Derde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ons almal ken die een of ander vorm van ‘n epiese verhaal. Goeie voorbeelde hiervan is:

  • Homerus se Odysseus, wat vertel van Odysseus se tien jaar lange reis om met sy geliefde herenig te word,
  • Lord of the Rings van JRR Tolkien, wat strek oor drie dik boeke en
  • die kinderverhaal Finding Nemo, waarin ‘n pa sy vermiste seun gaan soek, “the bone-chilling story of a father who’s son gets kidnapped. The father then goes on a journey of danger and intrigue, facing a most horrible death at times”.

Epiese verhale, elk in eie reg. In 2 Konings 2 lees ons ook ‘n dramatiese epiese verhaal – die verhaal van Elia en Elisa. In Lukas 9 lees ons dat Jesus vasbeslote die pad Jerusalem toe aangedurf het. Psalm 77 loof die God wat altyd en deur alles heen by ons is, en Galasiërs 5 gee vir ons riglyne vir hoe om as vrygemaakte mense te leef

Sleutelteks

2 Konings 2:1-2, 6-14
1Dit is wat gebeur het toe die Here vir Elia in ‘n stormwind in die hemel opgeneem het. Elia en Elisa was van Gilgal af op pad, 2toe Elia vir Elisa sê: “Bly asseblief hier, want die Here stuur my na Bet-El.” Elisa het egter gesê: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle het toe afgegaan na Bet-El.

3Die profetegroep wat in Bet-El was, het na Elisa uitgegaan en vir hom gevra: “Weet u dat die Here vandag u heer bo u kop gaan wegneem?” Hy het geantwoord: “Ek weet dit ook. Bly net stil!”

4Elia sê toe vir hom: “Elisa, bly asseblief hier, want die Here stuur my na Jerigo.” Maar hy het geantwoord: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!”

Toe hulle in Jerigo aankom, 5het die profetegroep wat in Jerigo was, na Elisa gekom en vir hom gevra: “Weet u dat die Here vandag u heer bo u kop gaan wegneem?” Hy het geantwoord: “Ek weet dit ook. Bly net stil!”

6Elia het weer vir hom gesê: “Bly asseblief hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.” Maar hy het geantwoord: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle twee het toe verder gegaan.

7Vyftig man van die profetegroep het ook gegaan en teenoor hulle op ‘n afstand bly staan. Hulle twee het langs die Jordaan gestaan. 8Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na weerskante verdeel, en hulle twee het op droë grond oorgegaan. 9Hulle was net deur, toe vra Elia vir Elisa: “Vra wat ek vir jou kan doen voordat ek van jou af weggeneem word.” Elisa het geantwoord: “Laat daar asseblief ‘n dubbele deel van u gees na my kom.” 10Daarop sê Elia: “Jy vra iets wat moeilik is. As jy my sien terwyl ek van jou af weggeneem word, mag dit dan vir jou so wees; maar indien nie, sal dit nie gebeur nie.” 11Terwyl hulle nog so loop en praat, is daar skielik ‘n strydwa van vuur en perde van vuur! Dit het skeiding gebring tussen hulle twee, en Elia het in die stormwind opgegaan na die hemel. 12Elisa het dit sien gebeur en het bly uitroep: “My vader, my vader, strydwa van Israel en sy perde!” Toe hy hom nie meer kon sien nie, het hy sy klere vasgegryp en in twee geskeur.

13Hy het Elia se mantel wat van hom afgeval het, opgetel, omgedraai en by die kant van die Jordaan gaan staan. 14Toe neem hy Elia se mantel wat van hom afgeval het, slaan die water en sê: “Waar is die Here, die God van Elia?” Ook hy het die water geslaan, en die water het na weerskante verdeel, en Elisa het oorgegaan.

