Derde Sondag in Advent

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Jakobus 5:7-10
Ander tekste: Jesaja 35:1-10; Psalm 146:5-10; Matteus 11:2-11

Inleiding

Die derde Sondag in Advent se tradisionele tema is “vreugde”. Hierdie week se Psalmteks is ’n loflied aan God en God se regverdigheid en billikheid veral teenoor die weerloses. Ook in die Jesajateks word God selfs in die skepping geloof vir die regverdigheid wat God bewerkstellig. In die Matteusteks bevestig Jesus dat Hy die Een is wat deur God gestuur is en Hy noem eenderse take wat Hy op aarde gaan verrig as waarvoor God in die psalm geloof word.

Die sleutelteks vir die week uit Jakobus, vervleg die temas van die wederkoms en hoe ons met mekaar in die geloofsgemeenskap saamleef. Jakobus maan tot geduld met die oog op die wag op Christus se tweede koms, maar ook tot geduld met mekaar.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangswoord
Voorganger:
God wat vreugde gee,
die woestyn, die dor land, sal jubel oor U,
die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille;
dit sal in volle bloei staan, hy sal juig en sing,
dit sal die prag van Libanon hê,
die skoonheid van Karmel en Saron.
Israel sal die mag van die Here sien,
die koninklike mag van ons God.
Gemeente: God gee ons vreugde.

Voorganger: Lees Jesaja 35:3-9.
Gemeente: Christus gee ons vreugde.

Voorganger: Lees Jesaja 35:10.
Gemeente: Die Gees gee ons vreugde.

Voorganger:
God wat vreugde gee,
laat ons U saam met die skepping voortdurend loof!
Mag ons nooit ophou om u mag te besing nie! (uit Jes 35:1-10).

Steek die rooskleurige kers van die Adventskrans aan.

Aanvangslied
Lied 213 “Kom, volk van God, verhef jul stem”

Seëngroet
Sien basisliturgie.

Diens van die Woord

Kindertyd
Met die tema van lof kan hierdie week se versiering van die Adventsboom engele wees wat God loof, of selfs prente van mense of groepe mense wat God loof en prys. Soos met die vorige twee weke kan die versierings óf vooraf gemaak en net tydens die diens opgehang word óf kan daar in die diens geleentheid vir die kinders wees om self die versierings te maak en dan aan die boom te hang.

Diens van die Tafel

Nagmaalsformulier vir Sondag van Vreugde

Een van die betekenisse van die nagmaal is dat dit vir ons ’n versterking van die werklikhede van die hede is. Ons werklikheid nou het verskillende aspekte, maar een daarvan is die vreugde wat ons nou reeds kan beleef oor wat God vir ons gedoen het, steeds doen en belowe het om nog te doen. Met hierdie sakrament wil ons God soos die psalmdigter met hierdie woorde loof:

Lees Psalm 146:5-10.
Gebruik hierna die vyfde element van die “Formulier vir die bediening van die nagmaal (2)” op bladsy 80-81 van Vir die Erediens: ’n handleiding.

God stuur ons uit

Slotlied
Lied 492/NSG 73 “In U is vreugde”

Seën
Sien basisliturgie.

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 155/NSG 352 “Verhef ons harte tot U, Heer”
Lofprysing: Lied 343 “Loof die God van ons verlange!”; Lied 345/NSG 81 “Kom, alle getroues”; Lied 207 “Eer aan die Vader”; Lied 339 “Halleluja! prys die Heer”; Lied 364/NSG 70 “Herders op die ope velde”

Preekstudie – Jakobus 5:7-10

Teks en konteks 

Woord teen die Lig (I/7) bied ’n uitstekende bespreking van dié teks deur Retief. Dit kan óf aanvullend tot hierdie preekstudie gebruik kan word, óf die prediker in ’n heel ander rigting stuur.

Dit is die derde Sondag in Advent — en ewe skielik ’n teks uit Jakobus! Boonop ’n gedeelte wat nié sinvol as perikoop afgebaken is nie, en wat selfs ná ’n gemotiveerde inperking van die preekteks, steeds verskeie ander uitdagings aan ’n prediker stel.

