Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In Jeremia 8:18-9:1 sien ons die medelye van ’n profeet in aksie. Psalm 79 gee uitdrukking aan die geloofsoortuiging dat die gelowige se vyande uitgesluit is van God se genadige guns. 1 Timoteus 2:1-7 korrigeer dit en leer dat God se huishouding inklusief is. Lidmate van die kerk word daartoe opgeroep om daarom ook inklusief te bid. Lukas 16:1-13 sê dat God net die ware rykdom aan diegene kan toevertrou wat betroubaar werk met geld en ander se besittings.

Ander tekste

Jeremia 8:18-9:1
Ek is in die rou
18My smart oorweldig my,
ek is hewig ontsteld.
19Hoor hoe benoud roep my volk
uit ’n ver land:
“Is die Here nie meer in Sion nie?
Is Sion se koning nie meer
in hom nie?”
Waarom tart hulle My
met hulle afgodsbeelde,
met hulle vreemde nikswerd gode?
20“Die oes is af, die somer is verby,
en ons is nog nie gered nie.”
21My volk se wonde is ook my wonde, ek is in die rou, deur angs oorweldig. 22Is daar nie balsem in Gilead nie? Is daar nie ’n dokter nie? Waarom het my volk nie gesond geword nie?
9 Ag, was my kop maar vol water en my oë ’n fontein met trane, dan sou ek dag en nag huil oor my volksgenote wat gesneuwel het. 2Ag, was daar maar in die woestyn ’n herberg dat ek my volk hier kon agterlaat en van hulle af kon weggaan daarnatoe. Hulle is almal egbrekers, ’n klomp ontrou mense.

Amos 8:4-7
4Luister hierna,
julle wat arm mense vertrap,
julle wat die mense in nood in die land
wil uitroei.
5Julle sê: “Wanneer is Nuwemaan verby
dat ons koring kan verkoop,
of Sabbat, dat ons ons graanwinkels
weer kan oopmaak
en minder graan vir meer geld
kan verkoop?
Ons laat die skaal mos kul
soos ons wil!”
6Julle verkoop arm mense vir geld,
behoeftiges oor ’n paar sandale,
julle verkoop selfs die koringkaf.
7Die Here het ’n eed afgelê by Homself,
by Hom wat die trots van Jakob
moes gewees het:
Ek sal nooit vergeet
wat hulle gedoen het nie!

Psalm 79:1-9
Help ons, o God, ons Redder
79 ’n Psalm van Asaf.
Heidene het u land binnegedring,
o God,
hulle het u heilige tempel ontwy
en Jerusalem in puin gelê.
2Hulle het die lyke van u dienaars
aan die voëls gegee om te vreet,
die vleis van u troue dienaars
aan die wilde diere.
3Hulle het die bloed van u dienaars
rondom Jerusalem laat vloei soos water.
Niemand het hulle begrawe nie.
4Ons het ’n bespotting
vir ons buurvolke geword,
ons word gespot en uitgejou
deur almal rondom ons.
5Hoe lank sal dit nog aanhou, Here?
Sal u toorn dan vir altyd duur,
u woede soos ’n vuur bly brand?
6Laat u gramskap die heidene tref:
hulle dien U nie;
laat dit die koninkryke tref
wat u Naam nie aanroep nie.
7Dit is hulle wat vir Jakob
tot niet gemaak
en sy woonplek verwoes het.
8Moet tog nie die ongeregtighede
van vorige geslagte
op ons laat neerkom nie,
ontferm U tog gou oor ons,
want ons kragte is gedaan.
9Help ons, o God, ons Redder,
ter wille van die eer van u Naam,
red ons, vergewe ons ons sondes
tot die eer van u Naam.

Psalm 113
Prys die Here!
113 Prys die Here!
Prys, dienaars van die Here,
prys die Naam van die Here!
2Die Naam van die Here
moet geloof word,
nou en vir altyd.
3Van waar die son opkom
tot waar dit ondergaan,
moet die Naam van die Here
geprys word!
4Hoog bo al die nasies heers die Here,
sy mag strek selfs oor die hemele.
5–6Wie in die hemel of op die aarde
is soos die Here ons God,
wat hoog woon en hier onder alles sien?
7Die geringe help Hy op uit die stof,
die arme laat Hy
van die ashoop af opstaan
8om hom by vernames te laat sit,
by die vernames van sy volk.
9Aan die kinderlose
skenk Hy ’n huisgesin,
sy word ’n gelukkige moeder
van kinders.
Prys die Here!

