Derde Sondag in Advent – Sondag van Vreugde

Sections

Oorsig

Die derde Sondag in Advent staan ook bekend as Sondag van vreugde. Dit is ook die tema wat al die tekste saamknoop. Eers is daar twee vreugdeliedere, een van God en een van die gelowige gemeenskap. Daar na volg die oproep tot bly wees in die Here omdat Hy verlos en weer kom.

In die Lukasteks klink dit uit Johannes se mond dat die mense hulle sonde moet bely en dan gedoop word, hierop volg uiteindelik die vreugdevolle wete dat Jesus kom en met die Heilige Gees sal doop.

Ander tekste

Sefanja 3:14-19
Ek gee aan julle roem en eer
14Sing, Sion! Juig, Israel!
Wees met alles wat jy is, vrolik en bly,
Jerusalem!
15Die Here het ’n einde gemaak
aan jou straf,
Hy het jou vyande laat padgee.
Die Koning van Israel,
die Here, is by jou;
jy hoef geen ramp meer te vrees nie.
16Daardie dag sal daar
vir Jerusalem gesê word:
Moenie bang wees nie, Sion,
moenie jou hande moedeloos
laat hang nie!
17Die Here jou God is by jou,
Hy, die krygsman wat red.
Hy is vol vreugde oor jou,
Hy is stil-tevrede in sy liefde.
Hy jubel en juig oor jou:
18Ek maak dié bymekaar wat treur,
ver van die feestelikheid af,
dié wat uit jou uit kom
en ter wille van jou
die smaad gedra het.
19Ek gaan nou optree teen almal
wat jou verdruk het,
Ek gaan die kreupeles help,
die verstrooides bymekaarmaak
en die vernedering
wat hulle moes ondergaan,
in eer verander,
in roem oor die hele aarde.
20Wanneer die tyd daar is,
laat Ek julle kom,
maak Ek julle bymekaar
en gee Ek aan julle roem en eer
onder al die volke op aarde;
dit is die tyd wanneer Ek
julle lot verander,
julle sal dit met julle eie oë sien,
sê die Here.

Jesaja 12:2-6
God is my redder
12 Op daardie dag sal jy sê:
“Ek loof U, Here!
U was kwaad vir my,
maar U is nou nie meer kwaad nie
en U het vir my uitkoms gegee.

2God is my redder;
Ek vertrou op Hom,
ek is nie meer bang nie.
Die Here my God is my krag
en my beskerming;
Hy is my redder.”
3Met blydskap sal julle water skep
uit die fonteine van redding.
4Op dié dag sal julle uitroep:
“Loof die Here,
roep sy Naam aan,
maak sy dade onder die volke bekend
en verkondig dat sy Naam groot is.
5Sing tot die eer van die Here,
want Hy het groot dinge gedoen,
maak dit aan die hele wêreld bekend.
6Jubel en juig,
inwoners van Sion,
want groot is die Heilige van Israel
en Hy is by julle!”

Filippense 4:4-7
4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Fokusteks

Lukas 3:7-18
Die prediking van Johannes die Doper

(Matt 3:1–12; Mark 1:1–18; Joh 1:19–28)
3  Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters.

2In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. 3Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 4So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja:

“Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed,
maak die paaie vir Hom reguit.
5Elke kloof moet opgevul
en elke berg en bult
platgemaak word;
die krom paaie moet reguit
en die ruwe paaie gelyk word.
6En al die mense sal
die verlossing sien
wat van God kom.”

7Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

10Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”
11Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
12Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?”
13En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”
14Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?”
Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”

15Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”

18Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.

19Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het. 20Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Adventkers 
Voorganger (V):  Vandag is die derde Sondag van Advent, die Sondag van Vreugde.
Gemeente (G): Ons vreugde is in God en in sy Seun, Jesus Christus. Soos vrede is vreugde ’n geskenk van God. Vreugde kom oor ons en vul ons wanneer ons onthou wat God gedoen het en wat Hy belowe het om nog te doen.

V: Ons steek vandag die derde kers aan om ons ons daaraan te herinner dat Christus reeds gekom het en dat Hy eendag weer sal kom sodat ons almal ’n vol en oorvloedige lewe kan hê.  Ons dank God vir die hoop wat ons van Hom ontvang, vir die vrede wat Hy skenk en vir die vreugde wat Hy ons hart uitstort.

G: U is Immanuel, God met ons. U is die bron van ons vreugde.

