Agtiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In die sleutelteks spreek die profeet Jeremia iets van sy droefnis uit oor die verval van die volk. Die volk het van God vergeet en lewe ver van sy onderwysings. Hulle lewe getuig daarvan dat hulle nie leef vanuit God se sorg nie. Beide die evangelielesing en die Timoteusteks koppel gehoorsaamheid aan God aan sake van ekonomiese geregtigheid. Om aan God gehoorsaam te wees en van God afhanklik te lewe het ekonomiese konsekwensies. Die gelowige word deur die tekste aangemoedig om ook hulle eie posisie in terme ekonomiese aangeleenthede te heroorweeg. Die psalmlesing gee gepaste woorde aan hulle wat hulle skuld voor God wil bely.

Ander tekste

Psalms 79:1-9
Help ons, o God, ons Redder
79 ’n Psalm van Asaf.
Heidene het u land binnegedring,
o God,
hulle het u heilige tempel ontwy
en Jerusalem in puin gelê.
2Hulle het die lyke van u dienaars
aan die voëls gegee om te vreet,
die vleis van u troue dienaars
aan die wilde diere.
3Hulle het die bloed van u dienaars
rondom Jerusalem laat vloei soos water.
Niemand het hulle begrawe nie.
4Ons het ’n bespotting
vir ons buurvolke geword,
ons word gespot en uitgejou
deur almal rondom ons.
5Hoe lank sal dit nog aanhou, Here?
Sal u toorn dan vir altyd duur,
u woede soos ’n vuur bly brand?
6Laat u gramskap die heidene tref:
hulle dien U nie;
laat dit die koninkryke tref
wat u Naam nie aanroep nie.
7Dit is hulle wat vir Jakob
tot niet gemaak
en sy woonplek verwoes het.
8Moet tog nie die ongeregtighede
van vorige geslagte
op ons laat neerkom nie,
ontferm U tog gou oor ons,
want ons kragte is gedaan.

9Help ons, o God, ons Redder, 
ter wille van die eer van u Naam, 
red ons, vergewe ons ons sondes
tot die eer van u Naam.

Lukas 16:19-31
Die ryk man en Lasarus
19“Daar was ’n ryk man wat duur en deftige klere gedra en elke dag feestelik en weelderig geleef het. 20–21En daar was ’n arm man met die naam Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry. Hy was oortrek van die swere en selfs die honde het daaraan kom lek.

22“Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. 23Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: 24‘Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.’25Maar Abraham sê: ‘My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. 26En buitendien is daar ’n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.’27Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe. 28Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’29Maar Abraham sê: ‘Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’30Hy antwoord egter: ‘Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.’31Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan.”

1 Timoteus 6:6-19
6Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, 7want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. 9Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. 10Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.

Die goeie stryd van die geloof
11Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. 12In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê. 13Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou: 14“Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.” 15Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. 16Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.

17Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. 18Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. 19So vergader hulle vir hulle ’n skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.

20Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die “kennis”, soos dit verkeerdelik genoem word. 21Daar is mense wat daardie “kennis” aanhang en so van die geloof afgedwaal het.
Die genade sal by julle wees!

Fokusteks

Jeremia 8:18-9:1
Ek is in die rou
18My smart oorweldig my,
ek is hewig ontsteld.
19Hoor hoe benoud roep my volk
uit ‘n ver land:
“Is die Here nie meer in Sion nie?
Is Sion se koning nie meer
in hom nie?”
Waarom tart hulle My
met hulle afgodsbeelde,
met hulle vreemde nikswerd gode?
20“Die oes is af, die somer is verby,
en ons is nog nie gered nie.”

21My volk se wonde is ook my wonde, ek is in die rou, deur angs oorweldig. 22Is daar nie balsem in Gilead nie? Is daar nie ‘n dokter nie? Waarom het my volk nie gesond geword nie?

9 Ag, was my kop maar vol water en my oë ‘n fontein met trane, dan sou ek dag en nag huil oor my volksgenote wat gesneuwel het.

