Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Gebed, die geheim van ware wysheid en die krag in koninkrykswerk.

Jakobus het sy brief met gebed begin (1:5) en hier sluit hy dit daarmee af. Dit is vir hom die geheim van ware wysheid, vrede en versoening. Dit hou mense nederig en bring selfs ryk en arm bymekaar. Dit verander die lot en selfs die loop van die geskiedenis (bv die verhaal van Ester).

Hierdie tema loop ook deur die ander tekste vir vandag en raak telkens ‘n ander aspek:
Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy verander ons lot.
God is getrou.
Ester se opregte versoek en wens beweeg Ahasveros daartoe om daaraan gehoor te gee.

Ander tekste

Ester 7:1-6, 9-10; 9:20-22
Haman word om die lewe gebring
7 Die koning en Haman het by koningin Ester gekom om saam met haar te eet. 2Terwyl hulle by hierdie tweede geleentheid besig was om wyn te drink, vra die koning weer vir Ester: “Wat is dit wat jy wil vra? Dit sal vir jou gegee word. Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van die koninkryk, dit sal toegestaan word.”

3Koningin Ester antwoord toe: “As die koning my goedgesind is, en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe. Dit is my wens en my versoek. 4Ek vra dit, want ons, ek en my volk, is verkoop om voor die voet uitgeroei te word. Was ons maar net as slawe en slavinne verkoop, sou ek stilgebly het, want dan sou die ramp nie soveel skade aan die koning se belange veroorsaak het nie.”

5Toe vra koning Ahasveros vir koningin Ester: “Wie is dit wat so iets beplan, en waar is hy?” 6en Ester antwoord: “Die teëstander en vyand is hierdie lae mens, hierdie Haman.”

Haman het groot geskrik daar in teenwoordigheid van die koning en koningin.

7Die koning het woedend van die ete af opgestaan en na die tuin van die paleis toe gegaan. Haman het egter bly staan om by koningin Ester om sy lewe te smeek, want hy het gesien dat die koning klaar oor sy ondergang besluit het. 8Net toe Haman neerval op die rusbank waarop Ester sit, kom die koning uit die tuin van die paleis terug in die saal waar die maaltyd gegee is. Toe sê die koning: “Wil jy nou ook nog die koningin hier by my in die paleis aanrand?”

Skaars het die koning dit gesê, of sy dienaars het vir Haman kom blinddoek. 

9Garbona, een van die koning se paleisbeamptes, sê toe: “Daar is mos reeds by Haman se huis ’n galg van drie en twintig meter hoog wat hy laat oprig het vir Mordegai wat destyds in belang van die koning gepraat het.”

Toe sê die koning: “Hang hom daaraan op!”
10Hulle het Haman toe opgehang aan die galg wat hy vir Mordegai laat bou het. Daarna het die woede van die koning bedaar.

Die Purimfees
20Mordegai het hierdie gebeure laat neerskryf en briewe gestuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver, 21en die Jode gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier 22as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het. Dit is die maand waarin hulle angs in blydskap verander het en hulle rou in feestelikheid. Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur.

Psalm 124
As die Here ons nie gehelp het nie
124 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
As die Here ons nie gehelp het nie,
dit moet Israel bely,
2as die Here ons nie gehelp het
toe mense ons aangeval het nie,
3dan het hulle ons lewendig verslind
toe hulle woede teen ons ontvlam het;
4dan het die waters ons weggespoel
en die vloed ons oorweldig;
5dan het die skuimende waters
ons oorweldig.
6Aan die Here kom die lof toe:
Hy het nie toegelaat
dat ons hulle prooi word nie.
7Ons is bevry soos ’n voël
uit die wip van ’n voëlvanger;
die wip het gebreek en ons was vry!
8Ons hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.

Markus 9:38-50
“Wie nie téén ons is nie, is vir ons”
(Luk 9:49–50; vgl Matt 12:30; Luk 11:23)
38Johannes het toe vir Hom gesê: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdrywe. Ons het hom probeer keer, omdat hy ons nie volg nie.”

