Derde Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Op die derde Sondag in Advent fokus ons op die lewe en werk van Johannes die Doper. In die tronk is hy self nie seker dat Jesus die langverwagte Messias is nie. Hy mag egter nie twyfel nie, want die tekens van die koninkryk van God is aan die deurbreek en duidelik sigbaar (Matt 11:2-12).

Mense moet moed skep en diensbaar wees, want God se koninkryk bring vreugde en blydskap (Jes 35:1-10).

Hy is die Almagtige Skepper. Hy voorsien en sorg vir ons, sy kinders (Ps 146:5-10).

Ons moet geduldig volhard en nie kla nie totdat die Here ons kom haal  (Jak 5:7-10).

Ander tekste

Jesaja 35:1-10
God kom julle red
35 Die woestyn, die dor land, sal jubel,
die droë wêreld sal juig,
oortrek met affodille;
2hy sal in volle bloei staan,
hy sal juig en sing,
hy sal die prag van die Libanon hê,
die skoonheid van Karmel en Saron.
Israel sal die mag van die Here sien,
die koninklike mag van ons God.
3Bemoedig dié wie se hande slap hang,
help dié wie se knieë knik,
4sê vir dié wat moed verloor het:
“Wees sterk, moenie bang wees nie,
julle God is hier,
Hy kom om wraak te neem,
om julle vyande te straf;
God kom julle red!”
5Blindes sal kan sien,
dowes sal kan hoor,
6lammes sal kan rondspring
soos takbokke,
stommes sal kan sing.
Strome water sal
uit die woestyn uit bars;
daar sal riviere loop
in die droë wêreld.
7Die verskroeide aarde
sal ’n moeras word,
dorsland waterryke wêreld.
Waar daar nou net vir jakkalse
lêplekke is,
sal gras en riet en biesies groei.
8Daar sal ’n grootpad
deur die woestyn loop
en dit sal bekend staan
as die gewyde pad.
Onrein mense sal nie daarop loop nie,
dit sal net wees vir mense wat reg lewe;
dwase sal nie meer op die pad kom nie.
9Daar sal nie leeus op die pad wees nie,
daar sal nie roofdiere op loop nie,
hulle sal glad nie daar kom nie.
Net die mense
wat deur die Here gered is,
sal die pad gebruik.
10Dié wat deur die Here verlos is,
sal terugkeer,
hulle sal juigend in Sion aankom,
hulle sal altyd straal van blydskap,
hulle sal vol vreugde en blydskap wees;
ellende en smart sal verdwyn.

Psalm 146:5-10
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Lukas 1:47-55
Die loflied van Maria
46En Maria het gesê:
“Ek besing
die grootheid van die Here,
47ek juig oor God, my Verlosser,
48omdat Hy na my
in my geringheid omgesien het.
Kyk, van nou af sal elke
nuwe geslag my gelukkig noem,
49omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
50Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
51Kragtige dade het Hy
met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het Hy uitmekaargejaag;
52maghebbers het Hy van trone
afgeruk en geringes verhoog;
53behoeftiges het Hy oorlaai
met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
54Sy dienaar Israel het Hy
te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes
van ontferming
55soos Hy dit toegesê het
aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.”
56Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

Jakobus 5:7-10
Volharding
7Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. 8Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here. 9Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur. 10Broers, neem die profete wat in die Naam van die Here gepraat het, as voorbeelde van lyding en geduld. 11Ons noem hulle geseënd omdat hulle volhard het. Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming.

Fokusteks

Matteus 11:2-11
Jesus en die vraag van Johannes die Doper
(Luk 7:18–35)
2Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge ‘n boodskap aan Hom gestuur om te vra: 3“Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?”

4Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: 5Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. 6En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”

7Toe hulle weggaan, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na ‘n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? 8Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ‘n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry ‘n mens in koninklike paleise. 9Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ‘n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as ‘n profeet. 10Dit is hy van wie daar geskrywe staan:
‘Kyk, Ek stuur my boodskapper
voor jou uit;
hy sal die pad vir jou regmaak.’
11“Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy.

12Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself ‘n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit. 13Al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer, 14en as julle dit wil aanvaar: Johannes is die Elia wat sou kom. 15Wie ore het, moet luister.

16“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:

17‘Ons het vir julle op die fluit gespeel,
en julle het nie gedans nie!
Ons het ‘n treurlied gesing,
en julle het nie gehuil nie!’

18Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’19Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

Ekstra stof

Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee
Matteus fokus vervolgens in hoofstuk 11-13 op die gemengde ontvangs van die koninkryk.  Hoofstuk 11 fokus op die teenstand van die Joodse volk wat manifesteer in die aanstoot wat hulle neem aan Jesus se bediening aan tollenaars en sondaars (11:2-19), sowel as in die feit dat die stede nie tot bekering kom nie ten spyte van die kragtige dade wat Jesus daar gedoen het (11:20-24).  In skerp kontras met hulle kan die Here Jesus sy Vader loof vir “kindertjies” wat God ontvanklik vir die boodskap van die koninkryk gemaak het.  Vir almal bied Jesus in elk geval rus vir hulle gemoed aan in ‘n persoonlike verhouding met Hom (11:25-30).

‘n Soortgelyke patroon word in hoofstuk 12 gevind, waar die teenstand meer met die Fariseërs verbind word.  Die reeks van drie hoofstukke eindig met die volgende rede van Jesus, die sogenaamde koninkryksrede, in hoofstuk 13.  Dit bestaan uit ‘n reeks van sewe/agt gelykenisse, ingelei deur die gelykenis van die Saaier/saad.  Die gelykenisse beklemtoon almal ‘n kant van die koms en ontvangs van die koninkryk.

Die eerste vers van hoofstuk 11 verwys eintlik na die afhandeling van die vorige hoofstuk se verhaal van die sending van die twaalf en vorm dus streng gesproke nie deel van die volgende hoofdeel van Matteus se evangelie nie.

Die Joodse volk neem aanstoot aan Jesus se bediening aan tollenaars en sondaars – 11:2-19
Interessant genoeg word die naam Christus die eerste keer weer hier gebruik vir Jesus, ná Herodes met die sterrekenners se besoek navraag gedoen het na die geboorte van die Christus.  En dit is gepas dat dit Johannes die Doper is wat vra of Jesus die Christus is, die Een wat sou kom en of hulle iemand anders moet verwag.  Hy het immers as Voorbereider opgetree en het die doop van Jesus gefasiliteer.

Johannes die Doper sit egter in die tronk en sou kort hierna onthoof word (die storie word in Matt. 14 vertel).  Sy vraag was dus waarskynlik gebore uit die benarde situasie waarin hy sit.  Jesus se antwoord aan hom is egter om presies wat Johannes in elk geval gehoor het, te herhaal – dat blindes weer sien, dat verlamdes weer loop, dat melaatses gereinig word, dat dowes hoor, dat dooies opgewek word en dat armes die boodskap van die evangelie hoor – maar in taal wat uit die OT kom (Jes. 26:19; 29:18; 35:5-6; 42:7,18; 61:1).  Hy verbind dus die wonders aan die Woord wat Johannes goed ken.  Dié ses wonders wat genoem word, korrespondeer ook met die meeste van die wonders wat die afgelope paar hoofstukke in hfst. 8-9 vertel is.

Vers 6 is dan ‘n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie.  Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is.  Mense wat hulle lewe gee vir Jesus in die navolging van hulle roeping, word nie die lyding wat daarmee gepaard gaan, gespaar nie.

Met die vertrek van Johannes die Doper se dissipels, brei Jesus dan uit oor die besondere profeet en boodskapper wat Johannes was, in ‘n sekere sin die grootste van alle mense tot op daardie tyd, die Elia wat sou kom (Mal. 4:5), om die pad vir die koninkryk voor te berei en reg te maak.  Die tragedie is dat nie Johannes die Doper of die Seun van die Mens, die Voorbereider en die Verlosser, vir die Joodse volk aanvaarbaar was nie.  Die een was te heilig en die ander nie heilig genoeg nie.  Hulle dade sal egter op die langtermyn hulle boodskap bevestig, sê Jesus.

Jesus verwyt die stede wat nie tot bekering kom ten spyte van die kragtige dade van Jesus – 11:20-24
Jesus se frustrasie met die wispelturige weerstand van die Joodse volk teen sy boodskap spoel oor in ‘n volskaalse verwyt dat die stede waarin Jesus die meeste van sy kragtige dade gedoen het nie tot bekering gekom het nie.  Gorasin, Betsaida en Kapernaum – almal stede in Galilea – ontgeld dit spesifiek.  Ons lees nie in die evangelies van wonderverhale in Gorasin nie, maar wel in Betsaida (Mark. 8:22; Luk. 9:10) en Kapernaum.  Dit was immers sy hoofkwartiere.

