Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Preekstudie – Jakobus 5:13-20

Teks

Die doel van die brief
Jakobus rig sy brief aan die twaalf stamme van Israel in die verdrukking (1:1). Hy skryf dus nie aan een bepaalde gemeente nie. Tipies volgens Ou Testamentiese wysheidsliteratuur, lyk die brief na losstaande raadgewings sonder ’n spesifieke doel. Dit is geskryf aan mense wat konflik onderlinge en rondom hulle ervaar het. Jakobus se doel is om hulle perspektief te gee en tot genesing en heilsaamheid te begelei.

Dirkie Smit gebruik ’n insiggewende beeld om die doel en inhoud van die Jakobusbrief te beskryf. Hy sê Jakobus hou die brief soos ’n spieël voor sy lesers om hopelik hulleself daarin te herken. Jakobus hoop sy lesers sal hulle gebrek aan wysheid en hulle tekortkomings, kortsigtigheid en ongehoorsaamheid raaksien en skuld erken. Indien die gemeente hulleself so met al hierdie gebreke in die spieël herken en dit bely, kan dit tot innerlike en onderlinge vrede lei (1:4).

Die sleutelrol van gebed
Jakobus begin sy brief met ’n oproep om te bid (1:5) en hy eindig dit weer met die tema van gebed (hfst 5). Die hele boek kan eintlik as onderwysing in gebed beskryf word (Smit). Daarom sluit Jakobus die brief af met ’n oproep aan sy lesers om gelowig, hoopvol en biddend te bly sodat hulle heilsaamheid en genesing kan vind. Gebed blyk die beste raad te wees wat Jakobus vir sy lesers se stryd aanbied. Dit is die hooffokus van 5:13-18.

Daar is drie aspekte van gebed hier ter sprake.

Die eerste aspek is wanneer gebid moet word (v 13-14). Daar is drie geleenthede: tydens swaarkry (v 13), tydens blydskap (lofliedere is ook ’n vorm van gebed v 13) en tydens siekte (v 14). Swaarkry wys op die innerlike, emosionele stryd as gevolg van uiterlike beproewings. Dan moet hulle nie minder bid of ophou bid nie, maar juis met geduld aanhou bid. Die verwysing na Elia in vers 17 dien as ’n as aansporingsvoorbeeld.

Lofliedere is ’n uitnodiging aan almal om saam te sing en dank en lof te bring. Blydskap is iets wat ’n mens met ander wil deel. Dit is beslis nie ’n solosang nie. Die siekes waarvoor gebid moes word, kon vanweë hulle fisiese omstandighede nie die openbare byeenkomste bywoon nie. Hulle word egter nie geïsoleer nie. Die ouderlinge as gesagspersone en verteenwoordigers van die gemeente, moet hulle besoek en vir hulle bid.

ʼn Tweede aspek is hoe die gebed gedoen moet word (v 14-16). Jakobus gee vier aanduidings: Die ouderlinge word ingeroep (v 14), hulle moet in die Here se Naam bid (v 14), hulle moet gelowig bid en met olie salf as teken van die Here se seën (v 15) en die gebed moet met belydenis van sonde teenoor God gepaardgaan (v 16).

In Grieks het die woorde “genesing” (sozo) en “gesond maak” (egeiro) ’n dubbele betekenis. Die 1953-vertaling bring die dubbele betekenis van die twee woorde na vore: “En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word” (v 15). “Red” (sozo) kan genees beteken, maar dit kan ook beteken “om te verlos”. Moontlik wil Jakobus beide betekenismoontlikhede beklemtoon: Die sieke sal van fisiese siekte genees word én van sonde verlos of genees word. Liggaamlike genesing sowel as geestelike genesing is belangrik. Die Jode het sonde en siekte nou aan mekaar verbind. Die geloofsgebed kan albei kante toe genesing te weeg bring.

Die tweede woord egeirō, vertaal as “en die Here sal hom oprig”, het ook ’n dubbele betekenis in Grieks. Jesus gebruik dieselfde woord (egeirō) om na sy eie opwekking uit die dood te verwys (Joh 2:19-22), terwyl Paulus dieselfde woord gebruik om na ons opstanding te verwys (1 Kor 15;15; 2 Kor 4;14). Jakobus se uitspraak kan hier tweeledig verstaan word: Die siek persoon sal van sy siekbed af opstaan. So sal hy ook tot die ewige lewe opstaan.

