Derde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Aangesien die sleutelteks vandag die vorige Sondag se teksgedeelte afsluit, sal die liturgie ook by dieselfde tema aansluit. Die boodskap in al die teksgedeeltes wentel steeds om vertroue in God wat gehoorsaamheid aan God se sending moontlik maak. Abraham se gehoorsaamheid dra daarom steeds verrassende vrug. Die psalm spreek van grenslose vertroue en Romeine spoor ons aan tot ’n nuwe gehoorsaamheid aan God. Die vrug daarvan is die ewige lewe. Dit is dieselfde vrug waarvan Jesus ons in Matteus 10 verseker. Ons vier dus die vertroue wat God ons gee en verbind ons tot gehoorsaamheid.

Ander tekste

Genesis 22:1-14
Abraham moet vir Isak offer
22 ’n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Abraham!”
Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

2God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”

3Vroeg die volgende môre het Abraham ’n donkie opgesaal en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Toe het hy vertrek na die plek toe wat God vir hom aangewys het. 4Op die derde dag het Abraham die plek uit die verte gesien. 5Toe sê hy vir sy slawe: “Wag hier met die donkie. Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe.”

6Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en ’n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop, 7sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?”
Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”

8Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”
Daarna het hulle twee saam verder gestap. 9Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar ’n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout. 10Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag, 11roep die Engel van die Here uit die hemel na hom:
“Abraham, Abraham!”
Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

12Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

13Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom ’n skaapram wat aan sy horings in ’n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer. 14Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.”

15Die Engel van die Here het weer uit die hemel na Abraham geroep 16–17en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê ’n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem. 18In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.”

19Daarna is Abraham terug tot by sy slawe, en hulle het almal saam na Berseba toe gegaan. Abraham het daar gewoon.

Psalm 13
Hoe lank nog, Here?
13 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Hoe lank gaan U my nog
bly vergeet, Here?
Vir altyd?
Hoe lank gaan U nog
van my af weg kyk?
3Hoe lank moet ek nog
my eie planne maak
en my dae met kommer deurbring?
Hoe lank sal die vyand my nog
oorheers?
4Luister tog en antwoord my,
Here my God!
Gee my tog nuwe lewenskrag.
Ek wil nie sterwe nie,
5anders sê my vyand hy het my oorwin
en juig my verdrukkers
oor my ondergang.
6Ek hou vas aan u troue liefde,
oor die uitkoms wat U gee,
juig my hart.
Ek wil sing tot eer van die Here,
omdat Hy aan my goed gedoen het.

Romeine 6:12-23
Dood vir die sonde, maar lewend vir God
6 Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? 3Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. 5Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. 6Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 7Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 8Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 9Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. 10Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. 11Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.

12Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

In diens van wat God wil
15Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie. 16Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. 17Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het. 18Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen.

19Weens julle beperkte begrip gebruik ek ’n beeld uit die alledaagse lewe: soos julle elke deel van julle liggame in diens van sedelike onreinheid en wetteloosheid gestel het en losbandig gelewe het, so moet julle nou elke deel van julle liggame in diens van God stel om heilig te lewe. 20Toe julle slawe van die sonde was, was julle nie in diens van God nie. 21Wat was die vrug wat dié dinge waaroor julle nou skaam kry, toé vir julle opgelewer het? Die uiteinde van dié dinge is die dood. 22Maar nou—julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. 23Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

Fokusteks

Matteus 10:40-42
Ons haal hier meer aan ter wille van die konteks vir die perikoop.

Jesus gee opdragte aan die twaalf
(Mark 6:7–13; Luk 9:1–6)
5Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee:
“Moenie met ’n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in ’n dorp van die Samaritane ingaan nie. 6Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe. 7Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’8Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.

9“Moenie vir goud of silwer of koper in julle beursies sorg nie 10en moenie vir die pad ’n reissak aanskaf of nog ’n kledingstuk of skoene of ’n stok nie. ’n Arbeider is tog geregtig op onderhoud.

11“As julle in ’n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit. 12As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe. 13As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug. 14As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af. 15Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp.”

Vervolginge wat voorlê
(Mark 13:9–13; Luk 10:3; 21:12–17)
16“Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe. 17Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel. 18Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig. 19Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. 20Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.

