Bid-vreugde – Week 1

Vreugde-trilogie

Sections

Bybelgesprek

Lukas 11:1

The “Our Father” is not just any form of prayer to be used by anyone, no matter who; it presupposes “us”: Our Father; One who is a Father to us in a unique way. This “us” derives from Jesus Christ’s command to follow Him.
– Karl Barth

Jesus was êrens op ’n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.”
– Lukas 11:1

Die uitnemende Rabbi
As voornemende priesters in Bybelse tye opgelei wou word, moes hulle ’n rabbi (“onderwyser” in Hebreeus) kies en by hom en sy rabbynse skool aansluit. Die studente moes hulle vir omtrent drie jaar oorgee om 24/7 by dié rabbi te leer en digby hom te leef. Hulle moes kort op sy hakke bly. Die studente mag spreekwoordelik nooit verder van die rabbi af gewees het as wat die stof agter sy sandale opslaan nie. Elke rabbi het vir sy studente ’n gebed gegee wat hulle elke dag moes bid. Dit was daardie rabbi en sy skool se gebed.

Dit is nie moeilik om die ooreenkoms met rabbi Jesus en sy twaalf leerlinge (die letterlike Griekse vertaling vir “dissipels”) raak te sien nie. Op ’n dag het die dissipels vir Jesus gevra om hulle te leer bid, en Hy het vir hulle ’n gebed gegee.

Jesus is eintlik “Rabboeni”. Dit beteken iets soos “my grote Leermeester”. Maria Magdalena (Joh 20) en die blinde Bartimeus van Jerigo (Mark 10) het Jesus so aangespreek.

Glo en leef soos jy bid
’n Ou Latynse gesegde in die kerk lui: lex orandi, lex credendi, lex vivendi. Dit beteken: Soos mense aanbid, so bely hulle en so leef hulle. Anders gestel: Die manier waarop gelowiges bid en glo en leef behoort in direkte verband met mekaar te wees. Daar behoort dus ooreenstemming te wees tussen die waardes in die Bybel, die sake waarvoor ons bid, hoe ons leef en hoe die Here in eredienste bely word.

Dit sou byvoorbeeld lynreg in stryd wees met Jesus se lerings in die Bybel om te bid om die magtigste en rykste persoon in die wêreld te word, want Jesus het die duiwel spesifiek met sy soortgelyke versoekings die pad gewys (Matt 4) en vir sy dissipels geleer dat die grootste onder hulle bereid moes wees om die ander te dien (Mark 10).

Die aanhef van die Ons Vader
Die aanhef van die Ons Vader verduidelik dat God ons Vader in die hemel is. In Gerard Hughes se boek The God of surprises skep hy ’n karikatuur van God wat hy “Good Uncle George” noem. Met dié karikatuur wys hy ’n geestelike skisofrenie uit waaraan gelowiges soms ly. Hulle verkondig graag dat die Here ’n God van liefde is, maar hulle vrees Hom en sy straf baie meer as wat hulle sy wonderlike, sorgsame Vaderliefde geniet.

Prof Nicolaas Hofmeyr, een van die eerste dosente by die Kweekskool op Stellenbosch, het destyds ’n boekie geskryf waarin hy die opmerking gemaak het dat van die diepste veranderings in gelowiges se lewe plaasvind die dag wanneer hulle ophou om God te dien soos slawe hulle base dien, en saam met Hom begin leef soos ’n kind met sy vader saamleef.

Jesus het ons leer bid: “Ons Vader wat in die hemel is” (Matt 6:9). Aan die een kant kry ons ’n deernisvolle beeld van God as “ons Vader”, innig en persoonlik. In die tweede deel, “in die hemel” – in die oorspronklike Grieks staan daar “hemele” (meervoud) omdat God as die magtigste van al die gode in die hoogste hemele aangespreek moes word – hoor ons afstand, onbekendheid en misterie. Dalk wou Jesus gelowiges met die aanhef van hierdie gebed help om te verstaan dat God tegelykertyd verhoudingsgerig en persoonlik maar ook ’n misterie is – veel meer as wat ons ooit met ’n beeld of metafoor sal kan vasvat.

