Derde Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Die derde Sondag van Advent is die Sondag van vreugde.  Die Sondag fokus op die boodskap van Johannes die Doper wat die genadejaar van die Here aankondig. Die Gees van die Here is met ons sodat ons in vreugde tot eer van die Here kan leef.

Ander tekste

Psalm 126
Verander tog ons lot, Here!
126 ’n Pelgrimslied.
Toe die Here die lot van Sion
verander het,
was dit vir ons soos ’n droom.
2Ons het gelag en gesing.
Onder die nasies het hulle gesê:
“Die Here hét groot dinge
aan hierdie mense gedoen.”
3Die Here hét groot dinge
aan ons gedoen;
ons was bly.
4Verander tog ook nou ons lot, Here,
soos U droë spruite in die Suidland
in waterstrome verander.
5Wie met trane saai,
sal die oes met gejuig inbring.
6Al loop hy en huil
terwyl hy die saaisak dra,
hy kom juigend terug
terwyl hy sy gerwe dra.

1 Tessalonisense 5:16-24
16Wees altyd bly. 17Bid gedurig. 18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

19Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. 20Moenie profesië uitsprake van dié wat die boodskap van God verkondig, geringskat nie, 21maar toets dit alles, behou wat goed is, 22en bly weg van alles wat sleg is.

23Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! 24Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.

Johannes 1:6-8, 19-28
Die Woord het mens geword
1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

6Daar was ’n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. 8Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.

9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10Hy wás in die wêreld—die wêreld het deur Hom tot stand gekom—en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.

14Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

15Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.”

16Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

Die getuienis van Johannes die Doper
(Matt 3:1–12; Mark 1:2–8; Luk 3:15–17)
19Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy?”
Toe het hy hierdie getuienis afgelê 20en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.”
21Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?”
“Nee, ek is nie,” sê hy.
“Is jy dan die Profeet?”
“Nee!” het hy geantwoord.

22“Nou maar wie is jy dan? Ons moet ’n antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het,” sê hulle vir hom. “Wat het jy oor jouself te sê?”

23Hy antwoord toe:
“Ek is die een wat in die woestyn roep:
Maak die pad vir die Here reguit.” a
Dit is soos die profeet Jesaja gesê het.

24Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is, 25en hulle het vir hom gevra: “Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?”

26Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. 27Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.”

28Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.

Fokusteks

Jesaja 61:1-4, 8-11
Eer in plaas van smart
61 Die Gees van die Here my God het oor my gekom;
die Here het my gesalf
om ’n blye boodskap te bring
aan die mense in nood,
Hy het my gestuur
om dié wat moedeloos is, op te beur,
om vir die gevangenes
vrylating aan te kondig,
vryheid vir dié wat opgesluit is,
2om aan te kondig dat die tyd gekom het
waarop die Here genade betoon,
die dag waarop ons God sy vyande straf
maar almal wat treur, vertroos,
3die dag waarop Hy
vir dié in Sion wat treur,
eer gee in plaas van smart,
vreugde in plaas van droefheid,
blydskap in plaas van hartseer.
Hulle sal genoem word:
Bome van Redding.
Die Here het hulle geplant
om sy roem te vermeerder.
4Hulle sal die eeue-oue puinhope opbou,
plekke herbou wat lankal verlate lê,
hulle sal verwoeste stede weer opbou,
plekke wat geslagte lank verlate lê.
5Uitlanders sal in julle diens wees
en julle kleinvee oppas,
vreemdes sal in julle lande
en julle wingerde werk.
6Julle sal genoem word:
Priesters van die Here,
Dienaars van ons God.
Julle sal van die rykdom van die nasies
geniet,
die trotse eienaars word
van hulle besittings.
7In plaas van vernedering sal julle
twee keer soveel besittings hê
as tevore,
in plaas van minagting
sal julle lof ontvang
oor wat julle besit.
Julle sal in julle land
twee keer soveel besit as tevore
en julle sal altyd vreugde hê.
8Ek is die Here, Ek het die reg lief,
Ek haat roof en misdaad.
In my trou sal Ek my volk gee
wat Ek beloof het,
Ek sal ’n ewige verbond met
hulle sluit.
9Hulle afstammelinge sal bekend wees
onder die nasies,
hulle nakomelinge onder die volke.
Almal wat na my volk kyk, sal besef
dat hulle ’n volk is
wat deur die Here geseën is.
10Ek is baie bly oor die Here,
ek juig oor my God,
want Hy het my gered,
vir my oorwinnaarsklere aangetrek.
Ek is soos ’n bruidegom
met ’n priesterkroon op,
soos ’n bruid met haar juwele aan.
11Soos die grond plante laat uitspruit,
soos die plante in ’n tuin vrugte gee,
so gee die Here my God die oorwinning
en laat Hy al die nasies luister
na die loflied tot sy eer.

