Derde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die liturgiese voorstel van hierdie Sondag fokus op die identiteit van gelowiges wat in en deur die vryheid van God en Christus leef – ’n vryheid wat deur liefde vrug dra en tot volle uiting kom.

In die sleutelteks, Galasiërs 5:1, 13-25, benadruk Paulus die vryheid wat Christus deur sy verlossingswerk bewerkstellig het – hierdie vryheid is egter nie een wat beteken dat mens vry is om te sondig nie, maar eerder een wat (olv die Gees) deur liefde tot volle uiting en vrug kom.

In 2 Konings 2:1-2, 6-14 kom die kwessie van vryheid en liefde ter sprake deur Elisa wat, in vryheid, telkens die keuse maak om, in en deur liefde, vir Elia te vergesel.

In die opsig van vryheid kan Psalm 77 geag word as gedeelte waar die psalmdigter oor die vryheid beskik om in alle eerlikheid, in ’n klaaglied,  met God te praat en na Hom uit te roep. Laaste wys Lukas 9:51-62 (veral vanaf  56-62) daarop dat die vryheid van navolging van Christus, ook sekere verantwoordelikhede en opofferings behels.

Ander tekste

2 Konings 2:1-2, 6-14
Elia word in die hemel opgeneem
2 Die tyd het gekom dat die Here vir Elia in ’n stormwind in die hemel sou opneem.
Elia en Elisa het uit Gilgal vertrek, 2en Elia het vir Elisa gesê: “Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.”
Elisa se antwoord was: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle is toe na Bet-El toe.

3Die profete wat in Bet-El was, het na Elisa toe gegaan en hom gevra:
“Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”
Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”
4Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe.”
Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle het saam in Jerigo aangekom. 5Die profete van Jerigo het na Elisa toe gekom en hom gevra:
“Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”
Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”

6Elia sê toe vir hom: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.”
Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle twee is toe saam verder.
7’n Vyftigtal van die profete is agterna en het op ’n afstand gaan staan regoor die plek waar Elia langs die Jordaan gestaan het.
8Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na links en na regs verdeel, sodat hulle twee op droë grond daar deur is. 9Net toe hulle deur is, sê Elia vir
lisa: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?”
Elisa het geantwoord: “Mag daar tog ’n dubbele deel van u gees op my kom!”
10Toe sê Elia: “Dis ’n moeilike ding wat jy vra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggevat word, mag dit dan met jou gebeur; maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”
11Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik ’n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in ’n stormwind op, die hemel in. 12Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”
Toe Elisa nie meer vir Elia kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee stukke geskeur. 13Hy het die mantel wat van Elia afgeval het, opgetel en weer op die wal van die Jordaan gaan staan. 14Hy het met hierdie mantel wat van Elia afgeval het, op die water geslaan en gesê: “Waar is die Here die God van Elia? Waar is Hy?”
Toe Elisa die water slaan, het dit na links en na regs verdeel sodat hy kon deurgaan.

Psalm 77:1-2, 11-20
Sal die Here vir altyd verstoot?
77 Vir die koorleier. Ter herinnering.
Van Asaf. ’n Psalm.
2Ek roep na God om hulp,
ek roep na God, want Hy sal my hoor.

11En ek sê:
“My grootste smart is
dat die Allerhoogste nie handel
soos voorheen nie.”
12Ek wil dink aan
die dade van die Here,ja, ek wil dink aan
u wonderdade van vroeër.
13Ek wil nadink oor al u werk
en oor al u dade peins.
14Alles wat U doen, is heilig, o God.
Waar is ’n god so groot soos God?
15U is die God wat wonderdade doen;
U het u mag
onder die volke geopenbaar.
16U het u volk deur u krag gered,
die kinders van Jakob en Josef.
17Toe die waters U sien, o God,
toe die waters U sien, het hulle gebewe,
die diep waters het gesidder.
18Die wolke het water uitgegiet,
uit die donderwolke het dit gedreun,
u weerligte het in alle rigtings geblits.
19U donderslae het die lugruim gevul,
weerligstrale het die wêreld verlig,
die aarde het geskud en gebewe.
20U het deur die see gekom,
u weg deur magtige waters gebaan.
Niemand het u spoor gesien nie.

Lukas 9:51-62
’n Samaritaanse dorp wys Jesus af
51Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin 52en boodskappers voor Hom uit gestuur. Hulle het vertrek en in ’n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël. 53Maar die inwoners wou Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem toe op pad was.54Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?”

55Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys. l56Daarna het hulle die reis voortgesit na ’n ander dorp toe.

Hoe Jesus gevolg moet word
(Matt 8:19–22)
57Terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “Ek sal U volg waar U ook al gaan.”
58Toe sê Jesus vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.”
59Aan ’n ander een sê Hy: “Volg My.”
Maar hy antwoord: “Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe.”
60Toe sê Jesus vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God.”
61Nog een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.”
62Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”

Fokusteks

Galasiërs 5:1, 13-25
5 Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.

