Derde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

1 Samuel 15:34-16:13
34Samuel het na Rama toe gegaan, terwyl Saul na sy huis toe in Gibea gegaan het. 35Tot die dag van sy dood het Samuel nie weer vir Saul gesien nie. Samuel het oor Saul getreur, en die Here was bedroef daaroor dat Hy vir Saul koning oor Israel gemaak het.

Samuel salf ’n ander koning
16 Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul treur nadat Ek hom as koning oor Israel verwerp het? Maak ’n horing vol olie en gaan na Betlehem toe! Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My ’n koning.”

2Samuel vra toe: “Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak.”

En die Here sê vir hom: “Neem ’n vers saam en sê: ‘Ek het gekom om vir die Here ’n offer te bring.’3Nooi dan vir Isai na die offer toe. Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Salf vir My dié een wat Ek jou sal beveel.”

4Samuel het gedoen wat die Here gesê het. By sy aankoms in Betlehem het die leiers van die stad hom ontsteld tegemoet gekom en gesê: “Kom u in vrede?”

5En hy het gesê: “Ja. Ek het gekom om vir die Here ’n offer te bring. Reinig julle en kom saam met my na die offer toe.”

Hyself het vir Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer toe genooi. 6Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliab gesien en gedink: die gesalfde van die Here staan hier voor die Here.

7Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

8Toe roep Isai vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan en hy dink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 9Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan, maar Samuel het gedink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 10Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan het, sê Samuel vir Isai: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.”

11Daarop het Samuel vir Isai gevra: “Is dit al jou seuns dié?” En hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar hy pas nou skape op.”

Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons eet nie voordat hy hier is nie.” 12Isai het hom laat haal. Hy het ’n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en ’n goeie voorkoms.

Toe sê die Here: “Staan op, salf hom, want dis hý.”

13Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan.

Psalm 20
Die Here sal die oorwinning gee
20 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Mag die Here u gebed verhoor
op die dag van nood,
mag die Naam van die God van Jakob
u beskerm.
3Mag Hy u te hulp kom
uit die heiligdom,
u bystaan uit Sion.
4Mag Hy al u graanoffers onthou
en u brandoffers aanneemlik vind.
5Mag Hy u gee wat u hart begeer
en al u voornemens laat geluk.
6Ons sal juig oor u oorwinning
en in die Naam van ons God
die vaandels ontplooi.
Mag die Here alles gee wat u vra.
7Dit weet ek:
die Here sal aan sy gesalfde
die oorwinning gee!
Uit die heilige hemel
verhoor die Here sy gebed;
die Here gee deur sy groot mag
aan hom die oorwinning.
8Sommige vertrou op strydwaens
en ander op perde,
maar óns, ons vertrou op die Naam
van die Here ons God.
9Húlle sal struikel en val,
maar óns sal regop en vas bly staan.
10Here, gee tog aan die koning
die oorwinning.
Mag die Here ons gebed verhoor
wanneer ons na Hom roep.

1 Korintiërs 5:6-10, (11-13), 14-17
6Julle selfverheffing is nie mooi nie. Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie? 7Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook werklik. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus. 8Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.

9In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. 10Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodedienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee. 11Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie.

12–13Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!”

Fokusteks

Markus 4:26-34
Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei — hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.”

Hy het ook gesê: “Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? Dit is soos ‘n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land. Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.”

Deur baie sulke gelykenisse het Jesus met die mense oor sy boodskap gepraat, vir sover hulle dit kon verstaan. Sonder ‘n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê.

Ekstra stof

Die evangelie van Markus  is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, ‘n aanvanklike metgesel van Paulus [Kol 4:10] en later ook van Petrus [1 Pet 5:13].  Dit is heel moontlik geskrywe in Rome aan die gemeente in Rome (volgens Papias, ‘n kerkvader).  Geleerdes stem vandag saam dat dit die eerste evangelie is (ongeveer 65 n.C. voltooi), wat o. a. deur Matteus en Lukas as ‘n bron gebruik is.

Hy vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy opstanding.  Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

Jesus vervul volgens Markus die Messiaanse verwagting deurdat God se koninkryk in Jesus aanbreek.  Die nuwe Uittog waarvan Jesaja praat begin met die bediening van Jesus wat sy lyding en plaasvervangende dood insluit.  Daardeur het Hy ‘n model van dissipelskap gegee wat opgesluit lê in selfverloëning, die opneem van ‘n kruis en Hom na te volg (8:34).