15Toe die profetegroep wat aan die oorkant in Jerigo was, hom sien, het hulle gesê: “Die gees van Elia rus op Elisa.” Hulle het hom tegemoetgegaan en diep voor hom na die grond toe gebuig. 16Hulle het vir hom gesê: “Kyk, by u dienaars is daar vyftig onverskrokke manne; laat hulle asseblief gaan en u heer soek. Dalk het die wind van die Here hom opgetel en op een van die berge of in een van die valleie neergewerp.” Maar hy het gesê: “Moet hulle nie stuur nie.” 17Hulle het egter by hom aangedring totdat hy verleë geraak het, en sê: “Stuur dan maar!” Daarop het hulle vyftig man gestuur wat drie dae lank gesoek het, maar hulle kon hom nie kry nie. 18Hulle het teruggekeer na Elisa terwyl hy nog in Jerigo gebly het, en hy het vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê, ‘Moenie gaan nie?’ ”

WONDERWERKE VAN ELISA
19Die manne van die dorp het vir Elisa gesê: “Kyk, die ligging van die dorp is goed, soos my heer kan sien; maar die water is sleg en die grond veroorsaak misgeboortes.” 20Toe sê hy: “Bring vir my ‘n nuwe skotteltjie en gooi sout daarin.” Hulle het dit vir hom gebring, 21en hy het uitgegaan na die bron van die water, die sout daarin gegooi en gesê: “So sê die Here, ‘Ek het hierdie water gesond gemaak; dit sal nie meer dood of misgeboortes veroorsaak nie.’ ” 22Die water is tot vandag toe gesond, ooreenkomstig die woord van Elisa wat hy gespreek het.

23Hy het daarvandaan opgegaan na Bet-El. Terwyl hy padlangs opgaan, het ‘n groep klein seuntjies uit die dorp gekom. Hulle het met hom die spot gedryf en vir hom gesê: “Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop!” 24Hy het omgedraai en toe hy hulle sien, het hy hulle vervloek in die naam van die Here. Twee bere het uit die bos gekom en twee-en-veertig van die kinders verskeur. 25Daarvandaan het hy na die berg Karmel gegaan, en van daar af het hy teruggekeer na Samaria.

Ander tekste

Ps. 77:1-2, 11-20
Vir die koorleier. Ter herinnering.
Van Asaf. ’n Psalm.
2Ek roep na God om hulp,
ek roep na God, want Hy sal my hoor.
3In my nood soek ek hulp by die Here;
ook in die nag bly my hande
in gebed uitgestrek
sonder om moeg te word;
maar ek vind geen troos nie.

11En ek sê:
“My grootste smart is
dat die Allerhoogste nie handel
soos voorheen nie.”
12Ek wil dink aan
die dade van die Here,
ja, ek wil dink aan
u wonderdade van vroeër.
13Ek wil nadink oor al u werk
en oor al u dade peins.
14Alles wat U doen, is heilig,
o God.Waar is ’n god so groot soos God?
15U is die God wat wonderdade doen;
U het u mag
onder die volke geopenbaar.
16U het u volk deur u krag gered,
die kinders van Jakob en Josef.
17Toe die waters U sien, o God,
toe die waters U sien, het hulle gebewe,
die diep waters het gesidder.
18Die wolke het water uitgegiet,
uit die donderwolke het dit gedreun,
u weerligte het in alle rigtings geblits.
19U donderslae het die lugruim gevul,
weerligstrale het die wêreld verlig,
die aarde het geskud en gebewe.
20U het deur die see gekom,
u weg deur magtige waters gebaan.
Niemand het u spoor gesien nie.
21U het u volk soos ’n kudde gelei
deur die hand van Moses en Aäron.

Gal. 5:1, 13-25
Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.

13Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. 14Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

19Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

Luk. 9:51-62
51Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin 52en boodskappers voor Hom uit gestuur. Hulle het vertrek en in ’n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël. 53Maar die inwoners wou Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem toe op pad was.

54Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?”

55Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys. 56Daarna het hulle die reis voortgesit na ’n ander dorp toe.