Ofskoon Moo se indeling van die brief onder die oorhoofse tema van “geestelike heelheid” (spiritual wholeness) effe geforseerd en dualisties voorkom, kan die plasing van die Leesrooster-teks onder sy hoofopskrifte tog met ‘n voorlopige afbakening help:
1:1 – Briefaanhef: groete en geadresseerdes
1:2-18 – Die strewe na geestelike heelheid: die geleentheid wat beproewings bied
1:19 – 2:26 – Die bewys van geestelike heelheid: gehoorsaamheid aan die Woord
3:1-4:3 – Die gemeenskapsdimensie van geestelike heelheid: rein spraak en vrede (I)
4:4-10 – ’n Oproep tot geestelike heelheid
4:11-12 – Die gemeenskapsdimensie van geestelike heelheid: rein spraak en vrede (II)
4:13-5:11 – Die wêreldbeskouing van geestelike heelheid: begrip van tyd en ewigheid
4:13-17 – Arrogante beplanning negeer God se voorsienigheid
5:1-6 – Misbruik van rykdom en mag bring God se oordeel mee
5:7-11 – Geduldige volharding in beproewing verdien God se beloning
5:12-20 Slotvermanings

Terwyl die RCL-fokusteks Jakobus 5:7-10 is, blyk dit reeds uit hierdie oorsigtelike struktuur van die brief dat vers 11 moontlik daarmee saam gelees moet word. Die wyer verband waarin die gedeelte voorkom, is uiters belangrik. Wie Jakobus 5:7-11 geïsoleerd lees, gaan nie ‘n behoorlike begrip hê vir die onderwerp waarom dit in hierdie perikoop gaan nie. In hierdie preekstudie word dus óók gekyk na die perikoop net vóór die fokusteks, naamlik 5:1-6.

Die aanmoediging aan gelowiges in vers 7 om geduldig te wees, word deur oun (“dan”) aan die voorafgaande vermaning aan rykes in Jakobus 5:1-6 verbind. Dié verband is een van logiese gevolg: Aangesien dit so is dat die rykes God se oordeel te wagte kan wees vanweë die onreg wat hulle pleeg, kan dié wat deur die rykes uitgebuit word, geduldig wees totdat die Here kom.

Hierdie verband is uiteraard kernbelangrik om die gedeelte selfs net te begin verstaan. Dit sê meteens wié die adelphoi van vers 7 is en wat die aard van hulle swaarkry is: Hulle is die “arbeiders” (ergatōn – v 4) wie se loon agtergehou is, die “regverdige” (dikaion – v 6) wat deur die rykes veroordeel en vermoor word. “Broers” (adelphoi – v 7) identifiseer hulle uiteraard as deel van die geloofsgemeenskap. Nêrens in vers 1-11 word dié groep egter eksplisiet as “armes” (ptochoi) benoem soos in Jakobus 2:2-5 nie. Die definitiewe verband tussen vers 1-6 en 7-11, asook die “klimaktiese opbou wat in die herhaling van temas” (Kotzé) merkbaar is – soos rykes versus armes – identifiseer die subjek van verse 7-11 wel as verontregte armes.

Dié wat die onreg teenoor die armes pleeg – die subjek van vers 1-7 – dra in vers 1 die naam “rykes” of “rykaards” (plousioi). Ryk en arm word vroeg in die brief reeds kortliks teenoor mekaar gestel (1:9-11).

Die tema van ryk teenoor arm kom ook vanuit ’n ander hoek ter sprake, naamlik in die beskrywing van die gemeente se voorkeurbehandeling van die rykes en die minagting van die armes (2:1-13). Smit: “… deur sy hele brief is Jakobus besig met die tema van rykdom en armoede, juis omdat die onreg en die daarmee gepaardgaande gevoel van veronregting soveel bydra tot onvrede in die gemeente en die kerk. Hier in vers 1-6 bereik dit egter ’n dramatiese hoogtepunt”. Gegewe die noue verband tussen die fokusteks en die voorafgaande gedeelte, asook die herhaling van ryk en arm as tema regdeur die boek, is dit belangrik om op die rykes in Jakobus se brief te fokus.

