Agtiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Markus vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy opstanding. Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

Na ‘n proloog (Markus 1:1-15) wat die goeie nuus van Jesus Christus aankondig, ontvou die verhaal in 4 dele, met ‘n kort epiloog aan die einde:

  1. Markus 1:16-3:6 – Jesus begin sy publieke bediening met die aankondiging van die koninkryk van God. Die gebeure volg mekaar vinnig op: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God. In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op.
  2. Markus 3:7-8:21 – Die impak van Jesus se bediening van lering en genesing op drie belangrike groepe word beskryf: die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê; die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is; die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.
  3. Markus 8:22-10:45 – Jesus lei sy dissipels dieper in die aard en betekenis van sy bediening, in en die wyse waarop dit ‘n model vir hulle van ware dissipelskap gee.
  4. Markus 10:46-15:47 – Jesus gaan Jerusalem binne tot verrukking van die skares, maar word uiteindelik deur hulle verwerp en deur die leiers gekruisig, ironies as die “koning van die Jode”.

Die epiloog (Markus 16:1-8[20]) herinner die lesers daaraan dat Jesus opgestaan het uit die dood.

Ons teks val dus in die derde hoofdeel van Markus, waar Jesus sy dissipels dieper in dissipelskap inlei

Ander tekste

Numeri 11:4-6, 10-16, 24-29
Tabera: vuur brand onder die volk
11 Dit het sleg gegaan met die volk, en hulle het die Here daaroor verwyt. Toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword en vuur onder hulle in gestuur. Dit het ’n deel van die kamp verbrand. 2Die volk het hulle nood by Moses gekla, en hy het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan. 3Hulle het die plek Tabera genoem, omdat die vuur van die Here onder hulle gebrand het.
Die volk kla oor kos en word gestraf.

Die Gees kom op sewentig leiers
4Die mense van ander afkoms wat saam met die Israeliete getrek het, het ’n onweerstaanbare lus vir vleis gekry, en toe het die Israeliete self ook begin kla en gesê: “As ons tog net vleis gehad het om te eet! 5Ons onthou nog die vis wat ons in Egipte verniet kon eet, ook die komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel. 6Maar nou wurg ons. Daar is niks behalwe hierdie manna voor ons nie!”

7Die manna was soos koljandersaad en het gelyk soos balsemgom. 8Die volk het die manna oral vandaan bymekaargemaak, dit op maalklippe gemaal of in vysels gestamp en dan in panne gebak of roosterkoeke daarvan gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak.
9Die manna het snags saam met die dou by die kamp geval.

10Moses het die volk hoor kla, elke familie by die ingang van sy tent. Die Here het hieroor baie kwaad geword, en dit was ook verkeerd in Moses se oë. 11Moses sê toe vir die Here: “Waarom behandel U my so sleg, waarom is U my nie goedgesind nie, dat U die verantwoordelikheid vir hierdie hele volk op my gelaai het? 12Het ek dan swanger geword en hierdie hele volk in die wêreld gebring, dat U vir my sê: ‘Dra hulle aan jou bors soos ’n oppasser met ’n suigeling doen, en bring hulle na die land toe wat Ek met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het’? 13Waar sal ek die vleis vandaan haal om aan hierdie hele volk te gee, hulle wat by my kla en sê: ‘Gee vir ons vleis dat ons kan eet!’14Ek sien nie langer kans om hierdie hele volk alleen te dra nie, want dit is te swaar vir my. 15As U so met my wil maak, kan U my gerus maar om die lewe bring as U my goedgesind is. Hierdie slegte behandeling kan ek nie meer verduur nie.”

16Die Here het vir Moses gesê: “Bring vir My sewentig van Israel se leiers, mense van wie jy weet dat hulle leiers en ampsdraers van die volk is. Neem hulle na die tent van ontmoeting toe en laat hulle daar by jou staan.

