Agtiende Sondag in Koninkrykstyd edit

Picture of Preekbundel
This content is only available to members.

Sections

Oorsig

Die verband tussen die verskillende tekste is nie ooglopend nie. Al die tekste bevat wel iets van die kompleksiteit van gehoorsaamheid en geloof oor generasionele grense heen. In Esegiël 18 lees ons dat kinders nie vir hulle ouers se sondes verantwoordelik gehou kan word nie, maar dat elkeen vir hulle eie ongehoorsaamheid verantwoordelik is. Matteus 21 begin met die vraag oor Jesus se gesag en vertel dan die gelykenis van die pa met die twee seuns. Die pa vra vir albei seuns om in die wingerd te gaan werk; die een sê ja en die ander een nee. Uiteindelik gaan die een wat nee gesê het om in die wingerd te gaan werk, maar die een wat ja gesê het, gaan nie. In die psalm word die huidige geslag opgeroep om die verhale wat die voorouers vertel het aan die volgende geslag oor te vertel. Filippense 2 is die bekende gedeelte oor die gesindheid van Christus wat in ons moet wees en dit word voorafgegaan deur die opdrag tot eensgesindheid (ook moontlik tussen generasies?).

Skuldbelydenis en verootmoediging speel ‘n groot rol in hierdie Sondag se tekste.

Die eerste Sondag in Oktober is ook Wêreldnagmaalsondag. Dit sal goed wees om as gemeente op hierdie Sondag saam met gemeentes oor die wêreld heen die nagmaal te vier. Carolyn C Brown gee ‘n paar kindervriendelike idees om Wêreldnagmaalsondag te vier. Volg hierdie skakel daarvoor

Sleutelteks

Esegiël 18:1-4, 25-32

SPREEKWOORD OOR GROEN DRUIWE
181Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Wat is dit met julle dat julle hierdie spreekwoord gebruik oor die land Israel,
‘Die ouers het groen druiwe geëet,
en die kinders se tande
het stomp geword’?

3“So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van die Heer, die Here, “dit sal nie meer by julle opkom om hierdie spreekwoord in Israel te gebruik nie. 4Kyk, alle lewens – aan My behoort dit. Soos die lewe van die seun, so ook die lewe van die vader – aan My behoort dit. Die persoon wat sonde doen, dié moet sterf.
5“Wanneer iemand regverdig is,
doen wat reg en billik is,
6op die berge nie eet nie,
sy oë nie rig op die afgodsbeelde
van die huis van Israel nie,
die vrou van sy medemens
nie verontreinig nie,
by ‘n vrou wat menstrueer,
nie kom nie,
7niemand verdruk nie,
die pand wat hy vir skuld neem,
teruggee,
niemand beroof nie,
sy brood aan honger mense gee,
wie nakend is, met ‘n kleed bedek,
8nie teen rente uitleen nie,
nie woekerrente neem nie,
van onreg hom weerhou,
eerlik oordeel tussen mense,
9volgens my vaste voorskrifte leef,

my bepalings nakom deur eerlik
op te tree –
hy is regverdig en sal beslis leef.”
Dit is die uitspraak
van die Heer, die Here.

10“As iemand egter ‘n gewelddadige seun verwek wat bloed vergiet, en helaas enige van hierdie dinge doen 11– dit terwyl die vader niks daarvan gedoen het nie – as hy wel
op die berge eet,
die vrou van sy medemens verontreinig,
12magteloses en behoeftiges verdruk,
mense beroof,
‘n pand nie teruggegee nie,
na die afgodsbeelde opkyk vir hulp,
afstootlike dinge doen,
13op rente uitleen
en woekerrente neem,
“sal hy bly leef? Hy mag nie bly leef nie. Al hierdie afstootlike dinge het hy gedoen, hy moet beslis sterf. Sy bloedskuld rus op hom.

14“Maar kyk, as hý ‘n seun verwek, en dié het al die sondes van sy vader gesien, dit wat hy gedoen het – ja, hy het dit gesien, maar hy doen nie dieselfde dinge nie – sodat hy
15op die berge nie eet nie,
na die afgodsbeelde van die huis van Israel
nie opkyk vir hulp nie,
die vrou van sy medemens
nie verontreinig nie.
16niemand verdruk nie,
‘n pand nie neem nie,
niemand beroof nie,
sy brood aan honger mense gee,
wie nakend is, met ‘n kleed bedek,
17van onreg hom weerhou,
rente en woekerrente nie neem nie,
my bepalings uitvoer,
en volgens my vaste voorskrifte leef,
hý sal nie sterf vir die sondeskuld
van sy vader nie –
hy sal beslis leef.

18“Wat sy vader betref, omdat hy afgepers het, ‘n stamgenoot beroof het, en wat nie goed is nie, gedoen het tussen sy volksgenote, kyk, hy sal sterf vir sy sondeskuld.

19“Maar julle vra, ‘Waarom dra die seun nie die sondeskuld van die vader nie?’ Die seun het egter gedoen wat reg en billik is; al my vaste voorskrifte het hy nagekom en uitgevoer. Hy sal beslis leef. 20Maar die persoon wat sonde doen, hy sal sterf. ‘n Seun sal nie die sondeskuld van ‘n vader dra nie, en ‘n vader sal nie die sondeskuld van ‘n seun dra nie. Die geregtigheid van die regverdige sal op homself van toepassing wees, en die goddeloosheid van ‘n goddelose sal op homself van toepassing wees.

21“Maar die goddelose, as hy hom bekeer van al sy sonde wat hy gedoen het, en hy kom al my vaste voorskrifte na en doen wat reg en billik is – hy sal beslis leef; hy sal nie sterf nie. 22Al die oortredings wat hy begaan het – dit sal nie teen hom gehou word nie. Deur die geregtigheid wat hy bewys het, sal hy leef. 23Sou Ek enige vreugde vind in die dood van ‘n goddelose?” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Is vreugde nie eerder daarin geleë dat hy van sy verkeerde paaie terugkeer en leef nie?

24“Maar wanneer ‘n regverdige van sy geregtigheid afwyk en onreg doen in navolging van al die afstootlike dade wat die goddelose gedoen het – sal hy dit doen en leef? Al die geregtigheid wat hy bewys het, sal nie onthou word nie. Deur die troubreuk wat hy pleeg en die sonde wat hy doen, daardeur sal hy sterf.

25“Julle sê egter, ‘Die optrede van my Heer is onaanvaarbaar.’ Luister tog, huis van Israel: Is my optrede onaanvaarbaar? Is dit nie julle optrede wat onaanvaarbaar is nie? 26Wanneer ‘n regverdige van sy geregtigheid afwyk en onreg doen, sal hy daaroor sterf. Deur die onreg wat hy doen, sal hy sterf. 27En wanneer ‘n goddelose hom bekeer van die goddeloosheid wat hy begaan het, en hy tree reg en billik op – hy sal sy lewe behou. 28As hy tot insig gekom het en hom bekeer van al die oortredings wat hy begaan het, sal hy beslis leef – hy sal nie sterf nie. 29Tog sê die huis van Israel, ‘Die optrede van my Heer is onaanvaarbaar.’ My optrede, is dit onaanvaarbaar, huis van Israel? Is dit nie julle optrede wat onaanvaarbaar is nie? 30Daarom sal Ek julle oordeel, huis van Israel, elkeen volgens sy optrede,” is die uitspraak van die Heer, die Here. “Bekeer julle! Draai weg van al julle oortredings, sodat dit nie vir julle ‘n struikelblok word wat sondeskuld meebring nie. 31Werp al julle oortredings van julle af weg, dit waarmee julle oortree het, en maak vir julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees. Waarom moet julle sterf, huis van Israel? 32Ja, Ek vind nie vreugde in die dood van een wat moet sterf nie,” is die uitspraak van die Heer, die Here. “Bekeer julle en leef!”