(Die derde kers word aangesteek.)

V: O God van vreugde, Immanuel, God met ons, ons, ons bid dat U u lig in hierdie dae in ons harte sal laat skyn. Help ons om gereed te wees vir die dag wanneer Christus finaal verskyn. Rig ons harte en ons gedagtes op dié dinge wat U reeds gedoen het en op dit wat U belowe het om nog te doen, sodat ons vreugde kan vind in U en u beloftes. Leef in ons en help ons om in U te lewe. Vernuwe ons deur die krag van u Gees, sodat ons aanbidding, ons feesviering en ons voorbereiding vir U welgevallig sal wees – nou en vir ewig.
G: Amen.
(Uit: Bybel-Media se “Vir die Erediens:  ‘n Handleiding”)

Toetrede
Lied 336 “Dit is die dag deur God geskenk” of
Flam 103 “Kersfees is ‘n Vreugdefees” of
Vonkk 124 “Jesus bring vreugde” 

Votum: Jesaja 12:2-6
God is my redder; Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder.” Met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding. Op dié dag sal julle uitroep: “Loof die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend en verkondig dat sy Naam groot is.  Sing tot die eer van die Here, want Hy het groot dinge gedoen, maak dit aan die hele wêreld bekend.  Jubel en juig, inwoners van Sion, want groot is die Heilige van Israel en Hy is by julle!”

Seëngroet

Lofsang

Lied 337 “Loof God, o Christen! Hy is groot” of
Flam 33 “Halleluja in my hart” of
Vonkk 147 “Ons Bring Aan U Die Lof En Eer”

Toewyding: Filippense 4:4-7
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!  Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.  En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Lied 346 “Ek kniel ook voor u voete, Heer” of
Flam 135 “Meer soos U” of
Vonkk 102 “Mag Die Woorde Van My Mond (Psalm 19:15)” 

Liedere

F103. “Kersfees Is ’n Vreugdefees”
(RUBRIEK: Flammikidz – Kersfees / Diens en Getuienis)
Teks en musiek: Jan de Wet
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

1. Kersfees is ’n vreugdefees.
Jesus is nou hier.
Hy wil by sy mense wees
om saam met hulle fees te vier.

2. Kersfees is ’n Christusfees
as ons net verstaan,
dat Hy nie net in ’n krip lê nie,
maar ook aan ’n kruis moes hang.

Refrein:
Vir jou en my het Jesus mens geword.
Hy het gely om ons die lewe te gee.
Maak oop jou hart en laat sy vrede in.
Kersfees sal dan in jou begin.

3. Kersfees is ’n vreugdefees.
Jesus het gekom.
Hy wil by sy mense wees
dat hul kan glo in Hom.

4. Kersfees is ’n vreugdefees.
As ons net verstaan,
dat Hy nie net in ’n krip lê nie,
maar ook deur ’n graf moes gaan.

Refrein:

Nie net een keer in ’n jaar nie!
Kersfees elke dag heel jaar.

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1. Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
“Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2. Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3. Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

F33. “Halleluja In My Hart”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Teks en musiek: Francois Lamprecht
© MAR Gospel Music Publishers

1. God van vreugde, God van vrede,
God van lewe, bowenal, God oor my.
God van gister, God van vandag,
God van ewigheid, bowenal, God oor my –
God oor my!
En die hemel straal van U magtigheid.
En my lewe spreek van U waarheid.

Refrein:
Halleluja in die hemel. Halleluja in my hart,
vir ewig en ewig.
Halleluja op die aarde. Halleluja in my hart,
vir ewig en ewig.
Halleluja! Halleluja!

2. God van almag, God van krag,
God oor die nasies, bowenal, God oor my.
God van verlossing, God van genade,
God van vergifnis, bowenal, God oor my –
God oor my.

Slotrefrein:
Prys die Here in die hemel. Prys die Here in my hart,
vir ewig en ewig.
Prys die Here op die aarde. Prys die Here in my hart,
vir ewig en ewig.

VONKK 147 “Ons Bring Aan U Die Lof En Eer”
Teks: Gideon Brits 2010
Melodie: Du Lebensbrot, Herr Jesu Christ – Peter Sohren 1668, ritmies aangepas 2001
Orrelbegeleiding: Werkgroep Kerkmusiek UOVS 1978. Gebruik met toestemming: NG Kerk-Uitgewers 2001
© Teks en orrelbegeleiding: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Kersfees en Epifanie

1. Ons bring aan U die lof en eer,
ons sing met vreugdeklanke.
U, Heer, ons Koning, het gekom,
dit was ons hartsverlange.
Van vroeg af is dit reeds voorspel
dat U sou kom, Immanuel.
Ons Heiland is gebore!

