Derde Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Die derde Sondag in Advent se tradisionele tema is “vreugde”. Hierdie week se Psalmteks is ‘n loflied aan God en God se regverdigheid en billikheid veral teenoor die weerloses. Ook in die Jesajateks word God selfs in die skepping geloof vir die regverdigheid wat God bewerkstellig. In die Matteusteks bevestig Jesus dat Hy die Een is wat deur God gestuur is en Hy noem eenderse take wat Hy op aarde gaan verrig as waarvoor God in die psalm geloof word.

Die sleutelteks vir die week uit Jakobus, vervleg die temas van die wederkoms en hoe ons met mekaar in die geloofsgemeenskap saamleef. Jakobus maan tot geduld met die oog op die wag op Christus se tweede koms, maar ook tot geduld met mekaar.

Ander tekste

Jesaja 35:1-10
God kom julle red
35 Die woestyn, die dor land, sal jubel,
die droë wêreld sal juig,
oortrek met affodille;
2hy sal in volle bloei staan,
hy sal juig en sing,
hy sal die prag van die Libanon hê,
die skoonheid van Karmel en Saron.
Israel sal die mag van die Here sien,
die koninklike mag van ons God.
3Bemoedig dié wie se hande slap hang,
help dié wie se knieë knik,
4sê vir dié wat moed verloor het:
“Wees sterk, moenie bang wees nie,
julle God is hier,
Hy kom om wraak te neem,
om julle vyande te straf;
God kom julle red!”
5Blindes sal kan sien,
dowes sal kan hoor,
6lammes sal kan rondspring
soos takbokke,
stommes sal kan sing.
Strome water sal
uit die woestyn uit bars;
daar sal riviere loop
in die droë wêreld.
7Die verskroeide aarde
sal ’n moeras word,
dorsland waterryke wêreld.
Waar daar nou net vir jakkalse
lêplekke is,
sal gras en riet en biesies groei.
8Daar sal ’n grootpad
deur die woestyn loop
en dit sal bekend staan
as die gewyde pad.
Onrein mense sal nie daarop loop nie,
dit sal net wees vir mense wat reg lewe;
dwase sal nie meer op die pad kom nie.
9Daar sal nie leeus op die pad wees nie,
daar sal nie roofdiere op loop nie,
hulle sal glad nie daar kom nie.
Net die mense
wat deur die Here gered is,
sal die pad gebruik.
10Dié wat deur die Here verlos is,
sal terugkeer,
hulle sal juigend in Sion aankom,
hulle sal altyd straal van blydskap,
hulle sal vol vreugde en blydskap wees;
ellende en smart sal verdwyn.

Psalm 146:5-10
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Matteus 11:2-11
Jesus en die vraag van Johannes die Doper
(Luk 7:18–35)
2Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge ’n boodskap aan Hom gestuur om te vra: 3“Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?”

4Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: 5Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. 6En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”

7Toe hulle weggaan, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na ’n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? 8Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ’n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry ’n mens in koninklike paleise. 9Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ’n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as ’n profeet. 10Dit is hy van wie daar geskrywe staan:
‘Kyk, Ek stuur my boodskapper
voor jou uit;
hy sal die pad vir jou regmaak.’
11“Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy.

12Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself ’n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit. 13Al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer, 14en as julle dit wil aanvaar: Johannes is die Elia wat sou kom. 15Wie ore het, moet luister.

16“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:
17‘Ons het vir julle op die fluit gespeel,
en julle het nie gedans nie!
Ons het ’n treurlied gesing,
en julle het nie gehuil nie!’
18Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’19Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

Fokusteks

Jakobus 5:7-10
Waarskuwing aan rykes
5 En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom. 2Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word, 3julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos ‘n vuur. Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is. 4Ja, julle hou die loon agter van die werkers wat julle lande afgeoes het. Dit skreeu ten hemel; die geroep van dié wat geoes het, het tot by die Here die Almagtige gekom. 5Hier op aarde lewe julle in weelde en oordaad; julle smul na hartelus, en dit terwyl die slagdag reeds daar is. 6Julle veroordeel en vermoor die onskuldige en hy bied geen teenstand nie.

Volharding
7Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. 8Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here. 9Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur. 10Broers, neem die profete wat in die Naam van die Here gepraat het, as voorbeelde van lyding en geduld.

11Ons noem hulle geseënd omdat hulle volhard het. Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming.

Ekstra stof

Jakobus sluit sy brief af met vier verdere bydraes wat die uitdagings van die lewe met die voorsiening van die Here verbind.  Hy rig dié boodskappe aan die rykes om hulle te waarsku, aan die lydendes om hulle tot geduld in lyding aan te spoor, en aan die hele geloofsgemeenskap om met integriteit te lewe, en veral nie op te hou om te bid nie, want dit is kragtig en effektief.