2Ag, was daar maar in die woestyn ‘n herberg dat ek my volk hier kon agterlaat en van hulle af kon weggaan daarnatoe. Hulle is almal egbrekers, ‘n klomp ontrou mense.

Liturgie

RUS

Toetrede
Lied 156 of Flam 187 of Vonkk 123

Votum: (Op grond van Ps 41:2-3 14)

Seëngroet

Lofsang
Lied 601 of Flam 125 of Vonkk 133

Wet: 1 Timoteus 6:6-13

Skuldbelydenis: (responsories n.a.v. 1 Tim 6:6-13)

Vermaning: (1 Tim 6:13-16)

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: (Uit Die Bybel vir Almlal as deel van familie-oomblik)

Preek

LEEF

Voorbidding: (Aan die hand van die familie-oomblik met “There is a balm in Gilead”

Dankoffer

Slotlied
Lied 488 of Flam 345 of VONKK 18

Seën: (’n Ou Franciskaanse seën)

Respons
Lied 488 v4 se laaste sin: Mag U troos, Heer, deur óns bied OF Flam 345 Refrein OF Vonkk 18 Refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Hier is ‘n lied en video op grond van vanoggend se fokusteks. Jy kan dit gebruik in die plek van die toetrede, net voor die Skriflesing of na die preek.

Toetrede
Lied 156 “Loof, loof die Here!” Of
Flam 187 “Net Soos Ek Is (Raak My)”
Vonkk 123 “Wees Stil en Weet vv 1 en 4”

Votum
Dit gaan goed met die mens wat na die swakkes omsien. Die Here sal hulle red op die dag van nood, die Here sal hulle beskerm en in die lewe hou; die hele land sal praat oor hoe goed dit met hulle gaan. Aan die Here, die God van Israel, kom die lof toe tot in die allerverste toekoms. Amen, ja, amen. (Op grond van Ps 41:2-3 14; uit Wepener, Cas 2011. Soos ‘n Blom na die Son Draai. Bybel-Media, Wellington.)

Seëngroet

Lofsang
Lied 601 “Dié wat die Here wil dien” of
Flam 125 “Wat ’n Liefde”
Vonkk 133 “My lippe wil hom loof”

Wet: 1 Timoteus 6:6-13
6Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, 7want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. 9Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. 10Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.

11Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. 12In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê.

Skuldbelydenis
Voorganger: Here, ons het geval in versoeking. Onse loop ons vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes.
Gemeente: Here, wees ons genadig!

V: Ons het geld nagejaag en van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons wil streef na opregtheid, toewyding aan U, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.
G: Here, wees ons genadig!

V: In die goeie wedloop van die geloof wil ons al ons kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal.
G: Here, wees ons genadig!

Vermaning: 1 Tim 6:13-16
13Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou: 14“Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.” 15Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. 16Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 123 “Wees Stil En Weet”
Teks: Stille, mein Wille! – Katharina von Schlegel (gebore 1697); Be still my soul – Jane Borthwich 1814-1897; Jacques Louw 2010 © Musiek: FINLANDIA – Jean Sibelius 1899 (1865 -1957) © Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Lyding en Nood / Sterwe en Begrafnis

1. Wees stil en weet: Die Here God regeer.
Kom bring na Hom jou hartseer en jou pyn.
God sal voorsien; in donker tyd van seer
sal sy genade helder oor jou skyn.
Wees stil en weet: Die Here God regeer.
Net Hy genees ons hart se diepste seer.

2. Wees stil en weet: Die Heer is altyd daar.
In smart en eensaamheid is Hý by jou.
Sy Heil’ge Gees sal jou getrou bewaar
en met sy troos en liefde jou omvou.
Wees stil en weet: Die Heer is altyd daar.
Hy sorg vir jou in hartseer* en gevaar.

3. Wees stil en weet: As storms om jou woed,
is Hy die rots waarop jy kan kan bou.
Vertrou op Hom; in voor- en teëspoed
kan jy jou lewe aan Hom toevertrou
Wees stil en weet: Die Here is jou krag.
Hy gee jou moed en hoop vir elke dag.

