Bid-vreugde – Week 6

Vreugde-trilogie

Sections

Bybelgesprek

 Matteus 6:11-13

In the Old and the New Testament bread is also the earthly symbol of God’s eternal grace. Here the meaning of the word is at once more simple, natural and material as well as far more profound and sublime than we suppose.
– Karl Barth

“Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.”– Matteus 6:11-13

Die vierde bede

Die vierde bede, “gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matt 6:11), kan op verskillende maniere verstaan word. Al die betekenismoontlikhede wentel om verskillende interpretasies wat die Griekse byvoeglike naamwoord epiousio inhou.

Epiousio kan eerstens as “daaglikse” brood verstaan word: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Dit is die algemeenste manier waarop dit vertaal word en maak sin in die lig van ander uitsprake van die Here wat sê dat ons ons nie oor die dag van môre moet bekommer nie. Dit laat ’n mens dink aan die manna in die woestyn wat net vir die dag wat dit gegee is, vars gebly het (buiten op Vrydae wanneer dit tot die Saterdag gehou het).

Epiousio kan ook “bestaan” beteken. Dan kan dit soos volg vertaal word: “Gee ons vandag ons bestaansbrood.” Dit maak ook sin omdat dit gaan oor die kos wat ons nodig het om van te leef. Dit is soos Eugene Peterson dit vertaal het met: “Keep us alive with three square meals.”

Verder kan epiousio “die volgende dag” beteken. Dan lees die vertaling: “Gee ons vandag ons brood vir môre.” Dit kan sin maak as ’n mens dit (byvoorbeeld in die aand) bid met die oog op die volgende dag.

Epiousio kan ook “toekoms” beteken. Dan klink die vertaling só: “Gee ons vandag ons brood vir die toekoms.” Dit maak vir baie geleerdes sin, want dit beteken dat ons eintlik bid dat God se beloftes vir die toekoms reeds vandag sal begin waar word.

Ongeag watter betekenis van epiousio vir jou die meeste sin maak, is die belangrikste draad wat deur al die vertaalmoontlikhede loop dat die brood gevra word van die liefdevolste Vader wat daar nog ooit was en vir altyd sal wees, in die hemel en op die aarde. En die seker wete dat Hy so oorvloedig sal voorsien dat daar mildelik uitgedeel sal kan word.

Henri Nouwen het geskryf: “To pray for regular sustenance from this Father is to pray to one who was ready to serve the best meat to a son who had already burned through half the family inheritance. To pray to this Father for daily bread is to receive not only the staples of life but steak, not only water but the best vintage. It is to receive abundance, lavishness, and generosity ‘immeasurably more than all we can ask or conceive’ (Ephesians 3:20, NEB).”

Die vyfde bede
Die laaste deel van die vyfde bede is eintlik in die verlede tyd geskryf. Ons bid dus dat God ons sal vergewe soos ons reeds ons skuldenaars vergewe het. Met ander woorde, die bidder se treiteraars is reeds vergewe. Die Nuwe Lewende Vertaling laat in dié opsig reg geskied aan die oorspronklike taal: “En vergeef ons ons sondeskuld soos ons ook óns skuldenaars vergewe het” (Matt 6:12).

Dit is nogal belangrik in die lig van die waarskuwing in die volgende verse dat God met ons sal maak soos ons met ander doen. Spesifiek in terme van vergifnis. Aan die ander kant verwoord dit ’n onwrikbare geloofsgehoorsaamheid deur bidders wat, net soos Jesus, oortreders reeds vergewe het. Dit is tegelyk ’n herinnering en ’n voorneme om altyd eerste te vergewe.

Die Here vergewe ons met soveel liefde. Kyk hoe treffend beskryf Henri Nouwen die vergewende Vader van die Ons Vader in terme van die vaderfiguur in die gelykenis van die verlore seun: “To pray for forgiveness from this Father is to pray to one who leaps up and sprints toward us – throwing dignity to the wind – to offer us forgiveness before we have even been able to blubber our request for it.”

Die sesde bede
Die sesde bede, “laat ons nie in versoeking kom nie” (Matt 6:13), kan ook vertaal word as: “Laat ons nie in (’n tyd van) beproewings vasval nie.” Dit kan retories verstaan word as “laat ons nie sondig (as gevolg van verleidings of swaarkry) nie”. Dit maak baie sin, want God versoek niemand nie (Jak 1:13-16) en die gebed gaan mos eintlik daaroor dat ons van die Here vra om ons naby aan Hom te hou sodat ons nie afdwaal nie.

Die frase in dieselfde bede “verlos [of bevry] ons van die Bose” (Matt 6:13) word ook vertaal met “bewaar ons van die Bose”. Al twee werkwoorde maak sin, hoewel daar klein verskille is. Die Nuwe Lewende Vertaling gebruik albei: “Bewaar ons sodat ons nie aan verleiding sal toegee nie; maar bevry ons van die greep van die Bose” (Matt 6:13). Dit gaan in “verlos” oor die verlange dat God finaal met die Bose sal klaarspeel, maar ook dat ons elke dag en elke uur bewaar sal word aan hierdie kant van die finale oorwinning.