Na ‘n proloog (Markus 1:1-15) wat die goeie nuus van Jesus Christus aankondig, ontvou die verhaal in 4 dele, met ‘n kort epiloog aan die einde:

1. Markus 1:16-3:6 – Jesus begin sy publieke bediening met die aankondiging van die koninkryk van God.  Die gebeure volg mekaar vinnig op: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God.  In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op.
2. Markus 3:7-8:21 – Die impak van Jesus se bediening van lering en genesing op drie belangrike groepe word beskryf: die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê; die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is; die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.
3. Markus 8:22-10:45 – Jesus wat sy dissipels dieper inlei in die aard en betekenis van sy bediening, en die wyse waarop dit ‘n model vir hulle van ware dissipelskap gee.
4. Markus 10:46-15:47 – Jesus wat Jerusalem binnegaan tot verrukking van die skares, maar uiteindelik deur hulle verwerp word en deur die leiers gekruisig word, ironies as die “koning van die Jode”.

Die epiloog (Markus 16:1-8[20]) herinner die lesers daaraan dat Jesus opgestaan het uit die dood.

Markus 4:26-34
Markus 4:13-29 handel oor die tema Om reg te hoor, bepaal jou hele lewe.
Jesus se retoriese vraag aan die dissipels en gevolglike verduideliking van die gelykenis van die Saad is belangrik om twee redes:

1. Dit gebruik die dissipels se onbegrip as ‘n voorbeeld vir die lesers van die evangelie (ook ons!) om hulle aan te moedig om regtig te luister, soos net hierna met die voorbeeld van die lamp verder geïllustreer gaan word; en
2. Dit identifiseer hierdie gelykenis as ‘n sleutel om ook die ander gelykenisse te verstaan wat oor die koninkryk handel.

Dit tref my dat hierdie deel van Markus se evangelie van 3:20 af tot 4:25 met die regte manier van luister te make het.  Luister is die primêre houding of ingesteldheid van ‘n dissipel van Jesus:
“Gee aandag aan wat julle hoor!” (vers 24)

Let op hoe die gelykenis beweeg van:
1. Die mense by wie daar soos op ‘n pad gesaai word en nooit die Woord regtig hoor nie, na
2. Dié wat die Woord wel hoor, maar swig onder eksterne druk, en die Woord nie laat wortelskiet nie, na
3. Dié wat ook die Woord hoor, maar swig onder interne druk, begeertes wat hulle harte gevange hou, en die Woord verstik.

Goeie grond (volgelinge van Jesus) luister EN aanvaar egter die Woord (logos) voortdurend (die teenwoordige tyd  van die werkwoord word gebruik wat ‘n konstante voortgaande luister impliseer) , kies doelbewus om nie sporadies of oppervlakkig te hoor nie, maar gereeld en diep, sodat die Woord wortel skiet; waak daarteen dat die interne sorge (angstigheid) van die lewe en die verleiding (misleiding!) van die rykdom en die begeertes na allerhande dinge die Woord verstik en die vrug belemmer.

Maar die krag wat die dissipels, en ook my, verander lê steeds in die saad – die Woord – en die saaier – Jesus.  Die voorbeeld van die lamp (simbool van die teenwoordigheid van die koninkryk in Jesus) op die staander in 4:21-25, sowel as die gelykenis van die saad wat vanself groei en vrug dra (die sekel insteek by die oestyd laat ‘n mens in hierdie koninkrykskonteks dink aan die oordeelsdag – Joël 3:13) in 4:26-29 (wat net in Markus vertel word) onderstreep dit. ‘n Ontvanklike luister laat net toe dat die Woord wortelskiet en Jesus sy vrugdraende werk doen.

Die klem op die saad wat vanself groei, is vir my in die bediening ‘n groot stuk troos: die krag lê nie in my werk opgesluit nie, maar in die Een wat my stuur!

Die belang van luister word daarmee saam egter ook onderstreep met die interessante verduideliking: “met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word” (vers 24).  As die dissipels (en ons) met ‘n groot maat luister, sal ‘n groot maat vrug die gevolg wees.  En dié wat het, sal meer kry (vgl Spr 1:5; 9:9), en dié wat nie het nie, van hulle sal selfs die bietjie wat hulle het, weggeneem word (vgl ook Matt 25:29; Luk 19:26 vir dieselfde gedagterigting).

Die ander evangelies
Matteus maak die gelykenis meer persoonlik (man in plaas van mense), wyt die nie-hoor van die Woord aan ‘n gebrek aan begrip (“dit nie verstaan nie”) waarna die Bose dit wegneem, laat die begeertes na allerhande dinge weg as tekening van die interne druk wat die Woord verstik, en koppel die regte hoor van die Woord aan die regte begrip, eerder as aan die aanvaarding daarvan soos die geval is in Markus.  Die vrug word ook in omgekeerde volgorde genoem: 100-voudig, 60-voudig en 30-voudig.  Hy gebruik ook nie die voorbeeld van die lamp nie, maar behou die uitdrukking van Jesus oor dié wat het en dié wat nie het nie.