Die heidense stede Tirus, Sidon en Sodom, sê Jesus, sou lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het, as hulle die dinge gesien het wat Jesus in Israel gedoen het. Maar verniet!  Vir die onbekeerde stede wag daarom net oordeel, ‘n oordeel wat erger sal wees as wat die heidense stede te beurt sal val.

Jesus bied rus vir diegene wat ontvanklik vir God se boodskap is – 11:25-30
Jesus erken egter in dié gedeelte die misterie van God se werking in mense se harte.  Let op dat Hy God se aktiwiteit in die aksie om dié dinge vir slim en geleerde mense te verberg en die bekendmaking of openbaring aan “kindertjies” (Matt. 18:1-4: “As julle nie verander en soos kindertjies word nie …”), uitlig.  God werk sy doelwitte met mense uit IN die reaksies wat hulle teenoor Jesus het.  Daarvoor loof Jesus sy Vader.  Dat Hy verwerp word, benadeel ook nie die verhouding wat Hy met sy Vader het nie.

Die uitnodiging om rus by Hom te vind, bly egter van krag. Dit word steeds aan “almal” gerig.  Die dieptepunt van dié uitnodiging is egter dat die rus nie net gevind word in die nougesette volg van Jesus, in dissipelskap, nie.  Jesus gebruik hier nie die woorde van Matt. 4:19: “Kom saam met My” wat Hy aan die dissipels met hulle roeping gerig het nie.  Hy sê hier – en dit is die enigste keer in die evangelies sowel as die res van die NT wat dié woorde gebruik word – “Kom na My toe“!  Hy bied persoonlike gemeenskap aan almal aan wat dié boodskap hoor en Hom daarvoor vertrou.

Dit sluit in dat sy juk (dit is sy lering – die wet is baie keer as ‘n juk verduidelik, vgl. Gal 5:1) opgeneem word en sy las gedra word, maar dit begin by die persoonlike ontmoeting en persoonlike gemeenskap.

Eugene Peterson parafraseer dié laaste drie verse só pragtig in The Message, met veral die frase “Learn the unforced rhythms of gracewat my tref:

Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.

Liturgie

Toetrede
VONKK 21 Wag op die Heer of
F509. “Wie Op Hom Wag Kom Nader” (Kom Nader)

Votum: Jakobus 5:7-8

Seëngroet

Lofsang
VONKK 124 Jesus Bring Vreugde [bekende melodie] of
Lied 345 “Kom, alle getroues”

Aansteek van Adventskerse as verootmoediging / lament: Lied 320 “O kom, o kom, Immanuel”

Genadeverkondiging / belofte: Hoor die belofte van Jesaja 35:1-10

GELOOFSBELYDENIS met Kersfees (Teks uit DB)

Lied 322 “Redder van die nasies, kom”

Gebed

Skriflesing: Matteus 11:2-11

Familie-oomblik
Preek
Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 351 “Kom, verwonder julle, mense”
F103. Kersfees Is ’n Vreugdefees

Seën

Respons: Lied 320 refrein: Wees bly, wees bly, o Israel – Hy is naby, Immanuel.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede

VONKK 21 Wag op die Heer of
F509. “Wie Op Hom Wag Kom Nader” (Kom Nader)

Votum: Jakobus 5:7-8
7Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. 8Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here.

Seëngroet
Tydens Advent vier ons die k oms van die Here, terwyl ons uitsien na sy koms.
Daarom groet ek julle in die Naam van die Here wat gekom het, elke dag kom en eendag finaal weer sal kom.  Genade, vrede en vreugde vir julle.

Lofsang
VONKK 124 Jesus Bring Vreugde [bekende melodie] of
Lied 345 “Kom, alle getroues”

Aansteek van Adventskerse as verootmoediging / lament:
[Gebruik die aansteek van die Adventkers elke week as ’n geleentheid vir voorbidding of klag.  Advent 3 is die Sondag van vreugde.  Gebruik hierdie tyd om na te dink oor onreg en armoede wat mense van hul lewensvreugde en menswaardigheid stroop.]

Toe Johannes sy volgelinge stuur om by Jesus te hoor of Hy die een is wat gestuur is, is Jesus se antwoord:  “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig.”

Psalm 146 sê:
Die Here laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
Terwyl ons vanoggend die derde Adventkers aansteek – die kers van vreugde – kom ons dink aan al dié dinge wat mense hul lewensvreugde ontneem, wat keer dat mense floreer.