Die Bose kan ook onpersoonlik verstaan word, maar verpersoonliking maak beter sin as gevolg van die bepaalde lidwoord “die” wat saam met dit gebruik word (selfs in die oorspronklike teks). Dit is ook hoe dit in Matteus 6:13 gebruik word.

Die epiloog
Laastens, die epiloog: “Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.” Dit is ’n latere byvoeging en was nie oorspronklik deel van Jesus se gebed in Matteus 6 of Lukas 11 nie.

Die vroegste spore van ’n gebedsformulering wat naastenby na “koninkryk”, “krag”, “heerlikheid” en “tot in ewigheid” klink, kan teruggevoer word na die Didache (95 nC). Dit was ’n onderrigskrif van die apostels vir die vroeë kerk wat teen die einde van die eerste eeu reeds in gebruik was. Daarin staan (in Afrikaans vertaal deur NF Pretorius):

“Julle moet ook nie soos die geveinsdes bid nie, maar soos die Here in sy evangelie beveel het. So moet julle bid:
Ons Vader wat in die hemel is,
laat u Naam geheilig word,
laat u koninkryk kom,
laat u wil geskied op die aarde soos in die hemel.
Gee ons vandag ons daaglikse brood,
en vergeef ons ons skuld soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
en lei ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die kwaad;
want aan U behoort die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
So moet julle drie keer op ’n dag bid.”

Die term “koninkryk” in die epiloog kom waarskynlik uit ander gebede in die Didache soos die dankgebed ná die brood. Daarin staan: “Laat so u kerk versamel word van die uiteindes van die aarde af in u koninkryk. Want aan U behoort die heerlikheid en die krag deur Jesus Christus tot in ewigheid.” Dit is liturgies bygevoeg as ’n aanbiddingsdoksologie in reaksie op die grootheid van God, en kom uit bywerkings van Openbaring 1:6, 1 Kronieke 29:11 en Romeine 11:36. Die Ons Vader begin dus met ’n aanbiddingsdoksologie en eindig ook so!

Kosbare stemme uit geskiedenis

Augustinus het die “daaglikse brood”-gebedsversoek gekoppel aan brood op ons tafels, voorsiening vir elke dag, nagmaalbrood, ewige brood en aan ’n diep Goddelike vreugde wat anderkant lighartige begrippe van die koninkryk lê. Hy het geskryf: “When we say: Give us this day our daily bread, in saying ‘this day’ we mean ‘in this world’. Here we ask for a sufficiency by specifying the most important part of it; that is, we use the word ‘bread’ to stand for everything. Or else we are asking for the sacrament of the faithful, which is necessary in this world, not to gain temporal happiness but to gain the happiness that is everlasting.”

Met die vyfde bede herinner Augustinus gelowiges daaraan dat genade ontvang én gegee behoort te word: “When we say: Forgive us our trespasses as we forgive those who trespass against us, we are reminding ourselves of what we must ask and what we must do in order to be worthy in turn to receive.”

Met die sesde bede herinner hy gelowiges daaraan dat versoekings nie alleen en sonder die Here aangedurf behoort te word nie. Gelowiges is nie veronderstel om op hulleself staat te maak of onafhanklik van die Here reg te kom nie: “When we say: Lead us not into temptation, we are reminding ourselves to ask that His help may not depart from us; otherwise we could be seduced and consent to some temptation, or despair and yield to it.”

Met betrekking tot die sesde bede het Henri Nouwen gelowiges daaraan herinner dat die volmaakte rus elders gaan wees en dat ons op aarde waaksaam moet bly leef (1 Pet 5:8): “When we say: Deliver us from evil, we are reminding ourselves to reflect on the fact that we do not yet enjoy the state of blessedness in which we shall suffer no evil.”

Die Onse Vader, Jesus se kruiswoorde en die Wet

Die vierde bede van die Ons Vader lui: “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matt 6:11). Op ’n Christelik etiese vlak gee hierdie bede vir ons duidelike leiding om ons fisieke en geestelike behoeftes aan die Here bekend te maak. Hy voorsien so oorvloedig dat ons genoeg sal hê om vir die armes ook te kan gee (Ef 4:28). Hy gee altyd sodat Hy vir ander mense deur ons kan sorg. Hy gee altyd sodat gelowiges hulle roeping kan uitleef. Alle oneerlike en oneerbare maniere van voorsiening druis lynreg in teen die agtste gebod: “Jy mag nie steel nie” (Eks 20:15).

Jesus het selfs aan die kruis sy nood by sy Vader bekla. Hy het gesoebat: “Ek is dors” (Joh 19:28). Jesus se dors is nie aan die kruis geles nie, maar Hy is bespotlik uitgebuit. Gelukkig het Hy oorwin en spreekwoordelik nuwe wyn uit nuwe wynsakke saam met God in die paradys gedrink (Mark 14:25). Gelowiges moet ook spreekwoordelik nuwe wyn in nuwe wynsakke gooi (Mark 2:22). Dit beteken dat ons moet toelaat dat God ons in ons besluite en ons dade lei en dat Hy in ons behoeftes voorsien.

