Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In vandag se sleutelteks beskryf Paulus alles in sy geloof waarop hy kan roem. ‘n Indrukwekkende lys, maar dit het in Christus vir hom alles vullis geword sodat hy Christus as bate kan bekom en Hom kan ken.

In die teks uit Eksodus vra God dat ons gesag vir Hom sal hê. Terwyl Psalm 19 sê wees bly – om die opdragte van die Here. Psalm 118  kom voor in die Matteusteks vir hierdie Sondag en vertel van die afgekeurde klip wat hoeksteen word.

Ander tekste

Eksodus 20:1-4, 7-9, 12-20
Die tien gebooie
(Vgl Deut 5:6–21)
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:
2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Psalm 19
Die openbaring van die Here is volmaak
19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Matteus 21:33-46
Die gelykenis van die boere en die wingerd
(Mark 12:1–12; Luk 20:9–19)
33“Luister na nog ’n gelykenis,” het Jesus gesê. “Daar was ’n grondbesitter wat ’n wingerd geplant en ’n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook ’n parskuip uitgekap en ’n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan. 34Toe dit tyd geword het vir die druiweoes, het hy van sy slawe na die boere toe gestuur om sy deel van die oes te gaan haal. 35Maar die boere het sy slawe gevang, die een geslaan, en ’n ander een doodgemaak en ’n ander een gestenig. 36Die eienaar het toe weer ander slawe gestuur, meer as die eerstes, maar die boere het met hulle net so gemaak. 37Heel laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. 38Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood en vat sy erfenis.’39Hulle het hom toe gegryp en hom uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak.

40“As die eienaar van die wingerd terugkom, wat sal hy met daardie boere doen?”

41Hulle antwoord Hom: “Hy sal daardie slegte mense ’n vreeslike dood laat sterwe en die wingerd aan ander boere verhuur wat hom op die regte tyd sy deel van die oes sal gee.”

42Toe sê Jesus vir hulle: “Julle het tog al in die Skrif gelees:
Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë. r
43Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ’n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.

44“Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.”

45Toe die priesterhoofde en die Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy op hulle sinspeel. 46Daarom wou hulle Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom as ’n profeet beskou het.

Fokusteks

Filippense 3:4b-14
Die ware geregtigheid
3 Verder, my broers, wees bly in die Here! Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid.

2Pas op vir daardie dwaalleraars;
pas op vir daardie mense
wat kwaad stig;
pas op vir daardie betekenislose
besnydenis!

3Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie. 4Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou.

As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5ek is op die agste dag besny, van geboorte ‘n Israeliet, uit die stam Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ‘n Fariseër, 6in my ywer ‘n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.

7Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

15Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink—God sal ook hierin aan julle die regte insig gee. 16In elk geval, laat ons koers hou op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het.

17Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. 18Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. 19Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind. 20Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. 21Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.

4 Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon.

Ekstra stof

Filippense 3:1-4:1 – Om Christus Jesus te ken, oortref alles in waarde
Die oplossing vir konflik met mense wat anders dink as jy, lê baie keer nie in die direkte konfrontasie met hulle nie, maar in die fokus op jou eie verhouding met die Here Jesus.  Om te groei in jou kennis van Hom, en Sy krag te ondervind in die praktyk van jou lewe, is die beste manier om koers te hou, sonder om ander af te kraak, of deur hulle van stryk gebring te word.  En wanneer jy dit regkry om dit boonop saam met ander te doen, selfs en veral saam met dié van wie jy verskil, dan groei ‘n gemeenskap in geestelike volwassenheid!

