Derde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

God verseker die gemeente dat hulle deur hulle doop met Jesus verenig is en daarom sy kinders is. Hierdie boodskap  bevry sondaars van die knelgreep van twyfel en magteloosheid wat die aanslag van die bose meebring. God se Woord bevry mense van die moedeloosheid van Elia (1 Kon 19) sowel as die magteloosheid van Legio (Luk 8). Die geloofstaal van Psalm 42-43 bied daarom ’n goeie invalshoek tot die ervaring van wat God vandag doen.

Fokusteks

Galasiërs 3:23-29

Ander tekste
1 Konings 19:1-4 (5-7 ), 8-15a;
Psalm 42 en 43 (of Jesaja 65:1-9; Psalm 22:19-28);
Lukas 8:26-39

Galasiërs 3:23-29

Slawe en seuns

21Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God?

Beslis nie! As ’n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou ’n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. 22Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.

23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

4 Hierby wil ek nog dít sê: Solank ’n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van ’n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom. 2Tot die dag wat sy pa bepaal het, staan hy onder toesig van voogde en word sy besittings deur bestuurders beheer.

3En so is dit ook met ons. Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls. 4Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. 6En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! 7Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

Eksegeties

Wanneer ons hierdie teks in Galasiërs lees, is dit geweldig belangrik om veral die volgende twee realiteite te verstaan: Die eerste is die Judaïseerders se wets-beskouing. Hierdie groep gelowiges, wat waarskynlik afkomstig was uit die Joodse tradisie, het vas geglo dat as heidene (veral Grieke) Christene word, hulle die Joodse wet en tradisionele bepalings moet gehoorsaam. Hulle was oortuig dat die geloof in Jesus Christus “aangevul” moet word deur die onderhouding van die wet van Moses. Paulus argumenteer egter dat die wet net ’n soort “noodhulp” vir gelowiges was totdat dit in en deur Christus vervul sou word. Die verlossing in Christus was vir hom volledig. Daartoe hoef niks bygevoeg word nie. Dus, die kruis plus enige iets, is onnodig (lees ook Hand 15:1-21). Die kwessie hier was (v 1): “Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: ‘As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie’” (NAV). Die eerste “sinode” van die kerk moes hieroor uitsluitsel gee. Die tweede is die vryheid wat in Christus is. In Galasiërs 5:13-14 skryf Paulus: “Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’” (NAV).

Paulus se lering oor vryheid is dat net Christus volledig die wet kon vervul. Daarom moet ons nie deur onderhouding van die wet vryspraak by God probeer verkry nie. As jy dit wel probeer doen, loop jy die gevaar om verslaaf te word aan die wet in plaas van Jesus. Dan begin jy die wet dien “asof” dit Christus is. Soos die ou gesegde gaan: “Christenskap is nie ’n godsdiens nie, dis ’n verhouding (met Christus).” Omdat ons nou vry is, moet ons deur die Gees streef om in die “vryheid te bly” deur nie weer sonde te doen nie.

Belangrike konsepte of frases in die perikoop:

Vers 23: Grieks – apokalyptō, beteken “onthul of openbaar” en word in die OAV vertaal met “Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.”

Vers 24: Grieks – paidagōgos, beteken “opsigter, toesighouer of onderwyser” en word in die OAV vertaal as “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe.” Let op die teenstelling met vers 25, “maar nou” (OAV).

Vers 25: Grieks – pantos, beteken “almal”.

Vers 26: “in Christus gedoop.” Grieks – enduō, beteken letterlik “om met Christus geklee te wees.” Frases soos “in Christus”, “almal” en “vry” herhaal telkens in hierdie teksgedeeltes.

Hermeneuties

Om die konteks van hierdie teks nog beter te verstaan, moet ons nog verder teruggaan in die Ou Testament. In Genesis 11, die verhaal van die “Toring van Babel”, probeer die mens “vir homself ’n naam maak” (v 4) en so verklaar hy sy onafhanklikheid (rebellie teen God). Die straf vir dié hoogmoed is die verdeling van die volke. Maar onmiddellik (Gen 12) maak God weer ’n plan met die volke as Hy vir Abraham roep en sê (v 3): “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.” Die belofte is om deur Abraham (en Israel as seën) en dan uiteindelik in Christus, die straf van die toring van Babel (die verdeling van die volke) op te hef.

Daarom is Galasiërs 28:3: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een”,  ’n vervulling van die verbond wat reeds met Abraham aangegaan is. Vers 29 voeg pertinent by: “En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.” Dis soos ’n legkaart wat in mekaar pas.

