Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die erediens is ook ’n herinnering aan wat God alles in die verlede gedoen het. Wie dit nie onthou nie, verloor die blydskap van die lewe. Hierdie liturgie sal veral gerig wees op herinnering aan God se groot dade en die blydskap wat dit vir ons inhou.

Ander tekste

Eksodus 32:1-14
Die goue kalf
32 Toe die volk sien dat Moses talm en nie van die berg af kom nie, het hulle om Aäron saamgedrom en vir hom gesê: “Kom maak vir ons ’n god dat hy ons kan lei. Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.”

2Aäron het hulle geantwoord: “Haal die goue oorringe van julle vrouens, julle seuns en julle dogters se ore af en bring dit vir my.”

3Die hele volk het toe die goue ringe van hulle ore afgehaal en dit vir Aäron gebring. 4Hy het dit van hulle ontvang, dit verwerk en daarvan ’n beeld in die vorm van ’n bulkalf gemaak.

Toe sê die volk: “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!”

5Toe Aäron dit hoor, het hy ’n altaar voor die beeld gebou en uitgeroep: “Môre is daar fees vir die Here!”

6Vroeg die volgende môre het die volk brandoffers en maaltydoffers geoffer. Daarna het die volk begin feesvier en losbandig te kere gegaan. 7Toe sê die Here vir Moses: “Klim van die berg af, want jou volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het, het iets vreesliks gedoen. 8Hulle het gou die pad verlaat wat Ek vir hulle aangewys het en hulle het vir hulle ’n beeld van ’n bulkalf gemaak. Nou aanbid hulle hom en bring vir hom offers en sê: Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel.”

9Verder het die Here vir Moses gesê: “Ek het gesien dat dit ’n opstandige volk is hierdie. 10Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot ’n groot nasie maak.”

11Maar Moses het by die Here sy God gepleit en gesê: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het? 12Waarom moet die Egiptenaars kan sê: ‘Hy het die Israeliete bevry met die bose plan om hulle tussen die berge dood te maak en hulle heeltemal te vernietig’?

“Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie. 13Dink aan wat U met ’n eed beloof het aan u dienaars, aan Abraham, Isak en Israel toe U vir hulle gesê het: Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Die hele landstreek wat Ek belowe het, sal Ek vir julle nageslag gee om vir altyd in besit te neem.”

14Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring.

Psalm 106:1-6, 19-23
Wie kan sy lof ten volle verkondig?
106 Prys die Here!
Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Wie kan die magtige dade van die Here
onder woorde bring?
Wie kan sy lof ten volle verkondig?
3Dit gaan goed met mense
wat die reg handhaaf,
wat by elke geleentheid
geregtigheid doen.
4Dink aan my, Here,
in u liefde vir u volk,
sluit my ook in by u redding,
5dat ek die voorspoed
van u uitverkorenes mag aanskou
en mag deel in die blydskap van u volk,
my mag verheug
saam met dié wat aan U behoort.
6Ons het gesondig,
net soos ons voorvaders,
ons het verkeerd gedoen,
ons is skuldig.

7Ons voorvaders het in Egipte 
nie ag geslaan 
op u magtige dade nie, 
hulle het nie gedink 
aan al u dade van trou nie, 
hulle het teen U in verset gekom 
by die Rietsee. 
8Maar Hy het hulle gered 
ter wille van die eer van sy Naam 
en om sy mag bekend te maak. 
9Hy het die Rietsee aangespreek 
en dit het opgedroog, 
Hy het sy volk 
oor die seebodem laat trek 
soos oor droë grond. 
10So het Hy hulle gered 
uit die hand van hulle haters, 
hulle bevry uit die mag van die vyand. 
11Die waters het hulle teëstanders 
verswelg, 
nie één het oorgebly nie. 
12Tóé het sy volk sy beloftes geglo 
en sy lof besing.
13Maar hulle het gou vergeet 
wat Hy gedoen het 
en nie op sy leiding gewag nie. 
14Hulle het skaamteloos meer kos geëis 
in die woestyn, 
daar in die barre wêreld het hulle 
die geduld van God beproef. 
15Toe het Hy hulle gegee 
wat hulle gevra het, 
maar hulle van siekte laat wegteer. 
16Langs die trekpad 
het hulle hulle in afguns 
teen Moses verset 
en teen Aäron 
wat aan die Here gewy was. 
17Toe het die aarde geskeur 
en vir Datan verslind, 
dit het die bende van Abiram 
verswelg. 
18’n Vuur het hulle hele bende verteer, 
die goddelose 
het in die vlamme omgekom. 