Lukas weer verklaar hoekom die duiwel (Satan in Markus en Bose in Matteus) die Woord wegneem, “sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie,” (wat nogal ooreenkom met God se bedoeling soos in Jesaja 6 uitgespel word – die duiwel tree dus as instrument op?), wyt die gebrek aan wortel skiet aan ‘n kortstondige geloof, wat as dit op die proef gestel word, moed opgee (terloops: dit is darem ‘n baie belangrike insig!), en brei uit op die goeie grond se vrugbaarheid deur dit te wyt aan die luister met ‘n goeie en opregte hart, die bewaring van die Woord en volharding in die luister en vrugdra.

Die onderlinge verskille kan waarskynlik aan die mondelinge tradisie toegeskryf word, sowel as aan die unieke perspektiewe wat die onderskeie skrywers wou uitlig.

Interessant is dat die Evangelie van Tomas 33 ook die voorbeeld van die lamp vertel, maar dit verbind aan die innerlike oor se luister, anders as die kanonieke evangelies.

Markus 4:30-41
Die volgende deel van Markus 4:30-41 kan onder die tema Het julle dan nie geloof nie? behandel word.
Die eerste twee perikope vandag is baie bekend.  1) Die mosterdsaadjie is spreekwoordelik die kleinste groentesaad, maar word ‘n boom wat tot 3 meter hoog groei (vgl Eseg 31:6 wat ‘n soortgelyke beeld gebruik vir die koninkryk van die Assiriërs).  Só is die koninkryk van God – dit begin klein, maar word ‘n groot gemeenskap wat baie mense insluit. 2) Die mededeling oor die gebruik van die gelykenisse maak die punt dat persoonlike onderrig noodsaaklik was vir ware begrip.  Daarom dat Jesus soveel tyd alleen met die dissipels spandeer het.

Die volgende perikoop is die eerste van vier wonderverhale van Jesus: die stilmaak van die storm, die genesing van die besetene, die genesing van die vrou, en die genesing van Jaïrus se dogtertjie.

Wat my aanspreek in die verhaal van die storm op die see, is die vraag van Jesus aan die dissipels, wanneer Hy die storm stilmaak: “Waarom is julle bang?  Het julle dan nie geloof nie?” (vers 40).  Dit wil voorkom asof die dissipels, ten spyte van al die wonderwerke wat Jesus al gedoen het, nog steeds vir Jesus onderskat het, en nie rekening gehou het met Wie Hy is, en wat Hy kan doen nie.  Hoe ironies!  Hy is immers die God waarvan die Psalms sê, dat Hy die golwe van die see kan laat bedaar (Ps 65:8; 89:10).

Dit laat my wonder oor myself – of ek nie baie keer aan dieselfde onderskattingsindroom ly nie! In Jesus is ek immers in die teenwoordigheid van God self!  Dit is die basis waarop my gebede moet berus.  En dit is die basis vanwaar ek my roeping moet uitvoer.  God is aan die werk in die lewe, selfs in die wind en die weer.

Let op hoe die dissipels se vrees (in Grieks deilos) vir die storm verander in ‘n vrees (in Grieks phobeô – ontsag) vir Jesus, Hy vir wie selfs die wind en die see moet luister.  Daarmee roep Jesus ons almal op om (paradoksaal) vreesloos op Hom te vertrou, vanuit ons ontsag vir Hom.

Ekstra inligting: Die See van Galilea is 18 x 9 km groot, en omdat dit 210 m laer as seevlak lê, en daar heelwat berge en klowe daar rondom is, bekend vir sy winde wat skielik opsteek en sterk kan waai.

Ekstra leeswerk: Lees Jona 1 en vergelyk Jona se slapery (1:5) met Jesus s’n.  Wat is die ooreenkomste en wat die verskille?  Jesus slaap in vertroue en sekerheid en Jona in ontvlugting en vertwyfeling.  Jesus word ook verwyt soos Jona vir hulle slapery, maar waar Jona gevra word om te bid, bestraf Jesus egter self die wind en die see (in dieselfde taal as wat hy met die duiwels gehandel het – bv. 1:25).  Die parallel wys dat Jesus groter is as Jona (vgl Matt 12:41), dat Hy God self is.

Ander evangelies
Matteus en Lukas verkort Markus se weergawe van die gelykenis van die mosterdsaadjie, maar voeg daaraan toe die gelykenis van die suurdeeg.  Lukas laat die mededeling oor die gebruik van die gelykenisse weg, terwyl Matteus interessant genoeg Psalm 78:2 van Asaf (hy noem hom ‘n profeet) aanhaal om die punt van die mededeling nog verder te onderstreep, dat God gelykenisse gebruik as Hy praat, en dat Hy geheime op die manier bekend maak.