39“Moet hom nie keer nie,” sê Jesus, “want daar is niemand wat ’n kragtige daad in my Naam sal doen en net daarna minagtend van My sal kan praat nie. 40Wie nie téén ons is nie, is vir ons.

41“Elkeen wat vir julle ’n beker water te drinke sal gee omdat julle aan Christus behoort, hy sal beslis die beloning daarvoor kry. Dit verseker Ek julle.”

Aanleiding tot afvalligheid
(Matt 18:6–9; Luk 17:1–2)
42“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig laat word, vir hom is dit baie beter as ’n groot meulsteen aan sy nek vasgemaak en hy in die see gegooi word.

43“As jou hand jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy vermink in die lewe ingaan as dat jy altwee jou hande het en na die hel toe gaan, in die onblusbare vuur. 44h 45En as jou voet jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy kreupel die lewe ingaan as dat jy altwee jou voete het en in die hel gegooi word. 46i 47En as jou oog jou van My afvallig laat word, pluk hom uit! Dit is beter dat jy met een oog die koninkryk van God ingaan as dat jy altwee oë het en in die hel gegooi word. 48Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie.”

Sout en vrede
(Matt 5:13; Luk 14:34–35)
49“Almal sal met die vuur van beproewing gelouter word.
50“Sout is goed, maar as sout sy krag verloor het, waarmee sal ’n mens dit weer sout maak?
“Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.”

Fokusteks

Jakobus 5:13-20
Die gelowige gebed
13As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. 14As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. 15En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. 16Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.

Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. 17Elia was ‘n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. 18Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.

19My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, 20weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word.

Ekstra stof

 1. Jakobus 5 – Volhard in gebed
Jakobus sluit sy brief af met vier verdere bydraes wat die uitdagings van die lewe met die voorsiening van die Here verbind. Hy rig dié boodskappe aan die rykes om hulle te waarsku, aan die lydendes om hulle tot geduld in lyding aan te spoor, en aan die hele geloofsgemeenskap om met integriteit te lewe, en veral nie op te hou om te bid nie, want dit is kragtig en effektief. Ek deel dit as volg in:

  • Dit is dwaas om skatte te vergader in die laaste dae – 5:1-6
  • Wees geduldig in lyding – 5:7-11
  • Leef met integriteit – 5:12
  • Bid gelowig – dit is kragtig en effektief – 5:13-20

2. 5:1-6 – Dit is dwaas om skatte te vergader in die laaste dae
Dit is weereens opvallend dat die rykes nie gekwalifiseer word as noodwendig deel van die geloofsgemeenskap nie, soos ook in Jak. 1:9. Die armes wat hier onder uitbuiting lei, word ook nie eksplisiet as deel van die geloofsgemeenskap geteken nie, terwyl dit op ander plekke in die brief wel die geval is (1:9; 2:15-16). Dié gedeelte het dus ‘n betekenis ook vir die gemeenskap waarbinne die gelowiges woon en werk.

Die punt wat Jakobus hier maak, is dat ‘n mens se houding teenoor jou besittings radikaal beïnvloed word deur die feit dat ons in die “laaste dae” lewe. Omdat die Here op pad is met sy wederkoms (5:7), vra dit van ons om anders met ons besittings om te gaan.

Om skatte te vergader, meer as wat jy nodig het, is dwaas in die lig van die verganklikheid van rykdom sowel as die nabyheid van die wederkoms. In die woorde van Jesus: “Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Matt. 6:24). Wanneer God gedien word, kan jy staatmaak op sy voorsiening: “Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. Maar soek bo alles na God se koninkryk en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt. 6:32-33). Meer as dit kan jou in die versoeking van onreg, weelde en losbandigheid bring.

Dit is daarom dubbeld dwaas om dié rykdom op onregverdige manier te bekom deur die loon van arbeiders te weerhou en dan weelderig en losbandig daarmee te lewe. Dit kan op die oog af lyk asof dié mense geen verweer het nie, maar hulle geroep “het die ore van die Here, Heerser oor alle magte, bereik.” Hy sal optree. Hy waarsku hulle: “Julle het julle harte vet gevoer vir die slagdag“!