Ontwrigting kom van tradisionaliste en vrysinniges
Die gemeente in Filippi het nog steeds groot ontwrigting ervaar van teenstanders, onder andere van die gemeenskap (Fil 1:28-30), maar ook toenemend vanweë mense binne die geloofsgemeenskap.  Aan die een kant was daar tradisionaliste wat klem gelê het op die Joodse tradisie, maar deur Paulus as dwaalleraars uitgewys word.  Hy noem hierdie dwaalleraars “honde” soos dit letterlik in vers 2 staan – ironies genoeg presies die term waarmee Jode soms die heidene beskryf het.  Hulle was gelowiges wat steeds aan die Joodse tradisies vasgehou het, en die besnydenis as verpligtend geag het ook vir gelowiges uit die heidene, eerder as die verbintenis aan Christus alleen.  Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-Joods, en nie net aan Christus verbind nie.  Aan die ander kant was daar ook vrysinniges, of libertyne.  Hulle was weer gelowiges wat geen morele beperkinge aanvaar het nie en hulle eie lewensreëls aangehang het in terme van die bevrediging van allerlei liggaamlike behoeftes (“skande” het waarskynlik ‘n seksuele konnotasie – vers 19).  Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-wêrelds, waarin hulle self die sentrum van hulle lewens kon bepaal, eerder as dat hulle kennis van Christus dit sou bepaal.  In albei gevalle wou hierdie mense nie die boodskap van die kruis – ‘n lydende selfontledigende Messias – as paradigma vir hulle lewe aanvaar nie (vers 18), wat vir Paulus beteken dat hulle “as vyande van die kruis van Christus lewe“.  En dié mense het die gelowiges in die gemeente van Filippi onseker gemaak.

Ontwrigting moet groter gehoorsaamheid en getrouheid stimuleer
Paulus se raad aan die gemeente is om nie afgeskrik of geïntimideer te word deur óf die teenstanders óf die dwaalleraars óf die vrysinniges nie, maar vas te bly staan in die geloof, volkome eensgesind verder saam te stry vir die evangelie, en koers te hou op die pad wat hulle tot dusvêr ingeslaan het (vers 16) in navolging van Paulus (vers 17) en in getrouheid aan die Here (Fil 4:1).  Hulle sekerheid (vers 1) moes nie in hulle afkoms of die onderhouding van uiterlike dinge gesoek word nie – juis die voordele wat Paulus laat vaar het ( gebore Israeliet, Benjaminiet soos koning Saul, egte Hebreër [ma en pa was Jode], nougesette Fariseër) – maar in die vashou aan en vertroue op die Een wat sekerheid bring.  Die verwarring wat die Joodse tradisionaliste veroorsaak het, en die versoeking waarvoor die vrysinniges hulle geplaas het, moes hulle dus stimuleer tot groter gehoorsaamheid en getrouheid, presies die dinge wat Christus in hulle lewens wou bewerk.  En om hulle hierin te help, wys Paulus op die voorbeeld wat hyself by hulle gestel het, en ander steeds doen (vers 17): “Follow my example and copy those who live the way we showed you” (New Century Version).

Om Christus Jesus te ken, oortref alles in waarde
Die voorbeeld wat Paulus vir hulle gestel het en waaraan hy sy hele lewe gewy het, was om Christus Jesus te ken (vers 10), en om deur Hom geken te word (vers 12).  Dit oortref alles in waarde.  Wat vroeër vir hom ‘n bate was, is nou vir hom eerder  ‘n las.  Om Christus te ken, is waarom dit nou vir Paulus gaan teenoor alle ander dinge waarin mense wins en voordeel soek.  “Ons het die ware besnydenis … óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie …  want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde” (vers 3, 8). En dié waarde spel Paulus uit op twee maniere.  Dit lê in die vryspraak (geregtigheid) wat God gee aan dié wat in Christus glo, sodat hulle met Hom in ‘n versoende verhouding kan leef.  En dit lê in die gelykvormigheid aan Christus in die selfontlediging van Sy dood en die verheerliking met sy opstanding (vgl. vers 10 met 2:6-11).  Dit is die enigste wens wat Paulus vir homself het, en dit is waar om sy roeping en lewe wentel.  Dit is immers presies in hierdie gelykvormigheid wat die hoop van die opstanding ook lê.  Daarmee gee Paulus ook ‘n baie spesifieke inhoud aan wat met geestelike volwassenheid (vers 15) bedoel word: dit beteken nie om volmaak te wees nie, maar om al hoe meer gestempel te word deur die kennis van Christus, en te leef uit die werklikheid dat Hy: “my reeds Syne gemaak het” (vers 12).  Paulus wil dus in die werklikheid van sy persoonlike alledaagse lewe al hoe meer ervaar wat Hy glo en teologies weet die waarheid is.