Of die rykes deel is van die geloofsgemeenskap of nie, is myns insiens vir die doel van hierdie preekstudie minder belangrik. (Neem wel kennis dat kommentators dit nie eens is oor die kwessie nie. In 1:9-11 en 2:1-13 is hulle waarskynlik wel medegelowiges. Wat egter veral die geloofstatus van die rykes in 5:1-6 aanbetref, is onder verklaarders meningsverskil oor.) Wat belangriker is, is die aard van die rykes se oortreding. Moo sê opsommend dit gaan daaroor dat die rykes besittings op gierige wyse ten koste van die armes inpalm, dat hulle werkers beroof (v 4), sinlose luuksheid versamel (v 5) en die regverdige vervolg (v 6). Enkele kwessies kan ook op ander maniere verduidelik word.

Die wyse waarop die rykes hulle rykdom bekom, is klaarblyklik onder meer deur hulle aan onbillike arbeidspraktyke skuldig te maak – meer spesifiek die onregmatige terughou van lone (v 4). Daarby misbruik hulle die mag wat hulle as rykes het, om armes nóg verder te benadeel (v 6): “Hulle veroordeel en vermoor die onskuldiges,” sê Jakobus. Dit dui op sogenaamde geregtelike moorde. Omdat hulle ryk en invloedryk is en in die samelewing mag het, maak hulle wette wat die magtelose armes verdruk en benadeel. As die armes hulle teen hierdie onregverdige wette sou verset of dit oortree, word hulle volgens dié wette (van die rykes) aangekla, verhoor, veroordeel en, sê Jakobus, vermoor (Smit). Die rykes se sonde is nie die blote feit dat hulle ryk is nie. Tog waarsku Moo: “The very possession of wealth, when others are going without the basic necessities of life, suggests James, is sinful” (in sy kommentaar oor 5:1-6 asook in sy inleidende “Poverty and Wealth”-rubriek, motiveer hy dié stelling baie oortuigend).

Die aard van die rykes se oortreding word goed saamgevat in Adamson se kommentaar op vers 6, wat as aanknopingspunt vir die preekvoorstel hier onder belangrik is: “The rich are represented … as brutal bullies, picking as the victims of their outrages those who cannot or will not resist.”

Phillips skets die rykes ook as bullebakke, terwyl hy die potensiële gevaar van rykdom en die misbruik van geldmag (as die uiteindelike realisering van daardie gevaar), raak verwoord: “Something about great wealth is corrosive to character. Money can buy most things in this world. People who can command large sums of money often become arrogant. People whom they cannot buy, they bully. Those whom they cannot bully, they belittle. Those whom they cannot belittle, they try to bury.”

’n Skeefgetrekte wêreldbeskouing en ’n goddelose gesindheid kan verder as onderliggende motivering vir die rykes se afknouery uitgewys word: “… the attitude of well-to-do people who arrogantly suppose they can think and act without reference to God and to eternity. Arrogant selfishness is the problem … Such an attitude is simply inconsistent with a Christian worldview in which there is a God who sovereignly directs the course of human affairs … The very fact that they have accumulated so much suggests that these rich people have been guilty of focusing on ‘earthly treasure’ at the expense of ‘heavenly treasure’, showing plainly just where their ‘heart’ really is … Like the rich fool, they failed to reckon with sudden judgement” (Moo).

Die voorafgaande fokus op die rykes, die nadere identifisering van hulle onderliggende gesindheid, en spesifiek deur hulle gedrag as gulsige afknouery te beskryf, is doelbewus onderneem.

As leraar bevind ek my in ’n gemeente waar die meerderheid lidmate welvarend is – of ten minste is hier baie min mense in my onmiddellike gemeentekonteks wat ‘n mens materieel “arm” kan noem (vergeleke met die gemiddelde Suid-Afrikaanse huishouding se materiële welvaart, vermoed ek daar is min NG Kerk-gemeentes waar ons werklik ’n meerderheid arm lidmate het). Dié gemeentekonteks laat my worstel met die relevansie van die RCL-fokusteks. Is daar enige boodskap in die opdrag aan die armes om geduldig te wees vir my lidmate (welvarende mense) in Jakobus 5:7-11?

