Agste Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die sleutelteks vir hierdie Sondag het ‘n duidelike fokus: Alles wat God met God se mag vir die mens doen, is vanuit God se groot liefde. In die Evangelie-teks vind ons hierdie liefde in die vorm van Jesus wat ‘n skare jammer kry en mense genees. Ook in God se beloftes van trou en sorg aan Dawid in die teks uit 2 Samuel sien ons God se liefde. Die psalm is ‘n loflied aan die troue liefde van die Here aan Dawid. Daarom is die simbool vir hierdie week ‘n groot hart.

Ander tekste

2 Samuel 7:1-14a
Dawid wil vir die Here ’n huis bou
(Vgl 1 Kron 17:1–27)
7 Toe koning Dawid in sy eie huis woon, nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing, 2sê hy vir die profeet Natan: “Kyk, ek woon in ’n huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in ’n tent.”
3Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. Die Here is by u.”

4Dieselfde nag het daar egter iets gebeur: die woord van die Here het tot Natan gekom en vir hom gesê: 5“Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My ’n huis bou om in te woon? 6Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in ’n huis gewoon nie. Ek het in tent en tabernakel rondgeswerf 7saam met al die Israeliete. Het Ek ooit vir een van die stamme wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My ’n huis wat met sederhout versier is nie?’

8“Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers. 9Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde. 10Ek het ’n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen 11toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ’n koningshuis gaan vestig. 12Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom ’n bestendige koningskap gee. 13Hy sal vir my Naam ’n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan. 14Ek sal vir hom ’n vader wees en hy sal vir My ’n seun wees. As hy ontrou is, sal Ek mense gebruik om hom te straf, hom te kasty. 15Maar my trou sal Ek nie aan hom onttrek soos Ek dit aan Saul onttrek het om vir jou plek te maak nie. 16Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”

Psalm 89:20-37
20U het ’n openbaring gegee,
oor u troue dienaar het U gesê:
“Ek het aan ’n held my bystand geskenk,
aan ’n dapper jong man uit die volk
’n ereplek gegee.
21Ek het Dawid as my dienaar uitgesoek,
hom met my heilige olie
tot koning gesalf.
22My mag sal hom ondersteun,
my krag sal hom sterk maak.
23Vyande sal hom geen leed aandoen nie,
gewetenlose mense
sal hom nie verdruk nie.
24Ek sal sy teëstanders
voor hom verpletter
en dié wat hom haat, verslaan.
25My trou en liefde sal by hom wees:
deur My sal hy oorwin.
26Ek sal sy heerskappy uitbrei
tot oor die see,
sy gesag tot oorkant die riviere.
27Hy sal My aanroep met die woorde:
‘U is my Vader,
my God, die rots wat my redding is.’
28Ek stel hom eerste,
die magtigste koning op aarde.
29Vir altyd handhaaf Ek my trou
teenoor hom;
my verbond met hom staan vas.
30Ek sal vir hom altyd
nakomelinge verseker
sodat sy troon vas sal staan
so lank daar ’n hemel is.
31As sy nakomelinge nie handel
volgens my woord nie
en nie lewe volgens my bepalings nie,
32as hulle my voorskrifte verontagsaam
en my gebooie nie nakom nie,
33sal Ek hulle oor hulle oortreding straf
en hulle oor hulle sonde
met swaar slae tref.
34Maar my liefde sal Ek van hom
nie terughou nie,
my trou nie verbreek nie.
35Ek sal my verbond nie versaak nie,
nie een van my beloftes terugtrek nie.
36Ek, die Heilige, het ’n eed afgelê,
en my woord aan Dawid
sal Ek nie verbreek nie:
37daar sal altyd nakomelinge
van hom wees,
sodat sy troon so blywend soos die son
sal wees.
38Soos die maan sal dit altyd daar wees.
Solank die hemel daar is,
sal dit vas bly staan.”

Markus 6:30-34, 53-56
Die twaalf apostels kom terug
(Matt 14:13–14; Luk 9:10–11; )
30Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. 31Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.”

32Hulle het met ’n skuit na ’n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees. 33Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. 34Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy ’n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ’n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.