3. 5:7-11 – Wees geduldig in lyding
Dat Jakobus egter ook die lydendes in die geloofsgemeenskap in die oog het, raak nou duidelik, want hy spel nou uit hoe hulle geduldigheid aan die dag moet lê in die lyding wat hulle ervaar. Hy bemoedig hulle met twee eienskappe van God. Die een is die feit dat die wederkoms van die Here naby is en dat hulle hul harte met dié gedagte kan staal. Die ander is die feit dat dié Here ook die Regter is wat nie net gehoor het wat gebeur nie, maar sal optree en regstel.

Daarom moet hulle nie die roete van klagtes teenoor mekaar volg nie, maar op die Here se medelye en ontferming staatmaak. Hy herinner hulle aan die einddoel van die Here met Job wat in sy volhardig seën ervaar het. Dít moet hulle inspireer om geduldig te wees in lyding.

4. 5:12 – Leef met integriteit
In nog ‘n verwysing na die Bergrede raai Jakobus sy mense aan om met integriteit te lewe (vgl. Matt. 5:33-37). Dit is nooit nodig om te sweer nie, want ‘n mens se ja’s en nee’s moet bedoel word.

5. 5:13-20 – Bid gelowig – dit is kragtig en effektief
Jakobus sluit af met ‘n uitbreiding van die gedagtes oor gebed waarmee hy sy brief begin het. Daar het hy klem gelê op die wysheid wat van God gevra moet en kan word. Hier brei hy daarop uit en betrek gebed op ‘n verskeidenheid situasies in die geloofsgemeenskap se lewe:

  • As jy swaarkry, moet jy bid.
  • As jy opgeruimd is, moet jy sing.
  • As jy siek is, moet die ouderinge gelowig bid vir genesing en vergifnis.
  • As jy sondig teenoor mekaar, moet dit bely en voor gebid word, sodat dit uitgesorteer, “gesond“, kan word.

Dié oproep word ondersteun met ‘n skets van Elia – “‘n mens net soos ons” – wat vurig gebid het vir die weer, en God het hom telkens geantwoord. “Die gebed van ‘n regverdige is kragtig en effektief.” ‘n Voorbeeld wat ons kan, trouens, móét navolg.

Boodskap
Dit tref my hoe Jakobus sy brief afsluit met ‘n opeenstapeling van eienskappe van die Here as motivering waarom hy hulle tot geduld, volharding, integriteit en gebed oproep. En onthou, Jesus is die Here, soos Jakobus reeds in Jak. 1:1 bevestig het:

  • Jesus is dus die Here – die een wat gesag het oor alles.
  • Jesus is die Heerser oor die magte – die een wat mag het oor alles.
  • Jesus is die een wat weer kom – wat ons geduld sal beloon.
  • Jesus is die Regter – die een wat nie net hoor nie, maar sal optree om dinge reg te stel.
  • Jesus is die een wat vol medelye en ontferming is – die een wat na ons luister.
  • Jesus is die een wat genesing gee – daarom kan daarvoor gebid word.
  • Jesus is ook die een wat vergewe – daarom kan ons ons sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid, want só ‘n gebed is kragtig en effektief.

Met dié Here Jesus Christus kan ‘n mens enduit gaan. Op Hóm kan ‘n mens wag en Hom vertrou vir uitkoms in alles. Sela.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 272 of VONKK 69

Votum
Seëngroet

Lofsang: Lied 280 of Flam 161

Wet/toewyding/geloofsbelydenis: Flam 51

HOOR

Gebed: Lied 271 “Heil’ge Jesus, wat my lewe”

Skriflesing: Jakobus 5:13-20

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed

Voorbidding: Lied 278 of VONKK 164

Dankoffer

Slotsang: Lied 266 of VONKK 112 of Flam 95

Seën

Respons: Lied 286 of Flam 361 of VONKK 36

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 272 “Stuur nou u lig” of
VONKK 69 “Heilig, Heilig, Heilig Is Die Heer” 

Votum
Met my stukkie lof
Met my bietjie bid
Met my sinne van stof
Wil ek voor U kom sit
Met vandag se leef
En môre se dood
Met my reguit en skeef
Met my honger en brood
So sal ek kom
As ek kom om te juig
Dankbaar en dom
Sal ek nederig kom buig
(Uit: Optelwoorde – Koos van der Merwe, aangehaal in 2001. Handleiding vir die Erediens, Bybelmedia)

Seëngroet

Lofsang
Lied 280 “Here, Redder, groot en magtig”
Flam 161 “Meer As ’n Lied Oor Ons Lippe” (Mooier As Die Mooiste Mooi)

Wet/toewyding/geloofsbelydenis
Voorganger: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
Gemeente: Dankie dat ons U kan erken as die enigste ware God.