Smit beduie hoe Jakobus 5:7-11 tipies al deur rykes misbruik is om die armes tot stilswye te vermaan: “… rykes [het] nie die reg … om armes oor hulle geduld te betig en hulle op hulle plek te sit nie. Deur die eeue het dit ongelukkig – tot tragedie en skande vir die Christendom – meermale gebeur dat ryk gelowiges, en soms selfs die amptelike kerk, juis dít gedoen het. Hulle smul na hartelus aan die vettigheid van die land en sê dan aan die veronregte, roepende, lydende armes: Wees tog geduldig; wees tog verdraagsaam; wees tog Christelik; wees tog vergewensgesind; wees tog dankbaar. Ken jul plek; berus daarin dat dinge nou maar eenmaal is soos dit is … ons skatryk en julle ellendig” (vgl Retief).

Die voorafgaande ekskursie oor Jakobus 5:1-6 met sy fokus op die aard van die rykes se sonde, bied egter ’n alternatiewe hermeneutiese invalshoek vir prediking oor Jakobus 5:7-11, ook in ’n gemeente waar die lidmate nie noodwendig arm is nie. In my gemeente sou ek as homileet die kategorie van rykes versus armes kon herdoop na “afknouers en boelies versus verontregtes en regverdiges”. (Onthou laasgenoemde groep word nie in 5:1-11 armes genoem nie, maar wel “regverdiges” [NAV: “onskuldiges”] wat verontreg word. Eersgenoemde groep is rykes, maar hulle sonde is nie rykdom op sigself nie – dit is eerder die boeliegedrag wat hulle inhaligheid vergesel.)

Die vraag waarop die prediking oor Jakobus 5:7-11 moet antwoord is: Wat staan regverdiges en verontregtes te doen in die lig van hulle beproewing, oftewel die feit dat hulle deur boelies verontreg word ? Dít is ’n vraag wat steeds relevant is vir armes wat in ’n kapitalistiese stelsel deur rykes uitgebuit word. Dit is ewe relevant vir enige individu of groep (arm óf ryk) wat verontreg word en onder enige individu of groep ly wat mag ten koste van ander vir eie gewin gebruik.

In die voorafgaande gedeelte waar die rykes direk vermaan word oor hulle uitbuitery (5:1-6), vind ons bloot die stelling dat die regverdige nie “weerstand bied” (antitassō) nie in die praesens-indikatief-mediumvorm. Hoewel dit nie ’n imperatief is nie, kan dié stelling moontlik wel deur gelowiges as voorskriftelik opgeneem word (Kotzé) – as ’n wysheidsuitspraak – in die lig van die feit dat Jakobus die verstaanswêreld, taal en styl van Joodse wysheidsboeke benut om sy lesers tot ’n deurdagte lewe van gehoorsaamheid aan God te begelei (Joubert).

In 5:7-8 volg die definitiewe opdrag egter twee keer aan die verontregtes: “Julle moet geduldig wees” (makrothumeo in die aoristos-imperatief-aktief, tweede persoon meervoud. Terloops: dié woord kom net tien keer in die Nuwe Testament voor, waarvan drie keer in die gedeelte onder bespreking.). Die idiomatiese imperatief in 5:8 is: “Versterk julle harte” (OAV). Minder letterlik vertaal: “Hou moed” (NAV).

Verontregte gelowiges se lewenshouding moet dus wees om geduldig te wag en moed te hou. Dit is Jakobus se positiewe opdrag. Sodat sy lesers sal verstaan wat hy hiermee bedoel, gee hy voorbeelde van “… drie soorte geduldige mense: landbouers, die profete van ouds en Job. Nie een van dié drie openbaar geduld wat verwar kan word met niksdoen, passiwiteit, agteroorsit en tevrede wees met wat ook al gebeur nie” (Smit). (In die verduideliking van die drie voorbeelde hier onder, is die aanhalings telkens ook van Smit.).