Jesus genees mense in die landstreek Gennesaret
(Matt 14:34–36)
53Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. 54Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Hom dadelik herken 55en in daardie hele landstreek rondgegaan en dié wat ongesteld was, op draagbare begin aandra na waar hulle gehoor het dat Hy is. 56Waar Hy ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, het die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak; en almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword.

Sleutelteks

Efesiërs 2:11-22
Eenheid in Christus
11 Daarom, onthou dat julle destyds volgens julle sondige aard heidene was. Julle word onbesnedenes genoem deur diegene wat besnedenes genoem word, al is dit bloot liggaamlik deur hande verrig. 12 Onthou dat julle in daardie tyd sonder Christus was, uitgesluit van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten opsigte van die verbondsbeloftes, sonder hoop en sonder God in die wêreld. 13 Maar nou, in Christus Jesus, het julle, wat destyds ver weg was, naby gekom deur die bloed van Christus. 14 Hy is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het. 15 Hy het die wet met sy eise en reëls tot niet gemaak, sodat Hy, deur vrede te maak, in Homself die twee tot een nuwe mens kon skep, 16 en sodat Hy albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, deurdat Hy daaraan die vyandskap vernietig het. 17 En Hy het vrede as goeie boodskap aan julle kom verkondig, aan julle wat ver was, en ook vrede aan diegene wat naby was. 18 Want deur Hom het ons albei toegang tot die Vader deur een Gees.

Een bouwerk van God
19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en lede van die huisgesin van God, 20 gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus Jesus self as hoeksteen. 21 In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here. 22 In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees. (2020-vertaling).

Ekstra stof

Teks en konteks
Uit die gesprek en gebed van hoofstuk 1 trek Paulus nou vier gevolgtrekkings in hoofstuk 2-3 wat hy met ‘n verskeidenheid beelde inkleur. ‘n Mens kan dit so opsom:
1. God gee aan alle gelowiges plek by Hom as getuienis van sy goedheid – Ef. 2:1-10;
2. Joodse en heidense gelowiges is saam een nuwe mensheid in Christus – Ef. 2:11-18;
3. God woon in hierdie gemeenskap van gelowiges as getuienis aan die mensdom – Ef. 2:19-22.
4. Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus – Ef. 3:1-13

Hy sluit dié gevolgtrekkings af met een van die mooiste gebede in die Bybel – Ef. 3:14-21 – waarin hy vra dat hierdie hele gemeenskap van gelowiges heeltemal vervul sal word met die volheid van God, as ‘n getuienis aan alle mense dat hulle in Christus Jesus vrede met God kan geniet.

Joodse en heidense gelowiges is saam een nuwe mensheid in Christus – Efesiërs 2:11-18
Paulus kontrasteer hier die “onbesnedenes” – dit is dié nie-Jode wat nie in God geglo het nie – met die “besnedenes” – dit is die Jode wat deel van die Godsvolk was. Christus het die vyandskap wat tussen dié twee groot groepe bestaan het, afgebreek soos ‘n mens ‘n muur sou afbreek. Daar is nou een nuwe mensheid wat nie net met God nie, maar ook met mekaar versoen is, en nou om vrede met God en mekaar kan (en natuurlik moet) lewe.

Let op dat die mikpunt van hierdie eenheid die onbelemmerde vrye toegang tot die Vader is deur die werk van die een Gees.

God woon in hierdie gemeenskap van gelowiges as getuienis aan die mensdom – Efesiërs 2:19-22
Paulus gebruik 5 beskrywings van hierdie gemeenskap van gelowiges:
1. medeburgers,
2. huisgesin,
3. gebou,
4. tempel,
5. woonplek van God deur die Gees.

Die eerste twee beelde kom uit die samelewing uit: die politieke en nasionale sfeer, en die kleiner familie-kring. Die laaste drie beelde kom uit die boubedryf uit, maar word duidelik geestelik bedoel. Let op dat die gemeenskap van gelowiges nou die tempel is, en nie ‘n kerk nie.