Ek deel dit as volg in:

  • Dit is dwaas om skatte te vergader in die laaste dae – 5:1-6
  • Wees geduldig in lyding – 5:7-11
  • Leef met integriteit – 5:12
  • Bid gelowig – dit is kragtig en effektief – 5:13-20

5:1-6 – Dit is dwaas om skatte te vergader in die laaste dae
Dit is weereens opvallend dat die rykes nie gekwalifiseer word as noodwendig deel van die geloofsgemeenskap nie, soos ook in Jak. 1:9.  Die armes wat hier onder uitbuiting lei, word ook nie eksplisiet as deel van die geloofsgemeenskap geteken nie, terwyl dit op ander plekke in die brief wel die geval is (1:9; 2:15-16).  Dié gedeelte het dus ‘n betekenis ook vir die gemeenskap waarbinne die gelowiges woon en werk.

Die punt wat Jakobus hier maak, is dat ‘n mens se houding teenoor jou besittings radikaal beïnvloed word deur die feit dat ons in die “laaste dae” lewe.  Omdat die Here op pad is met sy wederkoms (5:7), vra dit van ons om anders met ons besittings om te gaan.

Om skatte te vergader, meer as wat jy nodig het, is dwaas in die lig van die verganklikheid van rykdom sowel as die nabyheid van die wederkoms.  In die woorde van Jesus: “Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Matt. 6:24).  Wanneer God gedien word, kan jy staatmaak op sy voorsiening: “Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het.  Maar soek bo alles na God se koninkryk en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt. 6:32-33).  Meer as dit kan jou in die versoeking van onreg, weelde en losbandigheid bring.

Dit is daarom dubbeld dwaas om dié rykdom op onregverdige manier te bekom deur die loon van arbeiders te weerhou en dan weelderig en losbandig daarmee te lewe.  Dit kan op die oog af lyk asof dié mense geen verweer het nie, maar hulle geroep “het die ore van die Here, Heerser oor alle magte, bereik.”  Hy sal optree.  Hy waarsku hulle: “Julle het julle harte vet gevoer vir die slagdag“!

5:7-11 – Wees geduldig in lyding
Dat Jakobus egter ook die lydendes in die geloofsgemeenskap in die oog het, raak nou duidelik, want hy spel nou uit hoe hulle geduldigheid aan die dag moet lê in die lyding wat hulle ervaar.  Hy bemoedig hulle met twee eienskappe van God.  Die een is die feit dat die wederkoms van die Here naby is en dat hulle hul harte met dié gedagte kan staal.  Die ander is die feit dat dié Here ook die Regter is wat nie net gehoor het wat gebeur nie, maar sal optree en regstel.

Daarom moet hulle nie die roete van klagtes teenoor mekaar volg nie, maar op die Here se medelye en ontferming staatmaak.  Hy herinner hulle aan die einddoel van die Here met Job wat in sy volhardig seën ervaar het.  Dít moet hulle inspireer om geduldig te wees in lyding.

5:12 – Leef met integriteit
In nog ‘n verwysing na die Bergrede raai Jakobus sy mense aan om met integriteit te lewe (vgl. Matt. 5:33-37).  Dit is nooit nodig om te sweer nie, want ‘n mens se ja’s en nee’s moet bedoel word.

5:13-20 – Bid gelowig – dit is kragtig en effektief
Jakobus sluit af met ‘n uitbreiding van die gedagtes oor gebed waarmee hy sy brief begin het.  Daar het hy klem gelê op die wysheid wat van God gevra moet en kan word.  Hier brei hy daarop uit en betrek gebed op ‘n verskeidenheid situasies in die geloofsgemeenskap se lewe:

  • As jy swaarkry, moet jy bid.
  • As jy opgeruimd is, moet jy sing.
  • As jy siek is, moet die ouderinge gelowig bid vir genesing en vergifnis.
  • As jy sondig teenoor mekaar, moet dit bely en voor gebid word, sodat dit uitgesorteer, “gesond“, kan word.

Dié oproep word ondersteun met ‘n skets van Elia – “‘n mens net soos ons” – wat vurig gebid het vir die weer, en God het hom telkens geantwoord.  “Die gebed van ‘n regverdige is kragtig en effektief.”  ‘n Voorbeeld wat ons kan, trouens, móét navolg.

Boodskap
Dit tref my hoe Jakobus sy brief afsluit met ‘n opeenstapeling van eienskappe van die Here as motivering waarom hy hulle tot geduld, volharding, integriteit en gebed oproep.  En onthou, Jesus is die Here, soos Jakobus reeds in Jak. 1:1 bevestig het:

  • Jesus is dus die Here – die een wat gesag het oor alles.
  • Jesus is die Heerser oor die magte – die een wat mag het oor alles.
  • Jesus is die een wat weer kom – wat ons geduld sal beloon.
  • Jesus is die Regter – die een wat nie net hoor nie, maar sal optree om dinge reg te stel.
  • Jesus is die een wat vol medelye en ontferming is – die een wat na ons luister.
  • Jesus is die een wat genesing gee – daarom kan daarvoor gebid word.
  • Jesus is ook die een wat vergewe – daarom kan ons ons sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid, want só ‘n gebed is kragtig en effektief.