Hoe Jesus gevolg moet word
(Matt 8:19–22)
57Terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “Ek sal U volg waar U ook al gaan.”

58Toe sê Jesus vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.”
59Aan ’n ander een sê Hy: “Volg My.”
Maar hy antwoord: “Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe.”

60Toe sê Jesus vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God.”
61Nog een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.”
62Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”

Ekstra stof

2 Konings 2-3 – Die Here is in beheer
Elia wil die einde van sy lewe sonder Elisa tegemoet gaan, miskien om alleen te wees, anders juis as ‘n toets aan Elisa of hy sy leier alleen sal laat of nie.  Ons weet nie regtig nie.

Die wonder by die Jordaan herinner ‘n mens weer aan die ooreenkomste tussen Elia en Moses.  Maar let op dat die simboliese handelinge met die mantel begelei word deur die aanroep van die Here, beide hier met Elia en later met Elisa.  Die mantel het dus nie magiese krag wat outomaties wonderwerke doen nie.  Dit is God wat in beheer is en wonderlike dinge doen.

Elisa se versoek vir ‘n dubbele deel van Elia se gees verwys moontlik na die dubbele erfporsie wat eersgeborenes kon kry (Deut 21:17), waarmee hy eintlik net vra dat hy Elia se opvolger sal wees en nie om twee keer meer effektief as te wees nie.  Dit herinner ook aan die oordrag van die Gees op die 70 oudstes in Moses se tyd (Num 11).

Let op dat Elia in die stormwind weggeneem word, en nie in die wa en perde van vuur nie, soos dikwels verkeerdelik aangeneem word.  Die versoek van die profete om Elia te gaan soek, hoewel vrugteloos, het te make met die gebruik van daardie tyd dat ‘n lyk begrawe moet word.

Die vloek oor Jerigo, wat ook die water besoedel het, word in ‘n wonder deur Elisa opgehef.  Let weereens op dat die sout nie magiese krag het nie, maar dat dit die Here is wat die water bruikbaar maak.

Die straf vir die aantasting van Elisa se gesag as profeet klink vir ons baie wreed.  Hou egter in gedagte 1) dat dit die Here se eer is wat in gedrang is as ‘n profeet geminag word en 2) dat dit in Bet-El gebeur waar sinkretisme beoefen is.  Die tragiese verhaal is dus ‘n harde woord aan ‘n omgewing wat die Here nie wil dien nie en bevestig ook die gesag van Elisa.

Die stryd tussen Moab en Israel is ook bekend uit ‘n inskripsie op ‘n gedenksteen wat by Dibon ontdek is.  Weereens is daar samewerking tussen Israel en Juda.  Elisa word egter opgesoek as die manskappe se water opraak.  Dat hy nie ontbied word, soos ons soms by Elia gesien het nie, wys dat die voorafgaande gebeure by die Jordaan en Jerigo, sowel as die tragiese gebeure met die kinders ‘n ontsag vir Elisa geskep het, selfs by die konings.

Ons kom agter uit die lierspeler wat ingespan word, dat Elisa ‘n ekstatiese profeet was wat ‘n atmosfeer geskep het waarin hy die stem van die Here kon hoor.  Sy voorspelling dat die Here sal voorsien word waar, en hulle kan Moab verslaan.  Die kinderoffer vervul Israel egter met soveel afgryse dat dit hulle keer van ‘n totale verwoesting van Moab.  Mesa interpreteer dit, volgens die inskripsie, as ‘n oorwinning vir homself.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 511

Votum: Psalm 77:12-15

Seëngroet

Lofsang: Lied 494 of Flam 137

Wil van God: Galasiërs 5:13-18

Skuldbelydenis: Lied 495

Genadeverkondiging: Galasiërs 5:1-2, 25

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: 2 Konings 2:1-14

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 489 of Flam 182 [bekend] of VONKK 366

Seën

Respons: Lied 313 Amen

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Lied 511 “Lei U ons, Lig”

Votum
Psalm 77:12-15
12Ek wil dink aan
die dade van die Here,
ja, ek wil dink aan
u wonderdade van vroeër.
13Ek wil nadink oor al u werk
en oor al u dade peins.
14Alles wat U doen, is heilig, o God.
Waar is ’n god so groot soos God?
15U is die God wat wonderdade doen;
U het u mag
onder die volke geopenbaar.