Die opstanding maak ons liggame gelykvormig aan Christus s’n
Paulus skryf in vers 10 oor sy hoop om nie net deel te hê aan die lyding van Christus nie, maar ook die krag van Sy opstanding te ervaar in die hoop dat hy ook deel sal hê aan die opstanding (exanastasis) van die dooies (nekron).  Hy verduidelik sy verstaan daarvan verder in vers 21 met twee Griekse woorde: metaschematizo (transformeer of verander) en summorphos (gelykvormig te maak aan) wat die verandering van ‘n nederige (tapeinosis) liggaam na ‘n verheerlikte (doxa)  liggaam, dws soos Christus s’n, beskryf.  Dit beteken dat die perspektief wat Paulus in Fil 2:9-11 op Christus se verheerliking geskets het, ook iets is waarin gelowiges sal deel.  Dit is dus ook hierdie verwagting wat ons motiveer om selfontledigend te lewe (Fil 2:6-8), en nie van stryk gebring te word deur die uitdagings van valse leringe (tradisionaliste) of lewenswyses (vrysinniges) nie, want anders sal ons tereg ook as vyande van die kruis bestempel kan word.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 186 “Ons kom loof U as ons Vader 1, 2”

Aanvangswoord: Psalm 19

Seëngroet  

Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Wet: Eksodus 20:1-4, 7-9, 12-20
Die tien gebooie

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1, 2”

Vryspraak: 2 Korintiërs 5:17-21

Geloofsbelydenis: Die Geloofsbelydenis van Nicea

Loflied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Filippense 3:4b-14

Familie-oomblik
Prediking

Gebed: ahv Fil 3vs4b-14

Offergawes

Wegsending: Lied 524 “God roep ons om met woord en daad vs 1,2,3”

SEËNBEDE: Num 6 BDV en Gen 12

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 186 “Ons kom loof U as ons Vader 1, 2”

Aanvangswoord: Psalm 19
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.

Seëngroet  
Aan almal in ………………………………………. wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(Filippense 1:1b-2)

Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Wet: Eksodus 20:1-4, 7-9, 12-20
Die tien gebooie
(Vgl Deut 5:6–21)
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:
2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1, 2”

Vryspraak: 2 Korintiërs 5:17-21
17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Geloofsbelydenis: Die Geloofsbelydenis van Nicea
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge; en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het. Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe. Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie. Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek. Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes. Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige bedeling. Amen.

Loflied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Liedere

FLAM126  “Jesus, Lig in die duisternis”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeente sang – Toewyding & Verwondering)
Oorspronklike titel: Jezus, Licht In De Duisternis
Teks en Musiek:Peter van Essen
Afrikaanse vertaling: Faani & Gerda Engelbrecht
©  2005 Unisong Music Publishers t/a Samuel Music

Jesus, Lig in die duisternis,
Jesus, oorsprong van als wat is
Jesus, liefde wat ewig is,
ek prys U
Jesus, weg waarop U my lei
Jesus, waarheid, U maak vry
Jesus,  lewe by U te kry
ek prys U

Refrein:
Waar sou ek gaan sonder U?
waarom bestaan sonder U?
Jesus, my hoop en my krag
U is my Heer,
U is my Heer
Jesus,  tot die tyd só bestem
Jesus,  totdat ek U kan ken
Jesus,  gee ek my hart en stem
Ek prys U

Refrein:

Waar sou ek gaan sonder U?
Waarom bestaan sonder U?
Jesus, my hoop en my krag
U is my Heer,
U is my Heer

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lydenstyd / Lof)
Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en Musiek: Noel Richards
Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Thankyou Music
(Fil 2:5-11)

U het U heerlikheid en eer, vir die wêreld prys gegee
U het swaar gely onder sondaarshande
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel
Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring
O, Here, hoor my dankgebede
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Oproep om te luister na die Woord
Voorganger: U onderwysing, Heer, herstel ons lewe weer;
Gemeente: U woorde is volmaak.

Voorganger: U wysheid vul ons hart – nooit klop dit weer verward.
Gemeente: U woorde is volmaak.

Voorganger: U eise hou ons rein, bring blydskap wat noot kwyn.
Gemeente: Ons oë kyk met insig.

Voorganger: Dié buig voor u gebod,
Gemeente: verlig ons hart, o God (beryming Ps 19:13 van Antjie Krog).

Skriflesing: Filippense 3:4b-14

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

In vers 7 en 8 vertel Paulus dat hy goed nou in ’n nuwe lig evalueer/ ander waarde aan goed begin heg.