Die Christelike vryheid
2Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. 3Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. 4Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur. 5Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word. 6In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

7Julle was so goed op pad. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam? 8Wie het julle omgepraat? Nie God nie; Hy roep julle tot gehoorsaamheid. 9’n Bietjie suurdeeg deurtrek die hele deeg. 10Ons band met die Here gee my die vertroue dat julle net so sal dink soos ek. Maar die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf.

11Wat my betref, broers, as ek nog verkondig dat ’n mens besny moet word, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die kruis as struikelblok mos uit die weg geruim. 12Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!

Die Gees van God en ons sondige natuur
13Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. 14Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” j15Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

19Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

26Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.

Ekstra stof

GALASIËRS 5 – Ons leef deur die Gees – Sola Gratia
Ons Westerse samelewing het tot ‘n groot mate die Franse Revolusie se slagspreuk van die laat 18de eeu omarm: Liberté, Égalité, Fraternitévryheid, gelykheid en broederskap.  Broederskap natuurlik bedoel in die sin van menswees, nie geslagtelik nie.  Hierdie gedagtes was ‘n natuurlike uitvloeisel van die Verligting van die 17de-18de eeu met sy klem op die rede en die wetenskap.  Wat die Franse Revolusie egter skerp in die kollig gebring het, was die fokus op die bevryding van die individu van die gesag wat sisteme en waardestelsels op hulle uitgeoefen het, in die kerk sowel as in die staat.

Die effek op die kerk was natuurlik enorm.  Want, die vryheid waarvan die Franse Revolusie gepraat het, was nie die vryheid wat in Christus beskikbaar was nie, maar was afgestem op die vryheid van die individu.  Die mens se begeertes en behoeftes het in die sentrum kom staan.  En vryheid het beteken dat jy kan kies hoe om te leef.

  • Jy kon bepaal wat belangrik was vir jou.
  • Jy kon die waardes kies waarvolgens jy leef.
  • En niemand kon met jou daaroor stry nie.
  • Almal moes verdraagsaam wees, al het dié vryheid in konflik gekom met die waardes wat deur die eeue deur die Skrif en die belydenis beklemtoon is.
  • Want vryheid het die vryheid van die individu beteken.

Nou, dit is nie die vryheid waarvan Paulus in sy brief aan die Galasiërs praat nie.  Die vryheid waarvan Paulus praat, is die vryheid van die gewete voor God, die vryheid van die ewige toorn van God op die sonde:

  • Vryheid is om nooit weer bang te wees dat jy gestraf sal word vir jou sonde nie.
  • Vryheid is om te weet dat God in Christus jou as sy kind aangeneem het.
  • Vryheid is om te weet dat God nooit weer vir jou kwaad sal wees oor jou sonde nie.
  • Vryheid is om te weet dat God ‘n plek vir jou voorberei het om vir ewig saam met jou te lewe.

Dít is die vryheid wat Christus gebring. Dit is daarom ook ‘n vryheid van die wet.  Dit is ‘n vryheid van die sonde.  Dit is ‘n vryheid van die dood en die mag wat dit oor ons uitoefen.  En dít is die vryheid waarin ons moet vasstaan.

Kom ons luister hoe Paulus dit vir ons in hoofstuk vyf uitspel.

1 Vryheid is waarvoor Christus ons bevry het! Daarom moet julle vasstaan en julle nie weer onder ‘n juk van slawerny laat indwing nie!

‘n Ernstige waarskuwing teen die besnydenis
2 Kyk, ek, Paulus, sê nou vir julle, as julle julle laat besny, sal Christus vir julle niks beteken nie. 3 Ek getuig weer teenoor elkeen wat hom laat besny, dat hy verplig is om die hele wet te onderhou. 4 Julle wat op grond van die wet vrygespreek wil word – julle is van Christus afgesny, julle het die genade verbeur! 5 Maar ons, ons verwag deur die Gees en op grond van geloof die vryspraak waarop ons hoop. 6 Want in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur liefde in dade omgesit word.  7 Julle het goed gehardloop. Wie het julle verhinder om die waarheid te gehoorsaam? 8 Dié oorreding kom nie van Hom wat julle roep nie. 9 ‘n Bietjie suurdeeg maak al die deeg suur. 10 Wat julle betref: Ek is in die Here daarvan oortuig dat julle nie van my sal verskil nie; maar die een wat julle verwar, sal die straf dra, wie hy ook al mag wees.  11 En ek, broers, as ek steeds die besnydenis verkondig, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis immers uit die weg geruim. 12 Ek wens diegene wat julle so opstandig maak, wil hulleself volledig laat ontman!