In vers 7-8 dien die geduldige wag van ’n boer op die vroeë en laat reëns as voorbeeld van hoe om te makrothumeo, om geduldig te wees. “Hulle doen hulle deel. Hulle werk. Hulle span hulle in – soos wat hulle weet reg is. Hulle geduld lê daarin dat hulle weet hulle moet die vrug op hulle arbeid, die ‘kosbare oes’, nie dadelik verwag nie. Dit kom van God. Dit vereis tyd. As hulle hulle deel gedoen het, moet hulle nie haastig wees nie. Hulle moet vertrou en moed hou. Hulle moenie kla omdat hulle moet wag omrede dit tyd vereis en die kosbare oes nie onmiddellik daar is nie. Dít is geduld.”

In vers 10-11 dien die profete wat in die Naam van die Here gepraat het se erge lyding (kakopathias) en geduld (makrothumia) as voorbeeld van hoe om geduld te hê en te midde van swaarkry (hupomenō) te volhard. “Ook hulle was nie onaktief en passief nie. Hulle het nie niks gedoen nie. Hulle het nie geduldig maar alles verdra wat gebeur het nie. Inteendeel. Hulle het in die Naam van God gepraat. En ons weet hóé hulle gepraat het – meermale allesbehalwe geduldig … Maar ook die profete het, soos die landbouers, geweet dat hulle nie meer as praat kon doen nie. Verder moes hulle dit aan God oorlaat. En omdat hulle profesieë, waarskuwings, kritiek, oproepe en woorde in die Naam van God meermale – nee, meestal – deur die mense verag en verwerp en geïgnoreer is, het hulle dikwels gely en swaar gekry. Meermale is hulle, net soos hulle woorde, deur die mense gehaat en verwerp. En hulle kon niks daaraan verander nie. Hulle kon net hulle magteloosheid en lyding aan God oorgee. En wag. Geduldig. Totdat God die vrug sou gee, die verhoring, die seën. Dít, sê Jakobus, is geduld.”

In vers 11 dien Job as voorbeeld van hupomone – ten beste vertaal met die frase “om te volhard te midde van moeilike omstandighede” (dat vers 11 as deel van die preekteks saamgelees moet word, is ook hieruit duidelik). “Job het geprotesteer teen die valse, berustende geduld van sy vriende wat hom wou wysmaak dat hy alles eenvoudig moes aanvaar asof dit van God kom. Maar Job het geweet onreg is onreg. Hy het geglo God is genadig en goed. Hy het besef dinge loop skeef. Sý geduld het daarin bestaan dat hy op God vertrou het ondanks al die ellende, dat hy in die donker tye toe hy nie kon sien wat gebeur nie, aan God bly vashou het. Hy het gebid. En gepleit. En met God geworstel. Maar hy het aan God bly vashou, ondanks alles. Dít is geduld.”

“Geduld” en “volhard” loop hand aan hand as sinonieme, maar kan van mekaar onderskei word. Moo wys daarop dat geduld eerder ‘n verhoudingswoord is wat met ‘n gesindheid en optrede teenoor ander mense te doen het (sien 1 Kor 13:4; Ef 4:2; 1 Tess 5:14). Volharding daarenteen is ‘n ingesteldheid en ‘n keuse om vas te byt te midde van slegte gebeure op jou lewenspad (sien Rom 8:25; 2 Kor 1:6; 2 Tess 1:4). Te midde van armes se omstandighede waar hulle onder die uitbuiting deur rykes ly, moet hulle geduldig wees en uithou.

Waarin lê die motivering vir verontregtes om geduldig te wag en te volhard? Dáárin dat hulle die Here se parousia, oftewel verskyning/teenwoordigheid/(weder)koms, binnekort verwag (7 en 8) en hulle weet die Here kom dan as Regter (9; vgl vers 5 se “slagdag” as die dag van oordeel oor die rykes). Die positiewe uiteinde vir hulle wat geduldig is en volhard, is seker, só seker soos die land wat uiteindelik die oes vir die boer oplewer (7); só seker soos die seën wat die profete uiteindelik toegesê word (10-11); só seker soos God se barmhartigheid en ontferming dinge uiteindelik goed laat afloop vir Job (11).