Met dié Here Jesus Christus kan ‘n mens enduit gaan.  Op Hóm kan ‘n mens wag en Hom vertrou vir uitkoms in alles.

Liturgie

Advent is die begin van die siklus van die Westerse kerkjaar en volg direk na Koninkrykstyd. Die seisoen van Advent begin vier Sondae voor Kersfees en dien ook as opbou tot hierdie feesdag. Die klem is op afwagting en voorbereiding – nie net vir die koms van Jesus as mens wat gevier word met Kersdag nie, maar ook vir Jesus se wederkoms. Die Latynse woord adventus is die vertaling van die Griekse woord parousia wat algemeen gebruik word vir Jesus se tweede koms.

Die derde Sondag in Advent se tradisionele tema is “vreugde”. Indien ‘n advantskrans gebruik word, word die rooskleurige kers vandag aangesteek.

Aanvangslied: Lied 364 H”erders op die ope velde vs 1,2,3″

Aanvangswoord  
Steek die rooskleurige kers van die Adventskrans aan.

Seëngroet: Romeine 1:5-7

Sang: Lied 213 “Kom volk van God verhef jul stem 1,2”

Verootmoediging: Jesaja 35:1-10

Skuldbelydenis: (as gebed)

Vryspraak: Psalm 146

Geloofsbelydenis

Loflied: Lied 345 “Kom alle getroues vs 1,2,3,4”

Epiklese

Skriflesing: Jakobus 5:7-10

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 492 “In U is vreugde vs 1,2”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Advent is die begin van die siklus van die Westerse kerkjaar en volg direk na Koninkrykstyd. Die seisoen van Advent begin vier Sondae voor Kersfees en dien ook as opbou tot hierdie feesdag. Die klem is op afwagting en voorbereiding – nie net vir die koms van Jesus as mens wat gevier word met Kersdag nie, maar ook vir Jesus se wederkoms. Die Latynse woord adventus is die vertaling van die Griekse woord parousia wat algemeen gebruik word vir Jesus se tweede koms.

Die derde Sondag in Advent se tradisionele tema is “vreugde”. Indien ‘n advantskrans gebruik word, word die rooskleurige kers vandag aangesteek.

Aanvangslied: Lied 364 “Herders op die ope velde vs 1,2,3”

Aanvangswoord  

Voorganger: God wat vreugde gee,
die woestyn, die dor land, sal jubel oor U,
die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille;
dit sal in volle bloei staan, hy sal juig en sing,
dit sal die prag van Libanon hê,
die skoonheid van Karmel en Saron.
Israel sal die mag van die Here sien,
die koninklike mag van ons God.

Gemeente: God gee ons vreugde.
Voorganger: Lees Jesaja 35:3-9.

Gemeente: Christus gee ons vreugde.
Voorganger: Lees Jesaja 35:10.

Gemeente: Die Gees gee ons vreugde.
Voorganger: God wat vreugde gee,
laat ons U saam met die skepping voortdurend loof!
Mag ons nooit ophou om u mag te besing nie! (uit Jes 35:1-10).

Steek die rooskleurige kers van die Adventskrans aan.

Seëngroet: Romeine 1:5-7
Genade en vrede vir julle van God ons Vader wat dit moontlik maak vir ons elkeen om dissipels te wees, en die Here Jesus Christus wat ons geroep het om aan Hom te behoort. Amen.

Sang: Lied 213 “Kom volk van God verhef jul stem 1,2”

Verootmoediging
Die konteks van die straf op Edom (Jesaja 34:5–17) is die wêreldgerig op die dag van die Here (1–4). Daarmee ontvang die oordeel oor Edom besondere aksent.
Jesaja 35:1-10 In die land van die verbondsvolk sal dit ’n ander verhaal wees… Israel sal weer die koninklike mag en heerlikheid van die Here sien en ervaar. (Die Bybel verklaar)

Jesaja 35:1-10
God kom julle red
35 Die woestyn, die dor land, sal jubel,
die droë wêreld sal juig,
oortrek met affodille;
2hy sal in volle bloei staan,
hy sal juig en sing,
hy sal die prag van die Libanon hê,
die skoonheid van Karmel en Saron.
Israel sal die mag van die Here sien,
die koninklike mag van ons God.
3Bemoedig dié wie se hande slap hang,
help dié wie se knieë knik,
4sê vir dié wat moed verloor het:
“Wees sterk, moenie bang wees nie,
julle God is hier,
Hy kom om wraak te neem,
om julle vyande te straf;
God kom julle red!”
5Blindes sal kan sien,
dowes sal kan hoor,
6lammes sal kan rondspring
soos takbokke,
stommes sal kan sing.
Strome water sal
uit die woestyn uit bars;
daar sal riviere loop
in die droë wêreld.

