Agste Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Paulus skryf sy brief aan die gemeente in Efese tydens sy gevangenskap in Rome, net na hy ‘n soortgelyke brief aan die gemeente in Kolosse geskryf het .

Efese was ‘n groot en belangrike stad in wat ons vandag ken as Turkye. Historici bereken dat daar ongeveer 250 000 mense gewoon het aan die begin van ons jaartelling. Die tempel van Artemis (vgl Hand 19), een van die sewe wonders van die antieke wêreld, was ook daar. Vandag is daar net ruïnes oor van Efese, naby die moderne stad Selçuk.

Paulus se besoeke aan Efese
Hy het Efese drie keer besoek en veral tydens die tweede besoek hulle lank bearbei.

Hand 18:18-23 – Paulus kom aan die einde van sy tweede sendingreis, ongeveer in die jaar 51-52 nC, in Efese aan en bly daar vir ‘n kort rukkie. Hy het waarskynlik by Akwila en Priscilla gebly. Hulle het ‘n huis in Efese gehad – 1 Kor 16:19. Hy wou egter nie lank bly nie, en belowe om met ‘n volgende reis weer by hulle aan te doen. Hy vertrek dus, doen Jerusalem aan, en voltooi sy tweede sendingreis met ‘n tyd in Antiogië.

Dan vertrek Paulus weer op sy derde sendingreis, ’n geestelike reis van versterking. Die groot fokuspunt op hierdie reis is Efese.

Hand 19:1-40 – Paulus se bediening in Efese word in drie episodes vertel: 1) die verhaal van die uitstorting van die Heilige Gees, 2) die verhaal van die seuns van Skeva, en 3) die verhaal van die oproer in Efese. Hy bly uiteindelik twee jaar daar met groot vrug op sy werk.

Hand 20:17-38 – Terwyl Paulus reeds begin het met die reis na Jerusalem, wil hy nog vir oulaas met die ouderlinge van die gemeente in Efese praat en hy reël dat hulle mekaar ontmoet in Milete, so 60 km van Efese aan die kus waar ’n deernisvolle gesprek plaasvind.

Met sy uiteindelike gevangeniskap in Rome skryf hy die brief aan Efesiërs.

Die brief aan die Efesiërs
Die brief aan die gemeente in Efese is die brief met die duidelikste uiteensetting in die Nuwe Testament van wat die kerk is, en hoe die kerk moet funksioneer. Dit is duidelik dat Paulus alles wat hy by die Here oor die kerk geleer het, en in die praktyk gesien het dat dit werk, aan die gemeente deurgee om hulle te motiveer om as gemeente te groei in volwassenheid, sodat hierdie wêreld kan glo.

Die brief is deur Paulus geskrywe, maar vanweë die meer onpersoonlike aard van die brief (hy noem niemand by die naam nie, behalwe Tigikus wat die brief aflewer) is dit moontlik aan meer gemeentes gerig as net aan Efese. Soos die ander gevangenskap briewe is Rome die meer waarskynlike plek vanwaar hy die brief geskryf het, hoewel Seserea of Efese ook moontlikhede is.

Die brief val duidelik in twee helftes uiteen:

  • ‘n Teologiese begronding van die evangelie van Christus Jesus wat ‘n nuwe mensheid tot stand gebring het oor die grense van nasies heen – hoofstuk 1-3.
  • Praktiese riglyne oor die eenheid van die kerk, die gebruik van gawes, die uitdagings van dissipelskap, die eise van ‘n lewenstyl in die lig, ‘n fokus op verhoudinge en ‘n oproep tot publieke standvastigheid – hoofstuk 4-6.

Daar is baie raakpunte met die brief aan Kolosse en ook met die brief aan Filippi (mense van die lig bv).

