Derde Sondag in Advent

Picture of Woord en Fees

Derde Sondag in Advent

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Lukas 3:7-18
Ander tekste: Sefanja 3:14-20; Jesaja 12:2-6; Filippense 4:4-7

God se lied van verlossing (Sef).
Die gelowige gemeenskap se lied van verlossing (Jes).
Wees bly in die Here, Hy is naby (Fil).
Jesus sal met die Heilige Gees doop (Luk).

Inleiding

Die derde Sondag in Advent staan ook bekend as Sondag van vreugde. Dit is ook die tema wat al die tekste saamknoop. Eers is daar twee vreugdeliedere, een van God en een van die gelowige gemeenskap. Daar na volg die oproep tot bly wees in die Here omdat Hy verlos en weer kom.

In die Lukasteks klink dit uit Johannes se mond dat die mense hulle sonde moet bely en dan gedoop word, hierop volg uiteindelik die vreugdevolle wete dat Jesus kom en met die Heilige Gees sal doop.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger: “Sing, Sion! Juig, Israel!
Wees met alles wat jy is, vrolik en bly . . .”
Gemeente: Die Here het ’n einde gemaak aan ons straf . . .

Voorganger: Die Here is by jou;
Gemeente: Ons vrees geen ramp meer nie.  

Voorganger: “Wanneer die tyd daar is, laat Ek julle kom, maak Ek julle bymekaar . . .”
(uit Sef 3:14-20)

Aanvangslied

Diens van die Woord

Gebed na die prediking
“Wees altyd bly in die Here!
Ek herhaal: Wees bly!
Die Here is naby.
Moet oor niks besorg wees nie,
Maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” (Fil 4:4).

Diens van die tafel

Na die nagmaal
“God is my redder;
Ek vertrou op Hom,
Ek is nie meer bang nie.
Die Here my God is my krag
En my beskerming;
Hy is my redder” (Jes 12:2).

Uitsending

Seën
“Die Here jou God is by jou,
Hy is vol vreugde oor jou,
Hy is stil-tevrede in sy liefde”(Sef 3:17).
. . . En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan,
Sal oor julle harte en gedagtes die wag hou
In Christus Jesus (Fil 4:7).

Antwoord
Lied 315 “Amen” of een van die ander Amen-liedere.

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 216:1-3 “Sing met vreugde, sing”; NSG 156
Lofliedere: Psalm 104 “Ek wil die Here loof en prys”
Na skuldbelydenis: Lied 339 “Halleluja, prys die Heer”; Lied 343 “Loof die God van ons verlange!”; NSG 79 “Ons loof U Jesus, hoogste Heer”; Lied 365 “Hoor die blye eng’lelied” (uitsendingslied); NSG 69; Flam 286 “U Is Groter As Wat Ek Kan Verstaan” (Ere aan God)

Preekstudie: Lukas 3:7-18

Inleiding
In hoofstuk 1-2 vertel Lukas die geboorteverhale van Johannes die Doper en Jesus. Hulle was familie van mekaar. Lukas sê dat Elizabeth familie van Maria was (1:36). Hoofstuk 3 begin met die verhaal van Johannes se oproep tot bekering en doop tot vergiffenis van sonde (3:1-20). Daarna volg ’n kort weergawe van Jesus se doop (3:21-22). Die hoofstuk sluit af met die opmerking dat Jesus omtrent 30 jaar oud was toe Hy sy werk begin het en gee dan ’n geslagsregister van Jesus.

Ons kry drie voorbeelde van Johannes se prediking: Die eerste preek (7-9) het ’n eskatologiese klem. Daarin waarsku Johannes teen moontlike oordeel en roep die mense op om vrug te dra wat by die bekering pas (8). Die tweede preek (10-14) het ’n etiese beklemtoning. Dit bevat spesifieke etiese riglyne vir die skare van mense (10-11); vir die belastinggaarders (12-13); en vir die soldate (14). Die derde preek het ’n Christologiese klem. Hierin wys Johannes na die een wat “met die Heilige Gees en met vuur sal doop” (16).