V: Jy mag nie enige beeld of afbeelding vereer nie, want Ek eis onverdeelde trou aan My.
G: Dankie dat ons U kan leer ken uit u Woord en die sakramente.

V: Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie.
G: Dankie dat ons u heilige Naam mag aanroep.

V: Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.
G: Dankie dat U vir ons sorg en vir tye van rus.

V: Eer jou vader en jou moeder.
G: Dankie vir ons ouers en ander mense wat vir ons omgee.

V: Jy mag nie moord pleeg nie.
G: Dankie dat U vir ons die lewe as ’n waardevolle geskenk gee.

V: Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
G: Dankie dat U dit vir ons moontlik maak om aan mekaar getrou te wees.

V: Jy mag nie steel nie.
G: Dankie dat U vir ons die vermoë gee om te kan werk.

V: Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
G: Dankie dat U ons in die waarheid lei.

V: Jy mag nie iemand anders se besittings begeer nie.
G: Dankie vir wat ons uit u hand ontvang.
(Uit Bybelmedia se Handleiding vir die erediens, 2010:24)
Flam 51 “Koning Van My Hart”

Liedere

F51. “Koning Van My Hart”
(RUBRIEK: Flam – Toewyding / Gebed) Teks en musiek: Rick Moser © 1994 MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Nuwe Lied, vol 2)

Koning van my hart,
koning van my lewe,
U wil ek bemin,
U lof besing vir ewig.
U het my bevry
my sondeskuld vergewe.
Koning van my lewe,
koning van my hart.

F161. “Meer As ’n Lied Oor Ons Lippe (Mooier As Die Mooiste Mooi)” 
(RUBRIEK: Flam – Gebed / Toewyding) Teks en musiek: Retief Burger © 2009 Urial Publishing (Opgeneem op Oorgegee)

Meer as ’n lied oor ons lippe, meer as wat woorde kan bring
sing harte verlief op die Koning in verwondering.
U is die Prins van die eeue, gesalf uit die beker van vreugde
kom, o Koning, en luister na ons liefdeswoorde.

Refrein:
Mooier as die mooiste mooi, held van al ons drome,
genade stort oor lippe rein, en vuur is in u oë.
Want u liefde brand al sterker vir die bruid wat U begeer
voor U, ons Mooiste mooi, buig ons, u mooistes neer.

Brug:
U bruid roep uit na haar Bruidegom.
Ons verlang. Kom, ja kom. (x2)

Einde: (Intro akkoorde)
Hierdie liefde is wyer, hierdie liefde is hoër
Hierdie liefde is dieper, hierdie liefde is mooier.

F95. “Onse Vader”
(RUBRIEK: Flam – Gebed) Teks en musiek: Marina du Toit © Urial Publishing

Ons Vader wat daar in die hemel woon
heilig is u Naam, heilig is u Naam.
Laat ook nou u koninkryk hier kom.
Laat u wil geskied by ons,
net soos in die heem’le.
Gee vandag ons daagse brood,
vergewe ons ons skuld,
net soos ons ook dié vergeef
wat skuldig is teen ons.
En red ons van versoekings, Heer.
Hou u hand oor ons.
Verlos ons van die Bose,
dat U kinders sterk kan staan!
Want aan ons Koning behoort die mag en majesteit
en aan ons Koning behoort die krag en heerlikheid.
Vir ewig! Vir ewig! (tweede keer x2)
Amen!

