Derde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Vandeesweek se teksgedeeltes fokus almal op die feit dat God vir ons sorg. Die liturgiese voorstel beklemtoon dat God ons nie in die steek sal laat nie, maar ons deurentyd behoed en bewaar, selfs as ons in doodsgevaar verkeer. Daarom kan ons dan ook in Koninkrykstyd ons roeping met vrymoedigheid uitleef, wetende dat die God wat dood in lewe verander, ons hulpkreet hoor en tot ons redding sal verskyn.

Ander tekste

Genesis 21:8-21
Abraham stuur vir Hagar weg
8Die kind het grootgeword en die dag toe hy gespeen is, het Abraham ’n groot fees gehou. 9Toe Sara die seun wat Hagar die Egiptiese slavin vir Abraham in die wêreld gebring het, sien lag, 10sê sy vir Abraham: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg. Die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erf nie.”

11Abraham het ter wille van sy seun Ismael baie sleg gevoel oor wat sy gesê het, 12maar God het vir Abraham gesê: “Moenie sleg voel oor die kind en oor jou slavin nie. Luister na alles wat Sara vir jou sê, want uit Isak sal jou nageslag gebore word. 13Tog sal Ek die seun van die slavin ’n nasie laat word, want hy is jou kind.”

14Vroeg die volgende môre het Abraham kos gevat en ’n velsak water en dit vir Hagar gegee. Hy het dit saam met die kind op haar rug gesit en haar weggestuur. Sy is toe weg en het in die Bersebawoestyn rondgeswerf. 15Toe die water in die velsak opraak, het sy die kind onder ’n doringbos neergesit 16en ’n entjie daarvandaan gaan sit, omtrent so ver as ’n mens met ’n pyl en boog kan skiet, want sy het gedink: ek wil nie sien as die kind doodgaan nie. Terwyl sy so daar sit, het sy begin huil. 17God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor. 18Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom ’n groot nasie laat word.”

19Toe het God haar oë oopgemaak en sy het ’n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir die kind water gegee. 20God was by die kind en hy het groot geword. Hy het in die woestyn gewoon en het handig geword met die pyl en boog. 21Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy ma het hom met ’n vrou uit Egipte laat trou.

Psalm 86:1-10, 16-17
Gee U my tog krag!
86 ’n Gebed van Dawid.
Luister tog na my, Here,
verhoor my gebed,
want ek is hulpeloos en arm.
2Beskerm my, want ek is
u troue dienaar,
red my, want U is my God,
op U vertrou ek.
3Wees my genadig, Here,
ek roep die hele dag deur na U.
4Maak my bly, Here,
ek hunker na U.
5U is goed, Here, U vergewe
altyd weer,
U is getrou teenoor dié
wat na U roep om hulp.
6Luister na my gebed, Here,
gee tog ag op my smeekgebed.
7Op die dag van my nood
roep ek na U,
U sal my gebed verhoor.
8Daar is geen god soos U nie, Here,
niks kan met u werk
vergelyk word nie.
9U het al die nasies gemaak;
hulle sal voor U kom buig, Here,
en aan u Naam die eer gee,
10want U is groot
en doen magtige dade,
U alleen is God.

16Sien my,
u dienaar van my geboorte af,
in genade aan,
gee U my tog krag en red my.
17Maak my ’n voorbeeld
van u goedheid,
sodat dié wat my haat,
verleë sal moet toesien
dat U, Here, my help
en vir my uitkoms gee.

Romeine 6:1b-11
Dood vir die sonde, maar lewend vir God
6Wat moet ons nou hiervan sê?
Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? 3Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. 5Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. 6Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 7Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 8Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 9Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. 10Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. 11Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.

12Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

Fokusteks

Matteus 10:24-39
24“‘n Leerling is nie hoër as sy leermeester en ‘n slaaf nie hoër as sy eienaar nie. 25‘n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester, en ‘n slaaf as dit met hom gaan soos met sy eienaar. As hulle die hoof van die huis die skeldnaam Beëlsebul gegee het, sal hulle dan nie sy huisgenote met baie erger name uitskel nie?”