Skuldbelydenis: (as gebed)
271:2. Heil’ge Jesus, hoor my bede:
Hervorm my hart, my krag, my rede;
maak my al meer u beeld gelyk.
Vorm my wil en ook my wandel,
dat in my denke, spreke, handel
in alles slegs u beeld sal blyk.
Herskep opnuut, o Heer,
my lewe tot u eer.
Heil’ge Jesus,
o heilig my,
wil U my lei
om my geheel aan U te wy.

Vryspraak: Psalm 146
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Geloofsbelydenis
Ons glo in die God van hoop,
God die Voorsiener wat ons al van die skepping af versorg en vashou.
Ons glo in die God van vrede,
in Jesus Christus wat in nederigheid eerder kniel en voete was, as om te veroordeel en te beskuldig.
Ons glo in die God van vreugde,
omdat ons saam met Jesus nou met nuwe lewe uit die graf die lewe in kan dans.
Ons glo in die God van liefde,
wat nie die dood sou ontsien om vir ons hierdie groot liefde te bewys nie.
Amen.

Loflied 345 “Kom alle getroues vs 1,2,3,4”

Liedere

F31. “Prys Die Here, Loof en Prys Hom”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Teks: Strofe 1: TT Cloete;  Strofe 2: Tops de Jager
Musiek: Tops de Jager
© Kopieregbeheer

1. Prys die Here, loof en prys Hom.
Ek wil God se lof besing.
Hy is magtig; loof en prys Hom.
Ek wil God my loflied bring
en solank ek leef Hom eer.
Loof die groot en troue Heer.

2. Geseënd is hy wat as dit swaar gaan
altyddeur aan God vashou;
en as dit lyk of als verkeerd loop
altyddeur op die Here vertrou;
en ook in die swartste nag
op die Here alleen bly wag.

F35. “Jesus Kom Weer”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Wederkoms / Hoop en Voleinding)
Teks en Musiek: Hanneke Engelbrecht
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

1. Jesus is ons Koning, Heer,
en ons weet Hy sal t’rugkeer.
Soos hul Hom sien opvaar het,
sal Hy kom om ons te red.

Refrein:
Ja, Jesus kom weer!
Ja, Jesus kom weer!
Ek en jy behoort aan Hom.
Ons glo dat Hy weer sal kom.

2. Jesus is ons Koning, Heer.
Ek en jy behoort aan Hom.
Soos hul Hom sien opvaar het,
glo ons dat Hy weer sal kom.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Almagtige God, ons hemelse Vader, U kom altyd u beloftes na.
Ons dank U dat U u enigste Seun gestuur het toe die tyd daarvoor reg was.
Saam met u hele kerk vier ons sy koms.
Ons verheerlik U, ons genadige Vader,
en u Seun, ons Koning van Sion,
en die Heilige Gees.

Here, U is ons Koning – in die Naam van die Vader bid ons dat U ons in staat sal stel om hierdie Adventstyd reg te vier: in ons harte, met ons woorde, en deur ons lewe aan U toe te wy.

Stort asseblief u oorvloedig seën oor ons uit.
Stel ons in staat om met entoesiasme na u Woord te luister,
om dit te vertrou en in geloof te aanvaar,
sodat ons die vreugde van u Gees kan ervaar
en aan U ons bewondering kan bring.
Laat ons U dien, die God wat mens geword het, ons Verlosser,
nou hier op aarde, in u kerk,
maar ook vir altyd in u koninkryk.
Amen
Morawiese Broeders, 16e eeu

Skriflesing: Jakobus 5:7-10

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Vir die meeste mense is dit sleg om net te wag… dat iets volgende moet gebeur.

Miskien neem jou ouers jou vroegtydig kerk toe en dan moet jy die hele tyd sit en wag dat die diens begin… En jy moet stilsit en niks doen nie.

Maar groot mense hou ook nie van wag nie. Gaan vra bietjie vir jou pappa wanneer laas was hy in ‘n stop en ry (“stop & go”) voorgekeer is om geduldig te wag? En vra of hy geduldig gewag het…

Julle motor is een van ‘n klomp ander motors wat in ‘n ry geduldig moet wag vir verkeer wat van voor af op ‘n enkelbaan in die pad moet verby ry. So ‘n “stop en ry” (“stop & go”) word gewoonlik gebruik wanneer daar aan die pad gewerk word. Om mense toe te laat om aan die pad te werk moet die verkeer herlei word in twee enkelbane… En glo my, meeste mense beleef die wag baie ongeduldig.