Ander Tekste

Psalm 78:1-4, 12-16
781‘n Maskiel. Van Asaf.
My volk, luister na my onderrig;
spits julle ore vir die woorde
uit my mond.
2Ek gaan my mond oopmaak
vir ‘n spreuk,
ek gaan raaisels uit die verlede
na vore haal.
3Wat ons gehoor het en weet,
wat ons voorouers aan ons vertel het,
4mag ons nie vir ons kinders
wegsteek nie.

Aan die volgende geslag sal ons
die roemryke dade
van die Here vertel:
van sy mag en die wonders
wat Hy gedoen het.
5Hy het ‘n bepaling neergelê in Jakob,
‘n wet vasgestel in Israel:
Wat Hy ons voorouers beveel het,
moet aan hulle kinders
bekend gemaak word,
6sodat die volgende geslag
dit sal weet,
die kinders wat nog gebore
moet word, sal opstaan
en dit aan hulle kinders vertel,
7en sodat húlle weer hulle
vertroue in God kan stel,
God se dade nie vergeet nie
en kan hou by sy bevele.
8Hulle mag nie soos hulle
voorouers wees nie –
‘n hardkoppige en opstandige
geslag, wie se harte
onbestendig was en wie se gees
nie aan God getrou was nie.
9Die kinders van Efraim,
gewapende boogskutters,
het teruggeval op die dag
van die geveg.
10Hulle het nie God se verbond
nagekom nie;
en sy wet het hulle geweier om te volg.
11Hulle het sy dade vergeet,
sy wonders wat Hy hulle
laat sien het.
12Voor die oë van hulle voorouers

het Hy wonders gedoen
in Egipteland,
op die vlakte van Soan.
13Hy het die see oopgekloof
en hulle laat deurtrek;
Hy het die water laat opdam soos ‘n wal.
14Hy het hulle met ‘n wolk gelei bedags,
en die hele nag met die lig van vuur.
15Hy het rotse oopgekloof
in die woestyn,
en hulle baie laat drink,
asof daar ‘n vloed was.
16Hy het strome uit die rotswand
laat vloei,
en water laat afloop soos riviere.

17Maar hulle het steeds
voortgegaan om teen Hom te sondig,
om in die dorre streek
teen die Allerhoogste
opstandig te wees.
18Hulle het God doelbewus
uitgedaag deur kos te vra
wat hulle begeer.
19Hulle het hulle teen God uitgespreek;
hulle het gesê:
“Kan God ‘n tafel dek in die woestyn?
20Kyk, Hy het ‘n rots geslaan
en water het uitgestroom,
spruite het gevloei.
Sou Hy ook brood kon gee
of vleis voorberei vir sy volk?”
21Daarom, toe die Here dit hoor,
het Hy woedend geword,
en ‘n vuur het uitgebreek teen Jakob.
Ook het sy toorn opgevlam teen Israel,
22omdat hulle nie in God geglo het nie,
en nie op sy verlossing vertrou het nie.
23Hy het die wolke daarbo bevel gegee
en die deure van die hemel oopgemaak.
24Hy het manna om te eet
op hulle laat reën,
koring van die hemel het Hy
aan hulle gegee,
25die brood van engele –
mense het dit geëet.
Padkos het Hy vir hulle gestuur –
tot versadiging toe.
26Hy het die oostewind
in die hemel laat losbars;
en deur sy krag die suidewind
laat waai.
27Hy het vleis soos stof op hulle
laat neerreën,
vlieënde voëls soos die sand
van die oseane.
28Hy het dit binne-in sy kamp laat val,
reg rondom sy verblyfplek.
29Hulle het geëet
en was heeltemal versadig;
Hy het wat hulle begeer het,
vir hulle gebring.
30Hulle het nog nie weggedraai
van wat hulle begeer het nie,
hulle kos was nog in hulle monde,
31toe laai God se toorn al
teen hulle op.
Hy het onder hulle vettes
‘n slagting aangerig
en die jong manne van Israel
op hulle knieë gedwing.
32Ten spyte hiervan het hulle
steeds gesondig
en nie aan sy wonders geglo nie.
33So het Hy hulle dae laat eindig
in nietigheid,
en hulle jare in verskrikking.
34Wanneer Hy ‘n slagting
onder hulle aangerig het,
het hulle Hom geraadpleeg;
hulle het teruggedraai en God gesoek.
35Hulle het onthou dat God
hulle rots is,
dat God, die Allerhoogste,
hulle losser is.
36Maar hulle het Hom probeer
oorreed met die mond
en het vir Hom bly lieg met die tong.
37Hulle harte was nie standvastig
teenoor Hom nie;
hulle was nie getrou aan sy verbond nie.
38Maar Hy is barmhartig;
Hy bedek hulle sondeskuld;
Hy delg hulle nie uit nie.
Hy hou dikwels sy toorn terug
en laat nie sy woede
ten volle ontwaak nie.
39Hy dink daaraan dat hulle vlees is,
net maar ‘n asemteug wat gaan
en nie weer terugkeer nie.
40Hoe dikwels was hulle nie
opstandig teen Hom
in die woestyn nie,
het hulle Hom nie gegrief
in die wildernis nie.
41Hulle het God weer uitgedaag,
en die •Heilige van Israel gekrenk.
42Hulle het nie onthou
wat sy hand gedoen het nie,
dié dag toe Hy hulle vrygekoop het
van die teenstander,
43toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte

en sy wonders op die vlakte van Soan.
44Hy het hulle riviere
in bloed verander,
ook hulle strome –
hulle kon glad nie daarvan drink nie.
45Hy het steekvlieë onder hulle
losgelaat,
en dit het hulle geteister;
ook paddas,
en dit het verwoesting onder hulle
aangerig.
46Hy het hulle opbrengs
aan kaalvretersprinkane gegee,
die vrug van hulle arbeid
aan treksprinkane.
47Hy het hulle wingerdstokke

deur hael vernietig,
en hulle wildevyebome
deur ‘n verwoestende vloed.
48Hy het hulle beeste
aan hael oorgegee,
en hulle vee aan weerligstrale.
49Hy het sy brandende toorn
onder hulle ingestuur:
gramskap, vervloeking
en benoudheid –
‘n hele afdeling boodskappers
van onheil.
50Hy het die weg gebaan vir sy toorn;
Hy het hulle nie van die dood
weggehou nie,
maar hulle lewens aan pessiektes
uitgelewer.
51Hy het elke •eersgeborene
in Egipte getref,
die eerstelinge van hulle
manlike krag in die tente van Gam.
52Maar soos kleinvee
het Hy sy volk laat wegtrek.
Toe het Hy hulle soos ‘n kudde
in die woestyn gelei,
53Hy het hulle veilig gelei,
sodat hulle nie verskrik was nie.
Hulle vyande is deur die see oorstroom.
54Hy het hulle na sy •heilige
grondgebied gebring,
na die berg wat sy regterhand
verwerf het.
55Hy het nasies voor hulle uit verdryf.
Hy het wat aan hulle behoort,
met ‘n maatlyn opgemeet as erfdeel,
en die stamme van Israel
in húlle tente laat woon.
56Maar hulle was opstandig
en het God, die Allerhoogste,
uitgedaag;
hulle het nie sy bepalings nagekom nie.
57Hulle was afvallig en ontrou
soos hulle voorouers;
hulle het verander in ‘n slap boog.
58Hulle het Hom uitgetart
met hulle offerhoogtes,
met hulle afgodsbeelde
het hulle Hom ontstel.
59Toe God dit hoor,
het Hy woedend geword
en het Israel heeltemal verwerp.
60Hy het die tabernakel by Silo
prysgegee,
die tent waarin Hy
tussen mense gewoon het.
61Hy het sy krag in ballingskap
oorgegee,
sy heerlikheid in die hande
van teenstanders.
62Hy het sy volk aan die swaard
uitgelewer;
Hy het woedend geword vir sy eiendom.
63Hulle jong manne
is deur vuur verteer,
en hulle jongmeisies
is nie met liedere geprys nie.
4Hulle priesters
het deur die swaard geval
en hulle weduwees kon nie rou nie.
65Toe het my Heer asof
uit die slaap wakker geword,
soos ‘n held uit die roes van wyn.
66Hy het sy teenstanders teruggedryf
en ewige bespotting oor hulle gebring.
67Hy het die tent van Josef verwerp
en die stam van Efraim nie gekies nie.
68Maar Hy het die stam van Juda
gekies,
die berg Sion wat Hy liefhet.
69Hy het sy heiligdom
soos die hoogste hemele gebou,
soos die aarde,
wat Hy vir altyd gevestig het.
70Hy het Dawid, sy dienskneg, gekies,
en hom van die skaapkrale af
weggeneem.
71Agter die lammerooie
het Hy hom laat haal
om Jakob, sy volk, op te pas,
Israel, sy eiendom.
72Dawid het hulle
met ‘n opregte hart opgepas;
met die vaardigheid van sy hande
het hy hulle gelei.