19By Horeb het hulle ’n kalf gemaak,
voor ’n god van metaal gekniel.
20Hulle het die magtige teenwoordigheid
van God
verruil vir die beeld van ’n bees
wat gras vreet.
21So het hulle vir God, hulle redder,
vergeet,
Hy wat groot dinge in Egipte
gedoen het,
22wonderdade in die land van Gam,
magtige dade by die Rietsee.
23Die Here wou hulle verdelg,
maar Moses, sy uitverkorene,
het by Hom vir hulle in die bres getree
om sy gramskap af te keer,
sodat Hy hulle nie vernietig het nie.

Filippense 4:1-9
4 Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon.

Die Christelike lewenswandel
2Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here. 3Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan.

4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is—watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees—daarop moet julle julle gedagtes rig. 9En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.

Fokusteks

Matteus 22:1-14
Die gelykenis van die bruilof

(Luk 14:15–24)
22 Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. 2Hy het gesê: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n koning wat vir sy seun ’n bruilofsfees voorberei het. 3Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. 4Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’

5“Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en ’n ander een na sy werkplek toe gegaan. 6En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. 7Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek.

8“Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. 9Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’10Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword.

11“Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar ’n man wat nie bruilofsklere aan het nie, 12en hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie. 13Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’

14“Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”

Ekstra stof

Matteus begin met hoofstuk 19 ’n nuwe hoofdeel in sy evangelie wat handel oor die impak op die Joodse volk van die koninkryk wat in Jesus aangebreek het, in Judea (hfst. 19-20) sowel as uiteindelik in Jerusalem (hfst. 21-25).

Matteus vertel hier verhale van Jesus se interaksie met die Joodse leiers asook die dissipels wat die waardes van die koninkryk uitspel in terme van vyf aspekte: die huwelik en egskeiding (19:1-12), die status van kinders (19:13-15) die rol van rykdom in die lewe van dissipels (19:16-30), die dienende karakter van leierskap (20:20-28) en die Groot Gebod (22:34-40).

Jesus gebruik ook twee simboliese handelinge om die waardes van die koninkryk verder tuis te bring. Hy reinig onder ander die tempel om werklik ’n huis van gebed te wees (21:12-17), en vervloek die vyeboom wat aan die eenkant die doodsheid van die Joodse leiers simboliseer en aan die anderkant die krag van geloof aan die dissipels demonstreer (21:18-22).

Hy troef die Joodse leiers in ’n gesprek oor sy gesag (21:23-27) en later ook oor belasting (22:15-22). Tussendeur kondig Jesus vir die derde keer sy kruisdood en opstanding aan vir die dissipels (20:17-19) en tree ook een keer met die Sadduseërs in gesprek oor die opstanding, iets wat hulle natuurlik per definisie ontken (22:23-33). Daardeur bevestig Hy sy identiteit as die Christus, soos ook eksplisiet uitgespel in die vraag van Jesus – interessant genoeg! – aan die Fariseërs (22:41-46).

Jesus vertel ook vier gelykenisse wat die deelnemers aan die koninkryk uitspel in terme van wie eerste is en wie laaste (20:1-16) en wie werklik die wil van God die Vader doen (21:28-32) en uiteindelik die bose bedoelings van die Joodse leiers aan die kaak stel met die gelykenis van die huurders en die wingerd (21:33-46) en dat hulle die koninkryk verbeur met die gelykenis van die bruilofsfees (22:1-14) – die teks waarop ons dié week fokus.

Matteus vertel ook hier een genesingsverhaal, die genesing van twee blindes, wat simbolies net voor die Intog in Jerusalem geplaas is en ironiese kommentaar is op Jerusalem wat blind is vir die Koning wat die stad binnegaan, selfs al kan hulle Hom eien as: “die profeet Jesus van Nasaret in Galilea”.

Matteus 22 – Jesus is te uitgeslape vir die onbetroubare Fariseërs
Jesus vervolg sy gesprek met die Fariseërs met ’n derde gelykenis oor die reaksie van genooide gaste na ’n bruilofsfees met die implisiete betekenis dat die Fariseërs optree soos die eerste genooides wat die uitnodiging geweier het (22:1-14). Daarmee onderstreep Jesus finaal hulle onbetroubaarheid. Die gelykenis word opgevolg met drie vrae wat die Fariseërs in reaksie daarop aan Jesus vra: oor belasting aan die keiser (22:15-22), oor die opstanding van die dooies (22:23-33) en die groot gebod in die wet (22:34-40). Dit is almal vrae wat Hom polities, godsdienstig en eties probeer vastrek, hoewel Jesus net te uitgeslape is vir hulle met sy deeglike praktiese antwoorde. Jesus sluit sy wedersydse gesprek met hulle af met ’n eie vraag wat Hy aan hulle rig oor Sy identiteit waarop hulle geen antwoord gehad het nie (22:41-46). In hoofstuk 23 sal Hy ’n omvattende oordeel oor hulle uitspreek.

