Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie week se tekste beklemtoon die feit dat dit nie die onderhouding van wet is wat tot vryspraak lei nie, maar geloof in God deur Jesus Christus. Tóg word ‘n egte lewe van geloof (‘n koninkrykslewe) gekenmerk deur vrugdra. Eksodus 20 vertel van die ontvangs van die Tien Gebooie. Psalm 19 sluit hierby aan wanneer dit verkondig: “Die woord van die Here is volmaak: Dit gee lewe.” Filippense 3:4b-14 herinner dat die onderhouding van die wet as sodanig nie tot vryspraak lei nie, maar geloof in God deur Jesus Christus. Matteus 21:33-46 beklemtoon die belang van ‘n koninkrykslewe wanneer Jesus sê dat die koninkryk van God van die volk weggeneem sal word en eerder gegee sal word aan ‘n volk wat die vrugte daarvan sal lewer.

Ander tekste 

Psalm 19
19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Filippense 3:4b-14
As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, 6in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.

7Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Matteus 21:33-46
33“Luister na nog ’n gelykenis,” het Jesus gesê. “Daar was ’n grondbesitter wat ’n wingerd geplant en ’n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook ’n parskuip uitgekap en ’n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan. 34Toe dit tyd geword het vir die druiweoes, het hy van sy slawe na die boere toe gestuur om sy deel van die oes te gaan haal. 35Maar die boere het sy slawe gevang, die een geslaan, en ’n ander een doodgemaak en ’n ander een gestenig. 36Die eienaar het toe weer ander slawe gestuur, meer as die eerstes, maar die boere het met hulle net so gemaak. 37Heel laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. 38Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood en vat sy erfenis.’ 39Hulle het hom toe gegryp en hom uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak.

40“As die eienaar van die wingerd terugkom, wat sal hy met daardie boere doen?”

41Hulle antwoord Hom: “Hy sal daardie slegte mense ’n vreeslike dood laat sterwe en die wingerd aan ander boere verhuur wat hom op die regte tyd sy deel van die oes sal gee.”
42Toe sê Jesus vir hulle: “Julle het tog al in die Skrif gelees:
Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë.
43Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ’n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.

44“Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.”

45Toe die priesterhoofde en die Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy op hulle sinspeel. 46Daarom wou hulle Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom as ’n profeet beskou het.

Fokusteks

Eksodus 20:1-4, 7-9, 12-20
Die tien gebooie
(Vgl Deut 5:6–21)
20  Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:
2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie.

5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet,

10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie.
17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Die volk vra Moses moet liewer met hulle praat
(Vgl Deut 5:22–23)
18Toe die volk die donderslae en die klank van die ramshoring hoor, en die weerligte en die rook op die berg sien, het hulle van angs gebewe en op ‘n afstand bly staan.

19Hulle sê toe vir Moses: “Praat jý liewer met ons, en ons sal luister. Moet tog nie dat God met ons praat nie, want dan sal ons sterf.”

20Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie, want God het gekom om julle te toets. Hy wil hê julle moet ontsag hê vir Hom en nie sondig nie.”

21Die volk het op ‘n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was.

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 102 (Psalm 19:15) [kan ook as gebed voor die preek gesing word, of as toewyding na die preek] of
Flam 146 [kan ook werk as verootmoediging, of rustige lofsang] of
Lied 229 of
Lied 243

Votum: Psalm 19:2-12

Seëngroet

Lofsang: Psalm 19 of Lied 245

Wet: Eksodus 20:1-20b

Respons: Lied 249

HOOR

Gebed: Psalm 19:13-15

Skriflesing: Die Skriflesing is reeds gelees as die wet. Alternatiewelik kon die gemeente net Lied 249 sing (of iemand kan dit voorlees), sodat Eksodus 20:1-20b hier gelees word

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Verootmoediging en voorbidding

Slotsang: Flam 173 of Lied 250

Seën N.a.v. Filippense 3:4b-14

Respons: Flam 173 of Lied 245 Refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 102 Mag Die Woorde Van My Mond  (Psalm 19:15) [kan ook as gebed voor die preek gesing word, of as toewyding na die preek] of
Flam 146 Alles Vir My [kan ook werk as verootmoediging, of rustige lofsang] of
Lied 229 “Wil, Heer, in liefde U ontferm” of
Lied 243 “Heer, wees genadig”

Votum: Psalm 19:2-12
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.