Wie gevrees moet word
(Luk 12:2–7)
26“Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. 27Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin. 28Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.

29“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Aansporing om Christus te bely
(Luk 12:8–9)
32“Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. 33Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.

Jesus bring nie vrede nie maar die swaard
(Luk 12:51–53; 14:26–27)
34“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. 35Ek het gekom om tweedrag te bring
‘tussen ‘n man en sy vader
en tussen ‘n dogter en haar moeder,
tussen ‘n skoondogter en haar
skoonmoeder;
36ja, ‘n man se huismense sal sy vyande
wees.’
37“Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. 38Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.

39“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

Liturgie

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord
Seëngroet  

Sang: Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Wet: Romeine 6

Skuldbelydenis: Psalm 86

Vryspraak: Romeine 6

Geloofsbelydenis: F206. Ons glo (Jesus Is Die Heer)

(Opsioneel) Lied 519 “Wees stil en weet, ek is die Heer vs 1,2,3,4”

Epiklese: Lied  254

Skriflesing: Matteus 10:24-39

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 489 “Waak, Christen staan in die geloof vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
of

VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Gegewe die huidige grendeltyd (2020) waartydens gemeentes nie kan sing nie, is ons gedwing om nuut te dink oor alternatiewe momente in die liturgie. Een opsie is om die woorde van liedere op die skerm te vertoon en rustig voor te lees/ te laat lees as gemeente se spreke. Lirieke aangeheg.

Daar is in die liturgie gebruik gemaak van Bybelmedia se preekstudies sowel as van vorige bydraes by seisoenvanluister.co.za en preekriglyne.co.za.

Koninkrykstyd is die tydperk in die kerklike jaar waar daar oor die drama van die Christelike lewe, in die lig van Christus se anderse heerskappy, nagedink word.

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”
laat ons biddend nader,
hier waar ons voor Hom vergader.
God is hier teenwoordig.
Heilig is die Here;
buig in stilte, Hom ter ere!
Wie Hom roem, wie Hom noem
Heer en Hemelvader, kom nou almal nader!

2. God is hier teenwoordig.
Here, gee ons vrede,
wees genadig, wil vergewe.
Ons is swak en sondig,
maar ons lied verkondig:
U’s die bron van alle lewe.
U is Heer, U regeer.
Lei ons al ons dae na u welbehae.

3. God is in sy tempel;
hemelpoorte bewe,
almal buig voor Hom wat lewe!
Engele sing: Heilig,
heilig is die Here,
in die allerhoogste sfere!
Uit die stof klink ons lof:
Here, God van vrede, hoor ook ons gebede.

Aanvangswoord  
Voorganger: Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Here, sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal vir julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (Psalm 11:27-30).
Gemeente: Amen

Seëngroet  
Genade en vrede vir julle van God die Vader wat ons sien en ons seën
en van Jesus Christus, sy geliefde Seun, saam met wie ons uit die dood opgewek word;
en van die Heilige Gees, wat ons troos en vir ons nuwe lewe gee.
Amen.

Sang: Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”
1. U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie –
wie word daardeur nie diep getref!
Niks anders bring vir ons die heil nie –
ons wil ons hart tot U verhef.
Aan U alleen ons dank en ere –
U wat ons in u liefde lei.
U sal ons nooit vergeet nie, Here –
U wil ons in u waarheid lei.

2. U is die Heer wat ons gemaak het,
voor U kom ons, u skepsels, staan;
U is die Heer wat steeds gewaak het,
deur wie ons gans en al bestaan.
U bring in ons gemoed die vrede,
U sterk ons gees met nuwe krag;
U gee u lig ook oor ons rede –
dis U van wie ons heil verwag.