“The attitude that James calls on us to adopt here, then, includes resignation in the face of suffering along with confident expectation of a day when the fortunes of this life will be reversed. And, negatively, James is probably also implicitly forbidding his readers from taking vengeance on their oppressors” (Moo; vgl McKnight: “Once we tie 5:7-11, where God is the Judge, to 5:1-6, where God is about to act in judgement, the meaning of both patience and perseverance is shaped eschatologically to mean the choice to wait for God’s judgement instead of taking matters in one’s own (bloody) hands.” Op hierdie punt in sy kommentaar bied McKnight ook ‘n lesenswaardige ekskursie oor parousia tou kuriou aan vir die eksegeet wat dieper wil delf.)

Daar is ook ‘n eksplisiete negatiewe imperatief in vers 9 as opdrag aan die verontregtes: Moenie teenoor mekaar kla/mor (stenadzō) nie (Louw & Nida: “It may … be possible to retain something of the figurative meaning of stenadzō in Jas 5:9 by translating ‘do not complain with moaning’ or ‘do not moan and complain against”’). Dit gaan hier oor die broers – gelowige armes wat uitgebuit word – wat nie onderling moet mor of teenoor mekaar kla nie, aangesien dit die onderlinge harmonie versteur: “Wie nie Jakobus se soort geduld wil aanvaar nie, gaan begin kla oor dinge nie wil regkom nie … maar gou-gou gaan hulle ook begin kla oor mekaar, oor die ander wat nie ewe ongeduldig is nie, wat die verkeerde metodes volg, of wat heul met die vyand, of wat nie vertrou kan word nie, omdat hulle nie voluit aan God se kant is nie” (Smit). In laasgenoemde se oordenking oor “geduldig wees en kla”, groepeer hy al drie perikope wat oor dié tema handel saam, naamlik 1:2-4, 4:13-17 en 5:7-11. Heel moontlik kan die prediker ook na dié ander gedeeltes verwys, indien dit toepaslik is om die boodskap te verhelder.

Preekvoorstel

Die inleiding tot die boodskap kan dalk dié Kersfeeswens van ‘n graad 1-seuntjie wees: “Liewe Kersvader. My juffrou het gesê ons kan vir jou skryf en vir enige geskenk vra. Die present wat ek wil vra is eintlik ‘n guns. Sal jy my asseblief help met Wian wat in ons klas is? Hy terg my en maak my seer. En as ek huil, dan lag hy, en spot my voor die ander kinders. Hy boelie ook die ander kinders wat kleiner as hy is. En daar is ook van die ander kinders wat partykeer boelies is. En o ja, ek is baie jammer dat ek vir Neelsie geboelie het nou die dag. En ook vir al die kere wat ek ander maatjies geboelie het. Baie jammer. Asseblief Kersvader, help tog – dit is al wat ek vra – ons weet nie meer wat om te doen nie … Liefde, van Willem.”

Die Kersseisoen is waarskynlik nie ‘n tyd wat ons daaraan herinner wil word nie, maar boelies is nie beperk tot graad 1-klasse nie. Daar is boelies van alle ouderdomme, aktief besig op alle lewensterreine. Ons vind hulle in gesagsfigure wat hulle posisies tot eie voordeel misbruik, korrupte politici en amptenare, bendes, dwelmbase, verkragters, werkgewers wat werknemers willens en wetens uitbuit, kapers, plaasmoordenaars, mans wat vrouens en kinders mishandel, noem maar op … Mense wat enige vorm van mag misbruik om hulleself te bevoordeel en in die proses nie huiwer om ander mense te verontreg en te verdruk nie, is boelies. Daar is min onder ons wat nié geraak word deur so ‘n geboelie in een of ander formaat nie!

Die prediker kan hierna die “problematiek van boelies” – soos dit in Jakobus se brief daar uitsien, behoorlik ontleed – sien “Teks en konteks” hier bo. Enkele kwessies behoort pertinent uitgewys te word.

