Derde Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: 2 Konings 2:1-2, 6-14
Ander tekste: Psalm 77:1-2, 11-20; Galasiërs 5:1, 13-25; Lukas 9:51-62

Inleiding

Ons almal ken die een of ander vorm van ’n epiese verhaal. Goeie voorbeelde hiervan is:

  • Homerus se Odyssey, wat vertel van Odysseus se tien jaar lange reis om met sy geliefde herenig te word,
  • Lord of the Rings van JRR Tolkien, wat strek oor drie dik boeke en
  • die kinderverhaal Finding Nemo, waarin ’n pa sy vermiste seun gaan soek, “the bone-chilling story of a father who’s son gets kidnapped. The father then goes on a journey of danger and intrigue, facing a most horrible death at times”.

Epiese verhale, elk in eie reg. In 2 Konings 2 lees ons ook ’n dramatiese epiese verhaal – die verhaal van Elia en Elisa. In Lukas 9 lees ons dat Jesus vasbeslote die pad Jerusalem toe aangedurf het. Psalm 77 loof die God wat altyd en deur alles heen by ons is, en Galasiërs 5 gee vir ons riglyne vir hoe om as vrygemaakte mense te leef.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangslied
Lied 164/NSG 351 “Ons is almal hier te saam”

Aanvangswoord
V: Stuur u lig en u waarheid;
laat dit ons lei.
Ons bring onsself na u heilige berg en na u woonplek.
G: Hoop op God, want ek sal Hom, my God, 
weer dank vir die verlossing wat Hy bring. 
Amen.
– uit Psalm 43:3, 5

Seëngroet
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob,
wat jou gevorm het, Israel:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne.

Genade in die Naam van God die Vader,
vergifnis in die Naam van God die Seun
en vrede in die Naam van die Heilige Gees,
vir elkeen wat God op hulle naam geroep het!

Lofsang
Lied 203:1-3/NSG 33 “Loof die Here, al wat lewe”
Lied 196:1-3/NSG 34 “O kon ek jubel, Hemelvader”
Lied 350:1-3/NSG 9“Praat ek mense, eng’le tale”m>

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Die Ons Vader

Diens van die Tafel

Verootmoediging
Lied 512:1-3/NSG 311 “Nader, my God, by U”

Gepaste nagmaalsformulier

God stuur ons uit

Verbintenis
V: Here, ons God,
u koninkryk duur van ewigheid tot ewigheid
en strek tot aan die eindes van die groot heelal.
G: Laat u koninkryk kom.

V: Here Jesus Christus,
U is die Koning van die konings
wat heers oor alle dinge,
U is Here van die ganse kerk op aarde,
en Koning van my hart.
G: Laat u koninkryk kom.

V: Heilige Gees, U maak die waarheid van die koninkryk aan ons bekend
en maak dit deel van ons lewe.
G: Laat u koninkryk kom.

V: Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
G: Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen.

Slotsang
Lied 486:1, 3, 4/NSG 186 “Bring aan die volke die boodskap”

Preekstudie – 2 Konings 2:1-2, 6-14

Teks

Ons lees hierdie teksgedeelte aan die begin van Koninkrykstyd, slegs drie weke nadat die Pinksterseisoen met Drie-eenheidsondag afgesluit het. In hierdie tyd dink ons na oor God se heerskappy, maar ook hoe die Here deur en in ons elkeen se lewe werk. Deur Christus wat in ons elkeen leef, is ons in staat om baie meer te doen as wat op ons eie moontlik is. Ons word in hierdie week se teks hieraan herinner wanneer ons sien hoe God vir Elia en Elisa gebruik het om wonders te doen.

Alhoewel ons vandag die verhaal van 1 en 2 Konings in ons Bybels in twee dele lees, word dit algemeen aanvaar dat dit eintlik as een volume geskryf is (McKenzie & Kaltner, 2007:193). Die voorafgaande boeke in die Bybel, 1 en 2 Samuel, fokus meestal op Samuel se storielyn as profeet, Saul se ondergang as die eerste koning van Israel, asook Dawid se opgang tot heerser van Israel. Die Koningsboeke sit die verhaal voort met Dawid se seun Salomo. Wat aan die begin van Konings na ’n belowende toekoms vir die volk onder leiding van Salomo lyk, verval in verdeeldheid en ongehoorsaamheid deur Israel, wat op die ou end tot skeuring en ballingskap lei.

