Agttiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Tydens Koninkrykstyd vier ons die koninkryk van God wat is en wat was en wat kom. In God se koninkryk leef ons onder ’n nuwe verbond wat deur Jesus se bloed beseël is. Nuwe wyn kan nie in ou wynsakke gegooi word nie. So kan ons ook nie in sonde bly volhard as ons ’n nuwe skepsel in Christus is nie.

Ander tekste

Ander tekste is presies dieselfde as verlede week. Twee addisionele skrifgedeeltes vir die 17e Sondag in Koninkrykstyd word hier bygevoeg . Jesaja 45:1-7 en Psalm 96:1-9, (10-13) word daarom bygevoeg en gebruik in die liturgie.

Eksodus 33:12-23
12Op ’n keer het Moses vir die Here gesê: “Kyk, U beveel my om met hierdie volk te trek, sonder om my mee te deel vir wie U saam met my stuur. Tog het U gesê: ‘Ek ken jou op jou naam; Ek is jou goedgesind.’13As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.”

14Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”

15Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. 16Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”

17Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”

18Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!”

19Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. 20Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.”

21Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is ’n plek waar jy op die rots kan staan. 22As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in ’n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. 23Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”

Psalm 99
Die Here ons God is heilig
99 Die Here regeer:
die volke erken bewend sy gesag.
Hy troon oor die gerubs:
die aarde sidder van ontsag.
2Groot is die Here,
Hy wat in Sion is,
hoog verhewe bo al die volke.
3Hulle moet u groot en gevreesde Naam
prys:
“U is heilig!”
4U is die magtige Koning,
U het die reg lief;
wat reg is,
het U tot stand gebring.
U het reg en geregtigheid
in Jakob gevestig.
5Prys die Here ons God.
Kom buig in aanbidding voor Hom:
Hy is heilig!
6Moses en Aäron was onder sy priesters,
Samuel onder dié
wat sy Naam aangeroep het.
Hulle het die Here aangeroep
en Hy het hulle gebed verhoor.
7In ’n wolkkolom het God
met hulle gepraat,
en hulle het sy voorskrifte gehoorsaam,
die opdragte wat Hy hulle gegee het.
8Here ons God,
U het hulle gebede verhoor.
U was vir hulle ’n vergewende God,
maar Een wat ook hulle sondes
gestraf het.
9Prys die Here ons God,
buig voor Hom op sy heilige berg,
want die Here ons God is heilig.

Tessalonisense 1:1-10
1 Van Paulus, Silvanus en Timoteus.
Aan die gemeente van die Tessalonisense, wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.
Genade en vrede vir julle!

Die voorbeeld van die Tessalonisense
2Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou 3bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus. 4Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, 5want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het, en dít om julle ontwil. 6En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom. 7So het julle ’n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje. 8Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie. 9Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien 10en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.

Jesaja 45:1-7
45 So sê die Here aan sy gesalfde, aan Kores,
vir wie Hy as heerser aangestel het,
aan wie Hy nasies onderwerp
en voor wie Hy konings
hulle wapens laat neerlê,
voor wie Hy deure oopmaak
en poorte nie gesluit laat bly nie:
2Ek self sal voor jou uit gaan
en hoogtes gelykmaak.
Ek sal bronspoorte oopbreek
en sluitbalke van yster stukkend kap.
3Ek sal vir jou die skatte gee
wat in die donker gebêre word,
die rykdomme wat weggesluit is,
sodat jy kan weet dat Ek die Here is,
dat Ek jou op jou naam geroep het,
Ek, die God van Israel.
4Ter wille van my dienaar Jakob,
van Israel wat Ek uitverkies het,
het Ek jou op jou naam geroep,
gee Ek jou ’n eretitel
hoewel jy My nie ken nie.
5Ek is die Here,
daar is geen ander nie,
buiten My is daar geen God nie.
Ek rus jou toe vir jou taak
al ken jy My nie.
6Ek doen dit sodat elkeen
van die ooste af
tot in die weste kan weet
dat daar buiten My geen God is nie;
Ek is die Here, daar is geen ander nie.
7Ek maak die lig en skep die donker;
Ek gee voorspoed en skep rampspoed.
Ek is die Here,
Ek doen al hierdie dinge.