Daarom was die eerste gemeentes ook multikultureel van aard. Jode en Grieke het saam aanbid, saam deel gevorm van die een geloofsgemeenskap. Dit was natuurlik ’n geweldige kulturele aanpassing vir die Joodse Christene wat voorheen slegs saam met Jode aanbid het. Die trauma wat die transformasietydperk teweeg gebring het, blyk duidelik uit veral twee insidente in die boek Handelinge: (i) Handelinge 10 – Die verhaal van Petrus en Kornelius; en (ii) Handelinge 15 – Die vergadering in Jerusalem aangaande die Joodse gebruik van besnydenis. Prof Scot McKnight sê dat “een van die grootste uitdagings vir die eerste gemeentes was vir die Joodse Christene om nie net heidense Christene te aanvaar nie, maar ook deel te laat voel van die kerk. Om die eenheid van die liggaam van Christus te behou ten spyte van diversiteit.”

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema: Ons toegang tot God deur Christus skep nuwe werklikhede

Rus

Lied

F132. “Uit Een Hart “
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – ekumene,  die kerk)
Oorspronklike titel: One Song of Praise
Teks en Musiek: Bob Fitts
Afrikaanse vertaling: Piet Smit
© Scripture in Song
[Kom ook onder Engelse teks: Kategorie 3 – Multi-kulturele liedere]

Vader van liefde, bron van ons krag
Ons bring in aanbidding ons loflied aan U
Here U het belowe om hier by ons te wees
As ons saam is in U Naam, in waarheid en gees

Jesus, ons Redder, Immanuel
Ons kom ons lewens as lof-offer gee
Ons wil uit een mond u ryk en krag besing
En aan U, o Skepper, Heer, ons loflied bring

Gees van die waarheid, helper uit God
Leer ons om in liefde soos Jesus te dien
En bind ons dan saam, Heer
Soos ons hier voor U staan
Om met liefde in ons hart
Na die wêreld te gaan

Sodat ons uit een hart in eenheid kan bely
Dat U Erekoning is en dit altyd sal bly

Help ons om uit een hart in eenheid te bely
Dat U Erekoning is en dit altyd sal bly

Familie-oomblik

Jy kan tydens die diens foto’s van die gemeente gebruik om ‘n mosaïek prent van Jesus te maak.  Alternatiewelik kan jy die prent vooraf maak en dit vir die kinders wys.  Zoom dan in om te wys dit bestaan uit foto’s van hulle.  Onthou dat jou prent groot genoeg moet wees om die zoom sinvol te maak.  Verduidelik hoe ons almal deel is van mekaar en sáám deel is van Christus.

Laai die programmetjie AndreaMosaic af hier (Ongeveer 8 M.B.)

Skep ‘n lêer met al die foto’s wat jy vir mosaïek-teëltjies wil gebruik.
Klik op “Find Tiles”.
Klik op “Create Collection”.
Kies die lêer wat jy geskep het, gee dit ‘n naam en klik “save”.  Die program skep jou Image Collection.  Dit kan ‘n tydjie neem, afhangende van hoeveel foto’s jy gebruik.

Onder “Step 3” klik op die prent wat jy as “template” wil gebruik vir die mosaïek.  Jy kan ‘n eenvoudige prent van “Jesus” aflaai by
Klik op “Create the Mosaic’s”
Die program maak jou mosaïek.

Speel vooraf met verskillende opsies.  Hoe meer teëls jy per ry gebruik, hoe meer gedetailleerd is jou finale produk, maar hoe kleiner is die foto’s wat jy as teëltjies gebruik.  Kyk hoe lank die verskillende opsies neem om die mosaïek te bou.

Dit is belangrik dat jy jou Image Collection voor die tyd saamstel en dat jy oefen om seker te maak dat die program nie te lank vat om die mosaïek te bou nie.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

As jy mooi kyk, sal jy op Skotse skaapplase een of meer lammetjies sien rondhardloop met ’n ekstra velletjie om hulle lyfies gewikkel.  Dit beteken die lammetjie se ma het gesterf.  So ’n lammetjie het geen kans op oorlewing sonder die versorging van ’n skaapmamma nie.  Maar, sou jy so ’n wesie na ’n ander ooi neem, sal sy dit bloot wegstoot.  Sy sal nie die lammetjie se reuk herken nie, en weet dit is nie haar eie nie.