‘n Lewe deur die Gees
13 Julle, broers, is tog tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik sodat dit aanleiding gee vir ons sondige aard nie, maar dien mekaar deur liefde. 14 Want die hele wet word in één uitspraak vervul: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15 As julle mekaar byt en verslind, pas op dat julle mekaar nie verteer nie!  16 Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van ons sondige aard uitvoer nie, 17 want ons sondige aard begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen ons sondige aard; die twee opponeer mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle ook al wil nie. 18 As julle egter deur die Gees gelei word, staan julle nie onder die toesig van die wet nie.  19 Die praktyke van ons sondige aard is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, 21 afguns, dronkenskap, orgies en hierdie soort dinge —waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërf nie.  22 Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 23 sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie.  24 Almal wat aan Christus Jesus behoort, het ons sondige aard saam met sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25 Aangesien ons deur die Gees leef, moet ons ook volgens die Gees optree. 26 Laat ons nie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar jaloers wees nie.  (BDV)

SOLA GRATIA

Die evangelie van genade
In die eerste deel van hoofstuk vyf beklemtoon Paulus dit dat die evangelie wat hy verkondig, die evangelie van genade is wat deur die Gees in hulle lewens aan die gang gesit is, ‘n genade wat hulle leer om hulle geloof deur die liefde in dade om te sit.  Hulle is vry om God te dien.  Sola gratia.

Paulus maak daarom ’n dringende appèl op hulle om nie hulle band met hierdie genade van de Here Jesus Christus te verloor deur die dwaasheid van die Joodse wetsdrywers nie.  En hy maak aanspraak op die persoonlike band wat hom met hulle verbind.  Om die waarheid te sê, hy vertrou dat hulle vas sal bly staan in wat hy hulle geleer het, en hoop dat die dwaalleraars liewer hulleself ernstig sal beseer …

Paulus gaan so ver as om te sê dat jy die genade van God verbeur as jy jou besny.  Jy verloor jou vryheid.  Want, dan moet jy die hele wet nakom.  Jy kan nie selektief wees en net een of twee goed kies wat jou pas om na te kom nie.  Daarom dat hy sê dat in die evangelie van genade: “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (Gal. 5:6).

Ons geloof in Christus moet deur die liefde in dade omgesit word
Paulus probeer hiermee dus die volgende regkry:

  • Hulle identiteit moet in die genade van Christus gesoek word en nie in die Joodse wet- en kultuurgebruike nie, anders loop hulle gevaar om terug te val in ’n eksklusiewe Joodse geloof en dit by mense wat nie eers ware Jode is nie.  Hulle is juis vrygemaak van die las van die wet.
  • Hulle gedrag moet in ’n geloofsverhouding met Christus gevestig wees deur die werk van die Gees, anders loop hulle gevaar om te leef dat hulle Christus se genade kan verbeur.  Hulle is juis vrygemaak van die las van die sonde.

En moenie dink dat ons vry is van hierdie versoeking om die wet na te kom nie.  Dink net terug aan die Sabbat wetgewing wat nog tot onlangs deel van ons land se wette was (nogal toegepas op ’n Sondag!) en in die kerk met oorgawe nagevolg is.  Dit het berus op ’n Joodse interpretasie van die wet, nogal ’n verskraalde een, want ons het nie die besnydenis toegepas nie!   En dan praat ons nie eers van die stig van aparte kerke wat op ’n ras-gebaseerde interpretasie van die Skrif begrond was nie, en eweneens ’n wet vir die gemeenskap van gelowiges geword het nie.  Ons kerk ly nou nog aan die gevolge van daardie dwaasheid.

Die wet is nie ‘n toetrede riglyn waardeur jy die geloofsgemeenskap kan binne kom nie.  Die wet het wel die funksie dat dit jou van jou sonde bewus maak, dat dit die boosheid beperk.  Maar sy grootste funksie in die gelowige se lewe is dat dit ‘n reël van dankbaarheid is. Dit is ‘n gedragsriglyn.  Die diepste betekenis van die wet lê in die lewenstyl wat God deur sy Gees in ons vestig sodat ons van binne af volgens sy wil kan lewe.

Paulus se woorde is dus gemik teen enige reël wat ons van toepassing maak op die gemeenskap van die gelowiges as ‘n hekkie waaroor ons moet kom om deel van die gemeenskap van gelowiges te raak, en wat nie met geloof en die genade van die Here Jesus Christus in die eerste en enigste plek te make het nie.

Om dit saam te vat: “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan”.  Dit is wat die evangelie van genade van ons vra.