Lukas 16:1-13
Die gelykenis van die oneerlike bestuurder
16 Jesus het vir sy dissipels ook gesê: “’n Ryk man het ’n bestuurder in diens gehad, en dié is by hom aangekla omdat hy sy geld verkwis het. 2Hy ontbied hom toe en sê vir hom: ‘Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake, want jy kan nie langer bestuurder wees nie.’3Die bestuurder dink toe by homself: wat moet ek nou doen, want my werkgewer neem die bestuurderskap van my af weg. Vir handearbeid sien ek nie kans nie; en om te bedel, skaam ek my. 4Maar wag, nou weet ek wat ek sal doen sodat daar mense sal wees wat my in hulle huise sal ontvang as ek uit die bestuurderskap ontslaan is. 5Toe roep hy die skuldenaars van sy werkgewer een vir een en vra vir die eerste: ‘Hoeveel skuld jy my werkgewer?’6Hy antwoord: ‘Honderd vate olyfolie.’ Toe sê hy vir hom: ‘Vat jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig.’7Daarna vra hy vir ’n ander een: ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Hy antwoord: ‘Honderd sak koring.’ En hy sê vir hom: ‘Vat jou skuldbewys en skryf tagtig.’

8“Die werkgewer het die oneerlike bestuurder geprys vir die slim ding wat hy gedoen het. Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig.

9“En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.

10“Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik. 11As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou? 12As julle met ’n ander man se goed nie betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle eie te besit?

13“Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie.”

Fokusteks

1 Timoteus 2:1-7
Onderrig oor die gebed
2 Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, 2vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. 3So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, 4wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus 6wat Homself as ’n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God. 7Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as ’n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie.

Ekstra stof

1 Timoteus 2:1-15 – ‘n Lewe in gebed deur mans en vrouens
Waar Paulus nou raad vir Timoteus gegee het oor hoe om dwaalleraars en dwalinge as sodanig te hanteer, fokus hy nou op die positiewe riglyne vir die werk in ‘n gemeente.

En let op waarmee hy begin. Nie met die prediking of die organisasie nie, maar met gebed. En hy spel die werkswyse daarin uit ook in terme van mans en vroue.

Daarna eers, in hoofstuk 3, skets hy die wyse waarop die leierskap in die gemeente moet funksioneer, ouderlinge en diakens, altyd met die fokus van die gemeente in gedagte, 1) dat hulle die gemeente is van die lewende God, en 2) dat die gemeente “die draer en beskermer is van die waarheid” (vers 15).

Gebed – 2:1-7
Soos in die brief aan Efese word gebed as een van die belangrikste dinge genoem wat ‘n gemeente kan beoefen. En die gebed is nie net privaat vir die behoeftes van enkelinge of selfs van die gemeente nie, maar vir alle mense. Hoewel regeerders uitgesonder word, veral met die oog op ‘n rustige en stil lewe in volkome toewyding aan God in alle eerbaarheid, bly die fokus alle mense. En Paulus is baie ernstig daaroor dat God se wil is dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom – en onthou dat die gemeente die draer van die waarheid is, soos ons in die volgende hoofstuk gaan sien.

Dit is na alles ook die hart van Paulus se roeping, om die boodskap hiervan aan alle nasies te bring. Die boodskap van Christus as Middelaar, waaroor die Heidelbergse Kategismus so roerend praat, is die motivering vir sy lewensmissie. Almal moet hoor van die Middelaar wat versoening bring tussen mense en God. En hiervoor moet die gemeente voortdurend en volhardend intree.

Mans en vroue in die erediens – 2:8-15
Steeds in die konteks van die liturgiese gebed in die gemeente, is Paulus se raad aan mans dat hulle by elke plek van samekoms moet bid, en moet sorg dat hulle dit met ‘n skoon gewete en sonder onmin en twis doen. Vir vroue is Paulus se raad dat hulle waardig beskeie en ingetoë moet wees. Hulle versiering moet eerder goeie werke wees as haarkapsels, goud of pêrels, of duur klere. Dit gaan dus nie oor uiterlike dinge nie, maar karakter.

Daar moet dus by mans en vroue geen wedywering of vertoon teenoor mekaar wees nie, sodat die gemeenskap van gelowiges nie verskeur word daardeur nie.

Dan spreek Paulus ‘n spesifieke saak aan – ‘n vrou in die erediens, waaroor ek op ander plekke reeds geskrywe het. Lees bv 1 Korintiërs 11 – Oor mans en vroue in die erediens en my Ekskursus oor vroue in die NT.

Die reëling wat hy hier maak is dat ’n vrou (die Griekse woord gune kan op die vroulike eggenoot dui) in die erediens stil en onderdanig sal wees en haar laat leer. Sy kan nie onderrig gee of oor die man (dit kan dui op die manlike eggenoot) gesag uitoefen nie. Maar let op dat dit net in Efese is en moontlik net ten opsigte van haar eie man (afhangende van watter vertaling ’n mens vir gune kies). Want in Kreta is die opdrag aan Titus dat die vroue wel ander vroue kan onderrig (Tit 2:3-5), en in Korinte kan vroue saam met die mans bid en profeteer in die gemeente (1 Kor 11:5). Hierdie swyg-gebod is dus hoegenaamd nie ’n algemene verbod nie.