Gewoonlik het so ’n skaapkudde ook ’n ooi wie se lammetjie gesterf het.  Die skaapwagters neem die dooie lam se vel en wikkel dit om die wees-lammetjie.  Die lam word dan na die ooi geneem wie se kleinding dood is.  Wanneer sy die wees-lammetjie ruik, ruik sy haar eie lam.  In plaas van om die lam te verdryf, eien sy dit as haar eie toe.

Op dieselfde manier, in Christus, word ons deel van God se kudde.  Deur die geloof in Christus is ons almal nou kinders van God, ons is deur die doop deel van Christus (Gal 3:26-28).  (Oorvertel deur Peter Grant,  in ’n preek getiteld “In What Way Is Jesus Christ Different?”)

Ons is in Christus.  Almal wat glo is nou in Christus kinders van God – “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus is julle almal één”.

Konfrontasie in Antiogië

Seker een van die mees onaangename konfrontasies in die Nuwe Testament is dié tussen Paulus en Petrus.  Paulus vertel in Galasiërs 2:11-14 hoedat hy hom in Antiogië openlik teen Petrus moes verset.  In Antiogië het Joodse gelowiges die evangelie dat Jesus die Here is, gedeel met persone van Grieks-Romeinse afkoms.  Handelinge vertel hoedat die Here die gelowiges gehelp het “sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het” (Hand 11:21).  “’n Aansienlike groep mense is tot geloof in die Here gebring”(Hand 11:24).

Saam het hierdie Joodse gelowiges en Griekse bekeerlinge in Christus, soos ’n mosaïek, een gemeente gevorm.  Hulle was een in die Here.

Tydens die werk in Antiogië het Petrus gewoonweg saam met die nie-Joodse gelowiges geëet.  Hierdie gebruik staan teenoor die Joodse wet waarvolgens die nie-Jode onrein was tensy hulle presies die Joodse wet nakom.  Petrus het dit gedoen weens die eenheid van gelowiges in Christus.  Die oomblik toe daar van die Joodse gemeenteleier in Jerusalem, Jakobus, se mense aankom, onttrek Petrus hom egter aan die nie-Joodse gelowiges.  Hy, en ook Barnabas, en ander leiers van die gemeente in Antiogië plaas nou skielik die Joodse wet bo die eenheid in Christus.

Paulus noem dit onomwonde huigelary.  “Toe ek sien dat hulle van die reguit pad van die evangeliese waarheid afwyk, het ek daar voor almal vir Sefas (Petrus)  gesê: ‘Jy is ’n Jood, en jy hou jou nie meer aan die Joodse gebruike nie.  As jy self leef asof jy nie ’n Jood is nie, hoe kan jy dan mense wat nooit Jode was nie, wil dwing om te lewe asof hulle Jode is?’”

In die destydse wêreld het mens nie sommer ’n gesagsfiguur gekritiseer nie.  Petrus was die senior leier, die eerste onder die twaalf apostels.  Die ergste was dat die konfrontasie in die openbaar gebeur het.  In die destydse kultuur was eer en skaamte twee belangrike waardes.  Vir iemand van aansien om in die openbaar sonder die nodige hoflikheidsreëls gekritiseer te word, was ’n groot verlies aan eer.  Dat Paulus dit gedoen het, wys daarop dat die hart van die evangelie vir hom aangetas was.

Hoe word ek deel van God se volk?

Die wesenlike vraag in die Galasiërbrief is: hoe word mens deel van die volk van God?  Paulus worstel hier met die gemeentes in die Romeinse streek of provinsie Galasië waar Jode sterk invloed in die kerk gekry het.  Vir hierdie Joodse Christene word mens nie net deur geloof in Christus deel van die kerk nie.  Daar kom iets by.  Jy word ook deel van die geloofsgemeenskap deur die Joodse wet te onderhou.  Jy moes jouself laat besny en die Joodse wette rondom voedsel en voedselvoorbereiding nakom.

Om ’n Christen te wees, was dit nie genoeg om in Jesus te glo nie. Jy moes ook ’n Jood word.

Dit is nie die pad van die evangelie nie.  Jesus is die enigste deur tot die Vader.  Daarom eet Petrus in Antiogië saam met die nie-Joodse Christene en aanvaar hulle as mede-gelowiges, al is hulle nie besny nie en al onderhou hulle nie die Joodse wette nie.  Die oomblik toe daar egter voorstanders van die besnydenis opdaag, mense wat van die nuwe bekeerlinge verwag om die Joodse identiteit aan te neem, is daar moeilikheid in Antiogië.