Dra die vrug van die Gees in die gemeenskap van gelowiges
In die laaste deel van hoofstuk 5 aan die Galasiërs fokus Paulus op die Heilige Gees.  En verkondig hy dat die geheim van ’n Gees vervulde lewe is om onder beheer van die Gees te lewe, om in gelid te kom met Hom en met Hom te wandel (peripateō), en nie onder beheer van die wet of die sondige natuur nie.  Jou keuse bepaal die rigting waarin jou lewe ontwikkel.

  • Óf jy dra al hoe meer die vrug van die Gees en loop die pad saam met Hom;  Óf jy word beheer deur jou sondige begeertes en loop die pad van die sonde;
  • Óf jy lewe in die kragveld van die Gees deur in gelid met Hom te wees; Óf jy leef in die kragveld van die vlees deur die vlees toe te laat om te oorheers in jou lewe.

Dit is hoe God se genade tot sy reg kom in jou lewe … óf nie.

Kyk, as jy van ‘n skip afval en verdrink, maak dit nie veel saak van watter kant van die skip jy in die water val nie, so sê Maarten Luther.

  • Jy kan die genade van God verbeur as jy deur jou goeie dade en deur jou wetsgehoorsaamheid die Here probeer tevrede stel.  En dit is verskriklik dat ‘n mens jou só ‘n dubbele las oplê. Om jou hier te onthou van bv. vleis, omdat jy dink dit sal die Here behaag, en dan agter te kom dat jy die ewigheid gemis het.
  • Maar jy kan die genade van God ook verbeur as jy aan die ander kant jou vryheid misbruik om in die sonde voort te leef.  Soos Judas, die ander broer van Jesus, in sy brief daaroor skrywe: “Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe.” (vers 4).  Wat hulle egter as vryheid verheerlik, sal hulle suur bekom in die hiernamaals, sê Judas.  Verskriklik is hulle lot. Hier is hulle vasgevang in die moeras van hulle eie sonde.  In die hiernamaals sal hulle vir ewig die straf van God oor die sonde moet dra.

Maar Paulus is van beter oortuig van die Galasiërs, al is hy in barensnood dat hulle weer die pad van die Gees sal bewandel.  Daarom vermaan hy hulle om nie die genade te misbruik om sonde te doen nie, maar onder beheer van die Gees te lewe.  “Dien mekaar deur liefde. Want die hele wet word in één uitspraak vervul: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’” (Lev. 19:18).

Die lewe onder beheer van die Gees is dus ‘n lewe in die gemeenskap van gelowiges waar jy jou naaste lief het soos jouself.  Jou vryheid bestaan daarin dat jy in liefde leef met almal wat deel is van die geloofsgemeenskap.

Moenie die sondige praktyke van jou sondige aard uitvoer nie
Dit beteken dat jy sekere sondige praktyke (let op die meervoud, met die klem op wat mense doen) binne die gemeenskap van gelowiges sal vermy, daarvan af sal wegvlug, die begeertes van jou sondige vlees nie sal uitvoer nie. Agt van die 15 sondige praktyke het met die konflik van liefdeloosheid in die gemeenskap van gelowiges te make: vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring en afguns.

Dit beteken ook dat jy jou persoonlike GEDRAG vry van sondige praktyke sal hou, dat jy daarvan sal wegvlug, dat jy die begeertes van jou sondige vlees nie sal uitvoer nie.  Paulus wys hulle op sekere slegte moreel-etiese praktyke: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, dronkenskap (dronk-drink partytjies) en orgies (oordadige gefuif) asook die navolg van verkeerde godsdienstige praktyke: afgodery (beeld-aanbidding) en towery (gebruik van magiese voorwerpe).

Daarteenoor staan die vrug van die Gees (let op die enkelvoud, met die klem op hoe ‘n mens is) wat jou laat vasstaan in die vryheid van die genade van God.  Dit het eweneens direk met PERSOONLIKE GEDRAG binne die gemeenskap van die gelowiges te make: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Jou vryheid in Christus maak jou verantwoordelik binne die gemeenskap van die geloof.

Maar belangrik, die dinge is nie soseer iets wat jy doen nie, dit is iets wat in jou groei deur die werk van die Heilige Gees.  Dit dui ’n manier van omgaan met ander aan, ’n manier van wees.

Uitleggers wys gereeld daarop dat hier 3 groepe van 3 deugdes genoem word.  In lyn daarmee sal ek dit ook só kan voorstel:

  1. Gawes vir jou innerlike lewe: liefde, blydskap, vrede;
  2. Gawes vir jou gedrag in die gemeente: geduld, vriendelikheid, goedheid;
  3. Gawes vir jou gedrag in die gemeenskap: getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Die lewe in die Gees het dus alles te make met ’n mens se gedrag in die gemeenskap van die gelowiges.  Jou gedrag word bepaal deur die liefde vir die naaste.  Dit is wat die Gees in ons laat groei. Daarom sê Paulus in vers 25: “Aangesien ons deur die Gees leef, moet ons ook volgens die Gees optree“.  Die Griekse woord vir optree (stoicheō) beteken dat ons sy standaarde navolg, dat ons in gelid met sy leiding en insig binne die gemeenskap van gelowiges moet optree.  Die Gees se standaarde bepaal dus die liefde tot die naaste.