Dit beteken dat Paulus hier ’n uitsondering maak in sy raad aan Timoteus, soos hy dit ook gedoen het met Timoteus se besnydenis (Hand 16) – die besnydenis was immer nie meer nodig nie! ’n Mens wonder hoekom? Want die situasie in die res van die kerk was só dat vroue vryelik toegelaat is om te bid en te profeteer, bv. in Korinte. Daarom dat kommentare dink dat die verbod aan Timoteus waarskynlik met die spesifieke situasie in Efese, waar Timoteus gewerk het, te make gehad het, of selfs nog meer spesifiek, met Timoteus self en hoe hy oor sake gedink het.

Hulle wys daarop dat:

  • Vroue in daardie tyd meesal as ondergeskik aan mans gereken is, uitgesonderd sommige vroue wat in aansien was of baie geld of besittings gehad het. In die Joodse sinagoges mag alle vroue in elk geval net geluister het, en nie gepraat het nie.
  • Die gemeentes het egter begin om, na die voorbeeld van Jesus, vroue op ’n gelyke voet te hanteer (Gal 3:28: “dit maak nie saak of iemand … man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”).
  • Daarom was daar ook baie wat as diakens en mede-werkers opgetree het, selfs as leraars (Phoebe) en apostels (Junia) soos ons in Romeine 16 lees, ook as huiskerk leiers/eienaars – soos onder andere Lidia (Hand 16:40), Maria (Hand 12:12), Priscilla (Hand 18:26) en Nimfa (Kol 4:15).
  • Die groot prediker Apollos, wat so ’n groot aanhang in Korinte gehad het, is byvoorbeeld deur Priscilla, ’n vrou, en Akwila onderrig (Hand 18:24-26) en let op dat Priscilla op gelyke voet met haar man Akwila gereken word.
  • Maar die algemene sosiale status van vroue was steeds as ondergeskik gereken, en daarom lê Paulus hier ’n swaarder beperking op hulle, waarskynlik ter wille van die heidene, sowel as die Jode, in die stad, of net ter wille van Timoteus self.
  • Dit kan ook wees dat Paulus skerper hier optree weens die gewoonte van sommige van die vroue in Efese om van huis tot huis te skinder en ledig, bemoeisiek en praatsiek te wees (1 Tim 5:13).
  • En let op dat die beperking eintlik net van toepassing is op lering aan volwasse mans (nog meer spesifiek die leiers – as ’n mens in ag neem dat Paulus se argument rondom gesag draai), want in Titus gee hy in elk geval die riglyn dat vroue ander vroue mag onderrig (2:4-5) en hy erken eksplisiet die onderrig wat Timoteus se ouma en ma aan hom as kind gegee het (2 Tim 1:5; 3:14-15).

Die argumentasie wat Paulus voer rondom Adam en Eva rugsteun sy standpunt, maar kan nie as ‘n algemene riglyn geneem word nie. Ook nie die raad rondom moederskap nie, omdat dit te uitsluitend van aard is.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 281

Votum: Psalm 24

Seëngroet

Lofsang: Lied 190 of VONKK 260 of F57

Wet: Markus 12:29-31

Skuldbelydenis: Psalm 79:9

Toewyding: Lied 285

Genadeverkondiging: 1 Tim. 2:5-6

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed: F224

Skriflesing: 1 Timoteus 2:1-7

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed: Reël vooraf met ‘n leier in jul gemeenskap.

Dankoffer

Slotsang: F92 of VONKK 272 of Lied 283

Seën

Respons: Lied 278

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Lied 281 “Lei ons, Here, groot en magtig”

Votum: Psalm 24

Seëngroet

Lofsang
Lied 190 “Grote God, aan U die eer” of
VONKK 260 Ons besing u grootheid, Vader of
F57. Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied) [bekend]

Wet
Markus 12:29Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ 31Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

Skuldbelydenis
Psalm 79:9
Help ons, o God, ons Redder,
ter wille van die eer van u Naam,
red ons, vergewe ons ons sondes
tot die eer van u Naam.

Toewyding
Lied 285 “O God, so groot in heerlikheid”

Genadeverkondiging
1 Tim. 2:5-6
5Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus 6wat Homself as ’n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God.

Geloofsbelydenis

Liedere

F224. “Ek Maak Elke Dag Tyd”
(RUBRIEK: Flammikidz – Gebed) Oorspronklike titel: Ik neem even de tijd Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Johan Engelbrecht (gewysig 2009) © 2003 Celmar Music

1. Ek maak elke dag tyd
om met U te praat, Heer
’n oomblik met U alleen.
Ek maak elke dag tyd
om by U te wees, Heer,
niemand rondom my.

