Basisliturgie vir die Seisoen van Barmhartigheid

Picture of Woord en Fees

Basisliturgie vir die Seisoen van Barmhartigheid

Inleiding

Algemeen
Op Sondae vier die kerk die lewe in Christus. Hier staan God se bediening van liefde altyd sentraal. “God is liefde”, beaam ons. Sy liefde kry kans om verder liefde in ons lewe te ontsluit. In ’n seisoen van barmhartigheid is die gestalte van God se liefde wat gevier word, deernis vir mense in nood. God se deernis is die krag wat die gemeente al meer as ’n sorgsame gemeenskap vorm.

Die seisoen neem hierdie jaar sy vertrekpunt in die laaste sinsnede in die Sondag van Barmhartigheid se sleutelteks: “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld” (Jak 1:27).

Teologiese fokus van die seisoen – Markus
Markus vertel dat Jesus se persoon en lewe Goeie Nuus is. Dit is goed, want God is goed. Jesus open ’n alternatiewe lewensweg vir die manier waarop mag misbruik word in tipies menslike sfere. Wêreldse magte verslaaf en vernietig die lewe, maar Jesus bied ’n alternatiewe heerskappy wat voed en gesond maak.

William Loader skryf só oor Markus se perspektief:
He (Jesus) . . . identify greatness in terms of love and compassion for others, service. This is an alternative scale of values which challenges people to a new way of thinking about themselves, others, and ultimately, about God. Where love is made this central, that being a loving person defines the goal of human achievement, values are turned on their head. Marks’ story of Jesus is a story of such subversion. It is not bereft of power and authority. It is not the kind of humility that avoids responsibility. It is powerful self giving, as Jesus himself says, an alternative way of finding life: giving it, losing oneself.”

Erediens in ’n  Markustradisie sal beteken dat ’n gemeente só deur Jesus se boodskap en Gees omvorm word dat hulle toenemend ’n lewenstyl (leitourgia) beoefen wat mense uit ellende bevry. Die liturgiese “werk” van dié seisoen is om ’n simboliese lewensruimte te ontsluit waar God mense wat sy liefde ken, tot bekwame bedienaars van sy liefde omvorm.

Die gemeente betree in liturgie die lewe by God, die Barmhartige. In sy lig word mense (en die wêreld) se nood duideliker sigbaar. Ons word gekonfronteer sowel met ’n uiterlike dimensie van ellende as met innerlike verwaarlosing en verknegting. Individue raak in ellende verstrik binne gemeenskappe wat verlam is deur misdaad, geweld, korrupsie, armoede en verwaarlosing. Die liturgiese gebeure wys in belydenis, woord, tafel en bad (doop) na die genade en liefde van God wat almal wil insluit.

Pastorale konteks
Die evangelies het ontstaan in tye waarin gelowiges verskeurdheid beleef het en innerlik verward was. Gebeure soos die skeiding van die Joods-sinagogale lewe, verlies van die Jerusalem-tempel en vervolging van gelowiges het skokgolwe deur die Joods-Christelike gemeenskap gestuur. Dit was ’n tyd van agterdog, wantroue, vervreemding, verbrokkeling van families, stryd oor die waarheid en leierskap. Selfs oor die evangelie en kerklike praktyk was daar nie eensgesindheid nie. Dit was dringend nodig om rigting te gee. Markus doen dit. Hy skryf  amper kripties – meer as die ander evangelies – en hou by die essensie: Jesus is Goeie Nuus. Die Messiaanse tyd is hier.

In die huidige verwarde en verwarrende wêreld het gelowiges steeds dieselfde leiding en helderheid nodig. Die kerk het nodig om volhoudend te hoor dat stryd wesenlik deel van die evangelie is en dat ons juis in selfopoffering die volle vrug van die Gees ontvang. In die omgee en sorgsaamheid van die gemeente is, ten spyte van aanvegtinge, heil te vind.