Ek dink elke kind weet wat dit beteken.  By ’n kersboom gebeur dit baie – een geskenk wat jy dalk aan die begin kry en jou baie bly gemaak het, wat oorskadu word deur ’n latere geskenk wat baie groter is en presies is waaroor jy al so lank droom.  Dan is die eerste geskenk eintlik vir jou waardeloos of dan ten minste van baie minder waarde.

Om vir kinders ’n ervaring daarvan te gee, doen die volgende aktiwiteit.

Jy benodig:
’n Klomp regtige goedkoop los lekkers, van daardie soort wat altyd onder in die blik agterbly as jy kan kies.  (Tog as jy dit vir ’n kind in die kerk gee sal hy/sy baie daarvan hou, want enige lekker in die kerk is beter as niks!)

Gee vir elke kind wat jy gaan vorentoe roep, ’n lekker groot sjokolade (iets wat hulle baie van sal hou, dalk ’n groot plak of ’n sjokolade hasie wat in blink papier toegedraai is of iets wat alle kinders BAIE graag sal wil hê).

Om nou vir die kinders net die lekkers te gee, sal ook nie werk nie, so hou sommer ’n baie eenvoudige Bybel vasvra (Vra vrae soos:  “Wie was die eerste man en vrou?” en “Hoeveel Testamente is daar?”   “Wat word die twee testamente genoem?”  ens.)

Gee dan vir elke kind van die goedkoop lekkers en vra vir hulle wie hou van lekkers en of hulle dit wil hê.  Sê uitdruklik dat hulle nie die lekkers mag eet nie, maar net by hulle moet hou.

Speel so entjie weg met die vasvra en sê dan:  “O, ek het ’n probleem!  My lekkers is op. Ek het die ander sakkie met lekkers by die huis vergeet en ek het nog ’n laaste vraag wat iemand moet wen.”

Haal dan die groot sjokolade uit en vra of iemand nie hulle lekkertjie sal ruil vir die sjokolade nie, dan kan jy net die vasvra klaarmaak.  (Almal sal verseker hulle lekkertjie aanbied!!)

Verduidelik nou die begrip van iets wat aan die begin waardevol en belangrik vir ons was en later totaal waardeloos en onbelangrik raak omdat jy iets beter kan kry of al het, nl. Jesus.

Deel dan die plak sjokolade (dis ’n slab vir die wat nie weet nie 🙂  in blokkies op en laat elke kind ’n stukkie kry.

Preekriglyn

Wat soek jy in die lewe? Wat is vir jou belangrik, bo alle ander dinge? Wat geniet die hoogste prioriteit in jou lewe? Anders gestel: Waaraan meet jy die sin en geluk in jou lewe? Wat gee vir jou ware blydskap?

Rykste man in die dorp

Ek is seker daarvan dat die antwoorde op hierdie vrae ons ‘n hele ruk kan besig hou, en dat jy dalk meer tyd nodig het om daaroor na te dink. Daar is egter ‘n pragtige verhaaltjie wat ons kan help in ons nadenke. Dit is ‘n Duitse kortverhaal met die titel: “Der reichste Mann des Dorfes”, in Afrikaans vertaal: “die rykste man in die dorp”. Dit gaan oor ‘n besondere ryk en selfgenoegsame man, verreweg die rykste man in die dorp. Een oggend ry hy deur die woud wat naby die dorp was en skielik hoor hy ‘n geluid. Toe hy fyner luister, blyk dit dat dit ‘n ou en baie arm man van die dorpie was, besig met ‘n eenvoudige gebed. Hy was besig om vir God te dank vir ‘n stuk brood en ‘n beker water. Dit was vir die ryk man so vreemd, dat dit hom onrustig gestem het. Met al sy skatte het dit nooit by hom opgekom om God te dank nie. Nadat hy weggery het, wou die beeld van die ou man hom nie los nie.

Intussen het ‘n storm opgesteek, die lug verdonker en die woud verkoel. ‘n Neerdrukkende gevoel, soos van naderende onheil, het oor die ryk man gekom. Skielik was dit asof hy ‘n stem gehoor het wat vir hom sê: “Vannag gaan die rykste man in die dorp sterf.” Verskrik en ontsteld het hy huis toe gejaag en die dokter ontbied. Dit was vir hom ‘n nag van doodsangs en ellende. Met die eerste strale van die oggendson in sy kamer, het hy weer kleur in sy gesig gekry en meer gerus begin voel. In die dorp hoor hy toe later die dag, dat die dood wel die nag toegeslaan het. Die ou man wat hy die vorige dag sien bid het, het die nag gesterf.