Ander tekste

Jeremia 23:1-6
Die regverdige koning
23 Ellende wag vir julle, herders deur wie die skape uit my kudde doodgemaak en verstrooi word, sê die Here. 2Daarom, so sê die Here die God van Israel oor die herders wat my volk moet versorg: Julle het my skape uitmekaargejaag en verstrooi, julle het hulle nie opgepas nie, en daarom gaan Ek julle straf vir al die verkeerde dade wat julle gedoen het, sê die Here. 3Maar Ek sal self dié van my kudde wat oorgebly het, gaan bymekaarmaak in al die lande waarheen Ek hulle verstrooi het. Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld toe waar hulle vrugbaar sal wees en baie sal word. 4Dan sal Ek herders oor hulle aanstel, en dié sal hulle versorg, en hulle sal nie meer bang of verskrik wees nie en hulle sal nie meer wegraak nie, sê die Here.

5Daar kom ’n tyd, sê die Here,
dat Ek vir Dawid ’n regverdige spruit
sal laat opskiet,
’n koning wat verstandig sal regeer.
Hy sal die reg eerbiedig
en regverdig regeer in sy land.
6In sy tyd sal Juda gered word
en sal Israel veilig woon.
Sy naam sal wees:
Die Here regeer regverdig oor ons.

7Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat die mense nie meer sal sê: “So seker as die Here leef wat vir Israel uit Egipte laat trek het nie”, 8maar hulle sal sê: “So seker as die Here leef wat die nageslag van Israel met sorg teruggebring het uit die land in die noorde en uit al die lande waarheen Hy hulle verstrooi het.”

Dan sal hulle weer in hulle eie land woon.

Psalm 23 (OAV)
Die Here is my herder.
’N PSALM van Dawid.
Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
4Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
5U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Markus 6:30-34, 53-56
Die twaalf apostels kom terug

(Matt 14:13–14; Luk 9:10–11; )
30Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. 31Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.”

32Hulle het met ’n skuit na ’n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees. 33Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. 34Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy ’n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ’n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.

Jesus genees mense in die landstreek Gennesaret
(Matt 14:34–36)
53Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. 54Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Hom dadelik herken 55en in daardie hele landstreek rondgegaan en dié wat ongesteld was, op draagbare begin aandra na waar hulle gehoor het dat Hy is. 56Waar Hy ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, het die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak; en almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword.

Fokusteks

Efesiërs 2:11-22
Lewe uit die dood
2 Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

3So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. 4Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Een nuwe mensheid
11Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. 12In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

13Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. 14Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het. 15Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode, en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. 16Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. 17Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. 18Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.

19Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar mede-burgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, 22in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangswoord
As die Here ons nie gehelp het
toe mense ons aangeval het nie,
3dan het hulle ons lewendig verslind
4dan het die waters ons weggespoel
en die vloed ons oorweldig;
6Aan die Here kom die lof toe:
8Ons hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.
(Uit Psalms 124:1-8)

Seëngroet
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Efesiërs 1:2)

Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1 (herhaal)”

Verootmoediging

Wet van God: Matteus 22:34-40 ()

Die vraag oor die grootste gebod
(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis
V: As ons ons sondes bely,
God is getrou en regverdig,
Hy vergewe ons ons sondes
en reinig ons van alle ongeregtigheid.
G: Here, ek is ’n sondaar, wees my genadig.

V: Kom ons doen saam ’n gebed van skuldbelydenis.

A: Genadige God,
ons bely dat ons teen U gesondig het,
deur gedagte, woord en daad,
deur wat ons gedoen het,
en deur wat ons nie gedoen het nie.
Ons het U nie met ons hele hart liefgehad
en ons naaste soos onsself nie.
In u groot genade, Here, vergewe ons,
help ons op die regte pad,
sodat ons u wil sal soek
en op u paaie sal stap,
tot eer van u Naam.