Boodskap en betekenis
Wat my besonderlik tref is dat Paulus hier skryf dat die gemeenskap van gelowiges ‘n plek word waar God woon deur sy Gees. Soos Hy vir ons ‘n plek in Sy teenwoordigheid gegee het, so kry Hy ‘n plek by ons, in ons teenwoordigheid. En weereens, dit is nie net ter wille van onsself nie, maar sodat Sy teenwoordigheid sigbaar kan word vir die wêreld (soos in hoofstuk 3 verder gemotiveer sal word). Die kerk, as liggaam van Christus, is in ‘n besondere sin nou die beeld van God, die imago Dei, soos die mens dit aanvanklik was (Gen. 1:26). ‘n Kerklike gemeenskap wat nie hiervoor leef nie, mis sy doel.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3″

Aanvangswoord: (Uit Psalms 124:1-8)

Seëngroet: (Efesiërs 1:2)

Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Wet
Die klanke van die wet en gehoorsaamheid daaraan, met gepaardgaande beloftes van seën en straf, word duidelik gehoor in God se pad met Dawid (koning van Israel).
2 Samuel 7
Hierdie reëlings word herbevestig in Psalm 89…
Psalm 89

Skuldbelydenis

Vryspraak: (uit die fokusteks)

Geloofsbelydenis Geloofsbelydenis: ahv Efesiërs 1 en 4

Loflied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Efesiërs 2:11-22

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 478 “Op vaste fondamente vs 1,2,3,4”

Seën: Efesiërs 3

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord  
As die Here ons nie gehelp het
toe mense ons aangeval het nie,
3dan het hulle ons lewendig verslind

4dan het die waters ons weggespoel
en die vloed ons oorweldig;
6Aan die Here kom die lof toe:

8Ons hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.
(Uit Psalms 124:1-8)

Seëngroet  
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Efesiërs 1:2)

Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Wet
Die klanke van die wet en gehoorsaamheid daaraan, met gepaardgaande beloftes van seën en straf, word duidelik gehoor in God se pad met Dawid (koning van Israel).

2 Samuel 7
8“Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers. 9Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde. 10Ek het ’n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen 11toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ’n koningshuis gaan vestig. 12Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom ’n bestendige koningskap gee. 13Hy sal vir my Naam ’n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan. 14Ek sal vir hom ’n vader wees en hy sal vir My ’n seun wees. As hy ontrou is, sal Ek mense gebruik om hom te straf, hom te kasty. 15Maar my trou sal Ek nie aan hom onttrek soos Ek dit aan Saul onttrek het om vir jou plek te maak nie. 16Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”

Hierdie reëlings word herbevestig in Psalm 89…
Psalm 89
30Ek sal vir hom altyd
nakomelinge verseker
sodat sy troon vas sal staan
so lank daar ’n hemel is.
31As sy nakomelinge nie handel
volgens my woord nie
en nie lewe volgens my bepalings nie,
32as hulle my voorskrifte verontagsaam
en my gebooie nie nakom nie,
33sal Ek hulle oor hulle oortreding straf
en hulle oor hulle sonde
met swaar slae tref.
34Maar my liefde sal Ek van hom
nie terughou nie,
my trou nie verbreek nie.
35Ek sal my verbond nie versaak nie,
nie een van my beloftes terugtrek nie.

Skuldbelydenis
V: As gemeente van Christus getuig ons graag aangaande die oorvloedige genade van God wat ons ryklik en vrylik in Christus ontvang het en waaraan ons deur die Gees deel het.
G: Ons is inderdaad begenadig.

V: Ons glo dat almal dié genade nodig het.
G: Ons glo dat hierdie genade vir álmal is.

V: As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons as kerk nie altyd hierdie genade weerspieël nie. Baie mense assosieer die kerk daarom nie met genade nie, maar met uitsluiting en veroordeling. Ons treur oor die harde ongenaakbaarheid en liefdeloosheid wat dikwels op subtiele maniere, maar soms ook heel kras, in ons harte en in ons midde leef.
G: Heer, wees genadig.

V: As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons dikwels leef asof God se genade net is vir mense wat soos ons is en lyk; mense wat óns taal praat, wat óns kultuur deel, wat óns gewoontes het. Ons treur oor hoe hierdie gesindheid ons verlede moreel verarm het en hoe die logika van geskeidenheid en rassisme in ons harte en praktyke ’n tuiste gevind het.
G: Christus, wees genadig.

V: As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons nie altyd die materiële seëninge wat ons uit genade uit God se hand ontvang genoegsaam raaksien of uitdeel nie. Ons treur oor die ekonomiese ongelykheid, sistemiese onreg, onmenslike uitbuiting en blatante korrupsie wat ons samelewing stempel, en ons erken dat ons voorspoed en teenspoed ten nouste hiermee verweef is.
G: Heer, wees genadig.