’n Mens sou die Koningsboeke in vyf hoofbewegings kon verdeel, naamlik: Salomo se koningskap (1 Kon 1–11); die skeuring van die ryk (1 Kon 12–16); Israel se profete in opstand teen hulle konings (1 Kon 17–2 Kon 8); die volk se verval (2 Kon 9–17); Jerusalem se val en die Babiloniese ballingskap (2 Kon 18–25). 2 Konings 2 pas dus as deel van ’n sentrale middelpunt in die Koningsverhaal.

1 Konings 17 tot 2 Konings 8 volg die verhaal van profete soos hulle teen die vervalle heerskappy van die verskeurde ryk in opstand kom. Die verhaal handel hoofsaaklik oor Elia en Elisa. Die styl van hierdie gedeelte verskil van dié in die res van die Koningsverhaal (Collins, 2004:263). Terwyl die volk se konings hulle op die verkeerde pad lei, staan die profete hulle teen as sterk figure wat die volk na gehoorsaamheid aan God probeer teruglei.

In 1 Konings 17–19, 21 en 2 Konings 1–2 is Elia op die voorgrond. Hy is ’n sterk (selfs charismatiese) figuur wat indrukwekkende wonders doen en teenkanting bied teen die volk se aanbidding van Baäl. Collins (2004:263) meen dat Elia se verhale en wonders van groter teologiese belang is as dié van Elisa. Die rede hiervoor is nie net sy opstand teen Baäl-aanbidding nie, maar ook die feit dat Elia se wonders meestal rondom sosiale geregtigheid gesentreer is (Collins, 2004:263). Elisa se wonders, daarteenoor, dra nie dieselfde gewig of ondertone nie, alhoewel hy dubbel soveel doen.

Hierdie perikoop dien as ’n belangrike oorhandiging tussen Elia en sy opvolger Elisa. In ’n vorige Woord en fees (2006:3) word daar na hierdie perikoop verwys as ’n skarnierteks wat Elia se verhaalsiklus afsluit en Elisa as sy opvolger orden. Die oorgang tussen die twee is ’n belangrike moment in die Koningsnarratief wat ook simboliese gewig dra. Die sentrale punt waarom hierdie oorgangsteks draai, is Elia se hemelvaart in vers 11. Vosloo (2007:520) meen hierdie konsentriese rangskikking (op ’n manier gerangskik dat die hoofstuk klem plaas op ’n sentrale gebeurtenis) is so gedoen om op te bou na Elia se hemelvaart, maar ook sodat die tweede helfte as ’n bewys dien dat Elisa die ware en geloofwaardige opvolger van Elia is. Hierdie oorgee van gesag is die sentrale motief van die perikoop.

In vers 1-6 beweeg Elia van een plek na ’n ander en beveel hy Elisa drie keer om agter te bly (v 2, 4, 6). Dit is asof Elia van Elisa ontslae wil raak. Ontleders is onseker oor waarom Elia dit sou wou doen. Sommige meen dit kon wees om Elisa te toets oor hoe ernstig hy werklik daaroor was om by Elia oor te neem (Vosloo, 2007:520). Elisa wil egter nie toegee nie. Hy slaag die toets en hou aan om sy leermeester te volg. In die teks word hy twee keer (v 3, 5) daaraan herinner dat God vir Elia gaan wegneem. Elisa antwoord elke keer net: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie” (1983-vertaling). Die teks vertel dus iets van die band tussen Elia en Elisa. In vers 6, wanneer Elia vir die laaste keer vir Elisa vra om agter te bly, antwoord Elisa ’n derde keer: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie” (1983-vertaling). Uit hierdie woorde blyk dit duidelik dat Elia nie vir Elisa gaan afskud nie en dat Elisa vasbeslote is om vir Elia tot die einde toe te volg. Dit is op hierdie punt in vers 7 wat dit nie net Elisa is wat Elia vergesel nie, maar ook vyftig ander profete wat op ’n afstand die twee volg soos hulle na die Jordaan stap.

Baie ontleders verwys na Elia as ’n tweede Moses, en na Elisa as ’n tweede Josua (Vosloo, 2007:521). Wanneer ’n mens vers 8 lees, word hierdie vergelyking duidelik. Elia wat sy mantel oprol en op die water slaan, herinner aan Moses wat die Rietsee laat oopgaan (Eks 14–15) sodat die volk droogvoets kon deurstap. Ander gebeure soos dat albei in die een of ander stadium vir hulle lewe moes vlug, ontmoetings met die Here en hulle aanstel van opvolgers, versterk hierdie vergelyking.