Soms by die skool moet almal in rye aantree om ordelik na julle klaskamer te beweeg. En dan soms gebeur die stap na die klaskamer nie onmiddellik nie. En dan moet ons wag… En ons mag nie speel of praat of lag of enigiets doen nie. Ons moet net wag… en wag… en wag totdat die onderwyser ons toestemming gee om na die klaskamer te beweeg. Gewoonlik weet ons nie eers hoekom ons moes wag nie. Om so te wag is nie lekker nie…

Nee, vir meeste mense is wag nie lekker nie. Eintlik, meeste mens raak ongeduldig as hulle moet wag. Ons fokusteks vandag gaan oor wag. Kom ons lees dit in

Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Wag Geduldig tot die Here Kom
7–8 Hou moed (wag geduldig) tot die Here ons kom haal. Moenie te haastig wees nie. Wees soos ’n goeie boer. Hy wag geduldig vir die reën om te kom, van die eerste tot die laaste reën. Dan wag hy dat die oes ryp word. Julle moet net so geduldig wees soos die boer. Die Here sal ons kom haal, daarvan kan julle seker wees.

9–11 Moenie oor alles kla nie. Moet ook nie van ander skinder asof jy mag besluit wie goed of sleg is nie. God hou nie daarvan nie. Die Here mag besluit wie goed of sleg is. Hy kan enige tyd weer kom. Ons moet vir Hom wag. Die ou mense het vir ons ’n goeie voorbeeld gestel om nie moed te verloor nie. Hulle het getrou vir almal van die Here vertel. Al het hulle swaar gekry, het hulle aangehou. Hulle het aangehou om God gelukkig te maak. Julle onthou mos vir Job. Die Here het uiteindelik baie mooi vir hom gesorg. Dit wys dat die Here vir ons omgee en vir ons goed sal wees.

Ek en jy kan ons nie indink hoe moeilik dit vir ’n boer moet wees om te wag dat die reën kom nie. Sy plaas is dalk dor en droog, die diere is maer, dis net stof… en dan is al wat die boer kan doen om te wag. Ons land Suid-Afrika is tans in so ’n droogte. En duisende boere wag dat God dit laat reën.

Maar daar is twee maniere van wag… mens kan wag sonder om te verstaan hoekom jy wag (soos by die skool in die ry), of jy kan wag omdat jy weet daar gaan iets goeds gebeur.

Wanneer mamma kolwyntjies maak (cup cakes) en nog net die versiersuiker kort, dan vra sy jy om net te wag totdat dit klaar is. En dán gee jy nie om om te wag nie. Want na die wag kom daar ’n beloning!

Jakobus sê dit is hoe ons moet wag op Jesus se wederkoms. Nie soos mense wat nie weet waarvoor ons wag nie, maar soos mense wat weet dat hulle vir iets spesiaals wag.

Die Here sal ons kom haal, daarvan kan julle seker wees. (vs 10)

‘n Inkleurprent van ‘n “cup cake” is hier beskikbaar… (geen kopiereg) of
Met die tema van lof kan hierdie week se versiering van die Adventsboom engele wees wat God loof, of selfs prente van mense of groepe mense wat God loof en prys. Soos met die vorige twee weke kan die versierings óf vooraf gemaak en net tydens die diens opgehang word óf kan daar in die diens geleentheid vir die kinders wees om self die versierings te maak en dan aan die boom te hang.

Preekriglyn

[Nota: Hierdie preekskets behandel die teksgedeelte in die lig van verse 1 tot 11. Dit word aanbeveel dat die hele gedeelte in die erediens gelees word.]

‘n Graad 1-seuntjie het die volgende Kerswens vir Kersvader geskryf:
Liewe Kersvader. My juffrou het gesê ons kan vir jou skryf en vir enige geskenk vra. Die present wat ek wil vra is eintlik ‘n guns. Sal jy my asseblief help met Wian wat in ons klas is? Hy terg my en maak my seer. En as ek huil, dan lag hy, en spot my voor die ander kinders. Hy boelie ook die ander kinders wat kleiner as hy is. En daar is ook van die ander kinders wat partykeer boelies is. En o ja, ek is baie jammer dat ek vir Neelsie geboelie het nou die dag. En ook vir al die kere wat ek ander maatjies geboelie het. Baie jammer. Asseblief Kersvader, help tog – dit is al wat ek vra – ons weet nie meer wat om te doen nie … Liefde, van Willem.

Die Kersseisoen is waarskynlik nie ‘n tyd wat ons daaraan herinner wil word nie, maar boelies is nie beperk tot graad 1-klasse nie. Daar is boelies van alle ouderdomme, aktief besig op alle lewensterreine.

Boelies is oral

Ons vind hulle in gesagsfigure wat hulle posisies tot eie voordeel misbruik, korrupte politici en amptenare, bendes, dwelmbase, verkragters, werkgewers wat werknemers willens en wetens uitbuit, kapers, plaasmoordenaars, mans wat vrouens en kinders mishandel, noem maar op.

Die Zondo-kommissie hoor weekliks van staatskapers en hoe eerlike mense geboelie is wanneer hulle nie wou saamspeel nie.

