Derde Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag se fokusteks gee inhoud aan die boodskap van die profeet. Wat kom Jesus doen? Dit is ‘n gepaste vraag juis op Versoeningsdag. Johannes doen ‘n oproep tot bekering op verskeie lewensterreine en sê Jesus kom met die Heilige Gees en vuur doop.
Dit is Gaudete Sondag: “Wees bly!” Dit is op die Sondag wat die pienk/ligroos kers aangesteek word.

Ander tekste

Sefanja 3:14-20
Ek gee aan julle roem en eer
14Sing, Sion! Juig, Israel!
Wees met alles wat jy is, vrolik en bly,
Jerusalem!
15Die Here het ’n einde gemaak
aan jou straf,
Hy het jou vyande laat padgee.
Die Koning van Israel,
die Here, is by jou;
jy hoef geen ramp meer te vrees nie.
16Daardie dag sal daar
vir Jerusalem gesê word:
Moenie bang wees nie, Sion,
moenie jou hande moedeloos
laat hang nie!
17Die Here jou God is by jou,
Hy, die krygsman wat red.
Hy is vol vreugde oor jou,
Hy is stil-tevrede in sy liefde.
Hy jubel en juig oor jou:
18Ek maak dié bymekaar wat treur,
ver van die feestelikheid af,
dié wat uit jou uit kom
en ter wille van jou
die smaad gedra het.
19Ek gaan nou optree teen almal
wat jou verdruk het,
Ek gaan die kreupeles help,
die verstrooides bymekaarmaak
en die vernedering
wat hulle moes ondergaan,
in eer verander,
in roem oor die hele aarde.
20Wanneer die tyd daar is,
laat Ek julle kom,
maak Ek julle bymekaar
en gee Ek aan julle roem en eer
onder al die volke op aarde;
dit is die tyd wanneer Ek
julle lot verander,
julle sal dit met julle eie oë sien,
sê die Here.

Jesaja 12:2-6
2God is my redder;
Ek vertrou op Hom,
ek is nie meer bang nie.
Die Here my God is my krag
en my beskerming;
Hy is my redder.”
3Met blydskap sal julle water skep
uit die fonteine van redding.
4Op dié dag sal julle uitroep:
“Loof die Here,
roep sy Naam aan,
maak sy dade onder die volke bekend
en verkondig dat sy Naam groot is.
5Sing tot die eer van die Here,
want Hy het groot dinge gedoen,
maak dit aan die hele wêreld bekend.
6Jubel en juig,
inwoners van Sion,
want groot is die Heilige van Israel
en Hy is by julle!”

Filippense 4:4-7
4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Fokusteks

Lukas 3:7-18
Die prediking van Johannes die Doper
(Matt 3:1–12; Mark 1:1–18; Joh 1:19–28)
3 Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters.
2In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. 3Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 4So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja:
“Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed,
maak die paaie vir Hom reguit.
5Elke kloof moet opgevul
en elke berg en bult
platgemaak word;
die krom paaie moet reguit
en die ruwe paaie gelyk word.
6En al die mense sal
die verlossing sien
wat van God kom.”
7Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?
8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.
9Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”
10Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”
11Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
12Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?”
13En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”
14Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?”
Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”
15Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”
18Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.
19Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het. 20Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit.

Die doop van Jesus
(Matt 3:13–17; Mark 1:9–11)
21Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan 22en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Die geslagsregister van Jesus
(Matt 1:1–17)
23Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy omtrent dertig jaar oud. Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef. Josef was die seun van Eli, 24seun van Mattat, seun van Levi, seun van Melgi, seun van Jannai, seun van Josef, 25seun van Mattatias, seun van Amos, seun van Nahum, seun van Hesli, seun van Naggai, 26seun van Mahat, seun van Mattatias, seun van Semeïn, seun van Josek, seun van Joda, 27seun van Johanan, seun van Resa, seun van Serubbabel, seun van Sealtiël, seun van Neri, 28seun van Melgi, seun van Addi, seun van Kosam, seun van Elmadam, seun van Er, 29seun van Josua, seun van Eliëser, seun van Jorim, seun van Mattat, seun van Levi, 30seun van Simeon, seun van Juda, seun van Josef, seun van Jonam, seun van Eljakim, 31seun van Melea, seun van Menna, seun van Mattata, seun van Natan, seun van Dawid, 32seun van Isai, seun van Obed, seun van Boas, seun van Sala, seun van Nagson, 33seun van Amminadab, seun van Admin, seun van Arni, seun van Gesron, seun van Peres, seun van Juda, 34seun van Jakob, seun van Isak, seun van Abraham, seun van Tera, seun van Nahor, 35seun van Serug, seun van Rehu, seun van Peleg, seun van Heber, seun van Sala, 36seun van Kenan, seun van Arpagsad, seun van Sem, seun van Noag, seun van Lameg, 37seun van Metusalag, seun van Henog, seun van Jered, seun van Mahalalel, seun van Kenan, 38seun van Enos, seun van Set, seun van Adam, die seun van God.