17Ek sal dan afkom en daar met jou praat, en Ek sal van die Gees wat op jou is, op hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou die verantwoordelikheid vir die volk dra, sodat jy dit nie alleen hoef te doen nie. 18Vir die volk moet jy sê: Reinig julle vir môreoggend, dan sal julle vleis eet. Die Here het gehoor hoe julle kla en sê: ‘As ons tog net vleis gehad het om te eet; in Egipte was dit vir ons goed!’ Die Here sal vir julle vleis gee, en julle sal eet! 

19Julle sal nie net een dag of twee of vyf of tien of twintig dae eet nie, 20maar ’n hele maand lank, totdat julle daarvan naar word en daarvan walg, omdat julle die Here wat by julle is, getart het, en Hom verwyt het met die woorde: Waarom is ons tog uit Egipte weg?”

21Moses het toe gesê: “Hier is ek tussen ses honderd duisend mense, almal te voet, en U sê U sal vir hulle vleis gee, sodat hulle ’n hele maand lank daarvan kan eet! 22Sal daar genoeg skape en beeste vir hulle geslag kan word? Sal hulle genoeg hê as al die vis in die see vir hulle gevang word?”

23Maar die Here het vir Moses gesê: “Dink jy Ek het nie die mag nie? Jy sal nou self sien of my woord bewaarheid word of nie.”

24Moses het vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het sewentig leiers van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan. 25Die Here het toe in die wolk afgekom, met Moses gepraat en ’n deel van die Gees wat op Moses was, op die sewentig laat kom. Toe die Gees op hulle kom, het hulle as profete begin optree, maar daarna nie meer nie.

26Twee van die manne onder dié wat opgeskryf was, het nie na die tent toe uitgegaan nie, maar het in die kamp agtergebly. Die een se naam was Eldad en die ander s’n Medad. Terwyl die Gees op hulle gerus het, het hulle in die kamp as profete opgetree.

27’n Jongman het toe gehardloop en vir Moses gaan vertel: “Eldad en Medad tree as profete op in die kamp!”
28Josua seun van Nun, van jongs af Moses se assistent, het gesê: “Laat hulle tog ophou, Meneer!”
29Maar Moses sê vir hom: “Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.”

30Daarna het Moses en die leiers na die kamp toe teruggegaan.
31Die Here het toe ’n wind gestuur en dit het kwartels van die see se kant af aangebring en hulle rondom die kamp laat val, omtrent ’n dagreis ver na alle kante toe en omtrent ’n meter diep op die grond. 32Die volk het daardie hele dag en die hele nag en ook die volgende dag uitgegaan en kwartels bymekaargemaak. Elkeen het minstens ’n ton vleis bymekaargemaak en dit rondom die kamp oopgegooi. 33Die vleis was nog tussen hulle tande, hulle het nog nie begin kou nie, toe ontvlam die toorn van die Here teen die volk. Hy het baie van hulle om die lewe gebring. 34Hulle het dié plek Kibrot-Taäwa genoem, omdat hulle die gulsige mense daar begrawe het. 35Van Kibrot-Taäwa af het die volk na Gaserot toe weggetrek en daar gebly.

Psalm 19:7-14
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.

15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Jakobus 5:13-20
Die gelowige gebed
13As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. 14As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. 15En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. 16Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.

Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. 17Elia was ’n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. 18Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.

19My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, 20weet dan dat hy wat ’n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ’n menigte sondes vergewe word.

Fokusteks

Markus 9:38-50
Jesus kondig die tweede keer sy dood en opstanding aan
(Matt 17:22–23; Luk 9:43–45)
30Toe het hulle daarvandaan weggegaan en deur Galilea gereis. Jesus wou nie hê dat iemand anders dit te wete moes kom nie. 31Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: “Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan.”

32Hulle het dit nie verstaan nie, maar hulle was te bang om Hom daaroor uit te vra.

Wie is die belangrikste?
(Matt 17:24; 18:1–5; Luk 9:46–48)
33Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: “Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?”

34Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. 35Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.”