Nog ’n belangrike woord in die aanhef is “ons”. Dit is “ons Vader” en nie “my Vader” nie. Die pa in die gelykenis van die verlore seun beeld hierdie hemelse ons-gerigtheid baie treffend uit. Die pa sê vir die oudste broer, wat aan ’n selfgerigte, Fariseëragtige ek-gesindheid ly: “Kind, jy is altyd by Pa, en alles wat Pa het, is ook joune. Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry” (Luk 15:31-32). Die toonaard van Jesus se koninkryk was nog altyd dat verloste mense op onselfsugtige maniere na verlore mense uitreik en elke tuiskoms met blydskap vier.

Henri Nouwen het geskryf: “Before you had a human parent, you had a perfect one. God is your original parent. Children are made in the image of God, not their parents.”

Die Ons Vader begin met ’n doksologie (lofrede), “Ons Vader wat in die hemel is”, en eindig ook met een: “Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.” Dit is ’n goeie geloofsritme vir gelowiges om hulle lewe soos Jesus se gebed in te rig deur elke dag met lofredes tot die Here te begin en te eindig.

Die ses bedes van die Ons Vader
Daar is ses bedes in die Ons Vader. Die eerste drie bedes gaan oor God en sy koninkryk – amper soos die eerste vier gebooie (die eerste tafel) van die wet oor aanbidding tot God gaan – en is in aanbiddingsterme geskryf:

  • laat u Naam geheilig word
  • laat u koninkryk kom
  • laat u wil geskied.

Die laaste drie bedes gaan oor God se versorgende liefde vir mense en kan vergelyk word met die laaste ses gebooie (die tweede tafel) van die wet wat oor naasteliefde gaan:

  • gee vir ons daaglikse brood
  • vergeef ons sondes
  • laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

Kosbare stemme uit geskiedenis

Twee Afrika-kerkvaders, Tertullianus en Augustinus, het rigtinggewende uitsprake oor die Ons Vader gemaak.

Tertullianus (Kartago, Tunisië, 155-220 nC) het gesê: “Die Ons Vader vervul nie net die (1) eerste funksie van gebed nie (aanbidding van God en voorbidding vir mense), maar (2) omvat amper die volledige Woord van die Here en gee ’n volledige, oorsigtelike Bybelse leer. Ja, in die Ons Vader het jy werklik die evangelie in ’n neutedop.” Hierdie wysheid van Tertullianus was die voorloper wat aanleiding gegee het tot die lex orandi-slagspreuk in die Katolieke Kerk.

Augustinus van Hippo (hedendaagse Annaba, Algerië, 354-430 nC) het oor die aanhef “Ons Vader” gesê: “Jesus het al die nasies van die aarde in sy familiekring ingeroep. Die enigste Seun het ontelbaar baie susters en broers oor die hele aarde.” Dit is waardevol om in te sien dat die Ons Vader, buiten al sy ander kwaliteite, ook ’n inroep-, insluit- en uitstuurgebed is.

Die Onse Vader, Jesus se kruiswoorde en die Wet

In die gesprekke waar ooreenstemming tussen die Ons Vader, Jesus se kruiswoorde en die wet uitgewys word, word met “die wet” die eerste vyf boeke van die Bybel bedoel.

Augustinus (soos Tertullianus) het geglo dat die evangelie van Jesus Christus volledig in die Ons Vader vervat word. Karl Barth was weer oortuig dat daar ’n noue korrelasie tussen die Ons Vader en die Tien Gebooie is, veral omdat die aanhef en die eerste drie bedes strook met die eerste tafel van die wet wat oor aanbidding en die Goddelikheid van God gaan. Die laaste drie bedes stem weer ooreen met die tweede tafel van die wet wat oor naasteliefde handel.

Dit is ook baie insiggewend hoe Jesus se kruiswoorde op Golgota die bedes van die Ons Vader én die gebooie van die wet beklemtoon. Die aanhef van die Ons Vader (“Ons Vader wat in die hemel is”) beklemtoon, soos die aanhef van die wet in Eksodus 20:2 (“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het”), dat God hoog verhewe is bo alles en almal en dat Hy aktief by gelowiges betrokke is. Hy verlos hulle van sondes en van verlatenheid. Albei sê op ’n manier dat God die Alfa en die Omega is. Hy sal sy kinders nooit verlaat nie en hulle nooit in die steek laat nie (Deut 31:6; Jos 1:5; Heb 13:5).