VONKK 69 “Heilig, Heilig, Heilig Is Die Heer”
Teks: Annalise Wiid 2004 © (met toestemming Annie’s Song); Engelse teks: Jacques Louw 2009
Melodie: ANNELISE – Annalise Wiid 2004 © uit EK KYK OP (met toestemming Annie’s Song)
Orrelbegeleiding: Jacques Louw 2005 © Kantoryverwerking: Jacques Louw 2005 ©
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

Heilig, heilig, heilig is die Here.
Heilig, heilig, heilig is die Heer.
Holy, holy, holy is the Lord.
Holy, holy, holy is the Lord.

VONKK 164 “O Hoor My, Heer”
Nav Psalm 102:2,3 RUBRIEK: Meditatief – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging / Gebed
Teks: Ouve, Senhor, eu estou clamando – Brasilië; Engels: Alan Luff; Afrikaanse weergawe: Driekie Jankowitz 2011 (Pro Deo)
Melodie: TEM PIEDADE – tradisioneel Brasilië Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2011 (Pro Deo)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2011 © Engelse teks en melodie: Openbare besit
© Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en musikale verryking: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

O hoor my, Heer, wanneer ek U aanroep.
Wees genadig, o luister en verhoor my.
Hear me, O Lord, o hear my crying;
in your mercy give ear to me and answer.

VONKK 112 “Ons Vader In Die Hemel (Matteus 6)”
Matteus 6:9 – 13 (effens gewysig) Teks: Karien Pretorius 2009 (nav Matt 6:9-13)
Melodie: KAMEELDRIFT – Karien Pretorius 2009 © (gewysig)
Orrelbegeleiding: Daleen Kruger 2010 (Pro Deo) Kantoryverwerking: Albert Troskie 2010 (Pro Deo)
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Gebed

Ons Vader in die hemel, laat u Naam geheilig word.
Laat u wil geskied in die hemel so ook op aarde.
Gee ons vandag ons dag se brood en vergeef ons ons skulde.
Lei ons nie in versoeking, maar verlos ons van die bose.
Want aan U behoort die koninkryk, die krag en die heerlikheid,
vir ewig en ewig.
Amen.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Lied 271 “Heil’ge Jesus, wat my lewe”

Skriflesing: Jakobus 5:13-20

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Jy kan ‘n beker koffie gebruik as simbool van gebed. Mens kan dit mos nie dadelik drink nie, al ruik dit heerlik. Jy moet eers wag dat dit koud word. Of gebruik die simboliek van ‘n saadjie wat geplant is, maar nie dadelik opkom nie. Sluit aan by rustig en geduldig te wag by die Here.

As julle ‘n lys van voorbidding in jul afkondigings het, kan jy dit vir die kinders uitwys en verduidelik hoekom dit daar is. Gee kans dat van die kinders (wat meer vrymoedig is) hardop vir mense bid.

Carolyn Brown stel voor dat jy vir elke kind ‘n gebed-blad gee. Teken ‘n kruis op ‘n leë vel papier en maak dan groot lusse (sien voorbeeld). Doen dit óf vooraf op ekstra papiere of laat elkeen hul eie maak. Verduidelik hoe ons in die gemeente vir mekaar bid. Laat kinders mense of groepe of bedieninge vir wie hulle wil bid, se name in die lusse skryf of prentjies teken wat hulle verteenwoordig. Die kinders kan (dalk tydens die voorbidding aan die einde van die diens?) hul gebede aan die nagmaalstafel kom plak.

Preekriglyn

Helmut Thielicke, die Duitse teoloog, het in sy lesings oor die Ons Vader-gebed die volgende geskryf:

Onder die mense is daar slimmes en dommes; heiliges en skurke; die wat heers en die wat oorheers word; maar dwarsdeur al die veelvuldige verskille loop een algemene eienskap en dit is dat hulle – u en ek ingesluit – moet bely: Ons is almal sondaars en dit ontbreek ons aan die roem wat ons voor God moet hê.

Wat egter interessant is, is dat hierdie roem by elkeen van ons verskillend ontbreek. Ja, dit verskil tussen die fariseër en die tollenaar; dit is anders by die ou vrou as by die jong man – maar al die verskille vloei saam in hierdie een sin: “Heer gaan weg van my af, ek is ‘n sondige mens!”

