein oase van kleur en lewe bevorder het met hulle blomme, groente, neute, en ander plante in die puin van hierdie vernietiging.

Die verhaal van die uitstalling eindig met twee skilderye:

  • Die een word gepas Into Darkness genoem wat die oorlog en die nasleep daarvan met donker kleure en vorms betreur.
  • Die ander een is Flight into Light wat ‘n glinstering van hoop gee dat hierdie oudstes van stede in ons wrede wêreld, Aleppo, weer ‘n opstanding kan beleef.
Ontworteling

Die gevegte in Aleppo het die stad se inwonertal van tweemiljoen laat daal tot ongeveer 250,000. Duisende het gevlug en moes elders ‘n heenkome gaan soek. Ook die Christenbevolking is swaar getref. Tienduisende Christene en talle gemeente met kerkgeboue is net weg. Diegene wat nie dood is nie, moes elders ‘n heenkome soek.

Die verhaal van Aleppo is die verhaal van baie moderne Hagars, Ismaels, Sara’s en Abrahams. Hoewel Aleppo se ellende groot is, is dit ook die verhaal van soveel lydende mense en gemeenskappe reg oor die wêreld, van destyds tot vandag.

Ons teks kan lydende en ontwortelde mense help om God in ons uur van nood raak te sien.

Ma en seun word weggejaag

Ons teks vertel van spanning in Abraham se huisgesin. Die geboorte van Isak (in Genesis 21:1-8) bring die huishoudelike drama van Abraham, Sara en Hagar tot ‘n keerpunt. Uiteindelik is die beloofde seun, die begin van ‘n groot nageslag en verbondsvolk, ‘n werklikheid. Sara het uiteindelik die kind waarna sy gesmag het en haar rol as aartsmoeder is volbring.

Vroeër het Sara Abraham opdrag gegee om ‘n kind by die slavin, Hagar, te verwek. Dit was hulle rugsteunplan om tog ‘n seun as erfgenaam te hê, terwyl God die vervulling van sy belofte om ‘n nageslag uitstel.

Nou het alles verander. Hagar die Egiptiese slavin is nie meer die enigste moeder van Abraham se nageslag nie. Die magsbalans tussen die eienaar en die slavin is in Sara se guns herstel. Daar is tegnies gesproke geen nut meer vir Hagar die Egiptiese slavin of haar seun Ismael nie, hulle doel as ondersteunende (“backup”) gesin is uitgedien.

Hierdie sentiment word bevestig deur Sara se bevel dat hulle weggejaag en afgesny word van haar en Abraham se gesin.

‘n Partytjie wat sleg uitdraai

Die gedeelte begin op ‘n feestelike noot wanneer Abraham en Sara Ismael se nuwe lewensfase vier (8). Dit is ‘n vreugdevolle geleentheid wat gekenmerk word deur blyheid en lekker lag, maar dit is juis Ismael se gelag wat Sara kwaad maak en ontstel.

Die trant van die verhaal draai skielik wanneer Sara Abraham beveel om die “slavin en haar seun” weg te jaag (10). Sara, as die aanvanklike bedenker van die plan om die slavin as haar eie baarmoeder te gebruik, is bewus van die bedreiging wat Ismael as ‘n volwaardige erfgenaam bied (sien ook Rig 11:1-3). Daar is waarskynlik ook die onderliggende bedreiging wat die slavin as ‘n mede-moeder en vrou van Abraham bied.

Sy skroom dus nie om harde, verdoemende taal te gebruik nie. Sy beveel Abraham om die Egiptiese slavin en haar kind weg te jaag (Heb garash), om hulle oor te laat aan hulle eie lot en swaarkry (hierdie woordkeuse word ge-eggo deur die Farao in Eks 12:39, wanneer hy in woede die Israeliete wegjaag uit Egipte, maar daar lei dit tot bevryding en nie uitsluiting nie).