4. Wees stil en weet: Jou God is in beheer.
Niks sal jou ooit kan ruk uit God se hand.
Geen siekte, swaarkry wat jy mag ontbeer
sal jou kan skei van God se liefdesband.
Wees stil en weet: Jou God is in beheer.
Niks kan sy liefde vir sy kinders keer.
* kan met siekte/lyding/swaarkry vervang word

VONKK 133 “My Lippe Wil Hom Loof (Psalm 34)”
Teks: Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo) Musiek: NUWE SEISOEN – Jacus Krige 2009 Orrelbegeleiding: Jacus Krige 2010
Klavierbegeleiding: Colin Campbell 2010 (Pro Deo) © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing
Keervers:

My lippe wil Hom loof, die Here altyd prys,
sy roem ewig lofsing, sy Naam eer bewys.
My lippe wil Hom loof, die Here altyd prys,
sy roem ewig lofsing, sy Naam eer bewys.

Psalmvers:
Die Heer het gehoor, Hy het my bevry.
Dié een wat sy hulp soek, sal straal en gedy.
Die Here sal sorg vir dié wat Hom dien.
Hul kom ook niks kort nie, hul weet dat God voorsien.

Keervers:
My lippe wil Hom loof, die Here altyd prys,
sy roem ewig lofsing, sy Naam eer bewys.
My lippe wil Hom loof, die Here altyd prys,
sy roem ewig lofsing, sy Naam eer bewys.

Psalmvers:
Die Here is by die mense wat treur.
Hy gee hulle moed, en genees hulle seer.
Ook kinders van God sal rampe ervaar,
maar Hy help hul telkens, Hy red hul uit gevaar.

Laaste keervers:
My lippe wil Hom loof, die Here altyd prys,
sy roem ewig lofsing, sy Naam eer bewys.

VONKK 18 “Ek Soek Na Die Lewende Water (Psalm 42 en 43)”
Teks : Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo) Melodie: AUAS – Jacus Krige 2008 © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Klassiek – Toetrede en Aanroeping

1. Ek soek na die lewende water,
ek roep en dors na U, Heer –
want ek huil dag en nag, o Here, ek smag
om by U te wees nog ‘n keer.

Refrein:
Al is ek ontsteld en mismoedig,
met hartseer en onrus omring,
weet ek God is my hoop,
Hy help my weer op –
ek sal al my lof aan Hom bring.

2. Hul spot en hul vra my aanhoudend:
Waar is dié God van jou nou?
Al het golwe van swaarkry oor my gespoel,
tog wéét ek ek kan U vertrou.

Refrein:
Al is ek ontsteld en mismoedig,
met hartseer en onrus omring,
weet ek God is my hoop,
Hy help my weer op –
ek sal al my lof aan Hom bring.

3. O Here, kom red en verhoor my,
help my en spreek my tog vry –
met valsheid wil bose mense my vang,
maar U is ‘n skuilplek vir my.

Refrein:
Al is ek ontsteld en mismoedig,
met hartseer en onrus omring,
weet ek God is my hoop,
Hy help my weer op –
ek sal al my lof aan Hom bring.

4. Kom stuur nou u lig en u waarheid,
laat dit my lei na u huis
want, God, U’s my God, –
die bron van my lof,
my lied sal U jubelend prys.

Refrein:
Al is ek ontsteld en mismoedig,
met hartseer en onrus omring,
weet ek God is my hoop,
Hy help my weer op –
ek sal al my lof aan Hom bring.

F187. “Net Soos Ek Is (Raak My)”
(RUBRIEK: Flam – Toetrede) Teks en musiek: Juan Weber © MAR Gospel Music Publishers

1. Net soos ek is soek ek na u teenwoordigheid
sonder die maskers wat my veilig hou.
Net soos ek is soek na u aangesig
sonder motiewe wat geheime hou.
Vader my woorde is min, en dit maak soms nie sin
maar die dieptes van my hart,
die dieptes van my hart
roep na U …

Refrein:
Raak my, raak my en maak my met U een.
Raak my, raak my en trek my na u Seun.