Volgens vers 9-10 is Elia baie bewus van wat gaan kom en hy vra Elisa of daar iets is wat hy vir hom kan doen voordat hy weggevat word. Elisa se versoek dat ’n dubbele deel van sy gees oor hom sou kom, lyk met die eerste lees na ’n vreemde versoek. As ’n mens dit egter in die lig van ’n teks soos Deuteronomium 21:17 lees, besef ’n mens dat hier ’n verband getrek word tussen ’n oudste seun en sy pa. Dit gaan hier vir Elisa daaroor om die geloofwaardige opvolger van Elia te wees; dat hy as’t ware Elia se rol en roeping van God met sy weggaan erf. Wat ook interessant is, is die feit dat Elia altesaam sewe wonderwerke gedoen het en Elisa veertien; dubbel soveel as Elia.

Soos vroeër genoem, is vers 11 die hoogtepunt van hierdie gedeelte. Soos Elia en Elisa “gesels-gesels” saamloop, verskyn daar “’n wa van vuur met perde van vuur”. Aangesien niks Elisa van Elia kon skei nie, kom die wa van vuur op die twee afgejaag en skei hulle van mekaar. Daarna is Elia in ’n stormwind opgeneem (nie deur die strydwa soos baie beweer nie). Met hierdie gebeure word Elia die tweede persoon, naas Enoch, in die hele Bybel wat nie gesterf het en begrawe is nie (Collins, 2004:267). Hierdie is ’n belangrike punt wat baie laat glo het dat Elia sou terugkeer aarde toe voor die “dag van die Here kom” (Mal 4:5). Volgens Markus 9:11 en Matteus 17:10 het mense verwag dat Elia voor die Messias sou terugkeer. In die Joodse tradisie word daar ook vir Elia ’n plek by die Paasfees gedek in afwagting van sy terugkeer (Collins, 2004:268).

Ná Elia se hemelvaart word Elisa alleen agtergelaat en hy roep hy uit: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!” (1983-vertaling). Met hierdie woorde word die leser opnuut herinner dat Elia vir Elisa soos ’n pa was, maar ook ’n sterk leier vir Israel. Hy het Elisa onder sy vlerk geneem en hom opgelei. Elia se wegneem is vir Elisa en vir die hele volk ’n verlies. Dit is daarom nie ’n verrassing dat Elisa sy klere skeur nie. Om jou klere te skeur is in die Bybel ’n bekende simbool van rou en ontsteltenis. Elia se mantel wat agterbly, dien as simbool van sy teenwoordigheid, maar ook van sy gesag wat nou aan Elisa oorgedra is. Wanneer Elisa terugkom by die Jordaan en die water met die mantel slaan, verdeel dit ook soos toe Elia dit gedoen het. Dit is dus die fisiese teken wat bevestig dat Elisa waarlik by sy leermeester oorgeneem het as profeet en verteenwoordiger van die Here.

Konteks

Met die lees van hierdie teks moet die leser die konteks waarin dit ontstaan het en geskryf is in ag neem. Konings se narratief is meer as net ’n verhaal; dit is ’n refleksie oor gebeure in Israel se verlede, met gevolglike interpretasies daarvan. Die Koningsboek begin met die twaalf stamme van Israel wat onder leiding van Salomo in een koninkryk verenig is. Voordat die eerste koning, Saul, aangestel is (1 Sam), is Israel regeer deur rigters wat in tye van nood of uitdaging opgestaan het as leiers om die volk weer in die regte rigting te lei. Die redenasie was dat God die koning van Israel is; daarom was ’n menslike koning nie nodig nie. Dit verander egter in 1 Samuel met die aanstelling van ’n koning. Wanneer ’n mens Konings lees, is dit belangrik om te onthou dat die idee van ’n menslike koning wat oor Israel regeer, nog baie nuut is.

Dit is ook belangrik om te onthou dat konings in die konteks van Israel meer was as net leiers of heersers. Dit was veronderstel om mense te wees wat in gehoorsaamheid aan en afhanklikheid van God regeer. Die patroon in hierdie tekste is dus dat ’n koning goed is wanneer hy in afhanklikheid van die Here regeer. Daarenteen is ’n koning as sleg beskou wanneer hy besluite tot sy eie beswil neem en sy rug op die Here en die wet draai.