Beide Matteus en Lukas gee die verhaal van die storm wat stilgemaak word in hulle eie woorde weer.  Die dissipels se vrees word bv. nie as verwyte vertel, soos Markus se weergawe nie, maar die breë lyne van die verhaal bly dieselfde: die vaart op die see, die storm, Jesus wat slaap, hulle vrees, Jesus wat wakker gemaak word en die storm stilmaak, sy vraag na hulle geloof en hulle verbasing en verwondering oor Wie Hy is.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: (Psalm 130)

Seëngroet: (Uit Psalm 20 en 2 Timoteus 1)

Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1” (Herhaal 2 of 3 keer)

Verootmoediging

Wet as spieël waarin ek my gebrokenheid en sonde herken
(Efesiërs 2)

Skuldbelydenis

Vryspraak: (Efesiërs 2)

Lofliedere
Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4” en/of
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Markus 4:26-34

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1”

Seën
Antwoord

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord 
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.
(Psalm 130)

Seëngroet
8Sommige vertrou op strydwaens
en ander op perde,
maar óns, ons vertrou op die Naam
van die Here ons God.
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!
(Uit Psalm 20 en 2 Timoteus 1)

Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1” (Herhaal 2 of 3 keer)

Verootmoediging

Wet as spieël waarin ek my gebrokenheid en sonde herken
Lewe uit die dood
2 Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

3So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. (Efesiërs 2)

Skuldbelydenis
Voorganger: Ons het berou oor ons sonde en bid dat U ons sal vergewe: Van alle afgode wat ons in u plek stel …
Gemeente: Verlos ons, o Heer!

V: Van alle ontrou teenoor U …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van elke misbruik van u Naam …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van ons onvermoë om tot rus te kom …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van ons opstand teen gesag en teen almal wat oor ons gestel is …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van alle haat en afguns teenoor ander mense …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van elke gedagte en daad waardeur ons die huwelik aantas …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van elke benadeling van ons naaste deur selfsug en eie belang …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van alle kwaadpratery en valse getuienis …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van alle begeertes wat sonde voortbring …
G: Verlos ons, o Heer!

V: In die Naam van Jesus Christus wat vir al ons sonde gesterf het.
G: Hoor ons, o Heer. Vergeef ons, o Heer. Ontferm U oor ons. 
Amen.
(Uit Bybelmedia se Handleiding vir die erediens, 2010)

Vryspraak
4Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. (Efesiërs 2)

Geloofsbelydenis
“Ek glo in Jesus Christus,
nie in ’n halfgod of ’n halfmens nie,
maar in die ewige Seun van die ewige Vader
wat uit louter liefde die hemel geskeur het,
om ’n mens te word,
wat kon lag en ly, wat kon twyfel en vrees
– een van ons.
Ek glo dat Hy te midde van die haat,
die koue en die verskrikking
as ’n weerlose Kind gekom het
– ter wille van die weerloses en die kinders.
Ek glo dat die eindelose opstand
teen God en die goeie
die enigste Mens wat God en goed was,
geoordeel en vermoor het
en dat die pyn en die godverlatenheid
van die hele wêreld
in sy sterwensroep gestol het.
Ek glo dat Hy uit die dood opgestaan het
en dat sy opstanding
die ewige teken is dat dinge anders kan wees;
dat die stryd tussen die lewe en die dood
finaal ten gunste van die lewe besleg is
en dat hierdie waarheid voortaan uitsig bied
in die mees uitsiglose omstandighede.”
(Gedeeltelik aangehaal uit die Groot Gebedeboek, bladsy 414 )

Lofliedere
Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4” en/of
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Liedere

F22. “Ek Soek U, O God”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994  Brettian Productions
(Reeds opgeneem op: Lentereën  –  Willie Joubert
25 Gunsteling L&A liedere – Louis Brittz
Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)

Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader
om by U te wees,
om by U te wees.

As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,  
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe… (Nav Ps 63)

F314. “Heer, Hoe Wonderlik (Verwonderd / Psalm 8)”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek: Marina du Toit & Dinti Lotz
© 2006 Urial Publishing

1. Heer hoe wonderlik, oor die hele aarde,
Is U heilige Naam!  Hoe glansryk is u skepping!
U kinders besing u magtige werk, dit laat die vyand stil
Dis bo my begrip en bo my verstand, U hou dit als in stand.

Refrein:
En ek staan net hier verwonderd, en ek sien u majesteit
En ek staan net hier verwonderd oor U.  Hoe groot, hoe groot is U!