Seëngroet

Lofsang
Lied 494 “Gelukkig is die mens” of
Flam 137 U Is En Bly

Wil van God: Galasiërs 5:13-18
13Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. 14Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

Skuldbelydenis
Lied 495 “Jesus, U verbly my”

Genadeverkondiging: Galasiërs 5:1-2, 25
Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.
25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

Geloofsbelydenis

Liedere

F137. “U Is En Bly”
(RUBRIEK: Flam – Lof, Geloof en vertroue)
Teks en musiek: Derek de Bruin
© MAR Gospel Music Publishers
(Ps 23 en Gen 22:14)
Jahwe Jireh beteken “God voorsien”.
(Opgeneem op Aanbiddingsbelewenis met Moreletapark)

In tye van donker,
in tye van nood
staan ons vas op u Woord.
In tye van donker
in tye van nood
staan ons vas
staan ons op u Woord.

Refrein:
U is en bly Jahwe Jireh,
God wat voorsien
ons God wat vooruitsien.
U is en bly Jahwe Jireh
U is ons God en U sal voorsien.

In elke behoefte klein of groot,
meer as wat ons bid of dink.
In groen weivelde laat U ons rus
U bring ons by waters
waar vrede is
waar vrede is.

Refrein:

F182. “Herder Heer (Herder Jesus)”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue)
Oorspronklik: Rock of Ages
Teks: Augustus M Toplady
Musiek: Thomas Hastings
Afrikaanse vertaling: Koos van der Merwe
© Jack Publishing

1. Herder, Heer, na wie ek soek
ek wil luister as U roep.
Want ek swig ek val en gly
as u stem verdof in my.
Voor U, Heer, kom word ek stil
buig my hart en buig my wil.

Refrein:
Daar is waters in woestyne
by die Herder se fonteine.
As die storms woed in my
sal ek daar my rus kom kry.

2. Wys U my hoe ek moet leef,
leer U my om U te ken.
Ek alleen verbrou en dwaal,
U alleen kan my kom haal.
Op die weg kan U my hou
al is dit styl, al is dit nou.

Refrein:

3. Gee my lig, ontskemer my
as ek wil swig, kom anker my.
Want ek is broos, onvas, onwys,
sal U vir my die pad kom wys.
Waar U spore my heen lei
wil ek wandel wil ek bly.

Refrein: (x2)

VONKK 366 “As die Here ons rig”
Teks: John Henry Sammis, 1887; Afrikaanse weergawe: Jacques Louw 2017 ©
Musiek: TRUST AND OBEY – Daniel Brink Towner, 1887
© Musiek: Openbare besit
© Afrikaanse teks: 2017 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Klassiek – Geloof en Vertroue / Liefde, Dankbaarheid en Diens / Missionaal

1. As die Here ons rig
en sy Woord ons verlig
hoef ons niemand en niks ooit te vrees.
As ons aan Hom behoort
en ons leef uit sy Woord
sal sy goedheid en guns met ons wees.

Refrein
Glo en vertrou. Hy’s die lewe vir jou!
Kom en volg Hom gehoorsaam
deur te glo, te vertrou.

2. God se liefde so groot,
wil ons red van die dood.
Hy wil ons van ons sonde bevry.
Daarom stuur God sy Seun,
as Verlosser en Steun.
Aan die kruis moes Hy vir óns kom ly.