2. Kom almal, sing jul lof en dank
aan Hom, die Kind gebore.
”Eer aan die Koning en die Heer”,
sing al die hemelkore.
Met blydskap dink ons aan dié dag
deur voorgeslagte lank verwag.
Ons Heiland is gebore!

F135. “Meer Soos U” 
(RUBRIEK: Flam – Gebed, Toewyding)
Teks en musiek: Derek de Bruin
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Aanbiddingsbelewenis met Moreletapark)

Refrein:
Meer soos U, meer soos U
Gees van God, werk in my,
meer soos U, meer soos U
neem U my hart en maak
my meer soos U.

Jesus ek kan leef omdat U lewe.
U alleen is Koning van my hart.
Lei my in u waarheid,
gee my vrede,
laat vaar tog nooit die werke
van u hand
en maak my …

Refrein:

VONKK 102 “Mag Die Woorde Van My Mond (Psalm 19:15)”

Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart,
vir U bly maak, o my Rots, en vir U mooi wees, o my Redder (en my God.)

Let the words of my mouth, the meditation of my heart,
Be delightful in Your sight and give You pleasure, my Redeemer (and my God.)

Se ke se bolelang le se ke se nahanang,
o kgahliswe ke tsona ‘fika le Molopolli wa ka (Morena.)

Lass die Reden meines Mundes und das Sinnen meines Herzens,
Dir gefallen, o mein Fels, und Dich erfreuen, mein Erlöser (und mein Gott.)

Que les paroles de ma bouche et ce que médite mon cœur,
te soient plaisants ô mon Rocher, de tout temps mon Rédempteur (et mon Dieu.)

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Lukas 3:7-18

Familie-oomblik

Een van die aangrypendste waarhede van die fokusteks is dat Johannes waarsku, oordeel preek teen sonde maar nogtans voortgaan en mense doop. In die preekriglyn word ook hierna verwys. Dus, verlossing  juis vir sondaars!

‘n Metafoor wat in die verband gebruik kan word, kom uit die kunste wêreld. Die verskil tussen skilder met olieverf en waterverf het afgesien van baie ander faktore veral te doen met die vermoë om korreksies aan te bring. Met olieverf kan jy gewoon bo-oor ‘n fout verf om die kleur te kry wat benodig word- selfs waar ‘n ligter skakering oor ‘n donker kleur geverf moet word.

Nie so met waterverf nie- dit is baie moeilik om verf wat op die papier drooggeword het te verander. Jy kan dalk donker oor lig doen maar andersom werk nie. Waterverf raak ook baie gou sonder definisie wanneer jy foute met water probeer korrigeer.

‘n Uitsondering op die beginsel is egter om met ink te skilder (gewone ink wat mens in ‘n vulpen gebruik). Ink op papier (wat vir waterverf gebruik word) wat drooggeword het, kan “opgetel” word met JIK. Mens gebruik gewoonlik ‘n oorpluisie in JIK gedoop. Die versoening in Christus met sonde wat vrygespreek word werk soos donker ink wat verdwyn (dit los die suiwer wit papier agter) as dit met JIK “opgetel” word. Deur die doop word die sonde (die ink-fout)  elimineer. So ‘n praktiese illustrasie kan alle aandag vasvang vir ‘n oomblik.

Verf gerus ‘n beeld op waterverfpapier met kleure ink en korrigeer met JIK. (Goue reël is om mos eers by die huis te toets…)

Voorbeeld van ‘n skildery met ink beskikbaar by hier.
Kopiereg laat plasing toe.

Preekriglyn

Dis Maandag, 12 November 2012.  Geskokte inwoners drentel verdwaas rond tussen die oorblyfsels van hulle luukse huise.  Sommige sê die toneel lyk soos ‘n oorlogsone.  Tot gister was dit vir sommige pragtige aftreewonings en vir ander goed-toegeruste vakansiehuise waar mens ‘n welverdiende ruskansie na harde werk kon neem.  Vandag is dit gekraakte, geknakte steenstrukture wat dreig om om te val.