Die gelykenis van die bruilofsfees – 22:1-14
Die gelykenis van die bruilofsfees wentel om die feit dat die eerste genooides – implisiet geïdentifiseer met die Fariseërs en die Jode – die uitnodiging weier en dat die ander genooides, slegtes en goeies, die uitnodiging aangeneem het as gaste by die bruilof.

Die betekenis hiervan lê op verskillende vlakke:

  • Die opsommende sin aan die einde verklaar die gelykenis as ’n prentjie van hoe die uitverkiesing werk. Die verkiesing gaan dus hiervolgens oor ’n uitnodiging na ’n bruilofsfees. Almal is genooi, ook die Jode. Dit sluit uiteindelik ook die slegtes en die goeies van oral af in. Sommige neem die uitnodiging aan. Ander weier dit. In die aanvaarding en weiering word die verkiesing verwerklik. Dit is hoe die misterie van die uitverkiesing prakties werk. Die uitverkiesing werk met die ontvanklikheid van die genooides – presies soos die gelykenis van die grond dit uitgespel het – nie daarteen of ten spyte daarvan nie.
  • Die gelykenis het effektief die geskiedenis beskryf wat hierna in Jerusalem voltrek sou word. Jesus is doodgemaak (Evangelies), soos ook van sy dissipels (Handelinge) en die stad Jerusalem is uiteindelik in 70 n.C. verower en afgebrand.

Die vreemde uitsluiting van die man sonder ’n bruilofskleed kan miskien verklaar word deurdat hy nie respek getoon het vir die bruilof deur die regte klere aan te trek nie (vgl. Openb. 19:8 waar klere as die “regverdige dade van die gelowiges” aangedui word). Die gewoonte van konings om klere aan die gaste te verskaf, word miskien veronderstel, omdat al hierdie gaste van die straat af geneem is en kwalik self die klere kon verskaf het.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 302:1 of Flam 142

Votum: Filippense 4:4-6

Seëngroet: Filippense 4:7

Lofsang: Palm 106 of Flam 57

Skuldbelydenis: (N.a.v. Psalm 106:6, 19-22)

Genadeverkondiging

Respons: Lied 529

Geloofsbelydenis: Fragment uit Blydenuus van Geloof deur Wilhelm Jordaan

HOOR

Gebed

Skriflesing: Matteus 22:1-14

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 327 of Flam 431

Seën

Respons
Lied 311 of Vonkk 165 vers 4 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 302:1 “Ons is genooide gaste” of
Flam 142. “Kom, Jesus, kom!”

Votum: Filippense 4:4-6

Seëngroet: Filippense 4:7

Lofsang
Palm 106 of
Flam 57. “Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied)”

Skuldbelydenis: (N.a.v. Psalm 106:6, 19-22)
Voorganger: Ons het gesondig, net soos ons voorouers, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig.
Gemeente: Here, ook ons is skuldig.

Voorganger: By Horeb het hulle ‘n kalf gemaak, voor ‘n god van metaal gekniel.
Gemeente: Here, ook ons is skuldig.

Voorganger: Hulle het die magtige teenwoordigheid van God verruil vir die beeld van ‘n bees wat gras vreet.
Gemeente: Here, ook ons is skuldig.

Voorganger: So het hulle vir God, hulle redder, vergeet, Hy wat groot dinge in Egipte gedoen het, wonderdade in die land van Gam, magtige dade by die Rietsee.
Gemeente: Here, ook ons is skuldig.

Genadeverkondiging
Voorganger: Net soos wat Moses by God gepleit het om sy volk te vergewe, so tree Christus vir ons in. Ons is vergewe.