Ekstra stof

Lukas 3:1-38 – Jesus is familie van alle mense
Hierdie gedeelte handel oor 1) die prediking van Johannes die Doper, 2) die doop van Jesus en 3) die geslagsregister van Jesus. Al vier evangelies vertel iets oor Johannes die Doper se bediening. Al drie sinoptiese evangelies vertel van die doop van Jesus (Johannes nie). Net Matteus het ook ‘n geslagsregister vir Jesus, hoewel Lukas verskil van sy aanbieding daarvan.

3:1-20
Lukas plaas – anders as die ander evangelies – die prediking van Johannes die Doper binne sy historiese konteks wat nie net die politieke bestel van die Romeine en Jode – Tiberius, Pilatus, Herodes (seun van die een wat dood is by Johannes en Jesus se geboorte), Filippus en Lisanias – betrek nie, maar ook die godsdienstige – Annas en Kajafas as hoëpriesters. Dit is die 15de regeringsjaar van Tiberius, dws 27 nC.
Lukas haal vir Jesaja meer volledig aan as in die ander evangelies, en spel die vrugte van bekering uit vir gewone mense: tollenaars, en soldate. Lukas vertel ook vir ons dat Johannes, soos in die evangelie van Markus, ‘n skerp onderskeid getref het tussen sy eie bediening en dié van die Een wat kom. Daarby brei hy meer uit oor wat met die koms van die Heilige Gees sal gebeur, ‘n gebeurtenis wat onder andere ook oordeel sal insluit. Lukas vertel ook vir ons dat Johannes vir Herodes aangespreek het, en dat dié hom in die tronk opgesluit het.

Dit tref my veral hoe Lukas die roeping van Johannes beskryf as dat die “woord van God” (rhêma tou Theou) tot Johannes kom. Dit sluit waarskynlik die Bybelteks in wat hy in sy prediking insluit (Jes 40), maar die res van die proses word nie uitgespel nie, soos ook die geval was met die profete van ouds.
Hierdie rhema dui ‘n woord of stelling aan wat om aksie vra, ‘n woord wat mens dus in beweging wil bring, soos ‘n mens ook van Simeon lees (Luk 2:29). Daarteenoor word die woord Logos , hoewel op plekke steeds as sinoniem vir rhema, op baie verskillende wyses gebruik, ook vir Christus self (Joh 1) of as aanduiding van die Woord, die Bybelteks van daardie tyd. Hier is ‘n lysie van plekke waar die woord rhema in die NT voorkom om ‘n idee vir jou te gee hoe die woord gebruik is: Matt 4:4; 26:75; 27:14; Luk 1:38; 2:29; 3:2; Joh 3.34; 8:20; 15:7; Hand 2:14; 10:37; 11:14; 11:1; 13:42; 26:25; Rom 10:8,17-18; 2 Kor 12:4; 13:1 Efes 6:17; Hebr 6:5; 11:3; 12:19; 1 Pet 1:25; 2 Pet 3:2; Jud 1:17.

3:21-22
Hierdie bediening van Johannes die Doper staan duidelik in diens van die bediening wat na Hom sou kom, dié van Jesus, wie se doop die hoogtepunt van Johannes se bediening vorm, en ook die eindpunt daarvan is.
In drie perikope word hierdie Jesus se bediening gelegitimeer, deur sy doop waarby God bevestig dat Hy sy Seun is (3:21-22), deur sy geslagsregister waarmee Hy as beide God se Seun en as deel van die menslike geslag geteken word (3:23-38), en deur die versoeking waardeur Hy as getoetste aan Israel bekend gestel kan word (4:1-13), en Sy bediening kan begin.
Let ook op dat die Drie-enige God hier betrokke is: Vader, Seun en Heilige Gees.