Teks

“Skare” of “menigte” of “groot getalle” word deur Johannes toegespreek. In Matteus 3:7-10 gebruik Matteus bykans dieselfde woorde, maar volgens hom spreek Johannes die Fariseërs en die Sadduseërs aan. Lukas se oproep tot die skare maak die oproep tot bekering en vrugdra baie meer universeel.

“Addergeslag”. Die Jode dink aan hulleself as kinders van Abraham. Johannes verwys na hulle as afstammelinge van die slang (die versoeker), die vernietiger van al wat goed is (Gen 3). Dieselfde beeld word ook in die LXX gebruik in Jesaja 11:8; 14:29; 30:6 en 59:5. Matteus beperk die uitspraak tot die Fariseërs en die Sadduseërs (Matt 3:7).

“Wie het julle wysgemaak?” Hierdie mense het die inligting aangaande Johannes se doop nie van homself gehoor nie, maar hulle kom soek die doop.

“Oordeel” is nie eintlik ’n woord wat Lukas gebruik nie (net hier en in 21:23). Hier verbind hy die woord Johannes met die Ou-Testamentiese profetiese waar-skuwing aangaande die dag van die Here as ’n dag van groot oordeel (Am 5:18-20; Jes 2:10-21; Mal 3:2-3, 19).

“Dra vrugte wat bewys dat julle bekeer is.” Die woord vir vrugte is hier in die meervoud. Johannes soek dus veelvuldige vrugte.

“Bekeer.” Dit beteken om van rigting te verander; jou perspektief te verander, of om oor te gaan na die ander kant toe en ’n ander siening te huldig (Bock).

“Abraham as voorvader.” As Johannes die mense voorberei vir die koms van die dag van die Here, vra hy vir hulle om te kyk na wie hulle regtig is. Hy vra na hulle identiteit. Johannes is dan baie duidelik: Historiese en godsdienstige afkoms is nie genoeg nie!

“God kan kinders van Abraham uit klippe maak.” Die vergelyking word met klippe gemaak omdat: (1) Klippe ’n integrale deel van woestynlandskap is; (2) In hulle leweloosheid en nutteloosheid is hulle ’n dramatiese illustrasie van die vermoë van God; (3) Die Aramese woord vir klippe, aybna, kan op ’n woordspeling dui, omdat die agtergrond vir die Griekse woord “kinders” (tekna), waarskynlik die Aramese woord vir kinders aynb is (Nolland).

“Die byl lê teen die wortel van die boom.” Die afkap van bome is ’n profetiese beeld van die oordeel (Jes 6:13; 10:33-34; 32:19; Eseg 31:12; Dan 4:14; Luk 13:6-9). Die onmiddellike, die dringendheid word uitgebeeld deur die byl teen die stam.

“Wat moet ons doen?” Die woorde wys dat die mense Johannes se waarskuwing ernstig opgeneem het. Drie verskillende groepe vra: Wat moet ons doen? Johannes sê nie net: “Laat julle doop!” nie. Hy verwys hulle na hulle werke en hulle persoonlike verhoudings.

Die “tweede” kledingstuk dui op ’n addisionele stel klere wat in reserwe gehou word. Johannes se oproep is ’n profetiese oproep vir “loving kindness”.

Die tolinsamelingsbedryf was gelaai met middelmanne. Elkeen het sy deel verwag. Die moontlikheid vir bedrog was legio.

“Wees tevrede met jul betaling.” Dit gaan hier waarskynlik daaroor dat die soldate nie hulle karige vergoeding as verskoning moes gebruik om misdrywe te regverdig nie (Wright).

“Volk vol verwagting.” Lukas beskryf ’n verwagting wat deur die prediking van Johannes opgewek is oor die komende eskatologiese oordeel. Daarmee saam die gedagte dat Johannes dalk die Christus mag wees.

“Vir almal.” Lukas beklemtoon die geweldige belangrikheid van die antwoord wat nou volg. Dit is bedoel vir die hele Israel, nie net vir die mense wat nou na Johannes luister nie!