Ekstra stof

Jesaja 61 – ‘n Blye boodskap vir mense in nood
Soos die onderwerp van lig in Jesaja 60 ‘n skakel na die belofte van ‘n Seun in Jesaja 9 gegee het, so gee die boodskap van “die Gees van die Here my God” wat oor die dienaar van die Here kom, ‘n skakel na die belofte in Jesaja 11 van die takkie uit die stomp van Isai waarop die Gees van wysheid en insig sal rus.  Wat daar belowe is, word hier nou as die werklikheid beskryf.

Die hoofstuk beslaan 3 perikope:

  1. Verse 1-7 beskryf die bediening  van die dienaar van die Here en die gevolge daarvan.
  2. Verse 8-9 beskryf die verbintenis van die Here aan sy volk.
  3. Verse 10-11 beskryf die vreugde van die dienaar van die Here oor sy oorwinning.

61:1-7: Let op dat die dienaar van die Here se bediening beskryf word as:

  1. ‘n Blye boodskap aan mense in nood wat moedeloses opbeur en vrylating gee vir gevangenes – vers 1;
  2. ‘n Tyd van genade vir almal wat treur waarin hulle die Redding van die Here sal ervaar – vers 2-3;

Dit sal tot gevolg hê dat die volk ‘n tyd van transformasie sal beleef. Dit word beskryf as:

  1. ‘n Tyd van heropbou – vers 4;
  2. ‘n Tyd van herstel deurdat vreemdelinge vir hulle sal werk – vers 5;
  3. ‘n Tyd van egte godsdiens as priesters van die Here – vers 6a;
  4. ‘n Tyd van voorspoed waarin hulle die geskenke van die nasies sal geniet – vers 6b-7.

61:8-9: Die Here begrond die verandering in sy getrouheid aan sy belofte aan die volk, en in die wyse waarop Hy onder die nasies bekend wil staan.  Iets om in gedagte te hou in ons gebede.  Ons kan God herinner aan sy beloftes.  En ons kan God herinner aan die impak van gebedsverhoring op die nasies.

61:10-11:  Die laaste perikoop beeld die blydskap van die dienaar van die Here uit, waar Hy God loof oor sy oorwinning.  Let op dat Hy dit beide met die beeld van ‘n bruidegom EN die beeld van ‘n bruid weergee.  Weereens is dit nie net vir die volk van belang nie, maar ook vir die nasies.

Nuwe Testament: Jesus het waarskynlik dié hoofstuk as sy roepingsteks geneem, soos ‘n mens uit Lukas 4 aflei.  Na die versoeking in die woestyn kom Jesus in Nasaret, lees hierdie gedeelte uit die boek Jesaja vir die gemeente en verklaar: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul” (Luk 4:21).  Hoewel Jesaja nie dié vervulling kon voorsien het nie, is dit duidelik dat hierdie Jesaja teks vir ons ‘n kernagtige sleutel gee om Jesus se bediening te verstaan.

En ons kan die manier waarop Jesus oor sy bediening gedink het, gerus ter harte vir ons eie bediening neem, want dit is uiteindelik waartoe ons ook geroep word – na mense wat nood ervaar en treur oor hulle lot in die lewe.  Niks anders is regtig hiermee te vergelyk nie.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aansteek van die derde Adventkers (sien Familie-oomblik)

Lied 492 “In U is vreugde”of
Vonkk 80 “Ek is Bly”of
Flam 231.“Dankie vir hierdie nuwe dag (U Vreugde Is My Krag)”

Votum: Jesaja 61:1-3

Seëngroet

Lofsang
Lied 323 “Uit droë hout spruit lewe” of
Vonk 124 “Jesus bring vreugde” (selfde melodie as Lied 492) of
Flam 103. “Kersfees Is ‘n Vreugdefees”