Die missionale karakter van die seisoen
Markus (soos Matteus) herinner ons vroeg reeds dat Jesus sy dissipels vissers van mense maak. Die dissipels deel in Jesus se lewe en ook in sy bediening (Bosch, 36-38).  Die deur van genade gaan wyd oop. Dit open baie wyer as Israel se grense of polities-sosiale afbakening en Jesus reik oor die viswaters van Galilea na die heidene. Heidene ontvang dieselfde genesende wonderwerke en boodskap van verlossing in Christus. Wanneer Jesus die brood vermeerder, doen hy dit twee keer: binne Israel en daarbuite in die gebied van die Dekapolis (7:31). Dit staan bo alle twyfel dat die kerk in hierdie bediening deel en dit net soos Jesus deur opoffering doen.

Die liturgie van die seisoen adem in elke beweging die gees van God se barmhartige sorg vir alle mense. Elke liefdesbetoon aan mense kan gevier word as ’n teken van die nuwe koninkryk wat Jesus bring.

Nagmaal tydens hierdie seisoen
Liturgiese simboliek sluit aan by swaarkry, verwaarlosing en honger na God. Dit herinner dat God waarlik omgee en persoonlik betrokke is. Hy skep ’n gemeenskap wat omgee en sorg.  Dit word veral aan die tafel duidelik. Op voetspoor van Markus wys die nagmaal daarop dat Jesus nie net ’n eksklusiewe groepie bedien nie, maar ongekwalifiseerd almal wat Hom soek.

Die Seun van God, teenwoordig in brood en wyn, word in sy selfprysgawe ontmoet. En soos die ryk jongman, word almal gevra om ten gunste van armes te “verkoop” wat ons ook al mag bind. In die sakrament leef Jesus in ons as Een wat met sorg na mense uitreik.

Kinders tydens die seisoen
Kinders word die beste deur stories en gedeelde aktiwiteit bereik. Die gemeente behoort verhale van barmhartigheid te versamel wat aan die kinders vertel word. Kinders kan ook weekliks betrek word om ’n insameling te hou van voorraad wat aan versorgende bedienings geskenk kan word.

Gebruike eie aan die seisoen

Kleur, simbole, rituele en feeste
Groen: Simbool van lewe. Teenoor dood en onheil staan die lewe en heil van God.

Tekste

Datum Tekste Tema (in konteks van Barmhartigheid)
2 Augustus 2015
Tiende Sondag in Koninkrykstyd
2 Samuel 11:26 –12:13a
Psalm 51:1-12
Efesiërs 4:1-16
Johannes 6:24-35
’n Les in die slegte vrug van ongevoeligheid.
’n Rein hart sal die mens van God weerhou van sonde en sal op “liefde en goedheid” uitloop (20).
’n Klein “teologie” van mense se onderlinge verbondenheid.
Om “brood te gee” word die metafoor van Jesus se lewe waaraan ons deelneem.
9 Augustus 2015
Elfde Sondag in Koninkrykstyd
2 Samuel 18:5-9, 15, 31-33
Psalm 130
Efesiërs 4:25-5:2
Johannes 6:35, 41-51
’n Les in bedagsaamheid en onbedagsaamheid.
’n Beroep op God van wie “troue liefde” uitgaan.
Om “in liefde te lewe”, verg werk aan verhoudings maar ook sorg aan armes.
Om te glo is om te verstaan wat dit beteken om “nooit weer honger te kry nie”.
16 Augustus 2015 
Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd
1 Konings 2:10-12, 3:3-14
Psalm 111
Efesiërs 5:15-20
Johannes 6:51-58
God wen Salomo se lojaliteit oor sodat die hardheid van die stryd met ’n nuwe menslikheid versag sal word. (Let op die gebeure vóór en ná sy “bekering”.)
Wie die Here se goedheid besing, is wys.
Leef verstandig en besing God se goedheid.
Jesus beklemtoon sy eie liggaamlikheid en daarom ook ’n konkreetheid in die waardering van lewe. (Dit het implikasies vir ons verstaan van barmhartigheid.)
23 Augustus 2015
Dertiende Sondag in Koninkrykstyd
1 Konings 8:(1, 6, 10-11), 22-30, 41-43
Psalm  84
Efesiërs 6:10-20
Johannes 6:56-69
Die tempel van Salomo wys dat God naby mense woon om hulle in lief en leed by te staan.
Die tempel is simbool van God se sorgsaamheid.
Al die “wapens” is geestelike gawes wat in gebed (dus: in God) ons help teen magte wat verwoes.
Christus, ons Brood, gee lewe deur die Gees. In sy opstanding is die kerk deel van lewensbrood.
30 Augustus 2015