Abraham laat sy seun gaan

Dit is te verstane dat dit vir Abraham swaar is om sy seun te laat gaan (12; let op dat Hagar se lot nie betreur word nie), maar dit is uiteindelik God self wat hom aanmoedig om Sara se bevel uit te voer. Die rede vir God se aanmoediging is baie duidelik en ook belyn met sy vorige beloftes en uitsprake: dit gaan hier alleenlik om Abraham se nageslag deur Isak, die seun beloof en gerealiseer deur God self. Dit is deur Abraham se seun Isak wat God se volk na vore sal kom. Die teks skroom nie om dit te benadruk nie.

God stel wel vir Abraham gerus deur aan te dui dat Hy na beide Abraham se kind én die slavin sal omsien. God herbevestig die belofte van die seun se voorspoed wat Hy aan Hagar in Gen 16:10 en aan Abraham self in Genesis 17:20 gemaak het. God se gerusstelling is vir Abraham genoegsaam en hy maak Hagar en Ismael gereed vir die uittog. Ons lees dat Abraham die seun op Hagar se skouer/rug sit. Ismael is jonk en broos, sodat Abraham besorg is. Gepak en gereed het Abraham “haar weggestuur” (Heb Shillah – ‘n term wat gebruik word vir beide die bevryding van slawe én vir egskeiding). Hiermee word die boodskap duidelik oorgedra: wanneer ma en seun vertrek, is Ismael nie meer Abraham se erfgenaam nie, maar Hagar is ook nie meer Abraham se vrou nie (die eerste vrou in die Bybel om te skei!).

Verlore seun in die woestyn

So bevind Hagar en Ismael hulself as ballinge in die woestyn. Die verhaal laat beleef ons iets van die spanning wat ma en seun in die woestyn ervaar. Dit is waarskynlik dat Abraham, in sy besorgdheid vir sy seun, genoeg water en voorraad ingepak het vir hulle om deur die woestyn te trek (bloot ‘n druppel in die emmer van Ismael se regmatige erfporsie), maar die term “rondgeswerf” dui daarop dat Hagar moontlik verdwaal het en dat die voorraad en water nie meer voldoende was nie.

Met die dood dreigend, word Hagar wanhopig en is sy die eerste karakter in die Bybel om te ween (17; let op dat sy nie na God roep nie, miskien het die vrees haar so oorweldig dat sy vergeet het van sy belofte?). Dit is op hierdie oomblik dat God die seun se stem hoor. Ismael se naam beteken immers “God luister/hoor”. Hy bevestig opnuut deur sy dood-afwerende teenwoordigheid sy beloofde versorging van Ismael. Die boodskap van die Engel van God, wat uitdruklik die belofte van ‘n “groot nasie” herhaal, dien as ‘n verdere herinnering dat God in beheer is van Ismael (en daarmee saam Hagar) se toekoms.

God bly getrou

Dit is so dat God getrou was aan sy belofte.  Hy het omgesien na die welstand en voorspoed van beide Hagar en Ismael (19-21); eers deur Hagar bewus te maak van die waterput en dan ook met hulle verdere reistog, Ismael se grootwordjare en hulle vestiging in hulle nuwe omgewing.

In hierdie gedeelte is dit duidelik dat Ismael se lewe ver verwyderd geraak het van Abraham en die voorvaderlike familie. Hy woon in Paran, ‘n woestyn geografies geleë na die suide van Abraham en Isak. Hy trou daar met ‘n Egiptenaar, ‘n vrou buite Abraham se etniese en sosiale grense, deur Hagar self gekies (in v 21 word Hagar vir die eerste maal as “sy ma” bestempel). Die verhaal van Hagar en Ismael word hier afgesluit en ons lees net een maal weer Ismael se naam, naamlik by Abraham se afsterwe (Gen 25:9). Die boodskap wat die leser uit hierdie afsluiting ontvang is duidelik: Ismael was geseënd en voorspoedig, want “God was by die kind” (Gen 21:20).

God red

Ook vir moderne mense onderstreep hierdie teks God se troue versorging. Abraham en Sara het die vervulling van God se belofte dat ‘n nageslag uit hulle gebore sal word, beleef. Tog het God ook sy trou aan Hagar en Ismael beloof, en dit betoon.