Refrein
Glo en vertrou. Hy’s die lewe vir jou!
Kom en volg Hom gehoorsaam
deur te glo, te vertrou.

3. God se Gees maak ons één
en Hy bind ons elkeen
as gelowiges saam tot sy kerk.
Hy wil ons leer en lei
om sy Naam te bely,
vir Hom voluit te lewe en werk.

Refrein
Glo en vertrou. Hy’s die lewe vir jou!
Kom en volg Hom gehoorsaam
deur te glo, te vertrou.

4. As dissipels stuur Hy
ook vir jou en vir my
na ‘n stukkende wêreld wat ly.
Laat sy liefde ons dring
om genesing te bring
daar waar haat en waar selfsug gedy.

Refrein
Glo en vertrou. Hy’s die lewe vir jou!
Kom en volg Hom gehoorsaam
deur te glo, te vertrou.

5. As die Gees ons verlig
en die Here ons rig,
hoef ons niemand en niks ooit te vrees.
As ons aan God behoort
en ons leef uit sy Woord
sal sy sorg en sy seën met ons wees.

Refrein
Glo en vertrou. Hy’s die lewe vir jou!
Kom en volg Hom gehoorsaam
deur te glo, te vertrou.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing:2 Konings 2:1-14

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Gaan kyk gerus na vorige preekriglyne vir hierdie teks se voorstelle vir familie-oomblik – daar is heelwat praktiese en bruikbare idees.
Of
In aansluiting by die preek kan jy ‘n oorsig gee van Elisa se bediening. Hier is ‘n oulike video-oorsig. Jy kan die klank afsit en die vertelling in Afrikaans doen – jy sal net vooraf die tydsberekening moet oefen. Hier is ‘n voorbeeld van iemand wat Elisa se verhaal in onder 4 minute vertel.

Woord en Fees stel voor:
‘n Kinderoomblik kan hier behels om voor die tyd met iemand (‘n volwassene of ‘n kind) ooreen te kom om jou nie te gehoorsaam wanneer jy ‘n versoek rig nie. Jy kan die persoon vra om hier te wag terwyl jy iets gaan haal of iets wil doen. Elke keer as jy die versoek rig, kan die persoon ongehoorsaam wees en die teenoorgestelde doen. Dit kan ‘n goeie visuele manier wees om gevoelens wat ons aan ongehoorsaamheid koppel, binne elkeen los te maak. Iemand wat ongehoorsaam is of nie na jou luister nie, word negatief beoordeel, maar in hierdie teks is dit belangrik dat Elisa ongehoorsaam is ter wille van God se verhaal. Miskien kan ons daarna verwys as “goeie” ongehoorsaamheid. Soms vra die Here vir ons om ook ongehoorsaam te wees. Talle male in die Bybel moet gelowiges kies wat reg en belangrik is in God se oë. Soms staan wat reg is teenoor die owerhede of die magte van die tyd. Dit vra soms om ongehoorsaam te wees ter wille van ons roeping in God.

Preekriglyn

[Nota: Onderstaande preekriglyn fokus oorsigtelik op die bediening van Elisa. Dit toon aan waartoe die oordrag van Elia se mantel op Elisa alles gelei het.]

Elia gooi sy mantel op Elisa

Daar is min profete wat die verbeelding meer aangegryp het as Elia. Hy was ‘n profeet soos Moses. Nie so sagmoedig soos Moses nie, maar met dieselfde gesag. Die Here het wonderlike dinge deur Elia gedoen (1 Kon 17).

Die hoogtepunt van sy bediening het gekom op die berg Karmel toe die Here Elia gebruik het om die volk uit te daag om te kies wie hulle wil dien, die Here of Baäl. God het met vuur op die altaar en die verbreking van die droogte net daarna geantwoord en Elia se woorde en bediening onomwonde bevestig (1 Kon 18).