Psalms 96:1-6 ()
Die Here kom om oor die aarde te heers
96 Sing ’n nuwe lied tot eer van die
Here,
sing tot eer van die Here,
almal op aarde!
2Sing tot eer van die Here,
prys sy Naam,
verkondig elke dag sy reddingsdade!
3Vertel die nasies van sy mag,
al die volke van sy magtige dade.
4Die Here is groot,
al die lof kom Hom toe,
ontsagwekkend is Hy bo alle gode.
5Al die gode van die volke is niks:
dit is die Here
wat die hemele gemaak het.
6Majesteit en luister
straal van Hom uit,
krag en glans vul sy heiligdom.
7Prys die Here, alle volke,
prys die Here om sy eer en mag!
8Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Kom na sy voorhowe toe,
bring vir Hom offers!
9Buig voor die Here
by sy heilige verskyning;
betoon eerbied aan Hom,
almal op aarde.
10Verkondig onder die nasies:
“Die Here regeer;
die wêreld staan vas, dit wankel nie;
die Here sal die volke
regverdig oordeel.”
11Die hemele moet bly wees
en die aarde moet juig,
die see en alles daarin moet druis,
12die veld en alles daarop moet jubel,
al die bome in die bos
moet hulle verheug
13voor die Here, want Hy kom,
Hy kom om oor die aarde te heers.
Hy sal oor die wêreld heers
met regverdigheid,
oor die volke met billikheid.

Fokusteks

Matteus 22:15-22
Ons gee die teks in sy groter konteks, veral omdat hier vier vrae na mekaar aan Jesus gevra word, waarvan ons fokusteks die eerste is.

Die vraag oor die betaal van belasting
(Mark 12:13–17; Luk 20:20–26)
15Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met ’n vraag in ’n val te lok. 16Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met ’n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. 17Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”

18Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: “Huigelaars! Waarom stel julle vir My ’n strik? 19Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.”
Hulle bring toe die muntstuk vir Hom, 20en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”

21“Die keiser s’n,” antwoord hulle.
Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

22Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.

Die vraag oor die opstanding uit die dood
(Mark 12:18–27; Luk 20:27–40)
23Op dieselfde dag het daar Sadduseërs by Jesus gekom. Dit is hulle wat beweer dat daar nie ’n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe: 24“Meneer, Moses het gesê: ‘As iemand sterwe sonder om kinders te hê, moet sy broer met die weduwee trou en ’n nageslag vir sy broer verwek.’ 25Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste het getrou en gesterwe. Omdat daar nie kinders was nie, het sy broer met die weduwee getrou. 26Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer en uiteindelik met al sewe. 27En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe. 28Met die opstanding dan, wie se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”

29Maar Jesus antwoord hulle: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. 30Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. 31En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: 32‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes.”

33Toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.

Die vraag oor die grootste gebod
(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Die vraag oor die Seun van Dawid
(Mark 12:35–37; Luk 20:41–44)
41Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle: 42“Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?”
“Dawid s’n,” antwoord hulle Hom.
43Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog:
44‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand
totdat Ek jou vyande aan jou
onderwerp het.’
45As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?”

46Niemand kon Hom daarop iets antwoord nie. Van dié dag af het niemand dit meer gewaag om Hom ’n vraag te stel nie.

Liturgie

RUS

Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aaanvangswoord

4Die Here is groot,
al die lof kom Hom toe,
6Majesteit en luister
straal van Hom uit,
krag en glans vul sy heiligdom.
7Prys die Here, alle volke,
prys die Here om sy eer en mag!
8Prys die Here
om die eer van sy Naam!
9Buig voor die Here
by sy heilige verskyning;
betoon eerbied aan Hom,
almal op aarde. (Ps 96)

Seengroet
2Ek self sal voor jou uit gaan
en hoogtes gelykmaak.
Ek sal bronspoorte oopbreek
en sluitbalke van yster stukkend kap.
3Ek sal vir jou die skatte gee
wat in die donker gebêre word,
die rykdomme wat weggesluit is,
sodat jy kan weet dat Ek die Here is,
dat Ek jou op jou naam geroep het,
Ek, die God van Israel. (Jes 45)

Loflied: Psalm 100 (2e melodie) 1,2,3 (Of die woorde van van Totius agter in die liedboek, 4 verse)

Verootmoediging
Opsomming van die wet (Matt 22)

Die vraag oor die grootste gebod
(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis: Lied 278 “Hoor ons bid o Heer 1 (2 maal)”

Johannes 15:9-17
Julle moet mekaar liefhê
9“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. 10As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.