36Toe het Hy ’n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê: 37“Elkeen wat so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het.”

“Wie nie téén ons is nie, is vir ons”
(Luk 9:49–50; vgl Matt 12:30; Luk 11:23)
38Johannes het toe vir Hom gesê: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdrywe. Ons het hom probeer keer, omdat hy ons nie volg nie.”

39“Moet hom nie keer nie,” sê Jesus, “want daar is niemand wat ’n kragtige daad in my Naam sal doen en net daarna minagtend van My sal kan praat nie. 40Wie nie téén ons is nie, is vir ons.

41“Elkeen wat vir julle ’n beker water te drinke sal gee omdat julle aan Christus behoort, hy sal beslis die beloning daarvoor kry. Dit verseker Ek julle.”

Aanleiding tot afvalligheid
(Matt 18:6–9; Luk 17:1–2)
42“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig laat word, vir hom is dit baie beter as ’n groot meulsteen aan sy nek vasgemaak en hy in die see gegooi word.

43“As jou hand jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy vermink in die lewe ingaan as dat jy altwee jou hande het en na die hel toe gaan, in die onblusbare vuur. 4445En as jou voet jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy kreupel die lewe ingaan as dat jy altwee jou voete het en in die hel gegooi word. 4647En as jou oog jou van My afvallig laat word, pluk hom uit! Dit is beter dat jy met een oog die koninkryk van God ingaan as dat jy altwee oë het en in die hel gegooi word. 48Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie.”

Sout en vrede
(Matt 5:13; Luk 14:34–35)
49“Almal sal met die vuur van beproewing gelouter word.
50“Sout is goed, maar as sout sy krag verloor het, waarmee sal ’n mens dit weer sout maak?
“Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord
Voorganger: Die woord van die Here is volmaak.
Gemeente: Dit gee lewe.

Voorganger: Die onderwysing van die Here is betroubaar.
Gemeente: Dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.

Voorganger: Die bevele van die Here dui die regte koers aan.
Gemeente: Dit bring blydskap.

Voorganger: Die gebod van die Here is helder.
Gemeente: Dit gee insig.

Voorganger: Die eise van die Here vir sy diens is goed.
Gemeente: Dit staan altyd vas.

Voorganger: Die bepalings van die Here is reg.
Gemeente: Elkeen van hulle is regverdig.

Voorganger: Hulle is kosbaarder as goud.
Gemeente: Selfs as baie goud.

Voorganger: Soeter as heuning.
Gemeente: As druppels uit ’n heuningkoek(Ps 19:8-11).

Seëngroet

Die apostoliese groet
“Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die
Here
Jesus Christus” (Rom 1:7; 1 Kor 1:3), wat trinitaries
aangevul kan word met: “… deur die werking van
die Heilige Gees.”

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Verootmoediging

Wet: Matteus 22:34-40
Die vraag oor die grootste gebod

(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis: Lied 276 “Leer ons om in eie oë 1,2”

Vryspraak: Psalms 103:8-13
8Barmhartig en genadig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
9Hy sal ons ons sonde nie bly toereken
en nie vir ewig toornig bly nie.
10Hy handel met ons
nie volgens ons sondes nie,
vergeld ons nie vir ons
ongeregtighede nie,
11want so groot as die afstand
tussen hemel en aarde is,
so groot is sy liefde
vir dié wat Hom dien.
12So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge
van ons af.
13Soos ’n vader hom ontferm
oor sy kinders,
so ontferm die Here Hom
oor dié wat Hom dien.

Alternatiewe Apostoliese Geloofsbelydenis
V: Wie het die hemel en die aarde geskep?
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.

V: Wie het die dood oorwin?
G: En ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel 
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel 
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

V: Wie is die derde persoon van die Drie-eenheid?
G: Ek glo in die Heilige Gees.

V: Wat glo jy van die kerk?
G: Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,

die gemeenskap van die heiliges.
V: Wat glo jy van vergifnis?