Veertiende Sondag in Koninkrykstyd
Barmhartigheidsondag

Hooglied 2:8-13
Psalm 45:1-2, 6-9
Markus 7:1-8, 14-15, 21-23 (ook 7:24-30)
Jakobus 1:17-27
Liefde, ook romantiese liefde, omhels die wonder van lewe. Dit reik na die heil wat God mense gee.
Mag en gesag is mooi wanneer dit “die stryd . . . vir die reg van die hulpelose” aanknoop.
Reinheid kom nie deur rites nie, maar deur ’n lewe van hulp aan hulpeloses.
Laat dié wat hoor wat God sê sy woorde in (liefdevolle) dade vertaal.

Diensorde

God versamel ons voor hom

Voorstel vir vaste gebruik

Groet
Voorganger: Genade en vrede vir julle.
Gemeente: En ook vir jou.

Voorganger: Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde.
Gemeente: Die Here is vir almal goed
en barmhartig oor alles wat Hy geskep het (Ps 145:8-9).

Almal: Amen.

Oproep
(Aanmoediging om God vir sy goedheid te eer en aanbid.)

Loflied

Gebed
(Ons is voor God in die naam van mense in nood.)

Doopherinnering
Voorganger: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Ef 2:8-10).
Gemeente: Nou is ons een met Christus Jesus. Ons wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus (uit Ef 2:13).

Lied
Skuldbelydenis
Vryspraak

Die wil van God
(liefdesgebod)

Antwoordlied

Diens van die Woord

Voorstel vir vaste gebruik

Lees Jakobus 1:27: “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.”

Stilte
(Geleentheid om die teks ter harte te neem.)

Gebed om die opening van die Woord

Skriflesing
(Lees meer tekste soos deur die Leesrooster aangedui.)

Preek
Gebed

Diens van die Tafel

Orde

  • (Inligting oor diens van barmhartigheid word versprei.) Herinnering (aan wat God in barmhartigheid op aarde gedoen het en steeds doen).
  • Danksegging (gebed of lied).

Indien die sakrament bedien word

  • Gemeenskaplike vredesgroet (mense bid mekaar seën toe)
  • Nagmaalsgebed (sien hieronder)
  • Brood en wyn word by die tafel ontvang
  • Epiklese (bede dat God sy die sakrament van brood en wyn deur sy Gees vir almal sal ontsluit)
  • Uitdeling en gebruik
  • Lof

Voorstel vir vaste gebruik

Nagmaalgebed

Voorbereiding
(Saam met die dankoffers plaas die diakens allerlei  voedselitems wat vir armes ingesamel is op die tafel. Die  leraar ontvang heel laaste brood en wyn wat op die tafel neergesit word.)

Herinnering
Eerste leser: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (Matt 11:28-30).

Tweede leser: Ons onthou vandag dat Johannes die Doper met sy lewe moes boet tydens Herodes se groot feesmaal wat slegs vir ’n groep bevoorregtes beskore was. Daarna het skares hulpbehoewende mense met hul honger na Jesus gestroom en Hy het aan almal brood gegee. Aan sy feesmaal wat Jesus tydens die Joodse Pasga gehou het, het Hy ook met sy lewe geboet en sonder perke brood van die lewe en wyn van vreugde aan sondaars en uitgeworpenes gegee.

Derde leser: “Ek is die brood wat lewe gee.
Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ’n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe.
En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe” (Joh 6:47-51).

Danksegging
Eerste leser: Genadige en Goeie God,
Dankie, dat U die Skepping hoor roep –
die skepping wat kreun onder misbruike van die mensdom;
die skepping wat uitsien dat U sal wys wie u kinders is.

Tweede leser: Dankie, dat u geloof en liefde werk
in mense wat kan eet en drink
en die goeie wat U gee, geniet en ook wil toesien dat hulle wat nie het nie
versadig sal word
en hulle dors geles word.

Derde leser: Dankie dat U brood voorsien
om die wêreld se honger te stil
en u Seun deur wie mense ook
veel meer kan ontvang as kos en klere
in ewige gemeenskap met
U, Vader, Seun en Heilige Gees.
Amen.