11“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. 12Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. 13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. 15Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ’n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. 17Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”

Toewyding: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

HOOR

Epiklese (Preekstudies en Liturgiese Voorstelle 2011: 280)
Here U is die Gewer van alle goeie dinge.
Laat ons vandag luister na u Woord met die liefde van Jesus Christus.
En laat sy liefde aanhou liefhê vir duisende geslagte na ons.
Gee vir ons eerbied en ontsag om nie net te hoor nie, maar te glo en te wees en te doen.
Amen.

Skriflesing: Matt 22:15-22

LEEF

Gebed

Apostoliese Geloofbelydenis
en/ of Lied 265 “Enigste Here, enkele Wese vs 1,2”

Uitsending: Lied 207 “Eer aan die Vader vs 1,3”

Seën
Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”
“Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom
en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep,
want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon
en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. (Eks 33:17-19)

Musikale Amen: Lied 314

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Liedere

F326. “Ek Vertrou Nie Op Geld Nie (Alleen Op Die Here)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloof & Vertroue)
Teks en musiek: Carli Lessing
© 2009 WINS Music
[N.a.v. Ps 33:20-21]

1. Ek vertrou nie op geld nie, of gewildheid nie
Of die wêreld se moondhede nie
Ek vertrou nie op mag nie of op konings nie
Of op die wêreld se leërmagte nie

Brug:
Alleen op die Here
Alleen op die Here

Refrein:
Hy is my hulp en my beskermer
Die Een op wie ek vertrou
Alleen in Hom is my hart bly
Op sy heilige Naam vertrou ek
Op sy heilige Naam vertrou ek

2. Nie op myself nie of op vriende nie
Of op ander se goedkeuring nie
Ek vertrou nie op drome of op gawes nie
Of my eie oorwinnings nie

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Die kern van die fokusteks is myns insiens opgesluit in die verse:

20en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”

21“Die keiser s’n,” antwoord hulle.
Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”
Om dit te onderstreep en ook interessant vir kinders voor te hou kan mens so iets van die ontwikkeling van betaalmiddels vertel.

GELD: Die oudste aangetekende gebruik van geld was omstreeks 4 500 jaar gelede in vandag se Irak. Tablette met inskripsies beskryf betalings wat met afgeweegde hoeveelhede silwer gemaak is. Ander vroeë soorte geld sluit in muntskulpe en veergeld.

Die eerste munte is 2700 jaar gelede in Turkye gemaak uit ‘n mengsel van goud en silwer. Die munte is gestempel om hulle waarde en gewig te bevestig. Vandag word goedkoper metale gebruik.

Die mense van Yap (‘n eiland in die Stille Oseaan) het groot klipskywe as geld gebruik- die grootste sowat 4m in deursnee (2 volwassenes wat op mekaar se skouers staan).

Spaarvarkies word al sedert die 14 eeu gebruik om geld te spaar. Die eerste varkies was van erdewerk en moes gebreek word om die geld uit te kry. (Uit die Groot Geïllustreerde Ensiklopedie)

Ons lees reeds in Gen 23 dat Abraham 400 sikkels silwer afgeweeg het as betaling vir ‘n familie begraafplek. ‘n Ware muntstelsel het egter nie voor die 7e eeu voor Christus ontstaan nie. Die merk van die koning is op ‘n stuk metaal geplaas om die gewig en suiwerheid daarvan te waarborg.