Filippense 2:1-13
21Daarom, as daar enige aansporing in •Christus is, as daar enige troos uit die liefde is, as daar enige gemeenskap van die Gees is, as daar enige innige meelewing en ontferming is, 2maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke; 3deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself; 4deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.

5Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:
66Hoewel Hy in die gestalte van God was,
het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, 7maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy in die vorm van ‘n mens verskyn het,
8het Hy Homself verneder,
deurdat Hy gehoorsaam
geword het tot die dood toe,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook uitermate verhoog
en aan Hom die Naam geskenk
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elke knie sal buig –
van diegene in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde –
11en elke tong sal bely,
“Jesus Christus is die Here!”
tot eer van God die Vader.

LIGDRAERS IN DIE WÊRELD
12Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was – nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook nog veel meer in my afwesigheid – werk met vrees en bewing aan julle verlossing. 13Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.

Matteus 21:23-32
VRAAG OOR JESUS SE GESAG

(Mark 11:27-33; Luk 20:1-8)
23Hy het na die tempelterrein gegaan, en terwyl Hy besig was om onderrig te gee, het die leierpriesters en die familiehoofde van die volk na Hom gekom en gevra: “Op watter gesag doen jy hierdie dinge? En wie het aan jou hierdie gesag gegee?” 24Jesus het hulle geantwoord: “Ook Ek sal julle net een vraag vra, en as julle My kan antwoord, sal Ek op my beurt vir julle sê op watter gesag Ek hierdie dinge doen: 25Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom? Van die hemel of van mense?

” Hulle het toe onder mekaar geredeneer: “As ons sê, ‘van die hemel’, sal Hy vir ons sê, ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ 26Maar as ons sê, ‘van mense …’ – ons is bang vir die skare, want almal beskou Johannes as ‘n profeet. ” 27Hulle het Jesus geantwoord: “Ons weet nie.” Toe sê Hy vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

GELYKENIS VAN TWEE KINDERS
28“Wat dink julle? ‘n Man het twee kinders gehad.
Hy gaan toe na die eerste een en sê, ‘My kind, gaan werk vandag in die wingerd.’ 29Maar hy antwoord, ‘Nee, ek wil nie.’ Later het hy egter spyt gekry en tog gegaan. 30Die man het toe na die ander kind gegaan en dieselfde gesê. Hy het geantwoord, ‘Ek sal, heer,’ maar hy het nie gegaan nie. 31Wie van die twee het die wil van hulle vader gedoen?” Hulle sê: “Die eerste een.” Jesus sê vir hulle: “•Amen, Ek sê vir julle, die •tollenaars en prostitute sal voor julle in die •koninkryk van God ingaan. 32Want Johannes het na julle gekom met die pad van •geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie, maar die tollenaars en prostitute het hom geglo. En hoewel julle dit gesien het, het julle tog nie later berou gekry en hom geglo nie.”

Ekstra stof

Die historiese agtergrond
Esegiël was ‘n priester, die seun van Busi, wat in Galdeërland (Babilonië) opgetree het tydens die ballingskap van Juda in die 6de eeu v.C. Hy was een van die ballinge wat saam met die jong 18-jarige koning Jojagin (2 Kron. 36:9 se grondteks sê eintlik hy was 8 jaar oud!) weggevoer is tydens die eerste veldtog van Nebukadnesar teen Juda in 598-597 v.C.

Esegiël was met die begin van sy profetiese roeping omtrent 30 jaar oud, ‘n afleiding wat ons maak uit die frase in Eseg. 1:1: “Op die vyfde van die vierde maand in die dertigste jaar …” wat ook die vyfde jaar van koningin Jojagin se ballingskap was, d.w.s. 593 v.C. Hoewel daar baie verskillende interpretasies van die betekenis van dié dertigste jaar is, waarvan geeneen regtig bevredigend is nie, is die verklaring van Origines die mees aanvaarbare, dat die datum op sy eie ouderdom dui.

Indien dít die geval is, is Esegiël gebore in die tyd van koning Josia se hervormings in Jerusalem, in die twintigerjare van die vorige eeu, hervormings wat ongelukkig nie die toets van die tyd deurstaan het nie. Josia se een seun, die afskuwelike koning Jojakim (Eljakim), het hom in 609 v.C. opgevolg. Hy was ‘n dwase koning en het onder andere die boekrol met die profesieë van Jeremia opgesny en verbrand (Jeremia 36) en hom só verset teen die Here.

Tydens Nebukadnesar se veldtog teen Jerusalem het Jojakim gesneuwel. Sy seun, Jojagin, het hom opgevolg, maar is ongelukkig na net 3 maande en 10 dae as koning afgesit en weggevoer in Maart 597 v.C. deur Nebukadnesar saam met die elite van Jerusalem. Dit het die koninginmoeder, die vrouens van die koning, sy offisiere, die amptenare, die soldate, die vakmanne en die smede ingesluit, sowel as die jong priester, Esegiël.

Esegiël was getroud, hoewel sy vrou – die een “wat jou soveel vreugde gee” – op tragiese wyse skielik sterf as deel van die boodskap van God aan die volk (Eseg. 24:15-27). Hy kry die ontsettende opdrag: “Jy mag nie treur en huil nie, nie ‘n traan stort nie. Jy moet in stilte sug, jy mag nie rou nie.” Alles as deel van die voorbeeld wat die Here vir die volk gee van wat met hulle gaan gebeur. Ons lees egter nie van enige kinders nie. Esegiël was ook redelik vermoënd, want hy bly in Babel in sy eie huis (Eseg. 3:24).

Esegiël is saam met die ballinge gevestig langs die Kebarrivier, een van die sytakke van die Eufraatrivier, waar hy amper vyf jaar later, in Julie 593 v.C., as profeet geroep is en die woordvoerder van die Here geword het vir beide die ballinge as vir dié wat agtergebly het in Juda en Jerusalem. Hy sou sy visioene en woorde lewer oor ‘n tydperk van ongeveer 22 jaar tot en met 571 v.C., die laaste van die daterings wat in die boek aangegee word (Eseg. 29:17).

Esegiël tree dus op in dieselfde tyd as Jeremia, Habakuk, Joël, Obadja (ook gemik teen Edom soos Esegiël dit doen in hfst. 35-36) en Daniël. Daniël was toe al amper ‘n dekade daar nadat hy gedurende Jojakim se regering na Babel weggevoer is. Dit was in 605 v.C. net na Nebukadnesar die veldslag teen Egipte by Karchemis gewen het en hy vir Jojakim gestraf het met die wegvoering van ‘n deel van sy mense weens sy ondersteuning van Egipte en verset teen Babel.

Terloops, Jojagin is in die 37ste jaar van sy ballingskap begenadig, d.w.s. 560 v.C., en kon van toe af ‘n hoër status geniet het as die ander konings wat saam met hom daar was. Hy het selfs aan die koning van Babel se tafel geëet en ‘n permanente toelae gekry vir sy daaglikse behoeftes solank as wat hy gelewe het (Jeremia 52). Geen wonder dat Matteus in die geslagsregister van Jesus Jojakim se naam uitlaat, en eerder vir Jojagin insluit as voorsaat van Jesus (Matt. 1:11 – lees meer in Matteus).