Respons
Lied 529 “Dank, dank die Heer”

Geloofsbelydenis
Fragment uit Blydenuus van Geloof deur Wilhelm Jordaan
(uit: Van der Merwe, J (Red) 2001. Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Wellington: Lux Verbi)
Ek glo in Jesus Christus
die Mens na God se hart
wat God se wil gekies het
om deur die haat en klein begrip
van mense ‘n doringkroon te dra,
en van God geskei te word
in die Godverlatenheid van Golgota ­
die doderyk deurgrond het
en opgestaan het
dat ons onvervreem van God
verby die dood ewig vry kan lewe.
Ek glo in hierdie Jesus
wat opgevaar het na die Vader
en vandaar die sagte oordeel bring
omdat Hy nader aan my is
as wat ek aan myself is;
my kern ken,
verby die vel
tot in die chemie van die sel;
wat weet hoe diep my blindheid is
en my vashou ­–
styf teen die braille van Sy lyf.

Liedere

F142. “Kom, Jesus, kom!” 
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed, Hoop en voleinding)
Teks en musiek: Retief Burger
© 2005 Urial Publishing
(Op 19:6-9, Op 22:16-21, 2 Kor 5:6-9)

1. Here van die Heiliges, U wat was en U wat is,
ek sal sing, ek sal sing.
U liefde sal vir ewig staan, u liefde sal ook my kom haal
ek sal sing, ek sal sing.
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer.

Refrein:
Kom, Jesus, kom vir u bruid
vir hierdie mens wat voor u staan.
Kom, Heil’ge Gees, en reinig ons
vir die bruilof van die Lam.
Jesus kom, Jesus kom, Jesus kom tog gou! Kom!

2. Here van die ewigheid, oorwinnaar van die laaste stryd
ek sal sing, ek sal sing.
U liefde sal vir ewig bly, die dag sal kom, die nag verdwyn
ek sal sing, ek sal sing.
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer.

Refrein:

F57. “Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied)” 
(RUBRIEK: Flam – Hoop en Voleinding / Lof / Koninkrykstyd)
Oorspronklik: Battle Hymn of the Republic (Tradisioneel)
Afrikaanse vertaling: Piet Smit
© 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere; asook op Suid-Afrika se 100 Gunsteling Geestelike Liedere)

1. Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer.
Die Allerhoogste wat in liefde oor sy koninkryk regeer.
Hy’t belowe aan die einde op die wolke kom Hy weer.
Hy is Koning, Hy regeer!

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy is Koning, Hy regeer!

2. Die Here is ons Vesting wat vir altyd sal bly staan.
Hy beskerm elke mens wat in geloof na Hom toe gaan.
Hy’s ons skuiling, Hy’s ons wapen, Hy het die vyand reeds verslaan.
Hy is die Rots wat ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy’s die Rots wat ewig staan!

3. Kom deel nou in ons loflied hef jou hande op na bo.
Blaas basuine, slaan op tromme en kom dans voor God se oë.
Kom leef in die oorwinning van sy Woord waarin ons glo.
Want sy Woord sal ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Want sy Woord sal ewig staan.

4. Ek glo dat Jesus Christus weer sy bruid gaan kom haal.
Ek glo die Vader het al reeds die dag en uur bepaal.
Ek sien al klaar die feestelike hemelbruilofsmaal
en die tafel met ons bruilofsmaal.

F431. “Hier’s My Hart (My Beminde)”
(RUBRIEK: Kruisfuur –)
Musiek en Teks: Franco Gagiano
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers
Opgeneem op ‘Folgende’

Hier’s my hart vlees en bloed als van my bestaan.
Hoor my roep sien my soek soos ek voor U staan.
Sprakeloos ontmoet ek U en terwyl ek swoeg
om regop te bly staan
want u oorweldig my deur liefde en u heerlikheid.

Refrein:
Want U is my beminde, U is my geliefde U’s die een tot in ewigheid.
Tot en met die bruilof tot en met die tyd wat U weer kom
sal ek sing, my verbly.
Want U oorweldig my U oorweldig my,
U omvou my in heerlikheid U oorweldig my.
U oorweldig my, U oorweldig my
u liefde en u heerlikheid,
U oorweldig my.

God praat met ons en ons luister

Gebed: (n.a.v. Fil. 4:8-9)
Here, in die woorde van Filippense 4 bid ons dat U deur u Gees ons gedagtes sal fokus op alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees. Gee ons die krag om dit wat ons uit u Woord geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, te doen. Mag God wat vrede gee, sal by ons wees. Amen

Skriflesing: Matteus 22:1-14

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Carolyn Brown sê by Worshiping With Children (‘n uitstekende bron vir gemeentes wat die Leesrooster gebruik!): One commentator quipped that this parable should be “at least PG-13” rated. It is filled with details that on the surface don’t make sense. It is not a story but an allegory and allegories are almost impossible for children to interpret. But even if they understand allegories — if God is the king why does God kill the unresponsive guests and burn their city and why does God send away the poor man who was swept into the feast because he wasn’t properly dressed? This is definitely not a parable to dramatize or present creatively in the hope that every worshiper will catch every detail! Instead, it is probably best to pick out one or two elements of the parable to explore with children. 

