Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Lees weer die paragraaf getiteld “Seisoen van die Skepping” soos ingesluit by die vorige twee weke se preeksketse.  Onthou dat dit môre (4 Oktober) Assisidag is, wat sy oorsprong vind in die skeppingsfokus van die lewe en werk van Fransiskus van Assisi.

Fokusteks

2 Timoteus 1:1-14

Ander tekste

Klaagliedere 1:1-6;
Klaagliedere 3:19-26 (=Psalm);
Lukas 17:5-10

2 Timoteus 1:1-14
1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, gestuur om die belofte te verkondig van die lewe in Christus Jesus.
2Aan Timoteus, my geliefde seun.
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!

Getrouheid aan die evangelie
3Ek dank God, wat ek net soos my voorouers met ’n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik dag en nag in my gebede aan jou dink. 4Ek onthou jou afskeidstrane en wil jou baie graag weer sien. Dit sal vir my ’n groot vreugde wees. 5Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.

6Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur weer moet aanblaas. 7Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

8Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ’n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. 9Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 10Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. 11Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar.

12Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.

13Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. 14Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.

15Soos jy weet, het almal in die provinsie Asië my in die steek gelaat. Onder hulle is daar ook Figelus en Hermogenes.

16Mag die Here barmhartigheid bewys aan die huisgesin van Onesiforus, want hy het my dikwels kom opbeur. Hy het hom nie daarvoor geskaam dat ek in boeie sit nie, 17maar toe hy in Rome kom, het hy ywerig na my gesoek tot hy my gekry het. 18Mag die Here gee dat hy by Hom ontferming vind op die dag dat Hy weer kom. En wat Onesiforus alles in Efese vir my gedoen het, weet jy self baie goed.

Eksegeties

Die laaste brief van Paulus wat aan ons oorgelewer is, word ingelei met die perikoop wat ons fokusteks uitmaak. Soos gebruiklik by die apostel begin hy ook hierdie brief met ’n identifisering van die skrywer en geadresseerde en ’n seëngroet en danksegging. Dit word hier opgevolg deur ’n bemoediging aan Timoteus gegrond op die ervaring van die verlede.

Vers 1: Die Skrywer. In ooreenstemming met die gebruik van die tyd verskyn die skrywer se naam nie aan die end van die brief nie, maar aan die begin. Dit mag ’n formele indruk skep, maar doen niks af aan die intieme karakter van hierdie liefdevolle kommunikasie tussen die apostel en sy jonger kollega nie. Paulus beklemtoon ook nie sy apostoliese gesag asof Timoteus nie daarvan bewus is nie. Hy getuig slegs, soos in sy ander briewe (1 Kor 1:1; 2 Kor 1:1; Ef 1:1; Kol 1:1), van sy roeping tot apostel (die Damakuservaring) wat sy gemoed, soos ’n persoonlike logo, sy lewe lank sou oorheers en hom in die krisis van sy laaste gevangenskap sou ondersteun. In die aangesig van die dood wat hom in die gesig staar (4:6), beklemtoon hy die doel van sy apostelskap, naamlik “om die belofte te verkondig van die lewe in Christus Jesus”.

Vers 2: Die geadresseerde. Die geadresseerde, Timoteus, word beskrywe as “my geliefde seun”. Dit is ’n aanduiding van die diepe gemeenskap en persoonlike liefde waarmee die apostel aan die medewerker, wat deur sy prediking geroep en gevorm is, verbonde  is. Vir hierdie afskeidswoord, sy “testament”, gebruik hy die teerste term waaroor hy beskik. Net soos in 1 Timoteus 1:2 spreek Paulus hier die volle apostoliese seëngroet oor Timoteus uit. Bouma sê hiervan: “Genade is Gods vergewende liefde. Barmhartigheid is liefde jegens den ellendige. Vrede is het ongestoorde volle zalige wel-varen, profetisch  reeds in den Israelietischen vredegroet gelegd. Genade neemt de schuld weg; barmhartigheid bevrijdt van de ellende; vrede vervult met zaligheid. Dat alles vloeit af van de éne bron: God den Vader en Christus Jesus onzen Here”.

Vers 3-5: Danksegging. Volgens sy gewoonte, wat hy in byna al sy briewe volg, begin die apostel ook hier met ’n danksegging aan God. Dit tipeer sy gemoedsgesteldheid teenoor sy eie situasie en teenoor Timoteus wat die uitdagende taak wat op hom wag, moet aanvaar en volvoer: nie in ’n stemming van vrees en gemis aan vertroue nie, maar bo alles in dié van dankbaarheid en geloof in God (Ridderbos).