G: Ek glo in die vergewing van sondes.
V: Wat glo jy van die hiernamaals?

G: Ek glo in die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.
(Voorstel van Bertie du Plessis in Geboorte en Kindwees van Cas Vos en Julian Müller, 1989:34)

Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader vs 11”

Liedere

F172. “Meer En Meer”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Teks en Musiek: Elsche van Wyk
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

Refrein:
Meer en meer, Vader, meer soos U
Meer en meer soos U, Heer
Meer en meer, Jesus, meer soos U
Meer en meer buig ek voor U neer

1. Meer en meer, Vader, meer soos U
Ek vra myself elke dag: Laat my lewe U glimlag?
Meer en meer, Christus, meer soos U
Heer, ek gee myself aan U meer en meer

Refrein:
Meer en meer, Vader, gee my meer van U
Meer en meer smag ek na U
Meer en meer, Here, meer van u Beeld
Deur u Gees word ek meer en meer soos U

Brug:
U’s die pottebakker, ek die klei
Vorm my net soos U wil

F70. “Lig Vir Die Wêreld”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis / Diensbaarheid)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Maak ons oë oop as ons die nag in kyk
Wys ons die hoop wat duisternis laat wyk
Gee ons woorde, Heer, waarmee ons wyd kan loop
Week ons met waarheid breek ons bekers oop
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons
Skyn in die donker met liefde wat verlos
Stuur ons met lewe vol van helder hoop
Kom vul ons o Gees om sout te kan wees
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons
Heer ontmoet ons hier woon in ons lofgesang
U is die rykdom waarna ons verlang
As U lig ons lei ons na die wêreld stuur
Seën ons met volheid vul ons met U vuur
Kom Jesus skyn laat donker verdwyn
Skyn in die nag laat breek die dag
Vader salf ons oë raak ons met deernis aan
Ons wil U hart vir verlorenes verstaan
Laat ons U wyn en melk neem vir dié sonder geld
En lewensbrood vir hul wat dit nie kan koop
Lig vir die wêreld
Kom skyn deur ons!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here my God,
skenk ons genade
om U te begeer met ons hele hart;
om te smag na U stem met alles wat in ons is.
Want dié begeerte dring ons om U te soek;
en as U óns gevind het, om U lief te hê;
en as ons U liefhet, om sonde te leer haat;
die sonde waaruit U ons verlos het. Amen
(Uit Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, 2001:26. Lux Verbi, Wellington.)

Skriflesing: Markus 9:38-50

Prediking

Familie-oomblik

Die fokusteks bied geleentheid om onder andere aan die kinders te verduidelik dat een van die kwaliteite van ons lewe ’n goeie soutkwaliteit is. Hierdie kwaliteit laat ons in vrede met mekaar lewe. ‘n Storie wat dit illustreer kan goed werk, bv die storie van Ester en Mordegai, wie se geloofsverbintenis getoets is, en die toets deurstaan het.

Die verskil wat sout in kos maak kan ook illustreer word deur ‘n kind of twee te laat proe aan ‘n Matzos kraakbroodjie (vryelik in supermarkte beskikbaar, bitter) en enige ander soortgelyke nibbel soos Salticrax (wat wel sout bevat).

Preekriglyn

Rena Garcia is ‘n eggenoot, die moeder van twee jong kinders, en ‘n voltydse versorger van twee ander kinders. Sy is besig, maar haar gunstelingtyd van die dag is wanneer sy uitgaan om toevallige dade van deernis (random acts of kindness) te verrig.

Sy en haar man, Aaron, maak deel uit van die RAOK-beweging (Random Acts of Kindness). RAOK se doel is om Christene te help om ander anoniem in die Naam van Jesus te help en te seën. Daar is selfs ‘n webblad wat mense aanmoedig om toevallige dade van deernis te verrig.

