Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Preekstudie – Eksodus 20:1-4, 7-9, 12-20

Teks

Eksodus 20 vertel van mense in historiese omstandighede. Die outeur(s) wil deurgee dat die lewe in hierdie omstandighede handelinge van God met en vir daardie mense is — verbondshandelinge. Eksodus se geskiedenis is nie maar net nie: dit gebeur !

Vir ‘n verstaan van die perikoop, is dit dus allereers nodig om die genre — literêre tipe te beklemtoon. Eksodus 20 vorm deel van Eksodus 19:1–24:1-18 en is dus ‘n verhaal, ‘n heilsverhaal wat mense vorm en transformeer. Hierdie tipe genre wil diepgaande teologiese boodskappe oordra: teofanie (Godsverskyning), God se ontmoetende teenwoordigheid, God se versorgende teenwoordigheid, ‘n verloste volk op reis met oorwinning, soms met twyfel, soms murmurering, en ook lofprysing (Dirkie Smit).

In ‘n groter verband moet ons perikoop binne die verhaalstruktuur van Genesis 1 tot Josua 24, bekend as die Heksateug, plaas. Die teologiese aksent van die verbondsluiting by Sinaï is dus dat dit “belofte” (grond/land Gen 12) en “vervulling” van die belofte (besitname en verdeling van die grond/land Jos 13-21) aanmekaar bind. Die gebied en gebeure rondom die Sinaiberg vorm ook die konteks vir die helfte van Eksodus, vir die hele Levitikus en vir die eerste tien hoofstukke van Numeri. Daarom het die teofanie en verbondsluiting baie belangrike implikasies vir die res van die Pentateug en die hele Ou Testament (Jan van der Watt).

Historisiteit van die verhaal
Die aanhef onthou die uittog uit Egipte. Die “koning van Egipte” het die titel “farao” (1:11, 22; 2:5, 15) gehad. Die Hiksos-faraos het Egipte regeer toe Israel van ongeveer 1750-1580 vC daar gewoon het. Van die Hiksos was Jakob se nageslag, veral vir Josef, goedgesind omdat van die konings uit die Hiksosdinastie ook van Semitiese afkoms was.

Die farao van Eksodus 1:8 was Farao Sosthenes I (1302-1290 vC) uit die Nuwe Egiptiese koninkryk (1570-1085 vC). Hy het soos sy voorgangers die Israeliete gestraf met “harde arbeid”, “verdrukking” en “hulle lewe verbitter” (1:11-14). Dit het hulle laat weeklaag, sug, kerm en ween. Die harde arbeid was om voorraadstede soos Pitom en Raämses te bou (1:11). Die stede was in werklikheid “towns housing arms and supplies for defense and attack, and also by controlling the increase in the Israelite population by forced labour and child slaughter” (HR Jones). Die Israeliete se geroep om hulp oor hulle slawerny het tot God opgeklim (2:23–25). God het gedink aan sy verbond met hulle voorgeslagte. Jahwe het die Israeliete aangesien en hulle nood geken (2:23–25).

Eksodus 20 se verhaal begin met ‘n verwysing na hierdie historiese uittog uit Egipte in ongeveer 1224 vC (Eks 12:40-41). Rameses was Egipte se hoofstad aan die Nyl-delta. Dit is vernoem na Sosthenes I se seun, Rameses II (1290-1224 vC), omdat hy dit verder uitgebou het (1:11; 12:37). Rameses I het ongeveer ‘n jaar geregeer (1303-1302 vC) en kom dus nie in aanmerking nie.

Rameses II was soos sy vader, Sosthenes I, ‘n groot verdrukker. Hy is die farao gedurende die uittog uit Egipte (Jones; Van der Watt).

Formaat, indeling en temas
Die formaat van die dekaloog vertoon groot ooreenkomste met die koninklike verdrae van die Ou Nabye Ooste.