Ons moet elkeen bely: “Heer ons het anders uit u hand op aarde te voorskyn gekom as wat ons nou is. Ons kan onsself nooit weer so aan U teruggee soos ons onsself uit u Hand ontvang het nie.” Ons moet erken: Ons het almal die groot verband op ons lewe. En dit heet skuld!

As Jakobus vir die gelowiges skryf, spel hy hulle verantwoordelik ten opsigte van skuld uit; teenoor mekaar, die gemeente en teenoor God. Hierdie skuld bring letterlik siekte oor individue en die gemeente. Daarom moet man en muis almal intree in gebed voor God. Die Heler van ons skuld en ons siekte.

Doel van die brief

Onthou, Jakobus skryf sy brief te midde van innerlike spanning en verdeeldheid in die gemeentes aan wie hy dit rig. Sommige Skrifkenners wonder hardop of Jakobus nie maar net ‘n klompie losse spreuke en wyshede is nie. Dit is natuurlik nie so nie. Daarvoor fokus Jakobus te sterk op heelheid van die gemeente, en die wegneem van gebrokenheid en verskeurdheid, sosiale siekte en verdeelheid.

Die brief wil gelowiges bemoedig en vermaan om hulle lewenswyse deur geloof in Jesus Christus te rig. Die brief beoog “verandering van houding en gedrag, sodat die innerlike en onderlinge konflikte, teenstrydighede en spanninge opgehef sal word in volkomenheid, geïntegreerdheid en heelheid,” skryf prof. Dirkie Smit.

Vier groepe

In ons teksgedeelte spreek Jakobus spesifiek vier groepe mense in die gemeente aan. Dit is mense wat self konflikte ervaar, en daardeur ook spanning in die gemeente veroorsaak. Hierdie vier groepe word as’t ware in die volgorde van groeiende intensiteit genoem. Die maniere waarop met hulle omgegaan moet word, word ook beskryf:

  • Daar is diegene wat swaar kry en diegene wat opgeruimd is (13). Die mense wat swaar kry, moet bid. Die mense wat opgeruimd is, moet lofliedere sing – wat ook ‘n vorm van gebed is.
  • Daar is diegene wat siek is (14). Hulle moet die ouderlinge van die gemeente laat kom om vir hulle te bid, en hulle met olie te salf by die aanroep van God se Naam. God self sal by gelowige gebed vir die sieke genesing bring.
  • Daar is diegene wat sondig, veral teenoor mekaar (16). Hulle moet hulle sondes eerlik teenoor mekaar bely, en vir mekaar bid, sodat hulle gesond kan word. Gesond word verwys hier nie net na fisieke genesing nie, maar ook sosiale genesing, skuld en vergifnis, en die oplos van verterende konflik.
  • Daar is diegene wat heeltemal van die waarheid afgedwaal het (19). Mede-gelowiges moet uitreik na hierdie mense en hulle van hul dwaalweg terugbring, want dan word so iemand van die dood gered en ‘n menigte sondes word vergewe.

Die sake wat Jakobus hier aanspreek (gebed, geloof, en die kerk se betrokkenheid by siekes, vertwyfeldes en gebrokenes) lê aan die hart van die evangelie. Jakobus vermaan en bemoedig die gelowiges met wat hulle primêre en wesenlike doel as volgelinge en kerk van Christus is.

Gebed

Opvallend hoe ‘n sentrale rol gebed hier speel. In die inleiding tot die brief roep Jakobus die gelowiges op om te bid (1:5). In die slotbetoog doen hy dit weer. Hy omraam die boodskap en bevestig wat hy gesê het in die res van die brief. Sy verkondiging en verstaan van navolging moet van God afgebid word. Dit is nie deur eie krag nie, maar ‘n gawe wat God verleen.

Jakobus beklemtoon hoe kragtig gebed is, met verwysing na Elia wat vir die droogte gebid het. Die krag van gebed lê in die lewende Here wat aangeroep word, en wat tot ons beswil reageer op ons gebede. God neem siekte en skuld weg, en gebed speel hierin ‘n wesenlike rol.