3. Sou ek, o Heer, U nie vereer nie,
sou ek u goedheid nie verstaan?
Sou U my raad gee, ek nie leer nie,
die weg wat U my wys nie gaan?
Nee, Heer, U rig my wil en strewe;
u Woord bly my gedurig by.
Vul met u liefde ook my lewe
om my in alles U te wy.

Wet: Romeine 6
12Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

Skuldbelydenis: Psalm 86
Luister tog na my, Here,
verhoor my gebed,
want ek is hulpeloos en arm.
2Beskerm my, want ek is
u troue dienaar,
red my, want U is my God,
op U vertrou ek.
3Wees my genadig, Here,
ek roep die hele dag deur na U.
4Maak my bly, Here,
ek hunker na U.
5U is goed, Here, U vergewe
altyd weer,
U is getrou teenoor dié
wat na U roep om hulp.
6Luister na my gebed, Here,
gee tog ag op my smeekgebed.
7Op die dag van my nood
roep ek na U,
U sal my gebed verhoor.
8Daar is geen god soos U nie, Here,
niks kan met u werk
vergelyk word nie.

Vryspraak: Romeine 6
8Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 9Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. 10Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. 11Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.

Geloofsbelydenis
F206. Ons glo (Jesus Is Die Heer)
(RUBRIEK: Flam – Geloofsbelydenis) Teks: Nico Simpson Musiek: Riaan Steyn, Jandré Viljoen, Neil Büchner
© 2011 Flam Musiek-Uitgewers (Geskep tydens die NG Kerk Sinode Wes- en Suid-Kaap, Mei 2011)

1. Ons glo … in U alleen.
Saamgebring deur u Woord,
versamel deur u Gees,
beskerm en versorg.

Refrein:
Jesus is die Heer.
Aan U kom toe die eer
heerlikheid in ewigheid,
Jesus Christus, U’s die Heer.

2. Ons glo … versoen deur U –
tot een beker en brood –
deur een doop gedoop
en ons bely een Naam.

Refrein:

3. Ons glo … gedring deur U
tussen haat en dood
breek U skeidings af
laat ons vredemakers word.

Refrein:

4. Ons glo… bevry deur U,
in ’n wêreld vol nood
is U by dié wat ly
en ons sal U daarin volg.

Refrein:

5. Ons glo … geroep deur U
selfs in weerstand en straf
om U alleen as Hoof
te leef en te bely.

Refrein: (x2)

(Opsioneel) Lied 519 “Wees stil en weet, ek is die Heer vs 1,2,3,4”
1. Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek spreek en wind en golwe bedaar,
Ek sal ook jou getrou bewaar.

2. Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek ken jou pyn, jou donkerste nag.
Ek is by jou, Ek gee jou krag.

3. Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Kom bring na My jou kommer en vrees.
Ek sal vir jou ‘n toevlug wees.

4. Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Bly waak en bid; volhard in geloof.
Ek is by jou soos Ek beloof.

Liedere

VONKK 33 “Wees Nie Bevrees Nie”
Nav Psalm 91 Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Teks : Nada te turbe – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Braam Hanekom, Breda Ludik en Michiel van der Merwe  1994
Met toestemming gebruik (Engels, Afrikaanse teks in hierdie vertaling en musiek)
© 2008 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Geloof en Vertroue

Wees nie bevrees nie, wees nie beangs nie:
hul wat by God skuil, hoef nooit te twyfel.
Wees nie bevrees nie, wees nie beangs nie:
vind by God skuiling.

Nothing can trouble, nothing can frighten:
those who seek God shall never go wanting.
Nothing can trouble, nothing can frighten:
God alone fills us.

F115. “Kyk Hoedat Die Voëltjies Vlieg”
(RUBRIEK: Flammikidz uit bestaande bundels – Lof) Oorspronklik: Why Not I
Teks en musiek: John W Peterson en SVR Ford Afrikaanse vertaling: 1993 Attie van der Colf
© 1956 Renewed 1984 John W. Peterson Music Company (Opgeneem in Jeugsangbundel II)

1. Kyk hoedat die voëltjies vlieg –
sommer so, hoog daarbo!
God laat al die voëltjies vlieg,
hoog daarbo!

Refrein:
Hy doen soveel meer vir my;
ek sal altyd dankbaar bly
en my nie bekommer nie –
Hy’s by my!