Die derde aspek van gebed is die doel daarvan (v 15-18). Jakobus gee drie redes waarom gebid moet word. Eerstens beoog gebed (v 15-16) die sieke se genesing en gesondheid sowel as vergifnis van sonde vir beide die sieke en die gemeente. Tweedens het die gebed van ’n gelowige ’n kragtige uitwerking (v 16). Jakobus verwys hier na ’n mens wat bid, maar dubbelhartig bid. Die bidder vra dus een ding van die Here, maar begeer in werklikheid iets anders. Dit is soos ’n brander wat deur die wind in enige rigting aangejaag word (Jak 1:6-7). Hulle moet gelowig bid, opreg, eerlik en bedoel wat hulle van die Here vra. Dit wil sê, die bidder moet God se wil soek en nie iets anders of hulle eie wense najaag nie (Jak 4:3). Die kragtige uitwerking berus nie by die bidder nie, maar by God tot wie gebid word. Gebed dra krag omdat God daardeur verandering bewerkstellig. Derdens verwys Jakobus na Elia as ʼn voorbeeld van gebedsverhoring (v 17-18). Elia is ’n voorbeeld van ’n gewone mens wat gebid het, waarna God toe kragtig ingegryp het. Hy is ’n voorbeeld van ’n gelowige mens wie se gebed ’n kragtige uitwerking gehad het. Elia moes egter ernstig en met geduld volhard het.

Gemeenskap
Gemeenskaplikheid word in besonder in Jakobus 5:19-20 beklemtoon. Hier plaas Jakobus die klem op die gemeenskaplike herstel “communal restoration” (Mcknight). Een van die kenmerke van die brief is die fokus op die gemeenskapsetos (Johnson), eerder as op individuele gedrag. In ons teksgedeelte staan die gemeenskaplike verantwoordelikheid uit. Jakobus bevorder ’n etiek van integriteit wat daarop gemik is om mekaar op te bou en te ondersteun. Hy visualiseer ’n gemeenskap sonder enige verdeeldheid of diskriminasie, een wat mekaar in alle opsigte ondersteun en in vrede saamleef.

In voorafgaande hoofstukke beklemtoon Jakobus dat klas en armoede nie God se kinders mag verdeel nie. In hoofstuk 5 pas hy nou dieselfde beginsel op swaarkry en opgeruimdheid toe. In albei gevalle moet daar gebid word. Bid vir mekaar (v 16). Die gebed vir siekes geskied juis binne die konteks van die geloofsgemeenskap. Indien een lid siek is, is die hele gemeente swakker. Siekte en dood het verreikende gevolge vir die gesinne gehad, veral as die sieke boonop die broodwinner was. Die gemeente het verantwoordelikheid geneem vir die versorging van so ’n gesin. Dit was ’n gemeenskaplike poging en verantwoordelikheid. Die sieke of behoeftige behoort binne die konteks van verbondenheid ook die vrymoedigheid te hê om vir hulp aan te klop by die ouderlinge of oorsieners.

Dieselfde beginsel geld vir sonde (v 16). Die geloofsgemeenskap het gesamentlik die verantwoordelikheid om te waarsku en te help wanneer ’n medegelowige afdwaal (v 19-20). Die geloofsgemeenskap word opgeroep om mekaar in hulle fisiese en geestelike behoeftes te ondersteun.

Geduld
Daar is ’n insiggewende parallel tussen die voorafgaande vers 7-11 en vers 13-20 (R Reeves). Eersgenoemde handel oor geduld of volharding en laasgenoemde oor aktiewe of daadwerklike gebed. Reeves verwys onder andere daarna dat albei gedeeltes met ’n verwysing na ’n Ou Testamentiese persoon eindig. Vers 11 verwys na Job wat met geduld sy lyding verduur het. Vers 17 verwys na Elia wat gebid het dat dit nie moet reën nie, en drie jaar en ses maande lank moes die volk met die gevolge van die droogte saamleef. In albei gevalle is daar die hoopvolle vooruitsig op ’n heilsame uitkoms. Job was meer geseënd as voorheen. In Elia se geval het die reën uitkoms en nuwe lewe gebring. Geduld en gebed was in albei gevalle sleutelaspekte om uitdrukking aan die lewe in geloof te gee. Vers 13-20 beklemtoon in besonder die krag van ’n gelowige en aktiewe gebed.

Konteks

Voorbereiding vir prediking uit Jakobus, en spesifiek ook 5:13-20, is uitdagend in die lig van die oënskynlik losse aard van teksgedeeltes in die brief. Daar is nie ’n duidelike struktuur en logiese argument nie. Selfs oor kleiner perikope soos 5:13-20, is die menings uiteenlopend. Ons uitgangspunt vir die preek sluit aan by Dirkie Smit wat reken ons het hier te doen mense wat binne hulleself konflik ervaar vanweë konflik wat rondom hulle heers. Binne dié konteks het die brief heilsaamheid en genesing ten doel.