Die vyfde bede is: “vergeef ons ons oortredinge” (Matt 6:12). Vergifnis is die fondasies en die ankertoue wat gemeentes, gemeenskappe en verhoudings in die koninkryk van die Here regop hou. Onvergewensgesindheid is die orkane en tornado’s wat brûe tussen mense wegspoel en elke goeie gesindheid meesleur. Jesus het die oortreffende trap van vergifnis beliggaam toe Hy aan die kruis teenoor sy moordenaars uitgeroep het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk 23:34).

Die Here het die steierwerk om sy koninkryk nuut te maak en te verstewig, in die wet reeds uitgestippel: “Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here. Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie. Maak die geskil openlik met hom uit, moenie wat hy verkeerd gedoen het, teen hom bly hou nie. Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here” (Lev 19:16-18).

Die sesde bede is: “laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose” (Matt 6:13). God het vir Jesus na die wêreld gestuur sodat niemand verlore hoef te gaan nie, maar sodat elkeen gered kan word en die ewige lewe kan ontvang (Joh 3:16). Jesus het aan die kruis sy besliste voorneme om te verlos en uit elke beproewing te red net daar, one-time, ten toon gestel toe Hy ’n wildvreemde terdoodveroordeelde medebeskuldigde onmiddellik gered het: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk 23:43).

Die twee wetboeke, Eksodus en Deuteronomium, plaas God se verlossingswerk in ’n duidelike koninkryksperspektief. Sy verlossing bewerk en dien as aansporing vir ons gehoorsaamheid en toewyding aan Hom. Daarom begin die wet met ’n herinnering aan sy verlossingswerk uit Egipte en daarna die (gevolglike) Tien Gebooie waarvolgens geleef moet word.

Die verlossingsverhale uit Egipte beklemtoon eerstens baie helder dat Israel hulleself nie kon verlos nie. God alleen is mense se Verlosser. Dit word amper duideliker as dit in die lig gesien word van wat Petrus en Johannes binne Christelike perspektief voor die Sanhedrin verklaar het: “Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (Hand 4:12).

Dit is nie om dowe neute dat die Solus Christus-slagspreuk uit die Reformasie deel vorm van die vyf Solas nie:
1. Sola Scriptura – die Skrif alleen.
2. Sola gratia – genade alleen.
3. Sola fide – geloof alleen.
4. Solus Christus – Christus alleen.
5. Soli Deo gloria – aan God alleen die eer.

God se verlossing bemagtig ons, rus ons toe en stuur ons uit om heilig te leef en ’n seën te wees vir alle nasies en lande (Gen 12:3) tot in die uithoeke van die wêreld (Hand 1:8).

Jy moet alle skynheiligheid haat en elke ding wat nie vir die Here welgevallig is nie.
Didache, hoofstuk 4

Inspirasiestorie

Dis gee en neem net wat daar is
Jannie du Toit het in 1990 op sy album Palet ’n lied vrygestel met die naam “Eenvoud”. Dié lied begin met die volgende woorde:
Eenvoud is die vreugde van die lewe.
Dis gee en neem net wat daar is.
Dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood wat liefde is.

Die laaste drie bedes van die Ons Vader is gebedspetisies wat daar is om ontvang en uitgedeel te word – “dis gee en neem net wat daar is”. Die evangelie van Jesus se koninkryk is om daaglikse brood te ontvang en dan weer vir ander te gee; om vergifnis van die Here te ontvang en dit net so kwistig vir ons treiteraars te gee, en om deur die Here verlos te word en van versoekings bewaar te word, net soos gelowiges ander mense na verlossing en weg van versoekings af behoort te help.

Daaglikse brood, vergifnis en verlossing is nie bedoel om rente mee te verdien en in skure op te gaar nie. Dit is heilige koninkryksdade wat bedoel is om deurgegee te word. Daarsonder gaan dit sukkel om Jesus se koninkryk te laat kom en sy wil op aarde te laat geskied.

Vir kleingroepe

 

Henri Nouwen het geskryf: “To pray for this Father’s forgiveness is barely to get the words out before realizing we’ve been clothed with the finest garments the house has to offer. To pray for our trespasses to be forgiven is to feel already this Father’s warm tears as they drip down on our scabbed head.”

Kyk nou weer na Rembrandt se skildery The return of the prodigal son en dink ’n rukkie daaroor na.

 

Gesels saam

 

  • Hoe lyk jou prentjie van die Here? Is Hy ’n kwaai, foutsoekerige, nors ou Oom, of is Hy vir jou ’n dierbare, liefdevolle Pappa op wie se skoot jy wil gaan sit en gesels?
  • Dink jy jou persepsie van hoe God is, beïnvloed die manier waarop jy bid en glo?
  • Dink jy die Here is so erg oor jou soos Hy in Sefanja 3:17 sê Hy oor sondige Israel was?
  • Probeer jou indink hoe liefdevol die pa van die verlore seun was terwyl julle die Ons Vader bid.

© Missio 2024 | All rights reserved.