‘n Tyd van ongelooflike onrus en ontwrigting. 
Dit was dus ‘n tyd van ongelooflike onrus en ontwrigting. Nie net is Esegiël saam met sy mense ontwortel en in ballingskap ver van hulle land gevestig nie. Die dwase besluite van koning Jojakim is voortgesit deur sy jonger broer, koning Sedekia. Sy naam was eintlik Mattanja. Nebukadnesar het sy naam verander om sy onderdanigheid aan Babel te onderstreep.

Sedekia se gebrek aan berou teenoor die Here (“Hy was koppig en onversetlik in sy weiering om hom tot die Here die God van Israel te bekeer”, sê die Kronis in 2 Kron. 36:13) staan veral uit en word ironies genoeg geëggo in sy verset teen Nebukadnesar, aan wie hy “voor God trou gesweer het”, waarskynlik in die tempel. Hy betaal daarvoor die prys om nie net in ballingskap weggevoer te word nie, maar ook die vernedering te moet ondergaan dat sy kinders voor sy oë geslag, sý oë daarna uitgesteek en hy oneer in ballingskap in Babel dood is (2 Kon. 25:6-7; Jer. 52:10-11). ‘n Grillerige gru-verhaal!

Geen wonder dat die Here waarskynlik hierna verwys in sy opdrag aan Esegiël in hfst. 3: “7Maar die mense van Israel sal nie na jou wil luister nie, want hulle wil nie eens na My luister nie. Al die mense van Israel is koppig en onversetlik. 8Maar Ek maak jou net so onversetlik as wat hulle is, jou kop net so hard as hulle s’n. 9Soos diamant, harder as rots, so maak Ek jou kop. Moenie vir hulle bang wees, vir hulle skrik nie. Hulle is ‘n weerbarstige volk.

Hoewel ‘n mens tog in Jeremia 34 agterkom dat Sedekia uiteindelik erg geraak word deur die hongersnood en die dreigende ballingskap, kry hy dit net nie oor sy hart om die regte ding te doen nie. In dié verhaal in Jeremia sit hy tydens die beleg van Jerusalem in 588-586 v.C. by die derde ingang van die tempel en laat Jeremia haal om verder met hom te praat – in plaas daarvan om soos sy voorouers die tempel binne te gaan en die Here om genade te smeek! Hy weet wel die einde is in sig, maar is steeds meer bekommerd oor sy eie lot as oor dié van sy mense en wil by Jeremia weet wat hom te doen staan.

Jeremia kry hom eers sover om te sweer dat Sedekia hom nie iets sal aandoen nie, gegewe sy ervaring in die put!, en spel dan ‘n pad van hoop vir Sedekia uit. Dit sou beteken dat Sedekia homself aan Nebukadnesar sou moes oorgee, soos sy voorganger en broerskind, Jojagin, dit gedoen het. Ongelukkig steur Sedekia hom nie daar aan nie en ly hy die vernederende dood soos Kronieke, Konings en Jeremia (hfst. 39-40) dit uitspel.

Die boodskap van Esegiël
Dit is in dié situasie wat Esegiël deur die Here geroep word om deur visioene en woorde van God aan die volk die volgende boodskap te verkondig. Hy gebruik gewone prosa, nie enige poëtiese taal nie, hoewel hy ook ‘n fabel (hfst. 17 – wingerdstok), simboliek (bv. hfst. 37 – twee stukke hout vir Juda en Josef) en metaforiese taal (bv. hfst. 23 – Ohola en Oholiba as name vir die susters Samaria en Jerusalem) inspan:

  • HOOFSTUK 1-36: Aan die een kant verkondig Esegiël die oordeel van die heilige God oor die onreg en verydeling van mense wat Hom minag (veral hfst. 1-36). Hy verwyder hulle daarom uit hulle land en stuur hulle in ballingskap, terwyl Hy ook sy teenwoordigheid van hulle onttrek. Die profesieë sluit ook God se oordeel oor die nasies in (hfst. 25-36), hoewel Esegiël hom interessant genoeg nie teen Babel self uitspreek nie. Dié hoofstukke is geskryf tot en met die val van Jerusalem in 586 v.C. waarvan iemand wat ontsnap het vir Esegiël so ses maande later kom sê het (Eseg. 33:21). Daar is enkele dele wat later gedateer word, bv. Eseg. 29:17 wat uit 571 v.C. is.
  • HOOFSTUK 37-48: Aan die ander kant verkondig Esegiël die hoop wat daar tog is in terme van God se deernisvolle, maar ook soewereine selfstandige besluit – ter wille van sy eie eer (Eseg. 36)! – om die lot van die volk te verander en hulle weer die voorreg van sy teenwoordigheid te laat geniet in hulle eie land (veral hfst. 37-48). Die tempel raak die sentrum van die lewe wat God gee vir alles en almal. Dié hoofstukke is geskryf ná die val van Jerusalem waarvan die laaste datum wat aangedui is, 573 v.C. is (Eseg. 40:1).

Dit help om die terugskouende perspektief van die Kronis op die ballingskap in gedagte te hou in jou verwerking van die impak van Esegiël. Die Kronis help ‘n mens om perspektief te kry oor dié ontstellende gebeure van die ballingskap. Hy wyt God se optrede aan die konsep van ‘n sabbatsjaar, waarin die land as’t ware braak moes lê om te vergoed vir die ongehoorsaamheid deur die loop van 5 eeue.

Geen wonder dat Esegiël sy boodskap van oordeel, sowel as sy boodskap van hoop onder andere aan die “berge van Israel” in hfst. 6 en 36 onderskeidelik rig. Die sewentig jaar van die ballingskap bring dus ‘n lafenis vir dié stuk land wat soveel onreg en verydeling moes verduur. Jojakim en Sedekia se koppige, weerbarstige en onversetlike houding was dus ook maar net die laaste strooi in ‘n lang geskiedenis van ongehoorsaamheid deur die leiers en die volk.

Esegiël verkondig daarom in die eerste deel van sy boek die onvermydelike val van Juda en Jerusalem en die wegvoering in ballingskap van die res van die volk as gevolg van hulle volhardende sonde en die feit dat die Here sy teenwoordigheid van hulle onttrek, uitgebeeld met die visioen: “Die magtige teenwoordigheid van die Here het uit die stad opgestyg …” (Eseg. 11:23).

Die boodskap van hoop sluit daarom egter in die tweede deel van sy boek ook die toekomstige terugkeer van die teenwoordigheid van die Here na Jerusalem en die tempel in: “Daar sien ek toe die magtige verskyning van die God van Israel uit die ooste uit … Die magtige teenwoordigheid van die Here het deur die oospoort na die tempel toe beweeg.” (Eseg. 43:2,4). Daar, sê Esegiël, sal die volk weer die lewe van ‘n eenheid met God beleef, sowel as ‘n eenheid as volk, uitgedruk met die simboliese stukke hout, Juda en Josef (Eseg. 37).

Die nuwe tempel – uitvoerig beskrywe in hfst. 40-44 – sal nou die sentrum van die volk wees, nadat hulle lewend gemaak is deur die Gees, hoewel hulle ook die vreugde van die herstel van die land en stad op die koop toe sal belewe – hfst. 45-48.

Die teenwoordigheid van die Here vanuit die tempel sal die bron van lewe wees, voorgestel as ‘n lewende stroom water wat genesing bring: “Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.” Johannes sou in sy eindtydelike visioene by hierdie beeld aansluit (Openb. 22 – vgl. ook Psalm 1).

Dit verklaar ook vir ‘n mens hoekom Haggai en Sagaria só sterk optree toe die volk, ná hulle terugkeer na die land in 538 v.C., ná 20 jaar nog nie aan die gang gekom het met die herbou van die tempel nie. Hulle sterk standpunte het Esegiël se visie in werking gestel toe die volk in ‘n vier jaar tydperk van 520 – 516 v.C. die fondamente van die tempel gelê en weer herbou het.