Buiten hierdie komplekse en belaaide verstaan van wat dit beteken om ’n koning te wees, is daar ook ’n groter narratief ter sprake. Dit is iets wat vroeër reeds baie duidelik gesien word in die boek Rigters. In hierdie tyd, voordat daar nog enige sprake was van ’n koning as heerser, ontwikkel ’n patroon. Dit wil voorkom asof die volk op ’n goeie plek is (gehoorsaam aan God en sy gebooie), maar die pad byster raak en hulle rug op God draai. In hierdie ongehoorsaamheid is die volk verlore, maar God stuur weer ’n rigter om hulle op die regte pad te kry en na God toe terug te lei. Hierdie herhaling is ook belangrik wanneer ’n mens Konings lees. In hierdie geval verskuif die klem egter na die rol van die konings in tye van ongehoorsaamheid. Hoe die koning reageer en of hy self gehoorsaam is aan God, word onder die vergrootglas gebring. Gebruik die koning sy mag en gesag om die volk aan God se wet gehoorsaam te hou, of misbruik hy dit en raak die pad byster?

Soos die verhaal van Konings uitspeel, raak hierdie vraag al belangriker, want dit wil voorkom asof die volk se leiers nie hulle werk doen nie. Die stamme is verdeeld en ongehoorsaam. Die uiteinde hiervan is dat Israel tot ’n val kom en dat die hele volk op die ou end in ballingskap weggevoer word. Hierdie is ’n sentrale narratief in die Ou Testament. Die volk draai hulle rug op die Here, met rampspoedige gevolge. Daarom is die stem van die profete so belangrik in die verloop van hierdie narratief. Dit is die profete wat as verteenwoordigers van God instaan en die nasie geestelik op die regte pad probeer lei. Telkens staan die profete teenoor die korrupte heersers en dien as kritiese stemme teen ongeregtigheid.

Dit is hoekom hierdie verhaal oor Elia en Elisa so belangrik is. In die middel van die groter verhaal wys die skrywers van Konings dat die Here steeds besig is. God het Israel nie vergeet nie. Alhoewel daar onsekerheid kan wees oor die volk en haar konings se feilbaarheid, bly God getrou. Dit is asof die skrywer van Konings wil aandui dat God “agter die skerms” besig is om in te tree en sy volk te waarsku oor die ramp waarop hulle afstuur. Die Here laat die Israeliete nie aan hulle eie wil oor nie, maar bly teenwoordig en laat sy wil hoor deur die profete. Daarom is Elisa se rol as opvolger so belangrik en sentraal in hierdie oorgang in die Koningsnarratief.

Preekvoorstel

Een opvallende element is Elisa se pligsgetroue toewyding aan sy leermeester, Elia. Elisa weier om Elia alleen te los en hou aan om hom te volg, al vra Elia hom om agter te bly. Om bloot te sê Elisa was besorg of het ’n sterk verbintenis met Elia gehad, sou nie die konteks ten volle in ag neem nie. Dit is beslis waar en belangrik vir die gedeelte, maar Elisa het natuurlik ook by Elia gebly sodat hy kon sien hoe sy leermeester weggeneem word en hy sodoende werklik Elia se amp kon erf as sy opvolger (soos ’n seun wat by sy pa erf). Dit word geglo dat iemand in daardie dae nie werklik sy meester kon opvolg as hy nie teenwoordig was met sy meester se dood nie (Woord en fees, 2006:5). Dit was dus nie net Elisa se verhouding met Elia wat belangrik was nie, maar die erns waarmee hy sy roeping beleef het. ’n Mens sou kon vra: Wat sou gebeur het as Elisa agtergebly het en nie aangehou het om Elia te volg nie?

Elia het Elisa jare lank opgelei om as profeet op te tree en by hom oor te neem. Wat sou gebeur het as Elisa besluit het hy wil dit nie deursien nie? Of as hy besluit het om Elia sy eie pad te laat gaan, al het hy goed geweet dat die tyd gekom het vir Elia om weggeneem te word? Soms gebeur dit in ons lewe dat ons al die grondwerk doen, maar wanneer dit werklik saak maak, sukkel ons om in geloof agter Christus aan te loop. Soms het ons al hierdie begronding, maar skiet tekort in ons persoonlike geloofslewe wanneer ons uitgedaag word.

Miskien kan hier ook iets oor gehoorsaamheid gesê word. Dit is belangrik om nie te veel in die teks te probeer inlees vanuit ons eie konteks nie, maar sou ’n mens kon sê dat Elisa se ongehoorsaamheid aan sy leermeester beteken dat hy aan God gehoorsaam bly? Dit is soms moeilik om te onderskei tussen ander se opinies en waarheen God ons werklik roep. Deur aanhoudend Elia se bevel te verontagsaam, is Elisa ’n slegte student, maar ’n goeie gelowige. Hy is ’n voorbeeld van iemand wat sy geloof en roeping deursien.