2. Kyk hoedat die lelies groei –
in die veld, o so mooi!
God laat al die lelies groei –
o, so mooi!

F292. “Heer Laat My Skyn”
(RUBRIEK: Kruisfuur / Flam – Getuienis) Teks: Marina du Toit Musiek: Marina du Toit © 2008 Urial Publishing

Heer vul my hart, met liefde
U Woorde binne my.
Heer laat my lippe spreek van vrede
en die doodsheid lewe gee.

Want U is God, hier in my en U Gees leef deur my.
Laat ek water bring in ’n dorre woestyn.

Refrein:
Heer laat my (ons) skyn! Heer laat my skyn!
Heer laat die donker nou swig en die twyfel verdwyn,
Heer laat my (ons) skyn! Heer laat my (ons) skyn!
Heer laat ek (ons) hoop bring vir nood en ’n wêreld in pyn!
Heer laat my (ons) skyn! Heer laat my (ons) skyn! Heer laat my (ons) skyn!

Heer rig ons op, as ligdraers, ’n nasie na u hart.
Heer gee ons hande, net soos U s’n, wat uitreik en genees.

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Lied  254
1. Spreek Heer, spreek Heer,
want u dienaar luister.
Net u Woord, Heer,
bring weer lig in duister.

2. Spreek Heer, spreek Heer,
want u kinders luister.
Net u Woord, Heer,
bring weer lig in duister.

Skriflesing: Matteus 10:24-39

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Lees die teks in die taal van kinders
Wees net vir God Bang
26–27 “Moenie bang wees vir mense wat lelik met julle is nie. Hulle sal leuens oor julle vertel, maar die waarheid sal later wel uitkom. Dit wat Ek julle geleer het, is so belangrik dat julle dit nie vir julleself mag hou nie. Praat met almal oor dit wat Ek vir julle gesê het. Die hele wêreld moet van My hoor.

28 “Moenie vir mense bang wees nie. Want hulle kan net jou liggaam doodmaak. Dis al. Hulle kan nie keer dat jy hemel toe gaan nie. Kom Ek sê vir julle: julle moet net vir God bang wees. Want Hy kan jou na jou dood ook nog in die hel laat beland.

29–31 “God is gelukkig nie kwaai nie. Nee, Hy is baie lief vir julle. Kyk net hoe goed is Hy. Hy gee selfs om vir die mossies wat elke dag rondom julle vlieg. En hulle is nie veel werd nie. Niemand koop ooit mossies as troeteldiere nie. En tog gaan nie een van hulle dood sonder dat God daarvan weet nie. God gee so baie vir hulle om, maar Hy gee baie meer vir julle om. Julle is ’n miljoen maal meer werd as mossies. Julle is so belangrik vir God dat Hy die tyd maak om elke haar op julle kop te tel.”

Praat oor My, dan Praat Ek oor julle
Joubert, S. (2000, c1999). Die Nuwe Testament vir kinders in ‘n taal wat hulle verstaan. Includes glossary. (Mt 10:26-32). Vanderbijlpark: Carpe Diem.
Gesels met die kinders oor wat hulle bang maak.  Praat spesifiek ook oor dié kere wat jy bang is omdat jy die Here volg, bv. as jou maats jou spot omdat jy reg optree, kerk toe gaan, ens., of wanneer jou maats iets verkeerd wil doen en jy weier en weet dat hulle vir jou gaan kwaad wees.  Verduidelik dan dat Jesus sê ons hoef nie bang te wees om gehoorsaam te wees nie, omdat hy vir ons sorg.