2. Ek maak elke dag tyd
om na U te luister
en stil te wees by U.
Ek maak elke dag tyd
om u stem te hoor en
Heer, ek luister nou.

Refrein:
Spreek, Heer, ek luister,
u dienskneg* hoor.
Spreek, Heer, ek luister,
ek luister na u Woord.

3. Ek maak elke dag tyd,
ek wil U verheerlik,
God van liefde en trou.
Ek maak elke dag tyd
om vir U te sê, Heer
dat ek van U hou!

4. Ek maak elke dag tyd
om u Woord te lees wat
U vrylik aan my skenk.
Ek maak elke dag tyd
sodat U kan praat deur
u Woord wat lewe gee.

Refrein:
5. U het altyd die tyd
om na my te luister
daar gaan nooit ’n sekonde verby
dat U glad nie meer tyd het
want elke oomblik
is U daar vir my!

Refrein:
(*Vervang “dienskneg” ook met “kind”.)

VONKK 260 “Ons besing u grootheid, Vader”
Teks: Gideon Brits 2014; gewysig Jacques Louw 2014 © Melodie: RHUDDLAN – volksmelodie uit Wallis
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2001 (Pro Deo). © Teks en orrelbegeleiding: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Skepping en Onderhouding

1. Ons besing u grootheid, Vader,
U, die Koning wat regeer.
Ons is hier voor U vergader,
ons bring U ons lof en eer.
Driemaal heilig, Hemelvader,
ons erken U as ons Heer.

2. Wolke, water, weerligstrale –
alles is u handewerk.
Bome, blomme, berge, dale
wys u almag onbeperk.
Prys die Here, alle tale,
almal groot en ongemerk.

3. Ons kom dank U, Skepper, Here,
vir die gawes uit u hand.
Daagliks sien ons duisend kere:
U hou alles steeds in stand.
“Loof die Vader! Prys die Here!”
Klink die lied wat in ons brand.

F57. “Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied)” 
(RUBRIEK: Flam – Hoop en Voleinding / Lof / Koninkrykstyd)
Oorspronklik: Battle Hymn of the Republic (Tradisioneel)
Afrikaanse vertaling: Piet Smit
© 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere; asook op Suid-Afrika se 100 Gunsteling Geestelike Liedere)

1. Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer.
Die Allerhoogste wat in liefde oor sy koninkryk regeer.
Hy’t belowe aan die einde op die wolke kom Hy weer.
Hy is Koning, Hy regeer!

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy is Koning, Hy regeer!

2. Die Here is ons Vesting wat vir altyd sal bly staan.
Hy beskerm elke mens wat in geloof na Hom toe gaan.
Hy’s ons skuiling, Hy’s ons wapen, Hy het die vyand reeds verslaan.
Hy is die Rots wat ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy’s die Rots wat ewig staan!

3. Kom deel nou in ons loflied hef jou hande op na bo.
Blaas basuine, slaan op tromme en kom dans voor God se oë.
Kom leef in die oorwinning van sy Woord waarin ons glo.
Want sy Woord sal ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Want sy Woord sal ewig staan.

4. Ek glo dat Jesus Christus weer sy bruid gaan kom haal.
Ek glo die Vader het al reeds die dag en uur bepaal.
Ek sien al klaar die feestelike hemelbruilofsmaal
en die tafel met ons bruilofsmaal.

F92. “Seën ons Here God, Seën Afrika (Seëngebed)”
(RUBRIEK: Flam – Gebed Oorspronlike titel: Nkosi Sikelel’i Afrika Teks en musiek: Enoch Sontonga; verwerk deur Jan Hoogendyk
Afrikaanse vertaling: Onbekend © Publieke Domein

Seën ons, Here God, seën Afrika.
Laat haar klag tot in die hemel reik.
Hoor ons as ons in gebede vra,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.
Hou u hand, o Heer, oor Afrika.
Lei ons tot by eenheid en begrip.
Hoor ons as ons U om vrede vra,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.
Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Kom woon in ons,
lei ons, O Heilige Gees.
Seën ons, Here God, seën Afrika.
Neem dan nou die boosheid van ons weg.
Maak ons van ons sonde ewig vry,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.
Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Kom woon in ons,
lei ons, O Heilige Gees.

VONKK 272 “Heer, ons bid as reënboognasie”
Teks: Jacques Louw 2013 © Musiek: BLAENWERN – William Rowlands 1905 © Teks: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Gebede

1. Heer, ons bid as reënboognasie
vir ons mooi en dierbaar land.
Ons kom lê ons land en mense
in u troue Vaderhand.
Mag u kinders wat hier saamwoon
na u wil soek en U eer.
Leer ons om met woord en dade
te bely: U is die Heer.