Staan vas in die vryheid van Christus se genade
Kom ons vat die boodskap van Paulus tot dusver saam.

1. Omhels die vryheid wat Christus vir jou gebring het van die wet sowel as van die sonde. Ons moet ons vryheid geniet, die vryheid wat Christus gebring het.

  • Ons is vry van die vloek van die wet.
  • Ons is vry van die skuld van Adam.
  • Ons is vry van veroordeling.
  • Ons is vry van die skuld, die mag en die slawerny van sonde.
  • Ons is vry van die mag van Satan.
  • Ons is vry om God se erfenis in besit te neem.

2. Beskerm jou vryheid. Moenie weer aan die wet gehoorsaam word nie, ook nie aan die sonde nie.  Vryheid moet nooit ‘n aanleiding wees vir die begeertes van jou sondige self nie, maar jou aanmoedig om in die liefde te leef soos die Gees jou lei.

3. Ontgin (express) jou vryheid. Dit sluit die verwagting en hoop op God se werk in jou lewe in, maar ook die aanmoediging om jou vryheid in dade van geloof in liefde uit te druk.  Ons is vry om lief te hê.  Ons is vry om nie te sondig nie. Dink daaraan: jy hoef nie te sondig nie, want jy is vry!

4. Gebruik jou vryheid. Jou vryheid is nie gemik op jou eie behoeftes en begeertes nie.  Jou vryheid is gemik op diens aan medegelowiges onder leiding van die Heilige Gees.  Moenie in sonde val nie, maar dien mekaar in liefde.  Ons is geroep tot vryheid en moet dié kosbare roeping uitleef!  Vryheid is nie rebellie teen God se wil nie.  Die interessante is dat jy dan sal uitvind dat jy die wet nakom, nie in die spesifieke detail van die rituele en seremonies daarvan nie, maar in die intensie daarvan, om God lief te hê en ander soos jouself.

5. Ontwikkel (expand) jou vryheid. Laat die Gees jou lei dat jy nie swig voor die begeertes en versoekings van die vlees nie en jy die vrug van die Gees kan dra. Die wat aan Christus behoort, het immers hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig!  Daarvan moet ons vlug van alle seksuele, godsdienstige en sosiale kategorieë van begeertes van die vlees soos Paulus dit in vyftien aspekte hier vir ons uitspel, en dan ook nog byvoeg: “en dergelike dinge“.

Ons kan nie bekostig om die vlees, die dier in ons, te voed nie.  Ons kan die mag daarvan net ontvlug as ons vasstaan in die vryheid waartoe Christus ons geroep het deur te fokus op die Gees, om op die akker van die Gees te saai, soos hfst. 6 gaan sê.

Ek sluit af.  Die geestelike lewe is ‘n stryd tussen die Gees en die vlees.  Jy sal óf die een gehoorsaam óf die ander.  Jy kan nie doen wat jy wil nie, sê Paulus.

Jy kan jou aan die beheer van die Gees oorgee wat jou in die vryheid van die genade van die Here Jesus Christus sal laat vasstaan en sy vrug in jou lewe sal dra.  Óf jy kan jouself oorgee aan die begeertes van jou sondige natuur wat jou sal laat vasval in seksuele, godsdienstige en sosiale sondige begeertes.  En jy sal dink dat jy vry is om te doen wat jy wil, maar jy sal doodgewoon ‘n slaaf word van jou eie begeertes.

My gebed is dat jy sal vasstaan in die vryheid wat Christus jou gee deur die genade van die vergifnis wat Hy bewerk het vir jou aan die kruis.  En om die Gees toe te laat om jou lewe skoon te maak en vas te laat staan in die vryheid van sonde sodat jou geloof deur die liefde sal oorgaan in dade.  Sola gratia.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: (Gal 2:20)

Seëngroet 

Sang: Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet

Skuldbelydenis: Lied 250 “God’s wet vra al ons liefde 1,2,3,4,5”

Vryspraak: Galasiërs 5

Geloofsbelydenis van Nicea

Loflied: Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Galasiërs 5:1, 13-25

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 505 “Jesus U gaan voor 1,2,3,4”

Seën 

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangs lied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: (Gal 2:20)
Voorganger:  En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.
Gemeente:     Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.

Seëngroet
Geliefdes, kinders van God, daar is vir julle genade en vrede van God ons Ewige Versorger, en die Here Jesus Christus wat Homself vir ons sondes gegee het sodat ons nie meer self hoef te probeer nie, sodat ons nie meer tekort skiet nie, sodat ons genoeg kan wees – omdat Hy genoeg is. “Aan God kom alle heerlikheid toe tot in alle ewigheid. Amen” (uit Gal 1:5).