As Johannes nie die Christus is nie, wie is hy dan? Johannes se antwoord beskryf Jesus se grootheid in drie punte: (1) Jesus het ’n veel hoër posisie as Johannes. Hy het baie meer persoonlike gesag; (2) Jesus is ook veel groter ten opsigte van die seën wat Hy bring. Jesus sal met die Gees en met vuur doop; (3) Die finale en werklike  groot onderskeid is dat Jesus die Regter is wat finale skeiding en oordeel sal bring.

“Skoene los te maak.” Van al die take wat ’n slaaf vir sy baas moes doen, was die uittrek van die skoene die taak waarvan hulle die minste gehou het. Johannes wil nie sê dat die taak te vernederend vir hom sou wees nie, maar dat hyself nie waardig is om die slegste taak te verrig vir die besondere Persoon nie.

“Met die Gees en met vuur doop.” Dit kan ook vertaal word met “wind en met vuur”. Dit mag dalk heenwys na die Pinkstergebeure (Hand 2:1-4). Ander moontlikhede wat hier na vore gebring word is: (1) om vuur en Gees met mekaar in verband te sien en te dink aan die vurige suiwerende werk van die Heilige Gees; (2) om hier ’n alternatiewe doop te sien – vurige vernietiging vir die onbekeerde en die gawe van die Gees vir die wat hulle bekeer; (3) om die doop nie in Christelike terme te verstaan nie, maar as ’n sterk wind van oordeel (Nolland).

Die Messias sal met sy skop, dit is ’n langsteelhoutgraaf, die koring en kaf saam opskep en opgooi in die wind sodat koring en kaf geskei word. Die dringendheid is dieselfde as in vers 9, maar die klem is hier meer positief (die koring word behou).

“Onblusbaar.” Beklemtoon die finaliteit en onomkeer-baarheid van dit wat gaan gebeur.

“Die goeie boodskap verkondig.” Dit klink nogal vreemd op ons oor as ons dink aan Johannes se uitdagende woorde. Dit klink meer na dreigende waarskuwings as na goeie nuus! Wie net dit hoor, waardeer nie dit wat Johannes kom aanbied nie, naamlik die werklike genesing en verlossing vir die mense!

Konteks

Vir Lukas speel Johannes ’n tweevoudige rol. Hy berei die  mense voor vir die koms van die Messias en hy lig die mense in oor God se standaarde vir geregtigheid in die daaglikse lewe (Bock). Johannes se reputasie strek baie verder as sy prediking en groot skares kom uit om (ongenooid) deel te hê aan sy doop. Johannes twyfel aan die opregtheid van die massa. Hy spreek hulle aan as “addergeslag”, omdat hy skepties is oor hulle gereedheid om werklik tot bekering te kom (soos Jeremia skepties was oor ’n vorige generasie inwoners van Juda, Jer 13:23). Johannes se benadering is besonders. As mense hulle vandag aanmeld vir lidmaatskap of doop, juig ons en praat ons baie mooi met hulle. Johannes wil egter seker maak dat almal werklik verstaan hoe ellendig hulle eie situasie is. Soos ’n Ou-Testamentiese profeet praat hy kras en loop hy gevaar om ernstig aanstoot te gee. Johannes waarsku dat God opregte bekering eis; lewens wat vrugte dra! Die vrug van die Gees kom hier in die gedagte (Gal 5:22-23).

God se vyande is dikwels “slange” genoem  (Jes 14:29; 59:5; Jer 46:22). Johannes noem die mense adders om hulle daarop te wys dat hulle harte nie reg is nie. Dit is die eerste keer dat die volk weer in bykans 400 jaar ’n profeet hoor!

Johannes vra: “Wie het julle gewaarsku om te vlug?” Mens kry die prentjie van gras wat brand (’n bekende gesig in die Vrystaat en noord van die Vaalrivier in die somergraan-gebiede). Ons dink aan ’n woestyn as droog en leeg, maar die droë plante kan vurig brand. Woestyndiere moet met groot spoed skarrel om weg te kom.