2. Heer, ons bid as reënboognasie
vir ons leiers wat regeer.
Mag hul ook u Woord gehoorsaam;
U erken as God en Heer.
Leer ons om met ons verskille
steeds mekaar te respekteer.
Laat ons voorbeeld ander aanraak,
laat u liefde ons regeer.

3. Heer, ons bid as reënboognasie:
Laat u vrede oor ons heers.
Al die seer uit ons verlede
kan net U, o Heer, genees.
Op u almag vas vertrouend
wil ons saam ‘n toekoms bou.
In geloof ons land en mense
in u hande toevertrou.

4. Kom, o Gees, wees U ons Leidsman,
wys die weg en rigting aan.
Laat ons koers hou deur die chaos
waardeur ons ook hier mag gaan.
Vader, hoor tog ons versugting
as ons in gebed kom vra:
Seën ons land en seën sy mense –
Vader, seën Suid-Afrika!

God praat met ons en ons luister

Gebed: F224. Ek Maak Elke Dag Tyd

Skriflesing: 1 Timoteus 2:1-7

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Ons het vroeër vanjaar ons vingers gebruik om te leer hoe om te bid (Loofprysing, skuldbelydenis, voorbidding, ens). Jy kan ook jou hand gebruik om jou te herinner om vir almal te bid. [Ons het hierdie idee reeds twee keer vantevore gebruik: in 2010 en 2013.]
Vou jou hande eers saam voor jou asof jy besig is om te bid. Hou jou oë oop sodat jy jou hande kan sien. Jy sal sien dat die naaste vinger aan jou is jou duim. Omdat dit die naaste aan jou is, herinner jou duim jou om te bid vir dié wat die naaste aan jou is. Bid vir jou ouers en jou boeties en sussies.
Die volgende vinger is jou wysvinger. Ons gebruik dit om te wys na iets. Laat dié vinger jou herinner om te bid vir dié mense wat vir jou die regte rigting wys. Bid vir jou onderwysers by die skool, jou kategese onderwysers en jou predikant(e).
Die volgende vinger is die langste vinger, jou middelvinger. Dit herinner ons daaraan om vir ons leiers te bid. Bid vir die president en die ander leiers in die regering en in jou dorp of stad.
Die vierde vinger is die ringvinger. Dit is die vinger wat moeilik op sy eie kan beweeg en eintlik die swakste vinger is. Bid dus vir dié mense wat siek is.
Die volgende vinger is die kleinste vinger, jou pinkie. Dit herinner jou dat jy ook kan bid vir jouself.
Volgend keer as jy bid, en jy weet nie wat om vir God te vra nie, gebruik dan hierdie Vyf-vinger-gebed om jou te help.
OF
Vertel die pragtige storie Bring me a Rock – dis beskikbaar op Kindle, so jy kan dit direk op die skerm wys, van jou tablet af óf “screenshots” neem en in powerpoint sit. Vandag se teksgedeelte moedig ons aan om vir mense in gesagsposisies te bid. Soms is dit moeilik om vir mense in gesagsposisies te bid, soos die sprinkaan in “Bring me a Rock”. Die sprinkaan koning dring daarop aan dat almal vir hom klippe bring om ‘n troon te bou. Toe sy troon begin verbrokkel, is daar een klein sprinkaantjie wat hom help. Op die ou end is al die goggas gelyk. Wanneer ons vir iemand bid vir wie dit moeilik is om te bid, help dit ons om hulle op nuwe maniere te sien, as mense vir wie God lief is.

Preekriglyn

Dit is die jaar 160 n.C. Die toneel is die Romeinse arena van die stad Smirna, die moderne Izmir in Turkye. Die beskuldigde is Polikarpus, die biskop van Smirna. Die aanklaer en regter is die prokonsul van Smirna. Die aanklag is dat Polikarpus, as volgeling van Jesus, die veiligheid van die Romeinse staat bedreig.

Die staat is afhanklik van die guns van die Romeinse gode. Enige burger wat weier om tot die gode te offer, kan die gramskap van die gode op die staat laat afkom. Dit kan neerlae in oorloë, asook droogte, hongersnood en ander rampe veroorsaak. Polikarpus, sê die Romeine, is lid van ‘n godsdiens wat kannibalisme bevorder: hulle eet die liggaam van ‘n mens en drink sy bloed. Verder was hulle ateïste, want hulle aanbid nie die staat se gode nie.

Die boek of brief, die Martelaarskap van Polikarpus, vertel die verhaal van sy veroordeling en teregstelling. Polikarpus was reeds 86 jaar oud. Hy was een van die laaste lewende mense wat persoonlik deur een van Jesus se apostels, Johannes, in Efese onderrig is.