Sang: Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet
’n Voorganger vanuit die gemeente kan dié verwoording van die Wet voorlees:
Ek is die Here jou God, die Een wat jou bevry het
– jy is nie meer ’n slaaf van Egipte óf van sonde nie.
Jy is vry om te keuses te maak
– kies My en geen ander nie.
Jy is vry om te skep
– eer jou Skepper in woord en daad, en moenie jou eie skepsels verafgod nie.
Jy is vry om jouself uit te druk
­– spreek liefde en waarheid.
Jy is vry om te werk
– rus op die Sabbat en eer My.
Jy is vry om te leef
– eer dié wat jou in hierdie lewe gebring het en respekteer die lewe van ander.
Jy is vry om lief te hê
– eerbiedig die heilige verbintenis van liefde.
Jy is vry om besittings te hê
– respekteer die eiendom van ander, moenie begeer nie.
Ek is die Here jou God, die Een wat jou bevry het
– leef in hierdie vryheid tot eer van my naam.

Skuldbelydenis: Leid 250 “God’s wet vra al ons liefde 1,2,3,4,5”

Vryspraak: Galasiërs 5
5Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word. 6In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

Geloofsbelydenis van Nicea
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge; en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het. Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe. Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie. Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek. Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes. Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige bedeling. Amen.
of
NG Gemeente Wellington het ’n besonderse weergawe van die Apostoliese Geloofsbelydenis wat op Bybel-Media se profiel op YouTube beskikbaar is, en wat ook in hierdie geval treffend gebruik kan word. Die skakel vir die video is: https://www.youtube.com/watch?v=g5bEid17nnU

Loflied: Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Liedere

F10. “Jesus, Alles Gee Ek U”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Jesus, all for Jesus
Teks en Musiek: Robin Mark & Jennifer Atkinson
Afrikaanse vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1991  Authentic Publishing

1. Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
En wat ek ooit sal wees.
Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
En wat ek ooit sal wees.

Al my hoop, my planne en my tyd
Lê ek in u hand,
Vertrou ek aan U toe.
Al my hoop en planne en my tyd
Lê ek in u hand,
Vertrou ek aan U toe.

Refrein:
Deur U wil te doen, leer ek om vry te wees.
Deur U wil te doen, leer ek om vry te wees.
Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
en wat ek ooit sal wees.

F22.”Ek Soek U, O God”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994  Brettian Productions
(Reeds opgeneem op: Lentereën-Willie Joubert
25 Gunsteling L&A liedere–Louis Brittz
Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)

1. Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader
om by U te wees,
om by U te wees.

2. As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein: 
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer, 
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe… (Nav Ps 63)

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Spreek Heer,
want ons, u dienaars luister.
Net u Woord Heer,
bring weer lig in duister.
Spreek Heer,
Want ons, u kinders, luister.

Skriflesing: Galasiërs 5:1, 13-25

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Die leesroosterteks sluit die gedeelte aangaande die vrug van die Gees (Gal 5:22) in – ware vryheid in Christus is ’n lewe van liefde wat in die Gees vrug dra. Verskillende vrugte of prente van vrugte wat aan ’n boom hang kan ingespan word om die vrugte van die Gees op prettige manier oor te dra. ’n Onthouspeletjie waar die prente/vrug opgehou en die vrug van die Gees onthou moet word, kan in hierdie verband goed werk.
OF
Die “Statue of Liberty” in die VSA (eintlik is haar regte naam “Liberty Enlightening the World”) is in 1886 deur Frankryk aan die VSA geskenk.  Vir die mense van die VSA simboliseer sy vryheid, ‘n waarde wat vir hul land baie belangrik is.  [Foto (c) smackbangkaboom by www.deviantart.com]

Baie van die burgers van die VSA se voorouers was immigrante.  Soos wat hulle die land per boot genader het, was die standbeeld die eerste ding wat hulle gesien het.  Dit was asof sy hulle verwelkom het met haar arm in die lug:  “Hier is jy welkom.  Hier sal jy vry wees.”

Skole in die VSA hou gereeld opvoerings met hierdie standbeeld as sentrale punt, om kinders te herinner wat hulle graag ‘n land wil wees waar almal welkom is, waar mense vry kan wees.

Oor die jare het hulle egter ook geleer dat vryheid met verantwoordelikheid saamgaan.  Dikwels, wanneer vryheid bedreig word, het mense die standbeeld gebruik om hul mede-burgers te herinner dat vryheid en verantwoordelikheid bymekaar hoort.