Boelies is mense wat enige vorm van mag misbruik om hulleself te bevoordeel en in die proses nie huiwer om ander mense te verontreg en te verdruk nie, is boelies.

Daar is niemand onder ons wat nié geraak word deur so ‘n geboelie in een of ander formaat nie!

In die hoofstuk waaruit ons teks kom, praat Jakobus van rykes en armes en verduidelik hoe magtige mense onbeskaamd hul mag gebruik om armes te boelie en uit te buit.

Kom ons stap deur ons teks en kry helderheid oor wat Jakobus sê.

Die armes

In vers 7 moedig Jakobus gelowiges aan om “dan” geduldig te wees.

Die woordjie “dan” verbind hierdie oproep aan die vorige ses verse waar rykes vermaan word. Die rykes, sê verse 1 tot 6, kan God se oordeel te wagte wees vanweë die onreg wat hulle pleeg. Aangesien God se oordeel oor onreg aan die kom is, kan die gelowiges – hulle wat deur die rykes uitgebuit word – geduldig wees totdat die Here kom.

Wie is die gelowiges van vers 7, die broers (en susters) wat opgeroep word om geduldig te wees? Hulle is:

  • Hulle is die “arbeiders” (4) wie se loon agtergehou is;
  • die “regverdiges” (6) wat deur die rykes veroordeel en vermoor word;
  • Hulle is “broers” en susters (7), dus deel van die geloofsgemeenskap;
  • In die lig van Jakobus 2:2-5 en die definitiewe verband tussen vers 1-6 en 7-11  is hulle verontregte armes.

Dié wat die onreg teenoor die armes pleeg dra in vers 1 die naam “rykes” of “rykaards”.

Die rykes

Ryk en arm word vroeg in die brief reeds kortliks teenoor mekaar gestel (1:9-11).

Reeds in Jakobus 2:1-13 lees ons van die gemeente se voorkeurbehandeling van die rykes en die minagting van die armes. Prof Dirkie Smit skryf:

… deur sy hele brief is Jakobus besig met die tema van rykdom en armoede, juis omdat die onreg en die daarmee gepaardgaande gevoel van veronregting soveel bydra tot onvrede in die gemeente en die kerk. Hier in vers 1-6 bereik dit egter ‘n dramatiese hoogtepunt.

Wat is die rykes se oortreding? Dit gaan daaroor dat die rykes besittings op gierige wyse ten koste van die armes inpalm, dat hulle werkers beroof (4), sinlose luuksheid versamel (5) en die regverdige vervolg (6).

Die wyse waarop die rykes hulle rykdom bekom, is klaarblyklik onder meer deur hulle aan onbillike arbeidspraktyke skuldig te maak – meer spesifiek die onregmatige terughou van lone (4). Daarby misbruik hulle die mag wat hulle as rykes het, om armes nóg verder te benadeel (6): “Hulle veroordeel en vermoor die onskuldiges,” sê Jakobus. Dit dui op sogenaamde geregtelike moorde.

Omdat hulle ryk en invloedryk is en in die samelewing mag het, maak hulle wette wat die magtelose armes verdruk en benadeel. As die armes hulle teen hierdie onregverdige wette sou verset of dit oortree, word hulle volgens dié wette (van die rykes) aangekla, verhoor, veroordeel en, sê Jakobus, vermoor.

‘n Teoloog met die naam Adamson skryf in sy kommentaar op vers 6:
The rich are represented … as brutal bullies, picking as the victims of their outrages those who cannot or will not resist.

Nog ‘n teoloog, Phillips, vat dit ook goed saam:
Something about great wealth is corrosive to character. Money can buy most things in this world. People who can command large sums of money often become arrogant. People whom they cannot buy, they bully. Those whom they cannot bully, they belittle. Those whom they cannot belittle, they try to bury.

Waar pas ons in?

Waarskynlik tel die meeste van ons – in terme van ons land se ekonomie en ongelykheid in ons samelewing – onder die rykes.

Die probleem van die rykes is nie ons rykdom nie, maar die vraag hoe ons dit gebruik. Is daar vir ons enige boodskap in Jakobus se opdrag aan die armes om geduldig te wees?

Wat ons nie moet doen nie

Die gevaar is dat relatief welvarende mense na armer mense sal kyk en van hulle verwag om bloot geduldig in hulle armoede te wees.

Prof Dirkie Smit wys uit hoe Jakobus 5:7-11 tipies al deur rykes misbruik is om die armes tot stilswye te vermaan:

… rykes [het] nie die reg … om armes oor hulle geduld te betig en hulle op hulle plek te sit nie. Deur die eeue het dit ongelukkig – tot tragedie en skande vir die Christendom – meermale gebeur dat ryk gelowiges, en soms selfs die amptelike kerk, juis dít gedoen het. Hulle smul na hartelus aan die vettigheid van die land en sê dan aan die veronregte, roepende, lydende armes: Wees tog geduldig; wees tog verdraagsaam; wees tog Christelik; wees tog vergewensgesind; wees tog dankbaar. Ken jul plek; berus daarin dat dinge nou maar eenmaal is soos dit is … ons skatryk en julle ellendig.