  • Koninklike verdrae – ‘n totaal van tien gebooie/voorskrifte
  • Identifiseer die koning – “Ek is die Here jou God …”
  • Historiese verwysing – “… wat jou uit Egipte bevry het ‘…”
  • Verbondsbepalings – tien gebooie self.

Soos in die Ou Nabye Ooste se verdrae, geld die aanhef “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het” as inleiding vir elke individuele gebod en nie net vir die tien gebooie as groep nie. Die spilpunt van Eksodus 20 is vers 2 en 3: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.” ‘n Mens sou dus kan sê dat hierdie twee verse die belangrikste teksverse in die Ou Testament is. Telkens word dit in die Ou Testament herhaal (Eks 34:10–14; Lev 26:13; Deut 6:12–15, 21 22; 8:14; 6:12–15; Jos 24:5-6; Ps 78;11-15; 81:11; 105:37-39; 106:8-11, 21-22; Jer 25:5-6; Hos 13:4). Stefanus, die eerste martelaar, noem dit (Hand 7:36-40). Die apostel Paulus verwys hierna in sy rede in die sinagoge in Antiochië (Hand 13:17–19). So ook meld hy dit in Romeine 9:17. Die outeur van die Hebreërbrief verwys daarna in 11:24-29.

Die literêre vorm en teologie van die dekaloog dui op twee onderafdelings. Die eerste afdeling bestaan uit vier gebooie (20:1-11) oor aanbidding, lof en diens aan God. Dit is omvattend geformuleer. Die tweede afdeling bestaan uit ses gebooie (20:12–17). Die fokus hier is die verhouding met die medemens. Dié ses gebooie is bondiger geformuleer. Vers 2 se “voor my aangesig hê nie”, is ook belangrik. Dit mag beteken “in my sight”, of “where Israel lived and worshipped” (Jones). Hierdie “command is directed against image-worship, and it is general in scope, including attempted representations of God or of any idols of creatures” (Jones). Die konteks is die kultiese konteks van die Israelitiese erediens. Waarskynlik was die inhoud by verbondsvernuwingdienste gelees en is dit ook as kategesemateriaal gebruik. Verder het Eksodus 20 ‘n sterk juridiese inslag. Die verhaal beskryf nie net God as Bevryder-Jahwe nie, maar ook as Wetgewer-Jahwe. Die getal “tien” is egter moeilik om uit Eksodus 20 af te lei. Dié getal kom eerder uit Eksodus 34:28, Deuteronomium 4:13 asook 10:4 waarin van “tien woorde” melding gemaak word.

Die wet bevat Israel se verkiesing en God se trou. Die uitverkiesing en verbond word alreeds in 19:5-6 bevestig: “As julle dan terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees … ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie” (Heb – ś ͤ gullâ – ‘n spesiale besitting). As sodanis is die wet deel van ‘n verbond van genade. Jones beskryf dit baie duidelik: “These principles embrace the whole order of life in its Godward and manward relationships, and comprise in summary form the whole law of God … it is a pointer to the triumph of grace … the basis on which all rests, namely that God is personal and sovereign in His gracious dealings with His people who love and obey Him.” Hierdie “boek van die verbond” (Heb – sēper habberîț ), ook vermeld in 24:7, is daarom ‘n uitnodiging om in die vryheidsruim van die Bevryder te bly en onder sy beskerming en seëning te leef (Piet Naude).

Konteks

Rekontekstualisering
Hier bo is genoem dat vers 2-3 in verskeie ander gedeeltes in die Bybel voorkom. Omdat hierdie twee verse as ‘n leitmotiv vir die hele kanon funksioneer, word dit in ander verhale gerekontekstualiseer. In 1 Konings 18 voer die profeet Elia ‘n stryd met ander profete oor aanbidding van die God van Abraham, Isak en Israel, téénoor aanbidding van die afgod, Baäl. Veral vers 24 en 36-39 is ‘n besonderse rekontekstualisering van die gebod dat by jou geen ander gode mag wees nie.