V: Daar is nou vrede tussen jou en God deur ons Here Jesus Christus.
(Uit: Soos ‘n blom na die son draai van Cas Wepener, 2011: 53)

Vryspraak
4Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
(Efesiërs 2)

Aanvaarding van die vryspraak

Lied 292 “My enigste troos in lewe en dood 2”

Liedere

F265.”Die Here God Is Wonderbaar (Sing Vir Hom)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
© 2008 Urial Publishing

1. Die Here God is wonderbaar
Hy reik uit na elke sondaar
en ook na jou en my
Hy is God van liefde
Hy is God van vrede
en ook van jou en my

Brug:
sing vir Hom, sing vir Hom
laat jou stem verrys
sing vir Hom, sing vir Hom
laat ons saam Hom prys

Refrein:
Halleluja
Halleluja

2. Die Here God sal my nooit verlaat
skyn sy lig altyd op my pad
Hy’s my enigste hoop
Hy is God van liefde
Hy is God van vrede
en ook van jou en my

F144. “God Is Liefde”  
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Kersfees / Epifanie, lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: AP van der Colf (c) NGKU
© 2005 Urial Publishing
(1 Joh 4:7-21; Rom 5:1-11; Joh 3:16)

God is liefde
Juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef

God praat met ons en ons luister

Epiklese
“Ons God en Vader,
lei ons uit ’n lewe van doodsheid na die Lewe.
Lei ons uit valsheid na die waarheid.
Lei ons uit vertwyfeling na ’n bestaan vol hoop –
van vrees na vertroue,
van haat na liefde,
van stryd na vrede.
Ag, Here, laat u vrede ons harte vul,
en so ook ons wêreld,
en uiteindelik die heelal” (uit ’n tradisionele Anglikaanse gebed).
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Skriflesing: Efesiërs 2:11-22

Prediking

Familie-oomblik

Kinders raak baie gou baie bewus van klasse, spanne, klubs waarin maats hulle groepeer. Sulke groepvorming kan baie eksklusief wees en ‘n “hulle” en “ons” bewussyn skep. Dit kan lei tot wantroue en uitsluiting. Uiteraard lei dit tot verdere klassifikasies en stereotipes van etniese, taal, en geslags aard.

Daarom sal hulle die verassing van die insluitende boodskap van Paulus in dié gedeelte baie goed kan hoor, veral as ‘n mens dit vertel teen die agtergrond van die vele reëls waarmee die Jode gesorg het dat die heidene buite bly. In Christus is nou ‘n nuwe mensheid wat saam met die kinders prakties ontdek kan word.

In aansluiting by die “insluitende boodskap van Paulus” vertel Eugene Peterson in sy boek “To run with the horses” (Jer 12:5) die volgende ervaring uit sy kinderdae. Op skool was hy in sy klas die jongste en ook die kleinste. So wanneer hulle informele spansport sou speel en die 2 kapteins kies al om die beurt hulle span het hy gewoonlik tot op die laaste oorgebly.

En toe hoor hy eendag die 2 kapteins stry, terwyl hy al een is wat nog gekies moet word. Met ‘n skok sou hy ontdek hulle stry eintlik oor wie hom NIE in hulle span wil hê nie. En in sy eie woorde verander sy selfbeeld daardie dag in ‘n oomblik “from a zero to a minus”. Ons fokusteks laat dit nie toe nie- dit kan nie in Christus gebeur nie. Ons is nou een met Christus, Jode en nie-Jode is een, Hy het die vyandskap afgebreek, daar is nou eén nuwe mensheid! Ingesluit, nie uitgesluit nie.

Preekriglyn

Roger Zerbe het relatief vroeg in sy lewe begin ly aan Alzheimer se siekte. Na ‘n besondere slegte periode van vergeetagtigheid, in ‘n helder oomblik, skryf hy die volgende aan sy vrou:

Liefling, vandag neem vrees van my beheer. Die dag kom vinnig nader waar al my herinneringe aan die lewe wat ons saam gelei het, weg sal wees. Jy en die seuns sal vir my in die mis van vergetelheid verdwyn. Ek gaan jou verloor, selfs terwyl jy en jou liefde elke dag by my sal wees. Ek wil nie weggaan nie, ek wil nie my herinneringe verloor nie. Ek wil oud word, gekoester in die warmte van goeie herinneringe. Dis ons nie beskore nie. Vergewe my vir die feit dat ek so stadig en pynlik weggaan, terwyl ek nog lewe.