Sommige van hierdie RAOK’S behels die volgende:

  • Plaas ‘n paar muntstukke by die Laundromat sodat mense dit kan gebruik om hul wasgoed te was – dalk iemand wat nie die nodige kleingeld het nie;
  • Betaal vir die persone in die motor agter joune by McDonald’s;
  • Plaas ‘n paar geskenkkaarte in poshokkies by woonstelblokke;
  • Betaal ‘n maand se huurgeld vir ‘n gesin in nood;
  • Deel water of energiedrankies uit by ‘n sportbyeenkoms.

Rena deel graag RAOK-visitekaartjies uit. Dit verduidelik haar motivering, gee inligting oor haar gemeente, en onderstreep dat daar nie voorwaardes aan haar goedheid gekoppel is nie. Sy sê mense word net soveel na Christus getrek deur woorde as deur dade van diens. Klein, toevallige, onbenullige dade van deernis maak ‘n geweldige impak.

(Foto deur Duncan by flickr.com, Creative Commons lisensie)

Nuwe maniere om waarde te bepaal

In hierdie gedeelte van die Markus-evangelie is Jesus en sy dissipels op reis na Jerusalem. Jesus is aktief besig om sy dissipels te onderrig oor die inhoud en betekenis van dissipelskap.

In ons teksgedeelte keer Jesus die heersende waardestelsel van sy dissipels om. Op talle verrassende maniere wys Hy uit wat werklik waardevol is. Die dissipels ontdek nuwe waarde in dade, gesindhede, onbenullige mense en prioriteite vir die lewe in diens van God.

Een: Waarde van alle dade in die Naam van Jesus (9:38-40)
Net in die voorafgaande gedeelte word vertel hoe die dissipels onder mekaar loop en stry het wie van hulle die grootste in die koninkryk van God is. (34) Dit kos Jesus ‘n kindjie (wat glad nie as belangrik geag is in die destydse kultuur nie) tussen hulle staanmaak om hulle te leer dat die koninkryk anders is. Wie ‘n kindjie in Jesus se Naam ontvang, ontvang Jesus, en ook vir God, wie vir Jesus gestuur het. (36-37)

In vers 38 kom die dissipels se graderingstelsel weer in aksie. Hierdie keer is dit gemik teen iemand wat iets in Jesus se Naam gedoen het. Die dissipels het hom gekeer, want die persoon is nie een van hulle nie. Weer is hier ‘n gevoel van eksklusiwiteit en belangrikheid aan die werk. “Dié man mag nie toegelaat te word om bevryding te bedien nie, want hy is nie een van ons nie.”

Mens moenie die ironie miskyk nie. Vroeër in hfs. 9 kon die dissipels dit nie regkry om ‘m bose gees uit ‘n seun te dryf nie. (9:18) Nou is hulle outoriteite op wie bose geeste mag uitdryf en wie nie.

Jesus se kommentaar is dat sulke mense nie gekeer moet word nie: “Wie nie teen ons is nie, is vir ons.” (40) Jesus prik ook hulle ballon. Hulle gevoel van belangrikheid en uniekheid mag hulle mislei om te dink status tel. Nie status, of die behoort aan my groep tel nie, maar diens in die koninkryk. Jesus bevorder ‘n ruimheid van hart en waardering teenoor ander mense se diens in die koninkryk van God.

Geloofsgemeenskappe sukkel tot vandag toe met hierdie ingesteldheid. Daar is baie groepe wat glo soos hulle glo is alleen reg. Hulle sou verkies om ander liewer stil te maak, want hulle glo nie reg nie en volg “ons” nie.

Dit is ook vir ons ‘n wesenlike gevaar. Ons moet leer om alle mense en groepe se dade in die Naam van Jesus te waardeer. Mense plaas ander aksente, het ander prioriteite as ons, maar dien ook dieselfde Here. Hoe sou groter waardering en openheid vir hierdie diens aan die Here kon lyk?

Dissipels moet die waarde van ander geloofsgroepe en ander dade van gehoorsaamheid op voetspoor van Jesus ontdek. God is ook in die bediening van die ander teenwoordig.

