Bid-vreugde – Week 7

Vreugde-trilogie

Sections

Bybelgesprek

Matteus 6:1

The Heidelberg Catechism declares that Amen means that the certainty of the divine response is greater than our own certainty concerning our needs and our desires. Not what we ask is the most certain thing in our prayers, but what comes from God: His response.
– Karl Barth

“Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.”

– Matteus 6:1

Indrukwekkende bidders
Max Lucado is ’n Amerikaanse skrywer en predikant by Oak Hills Church in San Antonio, Texas. Een van sy groot bydraes wat ’n misverstand oor gebed regstel, is hierdie wekroep van hom: “The power of prayer is in the One who hears it and not in the one who says it.”

Een van die mens se oeroue sondige begeertes is om “successful, powerful, handsome, happy” (Evan Baxter se mantra uit die fliek Evan Almighty) te wees. Hierdie begeertes om magtig te wees sluip ongelukkig ook gelowiges en kerke se gebedsruimtes binne. Mense wil graag gebedshelde en geloofsreuse wees.

Dit was in Bybelse tye al so. Dit was veral die Fariseërs wat geloofsdissiplines misbruik het vir hulle eie aansien. Dit is hoekom Jesus so duidelik daarteen waarsku. In Matteus 6 sê Hy die volgende oor die Fariseërs wat armes met bymotiewe wou help: “Wanneer julle besluit om goeie dinge vir ander mense te doen, moet julle eers seker maak hoekom julle dit doen. Moenie ’n openbare skouspel daarvan maak sodat ander julle kan raaksien nie. As julle op soek is na die applous van ander mense, skuld God julle niks meer nie. Dan het julle klaar julle beloning gekry. Moenie ’n ophef daarvan maak as jy ’n arm persoon help nie. Net skynheilige mense doen dit. Hulle maak ’n groot bohaai wanneer hulle die armes help sodat almal dit kan raaksien en mooi dinge oor hulle kan sê. Jy moet dit stil-stil doen. Jou linkerhand moet nie eens weet wat jou regterhand doen nie” (Matt 6:1-2, 4, Die Boodskap).

Oor die Fariseërs se manier van bid, skil Jesus ’n hele mandjie appeltjies met hulle: “As julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien” (Matt 6:5). Jesus sê dan verder: “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie” (Matt 6:7-8). Net ná hierdie paar vermanings het Jesus vir sy volgelinge die Ons Vader gegee om te bid.

Die Here het in Jesaja 41 reeds verduidelik dat dit Hy is wat die skuiwe veroorsaak wat groot verskille in die wêreld maak. Dit is nie mense of ander heersers nie. Hy vra vier keer in vier verse “wie” dit is wat vir koning Kores en sy Persiese Ryk die mag gegee het om wêreldheersers te word en uiteindelik die Israeliete laat terugkeer het na Jerusalem. Die antwoord is: “Dit is Ek, die Here! Ek is die eerste, en wanneer die laaste dinge gebeur, sal Ek nog die Here wees” (Jes 41:4).

He is the One who hears it and He is the power of all prayers!

Waar moet ’n mens bid?
Die vraag is nie net hoe ons moet bid nie, maar ook waar ons moet bid. Matteus 6:6 gee die volgende eenvoudige riglyne in dié verband:

  • iewers alleen waar jy nie mense kan beïndruk nie
  • iewers afgesonder waar jy die Here se verborge karakter en sy onbegryplike grootheid kan soek, ontdek en beleef
  • iewers waar dit stil is en waar jy stil kan wees, want gebed is ook om te luister.

Dit is interessant dat Jesus, net voor die Ons Vader in Matteus 6, drie geloofsdade kies wat normaalweg applous verdien en waarvoor kerke gewoonlik hulle lidmate oproep, om ons teen skynheilige eiesinnighede te waarsku. Die drie geloofsdade is (1) om armes te help, (2) om te vas en (3) om te bid. Dit is amper ondenkbaar dat iemand met hierdie dade kan fouteer. Dit is egter glashelder dat selfs die oënskynlik heiligste kerklike aktiwiteite potensiële slaggate kan wees as dit sonder oorgawe aan Jesus en nie op sy koninkryksterme nie gedoen word.

In die Joodse geloof was daar publieke gebede wat by die tempel en sinagoges gebid moes word. Daar was ook voorgeskrewe persoonlike gebede wat op spesifieke tye alleen gebid moes word. Die opdrag daarvoor was dat ’n “onopvallende hoek” (en nie besige straathoeke waar mense beïndruk kon word nie) gesoek moes word en dat die gebede saggies geprewel moes word. Vir Jesus is dit belangrik dat mense op onopvallende plekke moet bid sodat hulle nie deur ander raakgesien word nie.