3:23-38
‘n Paar opmerkings oor hierdie geslagsregister van die dertigjarige Jesus:

  • Op die oog af verbreek die geslagsregister (3:23-38) die doop- en versoekingsverhale (4:1-13), wat kronologies verbind word (4:1). Die kern hiervan is egter dat Jesus ook daarmee as “die seun van God” aangedui word. Lukas maak dit dus duidelik dat Jesus nié die seun van Josef is nie (3:23, 4:22), maar die seun van God, net soos dit die geval is met die doop en die versoekingsverhale. Daarom, soos dikwels die geval is in die Bybel, is die funksie van hierdie geslagsregister om die posisie van die kernpersoon, in hierdie geval Jesus, in sy identiteit as God se seun, te legitimeer.
  • Die geslagsregister gaan daarby nie net terug tot by Abraham – soos Matteus s’n in omgekeerde volgorde doen – nie, maar tot by Adam, waarmee die hele sending na die heidene, waarvan die verhaal van Handelinge ons gaan vertel, gelegitimeer word. Die boodskap van Jesus wat eerste aan die skaapwagters gebring is, en hierna aan die hele Israel, moet ook tot aan die eindes van die wêreld, na al die nasies gebring word, want Jesus is familie!
  • Die verskille tussen die twee geslagsregisters van Lukas en Matteus het waarskynlik meer met hulle verskillende teologiese uitgangspunte te make (soos die vorige twee opmerkings uitwys), as met historiese oorwegings, waarvan die aantreklikste voorstel is (Holzmeister) dat Matteus die geslagsregister vanuit ‘n geboorteperspektief beskryf (doodgewone afkoms via die vaderlike lyn) en Lukas vanuit ‘n aannemingsperspektief (as Maria ‘n enigste kind was, kon haar pa Eli volgens wet vir Josef aangeneem het om só die familielyn intakt te hou).

Liturgie

Derde Sondag in Advent – Sondag van Vreugde; Versoeningsdag

RUS

Toetrede: Lied 320

Votum en Seëngroet: (n.a.v. Sef 3)

Lofsang: VONKK 256 of Lied 345 of Flam 277

Wet en Skuldbelydenis: (n.a.v. Filippense)

Genadeverkondiging: Filippense 4:7; Lied 492 of VONKK 124

Geloofsbelydenis: (n.a.v. Die Belydenis van Belhar)

HOOR

LEEF

Gebed: VONKK 272 [bekende melodie]

Dankoffer

Slotsang: Lied 284

Seën

Respons: Lied 284 refrein of Lied 320 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 320 “O kom, o kom, Immanuel”

Votum en Seëngroet: (n.a.v. Sef 3)
Voorganger: Jubel van vreugde, dogter van Sion!
Roep dit uit, Israel!
Verbly en verheug jou met jou hele hart, dogter van Jerusalem!
Die Here jou God is in jou midde.
Aansteek van die eerste, tweede en derde Adventkers. (Indien die gemeente ’n liturgiese dansgroep het, kan ’n lofdans met die aansteek van die kerse gekombineer word.)
Voorganger: Jubel van vreugde, dogter van Sion!
Roep dit uit, Israel!
Verbly en verheug jou met jou hele hart, dogter van Jerusalem!
Die Here jou God is in jou midde
’n held wat bevry.
Gemeente: Wees bly! Wees bly!
Voorganger: Hy verheug Hom met blydskap oor jou!
Gemeente: Wees bly! Wees bly!
Voorganger: Hy maak jou nuut met sy liefde!
Gemeente: Wees bly! Wees bly!
Voorganger: Hy sal met uitroepe van vreugde oor jou jubel.
Gemeente: Wees bly! Wees bly!
Voorganger: Die Here kom en Hy sal met die Heilige Gees en met vuur doop.
Gemeente: Die Here kom. Wees bly!
Almal: Amen (uit Sef 3) óf Lied 320 Refrein (sonder aankondiging): “Wees bly, wees bly, o Israeal – Hy is naby, Immanuel.”
[Uit Bybel-Media se “Woord en Fees 2018-19”]