Die vlamme het hulle verwoesting laatmiddag op Sondag 11 November 2012 begin.  Iewers het ‘n brand ontstaan.  Sommige sê dis ‘n braaivleisvuur.  Ander vertel van ‘n kragonderbreking.  Net toe die krag aankom, is ‘n harde klapgeluid gehoor en het die vlamme begin.  Presies in hierdie tyd steek ‘n sterk Suidwester op.  Dit dryf die vlamme genadeloos aan, van huis tot huis.

Grasdakke en vlamme is nie maats nie.  St Francisbaai het dosyne grasdakhuise. Terwyl een dak brand, ruk die wind polle uit die dak en vuur dit op aangrensende huise af.  Die brand versprei.  Oorblufte inwoners en brandweerdienste doen alles wat hulle kan.  Hulp word uit omliggende dorpe en uit die Nelson Mandela Metropool ontbied.  Dit duur meer as ses uur om die inferno enigsins onder beheer te bring.

12 November 2012 is in die volste sin van die woord ‘n Blou-Maandag.  Die son skyn helder uit ‘n potblou hemel op ‘n windstil dag.  Terwyl verdwaasde inwoners gaan kyk na die niks wat oorgebly het, weet jy hierdie mense word tot die uiterste getoets.  Hoe gaan hulle die verliese hanteer?  In baie gevalle is ‘n leeftyd se herinneringe, opgesluit in kosbare meubelstukke, foto’s, sertifikate en voorwerpe van sentiment is daarmee heen.

Merkwaardig genoeg volg die vuurdoop op ‘n watervloed ‘n paar weke vantevore.  Toe is St Francisbaai afgesny van die omgewing omdat die brug oor die Sakrivier weggespoel het.

Water en vuur.  Wie en wat sal bly staan, aanhou en anderkant uitkom?

Om getoets te word

Johannes die Doper se prediking wemel van woorde en frases wat daarop dui dat mense getoets en beoordeel word.  Daarom maak hy ‘n oproep tot bekering en die drag van vrug wat by die bekering pas.  Hy het ‘n intense boodskap wat aan mense in groot getalle, menigtes, oorgedra word.  Dit is ‘n universele boodskap, wat vir alle mense geld.

Kom ons maak ‘n lysie van die woorde wat dui op toetsing en beoordeling:

  • Addergeslag (v. 7, hier vertaal as “julle slange”): Die Jode dink aan hulleself as kinders van Abraham, mense wat voortkom uit die eerste mensepaar, Adam en Eva.  Johannes verwys na hulle as afstammelinge van die slang, die versoeker, die vernietiger van alles wat goed is (Gen 3).
  • Dreigende toorn (v. 7) – hierdie woorde roep die Ou Testamentiese profete se boodskap op, wat die volk waarsku teen die dag van die Here waarop die Here sal oordeel (Am 5:18-20; Jes 2:10-21; Mal 3:2-3, 19).
  • Bekeer (v. 8) – dit beteken om van rigting te verander; jou perspektief te verander, of om oor te gaan na die ander kant toe en ’n ander siening te huldig.  Die volk moet vrugte dra wat wys dat hulle bekeer is.  Die toets vir die egtheid van die bekering lê in die vrugte wat dit oplewer.
  • Moenie by julleself sê ‘Ons het Abraham as voorvader nie’ (v. 8) – mense wat hulself voorberei vir die koms van die dag van die Here moet kyk na wie hulle regtig is.  Johannes vra na hulle identiteit.  Dit is baie duidelik: historiese en godsdienstige afkoms is nie genoeg nie.  “God kan kinders van Abraham uit klippe maak.” Die vergelyking word met klippe gemaak omdat klippe ’n integrale deel van woestynlandskap is;  en klippe in hulle leweloosheid en nutteloosheid ’n dramatiese illustrasie van die vermoë van God is.
  • Die byl lê teen die wortel van die bome (v.9) – die afkap van bome is ’n profetiese beeld van die oordeel (Jes 6:13; 10:33-34; 32:19; Eseg 31:12; Dan 4:14; Luk 13:6-9). Die onmiddellike, die dringendheid word uitgebeeld deur die byl teen die stam.

Toetsing en oordeel is ‘n realiteit.  Dit is egter nie ‘n troostelose boodskap nie.  God se genade is juis om die standaard van die oordeel bekend te maak.  En uit genade word ‘n weg uit die oordeel aangedui.  Die oordeel kan ontkom word.  God bied hierdie weg aan.  Verlossing is moontlik.