Laat iemand in gebed voortgaan – spesifiek vir armes, onderdruktes, ens – terwyl die derde kers aangesteek word, of sing:
Lied 320 “O kom, o kom, Immanuel “

Genadeverkondiging / belofte
Hoor die belofte van Jesaja 35:1-10:
Die woestyn, die dor land, sal jubel,
die droë wêreld sal juig,
oortrek met affodille;
2hy sal in volle bloei staan,
hy sal juig en sing,
hy sal die prag van die Libanon hê,
die skoonheid van Karmel en Saron.
Israel sal die mag van die Here sien,
die koninklike mag van ons God.
3Bemoedig dié wie se hande slap hang,
help dié wie se knieë knik,
4sê vir dié wat moed verloor het:
“Wees sterk, moenie bang wees nie,
julle God is hier,
Hy kom om wraak te neem,
om julle vyande te straf;
God kom julle red!”
5Blindes sal kan sien,
dowes sal kan hoor,
6lammes sal kan rondspring
soos takbokke,
stommes sal kan sing.
Strome water sal
uit die woestyn uit bars;
daar sal riviere loop
in die droë wêreld.
7Die verskroeide aarde
sal ’n moeras word,
dorsland waterryke wêreld.
Waar daar nou net vir jakkalse
lêplekke is,
sal gras en riet en biesies groei.
8Daar sal ’n grootpad
deur die woestyn loop
en dit sal bekend staan
as die gewyde pad.
Onrein mense sal nie daarop loop nie,
dit sal net wees vir mense wat reg lewe;
dwase sal nie meer op die pad kom nie.
9Daar sal nie leeus op die pad wees nie,
daar sal nie roofdiere op loop nie,
hulle sal glad nie daar kom nie.
Net die mense
wat deur die Here gered is,
sal die pad gebruik.
10Dié wat deur die Here verlos is,
sal terugkeer,
hulle sal juigend in Sion aankom,
hulle sal altyd straal van blydskap,
hulle sal vol vreugde en blydskap wees;
ellende en smart sal verdwyn.

GELOOFSBELYDENIS met Kersfees (Teks uit DB)
Ek glo in Jesus Christus,
afstammeling van Abraham, met wie God ‘n verbond gesluit het,
en van Dawid, die groot koning van Israel.
Jakob was die pa van Josef, die man van Maria, die vrou wat Jesus in die wêreld gebring het.
Ek glo in Jesus Christus,
vooruit aangekondig deur God se engel Gabriël,
ontvang van die Heilige Gees,
met die naam Jesus, om sy volk van hulle sondes te verlos;
met die naam Immanuel, om God by ons te wees.
Ek glo in Jesus Christus,
deur God beskik vir geboorte in Bethlehem,
sonder Augustus en Sirenius se beterwete.
Saam met Maria juig ek oor God my redder,
want Hy het ook groot dinge aan my gedoen.
Saam met die sterrekeykers wat goud en wierook en mirre aanbied,
kom bied ek myself aan,
uit dankbaarheid vir God wat onder ons mens geword het.
Saam met die skaapwagters verstom ek my
oor die engelekoor in die hemelruim.
En saam met die engele juig ek:
die goeie nuus is vir die hele volk bedoel-
die Redder is in die stad van Dawid gebore!
Dit is die Messias wat mense van hulle sonde sal vrymaak,
die kind in die houtkrip
wat sy roeping sou vervul aan ‘n houtkruis.

Lied 322 “Redder van die nasies, kom”

Liedere

F509. “Wie Op Hom Wag Kom Nader (Kom Nader)”
(RUBRIEK: FLAM – Geloof en vertroue)  Teks en musiek: ? Kopiereg: © (Opgeneem op Kom Nader)

Wie op Hom wag, kom nader
Wie op Hom hoop, kom nader

Vehef nou jou stem
Verheerlik Hom
Lig op jou stem
Gee nou oor
Buig in aanbidding
En roep sy Naam

Elkeen wat dors is, kom nader
Elkeen wat honger, kom nader

Elkeen wat moeg is, kom nader
Elkeen wat seer het, kom nader

Jesus, Seun van God
Jesus, Seun van God

VONKK 21 “Wag op die Heer”
Nav Markus 13:33,35,36
Teks: Wait for the Lord – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Braam Hanekom, Breda Ludik en Michiel van der Merwe 1994/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Engels, Afrikaanse  in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Wag op die Heer,
sy dag kom gou.
Wag op die Heer:
bly bid en waak.

Wait for the Lord,
whose day is near.
Wait for the Lord:
keep watch, take heart!