Vertel dat twee mossies destyds vir 1c verkoop is.  Dís hoe min mense dink hulle werd is.
Tog sorg God vir elkeen van hulle!  (As jy ou een sente in die hande kan kry, kan jy wys dat daar twee mossies op is en dit uitdeel, sodat almal kan onthou dat God vir hulle sal sorg.)
of
Gebruik die storie “Bosbok en Olifant Raak Bang” uit Ewald van Rensburg se “Die Avonture van Bomani Meerkat en ander stories”.  Dit vertel van Bosbok se pragtige huis by die rivier.  Wanneer Bosbok eendag by die huis kom, ontdek hy daar is iemand met ’n diep stem in sy huisie wat dreig om hom op te eet!  Selfs Olifant kan nie help nie.  Dit is uiteindelik Leeu wat dapper genoeg is en ontdek dat dit die hele tyd Brulpadda was wat maak of hy gevaarlik is!

Preekriglyn

Wat beteken dit prakties om Jesus Christus van Nasaret as Here en Verlosser te volg? Hoe werk dit  om vandag nog deel te neem aan Jesus se voortgaande bediening op aarde?

Verlede week het ons by Matteus 9:35-10:23 stilgestaan. In daardie “groot sendingpreek” het Jesus sy dissipels (ons) betrek, ingesluit en in ooreenstemming met sy eie sending gebring. Hierdie ooreenkoms tussen sending as Jesus se sending word nou verder beklemtoon en uitgewerk.

Mens kan sê verlede week se teks is reis-instruksies: Jesus stuur sy dissipels. Vandeesweek se teks is vertroue-instruksies. Jesus leer ons om op Hom te vertrou, want daar gaan ook moeilikheid wees. Sy “moeilikheid-instruksies” pas goed by die “reis- en vertroue” instruksies.

Die punt van Jesus se sending, naamlik

  • die reis (gerigtheid en keer na buite en die wêreld), asook
  • meegaande moeilikheid en vervolging wat dit veronderstel en meebring,
  • word nou gemotiveer en gerugsteun deur verskillende kante van vertroue en trou te belig.
Vertrouensverhouding

Agter hierdie reis en moeilikheid vir dissipels van Jesus is daar ‘n enjin wat dit dryf, naamlik ‘n vertrouensverhouding met Jesus Christus. Deelname aan Jesus se werk, wat beteken jy gaan op reis na ander en die vervolging wat dit meebring, word opgevolg met verbondenheid, vertroue en trou aan Christus self.

Hierdie sending getuig nie net van God se sending en van die bepaalde vertroue waartoe dit ons roep nie. Dit getuig veral ook van die ontdekking, verkondiging en viering van God se trou in hierdie dinge!

Soos Jesus

Vers 24-25 sê dat Jesus se dissipels in volle verbondenheid met Hom moet leef. Ons sal ervaar wat Jesus ervaar het. Jesus is uitgeskel en vervolg. Sy navolger sal dieselfde kwesbaarheid en broosheid, lyding en vervolging, soortgelyk soos by Hom, verduur.

Moenie vrees nie

Wanneer hierdie dinge met ons gebeur, is vrees ‘n werklikheid. Daarom handel verse 26 – 31 oor vrees deur drie keer daarna te verwys.

Eerstens word vrees as natuurlike reaksie op verwagte vervolging uit die staanspoor erken. Uit die gedeelte kom vrees in verskillende vorms en verwysings na vore.

“Moet dus nie vir die mense bang wees nie” (26a), verwys terug na 10:17-18: “Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges gésel. Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My.”

Vreesloos uitbasuin

In vers 18b sê Jesus: “Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en die heidennasies van My te getuig”. So sê vers 26-27 dat God se weg in en met die wêreld maar “van die dakke uitbasuin” kan word. Net soos Jesus voorheen nie die skare wou prysgee en laat gaan nie (9:36), kan die blye boodskap nie deur vrees vir mense onderdruk of aan bande gelê word nie.