Johannes vertrou nie die mense nie, maar sluit hulle tog nie van die doop uit nie. Hy roep hulle op om vrugte te dra wat die verandering van hart, wat by bekering plaasgevind het, sigbaar sal maak (vgl Luk 6:43-45). Hoe moet ons leef in die laaste ure voordat die lem van die byl die boomstam kloof? Verloor die gewone gang van sake hulle waarde en dringendheid as alles na die einde toe beweeg? Lukas antwoord die vraag met enkele voorbeelde van Johannes se etiese opdragte. Hy gebruik die vraag, “Wat moet ons doen?” om die noodsaak van praktiese persoonlike reaksie en optredes te onderstreep (Luk 10:25; 18:18; Hand 2:37; 16:30; 22:10). Die Jode het gedink dat God die nasies met een standaard sal oordeel en die Jode met ’n ander maat sal meet. Hulle het inderwaarheid geglo hulle sal die oordeel vryspring. Johannes wys hulle dadelik tereg: Jou lewenswyse en nie jou afkoms nie, is die bewys dat jy aan God behoort.

God kan “uit klippe” kinders van Abraham maak. God kan lewe gee. Hy kan red wie Hy wil. Die grootste sondaar; die laagste misdadiger; die grootste heiden kan ingebring word in die familie van God. Dit is inderdaad so in hierdie evangelie (geskryf deur iemand wat nie ’n Jood was nie) dat ’n Romeinse hoofman die grootste geloof toon (Luk 7:1-10; 23:47). In Handelinge speel ’n ander hoofman die sleutelrol in die drama waardeur die kerk vir die heidene oopgemaak word (Hand 10).

Johannes vernietig mense se valse sekerhede. Dit het Martin Luther ook gedoen en so die Reformasie aan die gang gesit. Luther het dit teen die afkoopstelsel gehad wat nooit mense se saligheid kon verseker nie. Sy kreet was: “Die regverdige sal deur die geloof lewe.” Dit is nie ver van wat Johannes gepreek het nie. Om reg te wees met God vra dat jy erken jy is nie reg met God nie. Dit is ’n paradoks. Eers as jy besef jou saak is nie reg met God nie, kan jou saak reg wees met God (Larson).

Ons dink die saak van die Jode en hulle vertroue op hulle afkoms is ver van ons af. Tog is ons vandag net so geneig om meer te vertrou op ons wortels as op ons vrugte! Ons maak staat op ons belydenis, doop, kerkverband, kerkbywoning, bydraes, bevestiging en roeping. Johannes waarsku teen valse vertroue op hierdie dinge wat geen waarde het as dit nie gepaard gaan met ’n lewenswyse wat bevestig dat jou bekering eg is nie.

Opmerklik dat die vrugte van bekering volgens Johannes nie lê in ’n apokaliptiese onttrekking uit die wêreld nie; ook nie in die eksklusiewe toewyding aan spesifieke heilige sake nie. Nee, die bekering se vrugte, met die oog op die komende oordeel, lê in die optrede van gewone mense in hulle gewone verhoudings met mekaar in die gemeenskap elke dag.

Die byl teen die boom dui op die oordeel wat op hande is. Die beeld is algemeen gebruik deur Ou-Testamentiese profete en was daarom bekend by die skare wat na Johannes luister (Jes 10:33-34; Mal 4:1). Johannes praat nie oor die verlossende liefde van God nie. Hy is nie daarvoor geroep nie. Sy boodskap is die van komende oordeel (McGee).

As Johannes van bekering praat, praat hy van radikale vrygewigheid. Alles wat ons meer het as dit wat vir ons  noodsaaklik is, is kwesbaar vir die eis van diegene in nood. Sy oproep is die profetiese oproep vir “loving kindness” (Miga 6:8; Hos 4:1). Die tollenaars en soldate word opgeroep om onverskrokke eerlik te bly, selfs tot hulle eie skade. Johannes sê niks oor mense wat nie twee jasse het nie. Dit was nie die punt nie. Het jy twee jasse? Gee een weg! Te veel kos, dieselfde geld dan vir jou. Niemand kan hierdie punt mis nie. Soos die Ou-Testamentiese profete sien Johannes die rykes ryker word en die armes armer. Iets moet gedoen word. Om ’n baadjie weg te gee en kos uit te deel lyk na ’n maklike oplossing vir ’n groot probleem. Miskien het ons  hier reeds iets van die eis wat Jesus sou stel aan die ryk jongman wat wou weet wat hy moet doen om die ewige lewe te kan verkry (Luk 18:22).