In sy danksegging beklemtoon Paulus sy diepgewortelde en ongeveinsde (skoon gewete) diens aan God. Die uitdrukking “van my voorouers af” (OAV) beteken nie dat hy die Christelike lewenswyse gelykstel aan die Joodse godsdiensbeoefening nie, maar dat hy sy Godsverering knoop aan die tradisie van sy geslag wat vir hom ’n dieper en heiliger betekenis gehad het. Sy beroep op ’n skoon gewete beteken dat hierdie diens van God nie uit bymotiewe of by wyse van uiterlike vertoon plaasgevind het nie, maar ’n uitdrukking was van dit wat inderdaad in sy hart geleef het. Die feit dat met sy bekering daar ’n geweldige ingreep in hierdie diens plaasgevind het, verhinder hom nie om daarna te verwys nie. Want dit is nie ’n ander God wat hy nou dien nie en die opregtheid en erns van sy godsdienstige strewe het nie eers na sy bekering begin nie (vgl Fil 3:5; Hand 22:3; 26:4-9). Slegs deur die kennis van Christus het hy in die regte verhouding tot die God van sy voorouers getree en het hy die reiniging van sy gewete deur die geloof ontvang. Dit is met hierdie ingesteldheid dat hy onophoudelik dag en nag in sy gebede in die gevangenis aan Timoteus dink. Met hierdie mededeling wil hy aan Timoteus oordra wat hom voortdurend besiel het en wat ook aan Timoteus die krag kan verleen om sy taak blymoedig en vol vertroue op te neem (Ridderbos).

In sy dankgebede leef die herinnering aan sy laaste afskeid van Timoteus by Paulus baie sterk en spoel ’n golf van verlange oor hom (vgl Rom 1:11; Fil 1:8 en 1 Tess 3:6 waar dieselfde woord epipotheo gebruik word). Hy onthou veral Timoteus se afskeidstrane wat hom tipeer as ’n sensitiewe man wat baie geheg was aan die apostel en die afskeid diep gevoel het. Hierdie herinneringsbeeld versterk Paulus se verlange om Timoteus weer te sien sodat die trane omskep kan word in vreugde – letterlik “dat ek vervul mag word met vreugde”. Paulus gebruik in sy geskrifte hierdie woord “vervul” nie minder nie as 23 keer. Die naasmekaarstelling van droefheid en vreugde is effektief en tipies van die groot Christusvolgeling, Paulus (vgl Joh 16:19-23; 2 Kor 7:8-13; Fil 2:17, 18).

Paulus twyfel nie oor Timoteus se opregte geloof nie. Hy is diep onder die indruk van die geestelike “atmosfeer” van sy vriend se ouerhuis. Van die vader, wat ’n Griek was (Hand 16:1), weet ons eintlik niks nie, maar die grootmoeder Loïs en die moeder Eunice was diep gelowiges. Die afleiding dat hierdie twee Joodse vroue deur die arbeid van Paulus op sy eerste sendingreis tot geloof in Christus gelei is, klink nie vergesog nie. Net soos hy het hulle ook uit hulle stiptelike beoefening van die godsdiens van hulle voorouers oorgegaan tot ’n toegewyde oorgawe aan die Here Jesus en die seun in daardie geloof opgevoed. Timoteus het volgens Paulus se oortuiging hierdie geloof hartgrondig toegeëien.

Vers 6 tot 10: Die aanwakkering van die genadegawe. Uit dankbaarheid vir Timoteus se geloof gee Paulus aan hom raad vir die opskerping van sy bediening. Hy het klaarblyklik morele stukrag nodig.

Timoteus het nie nuwe genadegawes nodig nie. Hy moet dit wat hy ontvang het by sy afsondering, met hand-oplegging, tot die bediening (1 Tim 4:14) ten volle aanwend. Die woord “soos ’n vuur aanblaas” (Gr anazopureo), beteken om opnuut aan die brand te blaas of vol aan die brand te hou. Dit hoef dus nie afgelei te word  dat Timoteus sy vroeëre vuur (ywer) waarmee hy sy genadegawe aangewend het verloor het nie, maar dat hy aangemoedig word om hierdie vuur op volle sterkte brandend te hou. Hierdie genadegawe (Gr charisma) is meer as natuurlike begaafdheid, want dit word gekenmerk deur die bonatuurlike werking van die Heilige Gees. Sy werking lei nie tot lafhartigheid (Gr deilia) nie maar tot krag (Gr dunamis),  liefde (Gr agapei) en selfbeheersing (gesonde gemoed – Gr sophronismos). As Timoteus hierdie genadegawe wat hy ontvang het ten volle gebruik, sal hy kan volhou in die stryd en lyding en dra van die smaad van Christus. Hy moet sy vrees oorwin deur die gawe van die Gees.