Hierop skryf sy vrou, Becky, terug:

My liewe man, ek sal voortgaan om jou lief te hê en vir jou te sorg. Ek doen dit nie omdat jy my ken, of ons lewe saam onthou nie, maar omdat ek jou onthou. Ek sal die man onthou wat my om my hand gevra het, en sy liefde vir my verklaar het. Ek sal jou onthou vir jou teenwoordigheid by ons kinders se geboorte, vir die pa wat jy was, en vir die manier waarop jy ons familie liefgehad het. Ek sal jou liefde vir perdry, stap en lees onthou, jou trane tydens sentimentele flieks, jou onverwagse pittige opmerkings, en hoe jy my hand vasgehou het terwyl ons saamgebid het. Ek heg groot waarde aan die voorreg, verpligting en geleentheid om vir jou te sorg, omdat ek jou onthou!

Onthou is belangrik

Roger en Becky Zerbe het ontdek hoe belangrik dit is om te onthou. En hoe katastrofies dit is om te vergeet.

Mens se herinneringe oriënteer jou. Jy onthou hoe jou lewenspad geloop het om jou hier te bring waar jy nou is. Jou herinneringe verbind jou aan jou verlede en hou jou sin vir identiteit en lewenskoers orent. Wanneer jy begin vergeet, vergeet jy nie net feite nie. Jy vergeet wie jy is. Jy vergeet waar jy tuishoort. Jy vergeet hoe die wêreld rondom jou inmekaarsteek, waar jy inpas, en wie die mense is wat saam met jou deur die lewe reis.

Vergeet is katastrofies.

Onthou ALLES

‘n Mens se geheue kan uiters selektief wees. Die meeste mense onthou eerder mooi dinge as lelike dinge. Die onreg wat aan jou gedoen is, onthou jy makliker as die onreg wat jy aan ander gedoen het. Mens onthou én vergeet selektief, om jouself te beskerm. Die dinge wat jy vergeet, en wat jy onthou, word ‘n manier om jouself te regverdig. Jou geheue kan jou só parte speel, jy demoniseer en veroordeel ander bloot op grond van die dinge wat jy kies om te onthou.

Daarom moet mense mekaar help onthou. Ons moet die volle prentjie onthou, ook die slegte dinge. Ook die sonde wat ons teenoor ander en teenoor God begaan het. Ons moet die vergifnis wat ons nodig het, en ontvang het, óók bly onthou. Sodoende bly ons geloofsidentiteit gesond en word dit volledig en gebalanseerd gevorm.

Onthou is belangrik vir ons geloofslewe

Paulus skryf aan die Efesiërs: “Hou dan in gedagte wat julle vroeër was.” (11) Wat dan volg, is nie ‘n aangename lysie dinge om te onthou nie. Hulle sal die volle betekenis van die nuwe lewe in Christus egter nooit hul eie maak as hulle nie die “vroeër” bly onthou nie:

Die Efesiërs was:

  • Heidene – mense wat nie deel van God se volk was nie;
  • “Onbesnedenes” – mense wat nie die teken van God se genade gedra het nie;
  • Sonder Christus;
  • Uitgesluit uit die verbond tussen God en God se volk;
  • Mense wat sonder die beloftes van God moes lewe;
  • Sonder hoop en sonder God in die wêreld.

Terwyl baie Christene die boeke op die slegte verlede wil toemaak, sê Paulus die boeke van die verlede moet oop bly. Onthou wie julle was.

Dit het alles met die vorming van die nuwe identiteit in Christus te doen. Wie weet wat jy vroeër was, wéét óók wie jy nie langer is nie. Op grond van Christus se werk in jou lewe, durf jy nie langer wees wat jy vroeër was nie. Christus het jou verander, jy is ‘n nuwe mens. Jy is nou anders.