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1.  Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
”Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2.  Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3.  Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

F103. “Kersfees Is ’n Vreugdefees”
(RUBRIEK: Flammikidz – Kersfees / Diens en Getuienis)
Teks en musiek: Jan de Wet
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

1. Kersfees is ’n vreugdefees.
Jesus is nou hier.
Hy wil by sy mense wees
om saam met hulle fees te vier.

2. Kersfees is ’n Christusfees
as ons net verstaan,
dat Hy nie net in ’n krip lê nie,
maar ook aan ’n kruis moes hang.

Refrein:
Vir jou en my het Jesus mens geword.
Hy het gely om ons die lewe te gee.
Maak oop jou hart en laat sy vrede in.
Kersfees sal dan in jou begin.

3. Kersfees is ’n vreugdefees.
Jesus het gekom.
Hy wil by sy mense wees
dat hul kan glo in Hom.

4. Kersfees is ’n vreugdefees.
As ons net verstaan,
dat Hy nie net in ’n krip lê nie,
maar ook deur ’n graf moes gaan.

Refrein:

Nie net een keer in ’n jaar nie!
Kersfees elke dag heel jaar.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Matteus 11:2-11

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Jan Richardson het ‘n pragtige kunswerk geskep oor Johannes wat deur die donker trunk tralies die lig sien.  Gaan kyk hier daarna.  Dit is waarskynlik te ingewikkeld vir kinders, maar dis ‘n pragtige refleksie om óf met die gemeente te deel óf in die liturgie in te werk.

Johannes vra of Jesus regtig die een is vir wie almal wag, of Jesus regtig “God met ons” is.  Jesus antwoord deur te sê mense moet kyk wat Jesus doen.  Lyk dit nie soos God se optrede nie?

Ons vier in hierdie tyd Jesus se verjaarsdag.  Ons challenge is om sy verjaarsdag te vier met goed wat hy sou doen, soos om mense te help.  Hier kan jy dalk praktiese, uitvoerbare plaaslike idees gee van goed wat families in die volgende twee weke kan doen om minderbevoorregtes te help.  Of gee vir elke familie ‘n groot leë papiersaak en vra hulle om elke dag tot by Kersfees iets in die sak te sit (speelgoed, nie-bederfbare kos, toiletware) en dit op Kersdag kerk toe te bring.  Julle gemeente kan dit dan gebruik in een van jul barmhartigheidsbedieninge.

Die lied “Do you hear what I hear?” wys na ‘n paar goed (ster, lied, kind in ‘n stal) wat gewoon lyk, maar spesiaal is as jy mooi kyk.  Julle kan dit sing of ‘n video daarvan wys.

Preekriglyn

Ken Mansfield was die bestuurder van Apple Records, die uitgewers van die Beatles se musiek in die VSA. Hy vertel van die wonderlike tye wat hy met die Beatles beleef het, natuurlik voordat die groep tot niet gegaan het. Vir hom persoonlik het sy lewe ook daarna agteruitgegaan, totdat hy in die mid-1980’s die nulpunt bereik het.

Op hierdie stadium, danksy ‘n vrou op wie hy verlief geraak het, het Mansfield vir Jesus gevind. Voordat hy besluit het om Jesus as Here en Verlosser te volg, sê Mansfield, was sy Bybel die musiek-industrie se glanstydskrifte, was grafieke van plaatverkope sy God, en sy lewensdoel om posisies van prestige in die lewe te bereik. ‘n Grammy-toekenning was sy verlosser, en die beloofde land ‘n posisie op die toppunt van die plate-industrie. Hy wou ‘n magtige sakeman wees, ‘n sukses, iemand na wie ander met bewondering gekyk het.

Na sy bekering het Mansfield besef hoe leeg die lewe saam met die Beatles was, in vergelyking met ‘n lewe volgens die weg van Jesus. Die Vader, Seun en Heilige Gees is die bron van die lewenskoers wat hy nodig gehad het, vertel Mansfield later. “Ek het ‘n kaart nodig gehad, ‘n joernaal met helder instruksies, reiswysers waarna ek kan kyk – ‘n gidsboek wat my onrustige gees kon aanspreek. Ek het ‘n Boek met soveel krag nodig gehad dat die woorde daarvan op die kern van my hart ingegraveer kon word. Ek het die onweerlegbare, heilige Woord van God nodig gehad: woorde van die almagtige Vader, die skepper van die oseaan van die lewe waarop ek so verlore was.”