Toe Elia net daarna ‘n laagtepunt beleef het, het die Here hom versterk op die berg Horeb met ‘n besondere verskyning in die sagte gesuis van die stilte ná die sterk wind, die aardbewing en die vuur. En ‘n paar opdragte vir hom gegee. Een daarvan was dat die einde vir Elia aangebreek het. Sy profetiese mantel moes aangegee word na sy opvolger, Elisa (1 Kon 19).

Dit is ook dan die eerste ding wat Elia doen in die afhandeling van sy bediening. Ons lees:

19Elia het daarvandaan weggegaan en Elisa, seun van Safat, aangetref terwyl hy ploeg. Twaalf pare osse was voor hom aan die werk; hy was self by die twaalfde paar. Elia gaan toe na hom en gooi sy mantel oor hom.20Hy het die osse net daar gelaat, agter Elia aan gehardloop en gesê: “Ek wil asseblief my vader en moeder met ‘n soen gaan groet, dan sal ek u volg.” Maar hy antwoord hom: “Gaan terug, want wat het ek aan jou gedoen?” 21Hy draai toe om agter hom, neem een paar osse, slag hulle en maak die vleis gaar met die osse se trekgoed. Hy gee dit toe vir die mense, en hulle het dit geëet. Toe maak hy gereed en volg Elia. Hy het sy helper geword. (1 Kon 19:19-21)

Soos Moses sy gesag oorgedra het aan Josua, só dra Elia sy gesag oor aan Elisa.

En met Elia se hemelvaart – een van net drie mense met wie dit in lewende lywe gebeur het: Henog, Elia, en Jesus – gaan die profetiese mantel oor op Elisa. In die negende eeu: 850-800 vC. (Twintig jaar later sou Jona op die toneel verskyn, en dan in die res van die 8ste eeu nog vier profete: Amos, Jesaja, Miga en Hosea). Wat ook beteken dat die oorgang op Elisa ook net vir ‘n tyd was en hy uiteindelik ook weer net een persoon was in die lang suksessie van profete wat die Here op hierdie wêreld ingespan het.

Die Here werk deur Elisa

En dit is wonderlik om te sien hoe die Here eenvoudig voortgaan om deur Elisa te werk, net soos Hy vroeër deur Elia gewerk het. Elisa se gesag as profeet word bevestig deur:

  • sy vermoë om die waters van die Jordaan te verdeel, soos ‘n Josua van ouds (2 Kon 2:13-14) en Moses voor hom by die Rietsee (Eks 14);
  • die reiniging met sout van die fontein buite Jerigo – die vloek oor Jerigo het ook die water besoedel (2 Kon 2:19-22) – ook soos Moses voor hom by Massa en Meriba;
  • die vervloeking van die spottende kinders waardeur ‘n duidelike boodskap aan die mense van Bet-El gegee is dat hulle met hulle Baäl-aanbidding moet ophou. Die tragiese verhaal was dus ‘n harde woord aan ‘n omgewing wat die Here nie wil dien nie en het ook die gesag van Elisa bevestig (2 Kon 2:23-25).

Hierdie profetiese magsvertoon word dwarsdeur Elisa se bediening gesien:

  • Elisa het die weduwee van een van die profete gehelp om haar skuld te betaal met die wonderwerk van die olie (2 Kon 4:1-7);
  • Elisa het ‘n seun aan die onvrugbare Sunemmitiese vrou belowe en toe die kind ná sy dood weer lewend gemaak (2 Kon 4:8-37);
  • Elisa het die effek van die giftige bitterappels wat deur een van die profete seuns gepluk is, opgehef (2 Kon 4:38-41);
  • Elisa het honderd man gevoed met twintig garsbrode en ‘n paar vars koringare, ‘n duidelike voorafskaduwing van die Here Jesus se broodvermeerdering (2 Kon 4:42-44);
  • Elisa het Naäman, die bevelvoerder van die Siriese magte, van melaatsheid genees (2 Kon 5:1-19) ook soos Jesus lank daarna sou doen;
  • Elisa het Gehasi met melaatsheid gestraf vir sy oneerlikheid en gierigheid (2 Kon 5:20-27) ook soos God vir Miriam in die woestyn gestraf het vir haar opstand teen sy gesag;
  • Elisa het ‘n verlore bylkop teruggekry deur dit op die water te laat dryf (2 Kon 6:1-7);
  • Elisa het ‘n Siriese mag verblind en hulle na Samaria gelei om hulle mag te breek (2 Kon 6:8-23); en
  • Elisa het ‘n dooie laat herleef toe dié met Elisa se bene in sy graf in aanraking gekom het (2 Kon 13:20-21).
‘n Verstommende bediening