Liedere

VONKK 80 “Ek Is Bly”
Jesaja 61:10
Teks: Malan Nel 1974
Melodie: JEUG-TOT-JEUG — Awie van Wyk 1974
Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© 2009 VONKK  Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing

Ek is bly, ek is bly,
ek verbly my in die Heer.
Hy het my ‘n nuwe kleed gegee.
Hy het my verlos. Hy het my verlos.
Ek is bly, ek is bly
soos ‘n bruidegom en bruid.
Ek is bly!
Jesus is my blydskap.
Jesus is my blydskap.
Jesus is my blydskap. Ek is bly.
Ek is bly, ek is bly,
ek verbly my in die Heer.
Hy het my ‘n nuwe kleed gegee.
Hy het my verlos. Hy het my verlos.
Ek is bly, ek is bly
soos ‘n bruidegom en bruid.
Ek is bly!

Flam 231. “Dankie vir hierdie nuwe dag (U Vreugde Is My Krag)”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: De vreugde van U is mijn kracht
Musiek en teks: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht  © 2007
© 2001 Celmar Music
Neh 8:10, Ps 118:24 en Joh 14:27

Dankie vir hierdie nuwe dag
wat ek van U kry deur U mag
Heer wat ‘n seën elke dag opnuut
U gee U liefde telkens weer
en U genade keer op keer
elke oggend, elke dag opnuut

U gee my vrede wat die wêreld nooit gee
U gee my blydskap deur U Heilige Gees
Ja, die blydskap wat U my gee
is meer as die vreugde wat die wêreld het
As die son skyn en in die donkere nag
U vreugde ek weet is my krag

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1.  Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
“Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2.  Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3.  Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

Flam 103. “Kersfees Is ‘n Vreugdefees”
(RUBRIEK: Flammikidz – Kersfees / Diens en Getuienis)
Teks en Musiek: Jan de Wet
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

Kersfees is ‘n vreugdefees.
Jesus is nou hier.
Hy wil by sy mense wees
om saam met hulle fees te vier.

Kersfees is ‘n Christusfees
as ons net verstaan,
dat Hy nie net in ‘n krip lê nie,
maar ook aan ‘n kruis moes hang.

Vir jou en my het Jesus mens geword.
Hy het gely om ons die lewe te gee.
Maak oop jou hart en laat sy vrede in.
Kersfees sal dan in jou begin.

Kersfees is ‘n vreugdefees.
Jesus het gekom.
Hy wil by sy mense wees
dat hul kan glo in Hom.

Kersfees is ‘n vreugdefees
as ons net verstaan,
dat Hy nie net in ‘n krip lê nie,
maar ook deur ‘n graf moes gaan.

Vir jou en my het Jesus mens geword.
Hy het gely om ons die lewe te gee.
Maak oop jou hart en laat sy vrede in.
Kersfees sal dan in jou begin.

Nie net een keer in ‘n jaar nie!
Kersfees elke dag heel jaar.

F319. “Want ‘n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”
(RUBRIEK:  Flam Gemeentesang / Flammikidz – Kersfees)
Oorspronklik: Immanuel
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afr vertaling: Faani Engelbrecht
© 1993 Celmar Music

1. Want ‘n kind is vir ons gebore
God het Sy Seun aan ons gegee
Die heerskappy rus op Sy skouers
En Sy Naam sal wees

Refrein:
Wonderbare Raadsman, Magtige God
Ewige Vader, die Vredevors
Immanuel,
God met ons
Immanuel,
God met ons
Immanuel

2. Want so lief het God die wêreld
Hy het Sy Seun aan ons gegee
Sodat die wat nou in Hom glo
Leef tot in ewigheid

Refrein:

God praat met ons en ons luister

God se wil vir ons lewe: [wet]  1 Tessalonisense 5:16-24

Toewyding: Lied 324 “So life het God die wêreld”

Gebed 

Skriflesing: Jesaja 61:1-4, 8-11

Wys die roerend pragtige uitbeelding van Jesaja 61 van AngelHouseMedia – koop die een sonder “narration”.

Familie-oomblik

Aansteek van die derde Adventskers
Julle weet nou al dat ons die kerse op die Adventskrans aansteek om te sê dat Jesus ons koning is wat vir altyd en altyd sal regeer. Hy kom haal ons om by Hom te wees.