Die vierde-eeuse geleerde Jerome van Stridon het oor Jesus se raad in Matteus 6 gesê: “This, if taken in its plain sense, teaches the hearer to shun all desire of vain honour in praying.” Hierdie raad is nie net van toepassing op gebede nie. Gelowiges se hele lewe moet astrant wegskram van alle vorme van “vain honour”. Dit lê en wag om elke hoek en draai soos slagysters met gapende leeubekke en lang tande.

Kosbare stemme uit geskiedenis

Karl Barth verwys na Martin Luther se werk oor die Ons Vader wanneer hy uitlig dat daar ’n verhelderende teenstrydigheid is wanneer gelowiges die Ons Vader bid. Hy skryf: “Let us recall that Luther, in his Shorter Catechism, lays stress, in an interesting and enlightening manner, on this paradox: that God’s actions take the same course as our prayer; He sanctifies his name, his kingdom comes, his will is done, He gives us our bread, He forgives us; and He does all this before we ask it.”

Die punt is dat God se werking op aarde en ons gebede, wanneer ons die Ons Vader bid, mekaar ontmoet en saam vorder omdat God reeds daarmee besig is. Die Here heilig sy Naam, Hy laat sy koninkryk kom, Hy gee vir ons daaglikse brood, Hy vergewe ons sondes en Hy bewaar ons van die Bose nog voordat ons vra.

Om die Ons Vader te bid is vir Luther en Barth om binne die Here se wil en sy roeping te bid omdat Hy reeds daarmee besig is. Dit is om, soos Jesus in Johannes 5 by die genesing van die verlamde man op ’n sabbatdag verduidelik het, besig te wees met dit waarmee die Vader in die hemel reeds besig is. In vers 19 staan: “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so.” As die Ons Vader só beskou word, is dit ook ’n gebed waardeur gelowiges in ooreenstemming gebring word met die Here se wil.

Die Onse Vader, Jesus se kruiswoorde en die Wet

In die wet in Deuteronomium 6:4 lees ons: “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.” Israel moes verstaan dat daar geen ander god soos die Here is nie. Dat daar nêrens anders ’n groter en betroubaarder bron van krag, beskerming, versorging, heerlikheid, mag, liefde, wonderwerke en daarom ook geloof en vertroue is nie. Hulle moes nét in die Here glo en nét op Hom vertrou.

Hierdie unieke enigheid van die Here het in sy Seun, Jesus Christus, volledig uitgespeel. Dit word verwoord in Jesus se laaste kruiswoorde in Johannes 19:30. Toe Jesus sy laaste asem uitgeblaas het, het Hy verklaar: “Dit is volbring!” Net God kon só klaarspeel met die dood, met sonde en met die duiwel. Hy het deur sy Seun die oorwinning volledig afgehandel en volledig afbetaal, en Hy bly daarmee besig tot aan die einde van alle tye.

Jesus het ons dus in die Ons Vader leer bely dat die koninkryk en die krag en die heerlikheid net aan God behoort.

Net by God vind ek rus; van Hom kom my verlossing. Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord; ek sal beslis nie wankel nie.
– Psalm 62:2-3 (2020-vertaling)

Inspirasiestorie

Sy hand is groter as myne
’n Seuntjie en sy pa was by ’n winkel besig om te betaal. Die eienaar het vir die seuntjie gesê: “Vat vir jou ’n hand vol van die lekkers in die groot houer.” Die seuntjie het net na sy pa staan en kyk. Die eienaar het weer gesê: “Seun, vat vir jou ’n hand vol, verniet!” Die seun het weer niks gedoen nie. Hy het net na sy pa staan en kyk. Uiteindelik het die pa sy hand in die houer gesteek en ’n hand vol lekkers geneem.

Terwyl hulle wegstap, vra die pa vir die seun: “Hoekom het jy nie vir jou lekkers geneem nie?” Toe glimlag die seun breed en verduidelik: “Want Pappa se hand is baie groter as myne.”

Gebede gaan altyd oor die Een wat verhoor; die Een met die grootste hand in die heelal en sy onbeskryflike groot liefde.

Vir kleingroepe

 

Henri Nouwen het geskryf: “Prayer is not what is done by us, but rather what is done by the Holy Spirit in us.”
Kyk nou weer na Rembrandt se skildery The return of the prodigal son en dink ’n rukkie daaroor na.

 

 

Gesels saam

  • Dink jy partymaal die verhoring van jou gebede hang af van wie jy is of hoe gehoorsaam jy is?
  • Stem jy saam met Henri Nouwen se stelling hier bo?
  • Wat dink jy van Max Lucado se stelling: “The power of prayer is in the One who hears it and not in the one who says it”?
  • Probeer vanaand bid sonder om die woorde “ek”, “my” of “ons” te gebruik.