Muntstukke was redelik algemeen in die tyd van die Nuwe Testament, maar verwarrend baie. Drie geldstelsels was in gebruik: Die Romeinse stelsel was internasionaal en na alle waarskynlikheid was die munt wat aan Jesus gegee is (Mark 12:15) ‘n denarius. Daar was ook nog ‘n Joodse- en Griekse muntstelsel. (Gebruike en Gewoontes in die Bybel, Stander & Louw)

Preekriglyn

“Hier in ons omgewing het die staat in die laaste jaar meer as 400 miljoen aan die opgradering van die nasionale pad bestee. Dit het ‘n daadwerklike positiewe impak op plaaslike indiensneming en die ekonomie van ons dorp,” sê ‘n ouderling van Paterson by die Ring van Albanie se onlangse vergadering (September 2011). Hy praat oor die opgradering van die N10-hoofweg tussen Paterson en Olifantskop, die skilderagtige roete oor die Zuurberge in die Oos-Kaap. ‘n Groot deel van die N2 tussen Port Elizabeth en Paterson word ook verbreed en nuut oorgebou. Die padbouprogram sit tans kos op die tafel in werklike arm huishoudings in hul omgewing.

Op ander dorpies in dieselfde ringsgebied is mense nie altyd seker daar is water in die krane nie. Die stelsels wat water aan die dorpies voorsien is onvoldoende en word boonop nie ordentlik in stand gehou nie.

Verhale soos hierdie laat mens lag en huil. Dit maak jou dankbaar en laat jou bloed kook.

Ons betaal belasting aan die staat sodat hulle die geld kan aanwend om ons omgewing en geriewe in stand te hou en te verbeter. Maar dit gebeur nie altyd nie, veral nie op plaaslike vlak nie. Gaan mens in sulke gevalle voort om jou belasting te betaal? In verskeie gemeenskappe organiseer belastingbetalers protesaksies en weerhou hul belasting. Hoe moet Christene reageer?

Grafika: Foto deur Francisco Martins
This photo was taken on June 1, 2011 in Gregory River, Queensland, AU, using a Canon EOS 50D.
Aangepas mbv Picasa 3
Copyright- Creative Commons-licensed
You are free:
to Share — to copy, distribute and transmit the work
to Remix — to adapt the work
Under the following conditions:
Attribution — You must attribute the work in the manner specified by the author or licensor (but not in any way that suggests that they endorse you or your use of the work).
Noncommercial — You may not use this work for commercial purposes.

‘n Lokval vir die Leermeester

‘n Vraag oor die betaal van belasting het eeue gelede ’n groepie godsdienstige leiers gemotiveer om ’n bekende leermeester daaroor te raadpleeg: “Sê vir ons wat dink U: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”

Hulle het natuurlik ‘n paar versteekte motiewe gehad. Volgens Matteus 22:15-22 wou hulle dié vraag gebruik om dié betrokke Leermeester in ’n lokval te lei, want hulle het nie van hom gehou nie. Hy was besig om in populariteit by die mense te groei en hy het nie kritiek gespaar in sy gesprekke oor die godsdienstige leiers van die dag nie. Hulle het vroeër reeds planne begin beraam om hierdie “profeet” om die lewe te bring, maar hulle het geweet hulle moes versigtig te werk gaan, want as die massas agterkom wat hulle plan is, kon hulle self in die proses hul aansien verloor.

Met slim rabbynse retoriek probeer hulle eers om vir Jesus heuning om die mond te smeer voordat hulle die strikvraag aan hom stel: “Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?” Klink amper soos die ou wat vir sy vriend vra: “Slaan jy nog jou vrou?” Maak nie saak wat hy antwoord nie, hy is klaar reeds in die moeilikheid op grond van die manier waarop die vraag aan hom gestel is.

Sou Jesus die populêre antwoord gee – moenie betaal nie – kon hy van opstand teen die Romeinse heersers aangekla word. Dit sou hom egter populêr in die oë van die Jode maak. Sou Hy sê “betaal,” sou dit Hom aansien by die volk laat verloor.

“Wys My die muntstuk”

Uit sy antwoord blyk duidelik dat Jesus deur die vraers se vals motiewe sien. Hy neem ook hulle vraag na ‘n heel nuwe vlak van denke. Hy vra: “Wys vir my die muntstuk waarmee die belasting betaal word.”