2. Vuil soos ek is soek ek na u genade Heer
met die merke van my sondes.
Stukkend soos ek is vra ek genesing vir my seer
met die salf van u liefde.
Vader my woorde is min, en dit maak soms nie sin.
Maar die dieptes van my hart,
die dieptes van my hart
roep na U…

Refrein:
Net soos ek is soek ek na u teenwoordigheid
sonder die maskers wat my veilig hou.

F125. “Wat ’n Liefde”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Oorspronklike titel: Wat Een Liefde Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2006 Faani Engelbrecht © 2004 Celmar Music

In U is my huis, in U is ek heilig, in U …
By U vind ek troos, by U kan ek huil.
In U vind ek rus, in U kan ek skuil, in U …
U neem my in u arms en droog my trane af.

Refrein:
Wat ’n liefde! (x6)
By U is dit goed, U gee my u seën.
In U is my hoop, in U is my weë, in U.
U het uself vir my gegee,
in U kan ek wees, in U kan ek lewe, in U.
Ek hoef niks weg te steek nie
want U wys my nooit weg nie.

Refrein:

Brug:
En dat ek steeds terug mag kom
selfs al het ek ver afgedwaal.
En U my altyd wil vergewe
al het ek ook gefaal.

Refrein:
Dit is liefde! (x6)
U is liefde! (x8)

F345. “Seën Die Gebarste Lippe (Al Wat Ek Begeer)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Retief Burger Kopiereg: Ó 2005 Urial Publishing
(Opgeneem op Luidkeels)

1. Seën die gebarste lippe en die eenvoud in my stem
en neem my verwarde hande na die kamer van u troon,
want my hart is koud en die trane is al droog gehuil.
My siel verlang en die dors drup oor my gees.

Refrein:
U is al wat ek begeer.
Die wêreld kan kom, die wêreld kan gaan,
maar U sal ewig staan.
U is alles en nog meer
en my hele lewe smag na U, Heer!

2. Iewers tussen my en U het ek die vuur geblus.
En emmer in die hand staan ek verslae en kyk,
want my keel is seer en die lof het soos die reën verdwyn.
Ek’s moeg gesoek, en nou wag ek op my God.

Refrein:

Brug:
En daarom weet ek daar is geen beter plek vir my
as hier by U, verlange en begeerte van my hart.

Refrein:
Want U is al wat ek begeer.
Die wêreld kan kom, die wêreld kan gaan,
maar U sal ewig staan.
U is alles en nog meer
en my hele lewe smag na U, Heer!
Ek smag na U, Heer.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing 
Gebruik die voorstel hier onder by die familie-oomblik vir die Skriflesing.

Familie-oomblik

Voordat jy die skrifgedeelte lees, verduidelik dat Jeremia baie, baie hartseer was nadat sy dorp, Jerusalem, in ‘n oorlog vernietig is. Baie van sy mense is doodgemaak en ander is gevange geneem. Lees eers 9:1 om die konteks te verduidelik. Terwyl ons na hierdie gedig luister, kan ons hoor dat hierdie ‘n gebed is wat baie mense in Sirië en Egipte ook vandag sal bid.

Lees die skrifgedeelte uit Die Bybel vir Almal:
18 Ek, Jeremia, word bekommerd en siek, 19 want ek hoor my mense kla in ’n ver land. Hulle vra: “Is die Here nie meer in Sion nie? [Sion: ’n Ander naam vir Jerusalem.] Woon die Koning nie meer daar nie?” Maar die Here vra: “Hoekom maak hulle My kwaad met hulle beelde, [Beeld: Mense het dit gemaak, dit het gelyk soos ’n mens, of soos ’n dier, of soos die mense gedink het ’n god lyk. Die beeld het hulle laat dink aan die god, en die mense het voor die beeld gebuig en by hom offers gebring vir die god.] met ander volke se gode [Gode: Mense het verskillende dinge aanbid omdat hulle gedink het daardie dinge regeer hulle lewens. Hulle het daardie dinge “gode” genoem.] wat niks beteken nie?” 20 Hulle sal in daardie ver land sê: “Die somer en die tyd om koring af te sny, is verby, maar die Here het ons nog nie gered nie.” 21 Die vyande sal my mense baie swaar laat kry, en daarom kry ek nou ook swaar. Ek huil en treur omdat hulle gaan sterf, ek word baie bang. 22 Daar is balsem [Balsem: ’n Boom se gom. Dit ruik lekker. Dit was medisyne vir seerplekke.] in die land Gilead, en daar is dokters, maar my mense het nie gesond geword nie. 19:1 Ek wens my kop was vol water,
en my oë fonteine vol trane. Dan het ek elke dag en nag aangehou huil oor my volk se manne wat in die oorlog gesterf het.