Maar daarmee loop ons onsself vooruit.  Kom ons bly eers inhoudelik by Johannes se preek, dus by ons teks.

Die hede op losse skroewe geplaas

Mense wat groot vloede en brande oorleef, getuig dat hulle bewus word van die verganklikheid van alles.  Alles wat ons het, kan in ‘n oogwink van ons weggeneem word.  Die hede, met al die bekoring daarvan, gaan verby.

Johannes se prediking het dieselfde effek.  Sy preek is eskatologies.  Dié woord kom van die Griekse woord eskaton, wat einde beteken.  Hierdie bedeling eindig voor die regterstoel van God.  Eskatologiese prediking waarsku dat ons nie te verknog moet raak aan hierdie lewe nie.  Mens kan so bekoor raak deur wat jy sien en het, dat dit jou lewensrigting bepaal.  Jy kan begin leef ter wille van dit wat jy het.  So ‘n ingesteldheid kan jou laat ontspoor.

Hoe kom jy terug op die spoor?  Jy kry weer fokus op die einde.  Jy kry die Regter wat volgens bepaalde maatstawwe oordeel in fokus.  Jy laat hierdie fokus jou lewe bepaal.

Johannes het een woord om hierdie koersaanpassing te beskryf: bekering.  En: hierdie bekering loop uit op ‘n nuwe manier van lewe.

Praktiese vrugte wat by die bekering pas

Die menigtes wat na Johannes stroom, begin hom nou uit te vra oor vrugte wat by die bekering pas.  Hulle neem sy oordeelboodskap duidelik ernstig op.  Johannes antwoord in ‘n etiese gedeelte van sy preek (10-14) op ‘n praktiese manier oor hoe vrugte lyk wat by die bekering pas:

  • Die menigte mense (v. 10) vra: Wat moet ons doen?  Johannes antwoord dat diegene wat twee kledingstukke het, dit moet deel met iemand wat nie het nie.  Wie kos het, moet dieselfde doen.

Johannes se woorde herinner aan dié van Basilius die Grote, ‘n kerkvader uit die vierde eeu n.C.  Hy het gesê:
Die brood wat jy nie eet nie, maar weggooi, is die brood van die hongeres.  Die ongebruikte kledingstuk in jou kas, is die klere van die persoon wat nakend is.  Die skoene wat jy nie dra nie, is die skoene van die een wat kaalvoet moet loop.  Die geld wat jy wegsluit, is die geld van die armes.  Die dade van barmhartigheid wat jy nie verrig nie, is die ongeregtigheid wat jy pleeg.  Wanneer iemand ‘n ander persoon se klere steel, noem ons hom ‘n dief.  Moet ons nie dieselfde naam gee aan iemand wat die naaktes kón klee, maar dit nie gedoen het nie?

  • Selfs tollenaars kom om gedoop te word.  Hulle was belastinggaarders wat getender het vir die reg om belasting oor ‘n bepaalde tydperk in te vorder.  Hulle het dan die tenderbedrag vooraf aan Rome betaal, waarna hulle mense swaar belas, verneuk en afgepers het om soveel moontlik wins te maak in die tyd tot hulle beskikking.  Rome het uiteindelik die tolstelsel afgeskaf omdat die tollenaars onredelike belastingeise gestel het.

Ook vir tollenaars is daar ‘n etiese lewenstyl moontlik: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.” (13)  Genoeg is duidelik genoeg.  Finansiële gulsigheid en gierigheid is nie in orde nie.  Almal moet kan lewe.  Belasting moet so gehef word dat die gans wat die goue eiers lê nie doodgemaak word nie.  Dit gebeur net as die proporsie wat reg, geregtigheid en soberheid behoue bly.

  • Die soldate (v. 14) vra: “Wat moet ons doen?”  Die soldate moet tevrede wees met hulle loon, en van niemand geld afpers nie.  Dit gaan hier waarskynlik daaroor dat die soldate nie hulle karige vergoeding as verskoning moes gebruik om misdrywe te regverdig nie.
Bekering vir die hele samelewing

Ons moenie hierdie paar voorbeelde onderskat nie.  Met hierdie voorbeelde spreek Johannes die sistemiese onreg in die wêreld van die eerste eeu na Christus aan.  Dit gaan oor veel meer as individue wat tot bekering moet kom.  Die hele sisteem het ‘n radikale bekering of koersaanpassing nodig.