V: As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons nie altyd weet hoe om die goeie nuus van God se genade uit te leef nie. Te midde van groeiende sekularisme, ook in ons eie harte, en skadelike vorme van godsdiensbeoefening, ook in ons eie kringe, is ons daarvan bewus dat ons dikwels faal om die evangelie op ’n geloofwaardige wyse aan ons kinders, ons vriende en aan vreemdelinge oor te dra.
G: Christus, wees genadig.
– uit NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen Hervormingsdaggetuienis 2017, beskikbaar by https://stelwel.co.za/wp-content/uploads/2017/08/Hervormingsdaggetuienis.pdf

Vryspraak: (uit die fokusteks)
19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges , en lede van die huisgesin van God, 20 gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus Jesus self as hoeksteen. 21 In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here. 22 In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees. (2020-vertaling).

Geloofsbelydenis Geloofsbelydenis: ahv Efesiërs 1 en 4
Deur Christus het ons deel geword van die volk van God
soos Hy dit vooruit al bestem het.
So het Hy Hom dit voorgeneem- Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.
Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.
Deur Christus het ons deel geword van die volk van God
toe ons die waarheid wat aan ons verkondig is,
die evangelie van ons verlossing, gehoor het
en tot geloof gekom het.

In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, ons as die eiendom van God beseël.

Daar is net één liggaam en net één Gees,
soos daar net één hoop is waartoe God ons geroep het.
Daar is net één Here, één geloof, één doop,
één God en Vader van almal:
Hy wat oor almal is,
deur almal werk
en in almal woon.

Loflied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Liedere

F265. “Die Here God Is Wonderbaar (Sing Vir Hom)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
©  2008 Urial Publishing

1. Die Here God is wonderbaar
Hy reik uit na elke sondaar
en ook na jou en my
Hy is God van liefde
Hy is God van vrede
en ook van jou en my

Brug:
sing vir Hom, sing vir Hom
laat jou stem verrys
sing vir Hom, sing vir Hom
laat ons saam Hom prys

Refrein:
Halleluja
Halleluja

2. Die Here God sal my nooit verlaat
skyn sy lig altyd op my pad
Hy’s my enigste hoop
Hy is God van liefde
Hy is God van vrede
en ook van jou en my

F144. <“God Is Liefde”  
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Kersfees / Epifanie,  lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: AP van der Colf  (c) NGKU
© 2005 Urial Publishing
(1 Joh 4:7-21;  Rom 5:1-11;  Joh 3:16)

God is liefde
Juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.

Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef

God praat met ons en ons luister

Epiklese
“Ons God en Vader,
lei ons uit ’n lewe van doodsheid na die Lewe.
Lei ons uit valsheid na die waarheid.
Lei ons uit vertwyfeling na ’n bestaan vol hoop –
van vrees na vertroue,
van haat na liefde,
van stryd na vrede.
Ag, Here, laat u vrede ons harte vul,
en so ook ons wêreld,
en uiteindelik die heelal” (uit ’n tradisionele Anglikaanse
gebed).

Skriflesing: Efesiërs 2:11-22

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Die simbool vir hierdie week is ‘n groot hart. Maak seker dat jy ‘n groot hart iewers in die liturgiese ruimte neersit of op die skerm vertoon. Fokus die kinders se aandag daarop.

V: Watter boodskap wil ons vir iemand gee wanneer ons vir hulle ‘n hartjie teken of wys of koop? (Liefde; ons is lief vir hulle.)

V: Is dit die grootste hart wat jy al ooit gesien het? Of het jy al ‘n groter hart gesien? (Gee kans dat die kinders deelneem.)

V: Hoe groot dink julle is God se hart?

V: Ons gaan vandag in die Bybel lees oor wat God alles vir ons gedoen het omdat God se hart van liefde vir ons groter is as enige groot hart wat ons al ooit gesien het.
God het ons saam met Jesus lewend gemaak.
God het vir ons genade as ‘n geskenk gegee. Dit beteken die liefde in God se groot hart vir ons kan nooit opraak nie, maak nie saak watter foute ons maak nie.
God het ons verlos – vrygemaak – sodat ons lief kan wees vir ander mense en die wêreld ‘n beter plek kan maak.
Elke keer wanneer ons nou weer ‘n hart sien, kan ons onthou dat God se hart van liefde vir ons en ander mense groter is as wat ons kan droom. God se hart kan nooit leeg word van liefde nie.