In 2 Konings 23 is nóg ‘n treffende voorbeeld. Wanneer restourasie aan die tempel gedoen word om die bouvallige plekke daarvan te herstel, word die wetboek deur die hoëpriester Hilkia in die tempel ontdek (vv 5-8). Die advies van die profetes Hulda is dat God so toornig is “omdat hulle My verlaat en vir hulle ander gode offerrook laat opgaan het”. Die wetboek word gelees en koning Josia maak ‘n bevel dat die volk moet terugkeer na die voorskrifte in die wetboek, spesifiek die aanbidding van net God alleen. Die afgode , Baäl, Astarte, Kamos en alle huisgode en drekgode, word dan verbrand. Ook die altare, heilige boomstamme en tempels wat die vorige konings vir hierdie gode laat bou het, het Josia laat afbreek. Koning Josia herstel die erediens en gee bevel: “Hou pasga vir die Here julle God soos geskrywe is in hierdie verbondsboek (v 21). A Klostermann verwys daarom in sy boek, Der Pentateuch, na hierdie optrede van Josia as ‘n reformasie. Die Josiaanse reformasie is moontlik gemaak deur die Pentateug waarvan die ontstaansgeskiedenis ‘n lewende proses is, en dié proses begin by die Bondsboek van Moses , skryf Klostermann.

Die kontekstualisering in Esegiël 20 koppel die uittog uit Egipte direk aan die verbod om ander gode te dien: “So spreek die Here, HERE: Die dag toe Ek Israel uitverkies het, het Ek my hand opgehef vir die geslag van die huis van Jakob en my aan hulle bekend gemaak in Egipteland; ja, Ek het my hand vir hulle opgehef en gesê: Ek is die Here julle God … Ek het aan hulle gesê: Gooi weg, elkeen die verfoeisels van sy oë, en verontreinig julle nie met die drekgode van Egipte nie: Ek is die Here julle God” (vv 5,7). Die profeet Esegiël gebruik hierdie verhaal om die volk oor hulle offergawes vir drekgode aan te spreek. Soos Josia, word die teregwysing uitgebrei na “heilig my Sabatte en “weet dat Ek die Here is” (v 20, 26).

Die rekontekstualisering word ook in Nuwe Testamentiese gedeeltes gevind, soos Matteus 6:24: “Niemand kan twee here dien nie … julle kan nie God en Mammon dien nie.” Matteus 22:37 stel dit so: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” Nóg ‘n gedeelte is die hermeneutiese stryd tussen Jesus en die duiwel. Veral die duiwel se versoek dat Jesus voor hom moet neerval en hom aanbid, gevolg deur Jesus se teregwysing “… want daar staan geskrywe: ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien’“(vgl ook Matt 22:37-40; Hand 17:15-24). Die uittog word in Psalm 77:20 gekontekstualiseer.

‘n Sosiaal-politieke verstaan
Bonhoeffer het geleef in die Weimar-republiek van Hitler. Sy ervaring was dat dié republiek absolute en onverdeelde trou, ja, goddelike lojaliteit van die burgers vereis het. In sy Gesammelte Schriften IV , gee Bonhoeffer raad aan Christene wat twyfel oor wie die eintlike lojaliteit moet kry: God of Hitler. Een van sy temas “moet op prinse nie vertrou nie”, kom uit dié tydvak. Vir hom en die Bekennende Kirche was daar net een belydenis: “Daar is aan die begin van alle gebooie ‘n belofte gegee, naamlik dat dit goed is om in die drie-enige God te glo en jou op Hom te verlaat. Daar is geen ander God nie.”