Seëngroet

Lofsang
Psalm 19 of
Lied 245 “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het”

Wet: Eksodus 20:1-20b

Respons
Lied 249 God het gesê “Ek is die Here…”

Liedere

VONKK 102 “Mag Die Woorde Van My Mond  (Psalm 19:15)”
Nav Psalm 19:15 Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Afrikaans – Pro Deo);  Jacques Louw 2010 (Engels en Duits);  Frans du Toit & Nataniël Sebolai 2010 (Sesotho); Naòmi Morgan 2010 (Frans)  Melodie: MY WILLEM – Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo) Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2010 Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2010 Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2010 © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)   RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart,
vir U bly maak, o my Rots, en vir U mooi wees, o my Redder (en my God.)

Let the words of my mouth, the meditation of my heart,
Be delightful in Your sight and give You pleasure, my Redeemer (and my God.)

Se ke se bolelang le se ke se nahanang,
o kgahliswe ke tsona ‘fika le Molopolli wa ka (Morena.)

Lass die Reden meines Mundes und das Sinnen meines Herzens,
Dir gefallen, o mein Fels, und Dich erfreuen, mein Erlöser (und mein Gott.)

Que les paroles de ma bouche et ce que médite mon cœur,
te soient plaisants ô mon Rocher, de tout temps mon Rédempteur (et mon Dieu.)

F146. “Alles Vir My”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding, Verwondering) Teks en musiek: Retief Burger en Leza Liversage © 2005 Urial Publishing
(Ps 23:1, Fil 3:7-11, Joh 14:6-7)

1. Ek staan vandag soos duisende voor my
met ’n vuur hier in my hart voor U.
Deur al die eeue heen is u Naam besing
en saam met engele wil ek ook nou iets bring.

Refrein:
My woorde is min
maar hier moet ek begin, want U is:
Alles vir my, U is die lied hier op my lippe
U’s die Naam wat ek bely, U is
alles vir my, U’s my begin, U is my einde
U’s my weg, U is my lewe
U is … alles vir my, en U is genoeg.

2. Ek weet dat U my elke lofsang hoor
al wil twyfel die geloof in my kom smoor.
Solank as wat ek leef sal ek U prys
tot die dag wat ek ook veilig by U is.

Refrein:

F173. “Dis Die Opdrag Van God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Kerk en Koninkryk; Getuienis; Wet) Teks en musiek: Willem Gouws © 2006 MAR Gospel Music Publishers

1. Dis die opdrag van God,
dis sy groot gebod
om jou naaste lief te hê soos jouself.
Hy gebruik vir jou en my
om sy koninkryk uit te brei
en Hy stuur ook sy Gees om ons te help.

Refrein:
Hy maak ons deel van sy liggaam,
Hy maak ons deel van sy kerk.
Hy leef in ons harte
en in Jesus se Naam staan ons sterk.

God praat met ons en ons luister

Gebed: Psalm 19:13-15
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Skriflesing
Die skriflesing is reeds gelees as die wet. Alternatiewelik kon die gemeente net Lied 249 sing (of iemand kan dit voorlees), sodat Eksodus 20:1-20b hier gelees word

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Hier is oulike prentjies waarmee jy die Tien Gebooie grafies kan uitbeeld en vir kinders verduidelik. Daar is groter kleur weergawes en ook kleiner weergawes wat kinders tydens die preek sou kon inkleur. As jy dit in die hande kan kry, kan jy ook in BybelMedia se “Handboek vir die Kategeet Graad 3” kyk vir soortgelyke prentjies. Algoa Gemeenskapskerk het ‘n video wat vir jou verduidelik hoe jy die gebooie met handgebare kan memoriseer – ‘n prettige, deelnemende manier om die Skriflesing te benader! Of loer na hierdie emoji-speletjie, ook van Algoa Gemeenskapskerk.

Preekriglyn

Eksodus 20 staan in die hart van ons verstaan oor wie God is en wie ons is.

Hierdie hoofstuk is nie net verre geskiedenis of die notule van ‘n antieke vergadering nie. Mens kan sê dit is ons geskiedenis, die verhaal nooi ons in om te kom deelneem aan hierdie groot moment in God se vorming van God se mense.

Ons kan as’t ware in die verhaal inklim as deelnemers. Dit is ons wat daar by Sinaiberg staan en na God se woorde luister. Ons is karakters in die verhaal. Dit is ons wat God in hierdie gebeure beter leer ken. Dit is ons wat beter leer verstaan wie ons is.