Die kinders kan elkeen ‘n hartjie ontvang om hulle aan die boodskap te herinner. ‘n Armband van rek met ‘n kraletjiehart aan is iets wat hulle kan dra, maar ‘n papierhartjie sal ook goed werk.

Preekriglyn

Hierdie Skrifgedeelte trek die gordyne oor die eeue, die ewigheid, van God se werk oop. Wat vroeër bedek was, word nou sigbaar en kenbaar. Efesiërs 1-22 vorm ‘n betekeniseenheid, met twee kernmomente: die genade wat vir ons bewerk is (verse 1-10) , en ons insluiting in die kerk, die gemeenskap van verlostes (verse 11-22, ons teks).

Ons lees in hierdie teks:

  • hoedat God van ewigheid af vir ons die verlossing en heil in Jesus Christus beplan het;
  • hoedat God in Jesus Christus deur genade vir ons verlossing bewerk het; en
  • ons leer hoedat hierdie verlossing uitgewerk is deur die skep van die kerk as die gemeenskap van verlostes;
  • Nie net ons verlossing nie, maar ook ons insluiting in die gemeenskap van verlostes is ‘n wonderwerk van God.
Indeling

Ons teks, verse 11-22, word dikwels in drie dele ingedeel:

  • Verse 11-13 – die kerk se verhouding met Israel;
  • Verse 14-18 – die verlossing deur Christus het die kerk en gelowiges een gemaak;
  • Verse 19-22 – God bou die hele kerk saam op tot ‘n geestelike huis.

Kom ons stap deur hierdie drie dele van die teks:

“Daarom”

Ons teks begin in vers 11 met die woord “daarom”. Hierdie word verbind vers 11-22 met die voorafgaande 11 verse (2:1-11).

Dink bv. aan 2:5:
Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos!

“Daarom” – vers 11 – onthou dat julle destyds heidene was ….
Hierdie verse gaan daaroor dat ons verstaan ons het ons nuwe posisie aan God se werk in Jesus Christus te danke het. Daarom moet ons onthou dat ons vroeër “onbesnedenes”, nie-Jode, heidene was. Ons was vroeër nie deel van God se volk nie. Ons was uitgesluit, nie-Jode:

Onthou dat julle in daardie tyd sonder Christus was, uitgesluit van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten opsigte van die verbondsbeloftes, sonder hoop en sonder God in die wêreld. (12)

Christus het egter deur sy bloed die onbesnedenes, die nie-Jode, wat ver was, naby gebring.

Onbesnedenes ingesluit

Die Jode het alle nie-Jode heidene genoem en hulle (ons!) as onrein beskou. Hulle het openlik op hulle neergesien. Die uiterlike, liggaamlike, verskil was die Jode die besnydenis as die teken van die verbond gehad het. Die heidene het dit nie gehad nie. Daarom is daar met afkeur na die nie-Jode as die onbesnedenes of heidene verwys.

Voor Jesus gekom het, het God in die ou verbond sy verbond en sy beloftes hoofsaaklik beperk tot Abraham en dié se bloednageslag. As dit nie vir Jesus was nie, sou nie-Jode nie deel kon gekry het aan die verbond van God en die beloftes van God nie.

Met die koms van Jesus begin dit egter duidelik word dat God doelbewus die genade uitbrei om ook die nasies in te sluit. Dit was van die begin af God se bedoeling, want Abraham is oorspronklik geroep om geseën te word sodat hy en sy nageslag vir die nasies tot seën sou wees.

Hierdie uitbreiding van God se genade om die onbesnedenes in te sluit, vind nou deur Jesus se bloed plaas. Paulus noem dit, sodat ons kan verstaan as dit nie vir Jesus was nie, sou ons nog steeds ver van God gelewe het. Daar is dus nie plek vir hoogmoed of aanstellerigheid nie.