In die lig van hierdie toerusting deur die Gees moet Timoteus nie skaam wees om die boodskap van die Here (evangelie) wat deur die owerhede en burgers van die Romeinse ryk teëgespreek word te verkondig nie, ook nie vir Paulus wat deur die gemeenskap as misdadiger beskou word omdat hy in die gevangenis aangehou word nie. Inteendeel, hy moet nie terugdeins nie, maar op sy beurt die verguising en verwerping en swaarkry wat met die verkondiging van die evangelie gepaard gaan aanvaar en verduur met die krag wat saam met die genadegawe wat God gee, geskenk word (vgl 2 Kor 12:9, 10).

Volgens sommige verklaarders is vers 9 en 10 ’n aanhaling uit ’n Christelike lied van daardie tyd. Tog is dit kenmerkend van Paulus se denke. Hy maak ’n dubbele stelling oor God se verhouding tot die gelowiges. God red en roep tot toewyding aan Hom (vgl 1 Kor 1:9,18-31). Die Christen se roeping tot vereniging met Christus en diens in sy koninkryk word aan God toegeskryf. Daar is ’n noue verband tussen redding en roeping. Ons as Christene word nie slegs van ’n lewe van sonde gered (verlos) nie, maar tot ’n lewe van toewyding aan God en die evangelie geroep. Daartoe skenk Hy aan ons die krag as ’n genadegawe en nie weens enigiets wat ons gedoen of verdien het nie (vgl Ef 2:8-10). Dit is gegrond op sy eie “eensydige” besluit as die Inisieerder van ons verlossing en die skepping s’n. Reeds van ewigheid af is hierdie genadedaad wat deur Christus voltrek sou word aan ons as geskenk gewaarborg (Vgl Kol 1:15-23; Rom 8:19-23). Alhoewel die idee van God se ewige voorneme ons begrip te bowe gaan, kan die feit van Jesus se menswording en verlossingswerk deur ons verstaan word. Dit beklemtoon Paulus deur Timoteus te wys op die konsekwensies van sy koms (verskyning – Gr epiphaneia – vgl Tit 2:11-13). Jesus het die mag van die dood, wat hom, Timoteus, die gelowiges en die sugtende skepping bedreig het, gebreek en die weg tot die ewige lewe deur sy soenverdienste gebaan. Dit is die evangelie (goeie boodskap) wat voor sy koms verborge was, maar nou ten volle geopenbaar is (aan die lig gebring is).

Vers 11 en 12: Paulus se getuienis. Paulus herhaal hier byna woordeliks sy getuienis van 1 Timoteus 2:7. Dit is nie dat Timoteus met sy aanstelling deur God as prediker, apostel en leraar van die evangelie onbekend was dat hy dit herhaal nie, maar omdat die grootsheid van die boodskap en die verwondering oor sy roeping sy gedagtes voortdurend oorheers het. Daarom is hy gewillig om al die dinge wat hom oorgekom het (Fil 1:12; 2 Kor 11:23-28), insluitende sy onregverdige gevangenisstraf en moontlike doodvonnis, te verduur. Want hy weet Wie hom geroep het en wat die implikasies van sy heilswerk is. Deur sy kennis van Christus (Fil 3:10) het Hy sy vertroue volkome gewen. Daarom het hy die vaste sekerheid dat hierdie Here op Wie hy met sy hele hart vertrou oor die mag beskik om dit waarvoor hy deur die Here vertrou word, naamlik die bediening van die evangelie aan alle mense (vgl 1 Tim 2:3-7) totdat Hy weer kom, in stand te hou. Al sou hy deur die Romeinse owerheid die doodstraf opgelê word, sal dit wat aan hom toevertrou is deur Timoteus en die ander gelowiges voortgedra word. Die Here sal Paulus se pand bewaar deur dit aan die kerk wat Hy nooit sal verlaat nie toe te vertrou.

Vers 13 en 14: Die opdrag aan Timoteus. Paulus hou sy Woordbediening aan Timoteus voor as ’n voorbeeld (Gr. hupotuposis) wat in hierdie verband beteken: ’n grondslag waarop verder gebou moet word. Dieselfde woord word in 1 Timoteus 1:16 gebruik waar Paulus hom as rolmodel voorhou vir almal wat in die Here Jesus sou glo. Timoteus moet op hierdie Woordbediening voortbou, nie met onbuigsame dogmatisme nie, maar in geloof en liefde. Paulus se gunsteling uitdrukking “in Christus” maak dit duidelik dat geloof en liefde in die Woordbediening slegs volg uit die intieme verhouding tussen die bedienaar en Christus. Soos die Woordbediening as goeie gawe aan Paulus toevertrou is, is dit ook aan Timoteus vir bewaring toevertrou. Hy sou dit egter nie in eie krag kon vermag nie. Daarom beklemtoon Paulus die feit dat dit slegs kan geskied deur die Heilige Gees wat in ons woon (Vgl Rom 8:10, 11). Slegs in Hom lê die waarborg vir die voortgang van die bediening van die Woord vanaf die koms van die Verlosser tot by sy wederkoms.