Siekte

Moderne mense is geneig om aan siekte slegs as fisieke, liggaamlike ongesteldheid by individue te dink. Ons sal ook maklik tussen fisiese siekte en geestelike siekte onderskei. In die Bybelse tyd is daar meer holisties oor siekte gedink. Daarom verwys siekte hier nie net na liggaamlike siekte nie, maar ook na sosiale siekte, die gebrokenheid van verhoudings, die aftakelende effek van konflik, verdeeldheid en spanning op mense.

Siekte verwys natuurlik ook na wat ons vandag as fisieke ongesteldheid sal beskryf. Om siekte te genees, is gebed nodig by die salf met olie. Olie was wyd as geneesmiddel gesien, en is vir medisinale doelwitte gebruik. Olie (medisyne) dien hier ook om die teenwoordigheid van God sigbaar te maak. Dit het ook ‘n geestelike inhoud.

Daar is nie vir die Bybel spanning tussen gebed en medisyne nie. Dis nie die een of die ander nie. Mens sien dit op baie plekke in die Bybel. Die Here kondig aan dat koning Hiskia nog vyftien jaar gaan lewe (sy genesing word aan hom geskenk), maar dan gee die Here Jesaja opdrag om ‘n vyekoek (wat ons ‘n trekpleister sal noem) op Hiskia se sweer te gaan sit om die kwaad uit te trek (Jesaja 38:21). Nog ‘n voorbeeld is Jesus wat klei (met medisinale eienskappe) aan die man se oë smeer wie se gesig Hy herstel (Joh. 9:14), of Paulus wat ‘n bietjie wyn as geneesmiddel vir Timoteus aanbeveel (1 Tim. 5:23).

Genesing kom met of sonder medisyne, maar in alle gevalle met ‘n dankbare, biddende bewussyn van die Here se teenwoordigheid.

In hierdie siening van genesing word mens ook genees as jy opgeneem of herstel word in gemeenskap met God en medegelowiges – selfs al kry jou fisieke siekte jou uiteindelik onder.

Skuld

Jakobus praat ten diepste met ons oor die verwoestende effek van ons skuld op ons lewens – ons indiwiduele maar ook ons gemeenskaplike lewe.

Die probleem van ons tyd is dat ons nie besef of dink dat ons skuld het of skuldig is nie. Ons weet nie ons is siek nie. Ons stap soos lyke rond in ‘n wêreld wat ons elke sekonde vertel hoe gesond ons is. Of as ons hierdie produk aanskaf, op hierdie vakansie gaan, daardie nuwe motor of huis koop, gaan ons gesond raak.

Ons soek die oplossings vir ons siekte eensydig as ons dink chemiese middels alleen kan ons gesond maak. Ons het nodig om meer as net fisiek gedokter te word. Ons het natuurlik chemiese medisyne nodig, maar ook ander medisyne as net ons pille. Hoe belangrik ons pille en behandeling ook al vir ons welsyn is – en dit is baie belangrik – het ons groter genesing nodig. Dit is genesing wat God gee wanneer ons diep van binne aangeraak word, van ons skuld bevry word deur belydenis van sonde, en in verhouding tot God en mekaar herstel word.

Ons kan dodelik siek wees, en ons weet dit nie. Ons dink ons is gesond, maar in wese dwaal ons en is ons op pad na die dood (19-20). Ons is siek aan en van onsself. Ons neem selfies en ons begeer ons eie liggame en plesier. Alles moet net om ons draai en gaan oor ons gemak en plesier. Die “ek” groei elke dag groter en groter sodat daar nie eers meer plek vir my is in die kerk as ander dit met my wil deel nie. Dit veroorsaak die konflik en struwelinge onder mekaar en in die kerk. Dit maak dat ons aan mekaar leuens vertel, jaloers is en afdwaal van die waarheid.

Oplossing

Daarom skryf Jakobus hierdie slotopmerkinge aan ons. Daar is net een oplossing vir ons sieklike toestand – ons moet op ons knieë gaan. Ons moet bid. Nie die gebede waar ons persoonlik roem en ryk vergroot en ons eie selfsugtige begeertes en die “ek” die fokus is nie. Nee, ons moet vir mekaar begin bid. Wanneer ons vir mekaar en saam met mekaar begin bid, begin ons onsself sien soos God ons sien. Besef ons wat ons werklike funksie teenoor mekaar en God is.