Die Jode was naby aan God omdat hulle Hom deur ‘n lang geskiedenis en deur die Ou Testament leer ken het. Ons, die nie-Jode, was weer ver van God omdat ons (voorouers) vroeër niks van God geweet het nie. Nie een van die twee groepe kon egter deur eie toedoen die redding van God verkry nie. Almal moes eers die goeie boodskap van verlossing in Jesus hoor en Jesus se verlossingswerk deur geloof toeëien. Deur Jesus is ons nou deel van die volk van God.

Geen aanstellerigheid

Prof Fika van Rensburg skryf: (uit Bybellennium):
As jy al lank ‘n Christen is en jou voorgeslagte ook Christene was, is dit geen rede om te niks dat jy iemand besonders is nie. Dit is immers Christus wat die verskil gemaak het, nie jy of jou voorouers nie. Die omgekeerde is ook waar: as jy ‘n nuwe Christen is, hoef jy nie skaam te wees en minderwaardigheid teenoor die “ou” Christene te voel nie. In Christus is julle sáám een nuwe mensheid.

Sommige van ons voel ons pas nie so lekker by die kerk in nie. Ons staan om verskeie redes uit. Mense kyk dalk vreemd na ons. Ons weet nie lekker hoe om in hierdie omgewing te maak nie. Ons ken nie die gewoontetjies en styl nie.

Laat ons hierdie dinge opsy skuif. Ons is deel van die kerk, want Christus het ons deel gemaak. Klas en styl is nie die deurslaggewende nie.

Wat ons by die tweede deel van ons teks bring.

Muur van skeiding

In verse 14-18 word die werk van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees beskryf. God het deur Jesus Christus die middelmuur van skeiding tussen Jood en nie-Jood afgebreek.

Ons het reeds verwys na die besnydenis wat die Jode en nie-Jode van mekaar onderskei het. Vir die Jode was Jood en heiden een van die groot sosiale skeidsmure. Hierdie skeidsmuur het ook letterlik in die tempel gefunksioneer waar nie-Jode net tot op ‘n sekere punt in die tempel kon kom. Die res was vir hulle verbode terrein.

Die wet was vir Jode net so ‘n belangrike skeidsmuur. Jode het die wet van Moses ontvang. Die uitvoering van die wet het hulle godsdienstige, sosiale en kulturele identiteit bepaal. Die doen van die wet het die wat dit nie geken en beoefen het nie (die heidene) aan die anderkant van ‘n skeidsmuur geplaas.

“Christus, ons vrede”

Nou het God die skeidsmuur egter afgebreek en die nie-Jode ingesluit by die Jode. ‘n Nuwe sosiale werklikheid kom met die kerk tot stand: nie menslike of kulturele skeidslyne, godsdienstige praktyke of merktekens nie, maar Jesus Christus bepaal nou die eenheid van die kerk:

Hy is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het (14).

Christus het een nuwe mensheid geskep, een nuwe liggaam tot stand gebring deur sy versoening aan die kruis. Só het Hy die vyandskap vernietig. Hy het vrede tussen voormalige vyande gebring – deur Hom het ons almal toegang tot die Vader deur die een Gees.

Mure, mure, mure

Daar is baie sosiale mure wat Christene van mekaar skei. Dink aan geslag, ouderdom, voorkoms, kas, intelligensie, ras, politieke oortuiging, godsdienstige aannames of leerstellige oortuiging.

Iemand skryf:
Die sekerste manier om Christus se liefde te verberg is deur jou net met die mense tot wie jy van nature aangetrokke voel, te bemoei. Christus het die mure waarbinne mense hulleself afsluit, afgebreek. Daarom is gelowiges een nuwe mensheid al behoort hulle aan verskillende volke, of tot verskillende rasse, of al kom hulle uit verskillende kulture.

In Suid-Afrika is die verdeeldheid tussen Christene elke dag tasbaar.

Dink net watter boodskap van versoening hierin vir ons as Suid-Afrikaners lê. Al is daar hoeveel verskille, die Christene in ons land moet weet, ervaar en wys dat Christus ons een gemaak het, dat daar ‘n einde aan die vyandskap gemaak is, dat ons almal deur die een Gees vrye toegang tot die Vader het.

Ons moet mekaar hieroor opskerp en saam soek na maniere om hierdie staat van versoening prakties uit te leef. Ons moet niks doen wat die ou vyandskap tussen mense lewend hou nie.