Twee: Waarde van skynbaar onbenullige diens (9:41)
Jesus leer die dissipels ook die waarde van die klein daad raaksien. Ons mag meen die koninkryk kom deur groot projekte, projekte waarby almal betrokke is en ingeskakel is. Ons sug dikwels omdat die “hele gemeente” nie betrokke is nie. Ons bewondering van dit wat groot is, en wyd ondersteun word, maak ons blind vir die waarde van die beker water.

Baie klein gemeentes mag minderwaardig voel omdat hulle nie die massiewe programme en baie instrumente van die groter gemeentes kan hê nie.

Die ekonomie en waardestelsel van die koninkryk sê: “klein is mooi.” Small is beautiful.

Dit is hierdie invalshoek wat die RAOK-beweging gebruik. ‘n Paar munte in ‘n Laundromat, ‘n spasie in die verkeer, ‘n glimlag by die kasregister, laat die koninkryk kom.

Mense wat met hul eie waarde behep is, kyk die klein daad maklik mis. Daarom leer Jesus ons almal ‘n nuwe waardestelsel. Hy herkalibreer ons meetinstrumente.

Drie: Waarde van onbenullige mensies (9:42)
Nie net die klein daad nie, maar ook die onbenullige mens, is in die koninkryk van groot waarde. Ons het verlede Sondag aandag gegee aan die destydse waardestelsel wat kinders as onbenullig en van min waarde geag het. Jesus laat ‘n kleintjie tussen hulle staan en beklemtoon die waarde van ‘n onbenullige mensie. Die woord mikron (klein) beteken iemand wat nie agting afdwing nie.

Niemand is in God se oë onbenullig nie.

Ons eie kulturele waardes laat ons in ‘n slaggat trap. Die bedelaar op die hoek lyk so normaal dat ons later nie sy of haar nood raaksien nie. Ons aanvaar maar dat dit so hoort. Dieselfde geld kinders met dun kleertjies op ‘n koue wintersoggend. Ons is afgestomp, vir ons is dit normaal dat sommige soorte kinders nie so baie klere het nie. As dit nie vir ons normaal was nie, sou ons hulpsisteme geaktiveer en vir die kinders klere gekry het.

Jesus gee ons nuwe lense om die waarde van die mens wat in ons oë onbenullig is, nuut raak te sien.

Meer spesifiek waarsku Jesus dat ons nie kleintjies in die geloof moet laat struikel nie. Die gevaar is spesifiek dat ons so kan optree dat sulke mense (dalk swakkes in die geloof) van Jesus afvallig kan word. In die koninkryk is mense verantwoordelik vir mekaar en vir die opbou van mekaar se geloof.

Vier: Waardeloosheid van hande, voete en oë in die koninkryk van God (9:43-48)
Ons moenie alleen waak om ander van die Here afvallig te laat word nie. Ons moet ook versigtig wees om self nie afvallig te word nie. Dit kan wees dat mens se hand, voet of oog jou sonde laat doen en jou afvallig van die Here laat word.

Dit is beter om fisiese gebrek te ly as om van die Here afvallig te raak. ‘n Lewe sonder ‘n voet, hand of oog is beter as ‘n lewe sonder die Here.

Die uiteinde van mense wat afvallig raak, is die hel. Die Griekse woord wat hier vir hel gebruik word, is gehenna. Gehenna is die naam van die vullisterrein buite Jerusalem, in die Himnondal. Ter wille van higiëne is die vullis verbrand, sodat die afval van krioelende wurms (48) – bakterieë sal ons vandag sê – gereinig kon word. Gehenna word die voorstelling vir die hel, die ewige bestemming van diegene sonder God.

In terme van die koninkryk van God is hande, voete en oë waardeloos. Dit is beter om die ewige koninkryk van God te beërwe as om met ‘n volledige stel liggaamsdele deur die lewe te gaan.