Hermeneuties

Die uitgangspunt van hierdie preekstudie is dat 2 Timoteus ’n egte brief van Paulus is en dat dit sy laaste oorgelewerde skriftelike kommunikasie voor sy dood is. Volgens 4:11 was net Lukas by hom in sy gevangenskap en dit is ’n aanneemlike veronderstelling dat hy die brief gedikteer en Lukas dit geskryf het.

Die gegewens in die brief pas nie in by wat ons uit Handelinge 28 verneem van sy tweejaarlange huisarres in Rome nie. Uit betroubare tradisies en ook die interne getuienis van die drie pastorale briewe is dit seker dat hy aan die einde van sy huisarres vrygelaat is en sy bediening voortgesit het deur evangelisasie en kerk-organisering rondom die Middellandse see, waarskynlik selfs so ver as Spanje. Uiteindelik is hy weer, moontlik in Klein-Asië, gearresteer en na Rome gebring. Daar is hy aan die strengste gevangenskap onderwerp en uiteindelik deur onthoofding tereggestel (vlg tradisie op 29 Junie 66). Dit moes plaasgevind het gedurende die laaste regeringsjare van keiser Nero (54-68) kort na die uitbreek van die woeste aanslag op die Christene. Dit het begin toe hierdie wrede keiser in 66 nC (vlg alle aanduidings) die stad aan die brand gesteek en die skuld daarvoor op die Christene gepak het en so die woede van die heidense samelewing teen die gehate en verdagte Christene gerig het. Volgens Latynse historici is die Christene deur die bygelowige en bevreesde bevolking beskou as ’n nihilistiese geheime gemeenskap. Trou aan die Here Jesus (Jesus is die Here) is gesien as hoogverraad teen die staat (die keiser is die Here) en die uitlewing van hulle hemelse burgerskap as haat teen die mensdom. Die gevangeneming en teregstelling van Paulus as een van die leiers (saam met Petrus) was die resultaat van hierdie verwikkeling. Hierdie brief aan Timoteus kon dus geskrywe gewees het in die jare 66 of 67 nC.

Timoteus staan voor die donkerste tydperk in sy lewe. Soos 1 Timoteus aantoon, moet hy optree as klerikale en administratiewe leier in die gemeente van Efese met al sy uitreike, wat reeds ’n geweldige uitdaging is vir ’n man wat so afhanklik van die mentorskap van Paulus was toe dié nog vry kon rondbeweeg. Maar nou, in die krisis van die terreur van Nero wat die uitdaging vergroot, word Paulus wat ’n tyd lank by hom aangesluit het deur die geregsdienaars van die keiser na Rome weggeneem om gemartel re word. Dit was voorwaar vir Timoteus ’n ervaring van “dood” en eensaamheid. Paulus moes die bitter beker smaak van verlating deur medewerkers, afskuwelike verdenking, vals  beskuldig-ings en onregverdige doodsvonnis. Die gewig van die groot pastorale verantwoordelikheid tesame met ’n gebroke hart rus nou op Timoteus se skouers in weerwil van sy minder heroïese persoonlikheid. Aan beide van hulle is die uiterste beproewing opgelê om die oënskynlike mislukking van die Christelike beweging in die gesig te staar. Vir elkeen wat nie met die geloofsoog na die situasie in die Romeinse ryk gekyk het nie, moes dit inderdaad voorgekom het asof die pad van die evangelie besig was om dood te loop. Die Romeinse owerhede was onverdraagsaam teenoor geheime organisasies, waaronder die Christendom gereken is en hulle het geweet hoe om hulle uit te wis.

Ons is so gewoond aan die Christendom se groot invloed in die moderne wêreld, afgesien van sy goddelike karakter, dat dit inspanning vereis om te besef dat toe hierdie brief geskryf is die Christendom, menslik gesproke, op die randjie van uitwissing gehuiwer het (Moule). Paulus en Timoteus se reaksie hierop was nie spekulasies oor die toekoms nie, maar ’n vaste geloofsverankering in die Here Jesus Christus. Dit het hulle smart en lyding gekos om hulle heupe te omgord (met die waarheid) en hulle lampe aan die brand te hou (Luk 12:35; Ef 6:14). Daarom bemoedig Paulus vir Timoteus uit oortuiging dat God wat die goeie werk (die herskepping tot ’n nuwe mensheid in Christus) in die bedreigde gelowiges begin het dit enduit sal voer en voleindig wanneer Christus Jesus weer kom en die hele skepping nuut gemaak word (Fil 1:6; Matt 19:28).