Die tollenaars en die soldate was mense wat verag en gevrees is.  Hulle was die instrumente van die sisteem om die gewone mense uit te buit tot voordeel van die Romeinse oorheersers.  Hulle was die vuil hande van ‘n gulsige sisteem van oorheersing wat die ekonomiese lewensbloed uit Israel moes suig, die gewone boer van sy grond moes kry, en kapitaal en produksievermoë in die hande van die oorheersers moes plaas.

Johannes sê dat so ‘n sisteem sigself nie sal kan handhaaf wanneer God se koningskap (in die oordeel wat die Messias sal voltrek) bevestig word nie.

Wanneer mens veg vir oorlewing in die aangesig van uitbuiting, begin jy oppot en versamel.  Ten alle koste.  Dan het jy naderhand meer klere, skoene en brood in jou kaste as wat jy nodig het.  God vra dat mense met mekaar moet deel, mekaar moet versorg, vir mekaar lewensruimte gee eerder as om mekaar uit te buit.

Dit is wat God se goedkeuring wegdra.  Dit is vrugte wat by die bekering pas.

Vol verwagting

Johannes se prediking vul die mense met verwagting (15).  Hulle verwag God se oordeel oor hul vyande, en die Messias, die Een wat die regering van God (die koninkryk van God) sal bring.  God se regering skep ‘n wêreld waar daar hoop, lewensmoontlikhede, genesing, geregtigheid en vreugde vir almal sal wees.

Daarom wonder hulle: is Johannes dalk die Messias wat God se volk God se koningskap sal laat beleef?  Sal die volk se eeue-oue verwagting dat God sy volk vernuwe en hul verdrukking beëindig, nou in vervulling gaan?  Sal God deur Johannes boosheid oorwin en vernietig?

Johannes maak seker almal verstaan hy is slegs die wegbereider.  Hy is nie eers waardig om die Een wat kom se skoene los te maak nie:

  • Die Een wat kom, is Johannes se meerdere;
  • Johannes doop met water, Hy doop met die Heilige Gees en met vuur.
  • Hy het ‘n skop in sy hand.  Dit is ’n langsteelhoutgraaf, waarmee die koring en kaf saam opgeskep en in die wind opgegooi word, sodat koring en kaf geskei word.  Die oordeel en skeiding het ‘n positiewe doel: om die koring te behou.

Die volk se verwagting is nie misplaas nie.  God gaan inderdaad beslissend handel.  God gaan dit doen deur die Een wat na Johannes kom.

Oordeel loop uit op redding

Die verwysings na vuur en oordeel mag die indruk skep dat God op vernietiging uit is.  In vers 18 noem Lukas Johannes se prediking egter die “goeie boodskap.”  Dit is presies wat dit is.  Dit is goeie nuus dat God in beheer is en dat God met boosheid afreken.

God gebruik vuur vir suiwering, sodat sy kinders gered kan word.  Hierdie is ‘n sentrale motief in die Ou Testament (Jes 1:25; 4:4-5; Sag 13:9; Mal 3:2).

Die beeld van die gaffel op die dorsvloer sê die graan sal bymekaar gemaak word, terwyl die kaf verbrand word. Die metafoor is duidelik: dié wat vrugte dra sal bymekaargemaak word, terwyl dié wat nie leef tot eer van die Koning nie, in die ewige vuur sal verbrand.

Die hoofdoel van Johannes se prediking is om die aandag op verlossing te vestig.  Die bymekaarmaak van die graan en die vreugde van die oes wat in die skuur is, staan sentraal.  Nie die verbranding van die kaf nie.

Uit BM se Woord en Fees (2012-13):
Lukas se punt is baie belangrik. Jesus, die Messias wat kom, is nie net ’n morele prediker, ’n groot leermeester, of vriend van die mense in nood nie. Hy is al hierdie dinge, maar Hy is ook veel meer. In sy hande het God alle mag oorgegee. Hierdie beeld van Jesus as die groot Regter is sentraal by Lukas (Hand 4:10-12; 10:42; 17:31).

Die gedagte van die Messias as Regter en as Redder is ’n belangrike deel van die Joodse toekomsverwagting. Die Messias sal God se reg laat geskied in die wêreld. Dit sal uiteraard die afrekening met die kwaad insluit. Daarom die beeld van die kaf en die koring.

In die Adventstyd

Ons leef in die tyd van verwagting.  Só vier ons dit in die Adventstyd.  Ons sug daarna om God se regering deur die koms van God se Messias te sien.