Petrus se afsydigheid in die teenwoordigheid van die Joodse voorstanders van die besnydenis, dui daarop dat die wet, naas Christus, gelowiges se identiteit stempel en bepaal of hulle deel kan wees van die volk van God.  Dit is nie die evangelie nie, dit is ’n ander, valse evangelie.  Dit is ’n verdraaiing van die ware evangelie, en die vloek van God sal iemand tref wat dit verdraai (Gal 1:8).

Daarom herhaal Paulus oor en oor: net deur Christus kom daar versoening met God.  En: net deur Christus kry jy toegang tot die geloofsgemeenskap.  Dit maak nie saak of jy Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie (hier noem Paulus van die groot sosiale skeidslyne van die destydse wêreld): in Christus Jesus is julle almal één!

Waarom is dit belangrik?

Protestantse Christene het ’n slegte geskiedenis as dit kom by die skeuring van die kerk.  Ook ons het nie vreeslik hoë agting vir die eenheid van gelowiges in Christus, ingebind in die een liggaam van die Here nie.

Die godsdiens-sosioloog Rodney Stark vertel die geskiedenis van die antieke Antiogië, toneel van die konflik tussen Petrus en Paulus, in sy boek The Rise of Christianity.  Wanneer mens dit lees, besef jy waarom die konkrete en praktiese eenheid van ’n verskeidenheid gelowiges in Christus die hart van die evangelie en die krag van die evangelie is.

Antiogië

Antiogië was die vierde grootste stad in die Romeinse Ryk in die tyd van die Nuwe Testament.  Stede was verskriklike plekke.  Stark verduidelik dit aan die hand van die volgende gegewens:

  • In terme van oppervlak was Antiogië, soos ander Romeinse stede, baie klein, so 2 myl by 1 myl (3.2 km by 1.6 km).  ’n Groot deel hiervan is deur openbare geboue, tempels en parke in beslag geneem.  Die bevolking was 150,000 mense, wat ’n bevolkingsdigtheid 195 inwoners per akker (“acre”) gee.  Vergelyk dit met Chicago (21 persone per akker), San Franciso (23) en New York (37) of Calcutta (122).
  • Antiogië was ongelooflik oorbevolk, mense was ingedruk, met feitlik geen privaatheid nie.  Die meeste gesinne het waarskynlik oor slegs een kamer beskik waarin alles gedoen moes word.  Die strate was ongelooflik nou, en mens moes dit deel met diere soos perde en osse.  Selfs die heel breedste straat in Antiogië, bewonder deur die hele Romeinse Ryk, was 9 meter wyd.
  • Romeinse stede het geen rioolsisteme gehad nie.  Was daar publieke toilette, was dit slegs vir die gebruik van ’n paar bevoorregte ryk persone.  Kamerpotte en rioolputte was die res van die bevolking se voorland.  Potte is dikwels sommer uit die boonste verdieping op straat leeggemaak.  Die openbare baddens was ook slegs vir ’n paar persone beskore.  Aangesien seep nog nie uitgevind is nie, en water aangedra moes word huise toe, was die bevolking nie juis gewoond aan bad nie.
  • Stark skryf:

Given limited water and means of sanitation, and the incredible density of humans and animals, most people in Roma cities must have lived in filth beyond our imagining.  Tenement cubicles were smoky, dark, often damp, and always dirty.  The smell of sweat, urine, feces, and decay permeated everything; dust, rubbish, and filth accumulated, and finally bugs ran riot.  Outside, on the street, it was little better.  Mud, open sewers, manure, and crowds.  In fact, humans corpses – adult as well as infant – were sometimes just pushed into the street and abandoned.  The stench of these cities must have been overpowering…