Jakobus se droom van ’n heilsame gemeenskap is vir ons gebroke samelewing vandag aktueel. Die brief kon net so wel aan ons gerig gewees het. Suid-Afrika is ’n gebroke land met diep wortels in ons politieke verlede. Alhoewel ’n pad van herstel begin is, loop die skeidslyne nog skerp ooreenkomstig ekonomiese faktore, ras, geslag, kultuur en agtergrond. Hierdie skeidslyne in die gemeenskap het ook in die kerke van ons land ingedring. Gelowiges se verskillende menings en oortuigings oor hoe die eksterne probleme hanteer moet word, bring interne spanning en konflik mee.

Die uitdaging is om vir ons tyd ook met die wysheid wat Jakobus bied, maniere te vind wat genesing en heling kan bring. Ons besef dit kan beslis nie ’n werklikheid word sonder eerlike en opregte belydenis van sonde en regstelling van verkeerdhede nie. Dit behels die belydenis van onreg teenoor ander en vooroordeel teenoor mekaar. Dit behels regstelling in terme van wedersydse omgee en die verdeling van rykdom en bronne. Die bevordering van etiese integriteit en verbondenheid sal ’n vrugbare teelaarde vir so ’n ideaal help skep. Hiervoor moet ons saam met en vir mekaar bid en werk. Soos Jakobus in vers 7-11 noem, moet daar ook geduld met mekaar beoefen word. Hierdie geduld geld veral ten opsigte van ons diepliggende verskille en eiesoortige kontekste.

Ek is van mening dat ons Jakobus 5:13-20 moontlik in twee dele kan verdeel. Vers 13-18 fokus op die fisiese versorging van mekaar as geloofsgemeenskap, terwyl vers 19-20 klem plaas op die geestelike versorging van mekaar. Ons sal moet bepaal of ’n verband gelê kan word met die oorkoepelende tema van heilsaamheid en heelwording.

Jakobus spreek herhaaldelik sy lesers aan as broers (en susters) wat verbondenheid aan mekaar bevestig. In ons perikoop word hierdie verbondenheid aan mekaar bevestig, soos aangedui in die afdeling “Teks” hier bo.

Ons moet die liggaamlike siekte en swaarkry in die teks vir ons tyd breër interpreteer. Dit beteken om alle fisieke nood soos voedsel, behuising, armoede en ander vorms van materiële nood in te sluit. Dit is sake wat gemeenskappe kan verdeel, veral waar bronne skaars en onreg en uitbuiting ter sprake is. Maar dit kan ook mense saambind wanneer hulle besef een se lot raak almal, ja, dat die hele mensheid eintlik lotsgebonde is.

Jakobus bied aan sy lesers die regte basis of motivering om die versoeking van verdeling of konflik teen te staan, naamlik om saam teen die probleme van hulle tyd te verenig. Hulle is broers en susters in Christus soos hy self. Hy bevorder ’n etiek van integriteit, waarin hulle mekaar behoort te ondersteun. Hy gebruik bekende Ou Testamentiese karakters as voorbeelde om sy lesers tot morele integriteit aan te spoor. In ons perikoop is dit die profeet Elia. (Die skrywer van die Hebreërbrief spoor ook op dieselfde wyse sy lesers aan.)

Om dwaling te bestry en te oorwin (v 19-20), vereis ook ’n verenigde gemeenskap. Dwaling kan eties, teologies en ideologies van aard wees. Natuurlik sluit dit ook wegdwaling van die Here en sy gemeenskap af in.

Preekvoorstel

Tema
In solidariteit met die wat swak is.

Wanneer ons aan siektes dink, verbind ons dit gewoonlik met een of ander fisiese of liggaamlike ongesteldheid. ’n Mens is egter nie siek net omdat jy liggaamlik siek is nie. ’n Mens is ook nie gesond net omdat jy liggaamlik gesond is nie.

In die lig van die dubbele betekenis van genesing in vers 15 wat ook verlossing van sonde kan beteken, behoort ons siekte breër te definieer. Ons dink hier aan siekte ook as maatskaplike nood. Daarom word dikwels na ’n siek samelewing verwys waar sosiale euwels ’n gemeenskap verlam. ’n Gemeenskap kan siek, stukkend en gebroke wees weens maatskaplike en ekonomiese probleme. Maatskaplike kwessies soos armoede, werkloosheid en gebrek aan lewensnoodsaaklike middele, bring die samelewing in ’n staat van gemeenskaplike of kollektiewe siekte. As sodanig verteenwoordig die sieke in ons teks die siekes, swakkes en geïsoleerdes in ons gemeenskappe.