Polikarpus is voor ‘n groot skare deur die Romeinse prokonsul verhoor. Op pad na die arena het hy ‘n stem hoor sê: “Wees sterk!”

Die prokonsul wou die bejaarde man nie doodmaak nie. Hy het Polikarpus probeer oortuig om Christus te verloën, ‘n eed op die voorspoed van die keiser af te lê, en sy mede-Christene – die ateïste – af te sweer. Polikarpus se beroemde reaksie was: “Vir 86 jaar het ek my Koning en my Verlosser gedien, en Hy het hy niks aangedoen nie. Hoe kan ek Hom belaster en verloën?”

Polikarpus het daardie dag op die brandstapel gesterf.

Grafika: Ikoon van Polikarpus, hier beskikbaar.

Bid vir die owerheid

Mens wonder hoe die gemeente in Smirna die Sondag na Polikarpus se dood sou dink as hulle Paulus se opdrag in 1 Timoteus 2:1v sou lees:

Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser…

Selfs al het Paulus ‘n eeu voor Polikarpus se dood geleef, was vervolging reeds aan hom bekend. Jesus het immers aan die hand van die Romeinse owerheid gesterf. In Rome was daar vervolging. Self het Paulus waarskynlik aan die hand van die Romeinse owerheid gesterf. So ook Petrus en ander apostels.

Tog vra die Nuwe Testament voorbidding vir die owerheid.

Selfs in vervolging

Dit is merkwaardig om raak te sien hoe die vroeë kerk, selfs deur bittere vervolging, dit as haar absolute plig gesien het om vir die owerheid te bid. Hulle het hierdie opdrag ernstig geneem. Dink ook aan Petrus wat skryf: “Vrees God. Eer die keiser.” (1 Pet 2:17). Hierdie keiser was waarskynlik Nero, wat ‘n monster van wreedheid teenoor Christene was. Vroeë kerkvaders soos Tertullianus, Siprianus en Teofilus, beklemtoon die noodsaak van gebed vir die owerhede. Die kerk het selfs sy eie vervolgers aan God se genade opgedra.

In die moderne klimaat, waar Europeërs buitelanders vrees, die Britte hulself van Europa afskei, en blatante haat teenoor ander in die Amerikaanse veldtog vir die presidentsverkiesing aangeblaas word, moet ons opnuut weer hierdie opdrag en voorbeeld hoor.

Ander omgewings

Gebed vir diegene wat regeer is maklik as dit jou mense is wat regeer, en as jy hulle goedgunstigheid geniet. Dink maar hoe maklik dit vir die moederkerk op Stellenbosch sou wees om ‘n paar dekades gelde vir die owerheid te bid. Dit was die tyd toe sommige van die kabinetslede oudstudente was en niemand Afrikaans op die kampus of in die dorp se strate bevraagteken het nie. Vandag mag moederkerke oor die land heen anders oor die owerheid bid.

Hoe het die Regina Mundi-gemeente in Soweto ‘n paar dekades gelede vir die owerheid gebid? Hoe bid hulle vandag? Hoe klink die gebede van ‘n Afrikaanse Protestantse (APK) Gemeente in Orania in 2016 vir die owerheid? Hoe bid ‘n middestad-gemeente in Port Elizabeth met baie lidmate sonder Suid-Afrikaanse burgerskap vandag vir die owerheid?

Eie belang

‘n Mens se eiebelang, dit wat jy dink jy nodig het, kry so maklik die oorhand wanneer ons bid vir diegene wat regeer en gesag uitoefen. Dit was so in die tyd van Timoteus, en die gemeente in Efese waar hy bedien het toe Paulus dié brief geskryf het. Niks het verander in die tyd van Polikarpus in die naburige Smirna nie. Ook nie in ons eie kontekste met die dramatiese verandering wat Suider-Afrika oor die afgelope dekades beleef nie.

Ander se belang

Ons teks draai ons gesigte vandag weg van eiebelang. Dit fokus ons aandag op ander. Gebed vir gesagdraers word verbind met ‘n rustige en stil lewe, en dit weer word verbind met die uitvoer van God se bedoeling in die wêreld. Dit veronderstel ‘n ruimer perspektief as bloot ons eie belang. Dit dra die dien van almal se belange deur gebed eb getuienis aan ons op.

Die fokus en effek van die gebede vir mense in gesagsposisies is op:

  • ‘n rustige en stil lewe vir almal,
  • sodat die tafel gedek kan word vir die verspreiding van die evangelie – aan alle mense,
  • sodat soveel moontlik mense ingesluit kan word by die koninkryk van God – gered kan word, die verlossing kan smaak, die waarheid kan leer ken.