’n Eenvoudige opsie is om vir kinders te vertel dat die kerk God se fees of partytjie is waarheen hulle elkeen genooi is. By hierdie partytjie sing ons, behoort aan groepe soos kategese, neem deel aan bedieninge, ens. Gee vir die kinders partytjiehoede en, as jy dapper is, ballonne en papier fluitjies.

Of gesels oor verjaarsdagpartytjies. Vra wat hulle by sulke partytjies doen en wie hulle nooi. Gesels dan oor die gastelys by die fees in die teks: dit sluit almal in, goed of sleg. God nooi almal na die partytjie.

Jy kan ook verse 11-13 weer lees en verras reageer. Erken dat dit nie klink soos God of Jesus nie. Soms is dit nodig om iets te weet van die tyd waarin die Bybel geskryf is. In Jesus se tyd sou die gasheer spesiale klere vir die gaste gee om by die troue te dra. Iemand het dus vir hierdie ou klere aangebied, maar hy wou dit nie hê nie. Hy het na die partytjie toe gekom, die regte kos geëet, maar geweier om die regte klere te dra.

Brown waarsku: BE CAREFUL. The summary of this discussion is tricky. It is easy to conclude something like, so do what you are told and participate well when you come to church. Not good! Jesus is urging people who come to his feast, to follow his “party rules” like love God and love each other. Jesus doesn’t want us to just come to get the goodies or do the fun stuff, but to really join in with people around us.

Preekriglyn

Israel het verwag dat die Messias-Koning ‘n heerlike, oorvloedige banket vir sy volk voorberei. So sê die profeet Jesaja alreeds:

Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige ‘n feesmaal gereed maak vir al die volke, ‘n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn.

Op hierdie berg sal Hy die doek verwyder, die doek wat oor al die volke gegooi was, waarmee al die nasies toegemaak was.

Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig, en die trane op almal se gesigte afvee. Oor die hele aarde sal Hy die smaad verwyder wat sy volk aangedoen is. Die Here het dit gesê.

Wanneer dit gebeur, sal elkeen sê: Kyk daar, dit is ons God, ons het op Hom vertrou, Hy het ons gered. Dit is die Here! Ons het op Hom vertrou. Laat ons bly wees en juig omdat Hy ons gered het. (Jesaja 25:6-9)

Die volk beleef in Jesaja se tyd veel ellende. Dit was swaar om ‘n regverdige, gehoorsame lewe te lei. Die onweerswolke van God se oordeel pak saam vanweë die sonde van baie. Die omliggende volke word toenemend bedreiging as tugmaatreël van God.

In hierdie tyd gee die Here die belofte dat Hy met sy volk op pad is na ‘n feesmaal. Aan die einde van die tye sal die mag van dood en onreg vernietig word, die oneer en smaad wat die volk aangedien is, sal verwyder word. Dit sal by die feesmaal duidelik wees die Here het sy volk gered.

‘n Fees met ‘n wye uitnodiging

Die Ou Testamentiese gelowiges weer reeds hierdie fees is vir almal wat hulle vertroue in die Here stel. Aan die einde, by die groot feesmaal, sal die oorwinning aan die Here se troue volgelinge geskenk word. Jesaja 55:1-5 beklemtoon dit treffend. Almal wat dors is, word na die water genooi. Dié wat nie geld het nie, word na die fees genooi om te kom eet en drink, wyn en melk. God nooi alle mense uit om versadig te word met die beste wat daar is.

Die komende feesmaal is ook ‘n ankerpunt. Hoe beroerd die wêreldgeskiedenis ook al verloop, dit stuur – danksy God se genade – af op dié groot fees.

‘n Bruilofsfees

Die Nuwe Testament teken hierdie fees as ‘n Messias-banket. In ons teks word dit as ‘n bruilofsfees voorgestel wat ‘n koning vir sy Seun reël.

Waarom juis die beeld van ‘n bruilofsfees? Iemand skryf:

Jesus gebruik die beeld van die grootse feesviering wat sy luisteraars in hulle kultuur geken het. Die Koninkryk van God, sê Jesus, is soos die grootste fees denkbaar wat gehou word deur die rykste mens denkbaar, vir die mees geëerde persoon denkbaar. Met die beeld van ‘n bruilofsfees vang Jesus die beste wat die lewe mense kan gee vir sy luisterraars vas.