Esra, Maleagi en Nehemia sou nog verder werk aan die vestiging van God se teenwoordigheid onder die volk. Esra het die volk in 458 v.C. gehelp om weer geheg te raak aan die wet van die Here. Maleagi het in 432 v.C. gefokus op die herstel van hulle geestelike verhouding met God, geëggo in hoe hulle die tempeldiens met offers ondersteun, asook in hulle absolute getrouheid in die huwelik. En Nehemia het in dieselfde tyd gefokus op die herstel van die mure van Jerusalem, asook op die volk se getrouheid aan sosiale geregtigheid, onder andere in die wyse waarop armes hanteer is. Maar daaroor kan julle meer lees in my bydraes by die skakels hierbo.

Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem
Esegiël hanteer in hierdie hoofstuk die moeilike vraagstuk van die verband tussen kollektiewe en persoonlike verantwoordelikheid.

Aan die een kant was dit duidelik dat die ballingskap ‘n kollektiewe strafmaatreël van die Here is. Soos Hy vir hulle as volk verkies en in ‘n verbond aan Hom gebind het, hulle die beloofde land ingebring en daar versorg het, só het Hy hulle nou met die strawwe van daardie verbond getref. Die vorige hoofstuk het dié aksie van God met die gelykenis van die wingerdstok aan hulle misplaaste verbintenis aan die “ander” arend, Egipte, gewyt. Die hele volk is dus kollektief deur dié ongelukkige en dwase keuses, in dié geval veral van die leiers, getref.

Maar, aan die ander kant was daar egter ook min mense wat regtig hulle hande in onskuld kon was, soos Esegiël verskeie kere uitgewys het. Hulle het immers saam skuld gehad aan die magsmisbruik en afgodery, hetsy deurdat hulle eie toedoen óf deurdat hulle hulle nie daarteen verset het nie (vgl. hfst. 7). Die individuele lede van die volk het dus in mindere of meerdere mate ook persoonlik ‘n aandeel gehad in die kollektiewe afvalligheid van die volk as geheel.

Die mense wat nou in ballingskap was, het hulle eie verantwoordelikheid boonop nog verder probeer minimaliseer deur die volgende spreekwoord op hulle van toepassing te maak: “Die vaders eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp.” (vgl. Jer. 31:30). Hierdie verontskuldiging en verplasing van alle blaam op die voorvaders, kon maklik lei tot ‘n totale fatalisme – die lewe is nou eenmaal só en ek kan daaraan niks verander nie – en ‘n algehele ontduiking van persoonlike verantwoordelikheid om die Here te dien en aan Hom gehoorsaam te lewe.

Daarom kom die woord van die Here na Esegiël en spreek dié situasie aan. Die ballinge was vir Hom nie net kosbaar nie, hulle lewe en lewenstyl het vir Hom saak gemaak. Hy doen dit as volg:

  • 18:1-4 – Al die mense behoort aan My
  • 18:5-20 – Elkeen sal die vrugte van sy eie lewe pluk regdeur die geslagte
  • 18:21-29 – Elkeen sal die vrugte van sy eie lewe pluk regdeur sy eie lewe
  • 18:30-32 – Laat vaar al julle oortredings en kry ‘n nuwe gesindheid, ‘n nuwe gees

18:1-4 – Al die mense behoort aan My
Die volk in ballingskap het met die spreekwoord van die vaders wat groen druiwe eet en die kinders se tande wat stomp word, hulle eie verantwoordelikheid probeer ontduik om aan die Here gehoorsaam te lewe. Daarop reageer die Here deur hulle onomwonde op hulle eie persoonlike verantwoordelikheid te wys. Al die mense, ouers en kinders, behoort aan die Here en is lojaliteit aan Hom verskuldig. Elkeen sal dus ook sy eie skuld dra as “groen druiwe” geëet word.

18:5-20 – Elkeen sal die vrugte van sy eie lewe pluk regdeur die geslagte
Dié beginsel van persoonlike verantwoordelikheid wat die Here hier neerlê, word nou op twee maniere uitgelê. Eers word daar in vers 5-20 gewys op die feit dat elkeen die vrugte of straf van sy eie lewe sal kry regdeur die geslagte. Daarna word in vers 21-29 gewys op die feit dat dit selfs waar sal wees regdeur iemand se eie lewe.

Esegiël gebruik hier drie opeenvolgende geslagte om dié beginsel van persoonlike verantwoordelikheid regdeur die geslagte uit te spel. Sommige verklaarders dink aan die opeenvolgende konings Hiskia, Manasse en Josia wat dié drie geslagte – goed, boos, goed – sou kon verteenwoordig, maar dit is waarskynlik ‘n bietjie spitsvondig.

Die eerste geval wat geteken word, is iemand wat volgens God se wil lewe. Vyftien beginsels uit die wetboek word saamgebundel as illustrasie van dié dinge wat volgens God se wil gedoen word en die lewe vir só iemand sal verseker: “Wie wil leef volgens my wil, sal reg laat geskied en reg doen“. Dit is veral moreel- en sosiaal-etiese (geen owerspel, geen verdrukking, verpande goed teruggee, niemand beroof nie, kos vir hongeriges, kleding vir behoeftiges, rentevrye lenings, geen woekerwins, van onreg weerhou, goeie regspraak verseker) maar ook geestelik-godsdienstige beginsels (geen vreemde offers, geen afgode, geen gemeenskap tydens menstruasie [wat jou kulties onrein sou maak], lewe volgens God se voorskrifte, gehoorsaam en getrou aan God se bepalings).

Die tweede geval is ‘n “wilde seun” van eersgenoemde pa wat moord pleeg of van bogenoemde sondes doen en daarom “nie kan bly lewe nie“. ‘n Seleksie van die beginsels word gelys.

Die derde geval is ‘n kleinkind wat sy pa se sondes sien en besluit om eerder die Here te dien en nie sulke sondes te doen nie: “So iemand sal nie sterf vir sy pa se sondes nie, hy sal bly lewe.” Weereens word ‘n seleksie van bogenoemde beginsels gelys.

Daarmee deurbreek die Here die gedagte dat die sondes van die vaders outomaties ‘n effek op die kinders en kleinkinders het, soos soms verkeerdelik uit die Tien Gebooie afgelei word (Eks. 20:5). Sonde kan ‘n patroon word in die geslagte, maar deur persoonlike verantwoordelikheid ook weer verander word.

Daarom hou ek van die NET Bible se vertaling van Eks. 20:5-6 wat dit meer genuanseerd weergee: “You shall not bow down to them or serve them, for I, the LORD, your God, am a jealous God, responding to the transgression of fathers by dealing with children to the third and fourth generations of those who reject me, and showing covenant faithfulness to a thousand generations of those who love me and keep my commandments.” Let op dat dit daar gaan oor die weiering om afgode te dien, en dat God se genade onmiddellik inskop wanneer iemand begin om die afgode te verwerp en die Here alleen te dien, ook tot voordeel van die nageslag. Dit skep nuwe patrone!

Niemand is dus uitgelewer aan die sondes van die voorgeslagte nie. Die Here se genade troef die patrone van sonde in alle gevalle wanneer Hy alleen gedien word. Daarom word elkeen uiteindelik op grond van sy eie verhouding met die Here beoordeel. God se regverdigheid word só deur Esegiël bevestig, maar ook God se eis tot persoonlike verantwoording.

18:21-29 – Elkeen sal die vrugte van sy eie lewe pluk regdeur sy eie lewe
Vervolgens hanteer Esegiël tweedens die verwante vraag na wat in iemand se lewe gebeur as hy of sy enersyds tot bekering kom, of andersyds afvallig raak. Wat is die lot van iemand wat verander, ten goede of ten kwade?