‘n Pastorale aksent
Wanneer die onlosmaaklike eenheid van hoofstuk 19–24 gehandhaaf word, dan kom die vertroostende karakter van die dekaloog sterk na vore. Veral die woorde: “Ek is die Here jou God” en “Ek bewys barmhartigheid … dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee”. Israel het nog ‘n lang pad om na die beloofde land te reis. Hulle kom uit swaarkry. God spreek: “Ek is!” Israel moet ‘n onbekende pad aandurf. God spreek: “Ek is!” Israel is platgeslaan deur die miskenning van hulle menswaardigheid as mense en as beeld van God. Die Here spreek: “Ek is! jou God! Ek is daar vir jou!” (Piet Naude).

Preekvoorstel

‘n Preek oor hierdie perikoop, kan op verfrissende wyse die lidmate se aandag prikkel deur as wegspringplek te noem dat Eksodus 20 nie maar net as ‘n oorkonde/notule van historiese gebeure of as ‘n blote beskrywing van iemand of ‘n groep se geskiedenis gepreek word nie. God wil nie elke lidmaat net as ‘n hoorder van die verhaal betrek nie, maar as ‘n deelnemer. God wil elke hoorder as ‘n deelnemende karakter in die verhaal betrek. Die prediker kan voortgaan met ‘n appèl dat die verhaal so gepreek sal word dat lidmate hulleself in die geloofservarings, worstelings, murmurerings en blydskap van die teks sal terugvind en daarin betrokke voel.

Die verhalende preek wil immers die lidmaat tot deelname aan die God-Mosesverhaal bring, aan die God-Miriamverhaal en aan die God-Israelverhaal. Lidmate moet hulle in die verhaal herken en identifiseer, sodat die Groot Storieverteller daar en dan met hulle in gesprek kan tree. Hulle moet beweeg word om hulleself in die preek te ontdek. Die dinamiese krag van die spanningslyne in die verhaal, die ervarings en die keuses wat die karakters in Eksodus 20 maak, moet die hoorders se verhaal beïnvloed, herskrywe, of dalk hersien en ‘n nuwe rigting daaraan gee (Dirk Smit). Die Jahwe-Mosesgesprek moet uitloop op ‘n Jahwe-lidmaatgesprek, en die Jahwe-Israelgesprek moet uitloop op ‘n Jahwe-gemeentegesprek.

Met bogenoemde as beginpunt, kan die preek op een of meer van die volgende drie fokus: (i) die voorstelling van Jahwe as die almagtige en barmhartige God wat in tye van nood en swaarkry vir ons dáár is; (ii) die spiritualiteit van ‘n koninklike priesterdom; (iii) die sosiaal-etiese lojaliteit as antwoord van ‘n verloste gemeente.

Jahwe as die almagtige en barmhartige God
Jahwe is die hoofkarakter van die verhaal. In die vertellende karakter van Eksodus 20 openbaar die hoofkarakter sy hart vir die volk. Dit is ‘n hart vol barmhartigheid, liefde, omgee, solidariteit, genade, goedheid, moederlike ontferming en ‘n gevoel van jammerte! Al hierdie woorde staan altyd in direkte verband met die verbondsverhouding tussen Jahwe en sy volk. In die hele Eksodus word daarom verskeie kere woorde soos ḥeseḏ (deur Luther vertaal as Gnade en deur G Lisowsky as “solidarity, kindness, grace”); ḥᾱnan (deur Saith vertaal as “have mercy upon, gracious, merciful”); rᾱḥam wat verband hou met reḥem met die semantiese betekenis van “womb”, gebruik word om ‘n “motherly feeling” aan te dui, saam met ontferming en liefde. Daarom 20:6 se woorde: “en Ek bewys ‘barmhartigheid’ aan duisende”. Soos Karl Barth skryf: “The personal God has a heart.” Die grootheid en onvernietigbaarheid, ja, die verlossende ontferming van God, word daarom in die bekendstelling (of selfvoorstelling) vasgevang: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.”   