Verduidelik dat balsem ’n salf is wat seerplekke beter maak. Gee vir almal ’n bietjie salf en laat hulle dit op hul hande vryf terwyl hulle bid vir mense wat seer het, soos die mense in Sirië.

Jy kan die Negro Spiritual “There is a balm in Gilead” speel terwyl mense in stilte bid. Verduidelik wat slawe is en dat Negro Spirituals liedere is wat hierdie mense lank gelede in die VSA gesing het om hul seerkry te verwoord en te bid dat God hulle sal help. Jy kan na ’n pragtige weergawe daarvan luister hier.

Refrain
There is a balm in Gilead / To make the wounded whole; / There is a balm in Gilead / To heal the sin sick soul.
Some times I feel discouraged, / And think my work’s in vain, / But then the Holy Spirit /
Revives my soul again.

Refrain

If you can’t preach like Peter, / If you can’t pray like Paul, / Just tell the love of Jesus,
And say He died for all.

Refrain

OF vertel die storie van Harriet Tubman, wat deur God gelei is om uit slawerny te ontsnap en baie ander gehelp het om te ontsnap. Kry ’n oorsig oor haar storie (en ’n paar pragtige illustrasies), gaan luister na die hele storie “Moses: When Harriet Tubman led her people to freedom” deur Carol Boston Weatherford en vertel dit in jou eie woorde oor.

Preekriglyn

Die aangrypende toneelstuk, Every year, every day, I am walking, vertel die verhaal van ‘n jong vlugteling in Afrika wat huis en familie op ‘n gewelddadige manier verloor. Deur gevaar en onsekerheid heen word die vlug na nuwe plekke voortgesit. Dié Suid-Afrikaanse toneelstuk gaan oor ontworteling, wat dit beteken om ‘n tuiste te hê, Afrika, verlies, en die eerste, voorlopige treë na heling en die bou van ‘n nuwe lewe. Só beskryf ‘n resensent hierdie kragtoer van Suid-Afrikaanse fisieke teater.

Die verhaal begin ‘n Franssprekende Afrikaland waar ‘n moeder en haar twee jong dogters, Ernestine en Agi, in ‘n veilige ruimte woon. Alles is ‘n heerlike, avontuurlike grootword-spel, selfs die wasgoed, skoonmaak en koskook. Dan pak die onweerswolke saam. Gewelddadige politieke onrus, dalk etniese suiwering, ontwortel die gesin. Die moeder word verkrag en Ernestine gedood.

Meteens word moeder en dogter ontwortelde vlugtelinge. Hulle vlug per voet, vragmotor, trein en op enige ander manier denkbaar. Die ontwrigting, angs, onsekerheid en ontworteling word kragtig uitgebeeld.

Na maande van vlug beland hulle in Kaapstad. Die stad is ‘n Babelse verwarring. Die vlugtelinge is Franssprekend, verstaan nie die Engelse omgewing nie, en word ook nie verstaan nie. Die Kapenaars is nie vriendelik nie. Xenofobiese verwerping op skool word Agi se voorland. Die moeder worstel van bakboord na stuurboord om haar vlugtelingstatus bevestig te kry. Sy sukkel om enigsins hulp te kry.