By sy terugkeer vanuit die dorp, het sy vrou hom laggend gespot en gesê dat die geheimsinnige stem slegs sy verbeelding was. Die nag was immers lank reeds verby en hy leef nog. “Sekerlik”, het hy vir haar gesê, “maar die stem was tog reg. Vannag het die rykste man in die dorp wel gesterwe.” “Hoe kan dit tog wees?” het sy vrou gevra. “Wie is hier wat ryker is as ons?” Daarop het hy haar geantwoord: “Dié man wat vir God kan sê: ‘Buiten U begeer ek niks in die hemel en op die aarde nie …’ Hy was die rykste man in ons dorp.”

Christus oortref alles

In ‘n sin is dit ook wat Paulus vanuit die gevangenis vir die gemeente in Filippi probeer sê. In vers 7 sê hy: “om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.” En dan herhaal hy dit (10), waar hy skryf: “Al wat ek wens, is om Christus te ken …”

Dit is duidelik dat daar in Paulus se lewe ‘n omkering gekom het, ‘n herwaardering van alle waardes plaasgevind. Soos die ryk man in die verhaal, het dit op ‘n dag tot hom deurgedring wie in God se oë ryk is. Daarom skryf hy met soveel oortuiging. Wat vroeër vir my belangrik was, dra nou geen gewig meer nie. Wat vroeër getel het, ag ek nie meer nie. Wat tevore my roem was, beskou ek nou as skadelik. Wat vroeër vir my sin gegee het, het nou in onsin verander.

En die rede daarvoor is glashelder. Dit is Christus wat die verskil gemaak het. Omdat Christus ‘n nuwe sin, ‘n nuwe waardestelsel, ‘n nuwe koers in my lewe gebring het, vervaag alles wat voorheen geglinster het, skryf Paulus. En dan vertel hy vir hulle wat hy bedoel.

“Ek nog meer”

Hy sê vir hulle, as die Jode dink dat hulle op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog veel meer. Hy vertel hulle dat hy nie alleen ‘n vroom Jood was nie, maar ook ‘n hooggeleerde en goed opgeleide teoloog met ‘n skitterende loopbaan voor hom: “Bes moontlik sou ek ook ‘n geëerde leermeester kon word en deel van die Hoë Raad, in elk geval ‘n gerespekteerde volksfiguur en leier van my mense. Ek het immers vir myself naam gemaak as getroue Fariseër. Ek het selfs erkenning gekry vir die feit dat ek die Christene met ywer vervolg het,” hoor ons vir Paulus sê.

Nog meer as dit, skryf hy aan die gemeente: “ek was in die onderhouding van die wet onberispelik. Volgens menslike, uiterlike standaarde, was ek beslis iemand, iemand met wie gereken moes word.” Maar, sê Paulus: “in die lig van Christus word dit eintlik duidelik wie en wat ek was. Ek was drek, ek was ‘n niksnuts, ek was waardeloos. Met die lig van Christus op my lewe, was ek iets wat mense normaalweg wegwerp, iets waarvan hulle omdraai en wegstap om nooit weer terug te keer nie.”

Na sy ervaring met Christus erken Paulus dat sy roemryke loopbaan drek was, dat alles wat voorheen sy lewe gevul het, skadelik was en hom juis van die ware sin en vreugde van sy bestaan weerhou het. Sy blikrigting was vals, sy waardeskaal onderstebo.

Nuutgevonde sin

Maar in Christus, in daardie ontmoeting op die Damaskuspad, het God hom ‘n nuwe naam gegee en daarmee saam ‘n nuwe lewe. In ‘n baie persoonlike en intense beskrywing gaan Paulus voort om te vertel van hierdie nuutgevonde sin in sy lewe. Hy sê dat alles voortaan vir hom ondergeskik staan aan die een hartstog, naamlik om Christus beter te leer ken. Behalwe om Christus te ken, is niks meer regtig belangrik nie. Daaraan word alles ondergeskik gestel, ja meer nog; as verwerplik beskou.