Johannes evalueer Jesus

Vanaf Matteus 11:2 begin die derde hoofdeel van Matteus se evangelie. In hierdie gedeelte vertel Matteus wat verskillende mense se reaksie op die boodskap, die persoon en die bediening van Jesus was.

In ons teks kom Johannes die Doper, wat toe in die tronk sit, se reaksie op Jesus se bediening aan die orde. Johannes stuur sy dissipels met ‘n boodskap om vir Jesus te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander Een verwag?” (3) Johannes spreek dus openlik sy onsekerheid oor Jesus uit (11:3).

Dit maak sin wanneer ons Johannes se oorspronklike verwagting rondom die Messias in gedagte hou. Johannes het in Matteus 3:11-12 reeds die indruk gelaat dat die koms van die Messias met oordeel gepaard sal gaan. Wat egter gesien en beleef is, was in skrille kontras met oordeel – al het Jesus in 10:34 te kenne gegee Hy het met die swaard gekom.

Die vorige keer dat ons iets in Matteus oor Johannes die Doper hoor, is by sy arrestasie (4:12). Daar in die tronk kon die Doper die verwagting van geregtigheid en oordeel hê. Heimlik het hy dalk gehoop dat Jesus hom sou ontset uit die gevangenis van die koning. Dalk stuur Johannes nou sy dissipels om Jesus te herinner hy is agter slot en grendel. Johannes rig dalk eintlik ‘n petisie: Jesus, onthou wie U is! Kom en bevry my!

Jesus is die Messias

Jesus antwoord Johannes se dissipels op veelseggende wyse. Jesus string ‘n reeks aanhalings uit Jesaja aanmekaar. Daardeur teken Jesus Homself as ‘n Redder op ‘n ander manier as wat die verwagting van Johannes was. Jesus gee ‘n lys van ses wonders – wat perfek ooreenkoms met sy werke in hoofstuk 8 en 9. Jesus sê sy bediening is die uitvoering van die Messias-beloftes van die Ou Testament. Hy het sig herstel, verlamdes laat loop, melaatses gereinig, dowes laat hoor, dooies opgewek en armes die Goeie Nuus laat hoor. Dit was fisieke wonders en moet nie vergeestelik word nie.

In ‘n neutedop was Jesus anders as die brenger van oordeel, soos deur Johannes voorspel. Nie ‘n redder met mag wat breek nie, maar ‘n redder wat met gesag ophef en herstel. Jesus sê eintlik dat Johannes die verkeerde Messiasverwagting gehad het. In Jesus se finale woorde laat Hy deurskemer Hy sal nie aan al Johannes se verwagtinge voldoen nie. Trouens, dit blyk ook waar te wees vir ‘n groot deel van die skare. Aan die einde sê Jesus daarom: “Geseënd is dié wat (dit aanvaar) en nie daaroor aanstoot neem nie . . .”

Daar is opvallend geen verwysing na vrylating van gevangenes in Matteus nie. Gegewe Johannes se situasie is dit veelseggend aangesien, in Lukas 4:18-19 toe Jesus eweneens uit Jesaja sy eie bediening aan omstanders verduidelik het, Hy spesifiek die vrylating van gevangenes noem.

Jesus evalueer Johannes

Johannes se evaluering oor die persoon en werk van Jesus het daartoe gelei dat Jesus dieselfde met Johannes doen. Toe Johannes se dissipels weggaan, begin Jesus met die mense oor Johannes praat. Hy werp meer lig op die rol en funksie van Johannes.

Jesus beeld Johannes die Doper uit as iemand wat soos ‘n skarnier die oue aan die nuwe verbind. Johannes verteenwoordig aan die een kant die afsluiting van die Ou-Testamentiese profete. In daardie opsig is hy die grootste van die profete wat al ooit was. Aan die ander kant is Johannes die voorloper van die Nuwe-Testamentiese profeet wat na Jesus en latere tye verwys. Die aard van die profetiese woord het verander. En hiervan is Jesus se boodskap ‘n voorbeeld. Soos in 11:12 en in Lukas 16:16 gesien kan word, was die woord van die ou bedeling ‘n harde en dikwels gewelddadige woord. Dit is egter radikaal anders in die nuwe bedeling van Jesus.

Terwyl die mense dus ‘n blote voortsetting tussen die Ou-Testamentiese profete en Messiasverwagting in Jesus se woorde en optrede gesoek het, het Jesus hulle teleurgestel. Hy eet saam met sondaars en kuier aan huis van bedrieërs. Meer nog skyn dit dat die oningeligtes meer van Jesus se werk en identiteit snap as dié van wie ‘n mens begrip sou verwag. Jesus dank immers sy Vader vir die insig onder die oningeligtes (11:25).