Só is die regering van God. Dit loop uit op die wonderlikste fees denkbaar vir almal wat die Here dien. Dit is oop vir almal wat hulle vertroue in die Here stel, in Hom glo, Hom dien, en navolg.

Nie so vinnig nie

Die Joodse godsdienstiges van Jesus se tyd het ‘n ander siening van hierdie Messiaanse fees gehad. Vir hulle was die belofte van Jesaja oor die groot fees, juis nié bedoel vir almal nie. Die Jode van Jesus se tyd het die fees dus gereserveer vir Jode alleen. ‘n Ware Jood, ‘n feesgangers, was volgens hulle iemand wat die detail van die Joodse wet tot die fynste besonderhede uitgeleef het.

Spesifiek die heidene, het die Jode gemeen, was niks en van geen betekenis nie. ‘n Joods-godsdienstige boek uit dié era, 4 Esdras, stel dit as volg:
O Here, U het gesê hierdie wêreld is vir ons geskep.
Wat die ander nasies wat van Adam afstam betref:
U het gesê hulle is niks nie,
hulle is soos spuugsel,
hulle oorvloed soos ‘n druppel aan ‘n emmer. (4 Esdras 6:55-59)
Daar is vir die Jode van Jesus se tyd nie sprake daarvan dat almal wat die Here sal dien, sal deelneem aan die bruilofsfees nie. Hulle het nie gedink daar is plek vir heidene by die feesmaal nie. Al die heidene is soos die mense van Tirus, wat volgens Jesaja 23 vernietig sal word sodat Israel as ‘n nasie beveilig en gered sal word.

Agtergrond tot die teks

In ons teks is die atmosfeer gespanne. Die toneel is die laaste week van Jesus se bediening in Jerusalem. Dit is kort voor die viering van Paasfees. Vir meer as drie jaar het Hy op verskeie plekke en maniere verkondig dat Hy deur God gestuur is, nie net as profeet nie, maar as die Christus en selfs meer, as die Seun van God. Die Jode het ’n groot verwagting gehad dat die beloofde Messias sou kom om hulle te bevry. Dit is van kleintyd af by hulle ingeprent dat hulle deel van God se uitverkore volk was en dat Hy hulle na die spesiale feesmaal van die Messias uitgenooi het.

Met woord en daad het Jesus Homself bekend gemaak as die Messias. Wie Hy was en wat Hy verkondig het, het egter nie gestrook met die Jode se Messiasprofiel nie. Jesus se boodskap en die Jode se verwerping daarvan het ’n klimaks bereik in die week voor Paasfees.

Die meeste Jode neem nou sterk standpunt teen Jesus in. Die Joodse godsdienstige leiers verneem nie God se stem en God se aanraking in Jesus van Nasaret nie. Een van hul probleme met Jesus is juis dat sy bediening te oop is. Vir Jesus loop die pad na God deur die omhelsing van God se genade. Jesus is God se inisiatief om stukkende mense en gebrokenes op te tel.

Vir die Jode is dit onaanvaarbaar. Hulle kan nie dink God sal die Jode se vyande, en diegene wat nie die Joodse wet nakom nie. Tensy heidene Jode word, is daar vir hulle geen hoop nie.

Gelykenis van die bruilofsfees

Teen hierdie agtergrond vertel Jesus die gelykenis van die uitnodiging na die bruilofsfees. ‘n Koning reël ‘n bruilofsfees vir sy seun, en nooi gaste. Die genooides wil nie kom nie. By ‘n herhaling van die uitnodiging raak van hulle aggressief en geweldadig. Dan word die uitnodiging na die straathoeke geneem, en aan slegtes en goeies gerig. Hulle kom wel, en maak die saal vol. Daar is egter ‘n indringer, met wie die koning afreken. Dit lui tot ‘n stelreël of spreuk waarmee die wyse waarop God se genade werk toegelig word.

Die patroon is dus:

  • Die uitnodiging word gemaak en verwerp (1-3)
  • Die uitnodiging word herhaal en gewelddadig verwerp (4-8)
  • Die uitnodiging word wyd uitgestuur (8-13)
  • ‘n Kort spreuk sluit die gedeelte af (14)
Uitleg

Die koning verwys na God en die koning se seun na Jesus as die Christus. Jesus bring die Joodse verwagting van ‘n Messiaanse banket op ’n slim manier na vore in die gelykenis, maar wel met ’n belangrike wending. Die Messias vir wie die fees der feeste gereël word, is Jesus die Seun van God en seun van die timmerman, Josef!