Tollenaars en die soldate is verag. Hulle het mense skade aangedoen. Mens kon met reg vra hoe ’n gelowige ’n tollenaar of soldaat kon wees. Dit was ’n slegte stelsel wat slegte mense getrek het. Johannes het verwag dat hulle  integriteit in hulle beroep en lewe moet inbring. Ons sal kan vra: Sou daar beroepe wees wat ’n Christen nie kan beoefen nie? Handel in verdowingsmiddels, prostitusie en mensehandel is in elk geval onwettig. Indien werksomstandighede so is dat eerlikheid en regverdigheid nie moontlik is nie, sal ’n nuwe werk waarskynlik die oplossing wees.

Ten spyte van Johannes se krasse veroordeling oor die skare, weier hy nie om hulle te doop nie. Sy doel is nie, soos die Ou-Testamentiese profete, om te veroordeel nie, maar om te red. Hy het die “slegte” nuus aan die skare oorgedra (7-9), maar met die doel om hulle voor te berei vir die goeie nuus (18).

Johannes maak duidelike onderskeidings  tussen homself en die Een wat na hom kom. Johannes se verwysings na die Gees (3:15-17; Matt 3:11-12) maak dit duidelik dat dit een van die tekens van die koms van die koninkryk sal wees dat die Messias die Gees uitdeel. Petrus verklaar later in Handelinge 2:30-36 dat die dag se gebeure hierdie belofte van Johannes vervul het. As die Gees kom, is die Messias aan die werk en word die seëninge van die koninkryk werklikheid. So gaan die beloftes van die Ou Testament in vervulling (Rom 16:25–27; Heb 1:1–13) (Bock).

Die vraag is of die doop met die Gees en met vuur  bedoel is om te red of om te vernietig. Sommige kommentare reken die doop met vuur in vers 16 het met die onblusbare vuur van vers 17 te doen, wat ’n oordeelsmotief aan die doop gee.

God gebruik egter vuur vir suiwering sodat sy kinders gered kan word (Jes 1:25; 4:4-5; Sag 13:9; Mal 3:2). Hierdie verwysings laat die doop met Gees en met vuur lyk asof die bedoeling is om te red eerder as om te vernietig. John Nolland sê dat beide Gees en vuur in hierdie beeld vir gelowiges middele van eskatologiese suiwering is.

Die beeld van die gaffel op die dorsvloer vertel van die waardevolle graan wat bymekaar gemaak word terwyl die waardelose kaf verbrand word. Die metafoor is duidelik: Dié wat vrugte dra sal bymekaargemaak word, terwyl dié wat nie leef tot eer van die Koning nie, in die ewige vuur sal verbrand.

In die prediking moet onthou word dat die hoofdoel verlossing is (bymekaarmaak van die graan en die vreugde van die oes wat in die skuur is) en nie die verbranding van die kaf nie!

Lukas se punt is baie belangrik. Jesus, die Messias wat kom, is nie net ’n morele prediker, ’n groot leermeester, of vriend van die mense in nood nie. Hy is al hierdie dinge, maar Hy is ook veel meer. In sy hande het God alle mag oorgegee. Hierdie beeld van Jesus as die groot Regter is sentraal by Lukas (Hand 4:10-12; 10:42; 17:31).

Die gedagte van die Messias as Regter en as Redder is ’n belangrike deel van die Joodse toekomsverwagting. Die Messias sal God se reg laat geskied in die wêreld. Dit sal uiteraard die afrekening met die kwaad insluit. Daarom die beeld van die kaf en die koring. Johannes se boodskap klink na alles behalwe goeie nuus. Nêrens staan die verskille tussen Johannes en Jesus so duidelik uit nie. Wat die boodskap van Johannes ook al mag wees, dit was geen goeie boodskap nie! Dit was nuus van verskrikking! Ons is meestal geneig om die positiewe en die goeie te beklemtoon en die werklikheid van ons sonde te minag. Johannes het ’n ander model: Hy begin deur die sonde van die mense bloot te lê (7-9). Hy gaan verder deur die konkrete voorbeelde van goeie vrugte van bekering te noem (10-14). Hy beloof dan dat die Een wat kom, ’n wonderlike verlossingsboodskap het vir die wat tot bekering kom (15-17). Dit is inderdaad goeie nuus.