Lofsang
VONKK 256 “Vol van vreugde wil ons jubel” [bekend – dieselfde melodie as “Herders op die ope velde”] of
Lied 345 “Kom, alle getroues” [eintlik ‘n Kersfees-lied] of
Flam 277 “Die Blydskap In Die Heer

Wet en Skuldbelydenis
Voorganger: Filippense 4:4-6
4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

V: Here, ons is nie inskiklik teenoor alle mense nie.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons leef grotendeels net vir ons eie belange.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is nie eensgesind nie, nie een in liefde, hart of strewe nie. Ons leef onversoend in onvrede met ons naaste.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons selfsugtig. Ons dink meer aan ons eie belange as aan dié van ons naaste.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons sien dikwels die mense rondom ons nie eens raak nie en luister nie in liefde na hulle nie.
G: Here, wees ons genadig!
(N.a.v. Filippense)

Genadeverkondiging
Filippense 4:7
En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Lied 492 “In U is vreugde” of
VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde” [bekend – dieselfde melodie as Lied 492]

Geloofsbelydenis
Ons glo dat God aan sy kerk die boodskap van versoening in en deur Jesus Christus toevertrou het; dat die kerk geroep is om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees; dat die kerk salig genoem word omdat hulle vredemakers is; dat die kerk deur woord en daad getuies is van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarop geregtigheid woon;
dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees die magte van sonde en dood, en daarom ook van onversoendheid en haat, bitterheid en vyandskap, oorwin het; dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees sy volk in staat stel om te leef in ’n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die samelewing en wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring;
(N.a.v. Die Belydenis van Belhar)

Liedere

VONKK 256 “Vol van vreugde wil ons jubel”
Teks: Jacques Louw 2012 © Melodie: Les anges dans nos campagnes – Franse Kerslied E18.
Orrelbegeleiding: Werkgroep Kerkmusiek UOVS 1978. Gebruik met toestemming Bybel-Media.
Diskant: Jacques Louw 2012 © © Teks, orrelbegeleiding en diskant: 2012 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Kersfees en Epifanie

1. Vol van vreugde wil ons jubel
en oor God se goedheid sing.
God se liefde vir die mensdom
het sy Seun na ons gebring.
Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.

2. Jesus Christus, die Verlosser,
kom in ons gebrokenheid.
Hy bevry ons uit genade
van ons skuld en sondigheid.
Refrein:

3. Jesus is ons Lig en Lewe –
wat ’n vaste sekerheid!
By Hom is daar ware vrede,
lewe tot in ewigheid!
Refrein:

4. Saam met eng’le uit die hemel
wil ons ook ons hulde bring.
“Alle eer aan God, die Here!”,
juig ons in verwondering.

Refrein:

LW: Instrumentale verwerkings van hierdie melodie vir onder andere fluit, viole, simbale en klokkies, is beskikbaar by die musikale verryking van VONKK 84.

F277. “Die Blydskap In Die Heer”
(RUBRIEK: Kersvlam – Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Gerhard van Rensburg © 2008 MAR Gospel Music Publishers

Refrein: (x2)
Die blydskap in die Heer
sal jou beskerming wees.
Dag en nag sal Hy jou bewaar,
jou vernuwe deur sy Gees.

(x2)
En daarom sê sy Woord:
Verbly jou in Hom!

Refrein: (x2)

(x2)
En daarom sê sy Woord:
Verbly jou in Hom!

Refrein: (x2)

(x2)
En daarom sê sy Woord:
Verbly jou in Hom!

Brug:
Alles wat rein, alles wat eerbaar is,
bedink hierdie dinge.
Alles wat reg is, alles wat lieflik is,
bedink hierdie dinge.
En die God van vrede sal met jou wees. (x4)

(x4)
En daarom sê sy Woord:
Verbly jou in Hom!

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1. Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
”Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2. Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3. Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

VONKK 272 “Heer, ons bid as reënboognasie”
Teks: Jacques Louw 2013 © Musiek: BLAENWERN – William Rowlands 1905
© Teks: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Gebede

1. Heer, ons bid as reënboognasie
vir ons mooi en dierbaar land.
Ons kom lê ons land en mense
in u troue Vaderhand.
Mag u kinders wat hier saamwoon
na u wil soek en U eer.
Leer ons om met woord en dade
te bely: U is die Heer.