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema:  Staande in die storms

Rus

Tema: Die storm
Baniere met uitbeeldings van weerlig en stormweer daarop kan saam met die vorige twee Sondae se baniere in die aanbiddingsruimte gehang word. ’n Aantal kerse kan op verskillende hoogtes op die nagmaaltafel geplaas word.

‘n Video of powerpoint van storms kan gewys word of wys ‘n snit uit die reeks Planet Earth.  Jy kan ook ‘n gratis FLV Converter-program gebruik om video’s soos die volgende af te laai (Planet Earth se storms-snit)

Ekstra video

Net voor die aanvangswoord word die kerse op die nagmaaltafel aangesteek.

Gebed
Here God, Skepper van die hemel en die aarde,
ons is in verwondering oor die geheimenis van die storms wat  oor die aarde woed,
die skoonheid en die verskrikking daarvan.
Help ons om te verstaan dat U groter is as al die magte van die natuur en dat U ook omsien na al die slagoffers van storms en rampe.
Leer ons om die magte van die natuur in te span tot beswil van alle lewende wesens.
Leer ons bo alles om met respek om te gaan met u skepping.
Tot eer van u Naam.
Amen.

Lied

Psalm 29 “Prys die Here, hemelinge”
Lied 474 “Skeppergod, U is die Heer”
Lied 508 “Vaste Rots op wie ek bou”
Flam 84 “My God is so Groot”

Flam 271 “U Hou Die Aarde”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof / Geloof & Vertroue)
Teks en Musiek: Willie Kamffer ©  Urial Publishing

U hou die aarde in die holte van u hand
U hou u skepping
tot in ewigheid in stand
Ek besing u grootheid, Heer
Ek wil U vereer
Ek besing u almag, Heer
U alleen is waardig om te prys.
U is die Alfa en Omega
U is die Eerste en die Laaste
U’s die Begin en U’s die Einde
Daar is geen ander God as U nie.

Familie-oomblik

Paulus skryf hier as ervare prediker aan ’n jong Timoteus wat versigtig is in sy bediening.  Paulus moedig hom aan om sy talente vrymoedig te gebruik.  Vertel die verhaal in jou eie woorde en pas dit dan toe op die kinders en hulle gawes.

Jy kan weereens ’n Wemmel storie gebruik om dié boodskap tuis te bring.  Dit word vertel in die boek van Max Lucado Jou spesiale geskenk.  ’n Wemmel-gesin het een dag hulp nodig om by Eli, hulle skepper, uit te kom.  Hulle wa se wiel het gebreek en hulle klere het in die rivier geval en weggespoel.  Hulle het van ver af gekom en was baie moedeloos.  Pinkenolsie en sy vriende, Spyker en Splinter het probeer om die wa reg te maak, maar tevergeefs.  Toe niks werk nie, onthou hulle om Eli vir raad te vra.  Hy wys hulle daarop dat hy vir hulle almal ’n geskenk gegee het.  As hulle dit gebruik, sal hulle kan help: “Doen net wat jy die beste doen”, sê hy vir hulle.  So kon hulle die Wemmel-gesin help.  Die verhaal eindig met Pinkenolsie wat sê: “Dankie vir die geskenke.  Jy weet nie dalk van iemand anders wat hulp nodig het nie?”!

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Storms is deel van die lewe.

Die derde Sondag in die Seisoen van die Skepping herinner ons aan storms in die skepping: natuurrampe, vloede, brande, aardbewings, en ook die ekologiese storm wat aan die opsteek is weens aardverwarming.

Ons dink ook aan storms in die lewe van die Here se kerk.  Daar is soveel lyding in die Naam van Christus. In die 20ste eeu is meer Christene weens hul geloof om die lewe gebring as in die vorige 19 eeue tesame.  Geweld word in die naam van godsdiens gepleeg.  Mense word siek, ly, ervaar teenslae, die kerk word misbruik, of ervaar teenstand wanneer die Here gedien word.

Ons lewe in ’n stormagtige wêreld.

Storms in die vroeë kerk

Paulus skryf die tweede brief aan Timoteus terwyl die klein Christelike kerk, skaars ’n paar dekades oud, op die rand van uitwissing huiwer.  Hierdie is sy laaste oorgelewerde kommunikasie voor sy dood.  Hy, Paulus, is in gevangeneskap, net Lukas is by hom (4:11), kort voor sy teregstelling.

In die brief noem Paulus Timoteus sy “geliefde seun” (1:2).  Daar is ’n diep persoonlike liefde tussen die ouer man, Paulus, en die jong medewerker, Timoteus. Hy is deur Paulus se prediking gevorm tot ’n bekwame bedienaar vir die kerk.  Timoteus se afskeidstrane getuig van sy hegte verhouding met Paulus, en is saam met sy opregte geloof ’n bron van inspirasie.  Dit alles troos Paulus terwyl die stormwolke saampak.