Daar is drie uitstaande punte in Johannes se boodskap: (1) Hy vereis dat mense met mekaar moet deel. Dit was ’n sosiale evangelie wat dit duidelik stel dat God nooit tevrede sal wees met iemand wat tevrede daarmee is dat hy te veel het as ander te min het nie; (2) Hy beveel mense nie om hulle werk te los nie, maar om hulle werk te doen soos dit gedoen moet word; gehoorsaam aan God; (3) Johannes weet verseker dat hy net die voorloper van die Messias is. Die Koning sal nog kom en Hy kom om te oordeel. So teken Johannes wel ’n prent van oordeel. Dit is egter ’n oordeel wat mens met vertroue tegemoet kan gaan; die mens wat sy deel vir sy naaste gedoen het en wat sy dag se werk getrou gedoen het (Barclay).

Preekvoorstel

Ons is op pad om weer Kersfees te vier.
Christene doen dit elke jaar. Jaar na jaar.
Vra hierdie jaar eerlik: Here, wat moet ons doen?
Ons kan sê soos die Jode van Abraham gesê het (net op ’n ander manier): Ons het goeie wortels.
Abraham was goed genoeg vir die Jode, maar ons het baie meer!
Ons belydenis, doop, kerkverband, kerkbywoning, bydrae, bevestiging, ons roeping en nog meer.
Ons is ook geneig om meer te vertrou op ons wortels as op ons vrugte! Ons is mos gedoop, ons het mos die genade ontvang, ons is God se kinders.
Staan ’n oomblik stil naby God. Hy is by jou!
Draai weer na Hom toe.
Hoor sy woord deur Johannes se boodskap: Wees wat julle is!
Jy hoef nie die wêreld vol ligte te maak nie. Bring net ’n bietjie lig vir ander.
Jy hoef nie in die woestyn te gaan bly en sprinkane te eet nie. Doen net jou werk goed.
Jy hoef nie in afsondering en eensame toewyding te sit om Kersfees reg te vier nie. Jy kan net mense met eerbied behandel.
Wat moet ek doen?
As jy twee baadjies het – gee een weg! (Dié een hoor ons sleg!)
As die wortels eg is, sal dit vrug dra van goedheid, mededeelsaamheid, omgee en geregtigheid.
Min van ons dink aan onsself as ryk mense.
As ons egter kyk na die groeiende probleem van vetsug, is dit duidelik dat ons meer kos het as wat ons nodig het, selfs meer as wat ons liggame met veiligheid kan hanteer!
Kolossale klerekaste – instapkaste – is baie vinnig vol klere, dikwels geheel in onbruik!
“Oorgroot” is oral – hamburgers, dranke, badkamers, 4×4’s.
Kersfees. Kan die Koning dalk in my klerekas kom krap?

Luister mooi.
Dit is die boodskap van Johannes.

Bibliografie

Barclay,W 1976. Daily Study BibleLuke. An Historian’s Introduction; Bock, D L 1996. The NIV Application Commentary.Luke. Grand Rapids: Zondervan; Die Bybellennium Eenvolumekommentaar, 1999. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy; Bybel A tot Z, 2003. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy; Groenewald, E P 1989. Die Evangelie volgens Lukas. NG Kerk-Uitgewers; Larson, B 1983. The Preacher’s Commentary Series. Volume 26. Nashville: Tennessee, Thomas Nelson, Inc.; Martin, J A The Bible Knowledge Commentary. Dallas Seminary; Mcgee, J V 1991. Luke. Nashville: Thomas Nelson Publishers; Nolland, J. 1989. Word Biblical Commentary: Luke 1-9:20. Word Incorporated; Orsborne, G R 1994. The IVP New Testament Commentary SeriesLuke. Illinois: Intervarsity Press; Wright, T 2001. Luke For Everyone. Nicholas Thomas Wright.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.