Die “kennis van Christus” is die nuwe sin en doel van sy lewe. Dit is waarom dit gaan. En die diepste grond vir hierdie omkering in sy lewe was die ervaring wat hy gehad het dat dit nie in sy hande was nie, dat hy dit nie self bewerk het of verwerf het nie, maar dat dit Christus se groot genade was wat op die pad na Damaskus ingegryp het. Soos die ryk man in die verhaal, het hy ontdek wat ware rykdom was. En daarom bestaan die sin van sy lewe van nou af in die soeke om Christus nog beter te leer ken.

Om Christus beter te ken

Wat beteken hierdie uitdrukking vir Paulus? Twee dinge: Om in die eerste plek die krag van sy opstanding te ken, wat beteken dat dit nie bestaan uit ‘n klomp kop-kennis nie. Dit is nie intellektuele insig of teoretiese kennis nie. Dit is die lewende ervaring van ‘n ontmoeting met die lewende God.

Maar om Christus te ken, beteken in die tweede plek vir hom ook om kennis van Christus se lyding te dra. Paulus druk dit só uit: Dit is om deel te hê aan sy lyding, soveel so dat dit beteken om aan Hom gelyk te word in sy dood. Presies dit wat Christus vir sy dissipels geleer het, dat wie Hom wil volg, bereid moet wees om sy kruis op te neem, sy lewe as ‘t ware te verloor, en die lydensweg te stap. Om soos die arm man in die verhaal jou totale afhanklikheid van God te besef vir die allernoodsaaklike brood en water vir elke dag.

Groei in kennis

Daarna verduidelik Paulus hoedat hierdie groeiproses in die kennis van Christus eintlik werk. Hy wys daarop dat hy dit self nog nie alles verwesentlik het nie. Met ander woorde, sê hy vir die gemeente in Filippi, om Christus te ken, is nie ‘n eenmalige en afgehandelde saak nie. Dit is ‘n pad waarop ‘n mens geplaas word, wel nie ‘n pad waarop ‘n mens jouself kan plaas nie, maar waarop God jou plaas. ‘n Pad waarop daar voortdurend gesoek word na nog groter betrokkenheid by Christus. ‘n Pad waar daar in afwagting daagliks gesoek word na die manier waarop God jou vandag gaan lei.

Hierna verduidelik Paulus dit in sy persoonlike lewe soos volg: “Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”

Bewonderaars, leerlinge en dissipels

Is dit ook jou behoefte? Is dit ook jou hoogste prioriteit in die lewe? Dan kan die onderskeiding wat die groot Deense teoloog Kierkegaard gemaak het, ons help. Hy onderskei tussen bewonderaars, leerlinge en dissipels van Jesus.

Bewonderaars dink baie van Hom en sy leer, stem op punte saam met Hom, haal Hom graag aan en beskou Hom as ‘n besondere mens. Leerlinge staan veel nader aan Hom. Hulle wil van Hom leer. Hulle neem in wat Hy gesê het, bestudeer dit, bespreek dit en kan dit later selfs op hulle beurt vir ander leer. Dissipels egter, is nie net verbonde aan sy leer nie, maar aan Homself. Hulle lot is by sy lot ingewerp. Hulle lewens, en daarom hulle sterwe, is in sy hande. Wat met Hom gebeur, kan ook oor hulle kom. Hulle volg Hom na. Hulle ken Hom, in Bybelse sin.

Omgekeerde waardes

Maar wat beteken dit nou vir jou en vir my om in die praktiese alledaagse lewe saam met Paulus uit te roep?: “Al wat ek wens, is om Christus te ken … al wat ek wil wees, is ‘n dissipel van Jesus.” Ek dink Paulus help ons juis hiermee. Hy help ons om die omgekeerde waardes van die evangelie te verstaan.

Die paradokse, die teenstellings, die ambivalensie. Dat dit wat oënskynlik waardevol is, die uiterlike dinge, drek kan wees. Dat dit nie my volksverband, of my taal, of my status, of my besittings, of my opvoeding is wat belangrik is wanneer ek Christus wil ken nie, maar of ek iets verstaan van die gekruisigde Christus. En laat ons nou maar baie eerlik met mekaar wees, ons gaan nie verder hiermee vorder voordat ons besef, dat die waardes van die lydende Messias, van die gekruisigde Christus, dikwels lynreg sal bots met die waardes van die samelewing waarin ons grootgeword het nie.