Die uitvoering van God se beloftes het lank geneem. God het ‘n tydraamwerk wat nie aan ons bekend is nie. Dit verg volharding om aan God trou te bly.

Soms gaan God se pad met mense ook deur swaarkry. Dink maar net aan Hagar en Ismael se ontbering in die woestyn. Daar was bv. nie water nie, maar God het uiteindelik ook water voorsien.

Ons ellende roep geweldige vrae op. Dink aan die belewenis van mense in Aleppo, Christen en Moslems tesame. Terwyl ons van water praat, dink aan die geweldige droogte in Suid-Afrika. Sekere dele van die land het oorvloedige reën ontvang. Ander dele is steeds in ontsettende watersnood vasgevang. In mensheugenis het dit nog nie gebeur dat die Oranjerivier ophou vloei het of dat die Kaapse metropool minder as 10% bruikbare water oor het nie.

Tog aktiveer ons teks hoop en geloof. Dit help ons verstaan dat ons kan huil en hulp by God kan afsmeek, ook in ons diepste oomblikke van swaarkry. Daar is genoeg getuienis deur die eeue dat God luister en hoor, soos wat Ismael se naam beteken en sy lewe illustreer.

Omgee vir die “ander”

Ons moet vandag onthou dat Abraham se seun Isak die stamvader van die Jode geword het, uit wie Jesus Christus later gebore is. Deur die geloof is alle Christene tot vandag toe kinders van Abraham, danksy Jesus, die Verlosser, gebore uit die lyn wat oor Isak na Abraham loop.

Ismael het ook  ‘n groot nageslag gehad. Uit Ismael kom die ander inwoners van die Midde-Ooste, waaronder die Arabiere. Vandag is hulle meestal, hoewel nie uitsluitlik nie, Moslems. Daar is ook van Ismael se nageslag wat Christene is, as mens na die Midde-Ooste se bevolking kyk, maar hulle is in die minderheid.

Die punt is: daar is vandag enorme, opbouende spanning tussen die nageslag van Isak en van Ismael. Die nageslagte is van mekaar vervreemd, vyandig, en het vir mekaar volledig die “ander”, die onbekende, die gevreesde opponent geword.

Om God se goedheid vir die “ander”, vir die “vyand” raak te sien, kan ‘n bitter pil wees om te sluk. Vir die verbondsvolk sou dit heel moontlik aanvaarbaar en gepas gewees het as God “die ander vrou en kind” aan hulle eie lot oorgelaat het; verwerp en alleen om hulle eie pad te vind. Hulle is immers nie ingesluit in God se verbond met Abraham nie.

Die Skepper God kan wel nie net sy skepping laat vergaan nie. Hy help Hagar en Ismael, seën hulle selfs in oorvloed. As gelowiges trek ons dikwels die grense vir in- en eksklusiwiteit, posisioneer ons mense as “die ander” volgens ons persepsies van onder andere ras, geloof, vroomheid, etiese riglyne, ekonomiese stand of sosiale klas. Ons wil God aan ons kant hê, die sogenaamde “regte” kant, en vind dit dalk moeilik om te begryp hoe God met “die ander” ook kan wees.

In die verhaal van Hagar en Ismael vind ons die wonderbaarlike boodskap dat God nie onderskeid maak soos ons nie. Hy is ook die God van die verworpenes, die armes, van alle rasse en ekonomiese stande, van “goeie” en “slegte” mense. Hoe gelukkig vir ons, want iewers is ons self iemand se “ander” en kan ons met vrede weet die Here is ook met ons!

Vlugtelinge en migrante

Die Midde-Ooste is al vir eeue ‘n konfliksone soos min. In die afgelope jare het die vlugtelingkrisis begin oorspoel na die Weste. Vanweë politieke, ekonomiese, kulturele, en godsdienstige redes word hierdie vlugtelinge gevrees.