Mens moet weet hoe die geldstelsel van Palestina destyds gewerk het. Volgens historici was daar verskillende munte in gebruik in die eerste-eeuse Judea. Daar was die standaard Romeinse munte waarop die kop van die keiser verskyn het met inskripsies soos “Tiberius, Keiser, die majesteitlike seun van God.” Beide die beeld op die munt, verstaan as ’n verbreking van die tweede gebod, én die taal daarop, was vir die Jode afstootlik. Die gevolg was dat daar ander munte vir hulle gebruik beskikbaar was, wat hulle in staat gestel het om vry te wees van godslastering en van ontreiniging deur die gebruik en hantering van die Romeinse munte. Dit was wel ’n klein minderheid van die Jode wat hiervan bewus was en wat van die fisieke aspekte van die munte bewus was. Tog is hierdie tipe vroomheid hoog op prys gestel – juis deur die mense wat aan Jesus die vraag vra.

Toe Jesus vir sy ondervraers ’n muntstuk vra, gee hulle sonder enige aarseling ’n Romeinse munt vir Hom. Hulle wil weet of mens aan die keiser belasting moet betaal. Intussen gebruik hulle die voordele van die keiser se munte. Hulle trek voordeel uit die handel wat met die keiser se munte moontlik is.

Op ‘n eerste vlak help Jesus hulle bloot om konsekwent te wees. “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort.” As hulle die voordele van Rome wil geniet, behoort hulle ook die belasting te betaal wat daarmee verband hou.

“Aan God wat aan God behoort”

Die tweede deel van Jesus se antwoord oortref egter die eerste: “…en aan God wat aan God behoort.” Die vraag waarvoor ons hier te staan kom, is: Wie bepaal die grense aan wie die keiser se onderdane gehoorsaam moet wees? Of wie bepaal die limiete wat betref lojaliteit aan die keiser? Verseker is dit volgens Jesus slegs God wat dit kan doen, sodat dit God se aansprake is wat ons as mense moet erken en herken.

Belasting behoort aan die keiser. Maar ons hele lewe behoort aan God. God moet kry wat god toekom.

Matteus is in sy evangelie voortdurend besig om te getuig oor die gesag van Jesus. Hy bring ons deur sy verhale telkens terug by die gesag, insig en outoriteit van Jesus. Die insig wat ons hier ontwikkel oor Jesus se outoriteit, is die algehele aanspraak wat Jesus se heerskap aan ons stel. Deel hiervan sluit ons betaal van belasting in. Jesus erken dat ons belasting moet betaal. Ons geniet immers die voordele van die staat.

God en die keiser

Moderne mense het verskillende maniere waarop ons die verhouding tussen God en die staat, tussen God en die openbare lewe verstaan. Diegene wat dieper wil delf, kan gerus ‘n uitstekende artikel hieroor uit die pen van die nuwe Testamentiese kenner, NT Wright.

Volgens Wright is daar vir Westerlinge drie opsies:

  • Die “split-level world” waar ons geestelike lewe tot die hoogste verdieping behoort, en die politiek tot die onderste. Geloof is dan iets wat tot ons private, binnekamer-lewe behoort, en die politiek iets wat by ons publieke lewe hoort. Die politiek is vry van godsdiens. Geloof word geprivatiseer en die staat is vry van godsdienstige oortuigings. Hierdie siening lê agter die ideaal van die sekulêre staat. Dit is ‘n valse keuse.
  • Die tweede opsie is om te kies tussen “regs” of “links.” Regse mense kies in die openbare lewe vir streng struktuur, orde, standvastigheid en gesaghebbende hiërargieë in sosiale strukture. Die linkses kies vir vryheid en revolusie, die omverwerping van strukture. Vir regses is God in hulle wêreld, vir linkses is God die primêre revolusionêr. Dit is ‘n valse keuse.
  • Die derde opsie het te doen met geloof in vooruitgang. Die moderne wetenskaplike wêreld het vir ons gewys wat vooruitgang is. Ons moet ons wêreld ‘n beter plek maak deur hierdie ideaal van vooruitgang deur wetenskaplikheid wêreldwyd uit te voer. Ons het God eintlik nie meer nodig nie. Dit is ‘n valse aanname.
Koning oor die hele lewe

Die Bybel se aanspraak is dat die drie-enige God se koningskap oor die hele lewe strek.

In hierdie gedeelte sê Jesus dat aan die keiser gegee moet word wat aan die keiser toekom. Aan God moet gegee word wat aan God behoort. Dit is ‘n allesinsluitende aanspraak van God op mense se lewe. Ons moet onsself in gehoorsaamheid en diens aan God gee. Dit raak alles wie ons is en wat ons het.