21“Die een broer sal die ander uitlewer om doodgemaak te word, en selfs ’n pa sy kind; kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. 22Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word. 23As hulle julle in een dorp vervolg, vlug na ’n ander een toe. Dit verseker Ek julle: Julle sal sekerlik nie klaar wees met die dorpe van Israel voordat die Seun van die mens kom nie.

24“’n Leerling is nie hoër as sy leermeester en ’n slaaf nie hoër as sy eienaar nie. 25’n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester, en ’n slaaf as dit met hom gaan soos met sy eienaar. As hulle die hoof van die huis die skeldnaam Beëlsebul gegee het, sal hulle dan nie sy huisgenote met baie erger name uitskel nie?”

Wie gevrees moet word
(Luk 12:2–7)
26“Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. 27Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin. 28Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.

29“Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Aansporing om Christus te bely
(Luk 12:8–9)
32“Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. 33Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.

Jesus bring nie vrede nie maar die swaard
(Luk 12:51–53; 14:26–27)
34“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. 35Ek het gekom om tweedrag te bring
‘tussen ’n man en sy vader
en tussen ’n dogter en haar moeder,
tussen ’n skoondogter en haar
skoonmoeder;
36ja, ’n man se huismense sal sy vyande
wees.’

37“Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. 38Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.

39“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

Beloning
(Mark 9:41)
40“Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. 41Wie ’n profeet ontvang omdat hy ’n profeet is, sal ’n profeet se beloning ontvang; en wie ’n goeie mens ontvang omdat hy goed is, sal ’n goeie mens se beloning ontvang. 42Wie aan een van hierdie geringstes net ’n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”

11 Toe Jesus klaar was met die opdragte aan sy twaalf dissipels, het Hy daarvandaan weggegaan om die mense in hulle dorpe te leer en vir hulle te preek.

Jesus en die vraag van Johannes die Doper
(Luk 7:18–35)
2Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge ’n boodskap aan Hom gestuur om te vra: 3“Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?”

4Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: 5Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. 6En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”

7Toe hulle weggaan, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na ’n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? 8Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ’n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry ’n mens in koninklike paleise. 9Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ’n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as ’n profeet. 10Dit is hy van wie daar geskrywe staan:
‘Kyk, Ek stuur my boodskapper
voor jou uit;
hy sal die pad vir jou regmaak.’

11“Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy. 12Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself ’n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit. 13Al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer, 14en as julle dit wil aanvaar: Johannes is die Elia wat sou kom. 15Wie ore het, moet luister.

16“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:
17‘Ons het vir julle op die fluit gespeel,
en julle het nie gedans nie!
Ons het ’n treurlied gesing,
en julle het nie gehuil nie!’

18Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’19Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

Ekstra stof

Hier is ’n ekstra bydrae oor hoofstuk Matteus 10. Dit plaas die perikoop vir dié Sondag in konteks van sewe perspektiewe wat Jesus sy dissipels gee om hulle te motiveer om Sy bediening voort te sit.

Matteus 10 – Jesus motiveer en rus die twaalf dissipels toe om Sy bediening voort te sit
Matteus sluit die voorafgaande gedeelte oor die krag en missie van die koninkryk af met die tweede belangrike toespraak van Jesus, die uitsendingsrede, wat onderrig aan die dissipels gee vir die taak waarvoor Jesus hulle uitstuur. Dit gee sewe perspektiewe wat die dissipels vir hulle taak moet motiveer en versterk, ten spyte van die werklikheid van vervolginge, uitdagings, verdeeldheid.

Matteus vertel egter nie hoe dit met hulle op dié sending gegaan het nie. Markus en Lukas daarenteen vertel wel ook van dié uitsending, maar baie korter en met ’n kort beskrywing van die resultaat op hulle werk (Mark. 6:7-13; Luk. 9:1-6). Lukas vertel daarby ook van die uitsending van die 72, iets wat ons net by Lukas aantref, hoewel ’n gedeelte van Jesus se woorde aan dié sendelinge op ’n ander plek in Matteus herhaal word (Matt. 11:20-24).