2. Heer, ons bid as reënboognasie
vir ons leiers wat regeer.
Mag hul ook u Woord gehoorsaam;
U erken as God en Heer.
Leer ons om met ons verskille
steeds mekaar te respekteer.
Laat ons voorbeeld ander aanraak,
laat u liefde ons regeer.

3. Heer, ons bid as reënboognasie:
Laat u vrede oor ons heers.
Al die seer uit ons verlede
kan net U, o Heer, genees.
Op u almag vas vertrouend
wil ons saam ‘n toekoms bou.
In geloof ons land en mense
in u hande toevertrou.

4. Kom, o Gees, wees U ons Leidsman,
wys die weg en rigting aan.
Laat ons koers hou deur die chaos
waardeur ons ook hier mag gaan.
Vader, hoor tog ons versugting
as ons in gebed kom vra:
Seën ons land en seën sy mense –
Vader, seën Suid-Afrika!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing
Sien voorstel by Familie-oomblik
Lukas 3:7-18

Preek

Familie-oomblik

Carolyn Brown stel voor [dankie Wicus Wait vir die verwysing] dat die gemeente deelneem aan vandag se skriflesing. ‘n Gedeelte van die gemeente is die “mense”, ‘n gedeelte die tollenaars, ander die soldate. Nog iemand (dalk die liturg) is die verteller. Iemand anders is Johannes. Johannes moet vooraf voorberei om dramaties te lees soos vir ‘n groot skare buite.
Verteller:Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê:
Johannes: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”
Verteller: Die mense vra hom toe:
Mense: “Wat moet ons dan doen?”
Johannes: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
Verteller: Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom:
Tollenaars: “Meneer, wat moet ons doen?”
Johannes: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”
Verteller: Ook soldate het hom uitgevra:
Soldate: “En ons, wat moet ons doen?”
Johannes: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”
Verteller: Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord:
Johannes: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”
Brown stel ook voor dat julle jul eie Johannes-antwoorde bedink. As almal ‘n idee het van Johannes se boodskap, kan jy dalk iets vra soos: “Ouer boeties en sussies… hoe moet ons ons jonger boeties en sussies hanteer? Kleinboeties en sussies… hoe moet ons ons ouer boeties en sussies hanteer…” Ouers, eggenotes, werkgewers, die slim kinders in die klas, die sterk kinders in die klas, ens.

Preekriglyn

Ons het verlede week by die eerste ses verse van hierdie hoofstuk stilgestaan. Ons het diep onder die indruk gekom van die verlossing wat Jesus Christus in ons geskiedenis vir mense soos ons bewerk. Ons het ook gefokus op Johannes die Doper se rol as wegbereider, en oor die volle inhoud van die heil wat deur die evangelie ons deel word. Veral ‘n lang aanhaling uit die profeet Jesaja dui op die omvang van die verlossing wat God bring.
Lukas 3:7-18 is ‘n voortsetting van vers 1-6:

  • In verse 1 tot 6 verneem van die Woord van God wat tot Johannes gekom het en dat Johannes belydenis en vergifnis van sonde deur Christus verkondig.
  • In Lukas 3:7-18 gaan Johannes verder en verduidelik die implikasie van sy boodskap. Soos hy die mense toegespreek het, spreek Lukas op sy beurt, deur die verwysing na Johannes, tot die kerk van sy tyd.

Vandag fokus ons dus dieper op die inhoud van Johannes die Doper se prediking. Ons gaan eerstens deur die teks stap, en daarna oor die betekenis daarvan vir ons nadink.

Groot getalle

In vers 7 vertel Lukas Johannes se prediking het groot belangstelling getrek: “Die mense het in groot getalle uitgegaan.” Hulle het na Johannes gegaan om gedoop te word. Dit is duidelik dat die mense se “uitgaan” na die woestyn reeds ‘n sigbare bewys is dat hulle gemeenskap met God nie in orde was nie.
Dit is merkwaardig dat Johannes so “suksesvol” is met ‘n bediening in die woestyn. Mense het hom duidelik beleef as iemand wat in kontak met God was, en deur wie se bediening hulle gehelp kon word om God te ontmoet, of hulle verhouding met God te herstel.