God is nie net geïnteresseerd is in ons sg. “geestelike wêreld” nie, dus in die boonste verdieping van die “split-level world” nie. God verwag nie van ons om in strukture vas te val of alle strukture om te gooi nie. God stuur ons nie op ‘n pad van vooruitgang waar ons van onsself afhanklik is nie. God is op alle vlakke van die lewe teenwoordig. Die hele lewe moet aan God gegee word. En God werk deur lewens wat aan Hom gegee is, om die wêreld ‘n beter plek te maak.

Jesus beliggaam sy eie opdrag

In ’n sekere sin sou ons Jesus se dood in sigself kon sien as sy finale (én gelyktydige) offer van wat die keiser toekom (kruisiging was immers wat die keiser aan rebellekonings gedoen het) én van wat God toekom. Daarom het die kruisigingsverhaal van die begin af ook ’n politieke betekenis gehad. Pilatus was reg toe hy Jesus in sy kennisgewing aan die kruis “koning” genoem het.

Jesus se sterwe aan die kruis en sy opwekking uit die dood loop uit op sy hemelvaart, oftewel sy troonsbestyging. Hy gaan sit aan die regterhand van die Vader, en aan Hom word alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Dit is hierdie Jesus wat ons na die volle lewe stuur om mense te vorm om Hom te dien en te volg.

God en die owerhede

Die Nuwe Testament beskou die regering as deur God ingestel en daarom moes hulle eerbiedig en ondersteun word (vgl. Rom 13:1-17; 1 Pet 2:13-17). Christene bid vir die regering van die dag. Dit is reg om aan die keiser te gee wat die keiser toekom. Jesus was nie ’n Seloot of ’n revolusionêr wat die omverwerping van die Romeinse owerheid voorgestaan het nie, maar ewemin het Hy prioriteit geplaas op lojaliteit aan die plaaslike owerheid.

Indien jy dus aan die owerheid die beperkte hoeveelheid gegee het wat aan hulle behoort, soveel te meer moes jy aan God gee wat God toekom – naamlik totale oorgawe van jou wese en bestaan – niks minder as dit nie. Lojaliteit aan die keiser moet dus altyd in die groter raam werk geplaas van die volle onderwerping van jouself aan God. ’n Dissipel van Jesus gee aan God wat Hom toekom.

Ons en die owerhede

Wat sê dit vir Christene in die moderne Suid-Afrika?

Eerstens is ons geroep om aan die owerheid te gee wat aan die owerheid toekom. Ons bid vir die owerhede, betaal ons belasting eerlik, en leef en werk tot heil van die groter samelewing.

Tweedens is ons geroep om Christus se voorbeeld na te volg. Jesus was volkome gehoorsaam aan God. Hy was totaal gehoorsaam en blind vir die gevolge. Jesus het net gedoen wat die Vader wou hê Hy moet doen. Ons is ook só toegewy aan God. Ons het God lief bo alles, en daarom ook ons naaste. Elke mens wat ons pad kruis, is ‘n naaste oor wie ons besorg is en wie se beswil ons soek. Ons gehoorsaam die groot gebod soos Jesus ons leer.

Derdens onthou ons dat God ook Koning is oor die publieke lewe. Die keiser heers nie oor ‘n neutrale gebied waar God geen sê het en waarin God nie belangstel nie. Ook die publieke ruimtes van ons lewe staan onder god se heerskappy. Ook hier dien ons God.

Dit beteken dat Christene intens belangstel in die openbare lewe en ook daar soek om God te dien.