1. Dit is Jesus wat die twaalf dissipels uitstuur – Matt. 10:1-4
Let op dat Matteus die twaalf beide dissipels as apostels noem. Dit is net dié twaalf wat apostels in sy evangelie genoem word waarmee aangedui word dat hulle die gesagvolle verteenwoordigers en gestuurdes (dit is wat die Griekse woord apostel beteken) van Jesus is. Hulle kan dus staatmaak op Sy gesag in die uitvoering van hulle roeping.

Hier is ’n paar opmerkings oor die onderskeie lyste van die twaalf in die evangelies en ook in Handelinge.

2. Jesus gee inhoud aan hulle opdrag – Matt. 10:5-15
Dit is belangrik om die konteks te verstaan waarvoor Jesus die opdragte gee dat daar nie voorsiening vir geld en ’n reissak met allerlei benodigdhede gemaak word nie. Die twaalf dissipels word vir eers net na die mense van Israel gestuur, op wie se gasvryheid en ondersteuning hulle kan staatmaak. Dit is daarom nie ’n opdrag vir alle sendelinge van alle tye nie. Waar ’n mens in ongasvrye omgewings ingestuur word, sal ander opdragte van die Here geld.

Die taak waarvoor Jesus hulle uitstuur, word uitgespel as die verkondiging van die koninkryk, die genesing van siekes, die opwekking van dooies, die reiniging van melaatses en die uitdryf van demone – presies wat Jesus tot dusvêr gedoen het (10:7-8). Net soos Jesus dit gratis gedoen het, moet hulle ook. Die enigste weglating uit Jesus se bediening in die vorige twee hoofstukke is die vergifnis van sonde, hoewel die vrede wat Jesus vra dat hulle vir die huismense skenk (of laat terugkeer) ’n interessante ekstra opdrag is.

Die waardigheid (gesindheid, soos dit in die N.A.V. vertaal is) van die huismense al dan nie, wat bepaal of hulle die vrede kan behou, dui nie op een of ander verdienste aan hulle kant nie, maar of hulle ontvanklik daarvoor is of nie, wat duidelik sou word uit die feit of die dissipels verwelkom word of nie.

3. Jesus berei hulle voor vir die werklikheid van vervolginge – Matt. 10:16-25

Dit is opmerklik dat Matteus met hierdie perikoop die uitsendingsrede aanpas met opmerkings wat eintlik met die sending na die heidennasies te make het, iets wat wel sin maak in sy skrywe aan die geloofsgemeenskap in Sirië wat besig is met die Groot Opdrag, maar nie werklik inpas in die aanvanklike uitsendingsrede aan die dissipels nie, behalwe as ’n mens dit as ’n soort profetiese vooruitskouing sou beskou.

Dit sien ons in die feit dat daar hier van prokurators (goewerneurs) en konings gepraat word aan wie die dissipels uitgelewer sal word, dat hulle voor heidennasies sal getuig en dat die Gees van die Vader, wat op dié punt nog nie uitgestort is nie, deur hulle sal praat. Vergelyk dit met die eerste paar opdragte dat hulle juis nie na die heidennasies moet gaan nie, selfs nie na die Samaritane nie (vers 5).

Die eskatologiese karakter van die volgende verse daarna, vers 21-23, waar van ’n onvoltooide sending aan die Jode gepraat word by die (weder)koms van die Seun van die mens, dui ook daarop dat dit ’n woord van Matteus aan sy lesers in Sirië is, uiteraard gekoppel aan die boodskap van Jesus.

Omdat Matteus dus sy lesers wil aanmoedig om hulle huidige taak uit te voer, om die evangelie na die heidennasies te neem, sluit hy dié gedeelte hier in. Daarby waarsku hy hulle skerp teen die heel ander omgewing wat hulle onder die heidennasies sal aantref, een waar hulle behoedsaam soos slange en onskuldig soos duiwe moet wees. Hulle moet dus wys wees en op hulle hoede vir die listigheid van mense, terwyl hulle sorg dra dat hulle in alles onberispelik optree. Daarmee sal die Gees van hulle Vader hulle help.

Matteus wy uit oor die verdeeldheid wat selfs in huisgesinne voor sal kom, sowel as die verguising en vervolging wat hulle sal beleef, iets wat hulle natuurlik in Jesus self raakgesien het en uit wie se voorbeeld en teenwoordigheid hulle krag en motivering kan put.