Volgens Handelinge 28 was Paulus twee jaar in huisarres in Rome.  Uit betroubare oorlewering, en ook in terme van die gegewens uit die briewe aan Timoteus en aan Titus, is dit seker dat Paulus weer vrygelaat is en sy bediening rondom die Middellandse See en selfs so ver as Spanje voortgesit het.  Uiteindelik is hy weer, moontlik in Klein-Asië, gearresteer en na Rome gebring.  Daar is hy aan streng gevangeneskap onderwerp en uiteindelik deur onthoofding tereggestel (volgens die Christelike tradisie op 29 Junie 66).

Paulus se teregstelling moes plaasgevind het gedurende die laaste regeringsjare van keiser Nero (54-68), kort na die uitbreek van die woeste aanslag op die Christene. Dit het begin toe hierdie wrede keiser in 66 nC (vlg alle aanduidings) die stad aan die brand gesteek en die skuld daarvoor op die Christene gepak het. So het hy die woede van die heidense samelewing teen die gehate en verdagte Christene gerig.  Die Christene is deur die bygelowige en bevreesde bevolking gewantrou. Trou aan die Here Jesus (“Jesus is die Here”) is gesien as hoogverraad teen die staat (die keiser is die Here).  Die uitlewing van die koninkryk van God is ervaar as haat teen die mensdom. Die gevangeneming en teregstelling van Paulus as een van die leiers (saam met Petrus) was die resultaat van hierdie verwikkeling. Hierdie brief aan Timoteus kon dus geskrywe gewees het in die jare 66 of 67 nC.

Timoteus staan voor die donkerste tydperk in sy lewe. Soos 1 Timoteus aantoon, moet hy optree as leier in die gemeente van Efese met sy groot bediening.  Opsigself was dit reeds ’n geweldige uitdaging.  Paulus het ’n tyd lank by hom aangesluit.  Nou word Paulus deur die keiser na Rome weggeneem om gemartel te word.  Dit was voorwaar vir Timoteus ’n ervaring van “dood” en eensaamheid. Paulus moes die bitter beker smaak van verlating deur medewerkers, afskuwelike verdenking, vals beskuldigings en ’n onregverdige doodsvonnis.

Die gewig van die groot verantwoordelikheid, tesame met ’n gebroke hart, rus nou op Timoteus se skouers. Aan beide van hulle is die uiterste beproewing opgelê om die oënskynlike mislukking van die Christelike beweging in die gesig te staar. Vir elkeen wat nie met die geloofsoog na die situasie in die Romeinse ryk gekyk het nie, moes dit inderdaad voorgekom het asof die pad van die evangelie besig was om dood te loop. Die Romeinse owerhede was onverdraagsaam teenoor geheime organisasies, waaronder die Christendom gereken is en hulle het geweet hoe om hulle uit te wis.

Ons is so gewoond aan die Christelike geloof se groot invloed in die moderne wêreld.  Ons besef moeilik dat toe hierdie brief geskryf is die Christendom, menslik gesproke, op die randjie van uitwissing gehuiwer het.  Die storms was dramaties aan die opbou op die horison.

Hoe tree Christene op in die aangesig van so ’n geweldige aanslag?  Wat kan ons van Paulus leer?  Waaraan hou mens vas en waaraan oriënteer jy jouself?

Eerste anker:  jou geloof en jou bediening as navolger van Jesus is gewortel in God se wil en opdrag
Die groeteboodskap waarmee hierdie brief begin, tipies van ’n antieke brief, herinner Timoteus dat geloof en bediening gegrond is in die wil van God.  Geloof en bediening bou op die belofte van die lewe in Christus Jesus. Só was dit met Paulus, met Timoteus, en tot vandag toe met elke volgeling van die Here.

Daarom is Paulus se oproep aan Timoteus om getrou te bly aan die evangelie (vanaf vers 3) nie uit die lug gegryp, of bloot wensdenkery nie.  Ons geloof is die gevolg van God se werk in ons, ons is deel van die kerk en geroep om die Here te volg, omdat God ons geroep het, voor Hom versamel het, ons ’n fondament in Jesus gee, en ons stuur.

In vers 9 bou Paulus die argument nog verder uit:
Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees.  Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.

Hierdie genade is in die persoon en boodskap van Jesus Christus geopenbaar, vervolg vers 10. En dan, vers 11:
Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar.

Ons hou aan God vas in storms, omdat God ons vashou.  Ons leef ons geloof uit en sit ons bediening voort, want ons is deur die ewige God aangestel.