‘n Hoë dunk van Johannes

Ons moenie dink Jesus het min van Johannes gedink nie, ten spyte van sy vraag of Jesus die Messias is nie. Jesus se beeldspraak in vers 7 en 8 beklemtoon die besondere hoë dunk wat Jesus van Johannes gehad het. Op treffende wyse onderstreep kontras die gesag van Johannes.

Die eerste beeld van ‘n riet wat geskud word in die wind is waarskynlik ‘n uitbeelding van Herodes Antipas wat ‘n riet op ‘n muntstuk van die dag vasgehou het. Die beeld van ‘n riet wat skud in die wind kommunikeer swakheid en weifeling; karaktereienskappe van Herodes! Egter alles behalwe Johannes. Hy was van die begin van sy bediening af die toonbeeld van sterkte en standvastigheid.

Die tweede beeld pas hierby aan en verwys na die man geklee in deftige klere – weereens waarskynlik Herodes – teenoor Johannes in sy growwe kameelhaarklere met rowwe leergordel. Daarom derdens, wie het die volk gaan opsoek? ‘n Koning? Nee! ‘n Profeet! Die volk het nie hul hoop op koning Herodes geplaas nie, maar eerder op Johannes.

Vir Jesus het Johannes in terme van die koninkryk van God ‘n besondere status. Gewone mense kan dit nie raaksien nie, mense wat op uitwendige kenmerke van mag fokus. Vir mense is dit eerder die ongeregtige Herodes wat blykbaar die sterkere is. In Jesus se nuwe era is die woestynbewoner met die kameelhare wat God se wil doen, die sterkere. So lyk die nuwe era wat deur Jesus ingelei is. Dit is ‘n radikale era wat deur skynbare swakheid (in menseterme) gekenmerk word. Hyself het immers gely en gesterf aan die hand van die skynbaar magtige Romeine en godsdienstige leiers van die Jode.

Jesus is anders

Johannes was anders, en Jesus is nog meer anders. Hy is die Messias, die Redder van die wêreld, maar nie op die manier wat mense verwag nie.

Teenoor die verwagting van ‘n magtige stryder wat die onreg van die dag op ‘n daadwerklik manier regstel, het Jesus die ander wang gedraai, die ekstra myl gestap en die bokleed saam met die onderkleed weggee. En die gelowiges wat in Jesus se spore volg, word gekenmerk deur dieselfde optrede.

Terwyl die wêreld oorwinning op ‘n triomfantelike manier verwag en vier, kom die Christuskind in die gestalte van slaaf (Fil 2) en verneder Homself om tot die dood te ly en swaar te kry. Van die verwagte militante oorwinning van die bose op ‘n opspraakwekkende of populêre wyse is daar net mooi geen teken nie! Al wat jy uiteindelik vind, is die kind toegedraai in doeke wat die dood oorwin en grafdoeke agterlaat in ‘n leë grafkelder.

Twintig eeue later

Ons leef 20 eeue later. Ons leef tussen die eerste en tweede koms van Christus. Terwyl ons met vreugde terugdink aan die eerste koms, kan ons met vreugde die tweede koms verwag, ongeag ons omstandighede. Trouens, iets in die Johannes-verhaal van Matteus 11 is nogal inspirerend terwyl ons dalk al sukkelend wag dat Jesus weer op die wolke sal verskyn.

Dat ons egter – soos Johannes – by tye kan wonder of die Christus regtig die Een is wat ons verwag het en of ons langer moet wag, is ‘n feit. Vir elkeen wat by ‘n oop graf moes staan, elkeen wat die slegte nuus in die spreekkamer van die huisarts ontvang het, ja, elkeen wat die swaar wolk van die dood of dreigende einde van die lewe in die oë gestaar het, maak Johannes se woorde sin.

Dis amper of Johannes die slim leerling in die klas is wat vir die onderwyser die vraag vra wat ek en jy eintlik wou, maar te skaam was aangesien ons bang was die ander kinders lag vir ons. “Jesus, is jy die Een? Kan ons op jou steun? Sal jy ons hierdeur (kan) dra?” Is dit nie dalk ‘n vraag wat selfs buite die mure van die kerk ook gevra word nie? Ja, selfs deur dié wat soms trots verklaar dat hulle nie glo nie!