Wat is hierdie waardes waarin ons samelewing glo? Die samelewing sê: Jy moet onafhanklik wees, dan het jy dit gemaak in die lewe. Die gekruisigde Christus sê: Jy moet swak en afhanklik wees, sodat jy My kan verstaan. Die samelewing sê: Jy moet suksesvol wees, dan gaan die mense jou eer. Christus sê: Dit is in jou lyding wat die lewe van Jesus sigbaar word. Die samelewing sê: Jy moet soos die ryk man in die verhaal wees, vol vertroue op die self en die uiterlike. Christus wil hê dat ons soos die arm man in die verhaal moet wees, afhanklik en vol vertroue op die lewende God.

Soos ‘n handskoen

Sien jy wat is ons probleem? Die waardes van die samelewing pas ons soos ‘n handskoen. Met daardie handskoene wil ons die waardes van die evangelie van Christus vang, soos ‘n mens met jou kaal hande ‘n vis in die water probeer vang. Jy gryp, en gryp, en gryp …, maar jou hande bly leeg. Jy vat niks raak nie. Die vis ontglip jou elke keer.

Dit is nie vir ons maklik om hierdie waardes te begryp nie. Paulus self erken dit wanneer hy skryf: “Ek sê nie ek het dit alles nie of dat ek al my doel bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak, omdat Christus Jesus my reeds syne gemaak het.”

Ek moet eerlik wees en sê dit is ook nie vir my maklik om hierdie boodskap te verkondig nie. Ek is so bewus daarvan dat ek ook in my lewe ten diepste deur die wêreldse waardes gevorm is, dat ek ook deur die waardes van onafhanklikheid, van sukses, van materiële sekuriteite, en noem maar op, gejaag word. Nog groter is die gevaar van ‘n “prosperity gospel”, waar ons Christus wil inspan om in lyn te kom met hierdie waardes wat vir ons so belangrik geword het.

Bemoediging

As ons so na die saak kyk, lyk dit amper onmoontlik om hierdie omgekeerde waardesisteem deel van ons lewens te maak. Dit is in dié verband wat Paulus tog vir ons bemoedig met wat hy sê: “om Christus te ken, is ook om die krag van sy opstanding te ken, om te weet dat Hy my reeds Syne gemaak het.” Is dit nie wonderlike woorde van bemoediging en troos nie? Dat wanneer ons die kuns aanleer om naby God te leef, om Hom te ken, om aan Jesus te behoort, om jouself weg te gee, om sy dissipel te wees, die krag van Jesus se opstanding daardeur in jou lewe sigbaar raak. Dat ons, in die uitleef van hierdie omgekeerde waardesisteem, juis die lewe van Jesus sigbaar maak.

Maar dalk die grootste troos vind ons in die feit dat die voortdurende aanleer van dié lewenstyl, nie geleë is in jou en my inherente vermoë nie. Om so omgekeerd te leer leef, is by uitstek die werk van God se Gees.

God stuur ons om te leef

Gebed: ahv Fil 3vs4b-14
Liewe Here
weerhou my daarvan om op uiterlike dinge te vertrou-
dinge soos besittings, afkoms, verdienste.
Want Christus het my hoogste goed geword
toe Hy vir my Sy lewe afgelê het.
Daarom is my vroeëre bates nou waardeloos
en is die voorreg om Christus te ken vir my alles.
Dankie Here dat U vryspraak myne is deur geloof
en nie deur enige verdienste van watter aard nie.
Dankie dat ek mag deel in die krag van U opstanding
met ‘n uitsien na die eendag in die hiernamaals.
En daarom Here onderneem ek om my in te span,
onderneem ek om my uit te strek na wat voor is,
om sodoende die hemelse prys te kan ontvang
waartoe God my geroep het.
Amen

Offergawes

Wegsending: Lied 524 “God roep ons om met woord en daad vs 1,2,3”

SEËNBEDE: Num 6 BDV en Gen 12
Mag die Here jou seën en jou beskerm.
Mag die Here Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.
Mag die Here Sy gesig na jou toe lig en aan jou vrede gee.
En mag jy vir ander tot seën wees. Amen

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.