Binnekort vier ons dat Jesus eenmaal reeds na die wêreld gekom het, toe Hy gebore is. Daarom is ons bly as ons die woorde van die engel weer hoor: Ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele mensdom bestem is.

Vra ’n kind om Johannes 15:9-11 te lees.

Ons steek vandag die derde kers aan om die koms van God se lig, Jesus Christus, na die wêreld te verkondig.  Waar Jesus kom, is daar blydskap; nie net met Kersfees nie, maar altyd.

’n Kind steek die pienk kers in die krans aan.

Bome van Redding
[Sluit aan bu die voorlaaste punt van die preek:  “Wie op God vertrou, bou”.]

JRR Tolkien vertel in sy “The Lord of the Rings” van Ents. “Ent” beteken “reus”.   Ents is reuse bome wat kan loop en praat en dink – net baie stadig!

Toe die Ents se wêreld, Middle Earth, in gevaar was van baie slegte mense wat dit wou oorneem, het die Hobbits die Ents gaan vra om te help.  Eers wou die Ents nie, totdat hulle agter gekom het dat die slegte mense vreeslik baie bome afkap.  Dit het hulle vreeslik kwaad gemaak!  Hulle het na die slegte mense se kasteel gegaan en al die slegte werk vernietig.  Selfs hul stemme het die groot mure en masjiene en torings gebreek!

Dis maar net ‘n storie, maar in die Bybel lees  ons dat God se kinders “Bome van Redding” is.  God wil hê dat ons ander mense se seerkry sal raaksien.  Dat ons vir hulle sal vertel van Jesus.  Dat ons mense wat hartseer is, sal troot.

[Jy kan hierdie uittreksel uit die LOTR-fliek aflaai met ‘n gratis FLV-converter program:  – stop dit ‘n paar sekondes voor die einde.]

Hoekom bome hul blare verloor
As die LOTR opsie nie in jou konteks gaan werk nie, kan jy dalk die pragtige storie vertel van hoekom bome hul blare verloor:  Een winter het ‘n voëltjie haar vlerk gebreek en kon nie suid vlieg nie.  Die bome in die woud wou nie vir haar skuiling bied nie, maar ‘n paar bome het wel skuiling en kos aangebied.  Daardie nag het die Noordewind gekom en al die bome se blare afgewaai, behalwe dié wat die voëltjie gehelp het – die Woudkoning het die wind verbied om hul blare ook af te waai.  Lees die pragtige storie.

Gee vir elke kind ‘n prent van ‘n boom sonder blare en ‘n vel groen papier.  Laat hulle die groen papier opskeur om “blare” te maak en dit op die boom plak.

Preekriglyn

Die dokter het Marsha Marks en haar eggenoot meegedeel hulle sal nooit hul eie biologiese kinders hê nie.  In haar teleurstelling het Marsha bly vashou aan ‘n vriend se woorde: “Op een of ander manier gaan God jou worsteling met onvrugbaarheid tot sy eer gebruik.”  Marsha het begin bid dat sy iets van God se heerlikheid en eer mag raaksien.

“Ek het almal wat ek ken, gevra om te bid,” vertel Marsha.  ‘n Vyfjarige het gebid: “Ag Here, gee vir tannie Marsha ‘n baba.  Miskien kan iemand vir haar een by die huis aflaai, of kan sy nie dalk een op straat optel nie?”

Marsha se eggenoot, Tom, ‘n natuurwetenskaplike, het opgehou bid toe sy die eerste tekens van haar menopouse begin toon het.  Tom het al baie wetenskaplike data verwerk.  In sy leeftyd het hy nooit gesien gebed verander wetenskaplike realiteite nie.

Ses maande later maak Marsha ‘n afspraak om ‘n swangerskaptoets te ondergaan.  Die dokter wou nie, bloot omdat sy die afgelope 7 maande nie haar periode gehad het nie.  “Deur vir nog ‘n swangerskaptoets te vra, laat blyk jy maar net jy aanvaar nie dinge soos dit is nie,” het hy gesê.  Marsha het nogtans vir ‘n toets gesmeek.  Die uitslag is toe sowaar positief.

“Oor die volgende 14 dae het ek ‘n verdere vier swangerskaptoets en drie meer sonars op die hospitaal se versoek gehad.  Hierdie keer was dit die dokter wat moeite ervaar het om dinge te aanvaar soos dit is,” glimlag Marsha.