Ons kan begin deur:

  • ander gemeentes van ons kerkfamilie te gaan besoek en na ons te nooi
  • moeite te doen om te luister na die persoonlike verhale van mense wat anders is as ons – sonder om dit te beoordeel of te analiseer
  • ander se sienswyses en maniere van doen te ontdek.

Dit is ‘n lewensstyl: om jou eenheid met ander in Christus te ontdek.

Een bouwerk van God

Dit bring ons by die derde onderdeel van ons teks, verse 19-22.

In die eerste twee dele van ons teks het Paulus oor verskille in tyd en ruimte gepraat:

  • Deel 1 (11-13): Ons was ver, maar nou is ons naby
  • Deel 2 (14-18): Ons was sosiaal in verskillende ruimtes (agter skeidsmure), maar nou is ons een.

In die derde deel van ons teks beskryf hy op ‘n kragtige manier hoe God vir die kerk ‘n nuwe identiteit geskep het.

Hier is dinamiese bewegings ter sprake:

  • Van vreemdelinge en bywoners na medeburgers en lede van die huisgesin van God,
  • Ons is geplaas op die fondament van die apostels en profete se getuienis, met Jesus as hoeksteen, opgebou in die een gebou van God.

Hierdie beelde en bewegings beklemtoon dat alle gelowiges gelyk is en ‘n eenheid vorm:

  • Burgerskap: elke Christen is ‘n burger. Paulus verwys hier na die staat soos hy dit destyds geken het. Daar is burgers met volle politieke reg, maar ook bywoners en uitlanders, wat destyds geen regte gehad het nie. In die kerk is dit nie so nie. Wanneer iemand Christus volg, is hy of sy ‘n burger met gelyke status. Die nuwe gelowige mag nie tot ‘n vreemdeling, bywoner of uitlander afgegradeer word nie.
  • Lid van die huisgesin van God: Die gesinslede is broers en susters, gelykes. Daar is nie bediendes of slawe nie. God het aan elkeen kindskap gegee, en almal aan mekaar verbind deur die bloed van Jesus Christus.
  • Geestelike huis: Christene is saam die geestelike huis waarin God woon ons is God se tempel. Elke gelowige is deel van hierdie gebou ‘n belangrike steen of onderdeel daarvan. Die huis staan op die fondamente van die apostels en profete (die Bybel). Die gebou is nie op menslike idees, voorkeure en filosofieë gebou nie, maar op die erfenis wat ons in die Ou en Nuwe Testament ontvang het.

Hierdie beelde beskryf hoe gelowiges is en moet wees. Dit beskryf ons identiteit en ons roeping onder mekaar.

As ons die burgers, die gesin, die huis is, is dit ook belangrik om te weet wat nié die geestelike huis is nie.

Enersyds heg ons dikwels te veel waarde aan die kerkgebou, asof die gebou die huis van God is. Nee, die gelowiges is die huis van God. Die kerkgebou is ons vergaderplek. As ons daar bymekaar is, is ons die woonplek van God – die gebou is ‘n gerieflikheidsreëling.

Andersyds: Hoewel ons ons gebou mooi oppas, is die sieraad wat getroetel moet word ons gemeente en ons verhoudinge met ander gemeentes en kerkverbande – want ons is almal saam die huis van God.

Wanneer ons as ‘n eenheid as huis van God saamleef, word dit duidelik dat dit die Here is wat in ons leef.

Identiteit en roeping

Hierdie teksgedeelte is vandag só belangrik. Dikwels het ons ander sieninge van die kerk se identiteit en roeping. Die kerk is vir ons meer ‘n gevestigde kulturele instelling wat aan ons voorkeure moet voldoen. Ons begin dan vanuit ons voorkeure en ons begrensde begrip oor die kerk te dink.

Nee, die Nuwe Testamentiese kerk van Christus is ‘n radikale verskynsel. Hier is voormalige vyande en vreemdelinge saamgevoeg tot een gesin en geestelike gebou. Wanner ons dit uitleef, beleef ons én ander die krag en verlossing van God.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending Lied 478 “Op vaste fondamente vs 1,2,3,4”

Seën: Efesiërs 3
18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
Amen

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.