Every year, every day, I am walking vang ontworteling op ‘n kragtige manier vas. Teen die einde reflekteer ‘n volwasse Agi op die plek waar sy nou lewe, en die plek waar sy vandaan kom deur te sê: “Ek weet nie veel van hier nie, en ek kan nie veel onthou van daar nie.” Dit is, skryf ‘n resensent, ‘n akkurate beskrywing van die universele lot van vlugtelinge. Die krag van hierdie toneelstuk, vir die eerste keer in 2007 in Suid-Afrika op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad opgevoer, lê in die verhaal wat op ‘n mikrovlak – die lot van twee vlugtelinge, moeder en dogter – vertel word.

‘n Foto van ‘n oomblik in die toneelstuk is hier beskikbaar.
Reëlings tov kopiereg is onbekend.

Ontworteling

Jeremia 8 skud die voorstellings wat ons van God mag hê. Hier word ‘n streep getrek deur prentjies wat God as apaties, onbeweeglik, onroerbaar sien. Hier ontmoet ons ‘n Vader wat huil oor ‘n verlore volk. God is hier die ontwortelde God, ‘n God sonder ‘n volk, en ‘n land as ruimte waar God geken, gedien en geëer word.

Abraham Heschel sê: “Israel’s distress was more than a human tragedy. With Israel’s distress came the affliction of God. His displacement, His homelessness in the land, in the world. And the prophet’s prayer ‘O save us’ involved not only the fate of a people. It involved the fate of God in relation to the people. For Israel’s desertion was not merely an injury to man, it was an insult of God” (soos aangehaal in Woord en fees).

Hoe het God in hierdie posisie beland? Die agtergrond is die gebeure in die laaste twee dekades voordat Jerusalem uiteindelik in 586 v.C. verwoes en sy bevolking in ballingskap geneem is. Die opstapeling van moedswillige sonde van die volk het tot God se oordeel gelei. Ten spyte van herhaalde waarskuwings deur profete, in hierdie tyd spesifiek Jeremia, weier die volk om terug te draai na God. Hulle dink trouens dat hulle saak met God reg is omdat God se tempel in Jerusalem staan. Hulle dink Jeremia praat onsin as hy God se oordeel aankondig.

God se oordeel oor die volk kom met ‘n hoë prys. Dit laat God sonder ‘n volk in God se beloofde land. Ons teksverse lig die sluier oor die droefheid en ontworteling wat dit vir God meebring.

Groter boodskap van Jeremia 8

Ons teksgedeelte (Jeremia 8:18 – 9:1) is deel van ‘n groter gesprek wat van 8:4 tot 9:2 gevoer word. Hierdie gesprek pas weer in ‘n groter onderdeel van die boek in, wat van 8:4 tot 10:25 strek. Die tema van oordeel as gevolg van die sonde van die volk, maar ook ‘n passievolle oproep tot bekering word keer op keer herhaal.

Ons het hier met poëtiese teks te doen, waarin opeenvolgende vrae gevra word om met ‘n sterk refrein die punt te maak. Byvoorbeeld: Waarom draai julle van my weg en hou julle aan om weg te draai? (8:5); Waarom hou julle vol met julle bedrog? (8:5); Waarom het julle nie berou oor julle sondes nie? (8:6).

Israel word beskryf as ʼn geharde rebel wat nie wil opstaan, nie wil terugdraai, hulle nie wil bekeer nie. In kontras ken die trekooievaar, die swaeltjie en kraanvoël, elk hulle tyd en pad. Ironies het die voëls en diere ware wysheid – hul ken die weg van Here, maar nie Israel nie.