  • Waar daar vullis ophoop, insekte versamel, en ’n hoë konsentrasie van mense is, is daar ’n oorvloed siektes.  Daar was nie seep, antibiotika of kennis van bakterieë nie.  “The Roman city was a pesthole of infectious disease,” sê Stark.  Daarom was die gemiddelde lewensduur van mense, veral stedelinge, destyds baie laag.  Die bevolking het met siektes gesukkel, en vroeg gesterf.  Die stede was daarom afhanklik van ’n voortdurende toevloei van mense uit die platteland om hul bevolkingsvlakke in stand te hou.  Waarom het mense hoegenaamd verstedelik?  Antiogië was ’n belangrike vestingstad met baie soldate.  Soldate verdien goeie salarisse en daar kon handel gedryf word en produkte van die hand gesit word.
  • Enige stad se bevolking word onstabiel wanneer daar ’n voortdurende invloei van nuwelinge is.  Dit verhoog die potensiaal vir misdaad.  Daar is nie ’n verenigde tradisie of gemeenskaplike moraliteit nie.  Oproer was ’n gevreesde verskynsel in Romeinse stede, iets waarvoor die stede baie vatbaar was.
  • Aangesien die Romeine baie volke oorwin het, was Romeinse stede ook die versamelpunte van mense wat etnies uiteenlopend was.  Hierdie mense het letterlik en figuurlik hulle mes vir mekaar in gehad.  Die Romeine het die stad daarom in sektore verdeel wat dikwels met mure afgeskort was.  Daar is aanduidings dat Antiogië 18 ghettos of etniese woonbuurte gehad het.  Na donker was dit lewensgevaarlik om jou huis te verlaat.

Alles in ag genome was stede lewensbedreigende plekke.  Redding en verlossing was nodig.  Spesifiek publieke redding en verlossing.  Vir Antiogië het die dag van redding aangebreek toe Joodse gelowiges, anders as op ander plekke, ook die evangelie aan die nie-Joodse inwoners verkondig het (Handelinge 11).  Antiogiërs het vir Jesus Christus as Here aanvaar, wat beteken het ’n nuwe geloofsgemeenskap het ontstaan waarbinne almal welkom was, Griek, Romein, Jood, barbaar, slaaf en vryman, man en vrou.

Hoe red die evangelie Antiogië?

Wat gebeur wanneer ’n nuwe gemeenskap van mense wat vir mekaar omgee, mekaar trouens lief het en mekaar versorg, ongeag etniese agtergrond, tot stand kom in ’n geweldgeteisterde, siek stad?  Wat gebeur wanneer tradisionele vyandigheid afgebreek word binne ’n nuwe gemeenskap wat geleer word om lief te hê eerder as te vergeld, om vir ander om te gee eerder as om jou eie belange te dien?

Wat gebeur wanneer die Heilige Gees die liefde van God in mense se harte uitstort (Rom 5:5) en hulle leer om in vrede met ander te lewe?  Wat gebeur wanneer siekes versorg word, ongeag hulle agtergrond, en waar ’n nuwe, verenigde gemeenskap tot stand kom?

Die antwoord is eenvoudig: die boodskap van Jesus en die één, nuwe gemeenskap wat Hy deur die getuienis van sy volgelinge geskep het, het stede veiliger plekke gemaak.  Die misdaad het gedaal.  Liefde en versorging het gestyg.  Mense is geler om vir mekaar om te gee.  Die publieke ruimtes het veiliger geword.

Daarom, sê Rodney Stark, het die Christelike geloof soos ’n veldbrand deur die Romeinse stede versprei.  Jesus het werklik konkrete, praktiese hoop vir mense gebring.  Die geloof in Jesus het mense saamgebind, aan hulle identiteit verskaf, en hulle gemeenskappe getransformeer,

…providing new norms and new kinds of social relationships able to cope with many urgent urban problems.  To cities filled with the homeless and impoverished, Christianity offered charity as well as hope.  Top cities filled with newcomers and strangers, Christianity offered an immediate basis for attachments.  To cities filled with orphans and widows, Christianity offered a new and expanded sense of family.  To cities torn by violent ethnic strife, Christianity offered a new basis for social solidarity.

Die volle omvang van ons redding in Christus

Daar is goeie aanduiding dat die Matteus-evangelie in Antiogië geskryf is.  Dink aan die publieke en sosiale impak van die evangelie wanneer mense in Jesus se naam geleer word om die gevangenes te besoek, die naaktes te klee, water en belangstelling, liefde en genade te gee aan mense wat dit ontbeer (Matt 25).  Dit ontketen ’n sosiale hervorming wat nie grense ken nie.

Die evangelie red ons nie net van die hel wat na hierdie lewe aanbreek nie.  Dit red ons ook van die hel duskant die graf, van geweld en misdaad, sosiale disintegrasie en publieke chaos.  Ons redding het nie net te doen met waar ons die ewigheid deurbring nie.  Die evangelie red ons nou reeds, en skep ’n nuwe, alternatiewe gemeenskap wat die bestaande sosiale orde omkeer en vernuwe, omdat die mense verander en tot ’n nuwe gemeenskap saambind, die liggaam van Christus.