Terwyl die gemeente bid vir alle mense, vir almal wat regeer en gesag uitoefen, weet hulle daar is net een God. Die middelaar tussen hierdie God en alle mense in Jesus Christus, wat Homself as losprys vir alle mense gegee het. Hierdie God wil hê dat alle mense gered word. Daarom is Paulus aangestel om die goeie nuus van die evangelie, Jesus Christus aan die heidennasies te bring. Almal moet weet.

Daarom bid ons vir ‘n rustige en stil lewe. Sodat die evangelie kan floreer. Sodat almal kan hoor.

Alle mense

Jesus se lewe en sterwe, sy bediening, sy gee van Homself as losprys, is vir alle mense. Die woorde wat in verse 3 tot 5 opgestapel word (Verlosser, redding, Middelaar, Gesalfde, ’n losprys vir almal) beklemtoon hierdie feit.

Die verlossing wat God bewerk is bedoel om aan alle mense gebring te word en sal uiteindelik mense van alle oorde, kleure en geure insluit. Daar moet vir alle mense gebid word omdat Christus vir almal gesterf het. Die evangelie moet aan almal gebring word, sodat almal ‘n kans kan kry om te glo.

Jesus se aardse bediening

Dit het alreeds baie duidelik geword uit Jesus se aardse lewe. Jesus se bediening in Galilea was een waarin hy mense ingesluit het in God se huishouding wat deur ander uitgesluit is. Hy het hulle probeer oortuig dat hulle deur God aanvaar word, al word hulle deur ander mense verwerp. Dit is gedemonstreer deur sy berugte maaltye. Hy het ’n nuwe sosiale bedeling (die koninkryk van God) bepleit en alreeds in werking gestel. Daarvolgens was die diepste probleem in die samelewing nie bloot die Romeinse onderdrukking nie, maar die wyse waarop interne spanninge in die samelewing maak dat sekere groepe eenkant toe geskuif word.

Sy bediening het die ryk tollenaars en arm bedelaars ingesluit, maar ook die siekes, sielkundige gevalle, melaatses, prostitute, vroue in die algemeen, Samaritane, Romeinse soldate en al die gewone mense in die samelewing wat nie geweet het waarheen hulle op pad is nie. Hierdie inklusiwiteit het vir al sy volgelinge probleme opgelewer, want Jesus het nie net hulle ingesluit nie, maar ook ander wat hulle (sy eie volgelinge) eerder graag sou wou uitsluit.

Die punt is dat jy self net ingesluit kan word as jy besef dat ander van wie jy niks hou nie ook ingesluit word. Juis daarom het Jesus die wat self arm, onderdruk en uitgeskuif was opgeroep tot bekering en verandering. Die sleutel tot daardie verandering het vir Hom daarin gelê om iets te begin verstaan van die barmhartige hart van sy Vader. Dit was die tema van die bediening en veral van sy gelykenisse. As jy nie die hart van God verstaan nie, kan jy ook nie die logika van God se huishouding begryp nie.

Hierdie bediening het Jesus spoedig in konflik gebring met al die maghebbers en godsdienstige groeperinge, naamlik die Selote, Fariseërs, Esseners en veral die Sadduseërs wat uiteindelik vir sy dood verantwoordelik was. Hulle het elkeen hulle eie opvattings gehad oor wat fout was in die samelewing en hoe om daarop te reageer, maar kon nie die logika van Jesus se bediening verstaan nie. Hulle het dit as gevaarlik beskou, wou hom daarom uit die pad kry en het dit op die oog af reggekry met sy kruisdood en die wyse waarop al sy getrouste volgelinge (behalwe ’n paar vroue) Hom verraai en verlaat het.

Gelykmaker

Na Jesus se opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees het sy volgelinge begin verstaan dat die verlossing vir alle mense bedoel is. Dit kan nie maar net vir ‘n paar, vir een volk of een groep wees nie. Daarom beklemtoon Paulus in ons teks dat hy aangestel is om die evangelie aan die heidennasies te verkondig.

Jesus respekteer nie mensgemaakte grense nie. Hy leer ons bid vir almal en getuig teenoor almal. Jesus sluit almal by sy koninkryk in.

Daarom moet ons hierdie teks as ‘n groot gelykmaker tussen mense beskou. God trek nie mense voor nie. God wil almal red, deur geloof in Jesus Christus. Alle mense kan die genade in Christus ontvang. Mense is verlore, maar hulle kan gevind word, hulle mag onkundig wees oor God, maar hulle kan kennis ontvang, Hulle mag sondaars wees, maar hulle kan gered word. God wil alle mense red en insluit. Daarom moet sy kerk dit ook wil.