4. Jesus bemoedig hulle om nie bang te wees nie, want God sal sorg – Matt. 10:26-31
Met hierdie woorde moedig Matteus die gelowiges aan om nie uit vrees vir die gevolge van hulle woorde, eerder stil te bly nie. Hulle moet bly getuig van dít wat Jesus hulle geleer het, want hulle Vader het die vermoë om vir hulle te sorg. Selfs die moontlikheid van die dood moet hulle nie afskrik om getrou te bly aan die woorde van die Here Jesus nie.

5. Jesus moedig hulle aan om Hom as Christus te bely en nie te verloën nie – Matt. 10:32-33
Die logiese gevolgtrekking wat die dissipels uit die voorafgaande aanmoediging moet maak, is dat getuienis nie opsioneel is nie, maar verpligtend. Dit het ewige gevolge nie net vir dié teenoor wie getuig word nie, maar ook vir die mense wat getuig, vir ons as gelowiges. Dit is ’n harde woord wat ons goed moet hoor.

6. Jesus waarsku hulle dat lojaliteit aan Hom skeiding sal bring – Matt. 10:34-39
Matteus raak nou ’n pynlike realiteit aan, dat lojaliteit aan Jesus die effek kan hê in huise dat kinders en ouers met mekaar dit haaks kan hê oor die verbintenis aan Hom en dat ’n mens se huismense jou vyande kan wees. Tragies, ontstellend, maar die realiteit van die keuse waarvoor Jesus mense plaas.

Die vrede wat Jesus bring, is die vrede van ’n paradoks. Dit manifesteer soms in die teendeel daarvan, in skeiding, verdeeldheid en vyandskap. Wie egter sy lewe ter wille van Jesus verloor, sal dit behou, sê vers 39.

7. Jesus beloof dat gasvryheid teenoor die dissipels sal beloning bring – Matt. 10:40-42
Die uitsendingsrede word afgesluit met ’n woord oor die mense wat die boodskap ontvang. Dié wat die dissipels met gasvryheid ontvang en hulle ondersteun, ontvang daarmee eintlik die Here Jesus self, d.w.s. God self, en sal hulle beloning verseker kry. Dit word drie maal herhaal om dit te onderstreep.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord: (Uit Psalm 13)

Seëngroet: Lied 220 “Met ons harte sing ons Here 1,2,3”

Verootmoediging

Wet: (Kolossense 3)

Skuldbelydenis

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Vryspraak: (Romeine 6)

Riglyn om te lewe: (Uit Romeine 6)

Lofliedere
Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4” en/of
Lied 209 “Heer met my hele hart 1″

Epiklese

Skriflesing: Matteus 10:40-42

Prediking
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis
Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord
4Luister tog en antwoord my,
Here my God!
Gee my tog nuwe lewenskrag.
6Ek hou vas aan u troue liefde,
oor die uitkoms wat U gee,
juig my hart.
Ek wil sing tot eer van die Here,
omdat Hy aan my goed gedoen het.
(Uit Psalm 13)

Seëngroet
Voorganger: Genade en vrede vir julle.
Gemeente: En ook vir jou.

Voorganger: Geseënd is julle wat weet hoe afhanklik julle van God is.
Gemeente: O diepte van die rykdom en wysheid
en kennis van God!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,
hoe onnaspeurlik sy weë! (Rom 11:33)

Voorganger: Christus spreek ons aan as die sout van die aarde en die lig van die wêreld.
Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.
Gemeente: Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid!

Amen (Rom 11:36).
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Lied 220 “Met ons harte sing ons Here 1,2,3”

Verootmoediging

Wet
Julle is saam met Christus uit die dood opgewek
3 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Die ou en die nuwe lewe
5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. 9En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 14Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
(Kolossense 3)

Skuldbelydenis
Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Vryspraak
22Maar nou—julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. 23Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here. (Romeine 6)

Riglyn om te lewe
Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? 3Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. 5Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. 6Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 7Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 8Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 9Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. 10Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. 11Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.
(Uit Romeine 6)

Lofliedere
Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4″ en/of
Lied 209 “Heer met my hele hart 1″

Liedere

F70. “Lig Vir Die Wêreld”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis / Diensbaarheid)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Maak ons oë oop as ons die nag in kyk
Wys ons die hoop wat duisternis laat wyk
Gee ons woorde, Heer, waarmee ons wyd kan loop
Week ons met waarheid breek ons bekers oop
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons
Skyn in die donker met liefde wat verlos