Die uitgenooides verwys allereers na die Jode. Hulle is die mense wat reeds sedert die Ou Testament deur die profete en beloftes van God uitgenooi is. Tog kon hulle eenvoudig nie Jesus sien as die verwagte Messias nie en daardeur het hulle God se uitnodiging aan hulle as “eerste bruilofsgaste” verwerp.

Sommige Jode was so opgeneem in hulle aardse belange dat Jesus en sy “praatjies” nie plek op hulle prioriteitslys gehad het nie. Hulle word beskryf as die genooides wat eerder na hulle grond en werksplek gegaan het as om gereed te maak vir die fees. Ander het aggressief teen Hom en sy volgelinge gedraai. Sy boodskap was vir hulle godslasterlik en iets wat in die kiem gesmoor moes word.

Die koning se slawe wat die uitnodiging versprei het, is waarskynlik die Nuwe-Testamentiese volgelinge van Jesus. Sommige Skrifkenners sluit Johannes die Doper en Jesus self by die groep in terwyl ander verstaan dat die slawe verwys na die apostels en ander draers van die Christusboodskap na die Pinkstergebeure. Die twee uitnodigings aan dieselfde onwillige groep uitgenooides, beklemtoon die besondere genade en geduld van God.

Slegtes én goeies

Die koning se genade is nie uitgeput deur die ondankbare mense wat eerste uitgenooi is nie. Na die dodelike veroordeling het die koning sy uitnodiging nog wyer uitgesprei. Slegtes en goeies van oral oor is na die bruilofsfees uitgenooi. Die slegtes en goeies verwys na mense wat vanuit menslike perspektief verdeel kon word in diegene wat moreel goed genoeg was om genooi te word en die wat vanweë hulle morele lewe gediskwalifiseer is.

Ons moet egter nie die punt mis nie dat albei hierdie groepe genooi is. Morele waardes was nie die kwalifikasie om deel te hê aan die bruilofsfees nie, maar wel die feit dat die uitnodiging aanvaar is of nie. Genade is aangebied en dié wat dit heelhartig aanvaar het, het vrye toegang tot die koning se fees verkry. Op hierdie manier het die feessaal vol gaste geword.

Steeds uitnodigend

Hierdie gelykenis is steeds uitnodigend teenoor die verharde Jode. Jesus se bedoeling bly in die eerste plek ‘n poging om God se volk, die Jode, na Hom te trek “soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak” (Matt 23:37), maar die Jode het Hom aanhou verwerp.

Die Joodse leiers kry ‘n laaste geleentheid om te herbesin. Die feit dat mense op die straathoeke, slegtes en goeies, die waarde van die uitnodiging besef, en God se genadige bedoeling herken, moet die Jode help om van hul blindheid genees te word. Hulle word genooi om God se genade in Jesus raak te sien, te herken, en te omhels.

Katastrofe

Genade het egter ook ’n eindpunt en uiteindelik word die uitnodiging vervang met veroordeling. Binne historiese konteks is die woorde dat die onwaardige uitgenooides doodgemaak en hulle stad aan die brand gesteek sal word, letterlik in 70 nC vervul. Jerusalem is totaal en al verwoes deur die Romeinse generaal, Titus Vespasianus en sy magte. Die geliefde Godstad het in vlamme opgegaan.

‘n Man sonder bruilofsklere

Een van die gaste, waarskynlik verteenwoordigend van vele ander, het die koning se oog gevang omdat hy onpaslik gekleed was. Daar is heelwat opinies oor wat die betekenis van die bruilofsklere was, maar miskien is dit die veiligste om te luister na die teoloog Allen Ross:

Die regte kleding hou verband met alles wat Jesus gesê het oor toegang tot die koninkryk van die hemel – ware berou oor sonde en geloof in Christus, en ‘n verbintenis om God en naaste lief te hê, en die Here te gehoorsaam as teken van egte geloof.

Hoewel hierdie persoon, wat op sy eie manier toegang tot die fees probeer verkry het, as vriend aangespreek word, is hy soos ’n veroordeelde behandel. Die beskrywing van die diepste duisternis kan net na die God se veroordeling verwys.

Baie geroep, min uitverkies

Vers 14 verwys na baie wat geroep is, maar dat daar min is wat uitverkies is. Die eksterne uitnodiging is in die wydste moontlike terme uitgestuur. Baie wat dit hoor, aanvaar dit met dankbaarheid terwyl nog meer dit hoor en vir verskillende redes by hulle laat verbygaan. Dat die mense tot ’n keuse opgeroep word, is onteenseglik waar. Dat God mense beweeg om vir Hom te kies, is net so waar.