2. As ek u hemel sien, die werke van u vingers.
U het die maan en ster elk op sy plek kom bêre.
Die voëls in die lug, die vis in die see, die skepping bring U eer.
Wie is ek, Heer, dat U aan my dink, laat heers oor al u werk?

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Gebed om die opening van die Woord
Voorganger: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word,
Gemeente: Laat u koninkryk kom.

Voorganger: Soos in die hemel net so ook op die aarde,
Gemeente: Laat u koninkryk kom.

Voorganger: Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe,
Gemeente: Laat u koninkryk kom.

Voorganger: Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose,
Gemeente: Laat u koninkryk kom.

Voorganger: Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid,
Gemeente: Laat u koninkryk kom.

Almal: Amen (Verwerking van die Ons Vader gebed).
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Skriflesing: Markus 4:26-34

Prediking

Familie-oomblik

Lees die deel oor die saad wat vanself opkom en groei uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

’n Verhaal van Saad wat Self Groei
26–29 Jesus het nog ’n verhaal vertel: “God se nuwe wêreld is soos ’n man wat saad saai. Die saad kom op terwyl die boer aangaan met sy werk. Die boer weet nie hoe dit gebeur nie. Die saad groei self uit die grond uit. Eers kom daar ’n plantjie op. Dan maak dit ’n vruggie en uiteindelik is die vrug ryp. Dan pluk die boer dit af omdat oestyd daar is.”

Die Mosterdsaadjie
30–32 Jesus sê toe: “Hoe kan Ek vir julle verduidelik hoe God se nuwe wêreld lyk? Dit is soos ’n mosterdsaadjie. Dit is die kleinste saadjie wat ’n mens in ’n tuin kan saai. As dit begin groei, word dit later die grootste van al die plante in die tuin. Die takke is so groot dat die voëls daar nes maak.”

33–34 Jesus het nog baie ander verhale vertel. Wanneer Hy alleen saam met sy dissipels was, het Hy vir hulle verduidelik wat Hy met die verhale bedoel.
Wys die kinders hoe ‘n mosterdsaadjie lyk (beskikbaar by die spesery-afdeling van meeste supermarkte) of gebruik die foto. Vertoon dan ‘n foto van ‘n boom wat van so ‘n soortgelyke saadjie gegroei het.
Mosterdsaadjie
Boom

Brei uit op die feit dat so ‘n klein en geringe saadjie uiteindelik in so ‘n groot boom kan verander. Onderstreep Jesus se punt dat die geringe dinge wat mense vir God en Sy koninkryk doen uiteindelik van groot waarde is, en veral dat ons eintlik nie verstaan hoe dit gebeur nie.
God se koninkryk groei elke dag groter in hierdie wêreld en dit is onmoontlik om die beweging te stop.
Bogenoemde idee is die van Carolyn Brown.

U kan ook haar suggestie van ‘n appel gebruik:
Cut open an apple. Slice it and core it with the children.  Together count the seeds in it to figure out how many trees could come from this one apple.  (There were five in the one I ate for lunch.)  Then point to one of the seeds and ask, ”If we planted this seed and it grew into an apple tree, how many apples would that tree produce?”  Enjoy wild guesses and the possibility of this many apples every season for lots of seasons.  Marvel at what comes from one little apple seed.  Then go to Jesus’ point that just as much comes from each of our words, deeds, and gifts.  If you have a small number of children, give each child an apple slice to eat.  (I got this idea from someone who couldn’t remember where it came from.  If anyone knows, let the rest of us know.)

Preekriglyn

‘n Vrou droom een nag sy stap by ‘n sekere winkel in ‘n groot winkelsentrum in. Agter die toonbank staan Jesus.

“Jy kan enigiets kry wat jou hart begeer,” sê Jesus.

Verbaas maar bly vra die vrou vir vrede, vreugde, lewensgeluk, wysheid en om vry van vrees te wees. Daarby voeg sy: “Nie net vir my nie, maar ook vir die hele wêreld.”

Jesus glimlag in haar droom en sê: “Ek dink jy het my misverstaan. Ons verkoop nie vrugte nie, ons werk hier met saad.”

Jesus en saad

Jesus werk met saad. Wanneer mens Markus 4 lees, is dit inderdaad die oorheersende indruk wat jy van Jesus kry. Hy begin die hoofstuk deur die gelykenis van die saaier te vertel. In hierdie gelykenis, sê prof. Andrew Purves, is Jesus ongetwyfeld die Saaier.

Jesus gaan saai op ‘n dag. ‘n Deel van die saad val op die pad, en die voëls pik dit op. ‘n Ander deel val op ‘n klipbank en kom vinnig op, maar verdroog weer in die vlak grond. Nog ‘n deel val tussen die onkruid, en word vinnig doodgedruk. Die ander deel val in goeie grond, dit kom op, groei en lewer ‘n uitmuntende opbrengs.