Dit is nie net God en Moses wat hier in gesprek is nie. Dit is God en elke dissipel van Jesus. Ons leer in hierdie gedeelte:

  • Wie God is,
  • Hoe God optree,
  • Wie ons is, en
  • Hoe ons geroep is om op te tree.
Wie God is

Die Here God is die hoofkarakter in Eksodus 20. As verteller van Eksodus 20, openbaar die Here in die vertelling sy hart vir die volk. Dit is ‘n hart vol barmhartigheid, liefde, omgee, solidariteit, genade, goedheid, moederlike ontferming en ‘n gevoel van jammerte!

Die Here se hart vir die volk staan in die nouste verband tot die verbond of band tussen die Here en die volk. In die verbond of vaste verhouding tussen God en volk is daar ‘n paar Hebreeuse woorde wat die karakter van die verhouding tussen God en volk beskryf:

  • Heseḏ (deur Luther vertaal as genade en deur nog ‘n teoloog as “solidarity, kindness, grace”);
  • Ḥᾱnan (kan vertaal word as “have mercy upon, gracious, merciful”);
  • Rᾱḥam wat verband hou met reḥem met die breër betekenis van “baarmoeder”, om “moederlike versorging” aan te dui, saam met ontferming en liefde.

God se hart kom helder na vore in 20:6 se woorde: “en Ek bewys ‘barmhartigheid’ aan duisende”. Daarom skryf die groot teoloog Karl Barth: “The personal God has a heart.”

God se dade

God se hart en God se dade pas bymekaar.

Ons ontmoet God se selfbekendstelling, God se hart, reeds in die eerste woorde van hoofstuk 20: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.”

God se liefde, sorg en trou het reeds ‘n geskiedenis, ‘n rekord, ‘n spoor. Mens kan terugkyk in die geskiedenis en God se sorg raaksien. Daarom kan jy God se woorde in die hede ernstig neem, en op God vertrou vir die toekoms.

Reeds in Eksodus 3 het God vir Moses gesê Hy het sy volk se lyding in Egipte raaksien. Moses word na die Farao gestuur om die volk uit te lei. Dat Hy hulle uitlei, moet dus nie slegs op die pad tot deur die Rooisee verstaan word nie. Dit slaan op die totale barmhartigheid van God se optrede vanaf die Farao tot by Horeb: die tien plae teen die farao en die Egiptenaars om vir die volk te wys Hy is “daar” vir hulle.

God sê deur sy dade: Ek ken julle swaarkry, julle klagtes het my beweeg tot jammerte vir julle, Ek sorg vir julle deur:

  • die bittere water van Mara wat soet gemaak word;
  • Ek sal geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie;
  • Die verfrissende waterfonteine en palmbome by Elim is ‘n teken van my sorg;
  • So ook die voedsel van kwartels en manna; die water uit die rots!
Hoe God is

Barmhartigheid is tekenend van God se voorsienigheid. Ek het julle met die moederliefde van ‘n moeder-arend gedra.” “Ek is … jou God”.

Eksodus bring ons nie by ‘n wat-vraag nie. Nie “Wat is God?” nie, maar by ‘n hoe-vraag: “Hoe is God?” Hoedanig is God in verhouding tot God se skepsele en God se wêreld?

Om God te ken, is om sy weldade te ken (JJF Durand). Die barmhartigheid van God is, skryf iemand:

compassion and care; He brought them from grievious slavery to glorious liberty; in a wonderful and miraculous manner He freed them. God does not make here an appeal to his authority as Creator, but to his mercy and kindness as protector and deliverer”.

Wie ons is

Ons is ook in die teks. Ons is die gemeente wat deur God verlos is en wat God se bevryding beleef het.

Die verloste gemeente word in die tien gebooie opgeroep om God se voorbeeld na te volg en met barmhartigheid teenoor mekaar te leef. Die Here se liefde, barmhartigheid, solidariteit en getrouheid aan die verbond en sy omgee, moet die patroon word vir hulle lewe met Hom, vir ‘n omgee-lewe van sorg vir mekaar en vreemdelinge.

Dink aan Jesus

Jesus is die hoogtepunt van die Bybelse openbaring. Die verhale van die Ou Testament moet altyd in verband gebring word met die groot middelpunt van die hele Bybelverhaal: Jesus Christus.