Toewyding
Voorganger: Hef julle harte op.
Gemeente: Ons hef dit op na die Here.

Voorganger: Laat ons die Here dank
Gemeente: Ja, Hy verdien ons lof.

Voorganger: Aan U behoort die heerlikheid en die
eer en die krag want U strek u liefde uit oor alles en almal wat U geskape het.
Gemeente: Uit Hom en deur Hom en tot Hom is
alle dinge. Aan Hom behoort die
heerlikheid tot in ewigheid!  (Rom 1:36)
Amen.

Voorganger: Ons hoor  vandag weer hoe Jesus vra: “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?” (Mark 10:38).

Stilte

Voorganger: Kan ons aan hierdie tafel die vreemde vrou na Jesus hoor roep: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet” en die hand word waardeur Jesus haar met genade bedien?  (Mark 7:28)

Stilte

Voorganger: In U groot goedheid
het Christus gesterf sodat die lewe
aan alle mense gegee kan word:
aan elkeen wat honger en dors,
aan sondaars en vreemdelinge.
Gemeente: Genadig en barmhartig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
Die Here is vir almal goed
en barmhartig oor alles wat Hy geskep het.
Almal wat deur U geskep is,
loof U, Here,
en u troue dienaars prys U!  (Ps 145:8-10)

Voorganger: Laat ons dan saam bid soos die Here ons geleer het . . .
Gemeente: Ons Vader wat in die hemel is . . .
(Die volle gebed word hardop uitgespreek of gesing.)

Gebed
(Neem die brood en die wyn in die hand.)
Ons ontvang die brood en die wyn van U af.
Laat die brood wat vir ons gebreek en gegee is waarlik vir ons die liggaam van Jesus wees waardeur ons aan U deel het.
Laat ook die wyn wat vir ons voorberei en gegee is waarlik vir ons die vrug van Jesus se lewe wees waardeur u ewige vreugde vir die wêreld gee.

Gemeenskap
Ons eet die brood en ons drink die wyn
waardeur God bevestig dat ons só met Christus een word dat ons die vrug van sy liefde sal dra.
Van hierdie hoop getuig die Gees van God in ons
en daaraan sal ons tot die einde vashou.

(Neem brood, breek dit en gee dit aan vir gebruik.)

Ons onthou dat dit aan ons oorgelewer is dat “Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: ‘Neem dit, dit is my liggaam.’” (Mark 14:24) Laat ons dit gebruik met die bede dat ons lewe die vrug van sy lewe en werk sal dra.

(Neem die beker, skink wyn in ’n kelk of kelkies en gee dit aan vir gebruik.)

Ons onthou dat dit aan ons oorgelewer is dat Jesus gesê het: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word.” (Mark 14:24) Laat ons dit gebruik met die bede dat ons lewe en werk ook vreugde sal bring.

Gebed om eenheid
Lied 531 “O, Vader, neem ons hande”
Vader,
Laat die gawe wat ons uit die hemel ontvang
almal wat honger en dors
na U toe trek
sodat almal die lewe in oorvloed kan geniet.
Amen.

Uitsending

Voorbidding
(Dit word voorafgegaan met inligting oor missionale bediening van die gemeente.)

Voorstel vir ’n vaste lied

Lied 530

Seën 

Voorstel vir ’n vaste uitsendingswoord

Toe Jesus die skares wou voed, was sy opdrag aan die dissipels: “Gee julle vir hulle iets om te eet.”
Hierdie woorde beskryf ons lewe as sy kinders.
Ons mag ook weet dat Hy, die Gewer van alle goeie dinge, steeds alles voorsien wat ons moet uitdeel.

Bibliografie

Bosch, D 1991. Transforming Mission: Paradigm Shifts in Theology of Mission. New York: Orbis Books. Lathrop, Gordon W 1999. Holy People; a Liturgical Ecclesiology. Fortress Press..
Lathrop, Gordon W 1993. Holy Things; a Liturgical Theology. Fortress Press. Torrance B James 1996. Worship, Community and the Triune God of Grace. Intervarsity Press, The New handbook of The Christian Year, The, Abington Press, Nashville. Wikipedia (verskeie artikels).

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.