Bekeringsdoop

Daar in die woestyn het hulle Johannes se bekeringsdoop ondergaan (iets anders as die Christelike doop wat Jesus in Matteus 28 sou instel). Die bekeringsdoop van Johannes is direk aan sy boodskap gekoppel:

  • Eerstens is die doop soos ‘n drumpel wat mense oorsteek, ‘n soort “initiatory rite of passage” in sosiologiese taal: dit is as mense wegkom van hulle gewone lewe en deur die doop deelneem aan Johannes se bediening.
  • Tweedens dui die mense se opdaag vir die doop daarop dat hulle hulle opnuut aan God verbind.
  • Derdens is die bekeringsdoop ‘n aanduiding daarvan dat hulle na hulle doop na hulle gewone lewe kan teruggaan en so lewe dat hulle lewenswyse hulle ware kindskap van vader Abraham reflekteer.

Johannes se prediking verseker dat sy doop onder meer verstaan moet word as kritiek op die status quo. Om in sy doop te deel, was ook ‘n keuse om ‘n lewenswyse te omarm wat gegrond is op ‘n radikale herordening van hulle lewe in lyn met die doel van God vir hulle lewe. In dié sin is vers 7-18 ‘n opvolg op vers 3.

Boeteprediker

Johannes was ‘n egte boeteprediker wat in sy prediking wys op die dreigende toorn van God. Daarom beklemtoon hy die noodsaaklikheid van bekering. Johannes spreek die volk hard aan as hy na hulle verwys as “slange”, wat kinders van Satan beteken. Hiermee onderstreep Johannes hulle hopelose posisie sonder die doop wat hy aan hulle verkondig.
Die mense mag van mening wees dat hulle kinders van Abraham is, maar hulle gedrag weerspreek hulle verbintenis met Abraham. Die verhouding tussen die slang en die duiwel is suggestief (Op 12:9), veral omdat Lukas reeds begin het om die fundamentele stryd tussen die magte in sy verhaal te beskryf; lig (God en Jesus – sien Luk 1:78-79; 2:8-9) en donkerte (wat met Satan identifiseer word).
Selfs sonder die duidelike identifikasie of assosiasie met slang – giftig, vyandig teenoor die lewe, kwaadwillig – is daar genoeg rede vir Johannes om aan die mense te vra: “Wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?” Dit gee te kenne dat die mense duidelik bestem was vir die oordeel wat aan die kom is.

Bekering

In vers 8a dui Johannes aan die enigste manier om die oordeel wat kom vry te spring, is om ‘n nuwe lewe te begin, die lewe wat die vrug van bekering vertoon. In vers 8b wys Johannes hulle daarop dat om hulle te wil beroep op hulle kindskap van Abraham waardeloos en nutteloos sal wees juis omdat God mense soek wat van harte verander het. Dit word verder versterk deur die feit dat Johannes noem dat God uit klippe seuns van Abraham kan en sal verwek.
In vers 9 sê Johannes: “Die byl lê al klaar teen die wortel.” Dit beklemtoon die erns en dringendheid van die oproep tot bekering.

Wat moet ons doen?

Johannes is vervolgens in gesprek met verskillende groepe mense:

  • Vers 10-11. Die vraag van die mense, “wat moet ons doen?”, word herhaal deur die tollenaar en die soldate. Johannes as boetprediker was ook prakties en konkreet in die toepassing van sy boodskap. Hy antwoord hulle dat hulle mededeelsaam en medemenslik moet wees.
  • Vers 12-13. Die tollenaars as die invorderaars van belasting vir die Romeinse owerhede, was oneerlik en is as ontrou aan hul eie mense beskou. Ook hulle wil ‘n ander koers (lewe) inslaan. Johannes se antwoord is om eerlik met geld om te gaan en naasteliefde te beoefen.
  • Vers 14. Die soldate was vermoedelik Jode wat vir Herodes Antipas diens gedoen het (Groenewald). Dit is moontlik dat daar ook heidene onder hulle was. Ook hulle wil ‘n nuwe koers (lewe) inslaan. Hulle was bekend daarvoor dat hulle mense met geweld en valse beskuldigings afgepers en afkoopgeld ontvang het. Dié praktyke, sê Johannes, moet gestaak word. Hulle moet met hulle vergoeding tevrede wees.
Dalk die Christus?