Stuur ons met lewe vol van helder hoop
Kom vul ons o Gees om sout te kan wees
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons
Heer ontmoet ons hier woon in ons lofgesang
U is die rykdom waarna ons verlang
As U lig ons lei ons na die wêreld stuur

Seën ons met volheid vul ons met U vuur
Kom Jesus skyn laat donker verdwyn
Skyn in die nag laat breek die dag
Vader salf ons oë raak ons met deernis aan
Ons wil U hart vir verlorenes verstaan
Laat ons U wyn en melk neem vir dié sonder geld
En lewensbrood vir hul wat dit nie kan koop
Lig vir die wêreld
Kom skyn deur ons!

F74. “Ek Wil Die Here Dien Met My Lewe”
(RUBRIEK: Flammikidz – Diens en Getuienis)
Teks en Musiek: Soekie Rautenbach
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op God is groot)

Refrein: (x2)
Ek wil die Here dien met my lewe
want Hy alleen is God

1. Hy’s die enigste pad na die Vader toe
Hy’s die Waarheid en die Weg
Daar is niemand anders wat lewe gee
Sy Naam is Jesus

Refrein: (x2)

2. As ek bang is, is Hy daar vir my
As dit donker is, Hy’s die Lig
As ek alleen is, is Hy my vriend
Sy Naam is Jesus

Refrein: (x2)

3. Vir die blindes
sal Hy die pad kom wys
Vir die swakkes sal Hy help
Vir die siekes sal Hy genesing bring
Sy Naam is Jesus

Refrein: (x2)

4. Vir die sondaar
wil Hy verlossing bring
Die gevangenes laat Hy vry
Die wat hartseer is,
sal Hy vertroos
Sy Naam is Jesus

Refrein: (x2)

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here
Ons wil soos pasgebore kindertjies smag na melk, smag na die suiwer geestelike melk,
sodat ons daardeur kan opgroei en die saligheid kan verkry.
Ons het immers ondervind dat U die Here goed is.
Daarom kom ons na U toe, U wat die lewende steen is, die steen wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is.
Ons wil ons as lewende stene laat opbou tot ’n geestelike huis,
ons wil ’n heilige priesterdom wees
en ons wil geestelike offers bring
wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.
Breek vir ons die brood,
wat hierdie geestelike melk is,
sodat ons gevoed mag word en mag opgroei!
Amen
(Uit die bydrae by Seisoen van Luister, 26 Junie 2011)

Skriflesing: Matteus 10:40-42

Prediking

Familie-oomblik

Gesprek met die kinders:
Ons fokusteks vandag gaan oor vriendelike gasvryheid! Nou wat beteken die snaakse woord gasvryheid? Ander woorde wat ons kan gebruik is om vriendelik te wees, om met warmte teenoor ander mense op te tree, om vrygewig te wees deur dit wat jy het met ander te deel.

Was daar byvoorbeeld iemand wat jou en jou ouers vanoggend by die kerk se deur verwelkom het? Dis gasvryheid! Om mense te laat welkom voel. Om hulle te help as hulle iets benodig.

Lees die weergawe van die fokusteks

Ek Sien Raak Wanneer Julle Goeie Dinge Doen
40–41 “Ek en julle werk saam in ’n span. As iemand vriendelik met julle is, dan is hulle ook vriendelik met My en met my hemelse Vader. Wanneer iemand goed doen aan een van julle wat vir God werk, sal God hom of haar daarvoor beloon.

42 “Party mense wat in My glo, is baie arm. Ander mense gee niks vir hulle om nie. Wanneer julle so iemand help, sal julle regtig ’n plek in die hemel kry. Selfs al gee julle maar net vir so iemand ’n glas koue water, sal God dit raaksien. Want Hy is vriende met almal wat in My glo.”

(Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.)
Jesus noem dat gasvryheid selfs daarmee te doen het om vir iemand ‘n glas koue water te gee. Vir ons is dit maklik nie waar nie: Jy stap na die yskas toe waar gewoonlik ‘n houer koue water gebêre word en jy skink vir iemand ‘n glas koue water.