Die prente wys hoe die standbeeld gebruik word om vir mense te wys dat vryheid misbruik word en om mense bewus te maak van ander wie se vryheid ontneem word:  swart mense [foto van ‘n siviele regte betoging by die standbeeld – www.life.com], vrouens [foto van die Jackson Biblioteek, Universiteit van Noord-Carolina by Greensboro] en immigrante.  Met hierdie beelde herinner die kunstenaars mense daaraan dat vryheid ook met verantwoordelikheid gepaard gaan.

Preekriglyn

Daar was twis en rusie onder die Galasiërs (5:15, 20), waarskynlik oor die besnydenis en oor die onderhouding van godsdienstige rituele. Die onderlinge verhoudinge tussen die gemeentelede was gespanne en het tot verdeeldheid gelei.

Hierdie situasie kan nie so voortduur nie, en moet vanuit die evangelie reggeste word.

Paulus herinner die gemeente van Galasië aan die ware evangelie, die evangelie van vryheid in Christus en die lewe van vryheid in die Gees. Hy werk met die verband tussen die gemeente status (indikatief) en die opdrag (imperatief) wat daaruit voortvloei:

  • Ons status (indikatief) is dat ons nuwe identiteit in Christus gevestig is, daarom
  • is daar ook die opdrag (imperatief) om daarvolgens op te tree.

Dit is belangrik dat ons status eerste kom, dan die opdrag. Eers word ons geklee met Christus (3:27) en daarna opgeroep om as Christen te leef (5:25). As die opdrag eerste kom, en ons status word die doel, is ons steeds met ‘n wet besig wat nie kan vrymaak nie.

Die nuwe identiteit behels vryheid, maar ‘n vreemde vryheid – ‘n vryheid wat ons roep om ‘n diensslaaf vir ons medemens te word. Die kernbeginsel is die liefde, die samevatting van die wet (5:14).

Vlees en Gees

Die logiak van ons teks werk met die kontras tussen die vlees en die Gees. Die Griekse woord sarx (vlees) (ook vertaal “sondige natuur”) in vers 13, 16, 19, 24 en 6:8, moet gesien word as verwysing na die mensheid, spesifiek die kernnatuur van die mensheid wat neig na wat sondig is.

Dit is ironies dat die vryheid waarin ons vas moet staan sodat ons nie weer onder ‘n slawejuk ingedwing word nie (5:1) ons diensslawe van Christus, vir mekaar, maak. ‘n Gelowige is eerder ‘n slaaf van Christus (1:10) en ‘n slaaf vir ander in liefde (die werkwoord douleuó vir “dien mekaar”) (5:13; vgl Gal 6:2 en 2 Kor 4:5) as ‘n slaaf onder die wet.

Die oproep tot vryheid is dus ‘n oproep tot eenheid en mede-diens in liefde. Die liefde is nou die samevatting van die wet.

Paulus argumenteer dat ons in Christus leef deur die Gees. Die Gees moet nou ons gedrag bepaal. Dit is die Gees van liefde. Om mekaar se laste te dra, is die vervulling van die wet van Christus (vgl Gal 5:6; 6:2; Rom 5:1-11, veral v 4).

Daar is in Paulus se tyd geargumenteer dat die manier om die mens se sondige natuur te beperk en te beheer, deur die wet bemiddel is. Paulus se reaksie is egter: Nee! Beslis nie die wet nie, maar eerder ‘n lewe in die Gees, om saam met die Gees te stap, te leef (16).

Saamstap

Die bekende en treffende beeld van “saamstap” word meermale in ons teks gebruik. Die opdrag is: stap saam met die Gees, jou hele lewe, die volle sirkel.

Die 2014 Direkte Vertaling vertaal vers 16 as: “Leef deur die Gees.” In vers 18 kom die werkwoord agó in die passief voor; om deur die Gees gelei te word. Die woord het die betekenis om gelei te word, soos wat ‘n gids ‘n mens sou lei, of om iemand/dier te bring. Die woord kan ook “dra” beteken. Die betekenis van die woord is dus diep en ryk; om deur die Gees gelei te word, gebring te word, gedra te word.

In Galasiërs 5:25 kom die woord stoicheó voor, wat beteken om ordelik, in lyn, te stap, te marsjeer. Die beeld is dus duidelik: om te leef in gelid met, in lyn met die Gees. Beide aksies word van ons as gelowiges gevra. Vryheid is saam stap, saam leef.

Kern van die wet

Die etiese oproep in Galasiërs 5:14 (vgl 6:2); is saamgevat in die bekende opsomming van die wet om “jou naaste lief te hê soos jouself” (Lev 19:18). Dit eggo ook Jesus se opsomming van die wet (vgl Mark 12:28-31, waar Jesus ook liefde vir God uit Deut 6:4-5 bywerk).