Mens kan neersien op die armes en dink hulle is arm omdat hulle sleg of lui is.

Die gevaar is dat ons die sisteem van boelie en verdrukking kans miskyk wat mense verarm.

Wat ons eerder moet doen, is om die belange van armes op die hart te dra en armoede te bestry. Ons kan dit doen deur vroeëkindontwikkeling, deur werkskepping, deur ons tuinwerkers beter te vergoed, deur by werkskepping betrokke te raak.

Boelies

Maar daarmee is alles nog nie gesê nie. Ons leef in ‘n samelewing met baie boelies. Boelies wie se inhaligheid deur hulle boeliegedrag ondersteun word.

Ons teks (Jakobus 5:7-11) gee ‘n antwoord op die vraag: Wat staan regverdiges en verontregtes te doen in die lig van hulle beproewing, oftewel die feit dat hulle deur boelies verontreg word ?

  • Dít is ‘n vraag wat steeds relevant is vir armes wat in ‘n kapitalistiese stelsel deur rykes uitgebuit word.
  • Dit is ewe relevant vir enige individu of groep (arm óf ryk) wat verontreg word en onder enige individu of groep ly wat mag ten koste van ander vir eie gewin gebruik.
Geduldig

Die antwoord is verse 7 en 8 is om geduldig te wees. Verontregte gelowiges se lewenshouding moet wees om geduldig te wag en moed te hou.

Dit is Jakobus se positiewe opdrag. Sodat sy lesers sal verstaan wat hy hiermee bedoel, gee hy voorbeelde van drie soorte geduldige mense: landbouers, die profete van ouds en Job.

  • In vers 7-8 dien die geduldige wag van ‘n boer op die vroeë en laat reëns as voorbeeld van hoe om geduldig te wees.

Prof Dirkie Smit:
Hulle doen hulle deel. Hulle werk. Hulle span hulle in – soos wat hulle weet reg is. Hulle geduld lê daarin dat hulle weet hulle moet die vrug op hulle arbeid, die ‘kosbare oes’, nie dadelik verwag nie. Dit kom van God. Dit vereis tyd. As hulle hulle deel gedoen het, moet hulle nie haastig wees nie. Hulle moet vertrou en moed hou. Hulle moenie kla omdat hulle moet wag omrede dit tyd vereis en die kosbare oes nie onmiddellik daar is nie. Dít is geduld.

  • In vers 10-11 dien die profete wat in die Naam van die Here gepraat het se erge lyding en geduld as voorbeeld van hoe om geduld te hê en te midde van swaarkry te volhard.

Prof Dirkie Smit:
Ook hulle was nie onaktief en passief nie. Hulle het nie niks gedoen nie. Hulle het nie geduldig maar alles verdra wat gebeur het nie. Inteendeel. Hulle het in die Naam van God gepraat. En ons weet hóé hulle gepraat het – meermale allesbehalwe geduldig … Maar ook die profete het, soos die landbouers, geweet dat hulle nie meer as praat kon doen nie. Verder moes hulle dit aan God oorlaat. En omdat hulle profesieë, waarskuwings, kritiek, oproepe en woorde in die Naam van God meermale – nee, meestal – deur die mense verag en verwerp en geïgnoreer is, het hulle dikwels gely en swaar gekry. Meermale is hulle, net soos hulle woorde, deur die mense gehaat en verwerp. En hulle kon niks daaraan verander nie. Hulle kon net hulle magteloosheid en lyding aan God oorgee. En wag. Geduldig. Totdat God die vrug sou gee, die verhoring, die seën. Dít, sê Jakobus, is geduld.

  • In vers 11 dien Job as voorbeeld van “om te volhard te midde van moeilike omstandighede”.

Prof Dirkie Smit:
Job het geprotesteer teen die valse, berustende geduld van sy vriende wat hom wou wysmaak dat hy alles eenvoudig moes aanvaar asof dit van God kom. Maar Job het geweet onreg is onreg. Hy het geglo God is genadig en goed. Hy het besef dinge loop skeef. Sý geduld het daarin bestaan dat hy op God vertrou het ondanks al die ellende, dat hy in die donker tye toe hy nie kon sien wat gebeur nie, aan God bly vashou het. Hy het gebid. En gepleit. En met God geworstel. Maar hy het aan God bly vashou, ondanks alles. Dít is geduld.

Die Here se verskyning

Waarin lê die motivering vir verontregtes om geduldig te wag en te volhard? Dáárin dat hulle die Here se verskyning, teenwoordigheid, wederkoms, binnekort verwag (7 en 8). Hulle weet die Here kom dan as Regter (9; vgl vers 5 se “slagdag” as die dag van oordeel oor die rykes).