Hierdie opdrag beteken hooggeplaastes en nederiges is in die visier van die evangelie. Beide die keiser met sy mag en die slaaf met sy onmag word ingesluit. Die filosoof in sy wysheid en die eenvoudige mens het die genade en verlossing nodig wat die evangelie kan bring. Die evangelie respekteer nie klasseverskille nie: daar is geen koning versus gewone burger, geen ryk versus arm, geen baas of klaas, aristokraat of arbeider nie. Almal het God nodig en word ingesluit in die genade.

Die gebed van die evangelie is ‘n gebed vir alle mense. Die gesagvoerders en regeerders waarvoor ons volgens hierdie teks moet bid was nie Christene nie. Hulle was die kerk dikwels vyandig, maar moes aan God opgedra word. Christene kan niemand van hulle gebede uitsluit nie, want niemand is buite die liefde van God in Jesus Christus nie, niemand is buite God se seil tot redding nie.

Teen ons grein

As ons eerlik is, sal ons moet erken dat hierdie insluiting baie keer teen ons grein ingaan. Ons is dikwels ingestel op ons eie groep en ons eie belange. Ons eie belange verblind ons so dat ons nie verder as ons eie groep kan of wil kyk nie.

Die meeste mense wil graag ingesluit word by God se genade, maar wil dan nie ander – wat anders is – insluit nie. Die res van die samelewing ly ook hieronder. ‘n Paar weke gelede het ons verkiesing gehou, wat seker deur een van die mees ras-verdelende veldtogte nog voorafgegaan is. Ons maak van die wat anders as ons is, vyande. Ons word bedreig deur hulle, verdink hulle dat hulle ons wil benadeel, ons wil wat ons het teen hulle beskerm, of ons wil van hulle vat om onsself te bevoordeel.

Die Bybel leer ons bid vir die ander. Leer ons die ander liefhê, uitreik na die ander. Die Bybel leer ons dat God alle mense onder sy genade insluit. Daarom moet ons ingestel wees op die ander, die heil van die ander soek, ons vyande liefhê en opoffer vir die ander se belange.

Ons moet baie prakties wees. Hoe beskikbaar is my tyd, talente en geld vir die ander? Hoeveel moeite doen ek om ander te leer ken, veral mense wat skerp van my verskil of heeltemal anders as ek is en lyk?

Na buite, nie na binne

Dit is duidelik dat ons teks leer dat die kerk nie maar net na binne gerig kan wees nie. Die kerk, ons gemeente, kan nie maar net met onsself besig wees nie. Ons word geleer om vir ander te bid, vir die regeerders te bid, ander se belange op die hart te dra.

‘n Gemeente wat vir die wêreld voorbidding doen, is ‘n na-buite gerigte kerk. Ons kweek belangstelling in die samelewing en die wêreld, ons doen navraag oor die welstand van ander, ons bid vir vreugde, voorspoed en ‘n rustige lewe in volkome toewyding aan God.

‘n Rustige en stil lewe is een waar mense nie ekonomies in allerlei bestaanskrisisse is nie, maar genoeg het om van te leef. Dis ‘n lewe waar mense nie vir hulle veiligheid vrees nie, maar waar selfs die mees kwesbares in die openbaar veilig is. Dit is ‘n wêreld waar mense volgens God se waarheid in Christus lewe, versoen met God en met mekaar.

Hierdie wêreld word gevestig deur ons gebede en ons getuienis van die evangelie van Jesus Christus.

Waar vernuwing begin

Die vernuwing van die samelewing begin deur om met smekinge, voorbidding en danksegging vir die regeerders te bid (al is daardie regeerders hoe ongewild en onderdrukkend). Dit sluit in dat Christene ook teenoor die owerheid getuig van die waarheid in Jesus Christus.

Deur die eeue het Christene, soos Polikarpus, dit gedoen. Selfs al het dit hulle lewe gekos. Op hierdie manier het daar op baie kontinente en in baie lande ‘n stil en rustige lewe vir almal aangebreek.

Suider-Afrika is ‘n landstreek waar die ander voortdurend op die radar is. In hierdie pragtige omgewing met sy ryke verskeidenheid van mense, maar ook sy enorme uitdagings en die bestaanskrisisse en geweldskrisisse waarin so baie mense vasgeval is, pas dit dat ons met volharding sal bid, werk en getuig dat God se genade in Jesus Christus ons hele omgewing sal vernuwe.

God stuur ons om te leef

Gebed
Reël vooraf met ‘n leier in jul gemeenskap. Laat hulle terugvoer gee van hul uitdagings. Bid vir hulle

Dankoffer

Slotsang
F92. Seën ons Here God, Seën Afrika (Seëngebed) [bekend]
VONKK 272 Heer, ons bid as reënboognasie
Lied 283 “Ons kom, o Vdeer, vir ons land”

Seën

Respons: Lied 278 “Hoor ons bid, o Heer”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.