Johannes se prediking het beslis effek gehad en verwagtinge gewek(15-17). Dit kan gesien word in die vraag of Johannes nie dalk die Christus is nie. Dit maak dit vir hom nodig om die Messias te beskryf. Hy is sy “meerdere”, en Johannes is nie waardig om eens sy skoene los te maak nie; Hy sal doop met die Heilige Gees en vuur. Die vuur is hier simbool van die eindoordeel.
Die “skop in sy hand” verwys na ‘n langsteelhoutgraaf, waarmee koring en kaf saam opgeskep word om dit in die wind op te gooi sodat die skeiding tussen koring en kaf kan plaasvind. Die koring word in die hemelse skure versamel, terwyl die kaf met onblusbare vuur verbrand word. Johannes se bediening het figuurlik die rol van die wind gespeel, Dit wys Jesus se rol as regter wat gaan oordeel uit.
Alhoewel Johannes aan die volk die komende oordeel gepreek het, het hy belydenis van sonde en vergifnis verkondig (18). Daarom kan sy boodskap ook as “goeie nuus” getipeer word.
Kom ons dink nou dieper na oor die betekenis van ons teks vir ons tyd.

Erg, maar nie sonder hoop

Die verwysing na die “slang” herinner ons aan Genesis wat die slang as ‘n slinkse dier teken wat die verbod wat God plaas op die boom van die lewe as goed vir die mens voorhou en die mens aanmoedig om nie na God te luister nie. Die feit dat die mense in groot getalle uitgekom het, kon dalk uit reaksie op die prediking van Johannes gewees het. Dalk het hulle uit vrees of selfbelang gekom. Dit kan selfs wees dat hulle uitgekom het omdat Johannes hulle gewaarsku het dat die oordeel aan die kom is. En alhoewel die aanspreek van slange daarop dui dat hulle situasie erg was, was hulle nooit sonder hoop nie, juis omdat God die onmoontlike moontlik kan maak; uit klippe kan God kinders vir Abraham verwek.
Ons val ook dikwels vas in ons eie lewens. Ons is blind of ongehoorsaam en doen dinge wat ons in hoeke vas verf. Tog kom God telkens weer na ons en kan ons deur bekering reageer. Al is ons letterlik en figuurlik vol knoppe en duike, by God is daar hoop. God skep nuwe lewe uit ons doodsheid.

Waarskuwing

Hieruit vloei twee waarskuwings.

  • Eerstens herinner Johannes hulle dat hulle vervang kan word; God kan kinders uit klippe vir Abraham verwek.
  • Die tweede waarskuwing hou verband met die oordeel. Om die erns en dringendheid van die oordeel asook die nodigheid vir bekering te demonstreer, gebruik Johannes twee beelde of metafore:
    • die byl wat reeds teen die boom lê om dit enige tyd af te kap, en
    • dié van vuur, ‘n bekende beeld uit die Ou Testament, waar vuur verbind word met die oordeelsdag, die dag van die Here, wat soos ‘n brandende oond is (Mal 4:1).

Die bekering wat Johannes verkondig soek die vrugte van mededeelsaamheid en medemenslikheid (11), die vrug van eerlike en verantwoordelike omgaan met geld, asook naasteliefde (13) en die vrug van vrede en tevredenheid soos om vergenoegd te wees (14).
Bekering is al manier om die verkeerde lewenswyse die hoof te bied en om die komende oordeel vry te spring. Lukas sluit af deur te noem dat Johannes ook oor ander dinge met hulle gepraat en die evangelie aan hulle verkondig het. Selfs al het Johannes met ‘n dringendheid gepreek en sterk beelde soos satan, byl en vuur gebruik wat dalk eerder vrees by mense kon ontlok, is sy prediking getipeer as evangelie, die goeie nuus.