In die eerste plek beskryf hy iemand wat eers goddeloos lewe, maar hom dan tot die Here bekeer en begin om wel die Here te dien. Hoe wonderlik klink die belofte van die Here nie: “Nie een van sy oortredings wat hy begaan het, sal teen hom gehou word nie.” (18:22).

Hieraan word die allerbelangrike insig in wie God is, gekoppel: “Dit is beslis nie my wil dat die goddelose moes sterf nie … dit is my wil dat hy hom bekeer van sy verkeerde dade en dat hy bly lewe.” (18:23).

Die teendeel is egter ook waar dat as iemand in die tweede plek eers God se wil doen, en dan afvallig word, daarvoor gestraf sal word. Die Here is regverdig en billik teenoor alle mense, goddeloos én gelowig.

18:30-32 – Laat vaar al julle oortredings en kry ‘n nuwe gesindheid, ‘n nuwe gees
Daarom roep die Here die volk op – as geheel en individueel – om hulle tot Hom te bekeer, sodat Hy vir hulle ‘n nuwe gesindheid (hart), ‘n nuwe gees kan gee. Dit is sy wil vir alle mense: “Dit is nie my wil dat die mens moet sterf nie … maar dat hy hom bekeer en bly lewe.” (18:32)

Hierdie opdrag hou verband met die vorige belofte in Eseg. 11:19-20 – “Ek sal hulle ‘n ander hart gee en ‘n nuwe gees onder hulle laat posvat …” – en sal weer vermeld word in Eseg. 36:26-27: “26Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. 27Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.

Leesrooster vir Lidmate

Esegiël 18:1-4, 25-32
God roep sy volk tot bekering en verwerp die vals hoop wat mense in spreekwoorde stel om hul lewe te verseker.

Moment 1

Ons word soms verblind deur oorgelewerde wysheid
Die Here het ‘n boodskap vir sy profeet Esegiël oor die land Israel. God is verontwaardig oor die common sense-wysheid wat die lewe van sy verbondsvolk rig. Hulle gebruik ‘n vals en misleidende spreekwoord om mekaar gerus te stel. Hulle verdraai God se wil vir sy verbondsvolk van die huidige geslag. Volgens die spreekwoord straf God nie die geslag wat nou teen hom sondig nie. Hoe verstaan jy die spreekwoord wat in vers 2 aangehaal word? Hoe sal jy as gestuurde verkondiger van God se verlossing in hierdie konteks getuig?

Moment 2

Ons staan verleë wanneer God ons onkunde ontbloot
God verwerp die volk se valse gerustheid en verwronge sin vir onskuld: “So seker as wat Ek leef.” God se boodskap is dat die common sense-wysheid nie meer by Israel sal opkom nie. God beklemtoon dat niemand die blaam vir sonde op ‘n ander kan laai nie. God is in beheer van alle lewe. Die wysheid van God staan teenoor die common sense-wysheid in Israel: “Die persoon wat sonde doen, dié moet sterf” (v 4, 2020-vertaling). Hoor jy hierdie direkte boodskap van God binne die konteks van jou geloofsgemeenskap? Hoe gaan jy te werk om verdraaide opvattings oor God in jou vriendekring te korrigeer?

Moment 3

Ons word oorweldig deur die uitkomste wat God bewerk
In vers 31 bied God sy nuwe moontlikhede vir Israel aan. God verseker sy verbondsvolk dat sy streng afwysing van hul sonde en vals beskuldigings teen Hom nie beteken dat daar nie vir hulle ‘n toekoms saam met God is nie. Die Here vind nie vreugde daarin dat een van sy volk moet sterf nie. Wat hulle wel nodig het, is ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees. Hoe sal jy hierdie uitkoms wat God aankondig aan iemand verduidelik wat die common sense-wysheid van vers 2 aanhang? Hoe sal jy God se uitkoms aan jou geloofsgemeenskap kommunikeer in die vorm van digterlike taal?

Moment 4

Ons onderwerp ons aan God koninklike heerskappy
In die Seisoen van Koninkrykstyd word die kerk van Jesus Christus uitgenooi om die fokus te plaas op gestaltes van God se heerskappy en op die kenmerke van dissipelskap. Besin oor hoe vers 30 jou help om vanuit Ou-Testamentiese perspektief riglyne neer te lê vir geloofsgemeenskappe vandag. Wat sê God se uitspraak dat Hy die huis van Israel sal oordeel vir jou oor God se heerskappy in ons tyd? Wat leer jy oor dissipelskap vir die jaar 2023 uit God se

Liturgie

Aanvangslied:  Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord: – uit Psalm 78:1-4

Seëngroet: (Open 1)

Lied: 220 “Met ons harte sing ons Here 1,2,3” (Melodie 219)

Wet: (Uit Filippense 2)

Skuldbelydenis
Genadige God,

en/of

FLAM 7 Here, Ek Vergeet So Gou
(RUBRIEK: Kruisfuur – Skuldbelydenis)

Vryspraak
Wie is in ’n posisie om te veroordeel?

Geloofsbelydenis: (ahv Filippense 2)

Loflied: 215 “Here ons al U loof 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Esegiël 18

Familie-oomblik
Prediking
Gebed

Offergawes

Wegsending: Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.

of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,

of

VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Aanvangslied: Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord: – uit Psalm 78:1-4
V: My volk, luister na my onderrig;
spits julle ore vir die woorde
uit my mond.
Ek gaan my mond oopmaak
vir ’n spreuk,
ek gaan raaisels uit die verlede
na vore haal.
G: Wat ons gehoor het en weet,
wat ons voorouers aan ons vertel het,
mag ons nie vir ons kinders
wegsteek nie.
Aan die volgende geslag sal ons
die roemryke dade
van die Here vertel:
van sy mag en die wonders
wat Hy gedoen het.

Seëngroet: (Open 1)
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Lied: 220 “Met ons harte sing ons Here 1,2,3” (Melodie 219)

Wet: (Uit Filippense 2)
21Daarom, as daar enige aansporing in •Christus is, as daar enige troos uit die liefde is, as daar enige gemeenskap van die Gees is, as daar enige innige meelewing en ontferming is, 2maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke; 3deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself; 4deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.
5Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees…

Skuldbelydenis
Genadige God,
U vergewe almal wat hulle skuld bely en na U toe draai.
In verootmoediging bely ons ons sonde en vra ons om u genade.
Ons het U nie met ons hele hart liefgehad nie
en ook nie ons naaste soos onsself nie.
Ons het nie gedoen wat reg is nie,
nie troue liefde bewys nie,
en nie nederig die pad saam met God geloop nie.
– verwerk uit die Common Book of Worship, PCUSA

FLAM 7 Here, Ek Vergeet So Gou
(RUBRIEK: Kruisfuur – Skuldbelydenis)
Oorspronklike titel: Lord, Have Mercy
Teks en musiek: Steve Merkel
Afrikaanse vertaling: 2005 Breda Ludik
© 2000 Integrity’s Hosanna Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Here, ek vergeet so gou
u woorde en beloftes,
en die vuur wat in my hart
gebrand het, is nou flou.
Met ‘n hart vol ongeloof
bedink ek aardse wysheid.
Vergewe tog my louheid,
ontvlam my hart se vuur.

Refrein:
Heer, vergewe, wees genadig.
Jesus, wees genadig.
Heer, vergewe, wees genadig.
Christus, wees genadig.

2. Ek het soms ook neergekniel
voor mensgemaakte gode
en gegaan op paaie wat
my ver van U wegneem.
Maar ek keer weer terug na U
en pleit om u genade.
Vergewe tog my sonde
en neem my in u huis.

Refrein:
Ek het terug verlang na U,
u liefde en genade;
na die stroom van goedheid
wat vloei van waar U woon.
Nou kom buig ek voor U neer,
want U is nog my Vader.
Ek is nog ‘n kind van U;
ek kan U nie vergeet.