Maar in Jesus se tyd was dit nie so maklik nie- hulle het nie yskaste gehad nie; ook nie TV’s of lugverkoelers nie, want hulle het nog nie elektrisiteit geken nie. So hoe het ‘n mens in Jesus se tyd vir iemand ‘n glas/ beker koue water aangebied? Met groot moeite!

Die enigste moontlike manier was om na die naaste put te gaan en daaruit water op te hys met die swaar emmer en dan vir hom of haar in te skink. Maar daar was nie by elke huis ‘n put nie- putte was soms vêr en dan moet jy nog In die middel van ‘n warm dag soontoe stap- een of twee of selfs drie kilometer.

Die boodskap het gewoon daarmee te doen dat wanneer jy moeite doen vir iemand anders, dan doen jy so iets asof vir Jesus! Hy sien dit raak- en dit maak sy hart bly as jy vir ander omgee… Selfs met ‘n glas koue water!

Preekriglyn

Bill Lacovara was besig om te hengel naby Atlantic City in die VSA, toe hy ‘n plastieksak sien dryf in die water. Binne die sak was daar omtrent 300 gebedsversoeke wat aan ‘n plaaslike predikant gepos was. Die meeste van die briewe was nie oopgemaak nie. Die dominee is twee jaar vantevore oorlede. Blykbaar is die briewe weggegooi toe sy huis na sy dood opgeruim is.

Sommige van die gebedversoeke was oppervlakkig. Een ou skryf hy bid om die lotery te wen – twee keer. Eers wil hy so 50,000 dollar wen, ‘n paar aanpassings maak, en dan wil hy ‘n big time kitsmiljoenêr word.

Baie van die gebedsversoeke was hartsverskeurend. Dit het van bekommerde huweliksmaats, kinders en weduwees gekom – almal mense wat uitgeroep het na God se hulp. Sommige was gebede vir familielede of kinders wat aan dwelms verslaaf was, gedobbel het, of egbreuk aan die pleeg was. Een man het uit die tronk geskryf, gesê dat hy onskuldig was en begeer het om terug te wees by sy familie. ‘n Tiener het gesmeek om God se vergifnis en ‘n tweede kans. Sy het ‘n aborsie gehad, en vertel hoe daar nie een dag verbygaan sonder dat sy dink aan die fout wat sy gemaak het nie.

Bill Lacovara sê dit briewe in die plastieksak laat hom aan baie mense se lewens dink. Daar is duisende mense wie se lewens ‘n worsteling is. Hulle is soos mense wat in ‘n storm uitgespoel is op die strand, en hoop op die aanraking van God.

Ja, kan ons byvoeg, daar is honderdduisende mense wat smeek dat iemand van God in hulle lewens aankom. Iemand wat God se liefde, wysheid en leiding vir hulle ‘n werklikheid kan maak. Iemand wat hulle kan laaf met die genesing en verkwikking wat God bring.

Jesus stuur sy dissipels

Die Matteus-evangelie teken Jesus se woorde en dade op. Jesus se lering word saamgevat in vyf groot toesprake, waarvan die bekende bergrede die eerste is. Ons teks kom uit Jesus se tweede toespraak, die uitsendingsrede. Dit gee onderrig aan die dissipels oor die taak waarvoor Jesus hulle uitstuur. Ons teks is die slotwoorde daarvan.

Die uitsendingsrede gee sewe perspektiewe wat die dissipels vir hulle taak moet motiveer en versterk, ten spyte van die werklikheid van vervolginge, uitdagings, verdeeldheid:

  • Dit is Jesus wat die twaalf dissipels uitstuur – 10:1-4: Hulle is die gesagvolle verteenwoordigers en gestuurdes (dit is wat die Griekse woord apostel beteken) van Jesus. Hulle kan dus staatmaak op Sy gesag in die uitvoering van hulle roeping.
  • Jesus gee inhoud aan hulle opdrag – 10:5-15: Die taak waarvoor Jesus hulle uitstuur, word uitgespel as die verkondiging van die koninkryk, die genesing van siekes, die opwekking van dooies, die reiniging van melaatses en die uitdryf van demone – presies wat Jesus tot dusvêr gedoen het (10:7-8). Net soos Jesus dit gratis gedoen het, moet hulle ook. Hulle moet vrede gaan skenk.
  • Jesus berei hulle voor vir die werklikheid van vervolging – 10:16-25: Dit is opmerklik dat Matteus met hierdie woorde die uitsendingsrede aanpas met opmerkings wat eintlik met die sending na die heidennasies te make het. Hy skryf sy evangelie waarskynlik vir Joodse lesers in Sirië, terwyl die era van die sending na die heidene reeds aangebreek het. Omdat Matteus dus sy lesers wil aanmoedig om hulle huidige taak uit te voer, om die evangelie na die heidennasies te neem, sluit hy dié gedeelte hier in. In hierdie omgewing moet hulle behoedsaam soos slange en onskuldig soos duiwe wees. Hulle moet dus wys wees en op hulle hoede vir die listigheid van mense, terwyl hulle sorg dra dat hulle in alles onberispelik optree. Daarmee sal die Gees van hulle Vader hulle help.
  • Jesus bemoedig hulle om nie bang te wees nie, want God sal sorg – 10:26-31: Met hierdie woorde moedig Matteus die gelowiges aan om nie uit vrees vir die gevolge van hulle woorde, eerder stil te bly nie. Hulle moet bly getuig van dít wat Jesus hulle geleer het, want hulle Vader het die vermoë om vir hulle te sorg. Selfs die moontlikheid van die dood moet hulle nie afskrik om getrou te bly aan die woorde van die Here Jesus nie.
  • Jesus moedig hulle aan om Hom as Christus te bely en nie te verloën nie – 10:32-33: Die logiese gevolgtrekking wat die dissipels uit die voorafgaande aanmoediging moet maak, is dat getuienis nie opsioneel is nie, maar verpligtend. Dit het ewige gevolge nie net vir dié teenoor wie getuig word nie, maar ook vir die mense wat getuig, vir ons as gelowiges. Dit is ’n belangrike woord wat ons goed moet hoor.
  • Jesus waarsku hulle dat lojaliteit aan Hom skeiding sal bring – 10:34-39: Matteus raak nou ’n pynlike realiteit aan, dat lojaliteit aan Jesus die effek kan hê in huise dat kinders en ouers met mekaar dit haaks kan hê oor die verbintenis aan Hom en dat ’n mens se huismense jou vyande kan wees. Tragies, ontstellend, maar die realiteit van die keuse waarvoor Jesus mense plaas. Die vrede wat Jesus bring, is die vrede van ’n paradoks. Dit manifesteer soms in die teendeel daarvan, in skeiding, verdeeldheid en vyandskap. Wie egter sy lewe ter wille van Jesus verloor, sal dit behou, sê vers 39.
  • Jesus beloof dat gasvryheid teenoor die dissipels sal beloning bring – 10:40-42: Die uitsendingsrede word afgesluit met ’n woord oor die mense wat die boodskap ontvang. Dié wat die dissipels met gasvryheid ontvang en hulle ondersteun, ontvang daarmee eintlik die Here Jesus self, d.w.s. God self, en sal hulle beloning verseker kry. Dit word drie maal herhaal om dit te onderstreep.

Teen hierdie agtergrond kan ons nou in groter detail na ons teksverse, 40-42, kyk:

In groot geselskap

Volgens vers 40 ontvang die mense wat Jesus se gestuurde dissipels ontvang, veel meer as net die dissipels. Hulle ontvang ook vir Jesus. En wie Jesus ontvang, ontvang ook die Vader. Die uitvoering van Jesus se sendingopdrag sluit mense in by die groot geselskap van dissipels, Jesus en God die Vader self. Die sendingtaak skep nuwe gemeenskap, gemeenskap met God self.

“Ontvang” in vers 40 dui op die ontvangs van Jesus se dissipels en hulle boodskap. Op hierdie manier ondersteun mense ook die uitdra van die evangelie. Maar op hierdie manier ontvang die mense ook veel meer as net die dissipels. Hulle ontvang Jesus en die genade van God.