Hoe dit ook al sy, daar is ‘n paar dinge wat uitstaan in hierdie verhaal van Elia en Elisa wat ons leer hoe die bediening werk, en ek lig ‘n paar daarvan uit.

1. Die Here is in beheer van sy profete
Wanneer Elisa met Elia se hemelvaart in 2 Konings 2 vra dat hy ‘n dubbele deel van Elias se gees kry, verwys hy moontlik na die dubbele erfporsie wat eersgeborenes kon kry (Deut. 21:17). Daarmee vra hy eintlik net dat hy Elia se opvolger sal wees en nie om twee keer meer effektief as Elia te wees nie.

Want, hulle albei het besef, dit is die Here wat in beheer is, nie die profeet nie. Dit is waarom Elia vir Elisa sê, as jy my sien met die weggaan, sal jy die erfgenaam wees. Want, dit is net die Here wat Elisa se versoek kan waar maak.

Die verhaal sê dus vir ons op ‘n onomwonde manier dat dit God is wat in beheer is en wonderlike dinge deur ons bediening doen. Die mantel van Elia wat nou oorgaan op Elisa is net ‘n simbool van Elisa se roeping as profeet. En wys na die Here se gesag wat deur sy werk aan die orde kom.

Wat wel interessant is, is dat Elisa ‘n baie meer charismatiese profeet was as Elia. Hy het tyd geneem om die regte atmosfeer te skep met snaarinstrumente sodat God sy woord aan hom kan gee (2 Kon 3:15).

2. Elisa se bediening was aan gewone mense sowel as aan vernames
Dit tref ‘n mens in Elisa se bediening hoe hy beide gewone mense as vernames bedien het.

  • Ons lees van die arm vrou van ‘n profeet wat hy van ‘n inkomste voorsien.
  • Ons lees van die Sunemmitiese vrou, waarskynlik ‘n bietjie meer welvarend, vir wie hy bid dat sy ‘n kind sal hê.
  • En ook bid dat die Here haar kind uit die dood uit opwek.
  • En hy help die arme profeteseun met die verlore bylkop. ‘n Eenvoudige ding, maar wat ‘n groot impak gehad het.

Maar, dan was Elisa net so gemaklik om vernames te bedien, soos die bevelvoerder Naäman wat hy van melaatsheid genees het, en die konings van Israel en Juda, en selfs van die Arameërs, wat hy met die woord van die Here bedien het. Soms met baie swaar woorde wat die Here hom gegee het om aan hulle oor te dra. In een geval het dit Elisa in trane laat uitbars.

Mag dit van ons ook waar wees. Dat ons bediening gewone mense sowel as magtiges sal aanspreek. Dat ons onbevreesd, maar ook met deernis met mense sal werk in opdrag van die Here.

3. God kan met alles vertrou word
Elisa se verhaal, en natuurlik ook Elia s’n daarvoor, gee vir ons ‘n visie op ‘n God wat ‘n mens met alles kan vertrou. Hy is nie net besorgd oor die groot dinge wat almal se lewens raak nie. Hy is ook besorgd oor die kleiner dinge wat in die alledaagse lewe verkeerd loop. Soos die bylkop wat wegraak.