Soos siekte en sonde in die Joodse denke verbind was (vgl v 15), is daar in sommige gevalle ’n verband te lê tussen die sosiale siektes en die sonde van die tyd. Sosiale probleme in gemeenskappe kan die gevolg van onreg teenoor mekaar wees. Politieke onderdrukking kan mense in swaarkry dompel. Ekonomiese sisteme kan mense in armoede gevange hou (die prediker kan na eie voorbeelde verwys). Só kan die siektes van ons tyd aan die sondes daarvan verbind word.

Wat kan ons as kerk doen om te help dat ons samelewing gesond en geheel word? Die liggaamlik sieke in ons teks het die aandag van die hele gemeente vereis. Die kerk se ouderlinge is ingeroep om te help. Soms het die sieke, veral die broodwinner, ’n gesinskrisis beleef. Dit het ’n maatskaplike uitdaging vir die hele geloofsgemeenskap geword. Die nood van die sieke bring die kerk in beweging (v 14). Omdat die kerk in diens van die koninkryk van God staan, is ons agente van die Here se vrede, versoening, versorging en genesing.

Daar is ten minste twee belangrike sake wat Jakobus in ons teks aanraak vir ons roeping ten opsigte die maatskaplike siektes van ons tyd.

Eerstens moet ons bid. Jakobus is ernstig oor hierdie saak. So ’n gebed, sê Jakobus, vereis die bidder se aktiewe deelname. Dit is die gebed van geloof (v 16). Daarmee bedoel Jakobus nie dat ons nie mag twyfel wanneer ons bid nie. Hy bedoel wel dat ons nie met ’n dubbele hart moet bid nie. Ons moenie een ding bid en heimlik in ons harte eintlik iets anders verlang nie. Wie bedoel wat hy vir die Here vra, sal ook aktief aan die uitkoms daarvan meewerk.

Jakobus is ’n man wat woord en daad beklemtoon. Hy is prakties. Ons stel onsself beskikbaar as agente van die gemeenskap se heils- en genesingsproses. Soos Elia met volharding gebid het totdat die hemel die reën gegee het (v 17-18), kan ons gelowige gebede vandag die kragtige uitwerking hê dat in ons tyd die “hemel die reën sal gee”. Reën uit die hemel word met uitkoms, herstel en nuwe lewe geassosieer. Ons moet vir die gemeenskap bid, veral ook vir mekaar. Onderlinge verdeeldheid en konflik gaan ons getuienis na buite belemmer. Ons moet genesing binne onsself kry van die innerlike swaarkry en worsteling wat die gevolg van die uitdagings rondom ons is. Die woord “swaarkry” in ons teks is die innerlike worsteling oor wat rondom ons aangaan.

Tweedens moet ons ons sonde bely. Iets moet aan die oorsaak van die nood en siekte gedoen word. Indien ek skuldig is of self ’n aandeel aan die sosiale siektes van die tyd het, vra dit natuurlik van my dat ek daardie sonde sal bely. As gemeenskap van gelowiges behoort ons mekaar met hierdie dikwels moeilike belydenisproses te help. Vers 16 vereis dat ons eerlik en opreg ons sondes teenoor mekaar sal bely. Dit bring innerlike genesing. Ons moet dit met geduld teenoor mekaar doen (vgl v 7-11). Dit is nie geduld soos iemand wat wag vir iemand wat laat is vir ’n afspraak nie. Tyd is wel ’n faktor, maar nie die enigste nie. Die geduld wat hier ter sprake is, is soos die geduld wat God met mense het. Dit is om nie te haastig te wees om te veroordeel nie. Dit is om geduldig met mekaar se verskille en oortuigings te wees. Dit is om mekaar ’n tweede kans te gee. Ons moet mekaar se hande vat en die een wat van die waarheid weggedwaal het, met liefde terugbring (v 19-20).

Bibliografie

Mcknigt, Scot 2011. The letters of James, Eerdmans, Cambridge. Smit, Dirkie 1994. Wat sien ons in die spieël, Lux Verbi. Kloppenberg, John S Ethos in James. Department for the Study of Religion, University of Toronto, Toronto, M5S2E8, Canada. Reeves, RJ Easter: The Power of Faithful Prayer: An Exegesis of James 5:13-18 BIB-3083,Southwest Baptist University, April 28, 2014. Diaspora Discourse: The construction of James. Johnson, LT 2004. Brother of Jesus friend of God, studies in the letter of James, Eerdmans; www.workingpreacher.org (30 September 2012, 27 September 2015, 30 September 2018).

© Missio 2024 | All rights reserved.