Ons leef in ‘n kultuur wat liggaam skoonheid en volmaaktheid hoog op prys stel. Die waarde van die regte gewig, goeie mate, sensualiteit en ‘n goeie versameling spiere kom vir ons byna vanself. Die waardestelsel van die koninkryk relativeer ons kulturele waardes. Toewyding aan God en die diens van die Here is wat werklik belangrik is.

Vyf: Waarde van lyding en loutering (9:49)
Vers 49 sê almal sal met die vuur van beproewing gelouter word. In die Grieks lui die uitdrukking letterlik: “Elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word.”

Vir die Jode was dit gebruik om alle offerandes te sout (vlg. Lev. 2:13; Eseg. 43:24). Hier word die een wat offer egter ook gesout – en spesifiek met vuur.

Jesus gebruik dus die beeld om na die lyding en loutering van die dissipels te verwys (1 Pet 1:7; 4:12 – vgl. ook Matt 3:11) as hulle regtig getrou aan Hom wil bly. Let ook op hoe die beeld van vuur terugverwys na die vuur van Gehenna in die vorige perikoop. Dit is óf die vuur van die hel óf die vuur van loutering – dié een is ewig, die ander tydelik.

Ons is mense wat graag alle lyding tot niet wil maak. Ons hou nie van lyding nie. Ons pluk die wonderlike vrugte hiervan. Miljoene toegewyde mense werk daaraan om lyding te beveg. Ons bou hospitale, ontwikkel medisyne, ontwerp behandeling, sodat daar vir mense genesing en herstel kan wees. Miljarde mense baat ontsettend baie by die Westerse ideaal om lyding te beveg en uit die weg te ruim.

Weerstand teen lyding kan ons blind maak vir die nut van lyding. Daar is op die weg van dissipelskap groot geestelike waarde aan lyding verbonde. Lyding het ‘n opvoedingsfunksie. Dit vorm ons geestelik. Dit louter ons. Job sê aan die einde van sy ontsettende lyding dat dit hom gehelp het om God as’t ware met sy oë te sien. Vroeër het hy God net van hoorsê geken.

Te midde van lyding en worsteling moet mens ook na God kan vra en die Here vertrou om in ons lyding teenwoordig te wees en ons te vorm. Ons moet vra na die waarde van lyding. Dit louter ons soos goud gelouter word. (1 Pet. 1:17). Dit suiwer ons.

Ses: Waarde van invloed en reiniging (9:50)
Jesus heg groot waarde aan sy dissipels se impak op die wêreld. In ‘n wêreld sonder verkoeling was behandeling met sout die beste manier om kos langer te laat hou. Sout gee ook smaak. Dit bekamp ook bakterieë en keer bederf. Dit bevorder reiniging.

Jesus roep sy dissipels op om groot waarde te heg aan hulle impak op die wêreld. Hulle lewe moet ‘n goeie soutkwaliteit hê. Ter wille van hulle impak moet hulle ook sorg dat hulle eie onderlinge verhoudinge gesond is. Hoe sal jy ‘n positiewe impak kan maak as jy in onvrede met ander dissipels lewe?

Kain se vraag – “Is ek my broer se oppasser?” – is baie gewild in ‘n tyd waar daar soveel diversiteit en verskillende waardes is. Ter wille van politieke korrektheid en uit vrees dat jy as ‘n pretbederwer gesien word, los ons mekaar liewer uit.

Die waarde van sout maak ons medeverantwoordelik vir wat in die wêreld gebeur. Ons moet invloed en impak uitoefen – in die styl van effektiewe sout, wat vrede in die onderlinge verhoudings hoog op prys stel.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Seën
Mag wat u sê en wat u dink
tog aanneemlik wees vir ons
Here, ons Rots en ons Verlosser;
24Die Here sal u seën
en u beskerm;
25die Here sal tot u redding
verskyn
en u genadig wees;
26die Here sal u gebede verhoor
en aan u vrede gee! Amen
(Uit Psalm 19:15 en Numeri 6:24-26)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.