  • Hoe die boelies se gierige selfsug tot onreg en die uitbuiting van swakkes gelei het.
  • Jakobus se profetiese waarskuwing en vermaning teenoor boelies dat oordeel op pad is.
  • Dié wat aan die ontvangkant van die boeliegedrag is, wie is hulle en hoe ly hulle onder die boelies?
  • Jakobus se troos teenoor die ontvangers van boeliegedrag dat oordeel op pad is.
  • Jakobus vermaan en moedig hulle aan – negatief én positief: Moenie kla/mor teenoor mekaar nie; wees geduldig en volhard.

Advent is ‘n tyd waarin ons nie net die eerste koms van Christus vier nie, maar ook met verwagting na die wederkoms van Christus uitsien. Hierdie afwagting vra vir geduldige volharding, veral wanneer ons op die een of ander wyse in hierdie tussentyd deur boelies verontreg word … Terwyl ons in die wagkamer verkeer, kan ons gerus ook selfondersoek doen oor óf en hóé ons self soms die boelies op die speelterrein van die lewe is.

Die boodskap het afgeskop met ‘n briefie van ‘n kind wat vra dat Kersvader asseblief moet help met die boelies in die klas. Ter afsluiting kan die prediker wéér na die brief verwys (projekteer die woorde op die skerm), en beduie hoe dié pleidooi terselfdertyd ‘n protes teen onreg is. Verder moet daar ook die bewustheid wees dat “ek” nie altyd noodwendig as swakke aan die ontvangkant van onreg is nie, maar alte maklik ook ander boelie wanneer ek die oppergesag kry.

Wyle Gerrit Brand het ’n eie weergawe van die Onse Vader-gebed neergepen, wat ten slotte gelees kan word (projekteer weereens die woorde op die skerm). Die pleidooi, én die protes teen die status quo, is duidelik in hierdie bede. Terselfdertyd weerspieël dit die nederige bewustheid dat mag in God se hande hoort, en nie in ons s’n nie:

Jy wat so naby – en tog so ver is.
Laat nou ‘n slag van jou hoor.
Dinge is nie soos dit hoort nie;
niks is soos dit hoort nie.
Sê nou maar ons begin by die basics 

En moet nou nie ons verlede teen ons hou nie
(ons sal ons nie meer so hoogheilig hou nie).
En doen tog nie so moeilik nie,
anders is ons in ons maai in.
Ja, hou maar die sakie in jou hande,
en die mag uit ons s’n.
Toe nou.

Bibliografie

Adamson, J 1976. The Epistle of James (The New International Commentary on the New Testament) Eerdmans; Brand, G 2014. Godverlanger: ’n Huldingingsbundel vir Gerrit Brand met ’n keur uit sy skrywes (De Vries, W & Vosloo, R reds). Stellenbosch: Sun Media; Davids, PH 1982. The Epistle of James: a commentary on the Greek text (The New International Greek Testament Commentary). Eerdmans; Joubert, SJ 2012. Ontsluit die Nuwe Testament: Omvattende Bybelreise vir ’n beter verstaan van die Skrif. Vereeniging: CUM; Kotzé, PPA 1990. Die Brief van Jakobus (Kommentaar op die Nuw Testament: Struktuur – Uitleg – Boodskap). Kaapstad: Lux Verbi; Louw, JP & Nida, EA 1988. Greek-English Lexicon of the New Testament: Based on Semantic Domains. United Bible Societies; Manton, T 1968. An Exposition on the Epistle of James (The Geneva Series of Commentaries). Banner of Truth; Moo, DJ 2000. TheLetter of James (The Pillar New Testament Commentary). Eerdmans; Phillips, J 2004. Exploring the Epistle of James: an Expository Commentary (The John Phillips Commentary Series). Kregel Publications; Pretorius, EAC 1988. Die Brief van Jakobus. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers; Retief, GJ 1990. Derde Advent: Jakobus 5:7-11. Woord Teen die Lig 1/7 Verdere riglyne vir adventsprediking. Kaapstad: Lux Verbi; Smit, DJ 1994. Wat sien ons in die spieël? Pinkster-oordenkings en Bybelstudie oor die brief van Jakobus. Kaapstad: Lux Verbi; Wright, NT 2002. Early Christian Letters for Everyone: James, Peter, John & Judah (The New Testament for Everyone Commentary). SPCK.

© Missio 2024 | All rights reserved.