Die aanklagte word vroeër in Jeremia 8 opgestapel:

  • Israel word in verse 8 – 10 aangekla van bedrog, vervalsing, verwerping van die wet en selfverryking. Die ernstige aanklagtes word gemaak teen die leiers van die volk (wyses, profete en priesters). Die sondige leiers plaas die hele geloofsgemeenskap op verkeerde en verdraaide paaie. Die oordeel is fel – hulle eiendom en vrouens sal vir ander gegee word (vgl Jer. 6:12; Duet. 28:30).
  • Volgens verse 11 – 13 bedrieg die leiers die volk. Die volk is gewond maar die leiers lieg en sê: “Alles is reg! Alles is reg!” Hulle is skaamteloos verblind vir hulle eie bedrog. Die leiers kan nie insien hoe verkeerd hulle is nie. Hulle is ʼn misoes. Israel dra geen vrugte nie – die Here het vrugte verwag, maar kry verdroogde blare! Die oordeel weereens fel – vernietiging.
  • In verse 14 – 17 word Israel se verwoesting met kragtige beelde voorgestel. Ironies wys Israel in vers 14 die vinger na God, verwyt hulle Hom en gee Hom die skuld vir die oordeel.
Hartseer

Wat sit agter God se oordeel? Die oningeligte mag dink dis ‘n hardvogtige God wat sy volk genadeloos straf. Die oordeelswoorde mag klink na ‘n wraaksugtige tiran wat mense soos insekte behandel.

Verse 18-21 skets die intense meelewing en hartseer in God se hart. God se woede en oordeel word oorweldig deur sy hartstog en patos.

Daar is verskillende menings oor óf hierdie die woorde van Jeremia óf van die Here is. Meeste uitleggers meen egter dat die woorde en hartseer van die profeet en die Here hier so verstrengel raak, dat die profeet/Here saam praat en uitroep.

God se hartseer word skerp gekontrasteer met die leiers se houding. Israel se leiers verseker die volk (en glo self ) “alles is wel”, maar die realiteit is dat Israel dodelik gewond is. Die leiers is ongestoord en gaan doodgewoon voort met hulle verwronge aanbidding en tempeldiens, terwyl die Here geweldig ontsteld is oor sy sterwende en selfvernietigende volk. Israel dink die Here is teenwoordig en vra verontwaardig: “Is die Here nie meer in Sion nie?” Hoe kan Israel verwag die Here moet teenwoordig wees by “afgodsbeelde en vreemde nikswerd gode”?

Is daar ‘n dokter?

Diep ontsteld vra die profeet/Here in vers 22: Al is daar nie dan balsem/genesing in Israel nie, is daar dalk balsem in Gilead? Gilead, oorkant die Jordaan, was bekend vir die balsem van bome wat elemente vir genesing gehad het. Is daar nie ‘n dokter wat genesing kan bring nie?

Natuurlik is daar balsem in Gilead. Natuurlik het die dokter reeds bekering en gehoorsaamheid as genesing voorgeskryf. En tog weier die volk om gesond te word.

Die profeet/God is opnuut beweeg tot ontroosbare patos: “Ag, was my kop maar vol water en my oë ‘n fontein met trane, dan sou ek dag en nag huil…. Ag, was daar maar in die woestyn ‘n herberg dat ek my volk hier kon agterlaat en van hulle kon weggaan daarnatoe….” (9:1-2)

Die beelde spreek vanself; God ween meer as wat moontlik is, meer as wat Hy kan vir sy volk wat nou gesneuwel het. God wil selfs wegdraai en vlug! Die paragraaf het begin met die volk wat wegdraai van God en eindig met God wat wil wegdraai van sy volk – die woestyn (simbool van verlatenheid en swaarkry) in!

‘n God wat huil

Ons teks lig die sluier op die belewenisse in die vaderhart toe die verlore seun sy erfporsie vat en loop. ‘n God wat huil oor die toestand van God se volk en God se wêreld. Dit is ʼn oorweldigende gedagte: Dat God ly. Dat God ween en treur – met ons, maar ook as gevolg van ons. God huil met ons.