Daarom reageer Christene met kalme oortuiging op storms, en sit ons bediening voort.

Tweede anker: Blaas die genadegawe van God, jou roeping, passie en gawes, soos ’n vuur aan
In verse 6 tot 7 skryf Paulus:
6 Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur weer moet aanblaas. 7 Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

Timoteus moet die feit dat God hom geroep het, en dat hy die genadegawe om sy bediening uit te voer van God ontvang het, in gedagte hou.  Hy moet ingroei in hierdie werklikheid.  Hy moet hierdie wete soos ’n vuur aanblaas, sodat dit sy identiteit, sy wese en sy bewussyn vul.

God werk en die mens werk.  God gee en die mens blaas aan.  God en mens sluit mekaar nie uit nie.  Timoteus word opgeroep om dit wat God gedoen het, toe te eien en daaruit te leef.

In tye van storms moet ons God se gawes, wat die groot gawe van die Gees insluit, opnuut toeëien en daaruit leef.  Ons moet moed skep, en kragtig opstaan vir die Here.  Ons kan dit doen, want ons het die krag en die Gees wat dit in ons werk van God ontvang.

Soos vers 12 dit stel:
12 Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.

Derde anker:  Dink aan jou voorgangers
In die storms staan ons nie alleen nie.  Naas die aanwesigheid van God, het ons ook die voorbeeld van diegene wat ons voorgegaan het in moedige stry vir die evangelie.  Timoteus het vir Paulus as voorbeeld, asook die voorbeeld van sy ma en sy ouma.

Die feit dat ander staande kon bly is vir ons ’n bron van inspirasie omdat dit die durf en moed wat God gee, bevestig.

Daarom kan Paulus sê:
13 Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. 14 Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.

Vierde anker:  Dra jou deel van die ontberings met die krag wat God gee
Om Jesus te volg, beteken om jou kruis op te neem.  Die lyding van Jesus gaan voort in die wêreld.  Vir ons as gelowiges beteken dit dat ons deel in hierdie lyding.

Hiervoor gee God vir ons die krag (1:8).  Daarom moet ons ons nie vir die evangelie skaam nie.  Inteendeel, ons dra ons deel van die ontberings met die krag wat God gee.

Toepassing

Een: ons identiteit in Christus
Wanneer ons in die storms wat ons geloof en die kerk tref, leer om innerlik sterk te word vanuit die krag wat God gee, word ons vry van die behoefte om onsself en ons voorspoed in die sentrum te plaas.

Die Westerse kultuur leer ons dat die wêreld om onsself draai.  Ons lewensgeluk staan in die sentrum.

In opsienbare nuwe navorsing deur prof Kenda Dean aan Princeton word bevind dat moderne jongmense God as ’n hemelse terapeut sien wie se hoofdoel dit is om mense se selfbeeld te verbeter.  God maak ons meer bewus van ons eie geluk en help ons inderdaad om gelukkig te wees.  Jongmense leer hierdie geloof by hul ouers, wat ’n evangelie van niceness aanhang, skryf Dean.  God is nice, en ons moet ook nice wees.  Die kerk is ’n gemeenskap van niceness.  (Gelukkig is daar ook toegewyde jongmense, bevind Dean, wat diep aan God en die geloofsgemeenskap verbind is.)

Wat doen mens as die wêreld om jouself draai, en dinge werk nie nice uit nie?

Paulus leer ons om aan God vas te hou, en onsself in terme van God se genade en God se werk deur ons te verstaan.  Dit sal ontbering vir ons inhou om Christus te volg, maar ons moet onsself leer ken en verstaan in terme van die gawes en bediening wat God aan ons toevertrou het in die Naam van die lydende Here: Jesus Christus.

Dit gee ons krag wanneer die storms om ons saampak

Twee:  ons en die storms in die omgewing
Die selfgerigte soeke na voorspoed, geluk, onbegrensde verbruik van die gawes wat die skepping bied, en die uitbuiting van alles rondom ons ter wille van ons gemak, staan in die hart van die ekologiese krisis.  Ons selfgerigtheid verwoes die skepping.

Ons het ’n bekering weg van onsself na die Skepper van hemel en aarde nodig.  Ons moet opnuut verstaan wat dit beteken om ’n skepsel te wees wat bewaak en bewaar.

Vandag is Assisi-Sondag.  Ons dink vandag – saam met die kerk wêreldwyd – aan die lewe en werk van Fransiskus van Assisi.  Franciskus was die stigter van die Fransiskaanse orde, en word gesien as die beskermer van die diereryk en omgewing.  Fransiskus het geleer dat ons beskeie en moet leef.  Hy is geïnspireer deur ’n preek oor Matteus 10:9 waarin Christus ons opdrag gee om die evangelie te versprei sonder geld, ’n reissak of selfs skoene vir die pad.