Jesus neem die sleutelposisie as middelman, middelaar en of bemiddelaar hier in vers 40 duidelik in: “Wie julle ontvang, ontvang My en wie My ontvang, ontvang Hom wat my gestuur het.” Hier is die eerste keer in Matteus-evangelie waar Jesus na Homself as Gestuurde verwys. Sy identiteit as Gestuurde stempel ook die identiteit van sy dissipels, vir wie Hy stuur as die voortsetting van sy sending.

Die vrug van ontvang

Vers 41 plaas die aksent op die loon wat wag op mense wat Jesus se dissipels ontvang. Die dissipels word hier as profete en “goeie mense” (“regverdiges”) geteken. Wie hulle ontvang, sal dieselfde loon as hulle ontvang.

Die Here se gestuurdes ontvang God se seën. Maar ook diegene wat hulle ontvang deel in hierdie seën.

Hierdie vrug is moontlik omdat die Vader Jesus gestuur het, en omdat Jesus dissipels roep en stuur. Ons staan hier voor die wonder van die inisiatief wat God neem. Lank voordat ons van God geweet het, het God ons lief gehad, en ‘n kettingaksie van stuur in werking gestel om by ons uit te kom.

Om te deel in die seën, moet mens Jesus ontvang. Die keersy hiervan is oordeel op diegene wat weier om God se genade te omhels.

Die eenvoudigste daad belangrik

In die uitdra van die evangelie sal Jesus se dissipels dikwels swaarkry moet verduur. Dit blyk duidelik uit Jesus se uitsendingrede. Maar daar sal ook steun wees. Mense sal hulle ontvang en versorg. Hierdie eenvoudige dade van ondersteuning en versorging is van die grootste betekenis denkbaar. Vers 42 sê selfs die eenvoudigste daad mag nie gering geag word nie en moet beoordeel word asof dit aan Jesus self (25:35, 40) gedoen word.

Boodskap vir vandag

Eerstens:
Wie Jesus se gestuurdes ontvang, neem deel aan die bediening van Jesus. Meer nog: hierdie gasvryheid sluit ons in by die werk van die Drie-enige God self.

Die dinamika van die evangelie maak altyd gebruik van vreemdelinge wat in die Naam van die Here kom en die genade bemiddel. Soos Jesus in Hand. 1:8 sê: “Julle sal my getuies wees….” Hierdie getuienis moet gasvry ontvang word, wat die ontvangers verander en inlyf by die volk van die Here.

Ons taak is dus om ingestel te wees op ontvang en ondersteun.

Tweedens:
Die beloning vir die gasvrye ontvangs van die Here se gestuurdes is gemeenskap met die Here self, eintlik met die Drie-enige God self.

Wie geestelik wil groei, wie wil deel in Christus se seëninge, wie God se werk in die wêreld wil verstaan en deurleef, moet gasvry wees. Dit is moeilik, want gasvryheid;

  • Vra dat mens jou eie agenda moet opskort, en aandag gee aan die vreemdeling wat jou pad kruis.
  • Vra dat mens oop moet wees vir verrassing, ’n Goddelike nuuskierigheid aan die dag moet lê. Elke moontlike mense wat jou pad kruis, elke situasie, roep Godsvrae op. Hoe is God hier teenwoordig? Waarmee is God besig? Hoe wil die Here hê moet ek op hierdie situasie reageer?
  • Vra dat mens nie net op die lyne lees nie, maar ook tussen die lyne. Vra dat mens nie net swart letters op wit papier moet raaksien nie, maar ook die wit spasies tussen die letters en die lyne. Gasvryheid vra minder vaste oortuiging en meer openheid, minder voorskryf en meer respek vir die vreemdeling, minder leer en meer leerbaarheid, minder voortou neem en meer diensbaarheid.

Die loon? Wie My gestuurdes ontvang, ontvang My, En wie My ontvang, ontvang die Een wat My gestuur het.

Ja, kan ons byvoeg, daar is duisende mense wat smeek dat iemand van God in hulle lewens aankom. Iemand wat God se liefde, wysheid en leiding vir hulle ‘n werklikheid kan maak. Iemand wat hulle kan laaf met die genesing en verkwikking wat God bring.

God stuur ons om te leef

Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis
Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën
Voorganger: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Mat 28:19-20).
Gemeente: Aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matt 28:18, aangepas).

Voorganger: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees (2 Kor 13:13).
Gemeente: Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.