Haar swangerskap, wat die volle 40 weke geduur het, het sonder probleme afgeloop.  Op 22 Oktober 1996 is Amanda Joy gebore.  “Ons noem haar Miracle Mandy,” sê Marsha.

Marsha Marks, “Special Delivery,” Christian Reader

Teleurstelling en hoop

Marsha se verhaal laat mens dink aan die algemene menslike kondisie.  Daar is soveel mense wat op soveel plekke en in soveel omstandighede vasgevang is.  Sommige hoop nie eers meer nie.  Ander hoop, maar wonder of daar ooit uitkoms sal kom.  En: waar sal die uitkoms vandaan kom?

Kerstyd vol hoop en wanhoop

Kerstyd is feestyd, geskenketyd, gesinstyd.  Vir die meeste van ons is dit ‘n tyd om ‘n bietjie terug te sit en te vergeet van alles wat verkeerd is.  Mense sien daarna uit om meer tyd met die familie te spandeer, of dalk kinders en kleinkinders van ver te sien.  Dit is ‘n tyd om verhoudinge te vier en mekaar se harte met geskenke bly te maak.

Terselfdertyd sê statistieke dat die selfmoordsyfer met Kersfees die hoogte in skiet.  Die mense met depressie word in die Kerstyd verder afgedruk, die dieptes in.  Persone wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, ervaar dat hulle verlange met Kerstyd ondraaglik raak.  Dit is asof sulke mense so stukkend is dat hulle hulleself kan vereenselwig met die vrolikheid nie.  Hulle voel uitgesluit uit die ligkring van Kersboom en geskenke en geselligheid.

Die gemeente in Jerusalem

Iets soortgelyk het gebeur met die gemeente in Jerusalem vir wie die boodskap van Jesaja 61 gepreek is.  Hulle het geleef in die tyd ná die ballingskap, toe die volk teruggekom het na Sion.  Daar is sulke mooi beloftes aan hulle gemaak; hulle het met soveel verwagtings en feesvierings teruggekom… maar daar was ‘n wêreld se verskil tussen die beloftes wat gemaak is en die werklikheid wat hulle teengekom het.  Die land was verwoes; die stede was niks meer as puinhope nie.  Boonop was die landbou-omstandighede haglik.  Uit Jesaja 62:8 kan ons aflei dat hulle hard gewerk het om ‘n oes te kry – maar die oes is deur ander geëet; hulle swaarverdiende geld het in die sakke van vyande gevloei.

Toe hulle nog in ballingskap was het God vir hulle ‘n boodskap gestuur: “Maak vir die Here ‘n grootpad!”  Met dié pad sou God hulle uitlei uit Babel, terugbring na Jerusalem.  Nou hét God hulle teruggebring; maar God se grootpad, het dit vir hulle gelyk, het ‘n doodloopstraat van armoede en skuld en sukkel geword.  Hulle het soveel ellende geken – waar moes hulle nog die krag kry om stede te herbou?

Gebrokenes van hart

Daarom praat die profeet van hulle as “die mense in nood”; as die “moedeloses”.  Die woord wat in die Nuwe Vertaling vertaal word met “moedeloses”, was in die Ou Vertaling: “gebrokenes van hart”, ‘n begrip wat ons meermale in die psalms ook kry.  ‘n Gebrokene van hart is iemand wat oorweldig is deur die een of ander lewenskrisis.  Hy het eenvoudig nie meer die krag om dit te hanteer nie.  So iemand beleef sy krisis veral as ‘n geloofskrisis: hy voel deur God in die steek gelaat.  Hy voel God het nie woord gehou nie; God het beloftes gemaak wat nie waar geword het nie.

Dit was Israel na die ballingskap: gebrokenes van hart.  En dit is die mense wat sukkel om saam met ons Kersfees te vier.  Eintlik is baie van ons maar só – daarom is ons Kersvreugde so bolangs.  Ons word so ‘n bietjie bly, miskien, maar môre staan ons al weer moedeloos voor die probleme waarmee ons sukkel.

“Gebrokenes van hart” het baie gesigte: ‘n mens kan hulle ontmoet in hospitale en op bankrotvendusies; jy kan hulle teenkom in eensame kamers waar niemand ooit kom nie én by raserige kantoorpartytjies, besig om hulle sorge te probeer vergeet.  Jy kan ‘n gebrokene van hart kry wat in ‘n krot woon en wonder waar môre se kos vandaan moet kom; jy kan ook een kry wat in ‘n weelderige huis woon en wonder waarom sy nog steeds nie gelukkig kan wees nie.