Mens moet versigtig wees om hierdie gedeelte individueel te verstaan. Dit gaan hier om veel meer as die individu. Paulus praat trouens deurgaans van julle. Die gemeente moet onthou wat hulle vroeër was, en wie hulle nou is. Hy is veel meer geïnteresseerd in die korporatiewe identiteit, die groepsindentiteit, van die Here se kerk in Efese as bloot in die individu se lewe.

“Julle is lewend gemaak”

Net in die voorafgaande gedeelte (2:1-10) spel Paulus selfs helderder uit wie die Efesiërs vroeër was. Hulle moet in gedagte hou dat hulle identiteit die identiteit van die sondige wêreld was. Sonder Christus was hulle dood. Hulle was onder die oordeel van God. Maar God wat ryk in barmhartigheid is, en die Efesiërs innig liefhet, het hulle in Christus lewend gemaak. Hierdie redding het nie uit hulself gekom nie, maar is ‘n gawe van God. Die geloof in Christus, wat God in hulle bewerk het, het vir hulle nuwe lewe laat aanbreek.

Die drie funksies van onthou

In ons teks het die onthou van wie ons vroeër was, teenoor wie ons nou is, drie belangrike funksies.

Een: Onderstreep identiteit en roeping
Ons het reeds heelwat aandag geskenk aan die feit dat die kontras tussen wat die Efesiërs vroeër was, en wie hulle nou in Christus is, die fokus op hulle identiteit in Christus laat val. Die onthou herinner hulle dat hulle nou anders is. Hulle diepste wese is verander. Hulle IS nuwe mense. Die onthou het ‘n etiese dimensie. Hulle is geroep om nou anders te lewe.

Mens wonder wat dit vir ons gemeente te sê het. Baie van ons is al vir dosyne geslagte lank Christene. Ons is nie meer so direk bewus dat daar ‘n tyd was dat ons nie in ‘n Christelike atmosfeer gelewe het nie. Sê hierdie teks vir ons iets?

Talle van ons het natuurlik tot geloof gekom uit ‘n persoonlike lewe van ongeloof. Dalk was ons ouers ver van die Here, en het ons die Here op ‘n kragtige manier ontmoet. Vir diegene is die krag van die teks makliker raak te sien. Maar selfs diegene wat Christelik groot geword het, en nooit ‘n radikale oorgang in hul lewe (uit ‘n lewe van afvalligheid) beleef het nie, sê die teks iets besonders.

Laat ons onthou, wat ons is, is net die genade van God. Dit is God wat geloof en nuwe lewe skenk. Laat ons onthou dat die lewe buite die genade een van doodsheid en verlorenheid is. Laat ons steeds verwonderd bly oor die nuwe lewe in Christus.

Twee: Fokus die aandag op God se wonderbaarlike werk
In ons teks word die kontras tussen die ou en nuwe lewe direk gekoppel aan die aktiewe betrokkenheid van Vader, Seun en Heilige Gees in die lewe van die Efesiërs. Sonder God sou hulle steeds in die vorige lewe vasgevang wees.

Dieselfde geld ons. Tussen ons en ‘n lewe sonder Christus en sonder hoop staan die aktiewe betrokkenheid van die drie-enige God in ons lewe. Dit is God wat geslag na geslag aan God vasbind. Dit is God wat ouers as sendelinge na hulle kinders stuur. Dit is God wat gemeentes na hulle jongmense stuur en geloof in hulle hulp bou.

Die drie-enige God se aktiewe betrokkenheid in ons lewens klink soos ‘n refrein in ons teks. Enkele voorbeelde:

  • Ons kom deur die bloed van Christus tot by God
  • Christus het sy lewe vir ons gegee
  • Christus het ons deel van die volk van God (deel van Israel) gemaak.