Refrein:

Vryspraak
Wie is in ’n posisie om te veroordeel?
Slegs Jesus Christus,
en Christus het vir ons gesterf,
Christus het vir ons opgestaan,
Christus regeer in krag en heerlikheid vir ons,
en Christus bid vir ons.
Almal wat in Christus is, is ’n nuwe skepping,
die ou lewe het verbygegaan en die nuwe het begin.
– verwerk uit die Common Book of Worship, PCUSA

Geloofsbelydenis: (ahv Filippense 2)
Voorganger: Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God die Vader
Gemeente: Hy wat in die gestalte van God was, maar Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word

V: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.
G: Hy het Homself verneder en was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

V: Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en Hy sit aan die regterhand van God die almagtige Vader.
G: God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

V: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie buig, en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here!
G: Tot eer van God die Vader.

Loflied: 215 “Here ons al U loof 1,2,3,4,5”

Liedere

F144. “God Is Liefde ‘
RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Kersfees / Epifanie, lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: AP van der Colf (c) NGKU
© 2005 Urial Publishing
(1 Joh 4:7-21; Rom 5:1-11; Joh 3:16)

God is liefde
Juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef

F294. Neem My Lewe
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Gebed / Toewyding)
Teks & Musiek: Marina du Toit
© 2008 Urial Publishing

Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer
Want U is die lewe en U is die lig
U gee die water en ek dra die vrug
Neem my lewe laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer
Want U is die Skepper en ek is die klei
Maak vir u hart, Heer, ’n woning in my
Snoei my vom my, suiwer my
Laat U meer word binne my
En laat al die vuilheid wegbrand, Heer
Laat ek weer skoon word al is dit seer
Snoei my, vorm my, suiwer my
Laat U meer word binne my
En laat ek die vrug dra om heilig te wees
’n Lewende offer gevul met u Gees
’n Lewende offer vir U
’n Lewende offer gevul met u Gees

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here Jesus,
die wêreld en al die keuses is besig
om my tot raserny te dryf
maak dit stil in my hart en gedagtes
kalmeer my en verlos my van hierdie angstigheid
hierdie koorsagtige gejaag na dinge
neem my lewe en my begeertes
vul my met u liefde en lewe
vervang die hunkering, verkeerde gedagtes
die vooroordele, die skerp taal en vernederende houdings
met woorde en gesindhede wat in u hart ontstaan het,
met drome wat u droom vir die mense wat ek ontmoet
laat U heerlikheid deur my straal
sodat almal U kan ontdek in my lewe
in een sin, Here,
“Neem asseblief beheer van my lewe!”

Skriflesing: Esegiël 18

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Soos reeds gesê, die eerste Sondag in Oktober is ook Wêreldnagmaalsondag. Dit sal goed wees om as gemeente op hierdie Sondag saam met gemeentes oor die wêreld heen die nagmaal te vier. Carolyn C Brown gee ’n paar kindervriendelike idees om Wêreldnagmaalsondag te vier. Volg hierdie skakel daarvoor.

of

Vra ’n ouer en twee jongmense om die verhaal van die pa en die seuns op te voer. Dit sal nodig wees om vir die kinders die woord “wil” te verduidelik. Dit word op twee maniere in die teks gebruik: “Nee, ek wil nie” en: “Wie van die twee het die wil van hulle vader gedoen?” Gesels met die kinders oor wat God se wil is. Vir verdere idees en ’n oulike voorstel vir ’n kindervriendelike skuldbelydenis, gaan kyk gerus na “Worshiping with children”.

Preekriglyn

[Nota: Onderstaande preekskets veronderstel dat die prediker die hele hoofstuk verreken, nie bloot die twee seleksies van die Leesroosterteks nie.]

Ons teks kom uit ‘n tyd vol woelinge en swaarkry in die geskiedenis van God se volk. Dit is daarom goed dat ons iets meer weet van die omstandighede van die volk en van die profeet Esegiël. Dit help ons om hierdie as die Woord van God vir ons in ons tyd te hoor.

Esegiël

Esegiël was ‘n priester, die seun van Busi, wat in Babilonië opgetree het tydens die ballingskap van Juda (die suidelike twee stamme van die oorspronklike Israel) in die 6de eeu v.C. Hy was een van die ballinge wat saam met die jong 18-jarige koning Jojagin weggevoer is tydens die eerste veldtog van Nebukadnesar teen Juda in 598-597 v.C.

Esegiël was met die begin van sy profetiese roeping omtrent 30 jaar oud. Hy is gebore in die tyd van koning Josia se hervormings in Jerusalem, hervormings wat ongelukkig nie die toets van die tyd deurstaan het nie. Josia se een seun, die afskuwelike koning Jojakim, het hom in 609 v.C. opgevolg. Hy was ‘n dwase koning wat hom verset het teen die Here.

Tydens Nebukadnesar se veldtog teen Jerusalem het Jojakim gesneuwel. Sy seun, Jojagin, het hom opgevolg, maar is ongelukkig na net 3 maande en 10 dae as koning afgesit en weggevoer in Maart 597 v.C. deur Nebukadnesar saam met die elite van Jerusalem. Dit het die jong priester, Esegiël, ingesluit.

Esegiël is saam met die ballinge gevestig langs die Kebarrivier, een van die sytakke van die Eufraatrivier, waar hy amper vyf jaar later, in Julie 593 v.C., as profeet geroep is en die woordvoerder van die Here geword het vir beide die ballinge as vir dié wat agtergebly het in Juda en Jerusalem. Hy sou sy visioene en woorde lewer oor ‘n tydperk van ongeveer 22 jaar tot en met 571 v.C.

In die eerste gedeelte van die boek (hoofstukke 1-36) verkondig Esegiël die oordeel van God oor die volk se sonde, maar in die tweede deel (hoofstukke 37-48) fokus hy op die hoop wat die volk in die Here en in gehoorsaamheid het.

Ontwrigting

Dit was dus ‘n tyd van ongelooflike onrus en ontwrigting. Nie net is Esegiël saam met sy mense ontwortel en in ballingskap ver van hulle land gevestig nie. Die dwase besluite van koning Jojakim is voortgesit deur sy jonger broer, koning Sedekia.

Die dwaasheid en ongehoorsaamheid van die konings in Esegiël se tyd span die kroon oor eeue van die volk se ontrou en sonde. Vandaar die verwoesting wat as straf oor die volk kom. Hulle word ontwortel en in ballingskap weggevoer.

Esegiël 18

Ons teks kom uit Esegiël 18. Die hoofstuk handel daaroor dat God die mense seën wat Persoonlik verantwoordelikheid neem vir hulle optrede, en in berou oor sonde en gehoorsaamheid aan God lewe.

Esegiël hanteer in hierdie hoofstuk die moeilike vraagstuk van die verband tussen kollektiewe en persoonlike verantwoordelikheid.

Aan die een kant was dit duidelik dat die ballingskap ‘n kollektiewe strafmaatreël van die Here is. Soos Hy vir hulle as volk verkies en in ‘n verbond aan Hom gebind het, hulle die beloofde land ingebring en daar versorg het, só het Hy hulle nou met die strawwe van daardie verbond getref. Die hele volk is dus kollektief deur dié ongelukkige en dwase keuses, in dié geval veral van die leiers, getref.

Hoewel die leiers ongehoorsaam was, kon die lede van die volk hulleself ook nie verontskuldig nie. Hulle het immers saam skuld gehad aan die magsmisbruik en afgodery, hetsy deurdat hulle eie toedoen óf deurdat hulle hulle nie daarteen verset het nie (vgl. hfst. 7). Die individuele lede van die volk het dus in mindere of meerdere mate ook persoonlik ‘n aandeel gehad in die kollektiewe afvalligheid van die volk as geheel.

Selfverontskuldiging

Die mense wat nou in ballingskap was, het hulle eie verantwoordelikheid probeer minimaliseer deur die volgende spreekwoord op hulle van toepassing te maak: “Die vaders eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp.

Mens kan hierdie gesegde in gewone Afrikaans vertaal deur te sê: “Die ouers het drooggemaak en nou kou die kinders klippe.”