Trouens, die eerste verwysing na “moenie bang wees nie”, handel nie primêr oor mense se vrees as sodanig nie. Dit handel eerder oor die onverskrokkenheid en toewyding om dit wat in die donker gesê word, in die dag te verkondig, en om dit wat gefluister word, van die dakke af uit te basuin (27).

Familiebande

Dit is nie slegs vervolging deur en vrees vir mense met mag om ons geweld aan te doen wat hiermee ontwapen en ontmasker word nie. Later sien ons in vers 34-37 (en veral 37) dat nie eens familiebande (biologiese bloedbande) en liefde vir huisgenote hierdie onverskrokke toewyding kan troef nie. Christus se bloed oortref dit alles! Sy trou aan ons skep vertroue van ‘n ander orde en koninkryk in ons lewe.

Nóg die geweld van magtiges, nóg die liefde van naasbestaandes is belangriker of deurslaggewender in hierdie lewe en sending. Soos Jesus die skare nie kan los nie en die sending onlosmaaklik deel vorm van wie God is, so behoort Jesus se volgelinge nie sommer deur enige mens – hetsy in hulle wrewel of liefde vir ons – ontwrig te word nie.

Vrees God

Die tweede en derde verwysings na “moenie bang wees of vrees nie” (28 en 31), maak duidelik dat ons nie eintlik van vrees afskeid neem nie, maar net vir God sal vrees. Sodoende word vrees opnuut in sy Bybelse en tradisionele sin beliggaam.

Ons vrees nie meer die dood of wat met die liggaam gebeur nie, want die lewe as sodanig word nie ingeperk tot slegs die liggaamlike nie. Dit word ook nie deur die dood beperk en begrens nie. Wat mense dink en doen met Christus se volgelinge, selfs dreigend met sogenaamde dodelike gevolge, word openbaar as dat dit relatief en ondergeskik is aan die koms en die nabyheid van God se Ryk. Dit beteken nie dat liggame en sake van dood, sterwe en verlies nie vir God saak maak nie — inteendeel! Ons het reeds in 10:8 gehoor: “Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf duiwels uit”, want in die Koninkryk het Hy die mag oor ons dood (en lewe), ons liggame (en siele), trouens, oor alles wat leef en beef.

‘n Vrees wat lewend maak

Daarom word ons geroep om nie afstand van vrees as sodanig te doen nie. Ons moet veel eerder van die doodse vrees vir die donker magte beweeg na ‘n lewende vrees van Hom wat verlig, heel en bevry. Dit is nie hier ‘n geval van een mag vir ‘n ander verruil nie – ons vrees nou maar net ‘n ander mag. Dit is ook nie dat ons dink “better the devil you know than the one you don’t”, ‘n geval van ‘n keuse tussen “the lesser power of evil” nie.

Dit is veel eerder dat ons sal sien God se mag van ‘n totaal ander orde is, ook oor ons. Dit kan ons bevry van ‘n chroniese vrees wat aanhoudend bly spartel en obsessief aan die aardse en eie lewe vasklou (39). God se mag bied aan ons skuiling in sy liggaam (en wonde), sy dood (en opstanding). Kortom: God is by magte om ons sending al dieper in sy eie sending in te trek, sodat ons vertroue volledig op God se trou aan ons berus.

Die laaste woord is nie intimidasie, vrees en die vervolging van mense nie. Dit is of ons bereid is om onsself toe te vertrou en onderwerp aan die Een wat oor die mag beskik om Homself by ons lyding en beproewing (10:29) in te laat (teenoor afsydige toelating). Eintlik gaan dit nie meer oor wat mense aan ons kan doen nie, maar wat God vir ons doen. Daarom vrees ons nie die mense nie, maar God!