Reageer gunstig

Mense het “in groot getalle uitgegaan het om deur Johannes gedoop te word”. Dit moedig ons ook aan om gunstig op die hoor van die evangelie te reageer.
Die groot getalle mense wat uitgekom het, dui weliswaar op die effektiwiteit van Johannes se prediking, maar dit toon ook dat die mense sensitief vir die evangelieboodskap was en meer as gereed was om ‘n nuwe boodskap van hoop, vergifnis en nuwe lewe te ontvang en te aanvaar.
Ons lewe in tye waar die evangelieboodskap betwyfel, geminag, gereduseer en selfs geïgnoreer word. Mense word blootgestel aan verskillende stemme wat beweer hulle het antwoorde op ‘n goeie, beter en suksesvolle lewe.
Die evangelie bied egter ‘n alternatiewe keuse. Dit is die weg van bekering wat ons laat wegdraai van ons selfgerigtheid, eiegeregtigheid en selfvoldaanheid. Dit laat ons na ander mense kyk as ons gelyke. Indien hulle boonop in nood verkeer, maak hulle aanspraak op ons menslikheid en mededeelsaamheid. Hulle vra ons sorg en eerlike omgaan met ons geld. Ons medemens vra dat ons elke vorm van geweld teen ons naaste afsweer.
Die feit dat mense in groot getalle uitgekom het en daar beide tollenaars en soldate onder hulle was, is genoeg bewys dat die weg van bekering inderdaad ‘n alternatiewe en betekenisvolle weg is om te kies en te volg. Bekering laat ons ons sosiale verantwoordelikhede besef en ernstig opneem.

Ernstig en dringend

Die erns en dringendheid van ‘n besluit om bekering word in ons teks beklemtoon. Die byl wat reeds teen die wortels van die boom lê, die feit dat die boom uitgekap gaan word asook die verbranding in die vuur, dien juis om te waarsku dat die oordeel aan die kom is. Dit is as ‘t ware op hande. Daar is nie eintlik baie tyd oor om ‘n keuse te maak nie. Baie mense besef nie dat ons in die laaste dae lewe nie. Baie mense steur hulle nie baie aan die feit dat die wederkoms naby is nie.
Ander sake geniet maklik ons onmiddellike aandag. Daarom moet ons dringend aandag gee aan die wegdraai van ons verkeerde lewe en seker maak ons besluit vandag om die geloof in Jesus te aanvaar.

Wegbereider

In vers 15 noem Lukas dat die “volk vol verwagting” was en begin vra het of Johannes nie dalk die Christus is nie. Hulle sien hoe Johannes sy roeping uitleef om die evangelie te verkondig en as wegbereider vir die Christus, die Messias wat sou kom, op te tree.
Johannes se leefwyse en toewyding aan die prediking van die evangelie moes mense inderdaad beïndruk en nader getrek het. Johannes was die voorloper vir die koms van Jesus se bediening.
Die vraag wat ons moet vra is: Hoe lewe, praat en beoefen ons ons roeping as Christus-volgelinge by die huis, werk en in die openbare lewe? Trek ons gedrag en lewe mense nader en wek dit by hulle belangstelling in die evangelieboodskap? Johannes se lewe, toewyding tot die evangelie en roeping het alles en alleen na Jesus gewys. Johannes is so nederig dat hy homself nie werd ag om die skoene van sy “meerdere” (Jesus Christus) los te maak nie.
Die versoeking in die bediening en kerklike ampte waarin ons staan, selfs sekulêre werke wat ons beklee, kan ons maklik hoogmoedig maak en laat dink alles draai om ons self. Dit kan lei tot ‘n verwaande houding, ‘n beterweterige gesindheid, wat neersien op ander. Hierdie eienskappe hoort natuurlik nie by ‘n Christen en dienaar van die kerk of navolger van Christus nie.

Versoeningsdag

Dit is vandag versoeningsdag. Ons dink aan ‘n diep verdeelde samelewing waar sommige se verwagtinge bots met ander se vrees. Ons word uitgedaag om na te dink oor ons eie lewensverhaal in die lig van Johannes se prediking.
Wat sou Johannes vir ons sê as ons hom in die woestyn gaan besoek het? Hoe sou hy ons lewensstyl en ons ideale aangespreek het?

Advent

Ons vier ook Adventstyd. Ons sien vooruit na die viering van die koms van die Kersbaba. Ons vier God wat mens geword het en ons kom genees het.
Johannes leer ons dat diegene wat die genade vier nie daardeur onaangeraak mag bly nie. Die genade verander ons, bekeer ons, laat ons genadige lewens lei, lewens wat pas by God se bedoeling ons ons.

God stuur ons om te leef

Gebed: VONKK 272 “Heer, ons bid as reënboognasie [bekende melodie]

Dankoffer

Slotsang: Lied 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”

Seën

Respons
Lied 284 refrein:
O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag, ja, om lief te hê – ander bo myself – en ook eerder te gee as te verwag Of
Lied 320 refrein: Wees bly, wees bly, o Israel – Hy is naby, Immanuel

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.