Dan verklaar Jesus die gelykenis aan sy dissipels. Sy verklaring word afgesluit met die woorde: “Gee aandag aan wat julle hoor!” (24). Daarmee beklemtoon Jesus hoe belangrik dit is om sy woorde te hoor, jou daaraan te steur en daarvolgens te lewe.

Mens moet aandag gee aan wat Jesus ou leer, want in terme van die maat waarmee jy meet, sal daar vir jou bygevoeg word. Hoe meer jy na die saad van Jesus se woorde luister (hoe jy meet), hoe meer groei sal jy ontvang.

Twee kort gelykenisse

Dan vervolg Jesus in Markus hoofstuk vier met nog twee kort gelykenisse, wat ons teks vir vandag uitmaak. Albei gelykenisse het te doen met die koninkryk van God, wat is soos:

  • Saad wat iemand op die land saai. Terwyl hy slaap begin die saad te groei en bring die aarde die graan voort. Op die oesdag, wanneer die opbrengs gereed is, word die oes ingebring (26-29);
  • ‘n Mosterdsaadjie wat as kleinste saadjie geplant word, maar opkom en groter as al die tuinplante word. Dit bied uiteindelik ‘n ruimte vir voëls om in nes te maak (30-32).
Deur gelykenisse het Hy geleer

Naas die twee kort gelykenisse sluit ons teks ook ‘n verwysing in na die wyse waarop Jesus gelykenisse in sy bediening gebruik het:

Deur baie sulke gelykenisse het Jesus met die mense oor sy boodskap gepraat, vir sover hulle dit kon verstaan. Sonder ‘n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê. (33-34)

Jesus het duidelik in sy lering moeite gedoen om met mense te kommunikeer op ‘n manier wat hulle kon verstaan. Hy het by sy luisteraars se wêreld en verwysingsraamwerke aangesluit. Wanneer Hy alleen met sy dissipels was, het Hy selfs verder gegaan en die gelykenisse sorgvuldig uitgelê. Daar is persoonlike onderrig nodig, sodat mense ingelei kan word in die betekenis van Jesus se werk en die koms van die koninkryk van God.

Jesus se moeite om seker te maak sy volgelinge verstaan sy bedoelinge, is hartverwarmend. Mens verstaan nie God se werk uit jou eie nie.

Wat gelykenisse is

Anriëtte de Ridder beskryf gelykenisse as volg:
‘n Gelykenis is ‘n waarheid wat verskuil is in ‘n storie of beeld en uitgelê moet word. Wie onthou die 3D-prente wat so gewild was ‘n paar jaar gelede? ‘n Mens moes jou oë op skrefies trek en dan kon (sommige) mense tussen al die kolletjies ‘n prent sien wat as ‘t ware na vore kom. Vandag is 3D-flieks gewild, waar jy ‘n spesiale bril benodig om te sien hoe die fliek dan lewe kry, driedimensioneel word en as ‘t ware hier om jou afspeel.

Op dieselfde manier vra ‘n gelykenis van jou ‘n ander kyk, ‘n dieper kyk om die ware betekenis raak te sien. ‘n Gelykenis betrek jou by die verhaal, nooi jou in om deel te word deur daaroor na te dink, die betekenis te bepeins en nuwe moontlikhede te ondersoek. Dit nooi jou in om as ‘n leerling van die verhaal ondersoekend en nuuskierig te word om dieper as die oppervlak te kyk. Die gelykenisse wat Jesus gebruik is beelde uit die alledaagse lewe maar in die ‘gewone’ van die verhaal is die ‘verrassend anders’ te vinde. ‘n Gelykenis op sigself wys heen na die koninkryk wat ook iets verborge, iets verrassend is, en ‘n ander kyk na die gewone, alledaagse lewe vra.”

‘n Gelykenis aktiveer mens se verbeelding. Dit laat jou prentjies sien en in beelde dink. Dit skakel die harde, analitiese, feitelike-gedrewe kant van jou brein in ‘n laer rat, en aktiveer jou vermoë om te droom, te wonder, te peins, die verrassende en die onsienlike te sien. Gelykenisse wil verwondering by jou skep, en jou help om nog meer beeldinge te sien. Dit skep nuwe assosiasies, daag jou uit om in nog meer en aanvullende figure te dink.

Jesus praat hier oor dinge wat so groot is dat dit nie in wiskundige formules, tien stellings, of sewe logiese konklusies vasgevang kan word nie. Hy nooi ons uit om deel van ‘n nuwe verbeeldingryke groeiproses te word: die ontluikende regering van God.