God se boodskap

Ons het dikwels nie baie te sê vir hierdie gebrokenes van hart nie – ons het dan nie eers raad vir onsself wanneer ons in ‘n krisis beland nie!

God is nie verleë met hulle nie.  Miskien omdat ons God se hart al so baie gebreek het; omdat Hy krisis op krisis met die mensdom beleef, verstaan God sulke mense.  Daarom sê Ps 39:19: “God is naby die gebrokenes.” In Psalm 51:19 staan: “‘n Gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!”  Ps 147:3 belowe: “Hy genees die gebrokenes van hart.”

Daarom stuur God se profeet met hierdie preek vir die gemeente in Jerusalem, ‘n blye boodskap aan mense in nood; ‘n trooswoord aan die mense wie se harte gebreek is.  Hy sê: Ek is by julle; Ek sal ‘n verskil maak aan julle nood.

Jesus bevestig God se boodskap

Eeue later sou Jesus kom, die Seun van God.  In Lukas 4 lees ons hoedat Hy die boekrol in die sinagoge opgeneem het, en hierdie boodskap voorgelees het – en toe gesê het: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”  Want Hy het gekom om gebrokenes van hart te kom genees.  Daarom het hulle na Hom gestroom: die verwerpte en die armes; die siekes en die onreines; die slegtes en die versteurdes.  Nooit het Jesus hulle weggewys nie.  In Matteus 9:36 lees ons hoedat Jesus elke soort siekte en kwaal gesond gemaak het, en dan staan daar: “Toe Jesus die menigte gesien het, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie.”

Dit is hoe Jesus kyk na die mense – dit is hoe God na mense kyk.  Die skares, skares mense wat loop, moedeloos en moeg omdat hulle lewens nie sin maak nie en hulle geen vreugde ervaar nie.  God is bewoë oor sy mense – en dit is die bewoë God wat praat in Jesaja 61; wat méns geword het in Jesus van Nasaret.

God verander mense se lot

Ons moet goed hoor hoé hierdie God praat.  Dikwels as ons te doen het met ‘n gebrokene van hart, iemand wat oorweldig is deur ‘n krisis, het ons niks beters om te sê nie as: “Jy moet maar berus, jy moet aanvaar…”  Wat sê ons eintlik daarmee?  Ons sê dat sy krisis sonder einde is, dat niks dit kan verander nie; hy moet maar sy kop buig en dit gelate aanvaar.

Dit is nie wat God sê nie!  Dit is ook nie wat Jesus kom sê het nie!  As daar een ding is wat Kersfees vir ons sê, en wat die kruis op Golgota nog duideliker sê, dan is dit: “God berus nié.”  God aanvaar nié dat ons harte gebreek moet wees, dat ons platgeslaan moet word deur die lewe nie.  God genees die stukkende hart, Hy tel die platgeslane mens weer op.

God se droom

Die hartseer ding van ‘n gebroke mens is dat hy nie meer kan droom nie.  Dit was waar van Israel ook.  Waarom kon hulle nie die stede bou nie?  Dit was nie omdat hulle nie stene en klei gehad het nie.  Dit was nie omdat hulle nie die vermoë gehad het nie.  Dit was om een rede, om een rede alleen: Hulle het ophou droom.

Hulle het teruggekom na Jerusalem toe met die droom: ons gaan die Godstad herbou.  Dit was ‘n goeie droom, want dit was wat God wou hê; dit was God se droom!  Maar toe kom sit hierdie mense tussen die puinhope en die swartgebrande huise – en die werklikheid oorweldig die droom.  Omdat hulle nie kon droom nie, kon hulle ook nie bou nie.  Omdat hulle nie gebou het nie, het die droom al hoe meer onwerklik begin lyk.  Hulle was vasgevang in ‘n selfvernietigende kringloop: wanhoop lei tot passiwiteit en passiwiteit verdiep die wanhoop.

God het nie ophou droom nie.  Daarom het God vir hulle vertel wat Hy gaan doen.  God het gesê: “Julle sal weer bou!”  As hulle maar net weer saam met God wou droom – dan sou hulle Jerusalem weer ‘n stad kon maak.