Vrees van ‘n ander orde

Aangesien God se mag van ‘n ander orde is, is die meegaande vrees (en gevolglike effek) daarvan ook van ‘n ander orde. ‘n Betekenisvolle onthulling in dié verband is die verwysing in 29b: “En tog sal nie een van hulle [mossies] op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.” Volgens kommentare is daar verskeie vertalingsmoontlikhede. Die kernsaak is egter dat niks met ons buite God se sorg, omgee en voorsienigheid om kan gebeur nie. Wat 9:36 sê, word nou opnuut bevestig!

Na aanleiding van wat in God se ingewande gebeur toe Hy die skare sien, weet ons daar is mag in sy maag, en maag in sy mag. Gevolglik is dit geen apatiese en afsydige toelating, wil en kennis van die lyding waaraan die skepping en skepsels onderworpe is nie. Wat met ons gebeur, gebeur binne God se meelewende, innige en intieme ken van ons elkeen.

Vreeslose vrymoedigheid

In die opvolgende oorgansgedeelte (32-33) hoor ons: Waarvan ons in die sending verlos en bevry word, is nie vrees in die algemeen nie. Ons ontvang ‘n doelbewuste vreeslose vrymoedigheid om in moeilike situasies nie net op God te vertrou nie, maar in die besonder te staan waar God staan en om Hom getuigend op die weg na te volg.

So gesien is sending en geloof (en teologie) nie net ‘n idee, leer of teorie nie. Dit gaan ten diepste oor met wie ons in Hom ís, naamlik ‘n gestuurde gemeenskap van die groot sendingprediker wat hier aan die woord is.

Niks tussen ons en Jesus

In vers 34-39 neem die intensiteit in fokus verder toe. Die radikaliteit en prioriteit van ons vertrouensverhouding met Christus, kom staan tussen ons en ons huisgenote, familie, vriende, naasbestaandes en geliefdes. Die hoogste prioriteit is nie meer die heersende kultuur, liefde vir familie en vriende (en volk, vaderland en moedertaal) nie. Dit is ook nie meer die bekoring, genot, welvaart en aansien wat die verbruikerskultuur met al sy handelsmerke en inkoopsentrums bied nie. Die belangrikste is die groep dissipels wat in volkome verbondenheid op eiesoortige en brose wyse sáám met Christus en ons naaste op weg is.

Die radikaliteit en duursaamheid van die navolging blyk veral in vers 38 wanneer ook ons met die kruis (primêre simbool van verwerping, marginalisering en skande) geïdentifiseer word.

Boodskap

Om die boodskap van hierdie teks uit te spel, gebruik ons die gedagtes van Dietrich Bonhoeffer soos wat ‘n teoloog, Andrew Root, dit vir ons in ‘n boek oor jeugwerk opsom.

Dietrich Bonhoeffer was ‘n Christen-teoloog wat teen Adolf Hitler opgestaan en uiteindelik in 1945 daarvoor tereggestel is. Hy praat dikwels in sy geskrifte oor ons navolging van Jesus. Bonhoeffer waarsku teen “goedkoop genade”. Genade is gratis, maar dit is nie goedkoop nie: dit verander my hele lewe.

Genade word maklik nageboots. Dan is dit leeg, net soos die nabootsing van ‘n gehalteproduk niks werd is nie. Wanneer genade net ‘n idee is – God red my – en nie duur navolging wat my lewe verander nie, het ek genade vervals. Ons teks waarsku teen hierdie nagebootste genade. Dit ken duur genade.

Bonhoeffer waarsku ook dat ons geloof en navolging nie as aantreklik moet probeer bemark nie. Hy sê dit ook met verwysing na jongmense. Ons is dikwels so besorgd dat ons ons jongmense verloor, dat ons onsself wysmaak ons moet die idee van die Christelike geloof aantrekliker maak en vir jongmense bemark.

Geloof gaan om ‘n persoonlike vertrouensverhouding en verbondenheid tussen Christus en sy dissipels op hierdie enige en besondere sendingweg van God, ‘n weg wat getuig van bloedsweet. Indien ons teologie nie wesenlik hierop neerkom nie, is dit geen teologie nie en moet ons ons eers hiervan bevry.