Hierdie verontskuldiging en verplasing van alle blaam op die voorvaders kon maklik lei tot ‘n totale fatalisme – die lewe is nou eenmaal só en ek kan daaraan niks verander nie – en ‘n algehele ontduiking van persoonlike verantwoordelikheid om die Here te dien en aan Hom gehoorsaam te lewe.

Oorsig oor hoofstuk 18

Die Here wil die selfverontskuldigende volk op die regte weg lei, die weg van berou, bekering en ‘n lewe van gehoorsaamheid. Daarom kom die woord van die Here na Esegiël en spreek dié situasie aan. Die ballinge was vir Hom nie net kosbaar nie, hulle lewe en lewenstyl het vir Hom saak gemaak. Hy doen dit as volg:

  • 18:1-4 – Al die mense behoort aan My
  • 18:5-20 – Elkeen sal die vrugte van sy eie lewe pluk regdeur die geslagte
  • 18:21-29 – Elkeen sal die vrugte van sy eie lewe pluk regdeur sy eie lewe
  • 18:30-32 – Laat vaar al julle oortredings en kry ‘n nuwe gesindheid, ‘n nuwe gees.

18:1-4 – Almal behoort aan My
Die volk in ballingskap het met die spreekwoord van die vaders wat groen druiwe eet en die kinders se tande wat stomp word, hulle eie verantwoordelikheid probeer ontduik om aan die Here gehoorsaam te lewe. Daarop reageer die Here deur hulle onomwonde op hulle eie persoonlike verantwoordelikheid te wys. Al die mense, ouers en kinders, behoort aan die Here en is lojaliteit aan Hom verskuldig. Elkeen sal dus ook sy eie skuld dra as “groen druiwe” geëet word.

18:5-20 – Pluk die vrugte van jou eie lewe, regdeur al die geslagte
Dié beginsel van persoonlike verantwoordelikheid wat die Here hier neerlê, word nou op twee maniere uitgelê. Eers word daar in vers 5-20 gewys op die feit dat elkeen die vrugte of straf van sy eie lewe sal kry regdeur die geslagte. Daarna word in vers 21-29 gewys op die feit dat dit selfs waar sal wees regdeur iemand se eie lewe.

Esegiël gee in hierdie gedeelte van die hoofstuk praktiese voorbeelde om aan te toon hoe God elke mens verantwoordelik hou. Hy gebruik die geslagte ter illustrasie om aan te toon dat mens die vrugte van jou eie lewe pluk, regdeur al die geslagte.

Daarmee deurbreek die Here die gedagte dat die sondes van die vaders outomaties ‘n effek op die kinders en kleinkinders het, soos soms verkeerdelik uit die Tien Gebooie afgelei word (Eks. 20:5). Sonde kan ‘n patroon word in die geslagte, maar deur persoonlike verantwoordelikheid ook weer verander word.

Niemand is dus uitgelewer aan die sondes van die voorgeslagte nie. Die Here se genade troef die patrone van sonde in alle gevalle wanneer Hy alleen gedien word. Daarom word elkeen uiteindelik op grond van sy eie verhouding met die Here beoordeel. God se regverdigheid word só deur Esegiël bevestig, maar ook God se eis tot persoonlike verantwoording.

18:21-29 – Pluk die vrugte van jou eie lewe, regdeur jou eie lewe
Vervolgens hanteer Esegiël tweedens die verwante vraag na wat in iemand se lewe gebeur as hy of sy enersyds tot bekering kom, of andersyds afvallig raak. Wat is die lot van iemand wat verander, ten goede of ten kwade?

In die eerste plek beskryf hy iemand wat eers goddeloos lewe, maar hom dan tot die Here bekeer en begin om wel die Here te dien. Hoe wonderlik klink die belofte van die Here nie: “Nie een van sy oortredings wat hy begaan het, sal teen hom gehou word nie.” (18:22).

Hieraan word die allerbelangrike insig in wie God is, gekoppel: “Dit is beslis nie my wil dat die goddelose moes sterf nie … dit is my wil dat hy hom bekeer van sy verkeerde dade en dat hy bly lewe.” (18:23).

Die teendeel is egter ook waar dat as iemand in die tweede plek eers God se wil doen, en dan afvallig word, daarvoor gestraf sal word. Die Here is regverdig en billik teenoor alle mense, goddeloos én gelowig.

18:30-32 – Laat vaar al julle oortredings en kry ‘n nuwe gesindheid, ‘n nuwe gees

Daarom roep die Here die volk op – as geheel en individueel – om hulle tot Hom te bekeer, sodat Hy vir hulle ‘n nuwe gesindheid (hart), ‘n nuwe gees kan gee. Dit is sy wil vir alle mense: “Dit is nie my wil dat die mens moet sterf nie … maar dat hy hom bekeer en bly lewe.” (18:32)

 

Hierdie opdrag hou verband met die vorige belofte in Eseg. 11:19-20 – “Ek sal hulle ‘n ander hart gee en ‘n nuwe gees onder hulle laat posvat …” – en sal weer vermeld word in Eseg. 36:26-27: “26Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. 27Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.

Boodskap

Die ballingskap kon die volk op twee maniere lamlê.

Dit kon aan die een kant hulle fatalisties maak. Hulle pa’s en ma’s het drooggemaak, en nou is hulle in ballingskap sonder hoop en sonder uitkoms. Hulle dra die kollektiewe skuld van die verlede en sal as gevolg daarvan verlore gaan.

Dit kon hulle egter aan die ander kant verlei om hulleself te verontskuldig, hulle ouers die skuld te gee, en nie self verantwoordelikheid te aanvaar nie. Hulle kon hulle eie aandeel aan die verlede en die persoonlike verantwoordelikheid vir hulle gedrag in die hede geringskat.

In beide gevalle kon hulle dus besluit om te doen wat hulle wil. Hulle sou kon lewe met die idee dat om God te dien en Hom te gehoorsaam, geen doel dien nie. Hulle sou kon reken gehoorsaamheid al dan nie gaan nie saak maak vir God nie. Hulle lot is in elk geval verseël en sal op niks uitloop nie. Doen dan liewer presies wat ‘n mens self wil, en vergeet van God en sy gebod.

Daarom moedig Esegiël hulle aan om aan die een kant met die hoop te lewe dat God regverdig en genadig is. Nie net behoort alle mense aan Hom nie (18:4). Dit is duidelik beslis nie God se wil dat mense sterf nie, selfs nie die goddelose nie. “My wil is dat hy hom bekeer van sy verkeerde dade en dat hy bly lewe.” (18:23). Soos Petrus lank hierna sal sê: “Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Pet. 3:9).

Aan die ander kant moedig hy hulle aan om persoonlik verantwoordelikheid te neem om volgens God se wil te lewe, reg te laat geskied en reg te doen (18:5). God seën dié wat met “‘n nuwe gesindheid, ‘n nuwe gees“, lewe (18:31), wat toelaat dat Hy hulle lewens beheer. En dít het nie net ‘n persoonlike uitkoms nie, maar ook een vir die geslagte, soos die woord in Eksodus 20:6 ons herinner: “Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

Só sluit Esegiël ook vir ons die toekoms oop. Dit is ómdat ons die hoop het dat God regverdig en genadig is, dat ons onsself aan Hom kan toewy en aan Hom gehoorsaam kan lewe. Só sê Paulus immers in Filippense 2: “12Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.

Wat doen ‘n mens wanneer jy in ons tyd dikwels moedeloos raak omdat die sondes van die vaders teen die kinders gehou word? Die Woord van die Here nooi ons uit om God te gehoorsaam en inbeskaamd te doen wat reg is. God seën ons gehoorsaamheid, al is die tye hoe moeilik.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1”

Seën
Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.
Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.
Die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou om jou te seen.
Die Here is in jou om jou te lei met sy Heilige Gees.
Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.

Amen.
(‘n ou Ierse seen)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers
Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.

Laat dit so wees, Here, Amen.

of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

of

VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

© Missio 2024 | All rights reserved.