In die tyd toe miljoene Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Duitse konsentrasiekampe gesterf het, het drie grysaards, Abraham, Isak en Jakob, voor die troon van God verskyn:

“Abraham sê toe vir die Here: ‘Die wet verbied dat ʼn dier en sy kleintjie op dieselfde dag geslag word. Tog word vaders en seuns elke dag geslag en boonop in die teenwoordigheid van mekaar. Is die Jode dan minder werd as diere? Of het U u eie wet verbreek? Regter onder die regters, ek vra U nie om al u geheime prys te gee nie. Verklaar slegs vir my een: waarom laat U sommige tog nog in die lewe bly? Skepper van die hemel en aarde, erken tog die waarheid van my woorde. Ek het die reg gehad om vir Sodom te pleit – kan ek dan nie nou pleit vir ʼn miljoen onskuldige kinders nie?'”

Isak en Jakob het soortgelyke hartroerende betoë oor die lot van die Jode voor die hemelse troon gelewer. Daarna het die drie manne van God af weggegaan. God het skynbaar nie gehoor nie. Of Hy is onbetrokke en stel nie belang in wat op aarde gebeur nie.

Iets het hulle egter nie gesien nie.

God was besig om te huil. Hy het met volle oorgawe gehuil. Wat hulle ook nie gesien het nie, was dat, toe hulle die hemel verlaat, hulle nie alleen op hulle pad was nie, God het hulle vergesel.” (Robert Vosloo vertel die verhaal van Elie Wiesel tydens WO II, soos aangehaal in Woord en fees).

Diepste besef van wie God is

God huil ook as gevolg van ons. Die beeld van God roep tot die diepste besef van wie God is, wie ons is, en wat die verhouding tussen God en mens is.

Soms dink ons God is onbetrokke. Daar word berym en gesing (o.a. Bette Midler & Cliff Richard): “From a distance . . . God is watching us . . . from a distance.” Dit is nie waar nie. God is nie ver nie. Hy is nie ʼn buitestander nie. Christus het toe Hy oor Jerusalem gekyk en geween het, nie weggedraai en die woestyn in gevlug nie. Nee. Christus het opgestaan en die via dolorosa Golgota toe gestap. Soos God ontsteld geraak het oor Israel en Christus ontsteld geraak het oor Jerusalem (sy ingewande geroer het; vgl. Jer. 31:20), so raak Hy vandag nog ontsteld oor ons. God se hart breek oor die afvalligheid van sy volk, oor ons sondes. God ly as gevolg van ons blindheid, ons gierigheid, ons hardkoppigheid.

Die hartstogtelike kreet weergalm steeds “Jerusalem, Jerusalem!”

Dit weergalm tot vandag toe. Ook oor ons, om ons tot gehoorsaamheid en wederkerige liefde tot ons God op te roep.

God stuur ons om te leef

Gebed
As jy nie die voorstel by die familie-oomblik gebruik het nie, kan jy dit hier doen: Gee vir almal ’n bietjie salf en laat hulle dit op hul hande vryf terwyl hulle bid vir mense wat seer het, soos die mense in Sirië. Jy kan die Negro Spiritual “There is a balm in Gilead” speel terwyl mense in stilte bid. Verduidelik wat slawe is en dat Negro Spirituals liedere is wat hierdie mense lank gelede in die VSA gesing het om hul seerkry te verwoord en te bid dat God hulle sal help. Jy kan na ’n pragtige weergawe daarvan luister.

Refrain
There is a balm in Gilead / To make the wounded whole; / There is a balm in Gilead / To heal the sin sick soul.
Some times I feel discouraged, / And think my work’s in vain, / But then the Holy Spirit /
Revives my soul again.

Refrain

If you can’t preach like Peter, / If you can’t pray like Paul, / Just tell the love of Jesus,
And say He died for all.

Refrain

Dankoffer

Slotlied 
Lied 488 “Helder skyn u lig” (v4: Balsem bring herstel vir die nasies)
Flam 345 “Seën Die Gebarste Lippe” (Al Wat Ek Begeer)
VONKK 18 “Ek Soek Na Die Lewende Water” (Psalm 42 en 43)

Seën
Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings, sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.
Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.
Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.
En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.
Amen.
(’n Ou Franciskaanse seën)

Respons
Lied 488 v4 se laaste sin: Mag U troos, Heer, deur óns bied of
Flam 345 Refrein
Vonkk 18 Refrein

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.