In ‘n tyd soos hierdie help God se goedheid aan alle mense ons om met meer geduld en tegemoetkomendheid oor ontwortelde mense te dink. God se handelinge met Abraham (ontwortel uit Mesopotamië en na Israel gelei), Jakob, Josef en Moses (migrante na Egipte agter kos aan, en invallers in die beloofde land) beteken dat die Bybel vol van verhale oor migrante, vlugtelinge en ontworteldes het.

Met Jesus was dit nie anders nie. Ook Hy moes na Egipte vlug. By sy geboortewas daar nie plek in die herberg nie. Die Seun van die Mens het inderdaad nie ‘n plek gehad om sy hoof neer te lê nie.

Die Gereformeerde geloofstradisie het met die bediening van Johannes Calvyn in Genève begin. Calvyn was ‘n godsdiensvlugteling uit Parys, Frankryk. In sy bedieningstyd het tot die helfte van Genève se inwoners ontwortelde godsdiensvlugtelinge uit die res van Europa. Calvyn het op verskeie plekke geskryf en geleer dat mens jou broer en suster in die vreemdeling, die vlugteling, raaksien.

Baie van ons voorsate (die Franse Hugenote) het as godsdiensvlugtelinge uit Europa in Suid-Afrika aangekom.

Talle Afrikaanse gesinne het vandag kinders wat regoor die wêreld woon. Hulle is ekonomiese migrante.

Mens kan nie maar net met jou gewone vrese en onbegrip oor vlugtelinge nadink nie – nie as jy deur God se oë kyk nie. Alle mense is na God se beeld geskape, en dra dus ‘n gesamentlike identiteit. God sorg vir almal, ten spyte van, danksy en deur van die grootste swaarkry denkbaar.

Die tema van God se sorg en trou help om ons as gemeente te laat nadink oor ons gesamentlike identiteit as God se geskapenes en hoe ons as Christene kan nadink, praat en betrokke raak by die vlugtelinge in die land en in die wyer wêreld.

Miskien is dit selfs genoeg om mekaar te herinner dat die broers Ismael (die “vader van die Moslems”) en Isak (die vader van die Jode en Christene) ons nader aan mekaar bring as wat ons altyd dink en aldag besef. Dit is nie ‘n maklike tema nie. Daar is ook baie migrante uit die res van Afrika met wie ons pad elke dag kruis, en vir wie ons ‘n Christus moet wees.

Ons teks wil sê dat dit nie net ‘n ekonomiese of politieke gesprek is as ons oor hierdie dinge praat nie. Dit is in die eerste plek ‘n Bybelse gesprek, ‘n Godsgesprek. Ons word genooi en uitgedaag om soos God – soos Christus – te kyk, te dink en te handel.

Ook ons lyding

Wanneer ons só oor die Bybel nadink, besef mens almal oor die wêreld se lyding is ook ons lyding. Daarom dat ‘n Afrikaanse skilder in Port Elizabeth ‘n uitstalling oor die smart van Aleppo kan hou. Ons staan nie los daarvan nie, maar moet daarvoor bid en die Here vra wat anders ons moet doen. So ook met al die ander ellendes oor die wêreld heen. Ons doen dit met ‘n beroep op God, die Een wat volgens die Bybel op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende is.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
F92. Seën ons Here God, Seën Afrika (Seëngebed) of
F548. “Redder en Vriend” of
L284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”

Seën

Respons
Lied 533 “Stuur ons, Heer” of
VONKK 83 “Siyahamba / Kom Ons Wandel In Die Lig Van God” of

isiZulu
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’,
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.
Siyahamba, siyahamba,
siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.

Afrikaans
Kom ons wandel in die lig van God.
Kom ons wandel in die lig van God.
Kom ons wandel in die lig van God.
Kom ons wandel, kom ons wandel,
kom ons wandel in die lig van God.

English
We are marching in the light of God.
We are marching in the light of God.
We are marching in the light of God.
We are marching in the light of God.
We are marching,
we are marching,
we are marching in the light of God.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.