’n Kinderoomblik kan hier behels om voor die tyd met iemand (’n volwassene of ’n kind) ooreen te kom om jou nie te gehoorsaam wanneer jy ’n versoek rig nie. Jy kan die persoon vra om hier te wag terwyl jy iets gaan haal of iets wil doen. Elke keer as jy die versoek rig, kan die persoon ongehoorsaam wees en die teenoorgestelde doen. Dit kan ’n goeie visuele manier wees om gevoelens wat ons aan ongehoorsaamheid koppel, binne elkeen los te maak. Iemand wat ongehoorsaam is of nie na jou luister nie, word negatief beoordeel, maar in hierdie teks is dit belangrik dat Elisa ongehoorsaam is ter wille van God se verhaal. Miskien kan ons daarna verwys as “goeie” ongehoorsaamheid. Soms vra die Here vir ons om ook ongehoorsaam te wees. Talle male in die Bybel moet gelowiges kies wat reg en belangrik is in God se oë. Soms staan wat reg is teenoor die owerhede of die magte van die tyd. Dit vra soms om ongehoorsaam te wees ter wille van ons roeping in God.

Die profete was baie bewus van hierdie feit. Hulle roeping was om aan God getrou te bly, ongeag die gevolge. Hierdie roeping het nie net in hulle woorde nie, maar ook in hulle dade gemanifesteer. Deur hulleself vir God se plan oop te stel, het hulle wonders verrig en kon hulle as geloofwaardige stem van God dien. Dit is ’n groot verantwoordelikheid. Daar word soveel klem geplaas op Elia se hemelvaart en Elisa se opvolging om te wys dat hierdie figure waarlik geloofwaardige verteenwoordigers van God is. Dit is egter belangrik om mekaar te herinner dat ons nie Elia of Elisa hoef te wees om die Here te dien of om op te staan vir wat reg is nie. In ’n baie gepolariseerde wêreld het ons ook die geleentheid om ’n ander perspektief te bied en daarvolgens te leef.

Dit kan soms moeilik wees om vandag te onderskei waarheen God ons roep en wat dit beteken om Christus te volg. Daar is soveel ander stemme wat inspraak in ons lewe het en dit moeilik maak om God se stem te hoor. Baie kere word daar vir ons gesê “stop hier” of “gaan daarheen”. Die moeilike deel is egter om te onderskei of dit is waarheen ons werklik geroep is. Hoe luister ons na die mense wat die naaste aan ons is? Hoe reageer ons teenoor diegene wat ons die beste ken en wat vir ons baie beteken? Dit kan soms moeilik wees om ’n ander pad te kies wanneer dié wat die naaste aan ons is miskien anders daarna kyk. Hoe reageer ons op die Elias wat inspraak in ons lewe het? Soms kan die mense wat die naaste aan ons is, ons laat afdwaal van die pad waarop Christus ons nooi om te stap. Dit beteken nie dat ons diegene wie se opinies ons respekteer, moet verontagsaam nie, maar soms is daar iets diepers waarheen God ons nooi. Ons het elkeen ons eie roeping en dit is belangrik om in die lewe van Christus gegrond te bly.

Om Christus te volg is ’n daaglikse reis van onderskeiding. Soms is daar vuurwaens, stormwolke en wonderwerke. Ander dae behels dit om geduldig op die Here te wag en moeilike keuses te maak. Die waarheid is egter dat God altyd by ons is; dat ons, soos Elisa, ook die Here se Gees binne ons het.

Mag ons dus met vrymoedigheid (en waagmoed) soek waar die Here ons wil gebruik. Mag ons die weg van geregtigheid stap en aanhou soek, al sê die wêreld ons moet liewer omdraai. Mag ons getrou bly aan ons verhouding met God en mag ons toenemend onderskei wat dit beteken om die Here in ons lewe te volg. Amen.

’n Mens sou ook aan die einde van die diens kon afsluit met hierdie ou Franciskaanse seëngebed:

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef. Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede. Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander. En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie. Amen.

Bibliografie 

Woord en fees. 2006; 1 & 2 Kings. 2021. Beskikbaar by https://bibleproject.com/learn/1-2-kings [2021, Maart 20]; Vosloo, W 2007. 2 Konings Kommentaar, in W Vosloo (red), Die Bybel in praktyk. Vereeniging: Christlike Uitgewermaaskappy; Collins, JJ 2004. Introduction to the Hebrew Bible. Minneapolis: Fortress; McKenzie, SL & Kaltner, J 2007. The Old Testament: It’s background, growth, & context. Nashville: Abingdon.

© Missio 2024 | All rights reserved.