Die evangelie doen dit omdat Christus mense, ten spyte van hul herkoms, saambind tot ’n nuwe mensheid.  Die Nuwe Testament sê dat dit hoort tot die kern van die ware evangelie.  Wie die evangelie ontkrag deur mensgemaakte, etniese voorkeure te wil gebruik om toegang tot die nuwe mensheid in Christus te beperk, skep ’n valse evangelie.

Soos Paulus in ons teks sê: Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

Suid-Afrikaanse samelewings het gelowiges nodig wat die transformerende krag van die evangelie onverskrokke uitleef.  Almal in hierdie land wat deur Christus toegang tot die Vader gekry het, is saamgebind tot een, nuwe mensheid.  Ons is aan mekaar gegee.  In die mate wat ons dit uitleef, na mekaar uitreik, mekaar vind, mekaar liefhet en dien, sal ons die veranderende krag van die evangelie in ons samelewings beleef.

Die manier hoe Westerlinge die evangelie vervals (Gal 1:7,8) is om van die evangelie ’n private, persoonlike ervaring te maak wat net met my binnekamer en my belewenis van God te doen het.  Intussen is ons in ons samelewings die slagoffers van sosiale onstabiliteit, misdaad, geweld en moord.  Ons het Christene nodig wat die samelewing takel, wat ons broers en susters in die Here wat anders as ons is, ontdek, en tot vennote in diens van Christus maak.  Ons het ’n evangeliese sosiale agenda nodig.

Dit is wonderlik bemoedigend om te sien hoeveel gelowiges reeds hierdie werk doen.  Talle gryp bv die Wêreldsokkerbeker aan as geleentheid om gemeenskappe oor grense met mekaar te konnekteer in diens van God en gemeenskap.

Gaan ons dit doen?

Een van die grootste gevare vir die kerk is om sekere dinge te glo en selfs te bely in netjies geformuleerde belydenisskrifte, maar dit dan glad nie uit te leef in die praktyk nie! Dit wat ons sê en doen verskil hemelsbreed van mekaar.

Paulus (Gal 3) trek ’n streep deur alle kulturele, ekonomiese en geslagsgrense wat mense gebruik om verdeeldheid in stand te hou, as hy sê (v 28): “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”  Nou is die toets of hulle dit nie net glo nie, maar ook gaan leef?

Tot vandag toe nog skep hierdie teks vir ons “probleme”. Ons praat nog van die “mense van die onderdorp” of die mense in die “lokasie”, die “haweloses wat ons stad so vervuil”, of “die prostitute wat ons moet wegjaag”. Wat daarvan as hierdie ongemaklike mense deel sou word van ons gemeentes, “ons” selgroepe? Wat daarvan as “ons” hulle moet gaan nooi om deel te word van hierdie liefdevolle familie wat ons die kerk noem? Hierdie kerk wat in haar wese verstaan en bely dat die Vader ons só lief gehad het dat Hy sy enigste Seun gestuur het (uit die gemak van die hemel; vgl Fil 2:6) om vir ons te sterf. Hierdie kerk wat verstaan dat hierdie optrede van die Vader die nuwe maatstaf raak van hoe ons ander mense moet liefhê (1 Joh 4:7-10).

Gaan ons soos Skotse skaapooie aan lammertjies snuif en hulle verwerp omdat hulle letterlik of figuurlik nie reg ruik nie?  Of gaan ons die bedoelinge van God dat sy kerk ’n ryke mosaïek is wat publieke redding bring omhels en uit hierdie nuwe werklikheid leef?

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle en moontlikhede om dit liturgies aan te voer:

  • Vra vooraf lidmate om kortliks verhale te vertel van gelowiges wat oor grense hande gevat het en genesing vir gemeenskappe gebring het.
  • Reël met lidmate om voorbidding vir die gemeenskap te doen.  Dink aan bepaalde sosiale nood of sistemiese siektes wat toepaslik is op julle gemeenskap waarvoor in gebed om die Here se ingrype gebid kan word.
  • Beeld julle gemeente se sosiale betrokkenheid waarderend uit, bv deur ‘n Powerpoint-aanbieding, en dink aan kreatiewe weë hoe Christene wat oor grense heen hande vat hierdie werk meer effektief kan doen.  Verbind die gemeente aan konkrete maniere om dit te doen.
  • Bely julle aandeel aan die saai van verdeeldheid, of julle apatie aan lewenseenheid onder Christene in gebed voor die Here.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.