Deur God geroep

Ons is as geloofsgemeenskap as agente van God op aarde geroep. Ons doel op die dorp of in die stad waar ons geplaas is, is om ruimtes te wees waar mense genees kan word, herstel kan word, vergewe kan word en teruggebring kan word na die waarheid. Ons getuienis en gebed het ‘n kragtige uitwerking in gelowiges en ongelowiges se lewe. Ons manier van leef onder mekaar bring genesing vir ons gemeenskap en land.

Dit kom egter nie vanself nie. Ons moet hiervoor bid. As individue, as ouderlinge van die gemeente, as gelowiges en as land moet ons bid. Ons moet ons sondes eerlik teenoor mekaar (man en vrou, buurman en bure, werker en werkgewer) en teenoor God bely.

Waar verhoudings en mense siek geraak het, moet ons onder aanroeping van die Naam van die Here bid en met olie salf (mekaar versorg). Ons moet mekaar vergewe. Ons moet met volharding aktief wag op God nadat ons gebid het asook op mekaar. As iemand afdwaal moet ons hom/haar terugbring. Dan sal God ons gesond maak. Wanneer ons swaarkry moet ons bid. Wanneer ons opgeruimd is, moet ons lofliedere sing.

Die genesing van God

Eers dan sal die roem van God herstel word en onsself, ons naaste, ons gemeente en ons land die genesing van God beleef. Ons bid nie om God se arm te draai of sodat God ‘n wonderstok sal swaai dat ons gesond kan raak nie. Ons bid sodat ons ‘n duideliker blik op God kan kry sodat ons lewe meer sy beeld kan weerspieël. Mense wat gesond is, is mense wat weet hoe lyk God!

“Omdat ek nie anders kan nie”

Uit die uitstekende fliek Shadowlands oor C S Lewis en sy vrou, Joy Davidson (1993) kom hierdie aangrypende stukkie dialoog. Nadat ‘n ander kollega C S Lewis (Jack) gespot het oor wat gebed vir hom in die sak bring ten opsigte van sy sterwende vrou, Joy, sê Harry, een van sy ander kollegas:

Christopher kan jou spot, Jack, maar ek weet hoe hard jy gebid het en nou is God besig om jou gebede te beantwoord.

C S Lewis antwoord dan:
Dit is nie hoekom ek bid nie, Harry. Ek bid, want ek kan myself nie help nie. Ek bid omdat ek hulpeloos is. Ek bid, want hierdie behoefte vloei die hele tyd uit my, of ek slaap en of ek wakker is. Gebed verander nie vir God nie, dit verander my!

Gebed maak siekes gesond – individue en gemeentes.

God stuur ons om te leef

Gebed

Voorbidding
Gee geleentheid vir gebed, of reel vooraf mense om vir spesifieke sake voorbidding te doen (bv. siekes in die gemeente, die land en regering, skole in jul omgewing).

Sing na die gebed sonder aankondiging:
Lied 278 “Hoor ons bid o Heer” of
VONKK 164 “O Hoor My, Heer” 

Dankoffer

Slotsang
Lied 266 “Ons Vader wat woon in die hemel”
of VONKK 112 “Ons Vader In Die Hemel” (Matteus 6) 
Flam 95 “Onse Vader”

Seën

Respons
Lied 286 “Here God van liefde” of
F361. “Laat Dit So Wees” (Amen) of
VONKK 36 “Bly Met U Genade By Ons”
Teks: Bleib mit deiner Gnade – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Braam Hanekom, Breda Ludik en Michiel van der Merwe 1994/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Gebed / Uitsending

Bly met u genade by ons,
Jesus, ons Heer.
O bly met u genade by ons,
U, troue Vader.

Stay with us o Lord, Jesus Christ,
night will soon fall.
Then stay with us o Lord, Jesus Christ,
light in our darkness.

F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed) Teks en musiek: Neil Büchner Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.