Nehemia se perspektief

Die boek Nehemia bied vir ons ‘n interessante kommentaar hierop.  Dit vertel vir ons hoe Nehemia gehoor het dat die mure nog nie opgebou is nie en dat die mense in ellende lewe. Dit het Nehemia se hart gebreek – soos ‘n ware gebrokene van hart het Nehemia dae lank gehuil.  Maar hy het sy stukkende hart voor God gelê – en hy het God se droom vir ‘n herstelde Jerusalem begin droom.  Met daardie droom in sy hart het hy die heidense koning trotseer, vyande weerstaan, sy eie mense se lamsakkigheid oorwin – en die mure IS gebou.  Omdat God Nehemia se gebroke hart geleer het om te droom.

Dit is altyd die diepste krisis van die gebroke hart – dat jy nie meer droom nie; dat jy nie meer glo in God se droom vir jou nie.  Die man wat sien hoe sy lewenswerk op ‘n vendusie verkwansel word, kan nie meer droom oor ‘n toekoms vir hom en sy gesin nie.  ‘n Eensame vrou kan nie meer droom oor vriende en menslike samesyn nie.  ‘n Verveelde ryk man kan nie meer droom oor iets om te bereik nie.  Daarom doen hulle niks; hulle aanvaar, hulle berus, hulle gaan lê.  Dikwels lê die antwoorde op hulle probleem voor die hand; maar hulle sien dit nie, omdat hulle nie kan droom dat daar ‘n antwoord is nie.

Wie aan God vashou, bou

Dit is my grootste vrees vir ons in ons huidige omstandighede: dat ons sal berus en aanvaar; dat ons nie meer sal droom dat dinge anders kan wees nie.  Dat ons nie meer sal werk om op te bou, ook om dinge wat in puin lê, op te bou nie, omdat ons nie meer ‘n droom het nie.

Kersfees vertel ons van God se grootste droom vir ons: dat ons verander sal word van mense wat net vir onsself leef, na mense wat leef as kinders van God en broers en susters van mekaar.  Ek dink ons kan maklik maar berus daarin as ons nie lyk soos wat God wil nie; as gelowiges leef asof God geen sê het oor hulle lewens nie; as Christene by mekaar verbyleef, of selfs baklei asof hulle vyande is eerder as die huisgesin van God.  Dit is nou maar so, sê ons – aanvaar dit maar!

Kan ons nie hierdie Kersfees weer ons gebroke harte na God bring nie; om weer genees te word, sodat ons weer oor die kerk van Christus kan droom as ‘n huisgesin van ons Vader nie?  En sal ons dan nie met die droom in ons harte begin werk aan ons gemeente nie?  Want as Christene sal leef as God se gesin, dan sal gebrokenes van hart nie uitgestoot en terneergedruk voel wanneer ons Kersfees vier nie; hulle sal uitgenooi voel om self troos te vind, self saam met ons te leer om weer te droom oor wat God in hulle lewens kan doen.

Die wêreld is nie siek nie, die wêreld is swanger

Marsha se dokter het gemeen haar menopouse het haar onvrugbaarheid finaal bevestig.  Daar was geen uitkoms nie, sy sou met haar moedeloosheid en kinderloosheid moes leer saamleef.  Sy moes dinge aanvaar soos dit is.

God se belofte aan die ballinge, soos bevestig deur Jesus se bediening, is dat hooploosheid nie die laaste woord spreek nie.  Wat ons as sterwenspyne in die wêreld rondom ons raaksien, is nie tekens van dood nie.  God se belofte staan bo-oor die ganse skepping geskryf.  God bring lewe en hoop.

Die wêreld is nie siek nie, die wêreld is swanger met hoop en nuwe lewe!

God stuur ons om te leef

Wys weer die roerend pragtige uitbeelding van Jesaja 61 van AngelHouseMedia – net omdat dit so mooi is!  Laat mense dit biddend ontvang

Voorbidding
Bid vir spesifieke situasies van nood wat wat julle raaksien; vir gevangenes; vir almal wat treur; teen roof en misdaad.

Slotsang
Lied 320 “O kom, o kom, Immanuel” of
Flam 319 “Want ‘n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)’

Seën

Respons 
Lied 321 se refrein (selfde melodie as Lied 320):

Wees bly en juig, o Israel! God is mét ons:  Immanuel.  

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.