Die positiewe uiteinde vir hulle wat geduldig is en volhard, is seker:

  • só seker soos die land wat uiteindelik die oes vir die boer oplewer (7);
  • só seker soos die seën wat die profete uiteindelik toegesê word (10-11);
  • só seker soos God se barmhartigheid en ontferming dinge uiteindelik goed laat afloop vir Job (11).

Die regverdiges verwag God se oordeel. Daarom neem ons die oordeel ook nie in ons eie hande nie.

Moenie kla nie

Daar is ook ‘n negatiewe opdrag in vers 9 as opdrag aan die verontregtes: Moenie teenoor mekaar of oor mekaar kla of mor nie.

Dit gaan hier oor die gelowige armes wat uitgebuit word wat nie onderling moet mor of teenoor mekaar kla nie, aangesien dit die onderlinge harmonie versteur. Prof Dirkie Smit:

Wie nie Jakobus se soort geduld wil aanvaar nie, gaan begin kla oor dinge nie wil regkom nie … maar gou-gou gaan hulle ook begin kla oor mekaar, oor die ander wat nie ewe ongeduldig is nie, wat die verkeerde metodes volg, of wat heul met die vyand, of wat nie vertrou kan word nie, omdat hulle nie voluit aan God se kant is nie.

Daarteenoor moet gelowiges geduldig wees en volhard.

Dit laat mens nogal dink oorf baie gesprekke rondom braaivleisvure. Jakobus wys vir ons die beter weg.

Advent

Advent is ‘n tyd waarin ons nie net die eerste koms van Christus vier nie, maar ook met verwagting na die wederkoms van Christus uitsien. Hierdie afwagting vra vir geduldige volharding, veral wanneer ons op die een of ander wyse in hierdie tussentyd deur boelies verontreg word … Terwyl ons in die wagkamer verkeer, kan ons gerus ook selfondersoek doen oor óf en hóé ons self soms die boelies op die speelterrein van die lewe is.

Weer die briefie

Ons het begin met ‘n briefie van ‘n kind wat vra dat Kersvader asseblief moet help met die boelies in die klas.

Hierdie is ‘n protes teen onreg (die prediker kan die woorde op die skerm projekteer). Die woorde is óók gesonde selfbevraagtekening. Ons moet bewus wees dat “ek” nie altyd noodwendig as swakke aan die ontvangkant van onreg is nie, maar alte maklik ook ander boelie wanneer ek die oppergesag kry.

Gerrit Brand het ‘n eie weergawe van die Onse Vader-gebed neergepen, wat ten slotte gelees kan word (projekteer weereens die woorde op die skerm). Die pleidooi, én die protes teen die status quo, is duidelik in hierdie bede. Terselfdertyd weerspieël dit die nederige bewustheid dat mag in God se hande hoort, en nie in ons s’n nie:

Jy wat so naby – en tog so ver is.
Laat nou ‘n slag van jou hoor.
Dinge is nie soos dit hoort nie;
niks is soos dit hoort nie.
Sê nou maar ons begin by die basics

En moet nou nie ons verlede teen ons hou nie
(ons sal ons nie meer so hoogheilig hou nie).
En doen tog nie so moeilik nie,
anders is ons in ons maai in.
Ja, hou maar die sakie in jou hande,
en die mag uit ons s’n.
Toe nou.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 492 “In U is vreugde vs 1,2”

Seën
Litanie vir voorbidding (voor die uitsending)
Voorganger: In ons wêreld, soos in die skoot van Maria …
Gemeente: Kom, Here Jesus.

Voorganger: Op al die vergete plekke, soos in die stal van Betlehem …
Gemeente: Kom, Here Jesus.

Voorganger: Bring hoop in die lewe van armes; bring omsigtigheid in die lewe van magtiges; bring rus in die lewe van vermoeides; bring onrus in die lewe van die ongerustes. In ons lewe en in ons verlange, wie ons ook al is …
Gemeente: Kom, Here Jesus.

Voorganger:
Dit is die goeie nuus:
Christus is gebore.
Christus kom weer.

Geseënd is elkeen wat bid en werk totdat Hy weer kom.
Gemeente: Kom, Here Jesus! Kom gou! Amen.
( Anoniem, uit Soos ‘n blom na die son draai, Cas Wepener, Bybel-Media, 2011)
en
2 Korintiërs 13:13 ()
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.
of
Van die dag en die uur van die wederkoms van Jesus Christus dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, net die Vader alleen.
Maar tot hierdie dag sal die genade en vrede van ons Here Jesus Christus,
die liefde van God ons Ouer,
en die teenwoordigheid van en gemeenskap met die Heilige Gees met ons elkeen wees en bly.
Amen (uit Matt 24:36).

Antwoord Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.