Drie: Fokus die aandag op die doel van God se werk
Wat is die doel van God se werk in die lewe van die Efesiërs? Baie moderne Christene sal sê dis sodat die Efesiërs hemel toe kan gaan. Hoewel dit nie onbelangrik is nie, het ons teks ‘n ander dinamika. God sluit die Efesiërs by God se volk in met ‘n ander doel. God bewerk een nuwe mensheid hier op aarde. God skep een nuwe volk, bestaande uit voormalige vyande wat tot een nuwe liggaam, die liggaam van Christus verenig word. Dit word veral in verse 13-18 uitgespel.

Deur God se verlossing word die krag van God gedemonstreer. God vee vyandskap en verdeeldheid uit die weg. God skep ‘n nuwe mensheid. Hy breek skeidsmure af en maak sy volgelinge een. Hy bring vrede tussen Jood en nie-Jood, Hy sluit mense in gemeenskap in. Hy is almal se Vader en gee deur die een Gees vir almal toegang tot sy teenwoordigheid.

Waarom skep God ‘n nuwe mensheid, een nuwe volk? Dit is die volgende logiese vraag.

God bou ‘n heilige tempel

Die Ou Testamentiese tempel is gesien as die plek waar hemel en aarde ontmoet. Dit is waar God woon. God woon egter nie regtig in ‘n gebou wat met klip en steen opgerig is nie. Nee, God bou ‘n nuwe gebou, ‘n tempel. God se gelowige kinders, die lede van God se huisgesin, is die lewende stene waaruit hierdie gebou opgerig word:

Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ‘n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.

In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ‘n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as ‘n geestelike huis waarin God woon. (20-22)

God woon in God se kerk. En by verstek bestaan God se tempel nie net uit die Ou Testamentiese Israel nie. God het altyd die nasies in die oog gehad. Reeds by Abraham se roeping (Genesis 12) is dit duidelik dat Israel bloot God se manier is om by die nasies uit te kom.

Met die Nuwe testament breek die tyd aan om die nasies in te sluit in God se gebou. God bind mense oor allerlei natuurlik grense saam tot een, heilige tempel waarin God hier op aarde woon.

Só is God teenwoordig in God se wêreld. Deur die mense wie aan God behoort. So word God se krag en heerlikheid in die wêreld uitgestal: deur die mense wat God oor alle denkbare grense tot een nuwe gebou saam opbou.

“Onthou” verander ons lewe

Die uitdaging is om te onthou dat ons deel van God se volk is. Ons is ‘n deel van God se tempel.

Daarom moet ons die eenheid wat Christus tussen ons skep baie ernstig neem. Dit moet ons lewens rig. Waar ons verdeeld is, soos vyande optree, en mekaar afkraak, verbreek ons die skoonheid van die tempel wat God skep.

Daar is diep klowe tussen mense en tussen gemeenskappe. Dit geld ons land, maar ook die hele wêreld. Ons vergeet dat God eenheid skep tussen God se kinders. Daarom is verdeeldheid en verskeurdheid tussen Christene en kerke vir ons so normaal. Ons kan soveel goeie redes onthou waarom ons nie een kan wees nie. Daar is stryd, verontregting, konflik, verdeeldheid uit die verlede wat so maklik is om te onthou. Hoe meer ons die redes vir verdeeldheid onthou, hoe meer ontkrag ons die verlossende en verenigende werk wat God die Vader, Seun en Heilige Gees.

Ons word opgeroep om te onthou. En ons word uitgedaag om vanuit ons eenheid te gaan lewe.

Wees versigtig vir geestelike Alzheimer’s. Vergeet is katastrofies.

God stuur ons om te leef

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.
Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seën
Voorganger: Gaan hiervandaan met vreugde. Dans, lag, sing en skep.
Gemeente: Ons gaan met die versekering van die Here se seën.

Voorganger: Gaan hiervandaan met die vertroue om te waag en lief te hê.
Gemeente: Ons gaan – verseker van die Here se seën.

Voorganger: Gaan hiervandaan met die geloof om te glo, te hoop, te stry en te onthou.
Gemeente: Ons gaan met die versekering van God se liefde. Alle dank kom God toe.
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.