Voordat die Here die verskillende reëls of voorskrifte aankondig, begin Hy met ‘n selfopenbaring , kenmerkend van baie heilsverhale. In die selfvoorstelling kom die pastorale of teologiese perspektief wat hier bo vermeld is, na vore. Dit is ‘n pastorale aksent wat herinnering, teenswoordige tyd en toekoms aan mekaar verbind. Deur die volk, en veral vir Moses hieraan te herinner, bring die beskrywing in Eksodus 3 God se barmhartigheid na vore, nie net van nou nie, maar ook heelpad tot hiertoe. Dat Hy hulle uitlei, moet dus nie slegs op die pad tot deur die Rooisee verstaan word nie. Dit slaan op die totale barmhartigheid van God se optrede vanaf Rameses tot by Horeb: die tien plae teen die farao en die Egiptenaars om vir die volk te wys Hy is “daar” vir hulle. “Ek ken julle swaarkry; julle klagtes het my beweeg tot jammerte vir julle; die bittere water van Mara wat soet gemaak word; Ek sal geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; die verfrissende waterfonteine en palmbome by Elim; die voedsel van kwartels en manna; die water uit die rots! Barmhartigheid is tekenend van God se voorsieningheid. Ek het julle met die moederliefde van ‘n moeder-arend gedra.” “Ek is …” (sien Eks 3:14; teken van sy almag: “die Here”; teken van God se verbintenis aan die volk: “… jou God”. Eksodus bring ons nie by ‘n wat -vraag nie. Nie “Wat is God?” nie, maar by ‘n hoe -vraag: “Hoe is God?” Hoedanig is God in verhouding tot die geskapene? Om God te ken, is om sy weldade te ken (JJF Durand). Die barmhartigheid is “compassion and care; He brought them from grievious slavery to glorious liberty; in a wonderful and miraculous manner He freed them. God does not make here an appeal to his authority as Creator, but to his mercy and kindness as protector and deliverer” (Jones).

Die verloste gemeente word in die tien gebooie opgeroep om God se voorbeeld na te volg en met barmhartigheid teenoor mekaar te leef. Jahwe se liefde, barmhartigheid, solidariteit en getrouheid aan die verbond en sy omgee, moet die patroon word vir hulle lewe met Hom, vir ‘n omgee-lewe van sorg vir mekaar en vreemdelinge.

Die Christologiese verbinding kan via Jesus Christus se barmhartigheid gedoen word. Die verhale van die Ou Testament moet altyd in verband gebring word met die groot middelpunt van die hele Bybelverhaal: Jesus Christus. In die verhaal van die Saligmaker se geboorte, lewenswandel, dood en opstanding. kom daar ‘n nuwe, verrassende perspektief in die Bybelse kerugma na vore. In ‘n baie besondere sin verenig Jesus, as die laaste Woord van God, alle Bybelverhale in sý verhaal. Die God-met-Israelverhale kulmineer in die groot Immanuel. Jesus. Hy is die stem en gestalte van die Vader (Joh 5:37) wat die Vader se hart in die genesings, vergifnis, heling en voeding van die hongeriges openbaar. Jesus huil saam met dié wat verlies ervaar. Hy voel jammer (sy binneste is seer) vir die skare wat soos ‘n kudde is wat geen herder het nie. Hy bevry vroue (lei hulle uit) uit die kultuur van patriargie.

Aan die kerk sê Jesus: “Soos die Vader My gestuur het, so stuur Ek julle.” Dié bevel tot ‘n missionale barmhartigheid, sluit dus die opdragte van Matteus 6:5 in: “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (ook Matt 23:23; 25:31-46; Luk 1:49–50, 78). Die prediker kan ook ‘n verband lê tussen God, die Vader, se selfopenbaring in Eksodus van “Ek is …” met Jesus, die Seun, se selfopenbaring in die talle “Ek is”-uitsprake in die Evangelie van Johannes. Dan word vir gebroke lewens en gebroke gemeenskappe genade en trauma by mekaar uitgebring (Serene Jones Trauma and Grace: Theology in a ruptured world ).