Dalk kan ons ook soos die Jode sê: Ons het goeie wortels.  Johannes vra hoe ons vrugte lyk.  Dalk is ons geneig om meer op ons wortels as op ons vrugte te vertrou.  Ons is mos gedoop, ons het God se genade ontvang, ons is God se kinders.

Johannes vra hoe ons lewens lyk in die lig van God se genade.  Ons word opgeroep:

  • Om mededeelsaam, barmhartig, regverdig en genadig teenoor ander te leef;
  • Om ons werk goed te doen, vir die loon wat ons daarvoor ontvang;
  • Om mense met eerbied te behandel.

Hierdie Kersfees gaan dalk illustreer dat ons te veel kos het.  Ons vetsug mag daarop dui dat ons meer moet deel.  Ons oorvol instapklerekaste kan ‘n slag leeggemaak word?  Dalk trek ons te veel salaris en kan ons ander se loon bietjie meer aanpas?

Gaan ons die Koning toelaat om hierdie Kersfees in ons kos- en klerekaste te kom krap?

Onstuimige Suid-Afrika

Ons lees hierdie teks in ‘n land waar dit onstuimig gaan.  Ons slinger tussen die Marikana-mynslagting, arbeidsonrus in die mynbedryf, ontwrigting van boerdery-aktiwiteite deur arbeidsonrus, en ‘n onstabiele regerende party, verteer deur hebsug en vraatsug.

Wat sê Johannes se prediking dan vir ons?

Dink aan inligting dat mikroleners obsene rentekoerse op die lenings van die Marikana-mynwerkers gehef het.  Plaasarbeiders eis groter lone, plunder winkels, brand vrugtebome af, en moet oorleef op ‘n baie klein bedrag per dag.  Wat hulle sien, is die voorspoed van die groter bedryf waarvan hulle deel is.

Dit bevestig net weer hoe ‘n groot rol ekonomiese werklikhede speel.

Hoe moet gelowiges reageer op ‘n ekonomiese bestel wat gebou is op wins en eiebelang eerder as op geloof, liefde en etiek?

Nelus Niemandt skryf in Beeld van 21 Oktober 2012:
Wat is ons siening oor stakings wat tot gevolg het dat al hoe minder mense al hoe meer verdien? Wie gaan opstaan en pleit vir die ekonomiese regte van dermiljoene armes? Hoe lank kan ons nog tevrede wees met die huidige ekonomiese bestel?

Hoe moet ons dink oor besittings, internasionale handel, ekonomiese vlugtelinge en die groeiende verbruikerskultuur? Ons moet sekerlik bid vir uitkoms, meer werkgeleenthede en maatskaplike rustigheid.

Ons moet bid vir die armes.
Maar ons moet veral bid vir die gawe van onderskeiding. Dit sluit in die vermoë om ’n kreatiewe alternatief vir die huidige ekonomiese stelsel te bedink.

Die bestaande stelsel is uitgedien en lei juis tot al die soort vergrype wat ons elke dag om ons sien. Ons sal moet dink en hoopvolle stories vertel oor ’n nuwe ekonomiese bestel wat hebsug en eiebelang vervang met geregtigheid en die lewe in vrede waarvan die Bybel praat.

Ons sal moet bid dat kerke saamstaan en die moed aan die dag lê om die ekonomie van Jesus se koninkryk te vestig.

Christene het deur die eeue twee kenmerkende reaksies getoon in tye waar die ekonomie ’n wurggreep op mense gehad het: soberheid en mededeelsaamheid.

Soberheid is om verantwoordelik met besittings en die wêreld om te gaan en te verstaan dat die hulpbronne wel uitgeput kan word.

Soberheid is om versigtig te leef, nie te mors nie en veral nie toe te laat dat die waarde van ’n mens gemeet word in wat jy verdien of besit nie, maar wie jy is.

Mededeelsaamheid is die heel beste manier om te wys ons is nie onversadigbare en selfsugtige ekonomiese wesens nie, maar liefdevolle mense wat die sin van die lewe vind in gemeenskap met ander mense.

Die neoliberale ekonomie is verkeerd – ons moenie net aan ons eie belange dink nie, maar juis ook aan die belange van ander mense. Jesus het die punt helder tuisgebring dat ons welvaart en gemoedsrus vind deur mededeelsaamheid en ruimhartigheid, nie deur die angstige bymekaarmaak van besittings nie.