Jesus Christus se barmhartigheid openbaar God se hart op ‘n dieper vlak.. In die verhaal van die Saligmaker se geboorte, lewenswandel, dood en opstanding. kom daar ‘n nuwe, verrassende perspektief in die Bybelse openbaring na vore.

In ‘n baie besondere sin verenig Jesus, as die laaste Woord van God, alle Bybelverhale in sý verhaal. Die God-met-Israelverhale bereik ‘n hoogtepunt in die groot Immanuel. Jesus. Hy is die stem en gestalte van die Vader (Joh 5:37) wat die Vader se hart in die genesings, vergifnis, heling en voeding van die hongeriges openbaar. Jesus huil saam met dié wat verlies ervaar. Hy voel jammer (sy binneste is seer) vir die skare wat soos ‘n kudde is wat geen herder het nie. Hy bevry vroue (lei hulle uit) uit die kultuur van onderdrukking.

Hoe ons moet wees

Aan die kerk sê Jesus: “Soos die Vader My gestuur het, so stuur Ek julle.” Dié bevel tot ‘n missionale barmhartigheid, sluit dus die opdragte van Matteus 6:5 in: “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (ook Matt 23:23; 25:31-46; Luk 1:49–50, 78).

Gelowiges as versorgers

Eksodus 20 se gebooie van “nie doodslaan nie”, “nie egbreuk nie”, “nie steel nie”, “geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie”, “nie jou naaste se huis …. vrou begeer nie”, dui op die “mekaar”-spiritualiteit, ‘n sorg-spiritualiteit, ‘n respek-spiritualiteit, ‘n spiritualiteit van erken-mekaar-se-waardigheid .

Ons as gelowiges se lewe ingemeenskapmetGod gesien moet word in die gemeenskapmetdiegemeentelede en die nood om hulle. Juis hier moet die Vader se opsoekende liefde in ons verantwoordelikheid “teenoor mekaar” sigbaar word in donker dae van lyding, in winterdae van onreg, in die woestyne van wanhoop en beproewing.

Deist skryf oor Jesus se intreepreek vanuit Jesaja 61:1-3 in Jesus se tuisdorp: “Jesus se volmag word ons volmag. Want as Hy sê dat Hy gestuur is, dat die Gees op Hom is, sê Hy ook: ‘Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle’; én: ‘Ontvang die Heilige Gees’.

So word die kerk liggaam van Christus. So moet die kerk ook nie net preek nie; nie net ‘persoonlike verlossing’ preek nie; nie net by die Gábbata-verhoor bly stilstaan nie. Die Kerk moet ook die evangelie leef en wees, dit heel tasbaar doen deur om te sien na die weduwees en die wese en die armes en die vreemdelinge. Daartoe het die kerk volmag. Daarvoor is hy gestuur en kan hy sê: Die Gees van die Here is op my …”

Ja, in Eksodus 20 sien ons Wie God is en hoe God optree. Ons sien ook wie ons as volgelinge van God is, en hoe ons moet optree. Ons is geroep om Christus na te volg en God se gebooie uit te leef.

God stuur ons om te leef

Verootmoediging en voorbidding
Gee ruim tyd vir stil nadenke. Nooi die gemeente om spesifiek aan die hand van die gedagte van die “mekaar”-spiritualiteit, van sorg, respek, en waardigheid hul lewens voor God in oënskou te neem. Waar is daar skuldbelydenis nodig? Herstel? Uitreik?

Gebruik dan genoeg tyd vir voorbidding – of vra ‘n lidmaat (of ‘n hele paar lidmate) om voorbidding te doen, vir die gemeente en spesifieke lidmate in nood (of spesifieke nood in jul gemeente), asook die nood in jul gemeenskap. As julle spesifieke bedieninge het wat by hierdie verskillende tipes nood betrokke is, is dit ‘n goeie geleentheid om spesifiek daarvoor te bid.

Slotsang
Flam 173 Dis Die Opdrag Van God of
Lied 250 “Gods wet vra al ons liefde”

Seën: N.a.v. Filippense 3:4b-14
Om Christus Jesus, ons Here, te ken, oortref alles in waarde. In Hom is ons vrygespreek, nie omdat ons die wet onderhou nie, maar omdat ons in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo.
Mag ons Christus ken,
die krag van sy opstanding ondervind
en deel hê aan sy lyding
deur aan Hom gelyk te word in sy dood,
in die verwagting dat ons self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

Respons
Flam 173. Dis Die Opdrag Van God Refrein of
Lied 245 Refrein

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.