Die spiritualiteit van ‘n koninklike priesterdom
Eksodus 20 vertel die heilsverhaal van vele gesprekke as bewys van die wandel met God: Moses se gesprekke met God, Moses se gesprekke met die volk en die volk se gesprekke met God.

In hierdie gesprekke en vertellings oor die reise, hoor ons die persoonlike ervarings van individue en hulle gemeenskaplike geloofservaringe. Ons hoor ook die praktiese uitleef van die geloof in Jahwe. Maak gebruik van WD Jonker se raad dat so ‘n preek moet fokus op elke gemeentelid se wandel met God , op die lewe voor die aangesig van God, op ‘n coram Deo spiritualiteit in geloofsgemeenskap met mekaar. Jahwe praat hier nie met vreemdelinge nie. Hy praat met “my eiendom uit al die volke”, wat hulle met ‘n verbond verbind het om as “’n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie” voor sy aangesig te leef — kulties (lofprysing, aanbidding, verheerliking) en sosiaal (etiek van sorg en vermaning). Vind aansluiting by 1 Petrus 2:9-10 waar hierdie identiteit van die kerk gekontekstualiseer word in die oproep tot heiligheid en andersheid in die “hele lewenswandel” (1 Pet 1:15-16) en die “mekaar”-verse (1 Pet 1:22; 3:8-9; 4:8-10).

Eksodus 20 se gebooie van “nie doodslaan nie”, “nie egbreuk nie”, “nie steel nie”, “geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie”, “nie jou naaste se huis …. vrou begeer nie”, dui op die “mekaar”-spiritualiteit, ‘n sorg-spiritualiteit, ‘n respek-spiritualiteit, ‘n spiritualiteit van erken-mekaar-se-waardigheid . Die preek moet uitbasuin dat die individu se wandel in gemeenskap met God gesien moet word in die gemeenskap met die gemeentelede en die nood om hulle. Juis hier moet die Vader se opsoekende liefde in ons verantwoordelikheid “teenoor mekaar” sigbaar word in donker dae van lyding, in winterdae van onreg, in die woestyne van wanhoop en beproewing. Na gelang van die gemeente se konteks, kan predikers gebruik maak van die spiritualiteitbelewing in Dietrich Bonhoeffer ( Life together ), Elizabeth Schüssler-Fiorenza, In memory of her , Bernadette Mbuy-Beya, Spirituality of the Third World of Selaelo Thias Kgatla se artikel Quest for a spirituality of the road. Daar is ook Henry Nouwen The wounded healer en Ferdinand Deist se boek Doen aan Ander .

Deist skryf oor Jesus se intreepreek vanuit Jesaja 61:1-3 in Jesus se tuisdorp: “Jesus se volmag word ons volmag. Want as Hy sê dat Hy gestuur is, dat die Gees op Hom is, sê Hy ook: ‘Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle’; én: ‘Ontvang die Heilige Gees’. So word die kerk liggaam van Christus. So moet die kerk ook nie net preek nie; nie net ‘persoonlike verlossing’ preek nie; nie net by die Gábbata-verhoor bly stilstaan nie. Die Kerk moet ook die evangelie leef en wees , dit heel tasbaar doen deur om te sien na die weduwees en die wese en die armes en die vreemdelinge. Daartoe het die kerk volmag. Daarvoor is hy gestuur en kan hy sê: Die Gees van die Here is op my …”

Die sosiaal-etiese lojaliteit as antwoord van ‘n verloste gemeente
“The law of God, therefore, is not a ladder whereby the unsaved gain heaven, but a pattern of life whereby the saved display their sonship and the status as the redeemed” (Jones). Tog nie eties as voorskrifte per se nie, maar veel eerder ‘n etiese leefwyse as dankbaarheid, as blye respons op die verlossing, as antwoord om aan die gebooie gehoorsaam te wees omdat hulle tot hiertoe gedra en verdra is, van die dood gered is, van swaarkry en handearbeid bevry is. Piet Naude se stelling is bruikbaar: “As algemene inleiding tot die prediking is dit belangrik om die wet as eis aan verlostes voor te hou … die wet is die riglyn vir hulle wat reeds in die verlossing deel; dit is altyd die tweede woord nadat God die eerste woord gespreek het.”