Kerke en godsdienstige groepe sal profeties moet getuig teen elke vorm van ekonomiese onreg. Gelowiges moet saamdink oor ekologiese geregtigheid en nuwe maniere om ’n sinvolle lewe uit te druk wat anders is as bloot die bruto nasionale produk van ’n land, die styging in die indekse van die effektebeurs of die wisselkoers van ’n geldeenheid.

Brian McLaren skryf in sy boek Everything Must Change dat die ganse wêreld ‘n nuwe uitkyk nodig het – ’n nuwe manier van kyk na die ekonomie, die militêre magsmasjinerie wat dit aan die gang hou en die manier waarop die samelewing georden is. Ons het ’n nuwe ekonomie van liefde nodig wat die ou terminologie van kommunisme en kapitalisme so oudmodies laat lyk soos die twee kante van ’n 1931-pennie.

Dit is nie ’n gees van mededinging, die vrye mark en om ten alle koste te wen wat mense se diepste behoeftes sal bevredig nie, maar ’n soeke na geregtigheid en menswaardigheid.

Geoordeel en gedoop

Die wonder agter Johannes se oordeelsaankondiging is dat hy die mense doop.  Sy doop was ‘n bekeringsdoop.  Dit het mense gehelp verstaan dat daar genade is.  Wie verkeerd doen, kan van koers verander, kan die genade aangryp, en kan nuut lewe.

Gebroke mense, wat uit die genade lewe en daardeur gevorm word, is deur God ingesluit.  Is deur God deel gemaak van God se beweging in hierdie wêreld.  Ons kan ons lewens daarvoor gee.

Trouens, dit is duidelik dat God die inisiatief neem om ons in te sluit en deel te maak van God se werk.  Dit is nie asof genade, vryspraak, barmhartigheid en geregtigheid by ons begin nie.  Dit begin by God.  God is die outeur van ons nuwe lewe.  Ons is geroep om pens en pootjies binne hierdie nuwe lewe te val en daardeur meegesleur te word.

Dis die moeite werd, want God se beweging loop uit op die volheid van God se nuwe wêreld.  Dit kom aan die ander kant van God se oordeel wat ons vrymaak.

God stuur ons om te leef

Herbevestiging van geloof:
Liturg gaan staan by doopvont – sit hand in water sodat gemeente water kan sien.

Liturg:  Ons glo dat ons as sondaars in die wêreld gekom het en daarom nie verdien om God se kinders te wees nie. God het ons egter sy kinders gemaak deurdat Christus vir ons gesterf en  opgestaan het. As teken hiervan is ons gedoop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
Lidmate: Here, dankie dat ook óns doop vir ons die teken van u genade is.

Liturg: Ons glo met ons hele hart dat die verlossingsboodskap wat ons in die Bybel hoor, waar en betroubaar is en dat God dit hierdeur vir ons moontlik maak om Hom te leer ken, lief te hê en te dien.
Lidmate: Here, ons sê dankie vir u Woord!

Liturg: Ons aanvaar die tekens van die nagmaal, naamlik die brood en wyn, as versterking van ons geloof.
Lidmate: Here, dankie dat ons gereeld saam met mede-gelowiges by die tafel kan aansit.

Liturg: Ons glo ook dat die artikels van die Christelike geloof soos wat ons dit in die kerk leer, in ooreenstemming is met die boodskap van die Bybel.
Lidmate: Here, ons sê dankie dat ons deel van u kerk mag wees!

Liturg: (‘n Kort opsomming van die gemeente se visie)
Lidmate: Here, ons sê dankie dat ons deel van (Naam) gemeente mag wees!

Liturg: Ons onderneem opnuut om U in hierdie gemeente te dien en saam met ander gelowiges u koninkryk te help bou.
Lidmate: Ons het U lief met ons hele lewe. Aan U kom toe die eer en die heerlikheid tot in ewigheid.
(Uit Agenda, Algemene Sinode 2002:  A.6 Erediens)

Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is”

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 320 “O kom, o kom, Immanuel”

Seën: Sefanja 3:17
Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou. (Of vertaal die Jerusalem Bible se briljante vertaling na Afrikaans:  Yahweh your God is there with you, the warrior-Saviour. He will rejoice over you with happy song, he will renew you by his love, he will dance with shouts of joy for you.)

Respons
Lied 320 Refrein

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.