Die genade wat ons verlos en ons volgelinge van Jesus maak, is duur. Bonhoeffer praat van “Grace at a Cost”. Genade is duur, kosbaar en duursaam juis omdat ons nie bloot net ‘n idee, gedagte, lering of program navolg nie, maar Christus in sy volle wese, persoon én werke. Ons verbintenis en vertroue is volledig gesetel in Christus se roeping as volkome Woord van God vir ons en by ons onderweg in die wêreld. Hierdie roeping van Christus tot volle vertroue in sy sending, is allesbehalwe afgehandel en klaar met ons. Trouens, soos ons tot hiertoe agtergekom het, impliseer hierdie vertrouensverhouding ‘n onverskrokke, meervoudige en duursame kwesbaarheid vir God, mekaar, naaste en die wêreld.

Sonder persoonlike betrokkenheid (van albei kante) kan daar dus geen sprake wees van dissipelskap, navolging of enige sending nie.

Die inhoud van ons roeping om Jesus vreesloos na te volg is niks anders as om deel te hê aan die lewe van Jesus self nie. Die punt van ons roeping is duidelik: volle oorgawe aan en inbesitname deur Christus se sending. Indien dit nie die geval is nie, is ons “roeping” nie net goedkoop nie, maar eintlik wesenlik geen geloof of sending meer nie.

Bonhoeffer is bekend vir sy woorde:
When Jesus Christ calls a person, He calls him [or her] to come and die. … The cross is not the terrible end of a pious, happy life. Instead, it stands at the beginning of community with Jesus Christ. Whenever Christ calls us, his call leads us to death.

Wie ter wille van die Gestuurde, wat ons roep om Hom na te volg en deel te word van sy sending hulle lewe verloor, sal dit inderdaad vind (vgl. Matt 10:39). Daarom is ons nie chronies bang vir vervolging nie. Deur deel te neem aan Jesus se werk, deel te wees van sy liggaam, kry ons ook deel aan die heerlike betekenis en heerlike einde van Jesus se bediening.

Om Jesus te volg, ongeag die prys daarvan, is die kroon op die lewe.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 489 “Waak, Christen staan in die geloof vs 1,2,3”

1. Waak, Christen, staan in die geloof
dat niemand jou die kroon ontroof!
Wees wys en dapper, sterk en moedig –
steeds toegewy aan God se werk,
standvastig, onbeweeglik, sterk,
vol ywer, altyd meer oorvloedig –
dan sal jou arbeid in die Heer
tot seën wees, sy Naam ter eer!

2. Wees, Christen, in jou Heer versterk,
want Hy wil altyd in jou werk
om kwaad en sonde te weerstrewe.
Verrig jou taak met vaste hand,
en doen jou woord altyd gestand;
wil daarby rein en matig lewe.
En wil die Here dat jy ly,
o Christen, leer geduld daarby!

3. Beoefen die godvrugtigheid
en wees jou medemens altyd
tot voorbeeld in jou lewenswandel;
Jy moet uit liefde teenoor God,
in opdrag van die groot gebod,
uit liefde tot die naaste handel.
O God, staan met u Gees ons by
sodat u liefde in ons bly.

Seën
Voorganger: Gaan uit en lewe in dankbaarheid vir dit wat God vir jou gedoen het.
Gaan uit en vertel aan ander van God se magtige dade.
Gaan uit en beliggaam God se goedheid en genade, sodat God ook ander deur jou lewe kan seën. Amen.
of
Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.
Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou om aanvalle op jou af te weer.
Die Here is onder jou om jou te dra wanneer jy val.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou om jou te seën.
Die Here is ín jou om jou te lei met sy Heilige Gees.
Só seën die drie-enige God – Vader, Seun en Heilige Gees – jou;
nou en tot in ewigheid.
– Ou Ierse seënbede

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.
3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.