Die selfvoorstelling bind vers 1 “Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê”, vers 2 “geen ander gode” en vers 3 “geen gesnede beeld” aan mekaar. Jahwe is die sprekende God, die pratende Here. Daarteenoor is die gode stom, hulle kan nie praat of hoor nie. Hulle het geen hart en gevoel nie; hulle kan nie hulle volgelinge of hulle nood raaksien nie (vgl 1 Kon 18:18,29 — die stom Baäl wat nie kan praat of antwoord nie). Juis hierdie kontras van sprekend-stom, bring die onverdeelde trou aan Jahwe in die sentrum. Jahwe mag onverdeelde trou in die eerste gebod vereis en gehoorsaamheid aan die gebooie wat daarna volg, want Hy het al handelende en sprekende wonderwerke gedoen. Israel se (voort)bestaan is louter genade en noodsaak dankbaarheid aan dié God wat die vrye voortbestaan moontlik gemaak het.

Met ‘n fokus op ware aktualiteit, moet die hedendaagse gode van ons samelewing stormgeloop word, afgode soos politieke mag in ‘n kerk of lidmate wat altyd polities korrek wil wees (in stede van teologies korrek). Eksodus gaan immers om die kontras tussen die mag van die farao en die almag van God. Daar is die afgode van geld (elkeen vir homself en God vir ons almal), seksbeheptheid, sportsterre, sangers, filmsterre en ook politieke leiers, wat as afgode meer aanbidding en lojaliteit (en dankoffers!) as God ontvang.

Charl le Roux se boek Profeet en Politiek beskryf op treffende wyse die rekontekstualisering van die dekaloog in die lewe van Daniel en sy drie vriende in ongeveer 60 vC, hoedat hulle gelowig aan God vashou, aan die gebooie gehoorsaam is en weier om voor beelde te kniel. Le Roux beskryf ook die Jode se stryd om die afgodediens van Antiogus IV Epifanes te weerstaan (ongeveer 190-165 vC). Antiogus maak ‘n beeld van die god Zeus, die Grieke se hoofgod, identifiseer Zeus met Jahwe, en plaas hom op die altaar. Dit is ‘n tyd waarin selfs die hoëpriester Menelaos sy rug op Jahwe draai en die afgod Zeus begin aanbid.

Helmut Thielicke skryf in sy En sê nou God bestaan? ‘n hoofstuk “Hoe kan ons God en politiek versoen?” Met ‘n bespreking van Lukas 20:20-26, skryf hy oor Martin Luther se opstand teen die keiser in Worms asook oor biskop Wurm se stryd teen Hitler en die ryksleier, Himmler. Luther en Wurm het die lojaliteit aan die gebooie van God belangriker geag as lojaliteit aan die “gebooie” van iemand wat homself tot aardse god verklaar het.

Bibliografie

Burger, CW, Muller, BA & Smit, DJ, Riglyne vir prediking oor die wandel met God; Deist, Ferdinand. Mosaïek van Moses; Deist, Ferdinand, Doen aan Ander ; Douglas, JD & Bruce F (eds). The New Bible Dictionary ; Du Rand, Jakobus JF Die Lewende God ; Le Roux, Charl, Profeet en Politiek ; Thielicke, Helmut. En sê nou God bestaan? ; Van der Watt Jan (red). Die Bybel A – Z ; Guthrie D, Motyer JA (eds). The New Bible Commentary Revised .

© Missio 2024 | All rights reserved.