Vierdens het hierdie ingesteldheid geweldige praktiese implikasies vir ons lewe. ‘n Paar voorbeelde:

  • Waar die skoolsisteem faal, is ons medeverantwoordelik vir die kinders wat die slagoffers van ‘n mislukte sisteem is. Dit is gepas dat Christene hier hande vat en die sisteem help werk. Hoe moeilik ook al, moet Christene uitreik na die skoolsisteem en bystand lewer. Terwyl soveel kinders in Suid-Afrika wees is (sonder een of albei ouers), moet gemeentes toenemend aan hulself as ‘n ouer in die gemeenskap begin dink en inisiatiewe loods om opvoeding en onderwys te verbeter.Daar is baie voorbeelde van gemeentes wat presies dit doen. Sommige help kinders in die middae by die kerksaal huiswerk doen, en bied ekstra klasse aan. Ander betaal busgeld vir minderbevoorregte kinders om by die skool te kom. Nog ander koop boeke en skoolklere, neem kinders aan deur in hulle vordering belang te stel, kook vir hulle kos terwyl hulle eksamen skryf sodat hulle nie op ‘n leë maag hoef te studeer nie, e.s.m. Tydens ‘n kerklike konferensie oor onderwys vroeër vanjaar in Port Elizabeth het me N Bashman, hoof van die distriksonderwyskantoor op Uitenhage, vyftien maniere genoem waarop gemeentes die onderwys kan ondersteun.
  • Lidmate beskik oor gawes waarmee plaaslike regerings bygestaan kan word. Daar is baie frustrasies oor swak dienslewering. Woede bou op. Daar is egter voorbeelde in die land van gemeenskappe waar mense hul lotsgebondenheid ontdek en in sinergie saamwerk. Bonnievale is ‘n resente voorbeeld hiervan. ‘n Ondernemende boer naby Middelburg bou ‘n kort, goedkoop tolpad oor sy plaas om padgebruikers hoë koste met die amptelike tolpad te bespaar. Hy gee spesiale afslag aan taxi’s wat die roete daagliks gebruik. Op Elliot span die boere en taxi-vereniging in belang van die gemeenskap saam. Op Port Alfred gebruik afgetrede ingenieurs hul vaardighede om plaaslike dienslewering te verbeter.Daar is oral ook valke wat eerder boikot en munisipale belasting in ‘n afsonderlike rekening stort. Hulle finansier dan self dienste. Mens kan moeilik algemeen geldende strategieë formuleer. Die basiese Bybelse uitgangspunt is egter dat Christene medeverantwoordelik vir die openbare lewe is. Ons het ‘n verantwoordelikheid om dienslewering deur die plaaslike regering te ondersteun. Daarom moet ons hard werk om konstruktiewe verhoudinge met die plaaslike regering te bou.
  • Deel van ons publieke verantwoordelikheid is die versorging van die ekosisteem. Groot korporasies en ryk individue beskik oor die kapasiteit om die omgewing vir hul eie gewin uit te buit. Met dink aan Shell met sy fracking in die Karoo. Mens dink aan mynmaatskappye wat ontgin en aaklige mynhope agterlaat wat die omgewing skend, en gemeenskappe met suur water agterlaat. Die manier hoe hierdie geldmag gebalanseer word en tot verantwoording geroep word, is deur publieke aksie met behulp van moderne kommunikasiemiddele. Die TKAG-aksie (Treasure the Karoo Action Group) kon ‘n moratorium op fracking beding, hoofsaaklik deur die internet en die wye beskikbaarheid van inligting verbeeldingryk te gebruik om mense te mobiliseer.
  • Ons is medeverantwoordelik vir die gesondheid in en welsyn van ons samelewing. Ook hier moet burgerlike aksie geloods word. Christene moet aktief saamspan. Dink aan die TAC (Treatment Action Campaign) wat die regering gedwing het om anti-retrovirale middele vrylik beskikbaar te stel. Dink aan die publieke verset teen die regering se plan om die vrye vloei van informasie te beperk. ‘n Lang lys voorbeelde van publieke aksie wat geregtigheid, vrede en vreugde soek, kan genoem word. Gemeentes moet in hul kontekste vra waartoe die Christelike geloof hulle roep, vennote in hierdie aksies vind, vriende maak en die heil van die publieke lewe soek.

Inderdaad. Gee aan die keiser wat die keiser toekom, en gee aan God wat aan God toekom.

Wegsending: Lied 508 “Vaste rots op wie ek bou vs 1,2”

Seën
Vir ons wat gered is, is die kruis van Christus die krag van God. Gaan leef in sy krag en onthou: Wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense (uit 1 Korintiërs 1:18-25).

Musikale Amen: Lied 314

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.