Die Here het hierdie Immanuelskap van Hom meesterlik bo alles op die aarde uitgerol deur sy Seun, Jesus Christus. Hy sal by sy kerk bly tot aan die einde van alles (Matt 28:20). Sy Seun was die laaste Offerlam wie se bloed gevloei het en Hy was die laaste Een wat deur God verlaat is: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” of “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt 27:46; Mark 15:34). Nooit ooit hoef enige gelowige weer te twyfel of die Here by hom of haar is nie.

Jesus offers us the remedy to rekindle a tepid faith. And what is the remedy? Prayer. Yes, prayer is the medicine for faith, it is the restorative of the soul.

Inspirasiestories

Augustinus probeer die Drie-eenheid verstaan
Augustinus het op ’n dag gevoel dat hy die einde van sy vermoëns bereik het om die Drie-eenheid te probeer verstaan. Die grootheid van die teorie van een God maar drie Persone was besig om hom onder te kry. Hy het ’n entjie gaan stap en ’n seuntjie op die strand gesien wat ’n gat in die sand gegrawe het en toe heen en weer gehardloop het om met sy handjies water uit die see te skep en in die gat te gooi.

Augustinus het nader gegaan en vir die seuntjie gevra waarmee hy besig was en wat hy probeer doen het. Die seuntjie se antwoord was: “Ek wil al die water in die see in hierdie gat gooi.” Terwyl Augustinus vir die seuntjie gevra het of hy dink dit is moontlik, het die ou kerkvader skielik iets merkwaardigs besef: Net so min as wat die water van die oseane in daardie gat kan pas, kan die grootheid en die onbeskryflikheid van die Drie-eenheid in sy brein inpas.

Die Ons Vader is ’n gebed tot ’n onuitspreeklike, onbeskryflike groot God wat deur sy Seun, Jesus Christus, genader behoort te word.

__________________________________

Twee vrouens en hulle mans
Daar word vertel van twee vrouens wat hulle mans se langbroeke met naald en gare gesit en regmaak het. Die een vrou het gesê: “My man is mislik. Niks is reg by die werk nie. Hy kry niks op televisie wat goed is om na te kyk nie. Om by die huis te wees is vir hom ’n straf. By die kerk is die sangleier onnosel en die dominee ’n idioot.”

Die ander vrou het gesê: “My man is opgewonde oor alles. Hy kan nie wag vir Sondae se dienste nie. Hy lag baie en hy geniet sy gesin.”

Dit het stil geword tussen die twee vrouens terwyl hulle met hulle naaldwerk voortgegaan het. Die vrou wat eerste gepraat het, was besig om die sitvlaknate van haar man se broek reg te maak; die ander vrou het die stukkende knieë van haar man se broek reggemaak.

Vir kleingroepe

Rembrandt van Rijn het in 1669 sy kunswerk The return of the prodigal son, wat op die verhaal van die verlore seun in Lukas 15 gebaseer is, voltooi. Hy is kort daarna, in dieselfde jaar, oorlede.

Henri Nouwen het ’n boek geskryf met dieselfde titel as dié skildery, maar met die subtitel: A story of homecoming. Hierin word die Ons Vader deur verwysings na Rembrandt se kunswerk lyf gegee op ’n deurdagte en verantwoordelike manier. Dit maak sin, want die gelykenis van die verlore seun gaan meer oor die liefdevolle vader as oor die onverantwoordelike niksnut van ’n jonger broer.

Die kleingroepsessies gaan weekliks Henri Nouwen se perspektiewe op hierdie kunswerk in noue verband met die Ons Vader oordink.

 

Gesels saam

  • Henri Nouwen het geskryf: “It’s taken a couple of years for me to realize how much looking at this print hanging over my kneeler has affected the way I pray, too. In particular, I think, it’s changed the way I pray the Our Father.” Kyk na Rembrandt se skildery en dink dan na oor hierdie stelling.
  • Gestel jy koppel die verhaal van die verlore seun in Lukas 15 in jou gedagtes aan die Ons Vader terwyl jy dit bid. Gaan dit jou help om die Here se liefde beter te verstaan en die Ons Vader met groter waardering te bid?
  • Bid die Ons Vader saam.