Dalk is daar ook in jou iets wat voel dat indien Jesus daadwerklik teenoor Herodes opgetree het en Johannes vrygelaat was, sou daar soveel meer steun vir Jesus as Messias gewees het – of hoe? Waarskynlik nie! Hoekom nie? Aangesien Jesus juis van die begin af ‘n nie-gewelddadige bediening onderneem het. Selfs toe die duiwel Hom in die woestyn uitgedaag het om opspraakwekkend (en triomfantelik) op te tree, het Jesus die versoeking weerstaan.

‘n Wenner?

Almal hou van ‘n wenner! Niemand is so gelukkig soos ‘n wenner nie! Ongelukkig glo baie mense in ons dag dié frases tot so ‘n mate dat hulle enige iets sal doen om te wen. Wen ten alle koste, het die wagwoord van sukses geword. Geen prys te hoog om eerste te kom nie. Het ons nie immers met die “Rich Man, Poor Man” spreuk – “Second best is a loser!” – groot geword nie?

Johannes wou kennelik Jesus se sukses ook aan ‘n oorwinning meet. Waarskynlik die oorwinning van reg oor onreg. Hy, Johannes, was immers in die tronk omdat hy hom ten regte uitgelaat het oor die sonde van Herodes. Was dit nie ‘n skreiende onreg dat Herodes op so ‘n ontugtige wyse sy broer se vrou gekry het nie! Ek kan sommer die voorbladstories in die eerste eeuse koerante sien!

Jesus se antwoord aan Johannes se volgelinge was egter alles behalwe ‘n trooswoord. Miskien was Johannes selfs daardeur ontstel. “Nee, Johannes, daar is ‘n groot plan hier. Jou verwagtinge oor My is misplaas. Dit wat jy verwag, is nie waarvoor Ek gekom het nie . . . “, sou Jesus sê.

Vooraand van Kersfees

Ons staan op die vooraand van Kersfees. Dit is ‘n seisoen van verwagtinge. Vir sommige is dit verwagtinge oor presente en dinge wat hulle gaan kry. Sommige verwag om herstelde verhoudinge en seën te kry. Sê ons nie immers, “Geseënde Kersfees” nie? Maar wat verwag ons as inhoud van die seën? Verwag ons dat ons drome en ideale vervul gaan word? Verwag ons om te kry wat ons wil hê? Dan is die boodskap uit Matteus 11 dat ons dalk teleurgestel gaan word.

Mens herken jouself so goed in die verhaal van Ken Mansfield waarmee ons begin het. Hy wou ‘n wenner wees. Die pad wat hom verby alle moontlike sukses geneem het, het geëindig in ‘n diep mislukking. Dit is eers toe hy die Messias ontdek het, en die weg van die Messias begin wandel het, dat die lewe beginne s’n maak het. Jesus het hom nie op die kruin van voorspoed geplaas nie. Jesus het hom genees en vir hom ‘n nuwe lewensdoel gegee.

Die Christuskind het nie gekom om soos ‘n super Kersvader mense-verwagtinge te vervul nie. Daar is nie triomfantelike Kersmusiek uit die stal nie. Daar is wel ‘n lydende Kneg wat voorloop. Ons weet meer as Johannes. Ons weet Hy het gely, gesterf en is begrawe. Ons weet ook Hy is na drie dae opgewek en Hy lewe! Hoekom is daar vreugde op hierdie derde Adventsondag? Omdat die vraag van Johannes die Doper beantwoord is en ons die antwoord ken. Ja, Hy is die Messias. Ja, Hy is die Een vir wie die wêreld gewag het en daarom wag ons nie vir ‘n ander een nie.

Vier daarom hierdie dag met vreugde! Steek die ligroos kers in die Adventskrans aan en onthou die daeraad van die nuwe dag breek aan omdat die nag verby is (die boodskap van die ligroos kers tussen die donkerbloues) en ons kan asem skep; ewige asem!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 351 “Kom, verwonder julle, mense”
F103. Kersfees Is ’n Vreugdefees

Seën
God se hoop sal vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.
God se vrede sal oor jou hart en verstand die wag hou.
God se vreugde sal jou dra ook deur hartseer tye.
God se liefde sal so ’n werklikheid vir jou wees dat ander God in jou sal beleef. Amen.
(Uit Woord en Fees 2016-2017)

Respons: Lied 320 refrein:  Wees bly, wees bly, o Israel – Hy is naby, Immanuel.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.