Maar, dan is God ook in die groot dinge betrokke, hoewel ons dit soms moeilik raak sien, omdat dit slegs vir die geloofsoog sigbaar is.

Elisa ontvang egter die vermoë van God om die onsigbare nie net raak te kan sien nie, maar dit ook vir ander sigbaar te maak. Soos die keer wat Elisa vir Gehasi help om God raak te sien in die konflik met die Arameërs. Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop, dat hy kan sien!” En die Here het geantwoord en Gehasi se oë oopgemaak vir die berg rondom Elisa wat vol perde was, en strydwaens van vuur!

Dit is ook ons rol. Om mense se oë oop te maak dat hulle kan sien.

En dit was vir Elisa moontlik, want hy het naby hierdie God geleef, sodat mense later gedink het dat ook Elisa alomteenwoordig is, en selfs weet wat in die Aramese koning se slaapkamer gebeur!

Elisa het egter ook die Here se barmhartigheid geken wat hy illustreer met die ete wat hy vir die Arameërs in Samaria laat voorsien het, eerder as dat hy Israel se koning toe gelaat het om hulle dood te maak.

4. God soek volledige gehoorsaamheid, en niks minder nie
Elisa het egter ook sy kwota moeilike opdragte gehad.

Hy moes Gasael as koning van die Arameërs salf, eintlik in uitvoering van die opdrag van Elia, en vir Jehu as koning van Israel. Albei geweldenaars.

Toe Elisa die boodskap aan Gasael oordra dat hy koning sal word, het Elisa, die man van God, in trane uitgebars. Toe Gasael hom vra hoekom hy huil, het Elisa gesê:

“Omdat ek weet watter kwaad jy die Israeliete gaan aandoen. Hulle versterkte stede sal jy aan die brand steek, hulle jong manne gaan jy met die swaard vermoor, hulle kinders sal jy te pletter slaan en hulle swanger vroue sal jy oopsny.”

Met die salwing van Jehu het Elisa nie eers self gegaan om hom te salf nie, maar een van sy profete gestuur. En vir die profeet wat hy gestuur het om Jehu te salf, aangesê om so vinnig as moontlik homself daarna uit die weg te maak, want Jehu was ‘n wrede man.

En die verhaal wys vir ons hoe wreed. Jehu het soos ‘n besetene te kere gegaan in sy verwoesting van die vorige koningshuis, die huis van Agab en Isebel. Dit het die grusame uitwissing van 70 van sy nasate ingesluit. Weliswaar in uitvoering van die oordeel van God, maar met geen genade nie. Jehu het selfs die 42 kinders van die Joodse koning, Ahasia, uitgewis, al het die Here dit op geen manier van hom gevra nie. Hy het dus heeltemal oorboord gegaan. Geen wonder dat die latere profete dit veroordeel het, onder andere Hosea wat ‘n paar dekades as Elia later geleef het (Hos. 1:4).

En al het Elisa dit als kon voorsien, het hy nogtans gedoen wat die Here van hom gevra het. Daarmee het Elisa geïllustreer dat die Here gehoorsaamheid vra, selfs al is dit hoe uitdagend. Ons is niks minder aan God verskuldig nie.

Op Elisa se sterfbed is daar ‘n roerende ontmoeting met koning Joas van Samaria, waar Joas Elisa as die leier par excellence van Israel met trane geëer het: “My vader, my vader,strydwa van Israel en sy perde.” (2 Kon 13:14). Hy was soos ‘n een-man weermag van God vir Israel.

Mag dit ook ons nalatenskap wees. Omdat ons gehoorsaam was, en ons die oë van mense oopgemaak het om God te sien.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 489 “Waak, Christen, staan in die geloof” of
Flam 182 Herder Heer (Herder Jesus) [bekend – Rock of Ages]  of
VONKK 366 As die Here ons rig

Seën

Respons
Lied 313 Amen

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.