Die gemeente is opgeroep om nie soos wilde diere mekaar te byt en te verslind nie, wat ook ‘n aanduiding is van die onderlinge twis en rusie (Gal 5:15). Die praktyke van die vlees in vers 19-20 kan soos volg opgesom word: begeertes van ‘n seksuele aard (onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid); afwyking van God (afgodery, towery); onderlinge verwaandheid en verdeeldheid (vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, en afguns) (vgl ook Gal 5:15 en 26); en gebrek aan selfbeheersing (dronkenskap en orgies).

Vers 25 nooi ons om ook op die werk van die Heilige Gees te fokus. Die Heilige Gees wat lewend maak, herstel, verfris, opwek, herskep, lewe gee, verander, vernuwe, verfris, verkwik.

Kom ons dink nou saam oor die betekenis van hierdie teks vir ons lewe. Dalk kan ‘n onderskeid tussen die sigbare en onsigbare ons help.

Die sigbare verblind

Ons lewe word bepaal deur die sigbare. Ek is geneig om dit wat ek sien, te glo. Opskrifte van geweld en dood laat my glo die land is ‘n land van geweld en dood. As ek ‘n persoon op straat sien wat dalk effe verwaarloos en verwilderd lyk, kyk ek vinnig anderkant toe en stap ek vinniger – bang vir die armoede, maar ook bang vir die persoon.

Maar die sigbare verblind ons. Dit is asof dit al is wat ek van die wêreld kan sien. Die geweld en die moord, die honger en die nood. Dit raak ons. Dan raak ons moedeloos en angstig. Dan dink ek wat kan ek daaraan doen? Niks. Dan doen ek niks, soos almal om my! Dan gebeur daar ook niks.

Of ek sien die advertensies op TV en in die koerant. Groter TV-skerm, vinniger foon, slimmer selfoon – met drie kameras, of die room wat my jonger laat lyk. Dan wil ek groter, vinniger, beter, jonger. So kan ons aanhou verwys na die praktyke van die sondige natuur in 19-21:

1Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge.

Die sigbare verblind ons. Ek is vasgevang deur die beeld in die spieël. Ek is vasgevang deur hoe ek andere sien – hoe groot hulle is, hoe mooi hulle aantrek, hoe skoon hulle is. Dit, die sigbare, bepaal hoe ek oor myself dink, hoe ek oor ander dink. Hoe ek oor die wêreld dink.

Die onsigbare gawes

Ons vergeet van die onsigbare. Tog, as ons dieper daaroor dink, word ons lewe eintlik bepaal deur die onsigbare. ‘n Breinchirurg het nog nooit ‘n brein oopgesny en gedagtes tussen die breinweefsel gevind nie. Tog is dit ons gedagtes, die onsigbare, wat bepaal wie ek is. Hoe ek oor myself dink, hoe ek oor ander dink, en hoe ek oor die wêreld dink.

Dit is die leefwêreld van die Heilige Gees. Die wêreld van die onsigbare. Dink aan verse 22 en 23:

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Die onsigbare gawes van geloof, hoop en liefde bepaal wat ek dink ek is, wat ek dink ander is, wat ek dink die wêreld is. Dit is die gawes van die Gees wat bepaal hoe ek die wêreld, en diegene om my, sien.

Dit is die gawe van vrede wat verby die geweld en dood kyk, en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sien en weet die geweld en dood is nie die volle verhaal nie. Dit eindig nie by die lyding en gesug van die aarde, die mense en God nie. Dit eindig by die oorwinning van die dood, die opstanding en ‘n nuwe hemel en aarde.

Dit is die gawe van sagmoedigheid wat verby die verwaarloosde en verwilderde persoon op straat kyk en ‘n medemens in nood sien, om die hande uit te reik en die mens aan te raak.

Dit is die gawe van selfbeheersing wat keer dat ek nóg ’n TV, nóg ‘n selfoon, nóg ‘n room aankoop. Dit is die gawe van liefde wat ons oortuig dat ons bevry is van die verblinding van die sigbare en ons laat sien hoe die wêreld anders lyk, kan lyk en moet lyk. Dit is die gawes van liefde wat bepaal hoe ek oor myself en ander dink. Ja, dit is om vas te staan in die vryheid. Om te leef in die vryheid, in die Gees; om volgens die Gees te leef en op te tree. Vryheid is om in liefde ander te dien en te dra.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied  505 “Jesus U gaan voor 1,2,3,4”

Seën
Gaan hiervandaan en leef in liefde as bevrydes deur die verlossingswerk van Jesus Christus ons Here.
God ons Skepper behoed en beskerm jou,
God ons Versorger onderhou en inspireer jou,
God ons Redder gaan jou in liefde vooruit.
Ons Here, God Drie-enig,
sal altyd met jou wees en jou seën
– tot in die lengte van dae.
Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: Ó Flam Musiek-Uitgewers

1. Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.