Oor die regering van God

Jesus vertel hierdie twee oor die koninkryk of (beter gesê) die regering van God. Hoe werk die regering van God?

Die term ‘koninkryk’ (Engels ‘empire‘) is ‘n gelaaide begrip. Dit veronderstel gewoonlik beheer, kontrole en mag. Jesus se gehoor het daagliks gely onder die Romeine se koninkryk wat Israel beheer het. Die Romeinse empire het ‘n sistematiese program gehad om kleinboere van hulle grond te vervreem. Baie van Jesus se luisteraars was presies sulke kleinboere. Swaar belasting en ander gelde het beteken dat een misoes genoeg was om ‘n kleinboer te laat uitboer. Dikwels moes die boer en sy gesin hulself dan as slawe verkoop om te kan lewe.

Jesus kontrasteer doelbewus die empire van God met die ander empires van die tyd. Alle empires oorheers onderdane se denke en leefwêreld en streef daarna om teenstand en opponente uit die weg te ruim. Mens sou Jesus se vervolging en die uiteindelike moord op Hom vanuit hierdie perspektief kan verklaar.

Die koninkryk van God wil ook onderdane se leef- en denkwêreld vorm, maar doen dit op ‘n wyse waar mag prysgegee word. Die Koning word almal se dienaars. Die Leier en ander leiers dien in plaas van heers. In God se koninkryk word kontrole en dwang deur oorreding (dit is ‘bekering’ en ‘lering’) vervang. Op hierdie manier word die ‘onderdane’ van aardse empires getransformeer tot ‘dissipels’ (oftewel leerlinge en volgelinge) van God se koninkryk.

God se koninkryk is totaal anders as iets wat die wêreld ooit gesien het.

Hoe God werk

Wanneer mens kyk na die verskillende beelde in die twee kort gelykenisse word die karakter van God se koninkryk duideliker:

  • Hier is sprake van ‘n boer wat saad saai, maar dan gaan slaap, terwyl die saad in die aarde ontkiem en groei. God se koninkryk skakel mense wat saai in, maar die geheimenis van die werking van die saad is in God se hande. Alles hang nie van ons af nie, die groot effek kom van God af. Dit is ‘n ongelooflike bevrydende perspektief op hoe God se koninkryk kom. Om dit weer te sê: alles hang nie van ons af nie. God self is aktief besig om te laat groei.
  • Daar is ook teoloë wat sê dit is eintlik Jesus wat die saai-werk doen. Ons is soos die saad wat in God se koninkryk opkom. Geloof en gehoorsaamheid ontkiem in ons, ons word deel van God se regering op maniere wat ons eie verstand te bowe gaan. Die saad groei in ons, haal ons oor, verkry ons toewyding aan God, skep ‘n diep oortuiging in ons dat God se weë reg is – sonder dat ons in beheer daarvan is of presies kan verklaar hoe dit werk. Ons kan net diep dankbaar wees vir die voorreg om deur geloof deel van God se oes te wees.
  • God se koninkryk is ‘n proses wat nie aangejaag kan word nie. Die tydsverloop is stadig, maar onafwendbaar. God se koninkryk verwag groei by die saad wat ontkiem, en ‘n plant word wat stadigaan tot volle wasdom groei. God se koninkryk is nie ‘n kitsresep wat met ‘n veldslag op twee – soos ander koninkryke – meteens ‘n werklikheid word nie. Daarom is geduld ‘n deug in die koninkryk, en moet Christene stadig wees om mekaar en ander te beoordeel. Ons het nie toegang tot die stille en dikwels onsigbare prosesse van die koninkryk nie.
  • God se koninkryk stuur onafwendbaar op die inbring van die oes af. Wanneer die graan ryp is, word die sekel ingesteek omdat die oestyd daar is. “Oes” is in die Nuwe Testament ‘n beeld vir die eindoordeel by die wederkoms van Christus. Die stadige tydsverloop in die koninkryk moet ons nie laat dink tyd is onbelangrik, of daar is geen einddoel nie. Die einddoel is om die oes in te bring vir God se koninkryk. Dit veronderstel oordeel en skeiding, want nie alles is graan en kwalifiseer vir die oes nie.
Kontras in God se werk

Die gelykenisse van ons teks verduidelik God se regering deur merkwaardige kontraste te skilder:

  • Klein en groot: die mosterdsaad is kleiner as al die sade, sê Jesus, wat in die aarde gesaai word. Maar as die plantjie opkom, word dit groter as al die ander sade. Die mosterdplant is groter as die ander huisplante. Dat die koninkryk ‘n klein begin het, in mense se lewens, en in verskillende plekke op aarde, beteken nie dat die koninkryk so klein bly nie. God se koninkryk word groter as al die ander koninkryke. Op Goeie Vrydag, met die teregstelling van Jesus, het dit gelyk of die koninkryk van God dood is. Maar Jesus se sterwe en opstanding het die saad geword waaruit die koninkryk van God gegroei het reg rondom die wêreld.
  • Aksie en passiwiteit: die saaier saai, maar gaan slaap en staan dag na dag op, terwyl die saad groei, op maniere wat die saaier nie begryp of kan veroorsaak nie. Wanneer die groei voltooi is, is dit die saaier wat weer die sekel insteek. Menslike aksie en goddelike groei werk saam. Die primêre dryfkrag kom van God wat die groei gee. Ons sien en beleef meer die groei in die koninkryk as wat ons dit veroorsaak. Die koms van die koninkryk van God is iets wat God gee.
  • Broos en ‘n bron van beskerming: Die kleinste van die saadjies is maar broos, en afhanklik van die aarde om ruimte tot groei te gee. Maar die uiteinde is ‘n plant so groot dat die voëls daarin kan kom nes maak. Wat klein begin, groei uit tot ‘n beskermende ruimte vir ander. Die koninkryk is ‘n lewensruimte waar mens veilig is en voedsel vind; waar jy lewe en waaraan jy deel het; waarin jy kan nesmaak en skuiling vind.
Toepassing

Wat sê hierdie twee kort gelykenisse, met die opmerking oor hoe Jesus mense en sy dissipels geleer het, vandag vir ons? ‘n Paar opmerkings:

  • God se koninkryk kom op grond van God se daadwerklike, aktiewe betrokkenheid in die wêreld. God voorsien die saad en die groeikrag. God is die Landbouer, Jesus die Saaier, die Heilige Gees die een wat groei gee.
  • God se werkende teenwoordigheid verlos ons van die illusie dat alles van ons afhang. Ons kan nederiger raak oor ons bydrae. Dit is bevrydend.
  • Aangesien God self werk, kan mens groei net sien as jy oop is vir verrassing, waardering en verwondering. Die aarde gaan ‘n oes oplewer waar jy niks verwag het nie, op ‘n plek waar jy dalk nie kyk nie. Deur oop en waarderend te bly, kan ons die dinamika van die koninkryk as ‘n geskenk ontvang op die plekke waar dit deurbreek.
  • God se werkende, aktiewe teenwoordigheid maak hoop moontlik. Die groeikrag in die koninkryk is onafwendbaar. God begin met die kleinste saad, en eindig by ‘n plant groter as al die ander. God bou ‘n koninkryk waar mense skuiling vind in takke wat hulle nie self laat groei het nie.
  • Die tempo in God se koninkryk is in God se hande. Daarom is geduld te belangrik. God is in beheer, ook oor die tydsverloop.

Wanneer mens die twee kort gelykenisse verbind met die groot gelykenis van die saaier wat op vier soorte aarde saai, word ons menslike verantwoordelikheid duideliker omlyn:

  • Ons het die verantwoordelikheid om die Woord, wat die saad is, te ontvang, werklik te hoor en daarop te reageer. Ons moet die saad koester en laat groei.
  • God gee aan ons die voorreg om medewerkers in God se koninkryk te wees. Selfs al is Jesus die groot Saaier, is ons klein saaierkies. Ons is ook lappies grond wat die saad en die groeikrag as geskenk ontvang.
  • Paulus werk ons status as medewerkers ongelooflik mooi uit in 1 Korintiërs 3:5-9:

Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het.

Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het.

Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.

Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk.

Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God.

Hoe weet ‘n mens wat die Here van jou verwag en hoe jou rol lyk in God se koninkryk? Die wonder is dat Jesus met ons praat en ons deur sy Woord en sy Gees onderrig. Jesus is nie klaar daarmee nie. Dit is ‘n proses wat voortgaan oor jare en eeue heen. Deur hierdie onderrig groei ons en sal ons ook volle wasdom bereik. Daar kom ‘n dag dat ons deel is van die wonderlike oes wat vir die koninkryk ingesamel word.

Dit alles is die werk van God.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1”

Seën
2Mag die Here u gebed verhoor
op die dag van nood,
mag die Naam van die God van Jakob
u beskerm.
3Mag Hy u te hulp kom
uit die heiligdom,
u bystaan uit Sion.
4Mag Hy al u graanoffers onthou
en u brandoffers aanneemlik vind.
5Mag Hy u gee wat u hart begeer
en al u voornemens laat geluk.
(Psalm 20)
of
Die Here sal julle seën en julle oppas.
Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees.
Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee.
(Numeri 6:24vv Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.