Hy het diepe eerbied vir die ganse skepping gehad, omdat dit die werke van God verteenwoordig en die lof van God sonder ophou besing.  Die skepping was nie daar om ekonomies uitgebuit te word nie, maar moes waardeer en beskerm word.  Volgens oorlewering het Fransiskus sy donkie op sy sterfbed bedank omdat hy hom deur sy hele lewe op sy rug gedra het.  Daarop het die donkie gehuil.

Fransiskus se beroemde gebed, Lofsang deur die Son, lui as volg:
Hoogste, almagtige en goeie Here!
Alle lof, heerlikheid, eer en seën kom U toe.
Dit behoort aan U alleen, o Allerhoogste,
geen sterflike lippe is waardig om u Naam uit te spreek nie.
Word verheerlik, my Heer, deur al u skepsele,
Veral deur Broer Son, wat die dag bring.
U gee lig deur hom.  Hy is pragtig en straal skoonheid uit!
Hy vertoon u gelykenis, Here.
Word verheerlik, my Heer, deur Suster Maan en die sterre;
In die hemele het U hulle geplaas, helder, kosbaar en mooi.

Word verheerlik, my Heer, deur broers Wind en Lug,
en Wolke en Storms, en alle weersomstandighede,
waardeur U u skepsele versorg.

Word verheerlik, my Heer, deur Suster Water,
sy is nuttig en nederig, kosbaar en suiwer.

Word verheerlik, my Heer, deur Broer Vuur,
deur wie U die nag ophelder.
Hy is pragtig en vrolik, vol krag en sterkte.

Word verheerlik, my Heer, deur ons suster Moeder Aarde,
wat ons voed en omring.
Sy lewer  vrug op met kleurvolle blomme, asook speserye.

Word verheerlik, my Heer, deur hulle wat vergewe omdat hulle U liefhet,
en ook deur hulle wat siekte en beproewing verduur.

Geseënd is hulle wat volhard in vrede,
want hulle sal deur U, o Allerhoogste, gekroon word.

Word verheerlik, my Heer, deur ons Suster Liggaamlike Dood,
van wie se omhelsing geen lewende ontsnap nie.
Bewaar die wat in sonde sterf!
Geseënd is hulle wat sy vind terwyl hulle U wil doen,
die tweede dood hou vir hulle geen leed in nie.

Prys en seën my Here, bring danksegging, alle mense,
en dien Hom met groot nederigheid!
(Vertaal deur Danie Mouton)

Fransiskus se respek vir die skepping en sy waardes van beheersing en beskeidenheid is vreemd vir die Westerse lewenstyl van oordaad.  Die behoud van die skepping plaas Fransiskus se beskeie lewenstyl op ons agenda.  Mag die ekologiese storms wat ons toenemend omring, ons daaraan herinner om ons identiteit in God, sy Woord en bo alles in ons Here te vind!

God stuur ons om te leef

Fransiskus van Assisi, natuur- en diereliefhebber van formaat, is beroemd vir sy gesprekke met diere en die res van die skepping, wat hy ons broers en susters genoem het.  Dit word vertel dat hy op ’n dag sy reisgeselskap tot stilstand gebring het toe hulle by bome gekom het wat met voëls oortrek was.  “Ek moet eers vir die voëls preek,” het hy gesê.  Die voëls het hom omring, nader gelok deur die krag van sy woorde:

My suster voëls, julle is baie verskuldig aan God.  Julle moet God oral en altyd prys, want Hy het aan julle die vryheid gegee om deur die lug te swiep.  God klee julle.  Julle saai nie en julle maai nie, en God voed julle.  Hy gee vir julle riviere en poele vir julle dors, en berge en valleie vir skuiling.  Hy verskaf hoë bome vir julle neste.  En hoewel julle nie weet hoe om te spin of te weef nie, klee God julle en julle kinders met skoonheid.  Die Skepper het julle innig lief, en seën julle oorvloedig.  Daarom moet julle die Here altyd prys!

Gebed
Here, is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie?  En tog val nie een van hulle op die grond buite U wil om nie.  U wat alles liefhet en bewaar, U het U lewe vir ons gegee.  U het ons innig lief.  Bewaar ons teen die storms van die lewe,  Sterk ons.  Gee vir ons veilige skuiling en dra ons.  Help ons om ons lewe op U te bou, die ware Rots.  Help ons om – ook deur ons lyding om U Naam ontwil – U getroue getuies te wees.  Gebruik ons om u kerk, u liggaam te bou, ook in tye van swaarkry en vervolging. Help ons om self ook lief te hê en self ander lewe en mede-skepsele te versorg en te bewaar.  Ons prys U vir altyd!  Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.