Die teoloog John MacArthur sê hieroor:

  • Daar is menslike keusevryheid wanneer die uitnodiging ontvang word
  • Daar is ook menslike keusevryheid wanneer die uitnodiging verwerp word
  • Die balans lê in God se koningskap. Diegene wat kies om die uitnodiging te aanvaar, roem nie daarop en sê dit is hulle verdienste voor God nie. Hulle weet hulle het dit maar net op grond van God se genade gedoen. Vir hulle is dit omdat God hulle gekies het.
  • Dit is misterie hoe God se betrokkenheid en ons geloof werk. Ons sal dit nooit kan deurgrond nie. Maar ons juig daaroor.
Toepassing

Die gelykenis het nie net waarde vir die eerste hoorders in Jerusalem nie. Ook die eerste lesers van die Matteus-evangelie, toe Matteus Jesus se woorde jare later neergeskryf het, moes dit hoor.

Die inhoud het nie gestop by die Jode se reaksie op Jesus nie, maar het steeds lewe en dood betekenis vir mense oor die eeue heen tot by ons in die hedendaagse Suid-Afrika. Die temas van uitnodiging en verwerping met toepaslike gevolge moet vandag nog ernstig opgeneem word.

God se uitnodiging aan mense om sy Seun as Verlosser te aanvaar en in liefdevolle gehoorsaamheid aan Hom te leef, klink steeds van geslag tot geslag en van volk tot volk.

Die hoofklem van die gelykenis val op hoe mense reageer op die uitnodiging na die fees en watter gevolge hulle keuses gehad het. Lewensveranderende aanvaarding daarvan lei tot vreugdevolle aanvaarding deur God en deelname aan die Groot Bruilofsfees. Verwerping van die aanbod of ’n ligtelike omgang daarmee sonder die nodige lewensverandering lei tot veroordeling.

In die tweede deel van die gelykenis word gewaarsku teen ’n misverstaan dat die wye uitnodiging in sigself genoegsaam is vir insluiting by die bruilofsfees. Die Reformation Study Bible pas dit soos volg toe:

Hoewel almal wat die evangelie hoor, uitgenooi word na die feesmaal, en hoewel baie daarop aanspraak maak dat hulle in die koninkryk is, is slegs diegene wat beklee is met Christus se regverdiging in werklikheid in God se geseënde teenwoordigheid.

Gód nooi uit

Vir die Jode was dit ondenkbaar dat die “mense van die straathoeke” by die bruilofsfees kon wees. Die Joodse leiers het gedink hulle weet wie by die Goddelike banket ingesluit sal word. Dit sou Jode wees wat volgens die Joodse verstaan reg lewe.

Die Jode het gemeen hulle het God en God se bedoelinge volmaak uitgepluis. Hulle het gedink hulle weet wie God is en wie by God welkom sal wees. Hulle het ook geweet nie-Jode is nie welkom nie. Hulle was immers, soos 4 Esdras sê, minder werd as ‘n spoeg op die straathoek.

Ons moet diep en selfondersoekende nadink oor ons eie onsluiting by die koninkryk van God. En ons moet diep nadink oor wie ons uitsluit, oor wie ons dink nie kwalifiseer nie. Want ons mag die skok van ons lewe kry.

In die koninkryk van God kies mense nie wie in en uit is nie. Ons mede-banketgangers word aan ons geskenk. Hulle bestaan uit mense wat in ons oë goeies én slegtes is. Daarom pas dit ook dat ons eerder ‘n meer inklusiewe as ‘n eksklusiewe ingesteldheid handhaaf.

Ingewag

En terwyl ons dikwels onder druk is, daagliks ons kruis saam met Jesus moet opneem, en onder verwerping en verhardheid ly, kan ons mekaar tog bemoedig met die vaste wete dat ons wat glo deur God by die ewige banket ingewag word. Dit is die bruilofsfees van die Lam.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 327 “Dag van verlossing! Kyk, Hy kom”
Flam 431. “Hier’s My Hart”(My Beminde)”

Seën

Respons
Lied 311 “Dit wat ons hier ontvang het” (selfde melodie as toetrede) of
Vonkk 165 vers 4 refrein
Refrein
Soos ons dankbaar deur ons lewe gaan,
wil ons van u koms getuig,
waar ons aansit by die bruilofsfees,
daar aan die tafel van ons Heer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.